Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

’n Hart is so groot soos ’n vuis
’n Hart is so groot soos ’n vuis
’n Hart is so groot soos ’n vuis
Ebook267 pages5 hours

’n Hart is so groot soos ’n vuis

Rating: 3.5 out of 5 stars

3.5/5

()

Read preview

About this ebook

’n Hart is so groot soos ’n vuis is die storie van ’n seun, Paul, se komplekse verhouding met sy gewelddadige dog charismatiese alkoholis-pa. Paul onthou sy ouers se somtydse versoening, gevolg deur desperate vlugtogte saam met sy ma. Dit is ook die roerende verhaal van Paul se ontwikkeling as jongman, en van sy selfontdekking. En die storie van sy ontferming oor sy vervreemde half-broer, iemand wat hy met alle mag wil beskerm, die enigste ander persoon wat dáárdie man “Pa” kan noem.
LanguageAfrikaans
PublisherKwela
Release dateFeb 15, 2021
ISBN9780795710025
’n Hart is so groot soos ’n vuis
Author

P.P. Fourie

P.P. Fourie is gebore in die Vrystaat en het skoolgegaan in Clarens, Bloemfontein, en Oudtshoorn. Tans woon hy op Wellington. Sy debuutroman The Heart Is The Size of a Fist (2021) is na Afrikaans vertaal en gelyktydig as ’n Hart is so groot soos ’n vuis uitgegee. Ons skulde is die eerste roman wat hy oorspronklik in Afrikaans geskryf het.

Related to ’n Hart is so groot soos ’n vuis

Related ebooks

Related articles

Reviews for ’n Hart is so groot soos ’n vuis

Rating: 3.6666666666666665 out of 5 stars
3.5/5

3 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    ’n Hart is so groot soos ’n vuis - P.P. Fourie

    9780624089810_FC

    P.P. Fourie

    ’n Hart

    is so groot

    soos

    ’n vuis

    Vertaal deur Marius Swart

    KWELA BOEKE

    Vir my ma.

    ‘Anything processed by memory is fiction.’

    – David Shields

    ‘We live with such easy assumptions, don’t we? For instance, that memory equals events plus time. But it’s all much odder than this. Who was it said that memory is what we thought we’d forgotten? And it ought to be obvious to us that time doesn’t act as a fixative, rather as a solvent. But it’s not convenient – it’s not useful – to believe this; it doesn’t help us get on with our lives; so we ignore it.’

    – Julian Barnes, The Sense of an Ending

    ‘Memory’s truth, because memory has its own special kind. It selects, eliminates, alters, exaggerates, minimizes, glorifies, and vilifies also; but in the end it creates its own reality, its heterogeneous but usually coherent version of events; and no sane human being ever trusts someone else’s version more than his own.’

    – Salman Rushdie, Midnight’s Children

    TOE

    EK ONTHOU,

    in geen spesifieke volgorde nie:

    – Die binêre sterrestelsel Capella, selfomwentelend, ’n tweesang, soos minnaars.

    – Die einde van die wêreld, ’n son word heuning en bloed, ’n omhelsende paar.

    – ’n Snikhete dag op ’n sypaadjie, ’n gegrimeerde gesig, ’n seun wat wag vir die regte oomblik om voor aankomende verkeer oor die pad te hardloop.

    – ’n Minnaar, loom en kaal, wat my verseker dat daar iets liefliks, iets sags, sal oorleef, selfs al word ons monsters.

    – Sneeu wat val op water, smelt op die oppervlak van ’n meer.

    – ’n Vrou, bedroef en seer, wat my smeek om pyn te kies bó veiligheid.

    – Die oorrompelende hartseer wat kom met diepe gevoel, verwondering.

    – Altyd, altyd: hy, sy.

    – Die musiek, die woorde,

    die lieflike gebreke.

    NOTE VAN GLAS

    Musiek. Carole King. Tapestry. Vodka en tamatiesap. Ek hoor my ma se lag in die kombuis, in die sitkamer, elders in die huis, maar ek kan hoor sy bedoel dit nie regtig nie. Eintlik lag sy glad nie. Sy sien om na die ander gaste.

