Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die onsigbare pou
Die onsigbare pou
Die onsigbare pou
Ebook193 pages3 hours

Die onsigbare pou

Rating: 3.5 out of 5 stars

3.5/5

()

Read preview

About this ebook

Die Afrikaanse sanger bekend as Ober leef daadkragtig, raak ons kampvegter, ons ideale self, ons gewete. En dan raak hy vergete.
Jare later belig sy agent, Sybie, hierdie gebeure in ’n plakboek van woorde: ’n verhaal van vriendskap, kreatiwiteit en sukses teen die agtergrond van politieke omwenteling van die ’70’s tot ’90’s. Ondanks die sukses groei verwyte en verwydering. En tog, toe Ober vir Sybie ’n laaste keer nodig het, laat vaar hy alles om te keer dat sy vriend iets verskrikliks aanvang.
LanguageAfrikaans
PublisherKwela
Release dateApr 11, 2022
ISBN9780795710568
Die onsigbare pou
Author

Zirk van den Berg

Zirk van den Berg is in Namibië gebore, het grootgeword in Suid-Afrika, en woon deesdae in Nieu-Seeland. Hy debuteer met ’n kortverhaalbundel, Ekstra dun vir meer gevoel, en daarna verskyn ’n roman, Wydsbeen. Nobody Dies is sy eerse Engelse roman, vertaal as 'n Ander mens. Halfpad een ding en Half of One Thing verskyn saam in 2014.

Read more from Zirk Van Den Berg

Related to Die onsigbare pou

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die onsigbare pou

Rating: 3.5 out of 5 stars
3.5/5

2 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die onsigbare pou - Zirk van den Berg

    KWELA BOEKE

    Ek sing graag hierdie nommer

    vir Heinrich en Werner Menges

    I have wandered in pursuit of something for which art had given me a thirst but which life could not quench.

    – Romain Gary, Promise at Dawn

    Voorwoord

    Sy loop my trompop voor die hof. Ek weet wie jy is.

    O so?

    Jy is Ober se agent.

    Natuurlik. My verhouding met hom definieer my – ek is die tweede man, die onbekende agter die bekende. Pleks van my naam sal my grafsteen seker sê: Ober se agent.

    Ek is van die uitgewery. Met hom wat nou so in die nuus is, hierdie verskriklike ding wat gebeur het, is daar groot belangstelling. ’n Boek oor hom sal goed verkoop. Wil jy dit nie skryf nie? Toe, man. Of ons kan vir jou ’n spookskrywer kry as jy wil. Jy ken hom die beste. Sy aanhangers wil alles weet – sy suksesse, sy liefdeslewe, wat hy vir ontbyt eet, hoe dit gekom het dat hy nou . . .

    Dis nie daai boek dié nie. Dis vyf-en-twintig jaar later en hy spook steeds by my. Ek het ’n plakboek van woorde gemaak, van ons skooldae in Bellville af, doer in die 1970’s, deur sy opgang en ondergang. Dit gaan oor hom, maar dit gaan oor my ook. Daarvoor vra ek sy aanhangers om verskoning.

    Vergeet van leeus, Bellville is my Afrika. ’n Halwe kontinent noord bruis bruin riviere deur verknotte woude, dwarrel wind deur droë gras en doringbome. Roofdiere sluip deur die ruigtes en wildsbokke spits hulle ore. Hier te lande span teerpaaie ’n net oor die plat aarde, stip-stip watersproeiers oor geometriese grasperke, oor beddings speldekussings, krismisrose en leeubekkies. Baksteenhuise staan skouer aan skouer. Al wat leef en beef hou in die makgemaakte vlak tussen telefoondrade en rioolpype – een netwerk vir mensestemme, die ander vir mensestront.

    Soos regdenkende mense regoor die wêreld doen almal hier hulle bes om hulle ervaring van lewensdrama te beperk tot prentjies op die televisieskerm en woorde op papier. Gemeenskaplik is die pogings suksesvol, maar individueel is dit ’n ander storie. Angste, vreugdes en fokops is volop, hoewel ’n mens dit nou nie sommer sal agterkom nie. Want in Bellville leef die mense, en probeer om dit nie te wys nie. Hulle hou ingetoë tussen die lyne, sodat hulle tog net nie God se aandag sal trek nie. Want hulle is bang vir Hom. Hy vat hulle vas en sê: Kyk, hier is chaos. Hier is redelose emosie. Hier is verlange en passie. En hulle skrik by die herkenning van dit wat in hulle drome is. Want terwyl die mense van Bellville netjies in hulle spoor trap, gier hulle gedagtes soos vlieërs in die suidoos. Hier en daar . . . hier en daar is iemand roekeloos of moedeloos genoeg om die draadjie te knip en die fantasie ongebreideld deur die hemel te laat tuimel. As jy mooi luister, sal jy hulle jilgeluide bo die gedreun van Voortrekkerweg se verkeer hoor. Dit gaan so aa-hie, a-hie, a-hie, a-hie!

