Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Een of ander held
Een of ander held
Een of ander held
Ebook326 pages6 hours

Een of ander held

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

In November 1905 beskryf ’n Windhoekse koerant Siegfried Bock as ’n nuwe soort held. Maar die moordenaar wat hy voor die hof gebring het se advokaat stel Siegfried in ’n heel ander lig. Boonop is oberleutnant Berghammer en die Namakryger Jager Orlam albei daarop uit om Siegfried te laat boet. En dan is daar die burokraat Stauffacher met sy skreiende planne. Siegfried sien nie uitkomkans nie. Maar daar móét een wees, veral noudat liefde vir hom wink . . .
LanguageAfrikaans
PublisherKwela
Release dateJun 4, 2021
ISBN9780795710186
Een of ander held
Author

Zirk van den Berg

Zirk van den Berg is in Namibië gebore, het grootgeword in Suid-Afrika, en woon deesdae in Nieu-Seeland. Hy debuteer met ’n kortverhaalbundel, Ekstra dun vir meer gevoel, en daarna verskyn ’n roman, Wydsbeen. Nobody Dies is sy eerse Engelse roman, vertaal as 'n Ander mens. Halfpad een ding en Half of One Thing verskyn saam in 2014.

Read more from Zirk Van Den Berg

Related to Een of ander held

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Een of ander held

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Een of ander held - Zirk van den Berg

    Een

    of ander

    held

    Kwela Boeke

    Vir Bernard

    Sondag 29 Oktober 1905

    Die nuwe stewels maak dit soveel makliker om te hardloop. Hy het hulle vanoggend op Fahlgras by ’n dooie Duitse soldaat afgevat. Dit maak nie saak waar hy sy voete neersit nie – die stewels verpletter die bros bossies en hy voel nie die klippers op die gruiserige grond nie. Dit beteken hy hoef nie af te kyk nie, wat hom kans gee om verder te soek na sy volgende skietposisie. Die Duitse soldate se geweervuur kletter agter hom, hy hoor die gefluit van koeëls wat verbytrek, en is dankbaar daarvoor. Solank hy die skote hoor, is hy nog lewendig. Die Namavegters reken dat jy nie die skoot hoor wat jou doodmaak nie. Nogtans, hy moet skuilplek kry.

    Die wêreld hier rond is plat en vaal en kaal van hoek tot kant. Hoekom die Veldschoendragers, wie se grond dit was voordat die Duitsers gekom het, sou gekies het om in hierdie dorre streek te bly … Miskien is enige plek kosbaar vir iémand. Op hierdie oomblik sal hy enige stuk grond agter ’n klip waardeer. Die enkele graspolle en bossies is groot genoeg dat jy agter hulle kan wegkruip, maar hy sal verkies om agter iets te lê wat nie net verhinder dat die vyand jou sien nie, maar ook hulle koeëls sal keer. Só gelukkig is hy nie. Hy kies ’n groot pol boesmangras, mik effens regs daarvan verby en val plat, skuif voete eerste oor die grond. Voordat die stof nog kan gaan lê, pluk hy sy hoed van sy kop af, plak dit op ’n ander graspol neer en rol agter die bossie in. Die hoed het ’n strook wit doek om die bol, met ’n kenmerkende knoop wat soos ’n veer opstaan. Dit is al dekades lank die teken wat die Witboois onderskei. Dit kan van ver af vrees by hulle vyande inboesem, maar dit trek ook vuur. Dít, het hy geleer, kan ’n goeie ding wees. Enige skote wat op die hoed gemik word, het ’n kleiner kans om hom te tref.

    Hy lê en hyg, probeer oopmond sy asemhaling onder beheer kry. Waar is die soldate nou?

    Jager Orlam is ’n Swartbooi van afkoms. Sy mense het nie by die weerstand teen die Duitsers aangesluit nie, en hy het hulle verlaat om in die suide te kom veg. Aanvanklik het hy nie ’n vuurwapen of ’n perd gehad nie, maar hy het daardie situasie reggestel deur een aand na ’n Duitse kamp toe te sluip, die wag met ’n knopkierie katswink te slaan, en te steel wat hy nodig het. Dit het nie net gemaak dat die Witboois hom aanvaar nie, maar het ook vir hom naam gemaak. Hy het gewys hy is ’n kranige vegter.

