Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die vertes in
Die vertes in
Die vertes in
Ebook339 pages7 hours

Die vertes in

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Duits Suidwes-Afrika, 1905. Die tengerige Siegfried Bock kom na die kolonie om te bewys dat hy ook ’n man van durf is. Maar dit duur nie lank voordat hy ontnugter word deur die effek van die Duitse uitwissingsbevel teen die Herero’s en die onderdrukking van die Namas nie. Lisbeth Löwenstein, ʼn arm Jodin, moet met ’n Duitse setlaar trou wat sy skaars ken. Toe hy van sy perd af val en sterf, kies sy om saam met die Nama-werkers van sy plaas af te vlug. Mordegai Guruseb, ’n Damara-man, ontsnap uit ’n konsentrasiekamp waar Herero’s besig is om van ontbering te sterf. Maar kort voor lank kom sy vryheid weer in gedrang. Dan is daar ook die mislukte dokter Albert Pitzer wie se pseudowetenskap ontluister word deur Alvaus Luipert, ’n skoolmeester en Nama-leier wat teen die koloniale bestel in opstand kom. Dié vyf se lot vervleg op spannende wyse in die ongerepte landskap van Duits Suidwes-Afrika en stuur af op ’n dénouement wat hul menslikheid tot die uiterste sal beproef.
LanguageAfrikaans
PublisherKwela
Release dateSep 4, 2018
ISBN9780795708831
Die vertes in
Author

Zirk van den Berg

Zirk van den Berg is in Namibië gebore, het grootgeword in Suid-Afrika, en woon deesdae in Nieu-Seeland. Hy debuteer met ’n kortverhaalbundel, Ekstra dun vir meer gevoel, en daarna verskyn ’n roman, Wydsbeen. Nobody Dies is sy eerse Engelse roman, vertaal as 'n Ander mens. Halfpad een ding en Half of One Thing verskyn saam in 2014.

Read more from Zirk Van Den Berg

Related to Die vertes in

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Die vertes in

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die vertes in - Zirk van den Berg

    Die vertes in

    Zirk van den Berg

    Kwela Boeke

    Vir my oupas,

    Zirk van den Berg en Andries Bredenkamp,

    wat toentertyd Suidwes toe getrek het.

    I

    Hy is vier-en-twintig jaar oud en het elke winter van sy lewe by die dood omgedraai. Dit onderskei hom van mense wat nie hulle eie weerloosheid erken nie. Sy tuniek is een of twee nommers te groot om die bors, maar die hunkering in sy hart is selfs groter. Hy gaan Afrika toe.

    Langs hom word ’n perd uit die skeepsruim gehys; hy hang in ’n draagband met sy hoewe wat in die lug trap. In die digte mis kan jy nie die hyskraan se bopunt sien nie, dit is asof die dier uit die hemel hang. ’n Stoomenjin dreun en ratte krap toe die vreesbevange perd oor die skip se rand geswaai en laat sak word in ’n ligterskip wat op die donker deining wankel.

    Iemand por hom in die ribbes; dis sy beurt. Hy klou aan die reling, swaai een been oor die skip se rand en trap op die touleer. Terwyl hy afklim na die roeiboot toe, rem sy rugsak se gewig hom agteroor, en sy arms en bene begin bewe.

