Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Vloek
Vloek
Vloek
Ebook430 pages7 hours

Vloek

Rating: 5 out of 5 stars

5/5

()

Read preview

About this ebook

In Rudie van Rensburg se eerste Kassie Kasselman-roman, Slagyster, ontmoet ons vir Carl Bester, gevalle oudspeurder. Slagyster eindig waar hy op vlug gaan ná hy geld gesteel het waarop in ’n dwelmsaak beslag gelê is. In Vloek is Carl terug. Ná ’n dekade word hy skielik gevrywaar van vervolging. Hy kan terugkom na SA – sy bannelingstatus uitgewis, maar teen ’n prys. “Ons vergeet van jou sondes in ruil vir ’n teenprestasie,” sê sy nuwe werkgewer. Hy moet ’n saak van internasionale belang help ontrafel – een wat met lyke besaai lê. Carl se polisiedae lê ver in die verlede. Nou sal hy sy skadukant finaal moet afskud en weer soos ’n volbloedspeurder redeneer om dié saak saam met ’n spul rookies op te los. Sal dié berugte rokjagter ook die versoeking weerstaan om betrokke te raak by ’n beeldskone kollega? En dan is daar die neo-Nazi uit Carl se verre verlede. Gevul met die “heilige krag van die Führer” is hy vasbeslote om wraak te neem op die man wat hom agter tralies laat beland het.
LanguageAfrikaans
PublisherQueillerie
Release dateAug 27, 2019
ISBN9780795801983
Vloek
Author

Rudie van Rensburg

Rudie van Rensburg woon in Kaapstad en het al vyf uiters gewilde spanningsverhale geskryf: Slagyster, Kopskoot, Judaskus, Pirana en Kamikaze. Hy was ook samesteller van die misdaadverhalebundel Op die spoor van en het ’n besige 2017 afgesluit met die baie suksesvolle komiese roman Hans steek die Rubicon oor.

Read more from Rudie Van Rensburg

Related to Vloek

Related ebooks

Related articles

Reviews for Vloek

Rating: 5 out of 5 stars
5/5

2 ratings1 review

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

  • Rating: 5 out of 5 stars
    5/5
    Daardie kinkels wat Rudi so inwerk om jou heeltemaal te ontspoor.

Book preview

Vloek - Rudie van Rensburg

RUDIE VAN RENSBURG

VLOEK

Queillerie

1

Woensdag 6 Maart 2002 – Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK)

Spoke besoek Baako snags as hy op sy katel in die groot tent slaap. Hulle kom in sy drome na hom.

Dis lyke wat deur die jare teen die berg ingespit is wat dan uit die dode herrys.

Ray, Paterne, Régis, Faustin … en die baie ander wie se name hy nooit geken het nie, maar wie se gesigte hy nog onthou. Hulle praat met hom. Soebat soms om genade. Maar beskuldig en verwyt meestal.

En dan begin hulle smartlike krete in sy ore weergalm. Skril en uitgerek soos loeiende sirenes. Dis dié sirenes wat hom elke oggend klokslag om drieuur in ’n poel sweet laat wakker skrik.

Dan sit hy maar koffiewater op die gasstofie, want slaap kan hy nie weer nie.

Waar hy nou agter sy lendelam lessenaar sit, sug hy diep oor hierdie kruis wat hy moet dra. Daaraan kan hy niks verander nie. Dis die pad wat sy voorvadergeeste vir hom aangedui het.

Dit moet amper vyfuur wees, besef hy, want hy hoor die werkers se gedempte stemme en die trae geskuifel van hulle voete buite die tent. Die oggend is reeds snikkend warm. In die staanspieël op die lessenaar sien Baako die pêrels sweet op sy gesig. Hy vee dit met sy voorarm af en swets onderlangs. Afrika se versmorende hitte gaan vandag weer sy tol van die werkers eis. ’n Twaalfuurskof tussen troostelose grys stofwalms is seker die naaste wat aardlinge aan die hel kom.

Maar hulle produksie móét verbeter, hoor Baako gereeld. Dis ’n voortdurende refrein van meer geld, al beteken dit dat mense teen hierdie berg letterlik in hulle grafte gewerk word.

Daagliks sien Baako die spore van die onmenslike toestande by die werkers. Ingesonke, glasige oë sonder ’n sprankie hoop op ’n beter toekoms. Benerige koppe op uitgeteerde lywe. Die kenmerkende boepensies van die ondervoede kinders wat deel uitmaak van die werkerskorps. Die hele spul is geklee in smerige vodde wat ander mense nie eens as vloerlappe sal oorweeg nie.

