Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die leliemoordenaar
Die leliemoordenaar
Die leliemoordenaar
Ebook392 pages7 hours

Die leliemoordenaar

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Haat vir jou het my dag vir dag aan die lewe gehou, Harm. Vir soveel jare het ek net vir hierdie oomblik gelewe . . . vir só lank sien ek al daarna uit. Dis nou tyd, so laat ons begin. Johannesburg, 1985. Twee boesemvriende – ondersoekende joernalis Braam Brink en weermagman Adam Williams – ontmoet vir ontbyt by ’n plattelandse kafeetjie naby die Hartbeespoortdam. Adam onthul sy rol as soldaat tydens die apartheidsjare; kort daarna verdwyn hy tydens ’n ekspedisie in Angola. Braam begin ondersoek instel, maar dan word sy liggaam in sy huis gevind. Die bevinding is selfmoord. Dertig jaar later volg topspeurder Daniella Hector, Braam se dogter, die spoor van ’n berugte reeksmoordenaar. Hy slaan klokslag elke drie weke toe, en span sy web al hoe nouer. Hou die moorde verband met ’n figuur uit Daniella se verlede . . . en met die dood van haar pa dekades vantevore?
LanguageAfrikaans
Release dateOct 18, 2016
ISBN9780798174220
Die leliemoordenaar
Author

Lerina Erasmus

Lerina Erasmus is in Namibië gebore. Sy het haar loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf as aktrise begin. Die leliemoordenaar, ’n aksiebelaaide spanningsroman, verskyn in 2016. Die skrywer is getroud met Günter Schmikal en woon in Johannesburg.

Read more from Lerina Erasmus

Related to Die leliemoordenaar

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die leliemoordenaar

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die leliemoordenaar - Lerina Erasmus

    LERINA ERASMUS

    DIE LELIEMOORDENAAR

    Human & Rousseau

    Oor die uitleg

    Die uitleg van teks in hierdie digitale uitgawe van Die leliemoordenaar mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word.

    Opgedra aan David of Galilee,

    die man wat ’n storie aan my vertel het

    Deel een

    Hoofstuk 1

    April 1985, Johannesburg

    Vroegmôre kort ná dagbreek. Dertig renjaers met swart leerbaadjies en valhelms skiet soos Middeleeuse ridders, twee-twee in formasie, om die draai. Die kragtige motorfietse brul triomfantlik. Die breë wiele vreet die teerpad op die breakfast run na Harties.

    Dis Sondag, die week se werksorge is vergete. Alle gedagtes is by kos, die ruiters op hulle ysterperde is honger. Die vroeë opstaan het die Johannesburgers ’n goeie aptyt gegee en daar word uitgesien na stomende koffie, spek en eiers en niertjies.

    Braam Brink jaag sy aan sy met sy vriend Adam Williams. Hulle het mekaar drie jaar gelede leer ken deur die Harley-klub. Miskien is ken nie die regte woord nie, want afgesien van hul gedeelde belangstelling in motorfietse weet Braam maar min van Adam. Hy weet nie eens presies wat die man se nering is nie, maar te oordeel aan sy fris Harley moet hy goed verdien. Braam het al probeer uitvis, maar Adam was ontwykend. Hy het dit daar gelaat, dis immers die man se private lewe.

    Politiek word ook vermy, maar wat dít betref, weet Braam, is hulle teenpole. Aan die begin was hulle soms haaks daaroor. Adam het Braam ’n Kommie genoem vanweë sy werk as joernalis by ’n oggendkoerant. Jy en jou donnerse Kommiekoerant, sou hy spottenderwys sê.

    Tog geniet hulle ’n goeie kameraderie ten spyte van hul verskille.

    Braam verlustig hom in die kragtigheid van die motorfiets tussen sy dye. Hy rev die enjin harder en skiet vorentoe, by Adam verby. Daar is maar altyd ’n verborge wedywering tussen man en man oor wie se ryding die beste is.

    Dis genoeg uitdaging vir Adam. Hy leun vorentoe op sy fiets, gee petrol en haal Braam in. Met sy kop beduie hy in die rigting van ’n afdraaipad. Dit lei na die padkafee wat hulle soms besoek wanneer hulle alleen uitry. Braam knik dat hy verstaan en laat Adam toe om leiding te neem.

    Adam swenk seepglad by die grondpad in. Sy gedagtes bly draai by wat môre vir hom voorlê. Daarom sien hy nie vandag kans vir die ander se geselskap nie. Hulle sorgeloosheid en goedige kwinkslae sal net sy nerf skaaf.