    Hy is die laaste man wat onder kom. Hy gaan sit in die boeg en kyk agtertoe na die res van die peloton. Party van die soldate en die matrose kibbel oor wie die gekanselleerde sokkereindstryd tussen Berlyn en Leipzig sou gewen het. Dis al diep in die volgende seisoen, met nog net twee maande voor die 1905-eindstryd in Mei, maar die ondersteuners praat steeds oor laas jaar se grootste antiklimaks. Die matrose gebruik die spane om hulle weg te druk van die Jeanette Woermann se staalromp af, en begin roei. Wit spatsels verskyn waar die spane die water slaan, twee ewematige lyne skuimkringe wat stadig verslaan. Oorheen verskyn meeue, klap hulle sekelvormige vlerke. Die spaanhingsels kraak en klik, die voëls krys en die lug pols met die veraf slae van branders teen ’n onsigbare kus. Die digte, souterige oggendmis versluier die omgewing. Hy hoor stemme wat klink asof dit van die oop see af kom, maar hy weet dit moet van die ander skepe in die baai wees. Daar is omtrent tien ander, hy het hulle gisteraand gesien toe die Jeanette Woermann anker gooi. Nou kyk hy na die manne in die skuit, die matrose wat roei en die res wat skouer aan skouer sit, hulle rugsakke tussen hulle knieë. Hulle dra donker kakie-uniforms met grys breërandhoede, die regterkante opgeslaan en teen die bol gespeld met die imperiale kokarde in rooi, wit en swart. Die stoomskip wat hulle tuiste was sedert hulle byna ’n maand gelede uit Hamburg vertrek het, het reeds in die mis verdwyn. Hy kan nog geen teken sien van die land waarheen hulle op pad is nie. Hy tuur in die mis, en word uiteindelik beloon met ’n ligflits wat met elke herhaling duideliker word. Is dit ’n vuurtoring se regaf lyn wat hy daar sien? Dan, toe hy oor sy skouer kyk, word donker vorms in die newel sigbaar – houtpilare met balke kruis en dwars. Detail raak duidelik: ’n kors skulpe op die hout en swaar toue wat in bonkige knope gevleg is om skepe te buffer. Van wat hy gehoor het, het skepe voorheen hier geland, maar die hawe het versand, sodat roeibote en ligterskepe die enigste manier geraak het om die mense, diere en vrag wat by Duits Suidwes-Afrika instroom aan land te kry.

    Die matrose hou op roei en laat die boot na die hawehoof toe gly. ’n Gestalte doem bokant hulle op, en skree dat hulle ’n tou moet gooi. Een van die matrose kom wydsbeen orent en gooi ’n tou met ’n haak boontoe. Dit klater op die hout. Iemand moes dit opgetel het, want die tou trek styf, sleep die skuit tot teen die vierkantig afgewerkte houtpaal, waarteen die deining dit op en af laat skraap. ’n Touleer tuimel van bo af. Komaan! Die manne tel hulle rugsakke en gewere op, te midde van uitroepe om nie die boot te veel te skommel nie.

    Hy is eerste op, gryp die leer, sit sy voet op die sport en hys hom uit die boot uit. Dis die eerste keer sedert hulle by Las Palmas oorgelê het dat sy gewig nie deur water gedra word nie.

    Sodra sy kop bo die hawehoof se rand verskyn, reik ’n swart man sy hand na hom toe uit. Hy huiwer. Natuurlik het hy geweet hier sal swart mense wees, maar hy het nie verwag om so gou al een te sien nie, so naby.

    ’n Sersant wat met ’n potlood en oop boek op die hawehoof staan, skree op hom: Roer jou, jy’s nie ’n toeris nie!

    Hy vat die aangebode hand en word op die hawehoof getrek. Hy weet nie hoe om op sy helper se menslikheid te reageer nie, kyk nie die man in die gesig nie en rig hom liewer tot die sersant.

    Die sersant kyk hom op sy beurt van kop tot tone deur. Is dit die hele jy?

    Hy is maar net ’n paar sentimeter korter as gemiddeld, maar is tengerig gebou en die losserige uniform vererger die effek. Toe hulle uniforms uitgereik is, het die kwartiermeester nie sy grootte gehad nie, en het verskonend gesê dat soldate vinnig lyf aansit, hy het dit al honderd maal gesien, manne wat vir nuwes kom vra omdat hulle andersins nog bruikbare uniforms se nate gebars het.

    Dis soveel van my as wat die wêreld kan hanteer, sê hy, maar met te min energie om die opmerking gevat eerder as nukkerig te laat klink.

    Die sersant trek ’n wrang gesig. Die leër is in sy kanon … Naam en rang?

    Siegfried Bock, reiter.

    Die sersant maak ’n merk in sy boek. Land is diékant toe, wys hy.