Baako kyk op toe die tent se flap oopgaan. Dis Akva, een van sy luitenante.

Ons vermoede was reg, sê Akva. Die bliksem steel.

Baako kreun. Sot! Die bleddie klein sot. Aan wie dink hy gaan hy dit verkoop?

Akva trek sy skouers op. Vier kleinerige sakke onder sy bed by sy huis gekry. Nie eens twintig dollar werd nie, want dis nog nie gesif nie.

Twintig dollar is ’n fortuin vir hulle, sug Baako.

Hy weet nog nie ons het dit gekry nie. Ek het eers gewag dat hy en sy ma uit die huis is. Sy werk vroegoggend by die mark.

Ons het seker nie ’n keuse nie?

Akva knik. Hoeveel gee ek hom? Tien?

Sewe … nee, maak dit vyf.

Net vyf?! Jy sê gereeld dit moet as waarskuwing vir die ander dien.

Hy’s nog ’n kind, Akva. Veertien, op die meeste vyftien.

Jy raak sag.

Baako ignoreer die opmerking. Vyf is genoeg, sê hy beslis.

Voor hy opstaan, strek hy om die sambok onder die lessenaar uit te haal. Hy oorhandig dit aan sy luitenant.

Hulle stap uit, met Akva wat die sambok agter sy rug wegsteek.

Die honderdstuks werkers is in twee lang rye voor die tent aangetree. Die staanligte aan weerskante van die tent skyn skerp op hulle afgeremde gesigte. Drie van die ander luitenante is besig om hulle name op die registerlys af te merk.

Baako wag geduldig dat die luitenante klaarmaak. Sy oë skeer oor die werkers.

Die seun staan in die voorste ry, amper op die punt. Dis ’n mooi kind met groot, onskuldige oë en hoë wangbene, die skraal, seningrige lyf sonder die magie van die jongetjies om hom. Nog altyd ’n harde werker gewees, maar ongelukkig nou ook ’n gulsige een.

Akva het die seun ook gesien, want hy beduie vir die luitenante om naby hom te gaan stelling inneem.

Baako skraap sy keel voordat hy praat. Hier’s ’n dief in ons midde.

’n Gebrom wat klink soos ’n swerm bye breek onder die werkers uit.

Baako merk die angstige uitdrukkings van die werkers naaste aan hom. Hulle weet so goed soos hy dat die luitenante soms ’n diefstal versin om lyfwegstekers te straf.

Imani Mutsinzi, sê Baako luid.

Die seun se kop ruk verskrik op toe hy sy naam hoor.

Die luitenante is blitsig op hom. Twee gryp hom aan sy arms en ’n derde aan die bene. Hulle dra hom protesterend en spartelend na die boom langs die hooftent.

Daar is sugte van verligting onder die ander werkers, innig dankbaar dat hulle die foltering vryspring.

Die luitenante maak die seun se gewrigte bo sy kop aan ’n laaghangende tak vas. Hy bewe soos ’n riet. Sy gepunte tone raak beswaarlik die grond.

Een van die luitenante gaan haal die vier sakke erts en kom sit dit voor Baako neer. Ons het dit vanoggend onder Imani se bed by sy huis gekry, sê hy en beduie na die sakke.

Die werkers kyk swygsaam en afgetrokke na die bewysstukke.

Imani het nie familielede wat namens hom sal pleit nie, weet Baako. Omdat hy ’n Hutu-pa gehad het wat van Rwanda kom, is daar min simpatie met hom. Dit gaan ’n vonnis sonder versagtende omstandighede wees.

Maar hy gee tog twee minute kans vir iemand om na vore te kom.

Niemand nie.

Die verrigtinge kan voortgaan. Hy gee die teken vir Akva, wat die sambok oplig.

Die eerste hou sweepslag oor die seun se rug. Hy snak hoorbaar na asem, byt dan sy lip vas om nie te skree nie.

Dit was bloot ’n losmaker, weet Baako. Nou gaan Akva al sy kragte inspan. Van hier af raak dit net erger.

Hy maak sy oë toe.

Die tweede hou klap soos ’n geweerskoot.

Daar heers ’n kortstondige stilte. Dan skeur die seun se gille deur die lug.

2

Donderdag 14 Junie 2018 – Kaapstad

Die man se stem smeek saam met sy oë. Sy pleitende uitroepe slaan vas teen die klankdigte mure van die hotelkamer en kaats terug na Richter. Hy beur met sy bolyf vorentoe op die stoel, maar die nylontou gee nie skiet nie.

