Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Duiwelskloof
Duiwelskloof
Duiwelskloof
Ebook511 pages7 hours

Duiwelskloof

Rating: 3.5 out of 5 stars

3.5/5

()

Read preview

About this ebook

In die ontoeganklike Duiwelskloof in die Swartberge van die Klein Karoo het ’n verdwaalde groep Voortrekkers onder leiding van die befoeterde patriarg Lukas Lermiet, die Siener, hulle gaan vestig. Vandag, ’n eeu en ’n half later, bring ’n knellende droogte die skrikwekkende gevolge van dié oer-Afrikaanse gemeenskappie se isolasie en inteelt tot ’n uitbarsting. Die katalisator is die gehawende joernalis Flip Lochner – ’n vuil-uil met ’n mislukte huwelik, ’n mislukte loopbaan en ’n mislukte lewe agter hom – wat van buite inkom om die Duiwelskloof se geskiedenis op te skryf en verseil raak tussen die plek se mense, die donker geheim wat die gemeenskap so naarstig probeer bewaar, en al die stories wat hulle daar rondom versin. Oor ’n man wat sewentien kinders op sy teenstander se graf verwek het. ’n Vrou wat met volmaan in ’n bokooi verander. ’n Swerwer wat die Duisternis van Egipteland in ’n boksie teruggebring het. ’n Man wat deur ’n swerm voëls hemel toe getrek is. ’n Meisie met vier borste . . . En daar is die mense van vandag: Soon Heilig wat die koolkoppe in hulle verdoemenis in preek, Smeed Smit wat probeer om ’n nagmerrie te beslaan, Ouma Liesbet Pruim wat met haar trommeltjie op die dak sit en wag dat die Here haar moet kom haal, Hans Toordenaar met sy gevaarlike gawe oor ander se lewens, Tant Poppie Vollemaan met haar rate vir enigiets behalwe die dood, Henta Voorperske met haar swerm nimfies wat saans kaal in die bloekombos dans. En dan die raaiselagtige Emma wie se lewe met Flip Lochner s’n deurmekaar raak, met gevolge wat niemand kon voorsien nie.Onbeteuelde humor, ’n onheilspellende opbou van bose magte, ’n wemeling van stories, ’n allegorie oor die ontstaan van geskiedenis, ’n hellevaart, ’n besinning oor die Suid-Afrika van gister en vandag, ’n beurtelings makabere en uitbundige spel van die verbeelding . . . dit alles is Duiwelskloof.  Die roman is in 1999 bekroon met die W.A Hofmeyrprys.
LanguageAfrikaans
Release dateFeb 8, 2005
ISBN9780798158640
Duiwelskloof

Read more from André P Brink

Related to Duiwelskloof

Related ebooks

Related articles

Reviews for Duiwelskloof

Rating: 3.5517240689655174 out of 5 stars
3.5/5

29 ratings1 review

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

  • Rating: 3 out of 5 stars
    3/5
    Odd...but intriguing. I kept wanting to read to find out more about this crazy plot.

Book preview

Duiwelskloof - André P Brink

title.jpg

ROMAN

In Memoriam

JOHN BLACKWELL

As ’n man sterf

dan brand ’n biblioteek af

– Afrika-spreekwoord

NOTA

Dis waar dat die Duiwelskloof in hierdie roman nie sou bestaan het as Gamkaskloof se Hel nie daar was nie. Maar die verhouding tussen die twee is ingewikkeld. Dis moontlik dat Die Hel soos die Duiwelskloof sou kon gewees het as die buitewêreld nooit daartoe toegang gekry het nie. Maar eintlik is die verskil nog groter, want op stuk van sake lê Die Hel in die Swartberge, terwyl die Duiwelskloof, sy inwoners en sy geskiedenis uitsluitlik in hierdie boek bestaan.

Vir die dagboekpassasies in die laaste deel van die hoofstuk getitel Hartseer weduwee het ek opnuut dankbaar gebruik gemaak van die joernale van Susanna Smit soos opgeteken in Carli Coetzee se Writing the South African Landscape.

Verskeie van die Duiwelskloof se stories gaan terug na ou Boere- en Khoisanvertellings. ’n Paar episodes uit Hans Toordenaar se lewe word met erkenning aan Katinka Heyns gebruik.

The universe is made of stories, not of atoms

– Muriel Rukeyser

Most journalists are restless voyeurs who see the warts on the world, the imperfections in people and places . . . Gloom is their game, the spectacle their passion, normality their nemesis

– Gay Talese

Een

WEET EK MOS

Ek had hier gesit wag vir jou, het die ou man gesê, sonder om na my toe om te kyk.

Die kaalgat skok van sy woorde. Bietjie suurbek, asof daar vir my rede was om skuldig te voel, het ek die donnerse sak op my rug verskuif. Op ’n afstand het ek die ou nommer al gesien sit, so vaal soos die gras. Ek het suutjies teen die helling afgekom, van heel bleddie bo af waar die four-by-four my afgelaai het, nie ’n klip het ek losgetrap op my steil skuins pad af hier na die troppie boerbokke toe nie, daar was wat my betref glad g’n geluid om die oubaas te waarsku nie, en met die son van regs bo val my skaduwee heel diékant toe: maar hier sit die maer ou bliksem op sy rif, outydserig in sy velbroek en onderbaadjie, met die flapperige breërandhoed op sy kop, gatkant na my toe, gesig ver weg aan die uitstaar oor die lengte van die diep kloof, en hy sê so wragtig, asof hy my fokken heelpad gesit en dophou het. Ek had hier gesit wag vir jou.