    Siegfried vat die pad, ywerig om die eerste van sy groep te wees wat sy voete op die nuwe vasteland sit. Ander skuite het teen die hawehoof aangekom, gelaai met kratte vrag. Hy kan ’n meganiese hyskraan sien, hoor ’n stoomenjin in die mis hyg. Sodra die hyskraan goedere op die hawehoof neersit, tel swart mans in te groot klere dit op en dra dit land se kant toe met kort treetjies wat dof op die hout roffel. Siegfried se stewels se hakke maak skerper geluide. Die hawehoof is lank, ’n indrukwekkende stuk ingenieursvernuf, ’n houtkonstruksie wat ver in die koue Atlantiese Oseaan steek. ’n Kajuit eenkant is gemerk Zollbüro. Die doeanebeampte leun teen die deurkosyn, besig om aan sy pyp te suie. Hy wys vir Siegfried om verby te hou, en blaas rookkringe wat in die mis onsigbaar is.

    Die klank van branders wat breek, wys dat land naby is, hoewel Siegfried dit nog nie kan sien nie. Daar is nou meer skuim op die dofgroen water, dan branders wat in ’n bruising wit spatsels breek en teen ’n steil strand opstoot. Die geluid van sy voetstappe op die hout raak dof; die planke is nou plat teen die sand. En dan trap hy op droë grond.

    Hy is in Afrika.

    Hy is in Afrika, en Traudl is in sy kop, sy en al die ander wat op hom neersien, met minagting, bejammering of ander vorms van disrespek. Hy sal hulle wys. Dit was nie sy idee om hierheen te kom nie, maar hy het dit reggekry om homself wys te maak dat dit hierdie een keer inderdaad vir hom goed sal wees om aan iemand anders se wil gehoor te gee. Dit is die land waar hy die man gaan word wat hy hom nog altyd verbeel hy is, en hulle sal hom as sodanig moet erken – Traudl, sy pa, hare vir wie hy geen liefde koester nie, selfs al het die man sy koms hierheen bewerkstellig, die dokter wat hom gevloek het omdat hy gedwing is om so ’n petieterige mannetjie in die weermag toe te laat, en die offisiere wat gebrom het toe hulle opdrag kry om hierdie swak rekruut, in weerwil van die reëls, Suidwes-Afrika toe te stuur.

    ’n Gevoel stu in sy bors op, ’n gekrap wat erger raak. Ondanks sy lewenslange ervaring daarvan, probeer hy dit wegsluk, maar vergeefs. Sy longe begin ruk. Sy oë skiet vol trane en sy ore raas. Hy buk vorentoe, hoes en stik, kan nie asem kry nie. Sy geweer glip van sy skouer af, die loop tref sy voorarm en die kolf kap hom op die voet. Sy bors trek nog stywer toe, selfs toe daar niks meer lug is om uit te druk nie. Swartheid klad sy sig en dit voel asof hy tuimel … en dan kom ’n asemteug deur, en nog een. Hy hyg, met die smaak van bloed in sy keel. Hy kry sy asem terug, spoeg op die grond, tel sy geweer op, kom orent en skop sand oor die smeersel bloed en slym.

    Jissis, Bock, moenie vrek nog voordat ons eens die vyand gesien het nie.

    Siegfried kyk hoedat die soldaat wat die aanmerking gemaak het, in die mis verdwyn. Hierdie bliksem ook, besluit hy, hy sal hulle almal wys – al hierdie gewone manne vol selfvertroue, manne wat dink hulle ken ander mense terwyl hulle nie eens hulself ken nie, manne wat nie twyfel en vrees as permanente metgeselle het nie, wat nie om elke hoek en draai met siniese innerlike teenstanders te kampe het nie.