    Hy is jonk, nog nie eens twintig nie, en kan hom nie sy eie dood voorstel nie, selfs terwyl hy ander lewens neem. Hy het al heelwat mense doodgemaak – meestal van ver af, maar soms lyf teen lyf. Dit stem hom nie juis tot nadenke nie, want hy het al gesien wat hierdie wit mans kan doen.

    Die Namas het nie die militêre mag om die Duitsers te oorweldig nie, maar hulle het ander voordele. Hulle veg nie oor gulsigheid, of wat ook al die wit soldate aanspoor om so ver van die huis af oorlog te voer nie; die Namas veg vir hulle huise en lewens, in hulle eie land, op plekke wat hulle mense al geslagte lank ken. En hulle het goeie leiers. Daar is Jacob Marengo, Cornelius Frederick en Manasse Noreseb – elkeen van hulle ’n groot krygsman – maar Hendrik Witbooi is meer as dit: die kaptein is ’n profeet daarby. Die mense sê hy praat direk met God. Witbooi het lank voor die ander leiers gesien wat in hierdie land aan die kom is. Hy het selfs probeer om sy aartsvyand, Samuel Maharero, te oortuig dat hulle moet saamstaan teen hierdie Europese invallers. Toe Maharero se mense dit uiteindelik doen, het hulle verkeerd te werk gegaan deur krag met krag te probeer teenstaan, en die Herero’s is binne ’n paar weke verslaan. Witbooi het ’n meer uitgeslape benadering. Die gevegsmagte moet altyd ongelyk wees, sê hy. Wanneer die Duitsers baie is, laat ons min wees. En as ons min is, hardloop ons van hulle af weg, hou hulle aan die beweeg, wat vir hulle moeilik is. Hou baie van hulle besig, put hulle uit. En wanneer hulle min is, laat ons dan baie wees, en hulle aanval. Só is dit altyd vir hulle moeiliker as vir ons.

    Nie dat dit ooit maklik is nie. Jager is min of meer konstant honger sedert hy sy tuiste in die Khomas Hochland verlaat het. Dors is deel van sy daaglikse bestaan. Die Duitsers beset die waterbronne. Die dors het alreeds die meeste van die vroue en kinders wat by die Namas se kommando’s was, gedwing om te gaan oorgee. Die mans lewe van die nattigheid wat hulle in tsammas en naras kry, eet die bitter vrugte. Nou en dan kry hulle dit een-een of twee-twee reg om tot by ’n watergat te kom, te drink en hulle watersakke vol te maak. Jager droom daarvan om op ’n opening tussen twee rotse af te kom, ’n voetpad daarvandaan te volg en ’n geheime put te ontdek wat so diep is dat sy water swart lyk. Daardie water sal kristalhelder in sy bakgemaakte hande wees en effens na heuning smaak, en hy sal daarvan kan drink totdat hy genoeg gehad het, en dan slaap en weer drink …

    Die wa wat hulle vanoggend gebuit het, het water gehad, heelwat daarvan in seilsakke wat in die wind hang om af te koel. Die Duitsers het slimmer geword, hulle sny hulle tente op en gebruik die seil om watersakke te maak. Daar was ook kos op die wa – meel, rys en sout, blikkies groente en vleis en konfyt. Hulle het gehoop om die soldate se gewere, ammunisie en perde ook te buit, maar die manne wat die wa begelei het, het weggekom. Net een het agtergebly, swaar gewond. Hy het langsaam doodgegaan, terwyl hulle toekyk. Hulle het niks by hom gevat voordat hulle seker was hy is dood nie; die kaptein het hulle aangesê om te wag, hy het selfs vir die man ’n gebed gedoen. Hulle het dat Jager die man se stewels vat, want hy hinkepink al dae lank op net een sandaal rond.

    Op die ou end was die stewels omtrent al van die strooptog se opbrengs wat hulle nie in die ure sedertdien moes agterlaat nie.

    Hulle het die wa en osse weswaarts gedryf in die hoop om gebroke terrein met meer skuilplek te bereik voordat die Duitsers agterkom dat hulle voorrade gebuit is. Die wa se pas was uitmergelend stadig. Hulle het heeltyd teruggekyk, eers die stofwolk en toe die ruiters gesien.

    Hier kom hulle!