Ek het my hand uitgesteek. Flip Lochner, Oom.

Ja, weet ek mos. Die ou fokker het nog altyd anderpad gesit en kyk, en ek moes maar weer bekaf my hand laat sak. Jy kom ver so in die sneeu.

Om ons het die bergwêreld gelê en stowe in die laatsomerwarmte. Bleddie bakoond. Ek het met ’n hempsmou sweet afgevee. Sneeu, Oom? het ek katvoet gevra.

Ja, het jy nie gesien hoe wit lê die berge nie?

Beter maar diplomaties wees: Ek kan my indink hoe koud dit hier in die winter moet word.

Die hele lot verkluim.

Hy het sy velbaadjie stywer om sy seninglyf getrek asof hy die koue kon voel. Moers oud het hy gelyk, maar baie regop, meerkat-voor-gat, soort van patriargaal, sy onstuimige grys baard gevlek van twaksop soos ’n graspol waarteen jy lank gepis het, die mond ingeval, tandeloos aan die herkou. Kompleet ’n ding wat iemand op ’n rak vergeet het, ver verby sy sell-by tyd.

Duiwelskloof

En is dit nou die Duiwelskloof daar onder? vra ek maar naderhand, bietjie orig.

Hoe lyk dit vir jou?

Meer na die Paradys.

’n Teësinnige gromgeluid in sy keel wat sy adamsappel laat spring. Dan darem so ’n snarsie inskikliker: Ons het altyd gesê Adam en Eva moet hier gewoon het. Voor die Here hom vir hulle geërg het. En toe las hy soos ’n nagedagte by, nog steeds te bekak om na my te kyk: Die naam is Lermiet. Lukas Lermiet.

Dis nie die soort naam wat mens aldag hoor of waarmee jy jou misgis as jy dit een keer teëgekom het nie. Ek kon my kwalik inhou: Maar dis mos die stamnaam!

Nou wat anders verwag jy? vra die ou man korstelig. Sy stem is arig, skor, soos ’n geritsel van droë grassate; die aksent het iets Hollandserigs.

Nee, ek bedoel maar net . . . Ek probeer my rede agtermekaar kry. Die heel eerste intrekker hier in die kloof in – wanneer was dit? agtien-agt-en-dertig – dié was mos ook ’n Lukas Lermiet. Lukas Siener het hulle hom genoem. En al die tyd van toe af, meer as ’n eeu en ’n half was daar omtrent g’n taal of tyding van sy mense nie. Tot nou die dag, in Stellenbosch, toe’t ek weer . . .

Is dit hoekom jy hier is? Om van ons te kom uitvind? Ons pla niemand, ons lewe goed hier. Vir die eerste keer kyk die ou man na my. Dis ’n kyk wat jou poephol helder oordag laat tuit: vaalblou ogies onder befokte grys wenkbroue, pêrelrig, asof hy eintlik afwesig is. Maar wat my heel uit rat uit gooi, is dat dit so dubbelsinnig is. Ek meen, eenkant lyk dit asof hy niks in my miskyk nie – alles wat al tot hier met my gebeur het, al die kak wat ek opgetel het en wat my seker op ’n manier voorberei het op dié trip, al my hardegattigheid en twyfel, al die agendas daaragter, selfs dié wat ek nog nie vir myself uitgeklaar het nie. Anderkant is dit asof hy dwarsdéúr my kyk, asof ek nie daar is om die kyk te keer nie, eenkant in en anderkant uit, asof ek ’n glas is waardeur hy kyk na alles in die landskap wat al langer as ek of hy daar is: die ry op ry kranse en rûens onder die lug sonder einde, die hange wat ondertoe padgee, af na die smal lang kloof heel onder. So fokken woes en leeg soos dit in God-en-Genesis se tyd moet gewees het.

Dis ’n stuk geskiedenis wat nog nooit behoorlik opgeskryf is nie, Oom, probeer ek.

En dan seker met rede. Vir wat wil dit opgeskrywe word?

Dat mens darem kan weet.

Sê wie?

Ek moet probeer om hom te soft-soap: Ek belowe Oom ek wil niemand aanstoot gee nie . . .

Die outoppie skraap sy keel en spoeg ’n groen slymstreep vlak by my gesig verby.

’n Skielike ding

Ek het Klein-Lukas Lermiet in Stellenbosch ontmoet, gooi ek weer ’n stukkie aas uit.

G’n antwoord nie. Die ou sit daar soos ’n fokken uil op ’n fokken kluit.

Op die dag van sy dood was ek op pad na hom toe, dwing ek verder. In dié kontrei is dit dalk my enigste aanspraak op aandag.

Maar daar kom nog steeds g’n weerwoord nie; ek weet nie eens of die ou my gehoor het nie.

Ek het gevoel ek skuld hom, sê ek. Ek meen nou, om hiernatoe te kom. Om sy mense te kom opsoek. Dit was so ’n lelike ding.