    Hoe lank terug was dit dat hy ook so sorgeloos was? Hy weet nie. Weet nie wanneer die depressie begin het nie, net dat dit die afgelope maande toegeneem het, net soos die angs wat hom snags wil versmoor. Dit groei in sy siel soos ’n kwaadaardige kanker.

    Siel? Beskik hy nog oor so iets? In die verlede het sy gewete hom nooit gepla nie. Hy het elke taak suksesvol uitgevoer en dit dan uit sy kop gesit. Of so het hy gedink. Hy weet nou hy was verkeerd. Met verloop van jare het dit hom ingehaal soos ’n spook wat pal in jou skadu hou.

    Hy stuur sy motorfiets in die smal paadjie in wat na die werf lei. Stofwalms slaan om hom op. Agter hom brul Braam se Harley soos dié hom volg.

    Braam Brink is ’n goeie man en ’n goeie vriend. Adam het ook respek vir hom as joernalis. Die man se skerp insig en sy intuïsie as hy ’n storie se spoor vat, het hom versigtig gemaak om niks te verklap nie en Adam se vrae te omseil. Absolute geheimhouding – dis by hom ingedril. Lojaliteit tot die dood toe en totale stilswye. Nou weet hy hoe misplaas daardie lojaliteit was.

    Het hy nog ’n kans op ’n nuwe lewe? ’n Lewe sonder die klandestiene uitvoering van plig? Sonder leuens en sonder geheime agendas? Want dis die lewe wat hy lei van sy een-en-twintigste jaar af, toe sy opleiding begin het.

    Maar eendag het hy Lilly ontmoet, brose Lilly met haar kinderlike vertroue in hom. Hulle is nou al drie jaar getroud en hy sou wat wou gee om die man te word wie sy dink hy is. Nog meer so ná die geboorte van hulle dogtertjie twee jaar gelede.

    In die tien jaar wat hy geprogrammeer was as effektiewe moordmasjien wat getrou opdragte uitvoer, kon hy sy dade nog regverdig, want hy het geglo dis in die land se belang. Hy het sy meesters se leuens gevreet, hy het daarin geglo. Ter wille van Volk en Vaderland was hulle leuse. Die ironie is lagwekkend.

    Maar iewers het die masjien Adam Williams uit rat geraak, het hy sy lewe begin bevraagteken. En nou weet hy met absolute sekerheid dat hy nie sy volgende opdrag kan uitvoer nie.

    Die klein wit gebou met die Coca-Cola-bord doem voor hom op. Meer ’n negosiewinkeltjie as ’n kafee, maar die Griek en sy vrou maak ’n eetbare ontbyt. En hulle sal privaat kan praat, wat die belangrikste is. Die hemel weet, hy het dit nodig om oop te maak en iemand in sy vertroue te neem.

    Hy verminder spoed en trek die Harley netjies langs die stoep in. Lig sy helm af en trek die ritssluiter van sy leerbaadjie oop, want die son begin nou behoorlik bak. Hy bekyk die stowwerige werf voor hom. Droogte het die rooi grond laat verpoeier en elke windvlaag jaag stof op. ’n Paar verkeerdeveerhoenders skrop rond, en onder ’n peperboom vreet ’n swart-en-wit basterbok. Stof of klippe? wonder hy. Daar’s verdomp niks hier wat groen is nie.

    ’n Paar kinders hou hom van ’n veilige afstand dop. Hy glimlag en wuif vir hulle, maar hulle deins terug, asof afstand hulle onsigbaar sal maak. Met ’n sug klim hy van sy motorfiets af. Hoe lank sal hy nog vry wees om daarop rond te jaag? Sal hy hierdie stowwerige werf ooit weer sien?

    Braam trek sy kleiner fiets langs Adam s’n in. Hy lig die valhelm van sy natgeswete rooi hare af.

    Is dit ’n pit stop of brekkies, china? vra hy.

    Sonder antwoord loop Adam by die stoep se drie rooigeverfde trappies op en verdwyn by die gaasdeur in.

    Braam frons toe hy ontslae raak van sy leerbaadjie. Iets byt Adam beslis. Hy het dit agtergekom toe hulle al voor dagbreek uit Johannesburg weg is. Daar is ’n gespannenheid by Adam, ’n nukkerige swygsaamheid. Nie dat hy ooit veel van ’n prater was nie.