    Die manne te voet het by die wa gebly. Dié met perde het teruggedraai en ’n hinderlaag gestel. Hulle agtervolgers was egter te veel en daar was ’n gevaar dat hulle omsingel kon word. Die Namas het hard baklei, maar moes kort-kort terugval. Die kaptein het vir die manne te voet gesê om die wa te los en so vinnig moontlik weswaarts te vlug. Hulle het gehoop dat die Duitsers tevrede sou wees om hulle goed terug te kry en die agtervolging sou laat vaar, maar nee, die soldate het agter hulle aan bly kom.

    Teen laatmiddag het die kaptein hulle hoofmag beveel om terug te val en hulle by Bloedvlei in te grawe. Hulle kon nie vir altyd vir die Duitsers weghardloop nie, en die plan was om in die laagte vas te skop tot donker. Intussen moes Jager en ’n tiental ander manne ’n agterhoede vorm en al vegtend terugval om die soldate so lank as wat hulle kan te vertraag. Wanneer die vyand Bloedvlei eers bereik, moet die slag so kort moontlik wees voordat dit donker word en hulle kan wegglip. Die agterhoede se perde word ’n ent verder in reserwe gehou waar hulle nie onder skoot is nie.

    Jager hou van veg, dit is die opwindendste ding wat hy nog ooit gedoen het. Sy maag is soos ’n vuis geklem. Hy wil nêrens anders wees en niks anders doen nie. Met ’n geweer in die hand is hy enige man se gelyke.

    Hy sien ’n soldaat opspring en linkerkant toe hardloop, net toe ’n sarsie geweerskote losbars. Die Duitsers werk so, party verskaf hewige dekvuur terwyl ander nader kom. Jager probeer die skote ignoreer wat sy kant toe kom, volg met sy visier een van die soldate wat hardloop. Hy trek ’n skoot af, en die man val, maar Jager dink nie hy het hom raakgeskiet nie. Hy kyk terug na waar die vuur vandaan kom, hoop om ’n hoed of ’n kop te sien waarop hy kan mik. Toe hy iemand sien, lyk die teiken te klein.

    Nou begin die man wat gehardloop het op Jager skiet. Dit is wat die soldate doen vandat hulle kontak gemaak het – probeer deurentyd om die flanke kom en van verskillende kante af skiet. As jy dit regkry om te skuil van die manne regs van jou, is jy blootgestel aan die linkerkantstes, en andersom. Jager probeer hom platter maak teen die grond. Langs hom wip sy hoed. Hy kan nie die gat daarin sien nie, ook nie waar die skoot vandaan gekom het nie. ’n Koeël skram van ’n klip af weg en woer deur die lug – ’n lae fluitgeluid wat deur die gevegslawaai sny.

    Een van sy kamerade spring op en kom agtertoe gehardloop, soos hy self pas gedoen het. Jager gewaar ’n beweging in die bosse waar die Duitsers moet wees en hoewel hy nie ’n figuur kan uitmaak nie, vuur hy twee vinnige skote soontoe. Sy kameraad val ’n paar treë links van hom plat en rol nader. Dankie, sê hy. Hierdie Duitsers is soos ’n hond wat meerkat geruik het.

    Jager kyk skaars na die man, want daar is beroering onder die soldate. Hy sien die hardlopende manne voordat hy die gepaardgaande sarsie skote hoor, en druk sy wang teen die grond vas om die kleinste moontlike teiken te bied. Hy kantel selfs sy geweer op sy kant, sodat sy handrug teen die gruis druk. Hy probeer uitwerk waar die koeëls wat oorheen klap vandaan kom. Die hardebaarde is goed daarmee, dis ’n vaardigheid wat hy nog ontwikkel.

    ’n Beweging langs hom trek sy aandag, die man wat sy hoed na hom toe aanskuif. Lyk my hy het ’n koeël gevat wat vir jou bedoel was.

    Die gat in die bol is nie wat Jager se aandag trek nie. Die hand wat die hoed vashou, se regterduim is af. Hy het daardie hand al vantevore gesien. Nou kyk hy verby na Hendrik Witbooi se verweerde gesig. Hy het nie besef die kaptein veg saam met die agterhoede nie. Die man is in sy sewentigs, hard soos droë biltong. Hy kan nog honderd jaar oud word.

    Ek het die perde laat kom; ek dink ons kan nou maar die stuk insit Bloedvlei toe. Met die son in hulle oë sal die Duitsers kwalik iets kan raakskiet.