    Ek is sewe jaar oud, amper agt. Ek lê met my gesig plat teen die blokkiesvloer, trek met ’n vingernael al om die buitelyn van die houtblokkies. En ek luister. Ek wil nie opkyk en sien nie. Maar ek kan hoor, ek luister.

    Die ergste ding van die aand is dat hulle vergeet ek is daar. Hulle praat asof ek nie daar is nie, asof hulle alleen is. Die feit dat ek is, dat ek daar is (nie ver van hulle twee af nie), het geen effek op hulle nie. Hulle praat net met mekaar, sagte plofklanke, fyn frikatiewe, dinge wat gesê word en dinge wat verswyg word, kyk, loer. Ek bestaan nie.

    Wat ek ook al is, ek is nie my pa se seun nie. Nie vanaand nie. Nie nou nie. Hierdie gewaarwording is vaagweg verontrustend. Ek is bewus daarvan dat ek ’n getuie is van – nee, betrokke is by – ’n oortreding. Dit is ook vaagweg opwindend.

    Daar is twaalf riffeltjies rondom die metaaldoppie. Weer en weer tel ek hulle; ’n vreemde bevrediging. Iets belangriks is aan die gebeur. Alles sal hierna anders wees. Tot vandag toe sit ek nie my mond aan tamatiesap nie.

    Sy het Cameo-sykouse aan.

    Ek ken dit uit aan die twee skoenlappers wat op die enkels geborduur is. In die televisieadvertensie verwys hulle hierna: Cameo, let your legs do the talking.

    Sy het nie skoene aan nie. Van waar ek is, kan ek haar voete sien, haar tone in die sykouse, sonder dat ek my kop hoef te draai. Sy raak die vloer met haar tone aan, lig dan haar voete, herhaal die beweging. Haar voete is nooit stil nie. Raak, lig. Raak, lig. Raak, lig.

    Ek herken op hierdie oomblik, op hierdie plek, iets wat bekend maar ook ongewoon is. Iets tussen haar en my pa. Ek is nie ontsteld nie, eerder nuuskierig. Dalk is ek saam met hulle bang dat my ma by die deur sal inkom.

    Ek wens myself weg, onsigbaar. Dof, dowwer, weg.

    My pa flirt met Vivienne; Vivienne flirt met my pa.

    Ek sien myself as ’n uitgekrulde blaartjie van die varing in die hoek, of as een van die dooie insekte in die spinnerak by die pot. Ek is plat op my maag. Ek word die vloer, en ek kry koud.

    I do love you, you know.

    (My pa praat altyd Engels as hy nie wil hê ek moet verstaan nie.)

    Oh yes?

    Sy glimlag en maak haar bene ’n bietjie wyer oop. Die materiaal om haar bene glip heen en weer, maak sagte skietgeluidjies teen die kouse. Iewers ver na bo is haar gesig; ’n dun wit en pienk lyn, uit fokus uit: haar tande, haar tong.

    We can leave, sê hy, en tel die glas van die houttafeltjie af op. Ek sien in my kop die wit waterring wat agterbly. Elope like youngsters, verduidelik hy. Ek oorweeg dit om iets te gaan haal, ’n lappie of ’n vadoek, om die houtoppervlak droog te vee. Daardie glas hoort op ’n drupmatjie. Maar ek beweeg nie; ek weet van beter.

    Vivienne kyk nou reguit na my. Sy lyk effens opgewonde. Ek voel haar kyk op my. Ek probeer die bruin vuiligheid onder my vingernael uitkrap met ’n tandestokkie. Sy weet ek is hier. Ek is hier. Ek dink sy hou daarvan.

    Sy sê my pa se naam. Don’t be silly, you have a nice life here. Sy kyk nog steeds na my; ek weier om terug te kyk. Try to think of me as your … an intimate availability. A presence you can touch without obligation.

    And I thought you only wanted to fuck.

    Hulle albei lag, asem skerp in.

    Ek kry nie die vullis onder my nael los nie. Ek hou aan krap met die tandestokkie. Dit maak al seer. Ek gee nie om nie. Ek gee nie om nie. Ek gee nie om nie.