    In die klein gebou is dit skemer en die lug is bedompig. Hulle sit by een van die tafeltjies en eet hulle ontbyt in stilte. Die geur van koffie en gebraaide spek meng met die aroma van die winkel: negosieware, bruinsuiker en goedkoop tabak, aangevul deur die rook van hulle sigarette.

    Dit laat Braam dink aan sy kindertyd, toe sulke winkels algemeen was. Voor die groot inkopiesentrums oorgeneem het, het elke voorstad of dorp sy Moosah’s of Costa’s gehad. Hy sien in die vertoonkas stroke liquorice soos slapende slange in ’n glasbottel, taai en swart. Ook appelkooslekkers, niekerbols en Chappies.

    Die Griek se vrou bring vir elkeen ’n tweede koppie koffie.

    Oukei, uit daarmee, sê Braam toe hulle weer alleen is. Hoekom sit ons hier?

    Adam kyk op na hom en druk sy sigaret dood, net om weer een aan te steek. Hy lig sy baadjie van die stoel af, vroetel in ’n binnesak en haal ’n dokument uit.

    Jy kan dit later lees, sê hy kortaf toe hy dit voor Braam neersit. Jy was toe al die jare reg.

    Oor wat?

    Oor die propagandastront wat ons gevoer is.

    Braam is totaal onkant gevang. Wow, hou vas, Williams! Van wanneer af is jy op dié Damaskuspad? Dis bra skielik! Stel jy vir my ’n soort strik?

    Adam antwoord nie, rook net in stilte, sy donker oë onsiende op die gaasdeur.

    Hy kyk na Braam. Hoe en waar ek die lig gesien het, gaan te lank vat om te verduidelik. Ek gaan probeer uitkom . . . uittree uit die Diens uit.

    Praat jy van die SAP?

    SAW. Spesiale eenheid wat . . . sê maar struikelblokke uit die weg ruim.

    Jy bedoel jy’s ’n recce?

    Adam knik. Maar dis nie nou ter sake nie. Wat nou tel, is dat ek wil uit. Of hulle my sal toelaat, is ’n ander saak. Vreemde dinge het al gebeur met boys wat quit. Daarom wil ek voorsorg tref. Hierdie afskrif is . . . Hy soek na die regte woorde. Sê maar dis ’n soort versekeringspolis.

    Braam vou die dokument oop en laat sy oë vlugtig oor die inhoud gaan. Die Sein . . . wat beteken dit?

    Jy sal verstaan as jy dit lees. Kortliks: in die huidige politieke klimaat is daar mense wat die regime nie meer in die land kan bekostig nie. Sekere aktiviste het ’n pyn in die gat geword, en Die Sein is die kode om diesulkes te verwyder. Verstaan jy? Permanente verwydering uit die samelewing. Deur ’n opdrag onder dié kode word moord gewettig.

    Hoekom vertel jy dit vir my? Ek is ’n koerantman.

    Adam trek diep aan sy sigaret en blaas die rook uit, kyk na die kringe wat in die lug verdwyn. Ek weet watter metodes gevolg word om sulke mense te elimineer. Ek weet ook wie die voorbokke is.

    Daar is ’n soort radelose vrees in sy oë toe hy na Braam kyk. Hulle gaan my betrek, ek wéét dit. En ek sien nie daarvoor kans nie. Ek was destyds in die operasionele gebied, eers teen Swapo as deel van ’n ops-eenheid toe ek nog verbonde was aan die mediese korps. Later ook in Angola, en dis waar hulle my ingetrek het. Ek het intensiewe opleiding ontvang as ’n recce . . . kortom, as ’n moordenaar. In die Bosoorlog het ek dinge gesien en moes ek dinge doen wat nou nog in my nagmerries by my spook. Maar in my boek was dit oorlog.

    Hy lag bitter. Of sê liewer in my jeugdige naïwiteit. Ek soek nie verskoning nie, maar ons was vol gepomp met patriotiese illusies wat enige optrede regverdig het. Die doel was immers om die landsgrense te beskerm teen die aanslag van die kommunisme. Die direkte en indirekte aanslae van Rusland, China en Kuba was wel ’n werklikheid en daarom kon ek die oorlogsmisdade aan ons kant oorsien. Ek het geredeneer dat dit deur beide kante gepleeg is. Destyds . . . miskien omdat ek jonger was, was dit toe anders. Met dit wat nou gebeur en wat in die toekoms gáán gebeur, wil ek niks te doen hê nie.