Richter hou hom uitdrukkingloos dop waar hy oorkant die man sit. Die naakte vrees laat sy oë effe uit hul kasse peul. Daar is ’n sweetglans op sy voorkop. Sy goue voortand flits elke keer as hy sy mond oopmaak om oor sy vlesige lippe te lek. Sy rooi sydas sit skeef en twee hempsknope het in die slag gebly toe Richter hom vroeër oorrompel het.

Die vent moes iets vermoed het, daarom dat hy aangedring het hulle moet hom in sy hotelkamer kom sien. Het seker gedink hy sal veilig wees met al die veiligheidswagte en sekerheidskameras in die vyfsterhotel.

Hy’s nie so naïef en goedgelowig soos die ander nie, het die baas vooraf vir Richter gesê. Die gebied waar hy vandaan kom, is van die gewelddadigste in Afrika. Sy oorlewingsinstink sou hom van kleins af geleer het om niemand te vertrou nie.

Toe hy die deur vir Richter oopmaak, was hy verbaas omdat die baas nie by is nie. Maar voor hy dit kon bevraagteken, het Richter hom bespring en in ’n kopklem beetgekry. Hy’t hom grond toe gedwing en op sy rug gaan sit, die boeie om sy polse toegeklap en hom toe op die stoel vasgebind.

Die man dra ’n Rolex-polshorlosie, ’n ring met ’n knoetsige robyn aan sy linkerhand se middelvinger, blinkblou snyerspak, bruin krokodilleerskoene. Duidelik het die lewe hom goed behandel sedert hy destyds iewers in Oos-Afrika uit ’n pondok gekruip het, dink Richter.

Wat die man nie weet nie, is dat die baas reeds sy plaasvervanger aangestel het. Ons tweede in bevel het ’n vertroueling in Gaboen wat kan oorneem as sektorhoof, het die baas gesê.

En as hy ook vraatsig raak? het Richter gevra.

Die baas het gegrinnik. Hy sal dit nie waag nie, want hy wéét wat ek met vrate doen. En die tweede in bevel sal hom goed dophou.

Anders as met die eerste twee sektorhoofde, wil die baas by wees as Richter van hierdie een ontslae raak. Wat vreemd is, want die baas stel homself nie graag bloot aan risiko nie.

Richter glimlag. Nie dat daar werklik enige risiko is nie. Wanneer die baas persoonlik by ’n operasie betrokke is, is sy tydsberekening en voorsorgmaatreëls onberispelik – en meesterlik, soos met die meeste dinge wat hy aanpak. Die hotel is vir alle praktiese doeleindes lamgelê met die groot Duitse toergroep wat hier inbespreek is. Daar heers chaos in die voorportaal, sodat die baas ongemerk hierheen sal kan kom.

Soms staan Richter verstom oor die baas se skerp brein. Neem nou maar die situasie met die sektorhoofde. Hoe uitgeslape was hy nie om dieselfde finansiële raadgewer vir al ses van hulle aan te beveel nie? Op dié manier kon hy hulle gelyktydig en sonder moeite monitor. En omdat die sektorhoofde, met die uitsondering van een, nie van mekaar se bestaan geweet het nie, het hulle nooit onraad geruik nie.

Maar daar was iets wat die baas nooit kon voorsien het nie: die lekkasie van die sektorhoofde se bankinligting aan die intelligensiedienste van sekere lande. Dit het sy weldeurdagte plan om die gesteelde geld oor ’n tydperk uit hulle te wurg heeltemal omvergegooi.

Richter skud sy kop. Volgens die baas se berekeninge het die sektorhoofde tussen vyftien en twintig persent te veel geld in hul bankrekenings gehad, wat daarop dui dat hulle die moedermaatskappy deur die jare erg besteel het. Hulle het selfs die finansiële raadgewer ’n rat voor die oë gedraai. Die tweede in bevel was die enigste een wat lankal vermoed het wat aangaan.

Een van die baas se betroubaarste bronne het hom van die lekkasie laat weet en hom gemaan om vinnig op te tree. Maar die baas was bereid om die geld af te skryf. Dis veel belangriker dat geen spoor ooit na hom mag lei nie.

Want dis die baas se leuse: Bly gesigloos én naamloos. Hy sê gereeld dis sy enigste behoud in hierdie skemerwêreld waarin hy opereer.

S’il vous plaît! pleit die swetende man op die stoel.