Klein-Lukas had geloop wei waar hy nie gehoort het nie. Hy had g’n reg om oor ons uit te praat nie, kap die oubaas onverwags terug. Hy’t gekry wat hom toekom.

Oom? vra ek.

Stilte van sy kant.

Ek neem aan hy was familie van Oom? Dieselfde naam en alles.

Dit hoort nie in jou apteek nie, bits hy.

Nou ja . . . Ek weet wanneer daar niks verder uit ’n klip te tap is nie. Ek het darem gedink ek moet kom kyk.

Oopoë

Jy kan nog altyd troei, sê Oom Lukas in sy skurerige stem, so sag dat mens nie seker kan wees hy’t wel gepraat nie. En as ek jou vandag kan raad gee, Neef, dan draai jy nou om solank jy nog kan. As jy eers jou twee voete daar onder loop neersit het, word dit maklik te laat.

Nee, Oom, so ’n kans kan ek nie laat verbygaan nie. Ek wag al te lank daarvoor. En vandat ek met Klein-Lukas gepraat het . . .

Dan gaat jy daar oopoë in.

Woorde wat ek wel weer later, té laat, sou onthou.

As dit nie pla nie, kan ek sommer saam met Oom afstap as Oom huis toe gaan.

Dan sal jy lank wag.

Oom woon tog seker daar onder in die Kloof?

Dis nie te sê nie.

Nou verstaan ek glad nie.

Dis jou katkisasie. Hy bly by homself sit en brom. Naderhand sê hy net: As jy wil af, moet jy op jou eige bene loop.

As Oom my dalk die pad kan beduie.

Hy snuif, en ’n ruk lyk dit of ek niks verder uit hom gaan kry nie. Dan lig hy sy kierie voor hom uit. Jy loop hier oor die glykte tot by die poort daar: daar gaan jy tussen die twee lang klippers deur. Net daar anderkant kan jy maar wag. Jy sal wel die pad gewys word, en onder sal Lukas Dood jou oorvat. Jy kan by Poppie Vollemaan loop bly. Ek het hulle al die wete gegee.

Maar hoe kon Oom geweet het? Ek het met niemand daaroor gepraat nie.

Sonder om hom aan my vraag te steur, hervat hy: Dis te sê as jy nou doodseker is dis wat jy wil.

Ek is seker, Oom.

Nou toe, kry jou rieme. Jy moet net fyn trap in die sneeu. Ons sal weer praat.

Ek het my duime onder die rugsak se straps ingehaak en huiwerig begin koers kry volgens die oubaas se beduie. Almal het my gewaarsku: as jy die pad hier af nie ken nie, kan dit jou dae kos om onder in die kloof te kom. As jy dit maak. Meer as een klimmer uit die buitewêreld het hom al hier vrek geval – en dit was manne wat hulle klim ken, nie mense wie se gestelle opgedonner is deur jarre van te veel rook, te veel drink, te veel fokken alles nie. En kon ek my regtig verlaat op die woord van ’n horingou bal wie se kop duidelik al begin aankap het?

Die Here se ouma

Voor my, ondertoe, het die lengte van Duiwelskloof gelê soos dit in die voortyd daar in die aardkors oopgeskeur moet gewees het. Ongoddelike kranse weerskant, met riwwe en lae in rooi en oranje, bruin, skimmelgrys en swart, wat deur fokken onvoorspelbare kragte uit hul horisontale lêplekke gebeur is: party lê nou skuins, ander boggel op en neer, nog ander is heeltemal vertikaal opgeruk. Die soort landskap wat ’n man soos ’n bleddie mier laat voel. Asof die aarde self hier in ’n voordagslaap gewoel het voor dit kom regop sit het, met vaak nog in die oë. En heel onder, daardie vrugbare diep skeur half weggesteek agter donker ruigtes. Die soort view wat ’n vuil uil aanspreek.

Dis asof ek, hier, vandag, die eerste mens is wat sy spoor hier trap. Ek kan verstaan hoe die oorspronklike Lukas Lermiet moet gevoel het, die jags gevoel van elke eerste man: dat alles wat hier voor jou lê, wag om verower te word. Ek en my tape recorder en my kamera, hier kom ons.

In die moerse kransmuur voor my was daar net een deurkomplek. Dit sou dan die poort wees waarvan die befokte ou nommer gepraat het. Die twee helse rotsblokke wat hy daar bo van sy sitplek af uitgewys het, was grys geskimmel aan die buitekant, maar waar die kors weggebrokkel het, kon mens ’n diep vlamrooi aan die binnekant sien. Net duskant hulle het ek eers weer gaan staan om terug te kyk. Honderd tree hoër op kon ek die ou man nog altyd op sy klip tussen die trop bont boerbokke sien sit, sonder om te roer, asof hy uit ou hout gekerf was, verweer deur wind en son, water, weerlig. En maer, net ’n nerfie mens, ouer as die Here se ouma.