    Hy bly ’n oomblik stil voor hy weer praat.

    Hulle gaan my Port Elizabeth toe pos vir ’n sending, saam met ’n paar ander. Dit het te doen met aktiviste op Cradock . . . Ek weet wat voorlê.

    Is Die Sein op hulle gegee?

    Hy knik. Net soos met die Pebco Drie wat verdwyn het. Ek moes tóé al gepraat het, geprobeer het om uit te kom. Maar ek het teen my gewete in besluit dit raak my nie. Ek was verkeerd.

    Hoekom vertel jy my dit? Wil jy hê ek moet . . .

    As iets met my gebeur, wil ek hê iemand moet weet. Iemand soos jy – ’n joernalis. Ek het verdere dokumentasie aan my prokureur gegee, meer breedvoerige inligting. As dinge uitwerk soos ek hoop, bly dit daar. So nie, wil ek dit ook in jou hande laat. Vir Lilly en Betsie het ek reeds voorsorg getref, maar ek wil weet dat hulle nie geraak sal word as die wind teen my draai nie.

    Hy staan op en sit ’n paar note op die tafel neer, vat sy baadjie en helm. Kom, ons kan nog opvang. Resies oor die brug? Laaste een koop die biere!

    Braam was dié vinnige ommeswaai nie te wagte nie. Daar is nog soveel wat hy wil vra, maar Adam is reeds by die deur uit. Toe hy die Harley hoor brul, staan hy verslae op en volg sy vriend buitentoe.

    Hoofstuk 2

    Voor sewe is Braam al op kantoor. Hy lees weer die dokument deur wat Adam vir hom gegee het. Hy het dit laas nag gefynkam en wat hy daarin gesien het, het hom opnuut ontstel.

    Sy koerant het nie oogklappe aan nie. Hulle het al keer op keer die Nasionale Party-regering aangevat oor kwessies soos die opsluiting van mense vir dertig dae of meer sonder verhoor. Van mense wat in John Vorster gly op ’n koekie seep en hulle nek breek. Gevangenes wat sonder verklaring selfmoord pleeg deur van die tronk se negende verdieping af te spring. Die Mail was nog nooit huiwerig om te kritiseer en te bevraagteken nie, maar dit wat hy pas weer gelees het, is ’n klinkklare bewys van die grusame metodes wat gevolg word om ongewenste mense koelbloedig te elimineer. Wettig.

    Hy trek die telefoon nader en skakel die nommer van sy redakteur. Dis te betwyfel of Tom Waters so vroeg al op kantoor sal wees, maar tot sy verbasing antwoord die man self.

    Môre, baas, Braam Brink hier. Jy’s vroeg uit die vere?

    Om my lessenaar skoon te maak. Goed het lê en ophoop sedert ek in die Kaap was.

    Kan jy tyd inruim vir my?

    Kom dadelik. My dag vorentoe is vol gepak.

    Tom lees die laaste bladsy van die dokument. Hy kyk op na Braam wat oorkant hom sit. Waar kry jy dit?

    Wat dink jy daarvan? antwoord Braam met ’n teenvraag. ‘Daar word voorgestel dat bogenoemde persone as ’n saak van dringendheid permanent uit die samelewing verwyder word’ . . .

    Hang af hoe mens dit interpreteer. Wat presies beteken ‘permanent verwyder’? Jy weet so goed soos ek dat mense daagliks ‘verwyder’ word deur middel van aanhouding sonder verhoor. Van dié ongelukkiges word selde indien ooit weer gehoor, maar in my boek is dit ook permanente verwydering.

    Komaan, Tom, jy weet dis nie dieselfde nie! Wat mý betref, is dit gelisensieerde moord deur die sekuriteitsmagte.

    Tom lig die dokument op en waai dit in Braam se rigting. Hierin is geen definitiewe bewyse nie, nie wat ék kan sien nie. Bloot ’n woordspeling wat meer as een betekenis kan hê. Dis nie genoeg nie, my vriend.

    Ek sal meer konkrete bewyse kry as jy my sal toelaat om daarop in te gaan!

    Tom sug en kom orent. Hy gaan staan voor die venster. Ver ondertoe stroom motors en mense in die straat verby.

    Wie’s jou informant, Braam? Waar het jy die dokument gekry?