    Hy tel weer sy drankie op; maak sy glas met een lang, diep sluk leeg, sy oë heeltyd op haar. Die ys klingel opgewek. Hulle lag weer, te hard, en sy sê vir hom iets wat ek nie verstaan nie.

    Paul, gaan haal asseblief vir Pappa nog ’n tamatiesappie, sê hy. Hulle draai albei na my toe, glimlag vir my.

    Ek herrangskik my gesig in ’n glimlag. Staan op. Gaap. Ek huppel by die vertrek uit, kombuis toe. ’n Gevoel van oorwinning. Ek weet nie hoekom nie.

    * * *

    Dit is later dieselfde aand. Die gaste begin vertrek en my pa groet vir Vivienne. Hy leun teen haar groen Mini Cooper en hulle deel ’n sigaret.

    Ek sal dit nou doen.

    Ek kry my ma in die sitkamer. Sy sit in ’n stoel met ’n groot swart vullissak langs haar. Sy was seker aan die opruim, servette weggooi, asbakke leegmaak, en toe gaan sit sy. Van waar ek staan, lyk dit asof sy vir iets wag; sy staar by die venster uit, in die donker in. Ek kan aanvoel sy dink aan iets anders, aan iewers anders, en sy kom nie dadelik agter dat ek daar is nie. Dan word sy bewus van my, en sy glimlag.

    Haai, jong … slaap jy nog nie?

    Skielik is ek verskriklik hartseer, en ek klim op haar skoot. Ek wil huil. Ek gaan dit nou doen. Motordeure klap buite, veraf is daar gesprekke. Ek druk my gesig in haar nek in, in die rooibruin hare by haar oor, en ek wag, ek asem in.

    Ek fluister so sag as wat ek kan.

    Daar is iets wat ek vir Mamma moet vertel.

    Ek probeer nader aan haar oor kom. Ek moet dit sê sonder dat ek dit self hoor.

    Ek ruik sjampoe. Ek knyp my oë toe.

    Ek wil vir Mamma sê waaroor Pappa en tannie Vivienne gesels het.

    Ek begin. I do love you, you know. Ek vertel dit alles in Engels, soos hulle gepraat het.

    * * *

    Later, ná die harde stemme, ná my pa uitgestorm het in die nag in, na háár toe, hoor ek my ma opstaan uit haar stoel en na my kamer toe stap. Ek maak of ek slaap. Sy streel my hare in die donker en bly sit ’n hele ruk op die rand van die bed. Dan staan sy op en stap toilet toe. Ek hoor haar opgooi. In my verbeelding is dit avokado-dip en tamatiesap.

    * * *

    Ek is agt jaar oud. Dis vroeg in Desember, 1980. Die Oos-Kaap. Ons huur ’n plasie naby Oesterbaai vir die vakansie. Daar is ’n groentetuin. Ons weet dit nog nie, maar dis ons laaste somervakansie saam as ’n gesin. Vroeër die dag het ons middagete geëet saam met Athol Fugard en sy vrou. Ek het met die skilpaaie gespeel op die grasperk terwyl die mans – een jonk, een oud – op die breë platdakstoep kuier.

    My pa is die res van die dag in die wolke. Wanneer hy gelukkig is, is ons almal gelukkig. Die aand, ná aandete, dans hy met my ma. Ek verkyk my aan hulle. Dit is ongewoon. Dit is die hemel. Ja, daar is wyn en ek is op my senuwees. Altyd op my senuwees. Maar alles is reg.

    Die volgende oggend gaan ons na ’n klein supermark toe naby die see. Die koerantopskrif sê John Lennon is doodgeskiet. Dit beteken vir my niks nie. My pa pak die kruideniersware agterin die kar en eers is hy stil, maar dan huil hy ontroosbaar, saggies. My ma bestuur. Niemand praat nie. Daardie middag verdwyn my pa met die motor en kom terug met bottels wyn. Groen bottels en deursigtige bottels. Die klank van glas teen glas: ek ken hierdie musiek. Ek gaan na my kamer toe, dan na buite.