FAMEUSE VRUG

My tyd raak min. Hier van waar ek vanmôre sit, net buite sig van die strooisel kalkwit huisies en die logge klipkerk, kyk ek uit oor die verbrande berghang. Dis swaar om te glo hoeveel gebeur het in die tyd dat ek hier was, hoeveel nou verby is. Diep uit die Duiwelskloof, soos Jona op sy dag uit die bleddie buik van die vis, moet ek probeer uitroep. Wie kan hoor? Niemand, miskien. Maar ek moet die kans vat. Ek het g’n ander keuse nie. Die dag toe ek hier ingekom het, toe ek daar bo tussen Oom Lukas se twee rotsblokke deur is – bespikkel van korsmos, voëlmis, dassiepis, die stront van bobbejane, stuifmeel aangewaai deur die wind – toe het dit alles nog gewag om te gebeur. Maar op ’n manier was dit klaar gegewe. Die ou het my gewaarsku, maar hoe kon ek toe geweet het wat hy bedoel? So iets kom altyd te laat. Mens raak voorberei op die gevare wat verby is, wat jy al ken, nooit op die onbekende nie. En destyds was álles nog onbekend.

Sou ek toe, daardie dag, teruggedraai het as ek vooruit kon sien wat ek nou weet? Dit sou soveel bespaar het. Vir my, vir Emma, vir almal in die Duiwelskloof. Al die geweld van seerkry, agterdog, intrige, wrok, herinnering, bloed, verraad, verbrande aarde. Alles waarmee ek nou kennis – of bedenkliker, waarheid – probeer spel. Maar ek het ’n sterk vermoede dat ek tóg sou deurgedruk het. Sou Adam sy vrou se fameuse vrug – appel, appelkoos, veselperske of mikvy – van die hand gewys het as hy vooruit geweet het? Se moer. Ons neuk maar in en aan. Dis in ons aard.

En nou sit ek met al wat nog oorbly: hierdie nood om te vertel terwyl die tyd min word.

Koggelstories

Die probleem is dat ek geen sekerheid het oor wat ek weet nie. Getuienisse, verklarings, of uiteindelik net ’n donnerse hand vol versinsels? ’n Man wat sy hele lewe daaraan gespandeer het om te leer vlieg. ’n Vrou wat haar man se kop met ’n ysterpen in die grond vasgekap het. ’n Woeste bliksem wat ’n vrou op haar man se graf gevat het en sewentien kinders uit haar losgesteek het. ’n Heks wat met volmaan in ’n wit bok verander. ’n Meisie wat haar pa se lewe met haar lyf losgekoop het. Dooies en lewendes wat saam Nuwejaarsfees hou. En nog, en nog, pluime in die wind, weerlig in die weste. Sonder substansie, alles: koggelstories. Hoe gaan ek daaruit sin gemaak kry? Dís wat my nie met rus wil laat nie. Veral nou, met die tyd wat min word.

Toe ek hier aangekom het, daardie dag toe die ou fokker my bo teen die lip van die skeur in die berge ingewag het, toe was ek nog so oortuig dat alles gaan uitwerk. En met dié dat hy sê sy naam is Lukas Lermiet, was dit soos ’n teken dat ek op die regte spoor is. Okay, ek was desperaat om naasteby enigiets as ’n bleddie teken te lees. Want wat agter die rug was, was nie plesierig om aan te dink nie: nege-en-vyftig jaar oud, ’n vrou weggeloop met iemand anders, twee kinders wat my onder die gat geskop het, die sieldodende job by die koerant, al my juniors lankal by my verby op pad boontoe, ’n royal fokop van ’n lewe. Met net die een voorneme, so-help-my-God: nou is dit alles of niks, dis double of quits, dié keer vat ek my kans, ter wille van die rot wat weer knaag, die donnerse ou droom wat ek gedink het lankal gaan lê het. In iemand anders se boek sou so ’n droom seker maar fokken sad gelyk het, maar vir my was dit ambisieus genoeg. Miskien het ek dit nog in my. En ek meen, dit was nie of ek soos in my groener dae nog hemel of aarde wou beweeg nie. Ek wou nie die wêreld hervorm of iets teen tyd of ewigheid tot stand bring nie. Net ’n stukkie geskiedenis kom skryf, have a heart. Iets wat vas en seker op sy pote staan. Iets anders as die daaglikse nuus. Van ons misdaadverslaggewer. Jisses, ek meen, op nege-en-vyftig. Smôrens in die gebarste spieël: die man met die bruingerookte vingers, pers spinnerak oor neus en wange, oë bloedbelope, stoppelbaard, lewervlekke, gogga maak vir baba bang. Dis dan nou die man wat vir my deurgaan. Ek, Flip Lochner. ’n Sorry sight, kom ons sê dit reguit. Maar ek was nie altyd so nie, die Here hoor my.