    Jager kry nie ’n woord uit nie. Hier veg hy langs ’n lewende legende! Kan daar ’n groter eer wees? Hy lig sy kop en kantel die geweer regop. Hy kry ’n teiken en trek die sneller.

    Daar is ’n geroesemoes agter hom. Hy kyk oor sy skouer en dis vier man, elk met twee of drie perde.

    Laat ons weg wees, manne! roep Witbooi.

    Toe die Nama-agterhoede uit hulle skuilplekke kom en na die perde toe hardloop, brand al die Duitsers tegelyk los. Jager snap dat die soldate so daarop ingestel is om die hardlopende Namas te skiet dat hulle nalaat om verskuil te bly. Dis ’n kans wat hy nie kan laat verbygaan nie, en hy klits twee van hulle voordat hy opspring en na die perde toe hardloop.

    Kaptein Witbooi is reeds in die saal. Voordat die ou man nog sy tweede voet in die stiebeuel kan kry, ruk sy lyf. Hy sidder en buk vooroor. ’n Helderrooi kol blom op sy dy. Die twee naaste ruiters gryp die kaptein aan die arms en hou hom orent. Een vat sy teuels.

    Daar is nie tyd om te dink nie. Kry hom hier weg! skree Jager.

    Hy tol om en duik grond toe. Iemand moet die Duitsers in bedwang hou terwyl die kaptein wegkom. Jager werk sy Mauser se grendel, stoot ’n nuwe patroon in die kamer en begin skiet. In sulke omstandighede is die aantal skote belangriker as die akkuraatheid. Hy skiet een magasyn leeg, herlaai inderhaas.

    Eers is die meeste vyandelike vuur op die ruiters gerig, maar hoe verder hulle wegjaag, hoe meer Duitsers begin op hom skiet. Die vyand kom nader, dit is soos ’n swerm sprinkane in aantog – hier spring een op, daar spring een op, te veel om te keer. Die vuur is meedoënloos, en kom nou van verskillende kante af. As hy maar net beter skuiling kan kry. As hy hom in die grond kan ingrawe, kan hy dalk die dood ontkom.

    Maandag 20 November 1905

    Vanuit die saal kyk Jager Orlam hoedat vyf Duitsers van die hoofgroep af wegbreek en na hulle kant toe ry. Dit kom by hom op dat dit dalk dieselfde mans is wat enkele dae gelede op hom geskiet het. Gister sou hy op hulle gevuur het en môre doen hy dit dalk weer. Maar nie vandag nie. Hy is nie eens gewapen nie. Dit is wat hulle afgespreek het.

    Nou komaan dan. Kaptein Isaak Witbooi ry voor, na die wagtende Duitsers toe.

    Hendrik Witbooi het by Bloedvlei aan sy wond beswyk. Met die Duitsers op hulle spoor, het hulle hom begrawe en met hulle perde heen en weer oor die plek gery, sodat die Duitsers nie die graf sou kry nie. Die manne wat by was toe die ou kaptein dood is, sê dat Hendrik Witbooi hulle met sy laaste asem tot vrede gemaan het. Ander wil aanhou veg, maar die ou man se woorde dra baie gewig en sy seun Isaak het as nuwe leier hierdie vredesbyeenkoms gereël.

    Die vyf van hulle ry verby die Duitsers wat, ook ongewapen, ander kant toe op pad is om by die Witbooi-magte te bly as versekering terwyl die leiers die vredesbepalings bespreek. Die twee groepe ruiters kyk met openlike belangstelling na mekaar. Hulle is vyande én broeders in die stryd – verenig deurdat hulle hul lewens waag vir die dinge waaroor hulle verskil.