    Nog later, wanneer die laaste lig in die aand wegsak, gee my pa my opdrag om die klein modelvliegtuig wat ons van hout gemaak het, uit te bring. My ma sê sag dat die wind dalk te sterk is. My pa ignoreer haar. Hy staan op ’n heuweltjie langs ’n bos en lanseer die vliegtuig in die lug op. Die wind vat dit onmiddellik, die vliegtuig sweef hoog, hoog, hoër, dan swaai dit skielik om en pyl af grond toe, val tussen die bome. Ek wil huil. Hy sê ek moet ophou kerm. Ons sien die vliegtuig nooit weer nie.

    Hy dring daarop aan om aandete te maak. Beesbredie. Maar met groen appels in plaas van aartappels. Dit smaak sleg. Ek sê dis baie lekker, en hy hou aan om ons borde vol te skep. Die hel sal op ons neerdaal as ons nie eet nie. Die hel gaan in elk geval neerdaal. Ons is klaar in die hel.

    Later daardie aand kondig hy aan dat ons die volgende oggend uit Oesterbaai vertrek. Hy het besluit ons gaan huis toe. Ek smeek hom dat ons kan bly. Hy koggel my. Asseblief, Pappa; asseblief, Pappa; asseblief, Pappa, sê hy.

    Ek gaan uit in die wind. Ek smeek God om hom dood te maak.

    * * *

    Ek is twaalf jaar oud. Desember 1984. Ons drie braai in die Swartbergpas. Die uitsig is asemrowend. Jy kan tot in die toekoms sien. Dalk selfs tot in die hemel. My ouers is geskei, maar my pa bly ’n paar weke by ons. Hy is skoon, hy is nugter, hy het by Alkoholiste Anoniem aangesluit. Hy laat voel ons beter as enige iets anders in die wêreld.

    Ek en hy hardloop in die grondpad af na die motor toe. Die honde is by ons, opgewonde, al om ons voete, blaffend. My ma neem op ’n afstand foto’s van ons. Ons het onlangs Gallipoli saam gekyk en ons roep sinne uit die film uit terwyl ons hardloop.

    My pa: What are your legs?

    Ek: Springs. Steel springs.

    My pa: What are they going to do?

    Ek: Hurl me down the track.

    My pa: How fast can you run?

    Ek: As fast as a leopard.

    My pa: How fast are you going to run?

    Ek: As fast as a leopard!

    My pa: Then let’s see you do it!

    Ek lag, hy lag, sy lag, en ons val langs die braaiplek oor mekaar, op die gras, skep asem. Ek voel soos ’n god.

    * * *

    Ek is twintig jaar oud en op universiteit. Ek gaan kuier vir die naweek by my pa. My pa en sy vrou en hulle seun, my halfbroer, wat amper vier is. My ouma was ook daar; sy is pas weg.

    Ek en my pa is nog wakker. Hy het aanhou drink sedert sy ma weg is, en ek begin verskonings uitdink om te gaan. My ouma. Ek moes geweet het; sy bring die ergste in almal uit. ’n Dementor, ’n slang, sy het alle vreugde uit ons almal gesuig, en my pa probeer die gat vul op die enigste manier wat hy ken.

    Sy het vir my pa ’n geskenk agtergelaat. ’n Groot skildery deur ’n befaamde Suid-Afrikaanse kunstenaar, olie op doek, ’n hele vierkante meter groot in ’n oordadige goue raam. Objektief gesien is die skildery ’n meesterstuk. Vaardig uitgevoer. Perfekte verhoudings. Dis ’n uitbeelding van die kruisiging, maar vanuit die perspektief van die gekruisigde. Die resultaat is dramaties: die kyker wat Christus se verhoogde uitkykpunt kry op die getuies daar onder, hulle oë vasgenael op Hom. Hier, Romeinse soldate vir skarebeheer; daar, die menigte. Woedend, angstig, nuuskierig. Daar is bekende karakters ook: die bedroefde moeder, haar oë wild; vroue wat ween terwyl hulle haar probeer troos. Aan die kant staan ’n groepie verstarde mans. Donker kleure, ’n vreemde uitspansel, baie emosie.