INGEKRUIP

Die eerste keer wat ek van die Duiwelskloof se bestaan bewus geraak het, was dertig jaar terug. My jare van onskuld, toe daar nog soveel was wat ek vir die eerste keer kon doen. En ek het nog styl gehad. In my lewe, en in wat ek op papier gesit het. Daar was mense wat gereken het ek gaan nog ’n skrywer word. Ek was toe nog onderwyser, besiel met heelwat ambisie en nog meer illusies, en ek het begin regsit om ’n tesis te skryf. Geskiedenis, wat anders? Dit was after all my beste vak. En dit moes iets wees wat nie sommer op ’n fokken rak sou lê en opstof nie, no way. Anders as die temas waarop party van my tydgenote op universiteit naam gemaak het: Elektrolise in die ingewande van die erdwurm – Die dieet van Duitse matrose op skepe van die VOC in die tweede helfte van die sewentiende eeu – Kriteria van smaak en sappigheid in die gradering van beesvleis. Nie vir my nie, dankie. Myne moes anders wees. Ek wou ’n fokken Bydrae lewer. Onder meer om af te reken met Tone van Tonder wat van my eerste jaar af die man was wat in Geskiedenis met al die bleddie onderskeidings weggeloop het. Ek moes van kleins af my gat af werk om êrens uit te kom; hy’t dit in sy stride gevat. Sy pa ’n professor, myne ’n shunter op die railways. Ek meen, hulle huis het dik gestaan met soeweniers van Europese trips; ons enigste uitstalstuk was ’n donnerse bal-en-klou-radiogram waarop Pa naweke sy plate van Chris Blignaut en die Briels kon speel.

Ek het die fotoalbums uit Tone se kinderjare gesien, ’n skytjie-fyn sou Pa hom noem. Ek self het kaalvoet grootgeword, jaarin en jaaruit. Die gatdorpie in die Vrystaat, waar die snot winters op jou bolip verys, te voet van die stasie af skool toe smôrens. Ek kla nie. Ek vat soos ’n man wat na my kant toe kom. Maar ek wil net sê van Tone van Tonder. Wat sy naam gekry het oor hy so diep in die dosente se gatte ingekruip was dat net sy tone uitgesteek het. Met M.A. in die sakkie, toe staan ons kop aan kop vir die vakante junior lektoraat in die departement. Maar Tone is ’n gladde man, ek is harig. En van Jakob en Esau se tyd af is die dice gelaai teen ons met die hare. Hy het die pos gekry; ek het gaan skoolhou.

Oog uit sy saad

Toe hoor ek eendag die storie van ’n trekparty in die Groot Trek wat weggeswenk het van die ander spul en in die Swartberge in geneuk het. Hier gelees, daar gelees, Argief toe een lang vakansie; en uiteindelik ’n vers en kapittel gekry oor Lukas (Siener) Lermiet wat in 1838 saam met Gert Maritz uit Graaff-Reinet weg is. Wat my eerste geslaan het, was die ongewone naam. Toe ek later in die Argief gaan snuffel, het ek afgekom op ’n enkele Luc l’Hermite wat in 1688 saam met die Hugenote op die Voorschoten uitgekom het, en miskien was hy die stamvader? Maar tussen dié l’Hermite en my Lermiet was daar heelwat leemtes en oop gate, en mens sou eers die aangenaaide kreukels uit die linie gestryk moes kry voor jy enigiets vir seker kon sê. ’n Oulike gedagte, anyway. Intussen het my voorlopige bietjie speurwerk my wel die snuf in die neus gegee dat daar g’n niks so danig vroom omtrent Monsieur l’Hermite was nie. Dat hy bes moontlik in die buurt van La Rochelle gesoek was vir moord en onder die dekmantel van godsdiens uitgewyk het Kaap toe, waar hy goed onder die oog uit sy saad tussen die distels en dorings kon loop saai. En moontlik het Lukas Lermiet dan toe ’n eeu en ’n half later tussen die kliprantjies van die binneland begin blom. Alles nog kaal-tet vir die navorser wat sy twee hande daarop kan kry.

Hoe dit sy, Lukas Lermiet is toe saam met Maritz uit Graaff-Reinet weg, maar dit klink of hy baie gou stry gekry het met die ou suurpoes Erasmus Smit en saam met ’n paar medebeswaardes sy eie aparte koers gevat het. Suidoos, in die Swartberge in, glo volgens ’n gesig wat hy gesien het. Soos wat oudoos-seemanskaarte streke van Afrika aangedui het met die woorde Hic sunt liones, is daar ou kaarte van die binneland wat nog tot in daardie tyd by dié berge vermeld het: Hier zijn duvelen. Vandaar, vermoedelik, die naam Duiwelskloof.

Skraps verwysings

Van Lukas Lermiet en sy trek en hulle afstammelinge was dit die laaste sien en hoor in die Argief. Behalwe ’n paar skraps verwysings uit later jare, met groot tussenposes. ’n Goewermentsagent wat in die vroeë 1890’s afgevaardig is om jaargeld of belasting of sulke kak in die Duiwelskloof te gaan vorder van die mense wat so huidjie en muidjie daarin verdwyn het; maar hy is uit sy klere gedop en kaalgat oor die berge teruggeja. Waarop ’n hele gewapende kommando al die pad van die Kaap af uitgestuur is om die eer van Haar Majesteit se fokken gesant te gaan wreek. Weer leë hande, lyk dit, want g’n haan het daaroor gekraai nie en kort daarna het die Boereoorlog die mense ander prioriteite gegee om hulle mee besig te hou.

Uit 1914 se Rebellie was daar ’n optekening oor ’n paar burgers wat glo daar loop wegkruip het teen regeringstroepe en nooit weer teruggekom het nie. In die Tweede Wêreldoorlog is ’n paar OB-manne ook volgens hoorsê daar in, onder die oë van Smuts se offisiere uit; en die lyke van twee van die polisie wat hulle probeer agternasit het, is daarna in die berge gekry. Hulle vermoedelik vrek geval teen die kranse af. Maar ook dié keer kon niemand ooit agter die kap van die byl kom nie.