    By ’n vriend. Iemand wat in die Diens is, maar wat wil uit. Ek vertrou hom.

    Ons leef in vreemde tye. Hoe kan jy so seker wees hy’s betroubaar? Jy sê hy’s deel van die sekuriteitsmagte?

    Braam knik.

    Wat as hy nié te vertrou is nie? Al daaraan gedink dat dit ’n lokval kan wees? Jy’s nie te gewild in regeringskringe nie. Met alles wat jy al oopgekrap het, het jy die spreekwoordelike doring in hulle vlees geword. Al daaraan gedink dat jy self op die lys kan wees van dié wat ‘permanent’ verwyder moet word?

    Ek’s bereid om die kans te waag. As jy my toestemming . . .

    Nee. Ek’s bevrees ek kan nie.

    Tom loop terug na sy lessenaar. Hy weeg sy woorde voor hy weer praat.

    "Die Mail is op dun ys, ons het al te veel nek uitgesteek. Maar dis nie al nie. Die aandeelhouers is knorrig. Hulle sê ons sirkulasiesyfers is nie goed genoeg nie, maar ek vermoed van die spul het in die regering se luiers geklouter. Vet katte wat bang is om nie te miaau soos wat Botha voorskryf nie. Daar’s ’n mosie om ons vir goed toe te maak."

    Hy lag sinies. "Miskien ressorteer die Mail ook onder die lastiges in die samelewing. Jammer, Braam, maar in hierdie stadium moet ons versigtig loop. As Die Sein wel beteken dat dit moord wettig, gaan die kak behoorlik spat as ons dit nou aan die groot klok hang."

    Braam staan teleurgesteld op. Hy ken Waters goed genoeg om te weet die onderhoud is verby. Hy knik ’n groet en loop deur toe, maar draai terug toe ’n gedagte hom tref.

    Daar’s ’n groep aktiviste in Cradock . . . As ek reg is en hulle word vermoor, is ons al twee deels skuldig daaraan. Want ons het die inligting gehad, maar nagelaat om iets daaraan te doen.

    Hy draai om en loop uit.

    Tom sit ’n lang ruk stil. Braam se woorde vreet aan hom. Hy voel suur in sy keel opstoot. Sy maagsweer keil hom al weer op. Hy trek die boonste laai oop en haal sy pakkie Rennies uit.

    Adam sluk hard aan die knop in sy keel. Die onskuld van sy slapende dogtertjie is soos ’n aanklag teen hom. Sy mag nóóit die video sien wat hulle vandag vir hom gewys het nie. Nie sy of Lilly nie.

    Die smerigheid daarvan het hom laat voel om te kots. Hoe sal hy aan hulle kan verduidelik dat die video ’n vervalsing is? Hy was al baie keer met vroue deurmekaar, hy was geen engel voor hy Lilly ontmoet het nie, maar die vroumens in daardie walglike video het hy nog nooit in sy lewe gesien nie. Dis sonder twyfel ’n maaksel van die vuiltruukdepartement, en volkome oortuigend as jy nie die waarheid ken nie.

    Maar omdat hy sy vrou en kind liefhet, het hy geen verweer teen hulle afpersing nie. Hy sal doen wat hulle hom beveel. Hierdie een keer sal hy nog vir hulle op ’n sending gaan, maar daarna . . .

    Nee, hy wil nie daaraan dink nie. Hy moet eenvoudig glo dat hulle woord sal hou, dat hulle hom daarna in vrede sal laat.

    Sy klein Betsie . . . Hy soen haar saggies op haar voorkop en skakel die lig af voor hy uitstap. Buite op die terras roer daar nie ’n briesie nie. Hy kyk op in die lug waar weerlig teen ’n donker wolkbank speel. Hopelik sal reën die bedompigheid van die nag verlig.

    Hy hoor die skarniere van die agterdeur kraak. Lilly stap uit met ’n paraffienlampie in die hand. Hy staan op en trek haar stoel vir haar uit.

    Is jy regtig nie honger nie? vra sy toe sy die lamp op die tafel neersit.

    Hy skud sy kop. Dis te warm vir kos vanaand.

    Hy kan nie vir haar sê dat die blote gedagte aan kos sy keel dik laat raak nie. Hy kan nie eet ná wat hulle vanmiddag vir hom gewys het nie.

    Sy sak op haar stoel neer. Dis darem ’n bietjie koeler hier buite. Die huis is ’n bakoond.