    Die swoel wit mis verdof alle lig, maar geluide dring daardeur. Hy hoor ’n nuwe geroffel aan sy linkerkant, nie die branders nie, iets skerper, harde oppervlakke wat teen mekaar knars. Die gekraak van toue onder stremming. Die gesteun van diere. Sy kop sê vir hom om osse te verwag, maar sy oë onthul iets anders. Uit die vaagheid verskyn ’n swart vrou in ’n ongebleikte seiljurk, vooroor geleun, met ’n dik tou oor haar skouer. Agter haar is nog ’n vrou wat ook die tou vashou, dan nog een, ’n hele ry van hulle, besig om iets te sleep. Hulle kyk nie na sy kant toe nie. Iets roer anderkant hulle, ’n tweede streep vroue eggo die eerste. En dan verskyn die swaargelaaide wa wat hulle trek. Siegfried staan botstil terwyl die wa verbyrol en gruis onder sy ysterbande verbrysel. ’n Man in uniform sit op die drywer se bankie, en laat ’n sweep in die wind kwispel.

    Die onverwagsheid van wat hy gesien het, die onsinnigheid en wreedheid daarvan, hou Siegfried vasgenael. Hy staar totdat die wa verdwyn, en dan die geluide ook, sodat net die see se gesis oorbly, en die twyfel in sy hart. Het dit regtig gebeur, of was dit ’n hersenskim, veroorsaak deur ’n ooraktiewe verbeelding en ’n lyf wat nie aan sulke inspanning gewoond is nie, deur die disoriënterende mis en die stuwing van oorweldigende emosies?

    Uiteindelik dring ’n ander geluid tot hom deur, een wat al ’n hele ruk voortduur voordat hy besef dat die koor van stemme na hom roep: Bock! Bock! Bock! Soos ’n trop blaffende honde.

    Toe hy daar aankom, het die res van die peloton al in drieë aangetree, van die langste na die kortste man. Terwyl hulle hom allerhande goed toesnou, neem Siegfried sy plek op die punt in.

    Op my bevel! bulder die sersant wat hulle op die hawehoof ingewag het. Aaaandag! Hy loop verby die ry manne, kyk elkeen van hulle priemend aan, terwyl hulle by hom verbykyk na ’n kamtige ding daar voor iewers, ’n onsigbare teiken in die warrelende mis. Die hele tyd spreek hy hulle toe: Die protektoraat se mense is op hete kole. Setlaars is vermoor, honderd-ses-en-twintig van ons landsgenote net in die eerste paar dae van die Herero-opstand, onskuldige mense wat in hulle beddens en huise en werksplekke vermoor is, vroue en kinders ook, goeie mense soos julle ma’s en susters en pa’s en broers. Die setlaars het nuusberigte gesien van veldslae en gevalle soldate. Soos julle weet, het ons die Herero’s se hoofmag verlede jaar by Waterberg gebreek, maar party van hulle baklei nog. In die suide is Witbooi en Marengo se Nama-bendes nog aan’t moor en steel. Ons mense wil sien dat die Vaderland die opstandelinge vasvat. Hy praat in kort sarsies woorde, benadruk telkens die laaste woord, en skep diep asem tussenin. Ons moet sorg dat Swakopmund se mense sien dat nuwe schutztruppe hier aangekom het om hulle veiligheid te verseker. Julle gaan van hier af reguit na die stasie toe, daarvandaan per trein Windhoek toe, en dan die vertes in. Op pad van hier af stasie toe gaan mense julle deurkyk, probeer peil wat daar in julle steek. Hulle soek bevestiging dat hulle snags rustiger kan slaap, dat hulle toekoms in Duits Suidwes-Afrika veilig is. Julle sal skerp lyk. Julle sal vol vertroue lyk, en sterk. Julle is soldate van die Kaiserreich. Om hemelsnaam, gedra julle so.

    Hulle maak ’n regsomkeer en begin marsjeer, die lang manne voor. Siegfried rek sy treë, probeer om ’n armlengte van die rugsak voor hom af te bly. Moenie struikel nie, maan hy homself, moenie val nie. Onder sy voete voel hy die grond soos die see dein.

    * * *

    Mordegai Guruseb is vasbeslote om hierdie einste dag op vlug te sterf, of eers veel, veel later. Nie ’n paar weke of maande van nou af nie, nie van hongersnood nie. Hy is seker dat as hy in die konsentrasiekamp bly, hy nie die winter gaan deurstaan nie. Hy is nog maar ses weke in die kamp, maar het reeds te veel sterftes gesien om enigiets anders te verwag. Die Duitsers gee hulle te min kos en skuiling, en te veel werk.