    Uit die hoogte knyp God sy lip en wonder of Hy met dié spulletjie moet bodder. Elders wag primordiale misterie om in nat sooie uitgedelf te word. Maar iets hou Hom terug: In Bellville-wêreld kry God déjà vu . . .

    In en vanuit hierdie wêreld kom Ober – aantreklik, talentvol, eiesoortig. Hy leef daadkragtig, vra nie verskoning vir wat hy doen of wie hy is nie. Hy ontbloot sy diepste gedagtes, sy teerste gevoelens, deins nie terug vir kritiek nie. Want hy weet hy is nie die enigste wat hierdie dinge dink of voel nie; hy is die een wat die dinge wys wat ander mense wegsteek. Hy raak ons kampvegter, ons ideale self, ons gewete. En dan raak hy vergete.

    1

    Julle ken hom as Ober. Vir my is hy George.

    Ek het sy naam begin oplet kort nadat ek in standerd agt in Bellville Hoër aangekom het. (My ma en pa het gedink dalk maak ek makliker vriende in ’n nuwe skool. Waar almal hulleself reeds in groepe gerangskik het. Dat ek weer De Waal sal wees, nie meer Dwaal nie. Hoera, Ma.)

    Die kinders het altyd sy volle naam en van gebruik, George Oberholzer, om hom te onderskei van ’n ander George wat mettertyd in die massa verdwyn het, soos byna almal. Nie ons George nie. Ek het begin wonder wie die kêrel dan nou is, en waarom mense so baie van hom praat. Speel hy vir die eerste span, losskakel dalk? Is hy die voorbok van ’n rebelse kader, of die sterkste, vinnigste of mooiste ou in die skool miskien?

    Ek kon dit nie waag om iemand direk te vra nie, netnou dink hulle ek is ’n moffie en dan het my skrale kans op sosiale aanvaarding sy gat gesien.

    Deona is verlief op George Oberholzer.

    Meneer Hauser het nou die dag in LO vir George Oberholzer gesê met sy hinkstap kan hy die eerstespan haal as hy net wil rugby speel. Jy moet sien hoe die ouens mis duik as hy op loop gaan.

    Het jy al vir George Oberholzer hoor sing?

    Hoor ’n bietjie hoe lekker het George Oberholzer vir juffrou Van Schalkwyk gesê!

    Hierdie dinge het ’n vuurtjie in my kop begin aanpak. Een middag op pad huis toe met my skooltas tussen my bene op die fiets se pyp, trap ek wydsbeen totdat ek die ou inhaal wat om die hoek van ons af bly en wat nes George in standerd nege is.

    Ken jy vir George Oberholzer? vra ek toe ek dink ons het al genoeg heen en weer geluide gemaak dat die een weet die ander is ’n cool kêrel, verdomp.

    Waarom wil jy weet?

    Sommer.

    Álmal ken hom.

    Hoe is hy, watter soort ou?

    Hy is net . . . Jy sal sien.

    Ek moes wag tot die middag toe Barkhuizen tussen die toiletblok en die bloekoms op sy moer kry. Hy was ’n agterbakse ghwar wat vir die skool se tweede span flank gespeel het en kwaad gestook het waar hy kon, ’n uitvaagsel in wording. Daar was die middag ’n paar kinders tussen my en hom – ek het veiligheidshalwe altyd gesorg dat ek nie te naby enige bullebak kom nie – en toe ek weer sien, skuif iemand se skooltas oor die gruis, ek hoor ’n gedoefdaf en daar sit Barkhuizen op die grond met snot en bloed wat by sy neus uitloop. Hy spoeg in die stof, nog nie eens helder genoeg van verstand om te besef dat hierdie prentjie van hom nou permanent in elke omstander se gemoed gebrand sal wees, en dat hy dit net sal kan ontkom deur die skool te verlaat en nuwe mense te leer ken nie. Die ander seun tel sy skooltas op en loop sonder omkyk na sy motorfiets toe.