    Hy kyk na haar met haar groot bruin oë in die sagte lig. Hoe mooi is sy nie, hoe lief het hy sy Leliemeisie nie. Só noem hy haar van die oomblik dat hy haar ontmoet het, want daar is ’n ongerepte skoonheid aan haar, ’n reinheid wat jy net aantref by dié wat innerlik goed is en wat nog nooit in die donker slymkuile van die lewe moes afkyk nie.

    Nogtans was haar lewe allesbehalwe maklik. Haar vorige huwelik, met ’n gewelddadige man, het veroorsaak dat sy maande lank in ’n senukliniek was. Juis daarom voel hy so beskermend teenoor haar, omdat hy weet sy is emosioneel nie sterk nie.

    Toe sy vraend na hom kyk, kan hy sien dat sy afgetrokke houding haar onrustig maak. Hy kom gemaak opgeruimd orent. Daar’s ’n yskoue bottel wyn en ek gaan dit nou oopmaak!

    Hy gaan haal dit uit die buiteyskas, vis die kurktrekker uit die muurkas se laai en maak die bottel oop. Terug op die terras sit hy dit saam met twee glase op die tafel neer.

    Sy lag. Wel, dis een manier om die hitte te besweer! Of vier ons dalk iets spesiaals? Jy’t hulle gesien vanmiddag . . . jou base?

    Hy gaan sit, skink die wyn en gee vir haar ’n glas aan. Vat ’n sluk uit syne. Ja, ek was by hulle . . . Hmm, hierdie wyn is goed.

    Wat het hulle gesê?

    Versigtig nou, maan hy homself. Hy moet die saak só stel dat sy nie onraad merk nie.

    Kom ons klink eers. Hy lig sy glas. Miskien het ons tog iets om te vier, my hartlam.

    Haar gesig verhelder. Hulle sal jou laat gaan! Het hulle jou vrystelling gegee?

    Hy probeer glimlag. Ja, so op hulle manier.

    Sy frons. Hoe bedoel jy nou?

    Hy druk die koel glas teen sy voorkop. By hulle kry mens selde sommer net vrystelling, my skat. Hulle sal my laat gaan, maar in ruil moet ek nog een laaste taak afhandel.

    Watse taak? Sal . . . sal jy weer moet weggaan?

    Hy knik swyend.

    Waarheen? Hoe lank?

    Nie lank nie, dink ek. Miskien twee of drie weke.

    Sy kyk hom ontredderd aan en hy dwing ’n glimlag na sy lippe.

    Komaan, Lilly, dis nie asof ek Suidpool toe gaan nie. Net twee of hoogstens drie weke, dan is ek ’n vry man. Dan kan ons volstoom ons kwekery opbou. Die nuwe lelies begin al knoppe maak. As die blomme oopgaan, sal ek terug wees, dit beloof ek jou!

    Hy kom orent en trek haar op, vou haar in sy arms toe. So ’n fyn ou mensie, sy Leliemeisie. Vir haar sal hy met graagte sy lewe gee.

    Hoofstuk 3

    Adam draai die stort vol oop. Die yskoue water stroom verfrissend oor sy gesig en lyf. Sy spiere voel styf van die lang sit. Hy kon nie slaap op die nagvlug na Rundu nie, te onseker oor wat die dag vir hom inhou.

    Die Johannesburgse buro het die opdrag net te maklik laat klink. Blote roetine, Williams, net ’n verkenningswaarneming.

    Maar niks is ooit so eenvoudig in die operasionele gebied nie, dit weet hy maar te goed. Toe hy jonger en meer paraat was, is hy ’n hele paar keer op sulke verkenningstogte gestuur, maar waarom nou weer, ná al die jare?

    Hy begin hom driftig inseep. Sy bedenkinge sal hom niks baat nie, want hy het min van ’n keuse gehad. Hy sal moet deurdruk en basta. Hy draai die kraan toe en begin hom met harde hale afdroog.

    Buite klink die gedreun op van ’n vliegtuig wat land. Hy trek haastig sy kamoefleeruniform aan en is nog besig om sy stewels vas te ryg toe ’n jong korporaal die ablusieblok binnekom.

    Toe hy Adam sien, salueer hy. Adam knik en kom orent.

    Kaptein, die bevelvoerder het gevra dat u na die skuur moet kom, so gou moontlik. Meneer Harm Hasslau se vliegtuig het pas geland.

    Ja, sê vir hom ek is op pad.

    Die korporaal salueer weer en haas hom na buite.