Richter ignoreer hom. Hy wens die baas wil kom sodat hulle die takie kan afhandel.

Dan is drie van die sektorhoofde gebêre. Nog drie om te gaan.

Nommer vier en vyf sal hulle ook Kaapstad toe laat kom. Die sesde een vlieg nie. Richter sal vir hom in Europa moet gaan kuier.

’n Ligte klop laat hom uit sy stoel opstaan. Hy stap hinkend deur toe, kyk deur die loergaatjie en maak dan oop.

Die baas kom in. Sy pet is laag oor sy oë getrek, ’n wolserp verberg die onderkant van sy gesig. Sy skraal gestalte lyk heelwat forser in die dik jas. Nes Richter het hy handskoene aan.

Die baas haal sy pet en serp af en gooi dit op die bed neer. Dan draai hy na die sektorhoof.

Dié se pleitkreet kry ’n ondertoon van histerie. Ne me faites pas cela! Je vous ai bien servi!

Richter se Frans is verroes, maar hy verstaan die bedoeling. Wees my genadig! Ek het jou nog altyd goed gedien!

Die baas skud sy kop stadig. Daar is net ’n sweem van ’n grynslag op sy bleek gesig. Hy trek sy vingers vlugtig deur sy grys hare en leun vorentoe, sy gesig enkele sentimeters van die sektorhoof s’n. Dan praat hy sag, amper fluisterend, in sy perfekte Frans.

Richter kan nie alles hoor nie, maar die sektorhoof se reaksie wys dis ’n verdoemende boodskap. Sy liggaam rittel in die stoel, sy oë staan stokstyf.

Toe die baas stilbly, begin die man weer pleit. Sy angstige krete kom rukkerig deur sy neus. Hy belowe die baas groot geld, kan Richter uit die koorsige gebabbel aflei.

Dis te laat, Prince, sê die baas bars op Frans.

Hy wys Richter moet oorneem. Gaan sit met gevoude arms en uitgestrekte bene op die stoel oorkant die sektorhoof, soos ’n belangstellende toeskouer.

Richter haal die 500 ml-koeldrankbottel uit sy drasak. Hy skud die inhoud goed voor hy die prop afskroef.

’n Melkdrankie om jou keel mee nat te maak, Prince, fluister die baas met sy skor stem.

Die klank daarvan laat ’n rilling langs Richter se rug af gly. Hy stap na die man en beduie hy moet sy mond oopmaak.

Die sektorhoof klem sy kake op mekaar, lippe saamgepers, sy oë wyd van vrees.

Richter boor die middelvinger en duim van sy linkerhand diep in die man se wange in, forseer sy kake oop terwyl hy die ken boontoe druk. Hy sit die bek van die bottel in sy mond en lig dit op.

Die man het geen ander keuse as om te sluk nie. Sy adamsappel beweeg ritmies op en af. Hy verstik roggelend en wit strepe loop by sy neusgate uit, maar Richter dwing hom om klaar te drink.

Toe die bottel leeg is, gooi Richter dit op die vloer. Hy hou sy gehandskoende hand oor die man se mond terwyl hy sy kop verder agteroor druk. Netnou kots die bliksem alles uit.

Ná ongeveer ’n kwartier begin die man reageer op die drankie. Aanvanklik net spiertrekkings in sy ooglede en wange, maar dan ruk konvulsies deur sy liggaam. Oplaas bene wat wriemel en styf skop.

Die baas hou alles met ’n fyn glimlag dop.

Richter hou die man se kop agteroor tot sy liggaam verslap. ’n Laaste konvulsie rimpel liggies deur sy lyf. Eers toe die oë glasig na die plafon staar, los hy die sektorhoof se kop.

3

Donderdag 21 Junie 2018 – Kaapstad

Sarah verstyf toe hy die lig aan sy kant van die bed aansit. Sy weet instinktief wat nou gaan kom en begin diep asemhaal om die indruk te skep dat sy vas slaap.

Maar dit help nie.

Hy skuif nader aan haar, sy warm asem blasend in haar nek.

Sy hand glip onder haar T-hemp in en beweeg stadig van haar maag af boontoe. Hy streel liggies oor haar regterbors, begin die tepel tussen sy vingers rol, druk sy lyf styf teen hare terwyl hy aan haar oorlel knibbel.

Sy gryp sy arm met albei hande vas en pluk dit onder haar T-hemp uit. Kyk na die muurhorlosie.

Shit, Dewald, dis halfvier in die bleddie oggend, sê sy vies.

Wat’s fout met halfvier?