    Het jy dit gesien? vra iemand langs my. George Oberholzer het hom net twee houe gegee. Fokkit, dit was vinnig.

    Die wiegende skouers soos hy wegstap, die krullerige donkerbruin hare, die effens binnetoe tone – ek sien dit alles, en dit het ’n naam.

    Van toe af het ek my oë oopgehou vir George Oberholzer. Hy was skaars van bogemiddelde lengte, miskien ’n raps bonkiger as atleties gebou. Op sewentien was sy baard reeds opvallend teen die bleek vel, sy gesig hoekig, volwasse, sy groen oë sluimerend onder lui ooglede. Maar die oorweldigende indruk was van iets anders – die manier waarop hy sy plek vol staan. Ander ouens was soos plakkershutte, en George Oberholzer soos ’n betonbunker. Daar was ’n soliditeit omtrent hom, onbelemmerde selfvertroue. Hy het gelyk of hy presies weet wie hy is, en vrede het daarmee, wat raar is vir ’n tiener.

    Ek het na George Oberholzer gekyk en besef dat hy alles is wat ek nie is nie, en wat ek wil wees.

    Ek het probeer uitvind wat ek kon, maar niemand het juis veel oor sy lewe buite die skool geweet nie. Smiddae het hy met sy motorfiets oor die brug Kuilsrivier se kant toe gery, die enigste kind in die skool wat so ver bly. Pouses het hy gewoonlik by ’n spesifieke groep seuns onder die skoolsaal se kant-afdak gestaan.

    En toe, op ’n dag, sien hy my raak. Hy het na my gekyk, teruggestaan uit sy kring en op my begin afstap waar ek by die hoek teen die muur staan met my een voet op ’n drein se rand. Die ander ouens het dadelik stil geraak. Waarom iets sê as hy dit nie hoor nie? George was die middelpunt van belangstelling, en die feit dat hy ag slaan op my, het gemaak dat die ander dit ook doen. My eerste gedagte was om te maak of ek niks hiervan agtergekom het nie, om gemaak-argeloos weg te slenter na waar twee seemeeue oor ’n broodkorsie in ’n gefrommelde bol waspapier baklei, maar dit was te laat.

    Jy kyk na my. Nie ’n aantyging of uitdaging nie, net ’n feit.

    Alles wat ek gedink het ek van George Oberholzer weet, was nog niks, het ek besef. Ek het nog nooit voor hom gestaan nie. Hy kyk na jou asof jy die interessantste en belangrikste ding ter wêreld is, en op jou beurt voel jy dat niks anders soveel saak maak as hoe jy deur daardie groen oë beoordeel word nie.

    Die mense wat van my betrokkenheid in George se lewe weet, se eerste gedagte is gewoonlik dat daar hierdie gay ding tussen ons twee is, ten minste van my kant af. Ek kan hulle nie verkwalik nie, dit is wat mense ken – as twee mans so na aan mekaar is, moet erotiek ter sprake wees, dink hulle. Daar steek dalk ’n mate van waarheid in, dat my verhouding met hom tóg ’n erotiese kleur het. Liefde is dit beslis. Partykeer verbeel ek my ek soen hom, maar ek verbeel my ook partykeer ek druk twee pistole onder my kakebeen in en blaas my bobek weg, breins en al. Nie alles wat ek dink het met werklike voornemens te doen nie. Ek hou van vroue as dit by ’n vryery kom (dis ’n storie vir later) en almal weet van Ober se verowerings, die oneindige stroom meisies aan sy arm en in sy bed.

    Ek kon nie ’n woord uitkry nie.

    Dis oukei. Hy sien my vrees en veroordeel my nie. As jy ooit met my wil praat, ek staan net daarso.

    En daarmee loop hy terug na sy gewone groep toe.

    Net daar het my volwasse lewe begin – ’n lewe wat nou nog nie end gekry het nie, vir botter of vir wors.

    ’n Week of wat later hang ek een pouse weer daar rond, toe kyk hy na my en beduie met ’n kopbeweging dat ek moet nader staan. Hy skuif weg en maak vir my plek in die kring. Dit is ongehoord dat ’n jonger seun tussen die oueres gaan staan, maar sy uitnodiging troef die konvensie.