Na die oorlog het mense uit die Duiwelskloof af en toe in die buitewêreld opgeduik en ’n legende oor ’n gemeenskap van agterlikes en ingeteeldes het begin posvat. Êrens in die jare vyftigs is ’n span sensusopnemers uitgestuur om die Duiwelskloof se inwoners op kaart te kry, maar hulle het tussen neus en ore verdwyn. ’n Paar konstabels is op soek gestuur, maar hulle het sonder taal of tyding teruggekom. Later jare het die Universiteit van Stellenbosch ’n paar antropoloë en sosioloë en ander -oë uitgestuur op ’n navorsingsprojek, maar hulle het nes die agent van vanslewe letterlik kaalgat daar uitgekom. Toe was daar ook nie meer geld vir verdere navorsing nie, want die regering het begin besnoei. Ou storie.

Intrigerend genoeg, sou ek reken. Maar my aangewese promotor wou nie byt nie. Te min om die lyf, kies liewers iets anders. Wat van die Ontwikkeling van ’n Volkseie Karakter (alt. ’n Christelik-Nasionale Bewussyn) onder die Voortrekkers, 1836-1843? Ek sou dalk tog nog my eie donnerse kop gevolg het, maar dit was ook die tyd toe Sylvia op die toneel verskyn het en my en Tone van Tonder teen mekaar begin afspeel het; en as ek my toe vir ’n maand of meer uit die voete moes maak om eerstehands in die Duiwelskloof te gaan navorsing doen, dan was daar min twyfel dat hy hom agter my rug so diep in háár duiwelsklofie sou ingebed het dat daar weer net tone te sien sou wees. Daarmee het die projek gesneuwel. Net voorlopig, het ek my voorgeneem: elke mens het mos ’n rot in sy binneste, ’n rot wat bly knaag en knaag en wat jy moet voer as jy aan die lewe wil bly, anders vreet hy jou op. En die Duiwelskloof was my rot. Voer sou ek hom nog fokken voer. Maar vir dertig jaar het niks meer daarvan gekom nie, en uiteindelik was daar anyway nie meer ’n watwonderse binneste in my oor nie.

Kom rooi uit

Dis te sê totdat Klein-Lukas Lermiet ’n klompie maande gelede op my horison verskyn het. Die geleentheid was ’n daglange seminaar in Stellenbosch oor iets soos Geskiedenis en verslaggewing. Geopen deur Professor Doktor Hardus (Tone) van Tonder, D.Litt. et Phil., K.A.K., Departementshoof Geskiedenis, Dekaan van Lettere en Wysbegeerte, en tewens ook Ondervoorsitter van die Akademie. Dat ek daar beland het, in ’n besprekingsgroep oor Investigative Journalism, was óf louter toeval óf lotsbestemming, afhangende van die paradigma, soos dit heet, waarin mens jou bevind. Ons redakteur is verhinder deur ’n belangrike ondersoek wat al sy aandag nodig gehad het (iets in verband met sy vrou), die nuusredakteur moes elders wees (hy het ’n vriend met ’n losie by Nuweland), twee ander wat genader is, was nie beskikbaar nie, en desgevolglik is die uwe, halfpad teen die pecking order af, ter elfder ure afgevaardig.

Dié soort seminaar is nie my lyn nie. Hét ek nog ’n lyn? Ek weet lankal nie meer wat soek ek in die joernalistiek nie. Die sinisme vlek ’n mens soos nikotien. Daar was ’n tyd . . . vergeet dit. Kompromie is die naam van die game, tot jy jou selfrespek soos die laaste bietjie ou suur kots van ’n babbelas in jou keelgat afsluk. Selfs in die jare tagtig was daar nog ’n paar keer dat ek in ’n vlaag outydse romantiek gedink het ek het ’n rol. Ek meen, jy gaan op ’n storie uit na Old Crossroads of KTC, jy staan by waar polisie huise aan die brand steek oor die mense nie wil trek na die swart kol by Khayelitsha nie; jy sien ’n kind wat vir sy ma gaan brood koop het, op ’n hoek staan om te kyk wat gebeur, en hoe wit cops in ’n geel polisievan op hom afpyl en hom platry, en hoe een uitspring en hom op ’n afstand van twee tree in die kop skiet. Dan gaan jy terug kantoor toe en skryf jou storie en gee dit vir die nuusredakteur wat tien jaar jonger as jy is en hy trek rooi strepe deur driekwart daarvan en sê jy moet oorskryf. Enigiets wat jy vir daardie kont gee, is soos ’n fokken Tampax: hy gaan wit in en kom rooi uit. En as jy moan, dan wip hy sy stywe poephol en hy skeur die paar velle voor jou middeldeur. Jy wil protesteer. Hy kyk jou in die oë en vra: Wat probeer jy doen, Lochner? Jy sê: Ek was dáár, meneer. Hy sê: Vir jou informasie, dit het nie gebeur nie. En nadat die scene hom drie keer herhaal het, dan probeer jy nie weer nie. Jy kan ook nie bedank nie, want poste is so skaars soos bliksemse hoendertande en jy’t ’n vrou wat by vriendinne moet uithang en twee kinders op universiteit, so don’t rock the boat, boetie. Jy kyk by jouself verby smôrens voor die spieël as jy skeer, jy maak of jy nie daar is nie. Jy voel soos ’n hoer wat wil retire, maar sy’t klaar AIDS en al waarop sy nog kan hoop, is om darem nog ’n paar mans aan te steek voor sy aftjop.

