Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Sondes van die vaders
Sondes van die vaders
Sondes van die vaders
Ebook358 pages7 hours

Sondes van die vaders

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Topspeurder Danny Hector is terug en warm op die spoor van ’n geweldenaar. Hansie Roodt, wat in die 1980’s as tienerseun galgdiens moes doen, neem nou wraak op die nasate van destyds se sondaars. Hy is ’n reeksmoordenaar wat volgens heeltemal nuwe reëls speel, dus moet kreatiewe maniere gevind word om hom te vang. Hoe gaan dié saak Danny se verhoudings beïnvloed – veral met haar dogtertjie, oor wie haar eksman toesig wil kry? En kan sy in sulke omstandighede ware liefde vind? Die veelsydige en veelbekroonde François Bloemhof is verantwoordelik vir die afronding van Lerina se manuskrip.
LanguageAfrikaans
Release dateJun 6, 2019
ISBN9780798179072
Sondes van die vaders
Author

Lerina Erasmus

Lerina Erasmus is in Namibië gebore. Sy het haar loopbaan in die vermaaklikheidsbedryf as aktrise begin. Die leliemoordenaar, ’n aksiebelaaide spanningsroman, verskyn in 2016. Die skrywer is getroud met Günter Schmikal en woon in Johannesburg.

Read more from Lerina Erasmus

Related to Sondes van die vaders

Related ebooks

Related articles

Reviews for Sondes van die vaders

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Sondes van die vaders - Lerina Erasmus

    Lerina Erasmus

    Sondes

    van die vaders

    Human & Rousseau

    Opgedra aan

    Stefan-Pieter Schmikal

    DEEL EEN

    Hoofstuk 1

    Junie 1985, Pretoria

    Dis nog pikdonker toe Hansie Roodt tien oor vyf sy fiets by die hek uitstoot. Die skarniere skree asof hulle ook die koue voel.

    Sy linkervoet is seer, al het hy dit gisteraand gebaai en pleisters opgesit. Dis die ellendige skoen. Hy weet hy moet dankbaar wees daarvoor; hy kon dit kry danksy ’n barmhartige Samaritaan se skenking twee jaar gelede toe Hansie nog in die weeshuis was. Noudat hy agtien is, is die skoen te klein. Hy sweer sy voete groei nog.

    Hy klim op die fiets en begin trap – met Proesstraat af na Potgieter, dan op, dan regs na waar die tronk is: Pretoria Sentraal Gevangenis, waar hy werk. Waar die terdoodveroordeeldes aangehou word. Hy trap al hoe meer gemaklik. Wanneer hy op sy fiets is, pla die voet nie.

    Dis hangdag. Sewe van hulle. Vier is swart politieke gevangenes – hulle het ’n polisiestasie probeer opblaas – en twee Indiërs wat aan hoogverraad skuldig bevind is. Daar is net een wit man: ’n moordenaar, Piet du Toit. Hy’t by Hansie gehuil toe hy sy kos vir hom gee. Die laaste aand se kos is die beste. Piet het gesê hy’s onskuldig, sy vrou het die vee-inspekteur gif gegee en die blaam op hom geplaas. Hansie wou weet hoekom, maar Piet het net harder gehuil.

    Hy het almal wat vandag uitgelei gaan word, leer ken tydens die weke wat hulle in die sekuriteitselle was. Die swart manne kan baie mooi sing. Hulle is trots en sê hulle sterf vir vryheid. Die Indiërs sê dieselfde. Hansie weet nie of enige van hulle regtig skuldig is nie. Verdien hulle om te hang? Hulle het hom altyd met respek behandel – niemand het eens verwys na sy voet, soos die bewaarders aanhoudend doen nie.