    Al was George meestal stil, was hy die spil waarom alles draai. Elke storie of opmerking was aan hom gerig.

    Het jy die een gehoor van . . .?

    Wanneer hy wel gepraat het, was dit gewoonlik iets onverwags – ’n kwinkslag van subtiele subversie of ’n aweregse insig. Die wêreld van skoolseuns is ’n milieu waarin elkeen, selfs nog meer as in die grootmenswêreld, die bakens van sy persoonlikheid probeer daarstel, wil sê: Hier is ek, dit is wie ek is en jy beter my respekteer. Elke daad en stelling is tentatief, die seuns raai nog wie hulle eendag kan word en is gereed om by die geringste teken van weerstand van enige mening of voorneme afstand te doen. Die ander se aanvaarding is alles. Net George Oberholzer doen niks om enigiemand oor te wen nie, en daardeur oorrompel hy almal. Hy vra nie ekskuus vir enigiets omtrent homself nie, loop te koop met niks.

    Ek was nie die enigste een wat deur hom betower is nie. (En as jy dink betower is ’n onjuiste woordkeuse, het jy hom nog nie ontmoet nie.)

    Daar was interessante ouens in die groep, mense wat moeiteloos die held in hulle eie lewensverhaal sou word. Wessels wie se skaam glimlag meisies se harte kon vermurwe. Brink met sy losse ledemate en gekke grappe. Van Zyl met sy akademiese ywer. Die stotterende Meyer wat altyd iets wetenswaardigs te sê gehad het. Roelofse wat nooit sonder ’n bal in sy hand of op sy voete was nie. Die diepsinnige Du Toit. Elkeen van hulle het in die latere lewe sy merk gemaak, maar nie in die openbare bewussyn nie. Nie soos George nie.

    Ek is nie seker wanneer die gedagte die eerste keer by my opgekom het nie, weet net dat ek later nie kon ophou om daaraan te dink nie: George Oberholzer kon word nét wat hy wil. Daarteenoor was my eie lewe, wie ek was, eng – ’n kalf in ’n drukgang aan wie se gebulk niemand hulle sou steur nie. George kon die pou wees wat op die plaaswerf pronk, die koedoe op die rant of die leeu in die lang gras – enigiets onder die son.

    Die manne het begin praat oor eendag, die beroepe wat hulle wou volg, hulle ideale. Van Zyl wou ’n aktuaris word, Meyer ’n ingenieur. Wessels het gedroom van skilder. Dit was die eerste keer dat ek vir George half verleë gesien het. Hy het nie klinkklare toekomsplanne gehad nie. Hoe dan so? het ek gewonder. Was daar eenvoudig te veel moontlikhede? Of – en ek kon myself skaars sover kry om die moontlikheid te erken – ’n gebrek aan ambisie?

    Ek het my geroepe gevoel om in te gryp. Buiten die boeke wat ek lees, was George Oberholzer die interessantste ding in my lewe. Die boeke was klaar geskryf soos hulle geskryf is, daar was niks meer aan te doen nie. Maar die blaaie van George se toekomsverhaal was nog onbeskrewe.

    Waar bly jy? het ek hom aan die einde van een pouse gevra, net nadat die klok gelui en die seuns rye se kant toe begin staan het.

    Dis ver.

    Ek wil kom.

    Hy het my na skool, by die plek waar hy vir Barkhuizen gebliksem het, ’n papier in die hand gestop, ’n kaart met pyle en kolle, beskrywings en die name van strate en paaie.

    Nadat ek die middag my gebruiklike middagete van Frisco en Ouma-beskuit klaar geëet het, het ek ’n waterbottel gevat, die kaart in my broeksak gestop ingeval ek dalk iets van die prentjie in my kop sou vergeet, en toe klim ek op my fiets en begin trap. George-hulle het op ’n kleinhoewe daar na Bottelary se kant toe gebly. Sy pa het met hoenders geboer.

    Ek kon nie glo hoe ver dit is nie, nog ’n bult en nog ’n draai, warmte en wind, sweet en hyging, my keel wat brand. Ek vermy van my dag af enigiets wat my moeg maak – staan nie as ek kan sit nie, sit nie as lê ’n opsie is nie. In bloot fisieke terme was dié fietsrit die uitdagendste ding wat

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1