    Die laaste keer toe hy só gevoel het, was terwyl hy saam met die Herero’s in die Omaheke-woestyn rondgedwaal het na hulle nederlaag by Waterberg, op soek na kos en water. Die Duitsers het die kleiner watergate vergiftig en die grotes bewaak. Hy het besluit dat enigiets beter sal wees as om in die woestyn van dors te beswyk, en het hom aan hulle oorgegee. Hy het só sy lewe gered, maar watter soort lewe is dit hierdie?

    Hy hoort glad nie eens hier nie. Die kamp is vir Herero’s bedoel, maar die soldate kan nie tussen die stamme onderskei nie. As ’n Damara was hy al jare lank aan die Herero’s onderworpe, as bokwagter. Dis ’n skrale troos dat sy meesters ook nou agterkom hoe dit voel om onderdruk te word. Die feit is hulle word almal uitgewis; hy moet wegkom. As hy in die proses doodgemaak word, verloor hy ten minste net ’n paar weke van sy lewe – weke van lyding. En as hy wel wegkom … Hy het geen idee wat dan op hom wag nie, maar hy sal lewe en vry wees, dit is genoeg.

    Die kamp word deur twee rye doringdraad omhein en daar is wagte. Sy beste kans om te ontsnap is nou, terwyl hulle buitekant werk. Hy het pas ’n krat van die kaai af na die trein toe gedra, en word teruggejaag om nog ’n vrag te gaan haal. In die digte mis kan hy dalk ongesiens wegglip. Die grootste probleem is waarheen om te gaan. Aan die een kant is daar die yskoue see, aan die ander kant dorre woestyn waar nie eens die gehardste plant oorleef nie. Die enigste manier om die Namib te voet oor te steek, sal wees om die Swakoprivier se droë loop te volg, maar daar sal hy hom in Duitsers vasloop. Hy besluit op ’n vinniger en meer gewaagde manier – hy gaan die trein haal. Nog soldate het per skip aangekom, en met die trein wat voorberei word, is dit duidelik dat hulle binnekort gaan vertrek. Mordegai sal op daardie trein wees.

    Nadat hy sy krat neergesit het, draal hy en maak seker dat hy die laaste man is, met net twee wagte agter hom. Hy haal die metaalkenteken af wat hy aan ’n riempie om sy nek moet dra. Toe hy langs die trein verbyloop, gooi hy die skyf so hard as wat hy kan teen ’n ossewa wat daar naby staan. Sonder om seker te maak of die geluid wel die wagte se aandag getrek het, duik hy tussen die treinwiele in, lê met wydgesperde oë op die dwarslêers, hou die wagte deur die newels dop en hoop hulle sien hom nie op die treinspoor lê nie. As hulle hom oplet, sal hy opspring en hardloop, en aanhou hardloop totdat hulle hom platskiet, en dan sal hy kruip as hy kan, bly voortbeur totdat die lewe hom verlaat.

    Hy seil onder die treinwa langs. By die koppeling lig hy sy kop en kyk rond. Dit lyk asof niemand hom sien nie, en hy klouter op die balkon tussen die waens en van daar op die reling. Dan hys hy hom aan sy arms tot op die dak. Hy het niks by hom nie, net die ruwe seilhemp en -broek wat aan hom uitgereik is, ’n halfleë maag na die kampontbyt van ’n paar lepels rys, en ’n greintjie hoop. Hy kry ’n plek op die dak wat hom ’n bietjie vashouplek bied en lê dan stil, bid dat die trein sal vertrek voordat die mis lig, voordat hy oop en bloot lê vir enigiemand om hom van die stasiegebou se tweede verdieping te sien.