    Húlle hou nooit op om sy siel uit te trek nie, veral oom Kallie, onder wie hy direk werk. Oom Kallie sê altyd hy wil van hom ’n man maak. Hansie Horrelpoot, het hy hom gedoop, en toe val die ander daarby in. Hulle spot ook met hom omdat hy aan die huil raak wanneer hy in die gang af moet skree: Baadjie en adres! Dan weet almal wat daar ingehok is dat een of meer van hulle uitgehaal gaan word. Daarna word die ongelukkiges na die balju geneem, net om te hoor dat hulle appèl geweier is. Party van hulle, soos Piet du Toit, begin dan pleit, sy skuld ontken. Dit help alles niks nie. Almal word gemeet en geweeg vir die laksman se tou. Daarna moet die bewaarders die manne – een maal ’n vrou ook – begelei na die Pot.

    Dit is die plek waar hulle die laaste sewe dae deurbring. Die veroordeeldes noem dit die Pot, want hulle glo daardie hokke waarin hulle moet bly, is bedoel om hulle verder te laat stowe tot hangdag.

    Hel, nee, dis nie ’n lekker werk nie, maar wat anders kan hy doen? Hy’t net standerd agt en ’n horrelvoet. Hy het die aanvoerder al gevra of hy nie eerder in die tuin kan werk nie, maar die antwoord was nee. Swart manne werk in die tuin, nie wittes nie.

    By die tronk klim hy af en stoot sy fiets deur die groot hek. Dis vir hom mooi, die tuine. Selfs nou in die winter is die gras groen en staan daar bloedrooi kannas. Dis nie nou tyd om daaraan te dink nie. Hansie klim terug op sy fiets. Hy ry na die gebou doer agter, die vierverdieping tussen die groot sinkwatertenks. Dit is sy werkplek, daardie soort fabriek waar mense doodgemaak word. Sy oë begin brand en hy probeer homself wysmaak dis die koue wat hulle laat traan. Hy moet regkom voor die ander bewaarders dit dalk sien.

    ’n Paar minute later, op die kop halfses, is al die dagbewaarders in die stafkamer. Die laksman vir die dag is meneer Boet Erasmus – een van net drie in Suid-Afrika. Al drie bly glo baie besig.

    Ons moet aan die werk kom, manne, sê die hoofbewaarder. Daar is baie te doen. Ek wil die spulletjie laat lug trap voor brekfis. Die ander lag vir sy kwinkslag.

    Oom Kallie stamp aan Hansie. Hoop nie jy beskyt jouself weer vandag sodat ek my vir jou moet skaam nie. Jy’t nog nooit soveel gedoen op een dag nie.

    Hansie antwoord nie. Knik net. Sy adamsappel voel te groot vir sy keel.

    Ou Hansie-huilbalie, kom dit van Burger, en sy beste pel lag. Miskien moet ons hom liewer Hannie noem – het jy ooit ’n peper, jong? Hy knipoog in die rondte. Kom ons trek sy broek af en kyk.

    Voertsek, man! Hansie retireer vinnig, tot groot vermaak van die ander.

    Hy weet goed hy kom nie so rof soos hulle voor nie. Want hy is nie. Seker ook nie so manlik nie. Kan hy dit help dat hy sulke groot blou oë het, en dié sagte vel? Dan nog blonde krulhare ook. Die krul bly, al laat hy dit kort knip.

    Saam met oom Kallie en die vyf ander loop hy in die gang af na die Pot. Soos hulle nader kom, hoor hulle die gesing: Nkosi Sikelel’ iAfrika. Daniel Tembo, wat ook vandag gaan hang, het vir Hansie gesê dit beteken God bewaar Afrika. Sy oë begin weer brand en hy haal sy sakdoek uit sodat hy kan maak of hy net sy neus blaas.

    Ek gaan jou wragtig opneuk as jy vandag weer begin grens, sis oom Kallie.

    Ek huil nie. Ek dink dis ’n verkoue.

    Een van die nagwagte wat nou van diens af gaan kom, stap hulle tegemoet.