    Maar ons siening daarvan word vertroebel deur die skildery se herkoms, want my ouma is die mees onlangse eienaar. Sy het die geldwaarde daarvan beklemtoon: amptelik gewaardeer teen meer as vyftigduisend rand.

    Nou is dit laat, amper middernag, en ek lees op ’n dekstoel op die voorstoep. My pa en sy nuwe gesin woon op ’n groot stuk grond in Penhill, waar mense honde en perde aanhou en uit mekaar se pad bly. ’n Mens sien nie jou bure nie. Dit reën sedert die middag saggies. Ek is mal oor hierdie weer. My pa kom sit by my. Hy is dronk, maar nie gewelddadig nie. Ek weet egter hoe vinnig dit kan verander, dus bly ek bedag, gereed om te keer. Ek is vriendelik en inskiklik, ek hou dit lig. My uiterlike verberg die storms in my binneste. Hierdie narratief, hierdie rol: ek ken dit goed.

    My pa het die skildery uitgedra na die stoep toe. Hy maak dit versigtig staan teen ’n stoel en ons kyk saam daarna. Hy sê iets oor Sint Augustinus en verval dan in ’n lesing oor visuele perspektief en die Middeleeuse hagiografie. Nou praat hy weer oor die Marxisme en die kommodifisering van kuns. Ek moedig hom aan, ek knik, ek is inskiklik en intelligent.

    My pa maak ’n blikkie gedistilleerde terpentyn oop. Vat ’n kwas en wend die deurskynende vloeistof met die skerp reuk versigtig op die skildery aan. Dit sal die vernislaag oplos en die olie losmaak, verduidelik hy. Ek sit vasgenael, my oë glinster soos dié van ’n kind wat kyk hoe ’n huis afbrand. Wanneer my pa klaar is, sê hy vir my dat hierdie proses geensins die skildery beskadig nie; op hierdie stadium kan ’n mens net wag vir die oplosmiddel om te verdamp, dan weer vernis aanwend en die skildery sal veilig wees.

    Hy staan op. Lig die skildery van die vloer af op en hou dit voor hom. Stap onder die stoepdak uit en weg van die huis af. Sit die skildery op ’n houtstoel, alleen op die grasperk, draai dit na my toe, omtrent tien meter ver. My pa vra of ek die prent duidelik kan sien. Ek knik. Dan kom sluit hy weer by my aan op die stoep, en ons deel ’n sigaret.

    Ons kyk toe hoe die ligte Kaapse reën die lydende Christus wegspoel tot Hy saai en grys is.

    * * *

    ’n Dinsdagmiddag in September. Ek is drie-en-dertig jaar oud. Dit is naby my verjaarsdag.

    My minnaar het my in sy mond, albei van ons ten volle geklee. In daardie oomblik weet ek dat ons verhouding verby is, en dit tref my dat ek nou die ouderdom is wat Jesus was toe Hy dood is. Ek moes hardop gedink het, want my minnaar aarsel, sê iets, maar ek maak nie uit wat nie. Ek druk sy kop saggies af, herinner hom dat dit slegte maniere is om te praat terwyl jou mond vol is. Hy knipoog vir my en gaan weer aan.

    Net voor die einde staar ek na die lig bokant ons. Daar is dooie motte in die glasbol. Ek draai my kop na die kant toe, maak my oë toe, en ek vlieg soos ’n vliegtuig, lig, gewigloos. Ek is gemaak van balsahout. Ek hardloop teen ’n berg af, in ekstase. Ek voel ’n beeld voor my oë oplos.

    Ek sal die verhouding beëindig. Later daardie dag. Dis die regte ding om te doen. Maar nou voel ek eers jammer vir hom, en daarom sit ek my hand op sy kop en druk my vingers diep in sy hare in. Sulke lieflike hare. Op so ’n lieflike kop. Ek gaan hom mis.

    WYLE

    Nie lank gelede nie, aan die einde van een seisoen en die begin van die volgende een, lees ek iewers aanlyn ’n boekresensie en my pa se naam duik skielik op, in die voetnote. Wyle ________.

    Wyle.