    * * *

    Teen negeuur wag die volle kompanie by die trein. Hulle sit op hulle rugsakke of leun daarteen. Party van die manne het rug aan rug gaan sit, leun teen mekaar. Hulle wys hulle opgewondenheid en ongeduld, steek hulle vrees en onsekerheid weg. Siegfried sit kiertsregop op sy rugsak en bekyk die wêreld. Hy soek selde die troos van ander se geselskap, vind dit nooit. Soos soveel dinge in sy lewe, is sy hunkering om as man onder manne erken te word grootliks abstrak. In werklikheid word dit gedurig beduiwel deur ’n rebelse gees, ’n inherente wantroue in algemene aannames. Om dinge te vererger, is sy skeptisisme nie net uitwaarts gerig nie, maar het hy die gewoonte om homself te folter. Het hy, byvoorbeeld, regtig nou net daardie vroue gesien wat die wa trek, of was dit ’n hersenskim wat deur sy onderbewuste opgedis is, ’n stukkie halfvergete Dante dalk, ’n veruiterliking van ’n diepgewortelde vrees dat hierdie land dalk nie aan sy verhewe verwagtinge gaan voldoen nie?

    Die mis begin wegbrand en die wêreld om hulle kry gestalte. Die stasie is ’n groot gebou wat iewers in Duitsland sou kon staan, gepunte toring in die middel, en kleiner torinkies aan die ente waarop die imperiale vlag pryk. Die dorp bestaan uit ’n dertigstuks geboue wat op kaal sand staan. Party van die ander ouens is teleurgesteld dat hier nie oerwoud en apies is nie, met bobbejaantoue en kreupelhout, maar Siegfried het sy huiswerk gedoen. ’n Wye soom sandduine loop langs die kus af, van Portugees Wes-Afrika tot by die Kaapkolonie. Die Namibwoestyn het Europeërs dermate afgeskrik dat hulle vir twee- of driehonderd jaar nadat hulle die gebied ten noorde en suide beset het, bloot hier verbygehou het. Die enigste rede dat hierdie nedersetting hoegenaamd bestaan, is die kuslyn se vorm, met die meestal droë Swakoprivier se monding wat ’n redelike hawe bied. Walvisbaai, vyf-en-dertig kilometer suid, bied beter beskutting, maar die Britte het dit reeds beset en Swakopmund het noodgedwonge die nuwe kolonie se lewensaar geword.

    Toe Duitsland hom hierdie gebied vyftien jaar gelede toegeëien het, het hier minder as honderd-en-vyftig wit mense gebly in ’n gebied twee keer so groot soos Duitsland. Selfs toe al, voordat daar nog enige sprake was dat hy ooit hierheen sou kom, het Siegfried die gedagte aan soveel ongetemde grondgebied aanloklik gevind. Hy was nie die enigste nie – byna vyfduisend setlaars het reeds hierheen getrek.

    Tog produseer die land niks noemenswaardig nie. Die nimmereindigende aanvraag na mense en materiaal is vir Berlyn ’n bron van kommer. Siegfried het telkemale gehoor hoedat mense dit bespreek. Die realiste probeer van die protektoraat ontslae raak; die romantici wil dit ten alle koste behou. Traudl se pa is ten gunste daarvan om Duits Suidwes-Afrika op te bou, terwyl Siegfried se pa gekant is teen so ’n ydele vermorsing. Oor een ding stem hulle saam: Dit sal vir almal die beste wees as Siegfried ver weg van Traudl Dehlinger en die vooruitsig van ’n skandaal is.