    Adam druk die handdoek in sy seilsak en gespe dit toe. So, die heer en meester van Lupus is hier. Persoonlik. Hoekom? spook die vraag opnuut by hom.

    Hasslau het hom ongeveer ’n jaar gelede die geleentheid gebied om by die Lupus-eenheid aan te sluit. Nadat hy dit bedank het, het hy bewus geraak van die Duitser se antagonisme jeens hom. Waarskynlik omdat min mense so ’n geleentheid van die hand sal wys. En Hasslau het nou maar eenmaal so ’n gepantserde ego dat dit ’n buffelbul sal beskaam. As ’n ryk man is hy gewoond daaraan om sy sin te kry – dis min of meer wat hy Adam daardie dag laat verstaan het.

    Buite verblind die sonlig hom en hy soek na sy donkerbril in sy hempsak. Hy loop vinnig na die ou vliegtuigloods wat as kantore vir die bevelvoerders dien. Hasslau wag hom in.

    Williams! groet hy joviaal. Goed om jou weer te sien. Jy lyk uitstekend. Die sagte lewe het jou darem nie vet gemaak nie. Hy lag oor sy eie kwinkslag en beduie na ’n stoel. Sit, man!

    Adam gehoorsaam nie, maar probeer hoflik wees. Ons is gereed om te vertrek. Die manne wag net vir my.

    Hasslau knik. Ek weet. Ek wil jou net ’n bietjie meer inligting gee.

    Hy draai om na die muurkaart, tik met sy vinger op ’n bestemming. Cuito, ongeveer 350 kilometer hiervandaan. Ongelyke terrein, so die Casspir sal vir die grootste gedeelte van die afstand net 50 kilometer per uur kan haal. Hy trek die roete van Rundu af. Julle behoort Cuito voor donker te bereik.

    Hy draai om na Adam, kyk hom stip aan. Onthou, die veiligheid van die vier manskappe wat saam met jou gaan, is in jou hande.

    Adam knik net. Dis die gewone motiveringspraatjie, hy ken dit teen dié tyd uit sy kop.

    Die Casspir is goed toegerus, gaan Hasslau voort. LMG met twee 12.7 mm-masjiengewere. Maar ek moet beklemtoon dat die gebruik daarvan oorbodig behoort te wees vir hierdie sending. Jou opdrag is slegs verkenning en waarneming. Indien julle vyandelike bewegings teëkom, maak dat julle wegkom.

    Ja, dis reeds so aan my gestel in Johannesburg. Wat nie aan my verduidelik is nie, is die ware rede vir hierdie verkenningstog.

    Hasslau frons. Hulle moes dit aan jou verduidelik het. Twee van ons vliegtuie het vyandelike bewegings opgemerk – Russiese tenks in die omgewing van Cuito Cuanavale. Ons moet sekerheid daaromtrent kry, dis al. En dis jou opdrag: neem waar, maak jou berekeninge en kom terug. Onder geen omstandighede mag jy betrokke raak by ’n skermutseling nie, is dit duidelik?

    Selfs nie in ’n aanval nie?

    Julle moet gat skoonmaak voor so iets gebeur, Williams! Jy het Viljoen, hy’s ’n bekwame bestuurder en ken die terrein in Suid-Angola. Daar behoort geen rede te wees om in ’n geveg betrokke te raak nie.

    Adam keer die skerp antwoord wat op sy tong prik. Wat sal dit baat om Hasslau daarop te wys dat enigiets moontlik is in hierdie onheilige oorlog?

    Ek sal sover moontlik by die opdrag hou.

    Gaaf! Dan kan julle maar in die pad val. Jy het ’n lang dag voor jou.

    Met ’n kortaf knik draai Adam om en loop uit. Hasslau se glimlag laat hom aan die grynslag van ’n hiëna dink.

    Dis knap ná vier, sien Adam toe hy op sy horlosie kyk. Ure lank, kilometer ná kilometer, skommel hulle al voort oor bosagtige terrein. Nou is hulle kort duskant Rundu, reeds diep in die gevaarsone.

    Hy som die drie mans oorkant hom op. Sweet tap hulle af, die gesigte blink in die halflig wat deur die smal vensters skyn. Die hitte in die Casspir is bykans onuithoudbaar.