Sy sit regop, swaai haar bene oor die kant van die bed.

Hy gryp haar pols vas en probeer haar weer plat trek, maar sy ruk haar arm los.

Ek’s nie in die mood nie, man!

Jy’s nooit meer in die mood nie, Sarah. Al vir maande lank.

Sy stem is gelykmatig, soos gewoonlik. Sy staan op sonder om na hom te kyk, stap badkamer toe en sit die lig aan.

In die spieël beskou sy haarself, trek die rek agter haar kop af en skud haar hare los. Haar wange lyk hol. Sy druk-druk daaraan.

Sy draai om toe sy die beweging agter haar in die spieël sien. Dewald staan in die deur, besig om sy kamerjas aan te trek.

Dan kom hy skoorvoetend nader en sit sy hand op haar skouer. Jammer ek’t jou so vroeg wakker gemaak. Ek was selfsugtig.

Sy mondhoeke is afgerem. Met die wegstap mompel hy dat hy nog baie vraestelle het om te merk.

Sarah voel soos ’n hond. Dewald kry dit altyd reg met daai jammergathouding van hom. Hy het dit tot ’n fyn kuns ontwikkel om die martelaar in hulle verhouding te speel. Pleks dat hy op haar skree, haar iets viesliks toesnou of haar ’n snotklap gee.

Dan het sy ’n rede om hom te los.

Die gedagte laat haar skrik. Wil sy hom regtig los?

Sy staar na haar beeld in die spieël, haar oë skielik nat. Sluk die trane weg en draai die wasbakkraan oop, spoel haar gesig met yskoue water af. Sy vryf haar gesig naarstig droog met ’n handdoek.

Help nie jy grens nie, Sarahtjie, mompel sy met ’n wrang glimlag.

Op pad kombuis toe stop sy vlugtig by die spaarkamer se deur. Dewald sit gekrom oor sy lessenaar, ’n hoop vraestelle langs hom opgestapel.

Kan ek vir jou ook koffie maak? vra sy.

Hy kyk nie op nie, skud net sy kop.

Sulking Dewald, dink sy toe sy kombuis toe stap. Soos ’n verdomde tiener wat nie sy sin kry nie en homself nou bejammer.

Sy sit die ketel aan. Volgende maand sal hulle al vier jaar saam wees – die langste wat sy met een man kon uithou.

Verlede jaar hierdie tyd was sy nog gelukkig. Wel, relatief gelukkig, want eintlik het die eerste krake in hul verhouding toe al verskyn.

Julle is die kampus se glanspaartjie, het haar kollegas gereeld vir haar gesê.

En hulle is seker só ervaar. Dewald, die gerekende jong wiskundeprofessor, en sy die kenner van wêreldpolitiek wat al meer op TV verskyn het as enige ander dosent of selfs die rektor. Of dit nou ’n krisis in die Midde-Ooste is, ’n terreuraanval in Europa of ’n presidentsverkiesing in Amerika, doktor Sarah Greyling, senior lektor in internasionale politiek, word telkens gevra om haar mening op die kassie te lug.

Dis omdat jy so ’n looker is, terg Dewald altyd. Hulle kan nie hulle geluk glo nie, dat so ’n perfekte TV-gesiggie ook ’n oorvloed breinselle het.

Sy skep koffiepoeier in ’n beker, skink dit vol kookwater en gooi ’n leksel melk by, gaan sit by die kombuistafel.

Wanneer het haar gevoel vir Dewald verander?

Sy staar peinsend na die tafelblad. Dit het in die laaste helfte van verlede jaar begin. Sy het ál meer vasgedruk en geknel gevoel – ’n verdomde voël in ’n bitter klein koutjie.

Soggens saam met hom kampus toe gery. Hy wat daarop aandring dat hulle mekaar tydens af periodes in die kafeteria kry. Saans weer saam terug woonstel toe. Dewald altyd teenwoordig: eers saam met haar om die kospotte, daarna voor die TV, dan saam bed toe.

Dit het net te veel geraak. Sy het soos in soveel vorige verhoudings na haar persoonlike ruimte begin smag. Dit het amper desperate afmetings begin aanneem.

En dit was beslis die grootste rede waarom sy aan die begin van die jaar die nuwe werksaanbod so vinnig aanvaar het. Weg van die kampus, sodat sy ten minste bedags van Dewald se versmorende alomteenwoordigheid kan ontsnap.

Die feit dat haar salaris byna verdubbel het, het Dewald se goedkeuring weggedra. Nou kan ons daaraan dink om ’n huis te koop, was sy eerste reaksie.