    Dit voel asof hy nog altyd verlief was op haar. Hy was sewentien toe dit die eerste keer vir hom duidelik geraak het, en blykbaar vir almal anders ook. Enigiemand wat die jongeling met die benerige gesig en koorsagtige oë in daardie tyd gesien het, het opgemerk dat hy die skoot hoog deur het. Enigiemand wat naby Traudl was, kon duidelik sien op wie hy verlief is. Wanneer hy ver genoeg van haar af was, oorkant die vertrek of op ’n ander parkbankie, het hy hom verstout om openlik na haar te staar. Om die waarheid te sê, ondanks die koperkleurige hare en deurskynende vel, is haar individuele gelaatstrekke dalk te prominent om ’n mooi geheel te vorm, maar hy is versot op daardie hoë wangbene, die diepversonke oë, die vol mond en daardie nogal lang voortande waaroor sy kort-kort lek. As hy in haar geselskap was, altyd ’n halwe treetjie agtertoe, het hy dit nie gewaag om direk na haar te kyk nie, maar sy was altyd op die rand van sy visie, met daardie slanke, bloubeaarde gewrigte wat uit haar moue glip. Hy het net geluister wanneer sy praat, en het die woorde in sy gemoed laat eggo totdat sy weer iets sê. Natuurlik was sy bewus van sy gevoelens, soos almal anders in hulle sosiale kring en selfs ’n klompie vreemdelinge.

    Toe Manfred Eberhardt, haar hartsgeliefde, vertrek het om sy kaiser en land in die oorlog in Duits Suidwes-Afrika te dien, het sy haar tot Siegfried gewend, ’n geduldige oor vir haar hartseer versugtinge. Hy moes eindelose loftuitinge oor sy teenstander aanhoor wat, nadat die nuus van Manfred se afsterwe hulle bereik het, in elegieë verander het wat selfs nog swaarder was om te verduur. Hy het haar oë vermy uit vrees dat sy dalk tot reg in sy siel sou kyk, maar mettertyd het hy sy blik van haar gewrigte af laat dwaal na haar ewe slanke nek en druppelvormige neusgate. Hy het haar parfuum ingeasem. Hy het geluister as sy sug, hartseer Kupido’tjies wat hom tart. Aangevuur deur haar afgetrokkenheid, het hy sy vingerpunte toegelaat om aan haar mou te raak, terwyl hy bemoedigende woorde mompel wat ewe onvanpas vir sy gevoelens as die situasie was. Gefrustreer deur sy onvermoë om sy liefde behoorlik te betoon en haar onvermoë om te besef dat hy in alle opsigte wat tel Manfred Eberhardt se meerdere is – hoofsaaklik in hoe hy haar liefhet – het hy selfs begin kuier wanneer sy hom nie genooi het nie. Dit het met verloop van tyd vir hom duidelik geraak dat Traudl sy attensies irriterend vind, sy intensies belaglik, maar hoop het nooit gewyk nie, en hy het nooit ophou kuier nie. Die mees kwetsende ding was dat sy gedink het hy is simpel.

    Toe kom die dag van die ongeluk, toe sy verbeelding die oorhand kry terwyl hy sy hand op hare het, en haar pa kom in, en hy en sy dogter sien albei die knop in die jong man se broek, die skandalige nat kol van sy begeerte. Herr Dehlinger het hom by die deur uitgejaag en gedreig om sy knaters af te sny as hy ooit weer sy gesig daar durf wys.

    Siegfried is seker die enigste een wat uitsien na sy terugkeer uit Afrika. Herr Dehlinger, neem hy aan, bid dat hy doodgaan, verkieslik op veragtelike wyse, dalk van dors nadat hy in die woestyn verdwaal het. Hy moet sy eie pa die voordeel van die twyfel gee. Na alle waarskynlikheid wil herr Bock maar net hê dat sy tweede seun ’n middelmatige loopbaan op ’n ver plek moet volg; enigiets beskeie sal deug, solank hy nie opslae maak nie. Siegfried is nie voornemens om aan enige van hulle verwagtinge te voldoen nie. Hy gaan homself bewys as ’n man om mee rekening te hou, en dan sal hy teruggaan, aandring op respek, en hoop op liefde.

    Hy verskuif sy voete en skop iets blinks in die sand oop. Dis ’n bronsplaatjie, ovaalvormig, groter en dunner as ’n muntstuk, met ’n nommer en adelaar op een kant gestempel. Hy tel dit op, blaas die sand af en vryf daaroor. Dit is nie goed genoeg afgewerk vir juweliersware nie, tog is dit aan ’n riempie vas, lank genoeg om om ’n mens se nek te pas. Hy druk aan die man langs hom. Is dit joune? Die man haal sy skouers op en kyk weg. Siegfried draai die dun metaalskyf heen en weer. Dalk is dit ’n soort medalje wat hier te lande gemunt word. Hy sit dit in sy sak, sy eerste aandenking van sy avontuur in Afrika.