    Die hele nag niks rus gekry nie. Die spulletjie sing nog heeltyd so. Mohale begin, dan val die ander in.

    Ons kyk maar of hulle nog sing as hulle die twee en vyftig trappe klim, merk oom Kallie op.

    Oukei, kêrels, ek boek af. Lekker hangdag vir julle.

    Totsiens, Smith.

    Komaan, dis twee minute voor ses, kom dit van Burger. Laat ons die spul hulle laaste gebedjies laat opsê.

    Op die kop sesuur begelei die tronkbewaarders die sewe manne na die prisonierskapel. Hulle het sewe minute om te sit en bid. Hansie het al gehoor as hulle vinnig maak, kan hulle die Onse Vader sewe maal opsê.

    Sewe. Wat van sewe? Hoekom pla dit hom skielik? Dis asof die syfer in die lug voor hom hang, voor dit oplos en net die mense hierso oorbly.

    Elke bewaarder staan langs ’n veroordeelde; Hansie by die groot John Makoena. Die swart man sit baie stil en Hansie weet nie of hy bid of nie.

    Tyd’s verby, kondig oom Kallie dan aan met ’n gewyde stem. ’n Mens het tog respek vir die kerk en hy is buitendien al jare lank ouderling.

    Ses van die veroordeeldes kom orent, die swart manne en die Indiërs. Toe skree Makoena: Amandla! en die ander vyf politieke gevangenes antwoord met: Awethu!

    Boei die spul! bulder oom Kallie. Ons wil nie spoils hê nie.

    Hansie knip sy oë. Het hy ’n ander stem gehoor, een wat bekend geklink het? Wat het dit gesê?

    Ses van die mans hou hulle hande agter hulle rûe om geboei te word. Net Piet du Toit retireer.

    Nee. Nee, ek is onskuldig! Ek sweer ek is. Die Here weet ek is!

    Nou, dan kan jy dit oor tien minute vir Hom gaan vertel, antwoord oom Kallie.

    Dit verg twee bewaarders om Piet van die kerkbank los te trek sodat hulle sy hande agter sy rug kan boei. Hy het hulpeloos begin huil en hou so aan, al die pad na die trap toe.

    Daar is vier verdiepings se klim tot by die galgplatform, waar sewe galgtoue aan ’n staalbalk hang. Dit wil amper vir Hansie voorkom asof Makoena hom gretig saam by die trappe optrek. Dis Mohale wat weer daardie lied begin sing en die ander val by hom in.

    Aan die bopunt wag meneer Boet Erasmus reeds by die lessenaar met die swart telefoon. Dit is daar vir laaste begenadiging, maar Hansie het dit nog nooit hoor lui nie.

    Op die platform trek elke bewaarder ’n swart sak oor sy veroordeelde se kop. Die mans word begelei na die voetmerke wat op die vloer geverf is, elke paar reg onder ’n hanglus.

    Dis oom Kallie wat elke keer die sak oplig om seker te maak die regte persoon staan daar. Dan word die toue om hulle nekke geplaas. Dit neem hom ’n paar minute voordat hy terugtree en vir die laksman knik.

    Meneer Erasmus se hand rus vir ’n oomblik op die hefboom. Toe trek hy dit en die valdeur gaan oop. Sewe mans stort na benede, drie verdiepings ver.

    Hansie besef hy huil toe tog maar. Sy maag draai. Ag, Here, bid hy in die stilligheid, moenie dat ek myself vuilmaak nie.

    Daar is vyftien minute vir tee sodat die dokter sy ronde kan kom doen. Die bewaarders begin by die trap af bondel.

    Hou dadelik op met grens, beveel oom Kallie saggies. Jy bly, Hansie. Jy wag vir die dokter. Daarna ruim jy die bloedpit op. Jy ken die storie.