    Jager kyk na Brukkarosberg se vorm noord van hulle, soos ’n omgekeerde wasbalie – die enigste berg so ver as wat ’n mens oor hierdie windverwaaide vlakte kan sien – en dan laer af na die gewapende soldate wat hulle inwag. Sy maag trek op ’n knop van weersin. Hy wil niks met hierdie veragtelike oorgawe te doen hê nie, maar sy optrede nadat die kaptein geskiet is, het sy aansien by die Witboois laat styg en hulle wil hom hier hê. Boonop kan hy Duits redelik goed lees en praat – een van skoolmeester Alvaus Luipert se vele nalatenskappe. Hy het dit by Jager ingeprent dat ’n mens die taal moet kan praat om die Duitsers op gelyke voet aan te durf. Die kolonialiste is so opgeneem deur hulle eie kultuur, het Alvaus Luipert gesê, dat hulle aanneem die onvermoë om hulle taal te praat, is toe te skryf aan onnoselheid – terwyl hulle gerieflikheidshalwe vergeet dat hulle teenstanders hulle eie taal het, een waarvan hulle, die besetters, min weet. Vir hulle het die klik-klak van die Namataal ewe min betekenis as voëls se gekwetter. As jy hulle taal praat, verstaan jy hulle beter as wat hulle jou verstaan. Dan het jy die hef in die hand, het die skoolmeester graag gesê. Hy het nagelaat om by te voeg dat dit slegs iets beteken wanneer jy praat, nie wanneer julle op mekaar skiet nie. As hy oor sy geweerloop na die Duitsers mik, het Jager nog nooit gebodder om oor hulle taal te dink nie.

    ’n Dun houtkruis staan uit bokant die kerk, maak ’n krapmerk teen die hemel. Die toring, wat seker so hoog is soos vier huise, is afgewerk met kaal klip, en die kerk se laer deel gepleister en geverf. Dit is die enigste beduidende gebou in Berseba, ’n versameling karige blyplekke wat onder bome opgerig moes gewees het met die idee dat enige skaduwee, hoe yl ook al, beter is as geen. Buiten die rivierloop, wat nog ’n paar poele troebel water het, is hier blykbaar nie veel wat lewe kan onderhou nie. Daar is ’n troppie bokke wat lyk asof hulle op hittegolwe dryf en van daardie ligglinstering self leef. Van weiding is hier nie veel sprake nie.

    Mans, vroue en kinders, Namas soos hy self, maar wat nooit die wapen opgeneem het nie of dit sedertdien afgelê het, staan eenkant in stil groepies om hierdie geskiedkundige gebeurtenis te aanskou. Hulle leier, Johannes Goliath, het hierdie samekoms van vyande gereël.

    Naby die kerk staan ’n groep soldate in netjiese rye, seker so sestig van hulle, met die sendeling vooraan in sy swart gewaad, met ’n Bybel in die hand. Toe die Witboois naby kom, tree hy vorentoe om die afgevaardigdes te groet. Ab #khîba sats |kha hâ re, sê hy vir Isaak Witbooi. Vrede vir jou.

    Ons sal sien, sê die nuwe Witbooi-leier.

    Hulle klim af en hulle perde word weggelei. Anderkant by die Witbooi-magte word die Duitse soldate seker net so behandel, dink Jager. Hy loer na die naaste Duitser se stewels en wonder of die man sal opmerk hy dra dieselfde skoeisel as hulle, gemaak in ’n werkswinkel in hulle tuisland deur ’n man wat dit seker sal haat om te weet dat sy handewerk nou die vyand help.

    ’n Offisier kom aangemarsjeer, halt dan en salueer. Hy is nie hier as enkeling nie, maar as verteenwoordiger van ’n reuseryk, en hy wil hê hulle moet dit weet. Hauptmann Kapp! blaf hy.

    Isaak Witbooi kyk skeefweg na die sendeling, wat kerk se kant toe beduie met ’n hand wat so wit en sag lyk asof dit in die doopvont gewas is.

    In die kerk is twee tafels in die lengte opgestel met hulle kort kante teenmekaar. Die Witbooi-afvaardiging word na die een kant toe beduie en die Duitsers na die ander. Die sendeling en Johannes Goliath neem hulle plekke aan die tafels se teenoorgestelde koppe in. Die vertrek is onlangs gevee en stof hang nog in die stil, koel lug. Jager kyk na die dak en witgekalkte mure. Hy was nog nooit in so ’n groot vertrek nie. Hochnamib se skoolgebou sal nie eens die helfte van hierdie ruimte vul nie. Hy het gehoor dat die Duitsers in Windhoek selfs groter geboue opgerig het.

    Terwyl hulle nog hulle sit kry, sonder om ooit hoër te kyk as die oorkantste manne se gordelgespes, bring een van die Duitsers ’n opgevoude koerant te voorskyn en stoot dit oor na Isaak Witbooi toe. Ek het gedog jy sou dit wou sien.