Fokken simposium

En dan het hulle die bleddie cheek om jou op ’n Saterdag, as jy aan jou Cortina kon gewerk het, en rugby kon geluister het, af te vaardig na ’n fokken simposium oor Investigative Journalism. Kyk, as dit dan moet, vra my oor misdaadstatistiek, dis my kos. Verlede jaar: on average drie moorde elke uur, elke twaalf minute ’n rape (of, volgens sommige projeksies wat in aanmerking neem dat net een uit elke vyf-en-dertig aangemeld word, dan een elke twintig sekondes), ’n gewapende roof elke vyf minute, ’n geval van kindermolestering elke tien minute (maar natuurlik, nog minder as dié gevalle word gerapporteer as rape); en dit dag na dag, sewe dae per week, twee-en-vyftig weke per jaar, right? Soos Alan Paton gesê het: Ah but your fucking land is beautiful. En ons het nog altyd vir Mandela. Maar goed: ek sê, vra my oor sulke dinge en dis in my klas. Maar bly uit my uit met berade en konferensies en dié soort van dinge. Wat kan jy doen? Jy gaan. Dis wat jy kan doen.

In ’n hoek

Kak op hoë vlak, ’n goddelike môre en middag lank. Daarna is die groter kokkedore na ’n onthaal by die rektor se huis, terwyl ek en ’n paar ander dose van my portuur saam met ’n groep studente in ’n pub beland het.

Ek kom kry my in ’n hoek, ’n plek wat nie aan my vreemd is nie; en teen die vierde of vyfde ronde, toe ek al goed op punte voor is, kom daar so ’n beskimmelde jong lat by my sit. Klein-Lukas Lermiet, het die naam na die tweede of derde probeerslag by my gevat. So senuweeagtig soos ’n jong hond wat nie weet of hy gestreel of gebliksem gaan word nie. Nogal ’n intelligente, skraal gesig, maar die oë soos ’n padda s’n agter donnerse dik brilglase. Daarby het hy liggies geha-hakkel. Die soort jonkman van die gemeente wat mens laat hoop ’n losgat girl wil hom ’n slag uit sy steë uit naai sodat hy in ’n fokken prins kan verander.

Hy was duidelik nie sterk op praat nie; en ek self was, sal ons sê, in myself gekeer. Dit was ’n week nadat Sylvia vir my die briefie (met twee typo’s) gelos het en altwee die kinders gebel het net om seker te maak ek weet dis alles my fokken skuld; en ’n behoefte aan gesels met ’n brillerige tiep was nie juis hoog op my lys van prioriteite nie.

Daar was iets wat M-Meneer vanoggend gesê het . . . het Klein-Lukas Lermiet begin.

Nou, daar is min mense wat my Meneer noem; en my bydrae tot die oggend se diskussie, het ek donners goed geweet, was ’n pot stront. Daarom was daar heelwat leepoog-agterdog vermeng met my geveinsde nuuskierigheid.

. . . oor die D-Duiwelskloof in die Swartberge.

Ek kon my vaagweg iets in dié lyn herinner, ja. ’n Opmerking oor terreine vir ondersoek wat nog braak lê.

Ek is ’n b-boorling.

In my diepste derms het ek ’n ding voel roer; die ou rot het weer begin knaag.

Klein-Lukas Lermiet was die eerste inwoner van die Duiwelskloof wat ek ooit in lewende lywe ontmoet het. As ek reg onthou wat hy my die aand vertel het, het ’n ou smous of ’n ding vir hom boeke aangedra voordat hy met baie flikflooi en harde werk toestemming kon kry om buitekant te gaan studeer. Af en toe, voor hom, het ’n skrander kind uit die Duiwelskloof wel buite gaan leer, maar altyd net tot standerd agt of matriek. Maar sover ek kon agterkom, was hy die eerste en enigste wat ooit universiteit toe is. Ek het wel afgelei dat al meer jongmense die afgelope paar dekades eenvoudig die pad gevat het en nie weer teruggekom het nie. Hoekom loop mens nie meer van hulle raak nie? Miskien dink niemand daaraan om te vra nie; miskien verkies die laities om nie te praat nie. Dit klink of die plek al byna ontvolk is, ten spyte van ’n tradisie van groot gesinne. Mens sien eintlik net nog die oues en die heel jonges, en natuurlik g-gebreklikes.

Het ek die klein nerd dertig jaar vroeër ontmoet, sou dit, wie weet, ’n verskil gemaak het, maar toe was hy nog nie eers ’n jeukplek in sy pa se balsak nie. Nou was dit bietjie aan die laat kant. Maar anyway, ons het aan die gesels geraak. Waarheid te sê, dit het so geil gegaan dat ons, nadat die pub later toegemaak het, na sy kamer verskuif het waar hy, van alle dinge, ’n bottel Obies uitgehaal het. Ek vat my whisky kaalgat soos hy van sy ma af kom, dis deel van die job description, maar Obies is my gat se deksel.