    Hansie knik net. Hy hoor weer die ander stem, maar kan geen woorde uitmaak nie. Nou weet hy egter dis die stem wat hy al van kleins af hoor, al was dit nog nie so baie kere nie. Nog altyd as dit gekom het, het dit gehelp. Dis reg, hy onthou nou dit was op tye wanneer hy gedink het daar is geen hoop meer nie, hy kan dit nie meer uithou nie, hy gaan mal raak. Die stem praat met hom, dan raak dinge beter. En daarna vergeet hy weer van die stem. Al is die woorde nie duidelik nie, was die stem nog nooit so hard soos nou nie. Hy is byna verbaas dat oom Kallie nie terugdraai om te kom kyk wie hier by hom is nie.

    Hansie kyk rond, vir ’n oomblik oortuig dat hier iemand moet wees, al is dit nie moontlik nie. Hy is nie seker of hy die woorde sou verstaan ás hy hulle duidelik kon hoor nie.

    Hy besef daar het tyd verbygegaan. Hy kyk af en sien die dokter wegstap en die sewe lyke agterlaat. Hy bly nooit lank nie, moet net seker maak dat daar nie meer ’n hartklop is nie.

    Hansie klim af ondertoe. Die gehangdes swaai nog liggies. Sy taak is om hulle eers uit te trek, dan af te spuit. Maar hy kan nie! Nie wéér nie. En so baie van hulle. Nog nooit was dit vir hom so erg nie, verdomp, geen mens kan dit hou nie! Tog, hy trek die mans se klere af, gooi dit op ’n hoop – sodat dit vir ander verdoemdes gegee kan word. Almal hang nou kaal, soos stukke vleis in ’n slaghuis. Die stank is iets vreesliks, want almal het hulle bevuil, soos altyd gebeur. Die gevolg van daardie laaste groot maaltyd.

    Hansie mag agtien wees, maar hy voel soos ’n voorskoolse kind wat al te veel van die wêreld se wreedheid gesien het. Dis te veel vir enige mens. Hy kan dit nie meer vat nie. Dalk is hy reeds mal, dié dat hy stemme hoor. Wat help dit die stem kom, as dit hom nie help nie?

    Hy besef iets. Dit moet die stem van God wees. Hoeveel kere het hy dan nie al gebid dat God hom uit hierdie ellende moet verlos nie?

    Dan wonder hy: Wil God nie vir my sê ek moet myself help nie?

    Maar hóé?

    Hy draai die kraan oop en ’n sterk straal water skiet uit die tuinslang. Hy spuit die slap liggame skoon.

    Gewoonlik kom een van die ander om hom die gehangdes te help afhaal. Laat dit tog net nie oom Kallie wees nie …

    Asof in antwoord op daardie gedagte, kom die stem van daar bo af: Jou luigat, is jy nog nie klaar nie? Het jy net hier staan en tjank?

    Hansie verstaan dit nou, al daardie woorde wat hy nie kon uitmaak nie. Dit was ’n bevel. God help dié wat hulleself help.

    En hy moet nou optree. Uiteindelik self iets doen.

    Sy voet hinder hom glad nie toe hy blitsig by die twee en vyftig trappe op beweeg nie, na waar die ouer man hom onbegrypend aankyk.

    Vrek, jou ou donner! skree hy, en stamp, en oom Kallie val gillend na benede.

    Sy gil hou skielik op.

    Dood. Vrek, sê Hansie saggies vir wie ook al hier by hom mag wees, al kan hy nie meer die ander stem hoor nie. Ek kon toe ook mense hang. En kyk, ek huil nie meer nie.

    Wat de hel gaan hier aan? vra Burger van onder af.

    Hansie begin lag. Toemaar, dis net oom Kallie. Hy is skuldig bevind, en ek moes hom straf.

    Hoofstuk 2

    November 2014, Stilbaai

    Dis verstommend dat ’n mens se vrede só vinnig tot ’n einde kan kom. Een oomblik was die vier van hulle nog saam aan tafel, met ’n lieflike uitsig en die geur van kos en sagte musiek op die agtergrond. Toe kom die oproep op haar selfoon.