    Witbooi kyk skaars daarna, skuif bloot die eksemplaar van die Windhuker Nachrichten na Jager se kant toe. Hy is die vinnigste leser, en hy kyk vlugtig na die berig oor Hendrik Witbooi se dood. Die Duitsers wil hulle seker herinner aan die rede hoekom hulle hier is, aan hulle sterflikheid en die hopeloosheid van hulle stryd.

    Die sendeling verwelkom hulle, herinner almal daaraan dat God wil hê sy volke op aarde moet in vrede met mekaar saamleef, soos in die Tuin van Eden, en gaan voor in ’n gebed waarin hy vra dat God hulle sal lei en dat wysheid sal seëvier. Daarna gee Johannes Goliath ’n inleiding wat ’n paar geslagte ver gaan draai en waarin hy ooreenkomste tussen sy mense en die Witboois uitwys – albei het twee of drie geslagte gelede uit die Kaapkolonie gekom om hulle noord van die Oranjerivier te vestig.

    Teen die tyd dat hy by Hendrik Witbooi se geboorte kom, is Jager al vrek verveeld. Sy oë dwaal oor die koerant voor hom, en hy merk ’n bekende naam: Hochnamib. Waarom sou sy tuisdorp in die nuus wees? Sonder om openlik daaroor te wees, dop hy die koerant om sodat hy die onderste helfte van die bladsy kan lees. Sy belangstelling groei toe hy sien dit gaan oor reiter Bock, die polisieman wat in April die Duitse soldate na hulle skuilplek by Chaibis gelei het. Die man wat verantwoordelik is vir Alvaus Luipert se dood.

    Donderdag 23 November 1905

    Die straat lyk dieselfde, maar hy loop nou anders daarlangs. ’n Man wie se anonimiteit sy sprekendste eienskap was, voel nou oë op hom, sien die beroering as mense agterkom wie hy is en hom aan hulle metgeselle uitwys wanneer hulle dink hy kyk anderpad. Van ver af kom die geluid van ’n os wat bulk, ’n sweep wat klap en ’n drywer se stem wat bevestig dat ander lewens voortgaan soos gewoonlik. Selfs hier sing die vinke en sysies wat versteek in die bome sit soos altyd. Maar dinge is nie gewoon nie. Elke huiseienaar in Windhoek verkies blykbaar vandag om die vroeë oggendure in die voortuin deur te bring, onnodig in blombeddings te vroetel, spelende kinders op te pas of hande op die heupe die eindelose blou lug te staan en deursoek vir tekens van reën of die Wederkoms. Winkeliers staan voor hulle deure, hoedloos, rem aan hulle gordels terwyl die son op hulle mae bak, onbewus van die wolkies stof om hulle voete waar bediendes die sypaadjies vee. Amptenare kies ompaaie werk toe, loop by die Lutherse Kerksaal verby, wat gekies is vir die hofsaak om die verwagte skare te akkommodeer. Ruiters wat verbyry, lig die hoed vir hom.

    Daar was ’n lang berig oor hom in verlede week se Windhuker Nachrichten. As dit nie was vir Hendrik Witbooi se dood nie, die beroemdste van die Namaleiers wat in die suide teen die schutztruppen baklei, sou sy dade die hoofberig gewees het. Die Stempsky-moordsaak is die grootste plaaslike nuus in jare, en die koerant maak ’n ophef van sy rol daarin om die vermeende moordenaar August Niedermeyer voor die gereg te bring. Hy het twee eksemplare van die koerant gekoop – een het hy vir sy pa in Berlyn gestuur, en die ander gaan hy in sy trommel bewaar saam met al daardie briewe wat hy geskryf maar nooit gepos het nie.

    Dit is sy oomblik van glorie, die manier waarop mense na hom kyk. Klein Siegfried Bock – soos gewoonlik haaks met swaartekrag, met vinnige treë wat sy regop lyf vorentoe dryf, arms wat in pas met die teenoorgestelde voet swaai, met die ongelykheid van die pad wat kort-kort die reëlmaat van sy tred beduiwel – voel asof hy oor die aarde se oppervlak sweef. Sy uniform is silwerskoon en netjies gestryk, sy wyerand-Südwesterhoed sit skuinser as gewoonlik, laer aan die linkerkant, en sy stewels sou nog indrukwekkender daar uitgesien het as dit nie vir die oggend se dun stoflagie was nie. Hy het vanoggend met groot sorg geskeer, ook in die moeilike plekkies by sy mondhoeke. Sy vel voel styfgespan in die fris oggendlug. Sy dade word besing.