    Niemand praat nie. Dalk oor die beknopte ruimte, maar meer waarskynlik weens spanning. Die beswete gesigte weerspieël Adam se eie angs en onsekerheid. ’n Casspir is veronderstel om bestand te wees teen landmyne, maar hulle weet almal geen pantservoertuig is opgewasse teen ’n langafstandkanon of afstandbeheerde missiel nie.

    Hulle het die basis kort ná ses verlaat, so met geluk behoort hulle Cuito voor sononder te bereik. Tot dusver was daar geen teken of beweging van enige vyandelike magte nie. Hulle het net enkele van die plaaslike bevolking op ’n afstand gewaar.

    Die man teenoor Adam vis ’n pakkie Lexington uit sy hempsak.

    Sit terug, Hatting, sê hy skerp. Die lug is bedompig genoeg soos dit is.

    Hatting bêre gehoorsaam die platgedrukte pakkie. Is senuwees wat vreet, kaptein.

    Hou uit, man. Ons sal . . .

    Kaptein! Daar’s beweging vorentoe! roep Viljoen uit die stuurkajuit.

    Adam veer orent en beweeg gebukkend daarheen. Deur die Casspir se voorruit sien hy ’n stofwolk soos ’n reusesambreel opslaan. Hy klim die paar trappe na die uitkykstasie, druk die luik oop en lig sy verkyker na sy oë.

    Die enkele stofkolom het verander in drie. Dan herken hy deur die rooi wasigheid die logge voertuie. Russiese pantsers blokkeer hulle roete.

    Hy trek sy kop terug. Draai om, Viljoen! Gee vet, ons moet wegkom!

    Die Casspir draai na regs en tel spoed op. Tot dusver het hulle skaars 50 kilometer per uur gery, maar Viljoen se voet op die pedaal druk die spoedmeter op na 55.

    Adam hoor die gedreun van ’n vliegtuig bo hulle. Waarskynlik bespieders wat hulle posisie aan die pantsers sal oordra. Hou laag, Viljoen, onder die ruigtes! skree hy.

    Die goed opgeleide bestuurder gehoorsaam instinktief.

    Dan klink ’n ander geluid op, meer vreesaanjaend, soos krete uit die hel. Adam herken dadelik die kanonvuur van die Stalin-orrel. Om die Casspir ontplof vuurpyle in kraters wat stof opjaag. Viljoen sigsag oor die veld om die skote te ontwyk.

    Adam sien die gasvlam ontplof toe ’n terugslaglose kanon van die linkerkant af gevuur word. Die granaat mis hulle net-net, danksy Viljoen se knap maneuvers. Met ’n dodelike kalmte swaai Adam die masjiengeweer in die rigting van die recoilless. Hy vuur sonder aarseling. Dis raak, want hy sien vlamme uitslaan.

    Uit ’n ander rigting begin die rat-tat-tat van ’n masjiengeweer. Terselfdertyd gil iemand in die kajuit: Kaptein, Viljoen is getref!

    Die Casspir swenk en tol soos ’n dronk tor. Toe dit omslaan, word Adam uitgeslinger. Hy lê vir ’n oomblik bedwelm, sy gesig teen die grond. Dan hoor hy die geskreeu van die mans in die Casspir. Hy hys hom moeisaam orent en sien hoe die dakvaldeure outomaties oopspring. Gebukkend haas hy hom soontoe.

    Hy sien met die eerste oogopslag dat twee van hulle reeds dood is en die derde swaar gewond. Net Sammy die Ovambo-spoorsnyer is ongedeerd. Hy kom wankelrig orent, maar sy bene gee onder hom in. Adam gryp sy hand net betyds en sleep hom na buite.

    Maak dat jy wegkom! skree hy en buk by die deur om die gewonde man te gaan haal. Die volgende oomblik word hy en Sammy die lug in geslinger toe ’n granaat die Casspir volskoot tref. Dadelik slaan vlamme uit.

    Lilly! is Adam se laaste gedagte voor ’n swart newel oor sy bewussyn sak.

    Hy raak vaagweg bewus daarvan dat hy nog lewe. Waar is hy? Beweging. Van ’n swaar voertuig, registreer die gedagte. Watter voertuig? Die Casspir het ontplof toe die petroltenk vlam vat.

    Hy probeer sy oë oopmaak, maar sien niks. Hy raak aan sy gesig. Daar is verbande om, sy oë is toegebind. Is hulle beskadig?

    Kaptein! fluister ’n stem. Kaptein, kan jy my hoor? Dis Sammy!

    Adam probeer praat, maar sy tong

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1