    Sy moes nooit buitentoe gekom en geantwoord het nie. Maar dan het sy tog net die onafwendbare uitgestel.

    Die oomblik toe sy die stem herken het, het die werklikheid haar ingehaal.

    Watter seën was die afgelope tien dae of wat nie. Hier op Stilbaai in Eric se huis, ver van die senutergende gebeure wat in Johannesburg afgespeel het. Danny was weer besig om haarself te vind – want as jy met ’n moordsaak besig is, verloor jy jouself. Dan kan jy nie bekostig om net mens, net vrou te wees nie. Dan is jy voluit speurder.

    Daardie saak het geëindig toe sy die reeksmoordenaar skiet. En, op ’n emosionele vlak veel belangriker, sy het Harm Hasslau gevang. Die man wat vir haar pa se dood verantwoordelik was. Daarna verdien jy tog om te rus, nie waar nie? Al was dit vir haar moeilik om af te skakel, al het die rustigheid haar op ’n vreemde manier soms juis onrustig laat voel, was dit nou die tyd om te ontspan, saam met haar ma en kind. Ja, ook saam met Eric. Sy staan hier met die foon teen haar oor en dink aan hoe Eric net ’n minuut gelede hier in die Press Room-restaurant vir haar geglimlag het: nie die briljante kriminoloog nie, net ’n man wat op ’n sekere manier na ’n vrou kyk.

    Danny het geglo daar sal nog ’n hele klomp dae soos die laaste tien wees. Dae soos gister, toe haar ma haarself oortref het met die aandete. Rachel het iewers ’n vars kabeljou bekom. Krokante slaai en groentes en pietersielie-aartappels daarmee saam voorgesit. Nadia het met verstomde dogtertjie-oë na die kos gekyk, al behoort sy reeds aan haar ouma se toorkunsies gewoond te wees. En hy het gelag, die skaam en teruggetrokke professor Eric Strauss wat Danny aanvanklik as hooghartig en chauvinisties ervaar het. Sy kan nie onthou of sy al ooit ’n vakansie meer geniet het nie; haar normaalweg bleek vel het selfs ’n bietjie kleur gekry.

    Stilbaai en Eric se huis by die see – omtrent ín die see – was te goed om waar te wees. Ja, voor Nuwejaar sou hulle moes teruggaan huis toe, sy en Rachel en Nadia. Maar Nuwejaar was nog ’n bietjie meer as ’n maand ver. Sy het Nadia reeds voor sy weg is uit Johannesburg by ’n nuwe privaatskool in die Kaap ingeskryf. Nadat een van die kind se onderwysers hulle verraai het, moes sy seker maak so iets kan nie weer gebeur nie – en dat Piet Hector …

    Nee, sy sal nie weer aan hom dink nie. Of nie nou al, gedurende haar tydjie van rus nie. Piet Hector mag ook nooit in die pad van enige moontlike verdere geluk staan, sodat sy nie weer iets vir ’n man kan voel nie. Danny was huiwerig om dit teenoor haarself te erken, maar Eric beteken elke dag meer vir haar. Of dit liefde is? Sy is bang vir daardie woord.

    Dit was die perfekte aand – en nou voel gisteraand so ver.

    Niemand kan fout maak met so ’n vis nie, het Rachel gesê. Die visserman het my verseker dit het ure tevore nog geswem.

    Ouma! Nadia se oë het vol trane geskiet. Toe maak Ouma die arme vis dood!

    Ouma het net die vis gaargemaak, kind. Die visserman het dit gevang en dis sy werk.

    Maar wat daarvan as die vis kindertjies het? Die gedagte het te veel geraak vir die dogtertjie. Ek wil nie meer eet nie!