    Wat daarvan dat hy diep in die nag, diep in sy hart, voel dat hy misluk het, dat hy te laat was om Hans Stempsky te red? Sy kollega en, ja, vriend. Op sulke tye vra hy hom af watter nut dit het om uit te werk wie skuldig is as die slagoffer alreeds dood is. Die vooruitsig van reg en geregtigheid bied skrale troos, maar hy moet nou daarop konsentreer, pleks van toelaat dat die berou hom onderkry.

    Is dit respek in die omstanders se oë? Hy wens sy pa kon hier wees om dit te sien, en hoop dat die saak in Duitsland koerante sal haal. Hy wil hê almal wat ooit neerhalend teenoor hom was, moet kennis neem van wat hy hier vermag het, van wie hy geword het. Hy is bly dat herr Dehlinger sy verblyf in Windhoek verleng het, dat die man wat hom uit Berlyn verjaag het, sy triomf eerstehands kan ervaar.

    Mense drom al klaar voor die kerksaal saam, en hy baan sy weg tussen hulle deur. Daar staan herr Dehlinger juis, met sy Bismarck-agtige kieste en snor. Sy oë glinster tussen swaar ooglede. In die agtergrond staan leutnant Berghammer, Siegfried se voormalige pelotonbevelvoerder wat hom blameer vir ’n klompie soldate se dood vroeër vanjaar. Te hel met hulle albei, dis nie hulle wat nuus gemaak het nie, na wie mense staar wanneer hulle verbyloop nie. Hy sien vir Traudl Dehlinger aan haar pa se sy, blykbaar totaal daaraan toegewy om ’n dun vertikale frons vas te knyp tussen haar grysgroen oë wat die wêreld as ’n wesenlik bedreigende plek beskou, veral wat haar brose geluk betref. Sy lyk pragtig – die skitterende goue hare om die edele gesig wat tegelyk verdriet en vrees vertoon. Sedert Siegfried opgehou het om hom te verbeel hy is die een wat haar van haar hartseer moet red, het haar skoonheid nie meer so ’n verpletterende uitwerking op hom nie. Laat ’n ander man maar sy skip op daardie rotse laat loop.

    Lisbeth Kamke staan alleen langs die deur, lank en kalm, met haar rug teen die muur. Haar dik swart hare is agter haar nek saamgebind en haar hoë voorkop wys nog die merk wat ’n sonhoed gelaat het. Daardie helder grys oë van haar ontmoet syne en maak meer saak as enige kyk wat hy al vanoggend gekry het. Sy ken hom en is nog altyd aan sy kant. Hulle praat nie, dit is nie nodig nie. Hy merk ’n aroma van seep en kruie toe sy by hom inhaak en haar hand op sy voorarm lê. Haar vingers glim van ’n room wat sy moes aangesit het, maar dit kan nie die tekens van harde werk wegsteek nie – die skraapmerkies, die gebreekte naels. Saam loop hulle in die saal in, soos toe hy haar agt maande gelede by hierdie einste vertrek ingebring het na haar bruidegom toe. Sy was ’n teensinnige bruid, maar het haar lot tegemoet gegaan met dieselfde onkreukbare vasberadenheid wat sy nou as weduwee openbaar.

    Hulle loop af in die gangetjie tussen die nou nog leë stoele en banke wat in rye gepak is vir die publiek. Skuins skagte stofgespikkelde sonlig sny oor die stoele se hoekige lyne. Aan die voorkant wag twee tafels, onderskeidelik vir die aanklaer en advokaat vir die verdediging, en op ’n verhogie reg voor is drie tafels uitgepak vir die regter en sy twee assessore. Die rooi, wit en swart imperiale vlag is teen die muur agter die regter se tafel vasgespyker, net onder ’n houtkruis waaraan Christus se onsigbare spook hang. Voor die verhogie, vlak voor die regter se tafel, het die notaris sy eie tafeltjie. Hy is al klaar daar, besig om sy vulpen uit ’n inkpot vol te maak. ’n Swart klerk in ’n netjiese bruin pak klere sit waterbekers en glase vir die amptenare neer.

    Die enigste ander mens in die saal is die aanklaer, wat besig is om

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1