Met Dewald ses-en-dertig en sy vier-en-dertig is dit seker die volgende natuurlike stap. Hy’t darem lankal daarin berus dat sy nie wil trou nie, maar hy het dit as vanselfsprekend aanvaar dat hulle onafskeidbaar saam gaan wees tot aan die einde van hulle dae.

Terwyl sy die afgelope tyd al hoe meer daaroor twyfel. Wat sy wel duidelik weet, is dat sy nie van plan is om binne die afsienbare toekoms saam met hom huis op te sit nie. Dit sal ’n soort finaliteit aan ’n langtermynverbintenis gee waarvoor sy nog nie gereed is nie.

Maar dis nie haar verhouding met Dewald wat haar vanoggend al halfvier laat wakker lê het nie.

Sy neem ’n groot sluk koffie. Die vloeistof brand in haar keel af.

Dis die nuwe werk.

Ná amper ses maande by Mercurius is sy steeds uit haar gemaksone. Dis die geheimsinnigheid, die duisterheid en geslotenheid van die plek wat haar ongemaklik maak.

Dis net ’n vierpersoonkantoor op die tweede verdieping van ’n redelik afgeleefde gebou in Loopstraat in die Kaapse middestad, maar een van sewe-en-veertig Mercurius-takke wêreldwyd. Hoofkantoor in New York.

Sy onthou hoe verbaas sy was toe hulle haar uit die bloute die pos van politieke analis aanbied. Terwyl sy nie eens bewus was van die organisasie se bestaan nie. Maar tydens die onderhoud was dit duidelik dat hulle alles van háár weet – haar hele lewensgeskiedenis van haar geboorte af.

O’Reilly, die baas, het die vertroulikheid van die werk telkens beklemtoon.

Ons werk in tandem met verskeie lande se intelligensiedienste. Mercurius is die wêreldwye, gesiglose arm van onder meer die CIA, MI6, Mossad en talle ander – hoofsaaklik Westersgesinde inteldienste. Ons verskaf aan hulle inligting oor situasies waarby hulle nie betrokke kan raak nie. CIA-inmenging in ’n Suid-Afrikaanse aangeleentheid sal byvoorbeeld nie deur ons owerheid of die Staatsveiligheidsagentskap geduld word nie. Regerings het boonop hulle eie agendas. Daarom monitor ons binnelandse politieke tendense namens hierdie agentskappe: ongerymdhede wat onder die radar van die mediakollig plaasvind en wat internasionale gevolge kan hê, radikale onderstrominge in die gemeenskap en so meer. En só opereer Mercurius se takke wêreldwyd in sewe-en-veertig lande.

O’Reilly het dit ook duidelik gestel dat haar dae op die kassie getel is.

Mercurius se werknemers vermy openbare blootstelling oor politieke kwessies. Vir die buitewêreld is ons bloot ’n niewinsgewende waghondinstansie wat waak oor basiese menseregte en soms uitsprake daaroor maak.

Sarah moes ’n vertroulikheidsklousule teken.

Aanvanklik was die werk opwindend. Geheime inligting oor internasionale politieke woelinge het haar gereeld verras en nuwe perspektiewe gegee. Dis ver verwyder van die akademie, waar uitsprake en gevolgtrekkings in haar vakgebied bloot op wêreldnuus gegrond word. Nou is sy in die masjienkamer van die werklikheid, wat soms aansienlik verskil van dit wat in die massamedia opgedis word.

Tog hinder die atmosfeer in die kantoor haar. Dis sinister, om die minste te sê. Daar word nooit openlik oor politieke woelinge geredekawel nie. Dis asof O’Reilly en die ander twee huiwerig is om enige uitsprake te maak, asof hulle hul woorde altyd versigtig weeg. Dit voel heeltyd vir haar of een of ander Big Brother oor die span se skouers loer. Asof hulle gemonitor word deur ’n onsigbare meeluisteraar van wie haar kollegas weet, maar sy nie.

Toe vind die eerste moord bietjie meer as ’n maand gelede plaas. Kort daarna ’n tweede. En dit word ’n Mercurius-aangeleentheid omdat dit in Suid-Afrika gebeur het en omdat die polisie nie ’n verband tussen die moorde kon trek nie. As politieke analis is sy ook ligweg betrek, op wat vir haar wildvreemde terrein is. En dis iets wat haar om verskeie redes onrustig stem. Politieke ontleding is een ding, maar motiewe vir moord is nie haar veld van kundigheid nie.