    Toemaar, het Eric gepaai, môre neem ek julle uit vir middagete. En toe die twee vroue protesteer: Dis die laaste Sondag van die maand. Dis my verskoning.

    En hier is hulle nou, en hier staan sy op die veranda en kyk uit oor die olyfboorde om die restaurant. Met kommissaris Bongani Mbulu se stem in haar oor.

    Danny, Harm Hasslau het uit die hospitaal verdwyn.

    Die einde, weet sy. Hierdie onwerklike vrede is op ’n einde.

    Wat? Maar hy was tog onder die strengste polisiebewaking!

    Korrek, ja. Maar die man het kontakte, en nou is hy spoorloos.

    Sy wil antwoord, maar dit voel of haar brein vasgevries het.

    Danny … Danny, is jy daar?

    Ja, kommissaris, mompel sy ná ’n oomblik.

    Sy weet wat gaan kom.

    Hoofstuk 3

    Julie 2005, Wes-Rand

    Die raadskamer se drie verwarmers brand volsterkte, want die winter ontsien geen mens of dier nie. Die raadslede neem stil-stil hulle plekke in, wetende dat ’n belangrike beslissing vandag gemaak moet word.

    Die direkteur van die Kliprand Instituut vir Geestelik Versteurdes skraap sy keel, soos sy gewoonte is, en alle oë draai na hom aan een punt van die lang tafel.

    Ongeveer twintig jaar gelede is ’n ouer bewaarder deur ’n jongere by Pretoria Sentraal Gevangenis om die lewe gebring. Hy het na sy dood geval waar ’n paar tereggesteldes gehang is – ’n gruwelike moord. Die ouer man het sy nek gebreek. Die hof en die raad by Weskoppies Hospitaal het die moordenaar geestelik versteurd verklaar en aanbeveel dat hy lewenslank onder observasie gehou moet word.

    Daar is net die sagte gesis van die verwarmers. Almal weet reeds direkteur Muller praat van die agtienjarige man, eintlik nog seun, wat in dié instituut vir geestelik versteurdes volwassenheid sou bereik.

    Daar is ’n petisie aan die raad gerig dat Hansie Roodt se ontslag in heroorweging gebring moet word, na aanleiding van sy ontwikkeling en goeie gedrag die afgelope twee dekades. Daaroor moet vandag besin word. Ek moet van meet af aan byvoeg dat ek aan géén vroeë vrylating glo nie. Dit mag altyd reperkussies hê. Dus is ek bereid om buite stemming te bly wanneer die besluit geneem word. Hy draai sy kop na die seningmaer vrou langs hom. Is Roodt buite in die wagkamer, matrone?

    Ja, doktor. Sal ek hom laat inkom? Toe hy knik, kom sy orent, gaan maak die deur oop en roep saggies: Kom maar in, Hansie.

    Die 38-jarige man glimlag en gehoorsaam. Sy been swik effens toe hy skeef trap, maar dit pla hom duidelik nie.

    Alles van die beste, ou seun, fluister sy toe hy verby haar loop.

    Hansie kom die raadskamer binne. Hy steek ’n oomblik vas en dan glimlag hy op die sonnige manier waaraan almal gewoond geraak het.

    Môre, doktor Muller, sê hy byna eerbiedig.

    Kom nader, Hansie. Daar is ’n stoel vir jou teen die muur. Toe Hansie sit, vra die doktor: Weet jy waarom jy vandag by die vergadering is?

    Die pasiënt se oë vind dié van sy psigiater, doktor Giep Botes. Dok het my gesê. Hy’t gesê daar moet besluit word of ek normaal genoeg is om uitgelaat te word buitentoe.

    En hoe voel jy daaroor, Hansie?

    Die antwoord kom stadig: Ek weet nie mooi hoe om te sê nie … Ek het baie daaroor gebid, maar ek het nog nie helderheid nie.