    Die sersant van vroeër verskyn langs die trein en roep: Die vakansie is verby, manne. Klim aan boord. Maak gou!

    Siegfried kom eerste op die been. Rondom hom staan manne steunend op, strek en gaap. Die trein is kleiner as wat hulle by die huis het, getrek deur twee eienaardige lokomotiefies wat rug aan rug gekoppel is, sodat een masjinis en stoker albei kan dryf. Siegfried maak een van die treinwa se smal deurtjies oop en klim in.

    Die wa het houtbankies waarop mense rug aan rug en knie teen knie sit, pale hier en daar wat die dak op hou. Hy kies ’n plek langs die venster wat vorentoe kyk. Hy wil hierdie nuwe land waarneem waarin hulle hul begeef. Hy skuif sy rugsak onder die sitplek in, gaan sit en skop sy hakke teen sy bagasie. Sy geweerkolf is tussen sy voete, die voorgreep teen sy dy.

    Ander manne verskyn by die deur, loer in en loop weg, soek na hulle vriende. Siegfried hou hulle dop, wonder wie eerste by hom gaan kom aansluit. Die trein raak rumoeriger, eers met die geklater van stewels en geweerkolwe, dan stemme. Teen die tyd dat almal aan boord is, is daar nog niemand op die bank langs of regoor hom nie. Te hel met hulle, besluit Siegfried vir die soveelste keer. Hy sal sy bene kan rek. Oor ’n paar uur, as die hitte en bekrompenheid hulle tol begin eis, sal dié wat nie by hom wou sit nie spyt wees.

    Hy leun vorentoe om die deur toe te maak, net vir iemand om dit weer oop te ruk. Daar staan ’n langbeenman met ’n dik lyf, in ’n swart pak met ’n Homburg-hoed, knypbril en vierkantig geknipte baard. Siegfried het hom ’n paar keer op die Jeanette Woermann se agterdek gesien. Die burgerlikes het hulle nie veel aan die soldate gesteur nie, en hierdie een glad nie.

    * * *

    So kort na sy vorige teleurstellings, dié wat hom al sedert kindsbeen teister, is dit meer as wat Albert Pitzer kan verduur toe hy die soldaat op sy sitplek sien. Het jy nie die kennisgewing gesien nie?

    Die bleek pikkie kyk hom met openlike belangstelling aan, die ene onskuld in daardie bruin oë. Watter kennisgewing?

    "Die een op die deur wat sê Reserviert." Pitzer swaai die deur aan sy skarniere om die woord te wys, net ingeval die idioot wil argumenteer.

    Ek het gedog dis bespreek vir … vir ons.

    Wel, dit is nie. Uit is jy. Raus!

    Ek sien nie wat die probleem is nie, hier’s genoeg plek.

    Die bank oorkant die soldaat is inderdaad leeg, en daar sal ook plek vir iemand wees om langs hom te sit as hy opskuif, maar Pitzer hou nie van mense naby hom nie. Ek het al my toerusting. Die portiere wat sy twee trommels en vier kleiner kissies nader gedra het, staan agter hom, elk met sy vrag by sy voete.

    Wat’s fout hier? ’n Wit spoorwegbeampte kom aangestap met ’n stapel papiere teen sy bors gedruk. Sy middelpaadjie eggo die vorm van sy wasgesmeerde snor.

    Hierdie banke is vir burgerlikes bedoel, herinner Pitzer die spoorwegman.

    Die trein is vol, sê die beampte.

    Maar my toerusting …

    Die goederewa is vol. Alles wat nie inpas nie, sal op môre se trein moet gaan. Ons moet hierdie soldate in die veld kry. As jy wil, kan jy wag.

    Die hawe is vol skepe, vol manne en goed wat by die protektoraat instroom, en hy gaan tien teen

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1