Boonop ontvang sy gisteraand net voor sy bed toe is ’n SMS van O’Reilly: Derde man vermoor. Dringende vergadering môre. Vergeet van kongres.

Sy sou van vandag af die week lange Afrika-kongres namens Mercurius bywoon, met verskeie Afrika-staatshoofde en ministers wat spesiaal daarvoor Kaapstad toe gekom het. O’Reilly het gesê dis belangrik dat sy dit bywoon – nie noodwendig oor wat op die verhoog gesê word nie, want daaroor sal die media verslag doen. Maar monitor vir ons watter staatshoofde buite kongresure saam vergader. Let ook op na die interpersoonlike verhoudings tussen hulle – monitor hulle lyftaal, of dit spontaan of stram is.

En nog ’n hele string opdragte wat vir haar soos basiese spioenasiewerk geklink het. Maar volgens O’Reilly sal dit uiters waardevol wees vir Mercurius om die verhoudingsprofiel tussen Afrika-state op te dateer.

Nou is die kongres skielik nie meer belangrik nie.

Want ’n derde man is vermoor.

4

Donderdag 21 Junie 2018 – Kaapstad

Wim O’Reilly kan vanoggend beswaarlik sy opgewondenheid beteuel. Uiteindelik het Mercurius in Suid-Afrika ’n saak waarin hulle New York-hoofkantoor groot belangstelling toon.

In die verlede het Wim altyd die indruk gekry Suid-Afrikaanse kwessies suip aan die agterspeen en word selde ernstig opgeneem. Maar sedert die moorde hier in Kaapstad is die Mercurius-grootbaas gereeld met hom in verbinding. Hy’t selfs Wim se aanbeveling oor ’n kundige ondersoeker dadelik goedgekeur en blitsvinnig toutjies getrek om Interpol te laat saamwerk. Wim het via sy kontakte die plaaslike owerhede se koppe geswaai, sodat die amptelike papierwerk nou feitlik afgehandel is.

Intussen het die Mercurius-tak in die Filippyne die ondersoeker se wegkruipplek opgespoor – iets wat Interpol in tien jaar nie kon vermag nie. Wat ’n groot genade is, want dis al man wat hierdie saak kan ontrafel, glo Wim.

Nou het die derde moord die operasie in hoogste versnelling geskop. Len du Randt is gisteraand al op ’n vlug Filippyne toe, met die opdrag om die ondersoeker so gou moontlik hier te kry.

O’Reilly kyk op toe Sarah en Calvyn by die vergaderlokaal inkom. Laasgenoemde lyk soos altyd asof hy pas uit die bed gekruip het. Sy bos krulhare staan wild en sy gesig is ongeskeer. En nooit sonder ’n stomende beker koffie in die hand nie.

Sarah se slankheid van figuur en grasie van beweging val Wim opnuut op. Sy is ’n uitsonderlik mooi vrou met haar dik, donker hare, sensuele gelaatstrekke, hoë wangbene en vol lippe – die voorkoms van ’n Hollywood-aktrise eerder as ’n politieke analis. Haar afstandelike hoflikheid laat hom vermoed sy is nog nie gemaklik in die Mercurius-omgewing nie. En hy moet toegee, dit ís ver verwyder van lesingsale op ’n kampus. Maar hy is seker sy sal mettertyd aanpas.

O’Reilly beduie hulle moet sit. Dankie dat julle so vroeg hier is. Soos ek gisteraand laat weet het, is ’n derde man vermoor. Week gelede gebeur, maar ons kontakman by die polisie het ongelukkig gister eers uitgevind dis een van ons gelystes: Prince Kazadi. Hy was toe ’n Belgiese burger, nie van die Kongo soos ons gedink het nie. Dalk wel daar gebore.

Hy haal die afskrif van die polisiedossier uit ’n lêer. Kazadi het van Brussel af hierheen gevlieg en is dieselfde aand in sy hotelkamer dood aangetref – ’n vyfsterplek in die middestad. Volgens die patoloog se voorlopige verslag is daar tekens aan sy polse en lyf dat hy vasgebind was. Iemand het gif gemeng met melk in sy keel afgegooi, die onkruiddoder Gramoxone, beter bekend as Parakwat. Dis een van die giftigste onkruiddoders op die mark en daar is geen teenmiddel nie. Dit brand alles binne-in jou stukkend. Jy sterf bitter vinnig as jy dit nie dadelik opbring nie.