    Die hoofsuster voel haar hart saamtrek. Hulle Hansie het so ’n mooi man geword. Nog steeds jonk, en so nederig en vol liefde vir sy medemens. Wat gebeur het, was tog nou al so lank gelede en …

    Hansie onderbreek haar gedagtegang: Kliprand is die enigste huis wat ek ooit geken het. Julle weet my pa en ma is dood toe ek baie jonk was, en die weeshuis was nie regtig ’n húis nie. Maar hier tussen mense net soos ek het ek die Here leer ken, en sy groot genade. Dít is my huis. Hier kan ek iets beteken, tussen dié wat my nodig het. Ek kan help en ek weet niks meer van die buitewêreld nie. Hy het beurtelings na almal gekyk, maar sy mooi blou oë vind weer doktor Botes s’n. Ek het vir Dok so gesê. Dis nie dat ek bang is nie. Ek sal gaan waarheen die Here my ook al wil stuur.

    Pastoor Tony Bendt knik. Dit is dieselfde as wat Hansie vir hom gesê het toe hy hom geestelik bearbei het.

    Kan jy onthou wat twintig jaar gelede gebeur het?

    Hansie laat sy kop sak, maar knik. Ja, direkteur. Oom Kallie was my meerdere en ek het hom afgestamp in die pit. Mag die Here my vergewe.

    Kan jy onthou hoekom? vra doktor Botes. As Hansie se psigiater wou hy dit liewer self vra, want die direkteur is duidelik nie simpatiek nie. Het oom Kallie jou getreiter?

    Hansie haal sy skouers op. Hy het seker net goed bedoel, Dok. Hy’t gesê hy sal van my ’n man maak.

    Toe stamp jy hom na sy dood? vra die direkteur.

    Hansie lyk skaam. Ek is jammer. As jammer net dinge kon verander … maar ek weet dit verander niks nie.

    Hansie, kom dit van pastoor Bendt, het jy iets gehoor … ek bedoel, was daar miskien ’n stem wat met jou gepraat het en wat jou aangesê het om so iets te doen?

    Hansie huiwer. Ek het al vir pastoor een keer gesê … Ek weet nie wat dit was nie. Ek het gedink ek kry ’n boodskap … ’n Goddelike boodskap. Ek weet nou dit was nie een nie, dit was net iets wat ek opgemaak het. Van die spanning. En ongelukkigheid. Dit is al wat ek kan onthou. Toe net dat ek oom Kallie afgestamp het en … en sy gil. Soms hoor ek dit nou nog; sal dit seker vir altyd onthou. My daad van moord.

    Die direkteur kyk betekenisvol na doktor Botes. ’n Goddelike boodskap wat lei tot moord? Hy het geen verdere bewyse nodig dat Hansie nooit vrygelaat mag word nie.

    Het jy ooit weer so ’n boodskap gehoor? kom dit van die psigiater.

    Nee, Dok. Nooit weer nie. Dit was net die een slag.

    Nog enige vrae? vra die direkteur. Sy oë beweeg om die tafel.

    Doktor Botes sê: Net nog een vraag. Ek het lank gelede ’n ortopediese chirurg ingekry om na jou voet te kyk, Hansie. Die man was oortuig dat hy jou gebrek sou kon heel, sodat jy normaal sou kon loop – maar jy wou nie. Hoekom nie?

    Dok, jy was baie goed vir my om so baie moeite te doen. Maar ek het die gebrek van die Here gekry. Hy het ’n doel daarmee en ek mag nie iets verander wat van Bo kom as ’n geskenk nie … Hansie huiwer ’n oomblik, dan glimlag hy sag vir die matrone. Matrone het my seer voet wat my so baie pyn gegee het, gesond gemaak en Kliprand het my oor die jare skoene gegee wat my voet nie druk nie.

    Die hoofsuster se oë is vol trane. Miskien moet Hansie maar onder hulle sorg bly. Hy is so sensitief en die buitewêreld kan so wreed wees.