    Ek het amper niks van my pa gesien sedert Vrydag 18 Februarie 1994 nie. Hy was vir die grootste deel van my grootmenslewe afwesig – eintlik ook vir die meeste van my lewe daarvoor. In die afgelope kwarteeu het ek aanvanklik voorgegee dat dit my nie traak nie en later was dit nie meer nodig om voor te gee nie. En hier staan dit nou:

    Wyle ________.

    My pa het in die 1970’s effens bekend geraak as dramaturg, ’n piek bereik en toe geleidelik verdwyn. Maar hierdie verwikkeling – die dood – dis anders. Ek weet nie hoe om te voel nie. Ek e-pos die resensent en vra hom wanneer my pa oorlede is. Die man reageer byna dadelik en sê hy onthou bronne uit die laat 1990’s waarvolgens my pa selfmoord gepleeg het.

    Gepas, dink ek.

    Die resensent belowe om weer te gaan kyk.

    ’n Dag of twee later vind ek uit dat my pa nog leef.

    Ek is opnuut verbaas deur my pa se vermoë om homself ná alles tog nié dood te maak nie, gedagtig aan wie hy is – of was.

    Dis kort ná Moedersdag; Vadersdag volg ’n paar weke later. Ons gesin vier nooit hierdie dae nie; dit is onsinnige kommersiële uitbuiting. Die naaste wat ek nog ooit daaraan gekom het, was om my ma ’n paar jaar terug op Vadersdag te bedank dat sy ’n dubbel-ouer is. (Ek het gedink dis baie skerp.)

    Dit laat my nou dink aan my ma. Twee herinneringe kom dadelik na vore.

    * * *

    In die winter van 1982 (my tiende verjaarsdag is ’n paar maande later) agtervolg my pa ons na Oudtshoorn, waarheen ons gevlug het uit Bloemfontein nadat my ma hom finaal gelos het. Hy meng alkohol en pille. Daar is ’n uitbarsting, geweld – die gewone. Maar sedert ons ’n paar maande tevore gevlug het, het hy ’n .38 Special-rewolwer bekom. Twee skote word geskiet – een tref die stoof en die ander een ’n kombuisrak. Ons sluit die voordeur agter ons en hardloop die nag in – my ma, ons ouer wordende rottweiler Bruni, en ek.

    Dis baie koud. Ons vind skuiling op die buitetrap langs die kant van ’n leë huis laer af in die straat. Ons hoor hom steeds raas en skree, maar hy kom nie uit die huis uit om ons agterna te sit nie. En ons sit die hele nag daar, wag vir die daglig, wag dat hy omkap. My ma moet die volgende dag musieklesse gee en ek skryf Junie-eksamen. Die winter in die Klein-Karoo is straf (daar is sneeu op die Swartberge), maar ek het hierdie ingebrande herinnering, hierdie manjifieke beeld, wanneer ek terugdink aan daardie nag: my ma sit regop met kaal arms, haar rug na my toe. Sy het haar trui uitgetrek en vir my gegee om op te slaap. Voor my (tussen my en my ma) lê Bruni en hou my warm. En voor die hond sit my ma en waak oor ’n negejarige seuntjie, en oor ’n rottweiler.

    * * *

    My tweede herinnering kom uit Mei 1997. Ons is in Parys, ek met ’n beurs, en my ma het my kom besoek op wat haar eerste reis buite Suid-Afrika is. Ons sal die volgende dag met rugsakke deur Europa begin toer (een van daardie maandlange opklim-afklim-bustoere). My ma het haar gesigwaks saamgebring en wil die fyn donsies op haar bolip verwyder. Ons is in daardie stadium nog albei rokers, so ons het darem die nodige om ’n vlammetjie te maak, maar in my verboude chambre de bonne op die sesde vloer word geen stoof of verwarmer toegelaat nie. Daar is niks waarmee ons die was kan smelt nie. Hoe nou gemaak?

    Ek woon aan die Rue des Écoles, wat twee blokke van die Notre Dame is. Ná ’n kort dinkskrum stap ek die ses stelle trappe af, gaan by die deur uit en mik vir die katedraal. Ek haal ’n tienfrankmunt uit, koop ’n enkele gebedskers, kyk skuldig en bepaald onkatoliek in Jesus se

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1