Been vergruis

Met die eerste stuk gesprek was ek nog by. Klein-Lukas het my vertel wat daar in die Duiwelskloof nog op te tel was oor die voorvader, die Siener. Oor die eerste aankoms bokant die skeur in die Swartberge. Die afhaal van die agterwiele en die stut van die waens op boomstompe en dragte takke om teen die afdraande te rem. Hoe die osse na die eerste dag verseg het om dit verder teen die afdraand te waag en Lukas Lermiet eers ingelê het met die sweep en daarna die span op die ry af geloop het met sy mes in die hand om hulle donnerse oë uit te steek. In plaas van te help, het dit alles vir goed opgefok. Die een wa na die ander wa het hom, met blinde osse en al, des moers geval teen die afgronde af. En hoe Lermiet se medetrekkers toe stuk-stuk begin gat-omgooi het, in dun toutjies terug oor die berge soos hulle gekom het, manne en vroue en kinders te voet, al hul besittings kwyt. Maar niemand het weer die buitewêreld lewendig gehaal nie. Dit was winter, ’n slegte sneeujaar, met kapok kniediep teen die hange. En wat daar gebeur het, is nêrens opgeteken nie: hulle moet gewoon in die storm verongeluk of verkluim het.

Siener Lermiet self het bleddie hardegat voortgeneuk. Hoe meer teëspoed daar was, hoe duideliker het hy sy lotsbestemming in die Duiwelskloof gesien. Op die end was net sy familie oor. Dag vir dag laer teen die bliksemse hellings af, in die kapok boonop. Een van sy seuns het ook gerebelleer, maar ou Lukas het hom met ’n stomp hout oor die kop gedonner en na ’n dag of twee is die kêrel dood. Toe het drie van sy ander seuns hom in sy slaap oorrompel en met rieme vasgemaak; daarna is hulle vort. Hulle moet ook verongeluk het, maar niemand het ooit hulle bleddie bene gekry nie. Lermiet se vrou, Mina, en ’n dogter en twee jong seuntjies was al wat by hom oorgebly het. Mina het begin soebat en mooipraat: kon hy dan nie rede verstaan nie? Hier soek hulle hulle dood, dis ’n duiwelskloof dié, dis die hel self wat voor hulle gaap. Lukas Lermiet het net een antwoord op teëpraat gehad. Hy het die kleingelowige vrou met sy strop deurgeloop en vir dood laat lê. Maar sy het tog weer op ’n manier reggekom. Daarna, gedwee van angs, is sy en die oorblywende paar kinders saam tot onder, waar die Siener die Beloofde Land gesien het.

Maar dit was nog net die begin van die ellende. Die ergste van die winter het nog voorgelê. Twee van die kinders is dood aan kroep. Mina was onkapabel in die naweë van die drag slae wat sy gekry het. En uiteindelik, sê hulle, sê Klein-Lukas, het die befokte ou patriarg toe darem ’n nuwe gesig gesien waarin die Here aan hom gesê het hy’t nou sy lemiet bereik, hy moet omdraai. Met die eerste tekens van die lente, kondig hy toe ewe geïnspireerd aan, kan hulle teruggaan Graaff-Reinet toe. Vir omtrent ’n maand het hulle pais ende vree geken, naasteby die enigste bietjie rustigheid in die familie se woelige lewe. Die weer het verbeter. Hulle het begin regmaak vir die terugtog. En toe, die voorlaaste dag, terwyl Lukas Lermiet bergop is om ’n bok te gaan skiet wat hy in ’n droom gesien het, het hy bokant ’n krans oor ’n los klip gestruikel en geval. Been in sy moer. Never mind dat hy nooit weer behoorlik sou kon loop nie: hy sou nooit weer die berg kon uit nie. Van toe af was die familie daartoe verdoem om in die Duiwelskloof te bly, tot in fokken lengte van dae.

Flardes en pluiens

Hiervandaan was daar, dié nag in Klein-Lukas se ou gat kamertjie met die bottel Obies tussen ons, nog baie ander stories. Maar van die res van ons gesprek het ek net ’n deur-die-pis herinnering oorgehad toe ek die volgende dag hoogdag in my huis in die Tuine wakker word. Bowendien het elke pynlike môre ander, erger sorge gebring. Die bleddie plek moes verkoop word, Sylvia het aangedring op aksie; voorlopig het ek nog bly vassteek, omdat ek eenvoudig nie kans gesien het vir agente en rondkykers met snoewerige kommentaar oor klam vlekke teen die mure, vertakte barste, los vloerteëls, doodsveragtende elektriese bedrading nie. Maar deur die puin van my wêreld en die swaar babbelas het ek tog nog los en vas flenters van die nag by Klein-Lukas oorgehou. Flardes en pluiens van stories. ’n Smous wat eksotiese ware van die donnerse uiteindes van die aardbol af aanbring. ’n Meisie met vier tieties, ek

Enjoying the preview?
Page 1 of 1