    Nog enige vrae? kom dit van die direkteur. Nie een van die ander reageer nie. Dan kan jy gaan, Hansie. Die pasiënt gehoorsaam stilweg en verlaat die vertrek. Ons verdaag vir tee, daarna sal ons tot stemming oorgaan. Ek wil dit net weer beklemtoon dat Roodt deur die destydse Weskoppies-raad waansinnig verklaar is en as uiters gevaarlik bestempel is – iemand wat lewenslank uit die samelewing gehou moet word.

    In twee dekades is daar tog geweldige vordering gemaak op die terrein van medikasie! protesteer doktor Botes. Hansie is my modelpasiënt. Met sy medikasie is hy normaler as die meeste mense daar buite.

    En wat as hy dit nie drink nie? Die direkteur kom orent. Maar ons sal ná die teepouse daaroor besin.

    ’n Sagte mistigheid hang oor die gestig se tuine. Doktor Botes wou gou ’n sigaret kom rook voor die vergadering hervat en pastoor Bendt het hom vergesel. Botes teug diep aan sy sigaret.

    Die direkteur het duidelik diep besware.

    Die pastoor lig sy wenkbroue. Dit sal nie maklik wees om hom tot ander insigte te bring nie. Maar hy is ’n regverdige man. Dis goed van hom om buite stemming te bly. Ek en my hele gemeente het Hansie aan God opgedra, wat ook al die uitslag mag wees.

    Dis die ding, pastoor – die direkteur kan nogtans die ander beïnvloed. Hy wil nooit van enige aanbevelings afwyk nie, maar hy sal miskien oorreed word as … Giep Botes hurk en druk sy sigaret dood in die rou aarde wat wag vir die nuwe plantseisoen. Indien hy die versekering kry dat Hansie onder sorg uitgeplaas kan word. Miskien is daar iemand, ’n persoon in u gemeente, wat …

    Doktor, ek het aan dieselfde ding gedink. Kwel jou nie meer daaroor nie. Sal ons ingaan?

    Die laatoggendson skyn nou flouerig deur die getraliede vensters. Dit verhit niemand juis nie, maar maak tog die raadskamer gemoedeliker. Die direkteur neem sy plek in en die ander gaan sit in stilte op die harde, regop stoele.

    Voor ons tot stemming oorgaan, wil ek op die ry af van elkeen hoor hoe julle voel oor die moontlike ontslag. Laat sentiment asseblief nie deel wees van ons beslissing nie. Die vrylating van ’n persoon wat kranksinnig verklaar is, is te netelig. Matrone, ons begin by jou. Hoe voel jy oor die saak?

    Ek is die een wat u lankal reeds bewus gemaak het van Hansie se kwaliteite, maar as hy gaan, sal ek hom mis.

    Ek ook, kom dit van suster Brink. Hy is so ’n positiewe mens en ’n groot hulp met die ander pasiënte.

    Doktor Naudé?

    Die kliniese sielkundige wat verlede jaar aangestel is, lyk huiwerig. Hansie is ’n innemende mens, maar ek is nie seker of hy wel geestelik gesproke geheel en al buite gevaar is nie. Die ding van die stem kwel my. Wat gebeur as hy nie op sy medikasie bly nie?

    Komaan, Herman, sê doktor Botes. Die kêrel is intelligent genoeg om te weet dat hy dit moet aanhou gebruik – veral ná twee dekades.

    Herman Naudé roer sy skouers. Watter versekering het ons, Giep?

    "Die man het homself goed leer ken in die twintig volle jare wat hy hier by ons was. Jy mag dalk nie weet nie, dis al van so lank voor jou tyd. Binne die eerste jaar het hy sy matriek gemaak oor die pos. Nie lank daarna nie, toe het die kêrel ’n graad in teologie, met sielkunde as addisionele vak. Hy

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1