Calvyn skud sy kop. Dis die derde moord en al drie is op verskillende maniere doodgemaak. Wat sê dit vir ons?

O’Reilly haal sy skouers op. Ek raai, maar ek dink hulle wil die verband tussen die moorde wegsteek, daarom raak hulle op verskillende maniere en plekke van die mans ontslae. Anders gaan die polisie die verband raaksien en dít wil die mense agter die moorde duidelik nie hê nie. Hy gee ’n laggie. Ons ook nie.

Verskoon dat ek vra, sê Sarah fronsend, maar waarom wil ons nie hê die polisie moet ’n verband tussen die moorde trek nie? Is dit nie eintlik eerder ’n polisie-aangeleentheid nie?

O’Reilly glimlag. Dalk, ja. Maar ons liewe, onbeholpe en oorwerkte polisiediens sal nie alleen alles verongeluk nie, maar ook die media inlig. En dis die laaste ding wat ons nou wil hê. Hierdie is juis ’n klassieke Mercurius-aangeleentheid. Daar is iets veel groter agter die moorde – dit ruik na ’n internasionale cover-up. Een wat óns moet ontrafel, en dit sonder die inmenging van onbevoegde platpote en sensasionele en verdraaide mediaberigte.

Calvyn sluk aan sy koffie. As die moord in ’n vyfsterhotel plaasgevind het, moet daar tog seker CCTV footage wees wat die polisie kon help?

Die CCTV-kameras in die hotel was onklaar, so ook hulle rekenaars. O’Reilly tik op die dossier. Blykbaar ’n aanval deur kuberkrakers. Boonop het ’n groot Duitse toeristegroep die betrokke aand daar ingeboek. Daar was totale chaos en geen kans dat iemand die moordenaar in die skare sou raaksien nie. Omdat die hotelkamers klankdig is, sou niemand ook gehoor het as Kazadi om hulp roep nie.

Hel, die toeval het die moordenaar omtrent bevoordeel, sê Calvyn.

Ek dink nie dit was toeval nie, sê O’Reilly.

Dink jy die kuberkrakers is deel van die spul?

Wel, alles dui daarop. Ons het hier te doen met ’n uitgeslape en goed georganiseerde groep.

O’Reilly sit die dossier terug in die lêer. Dit bring my by die volgende punt. Julle wonder seker waarom Len nie saam met ons vergader nie?

Wou nog vra, ja, sê Calvyn.

Hy sal laatmiddag in Manila in die Filippyne land. Al gisteraand op ’n vlug soontoe vertrek. Sy taak is om ’n spesiale ondersoeker vir hierdie saak daar te gaan haal.

’n Filippyner? vra Sarah met geligte wenkbroue.

Nee, Suid-Afrikaner.

O’Reilly leun terug in sy stoel. Dis ’n baie lang storie wat ek kort gaan probeer hou. Mercurius se grootbaas wou die héél beste man vir hierdie job hê, maar hy wou nie een van sy topondersoekers in New York betrek nie. Hy het my versoek om iemand te kry wat vertroud is met die Suid-Afrikaanse omgewing. Ek het toe die een man aanbeveel wat ek weet aan sy standaarde van die heel beste voldoen.

Calvyn en Sarah is nou die ene ore, kan Wim sien.

Net vinnig ’n bietjie agtergrond oor hom. In 2005, toe ek nog in die polisiediens was, het ons besef die dwelmprobleem in die Kaap ruk hande uit. Die druglords het nie net die Kaapse Vlakte nie, maar ook ander dele van die Skiereiland in hulle greep gehad. Daar is besluit op ’n polisiemol om die dwelmkartelle ondergronds te infiltreer. Die diens se topspeurder, Carl Bester, is gekry om hom as ’n dwelmhandelaar voor te doen. Dit was ’n hoogs geheime operasie waarvan slegs enkele mense geweet het: die bevelvoerder van die destydse aksie-eenheid teen ernstige georganiseerde misdaad, ek, wat van Johannesburg af gekom het omdat ek vroeër by ’n soortgelyke operasie betrokke was, en Bester. In die daaropvolgende drie jaar was ek Bester se enigste kontakman in die polisie.

Hy gee ’n laggie. "Die hele ding was so geheimsinnig dat Bester nie eens my regte naam geweet het nie, hy het my bloot as Benade geken. Ondanks die gevaar dat hy enige oomblik uitgevang kon word, het Bester hom suksesvol in die druglords se binnekring ingegrawe. Sy uitsonderlike speurinstink en

Enjoying the preview?
Page 1 of 1