Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Glipstroom
Glipstroom
Glipstroom
Ebook361 pages5 hours

Glipstroom

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Maja moet probeer aanpas by die lewe in ’n padkamp in die Caprivi ná haar man, ’n ingenieur, daarheen verplaas word. Hul verhouding word vertroebel deur Louis se onvermoë om sy weermagervarings te verwerk en die spanning in die kamp, waar die druk van spertye en die klomp mans wat met hulself opgeskeep sit, soms hand uitruk. Maar Maja het ook ’n geheim wat sy vir Louis wegsteek. Slegs Phineas, die ou opsigter by die padkamp, weet iets daarvan, en in hom vind Maja ’n onverwagte vertroueling en vriend. Voor sy by Louis aangesluit het, het Maja dikwels weke alleen agtergebly in die Soutpansberg-omgewing waar hulle gewoon het. Dis in daardie alleentye wat sy ’n vriendskap aanknoop met Alex, ’n diepsinnige kunstenaar en die teenoorgestelde van die beneukte Louis. In die Caprivi is Maja dikwels op haarself aangewese en moet sy haar lewe en besluite in oënskou neem om haar pad vorentoe te vind.
LanguageAfrikaans
Release dateJun 30, 2014
ISBN9780798166270
Glipstroom
Author

Anemari Jansen

In 2011 het Anemari Jansen onverwags die kans gekry om Eugene de Kock in die tronk te gaan ontmoet. Sy was dadelik gefassineer deur die man "met die sagte stem", die voormalige bevelvoerder van Vlakplaas wat algemeen as Prime Evil bekend staan. Sy het De Kock se vertroue gewen en haar vir die volgende drie jaar deur niks laat stuit nie om alles oor hom uit te vind: sy het Vlakplaas besoek, tientalle onderhoude met sy oud-Koevoet- en Vlakplaaskollegas gevoer en hom Sondag na Sondag in die ou Pretoria-Sentraal gaan besoek. Sy moes net weet: Hoe het dit gebeur dat De Kock sulke wrede dinge kon doen? Haar soeke na antwoorde het haar na alle uithoeke van die land geneem en sou haar lewe onherroeplik verander. Jansen se debuutroman, Glipstroom, het in 2014 by Tafelberg verskyn. Sy het 'n M.A. in Afrikaans van die destydse R.A.U. en 'n B.A. (HOD) van die Universiteit Pretoria. Sy skryf sedert 2012 artikels vir die aanlynpolisietydskrif eNongqai.

Related to Glipstroom

Related ebooks

Related articles

Reviews for Glipstroom

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Glipstroom - Anemari Jansen

    Vir Chris

    Kavango

    Goeie bliksem! Seun ruk die stuurwiel wild na regs.

    My hart vlieg in my keel en ek gryp na Louis se been. ’n Dragtige teef van onsekere herkoms het reg voor die bakkie ingehardloop. Sy bly staan in die middel van die pad en kyk ons agterna. Seun ry stadig verder.

    Ek moes sommer bo-oor haar gery het. Hierdie rondloperhonde teel aan soos hase. Hy loer weer in die truspieëltjie na die teef.

    Is jy mal? Ek kyk na sy ken wat vorentoe beur. Nee, man. Mens kan hulle liewer steriliseer of iets.

    Louis lag. Dis flippen onmoontlik, want hier is presies een veearts op Rundu. En die gebied wat hy moet bedien, is enorm. Die lot van weggooihonde sal die laaste ding op sy brein wees.

    Maar is hier dan nie ’n DBV nie? Of iemand wat omgee nie? Ek kyk agtertoe. Sy staan steeds daar, ’n maer bont hond met tepels wat op die grond sleep. Ag nee, tog.

    In hierdie wêreld is daar nie plek vir jammerte nie. Die swakkes en luies val uit of vrek. Louis teug stadiger aan sy tweede gemmerbier.

    Survival of the fittest, lag Seun.

    Ek kyk terug. Sy het gaan lê.

    Air Namibia se Beechcraft 1900 vibreer soos ’n swerm Afrikabye toe die vlieënier die wiele laat sak. Die vliegtuig swaai en stamp op die gelapte aanloopbaan.

    Hier is ons, brom Louis. Die vliegtuig gee ’n laaste ruk.

    Ek kyk op met seer ore en borste wat pyn. Ek is gatvol gevlieg en my maag kramp. Teen hierdie tyd gooi ek al ’n volle halfuur op, my hande en derms in ’n spasma geknoop.

    Ek sukkel nooit met die vlieëry nie. Louis kyk na my en frons. Maar party mense suffer. Willem is ook so. Vir die geringste ding kots hy wanneer ons vlieg. Wag, vee net eers jou mond af. Vat my sakdoek.

    Ek vee my gesig af en trek my hand deur my hare. Louis hys hom op toe die vliegtuig tot stilstand kom en haal ons drasakke uit die oorhoofse rak.

    Ek kom regop en leun met my elmboog op die rugleuning van ons sitplekke. Die ander passasiers ruik na sweet en tamheid.

    Wag vir my. Vat my sak aan. Ek slaan my arms om my lyf toe ons tussen die bondel mense uitklim. Vreemd en onveilig, onvas op my voete.

    Ons stap oor die grof geteerde aanloopbaan na ’n lang ry grys geboue. Militêre styl. Daar is nie sprake van tuin nie. Die lughawegebied lyk verwaarloos, vergete.

    My hemp plak al aan my rug vas van al die sweet. Ek klou aan my handsak en slapbandboek en drafstap agter Louis se bene aan.

    Binne is die lug louwarm. Die lughawepersoneel verjaag die vlieë wat op hulle koffiebekers se rande kom saampak. Louis raak ongeduldig en piets met sy hand teen sy been. Sweet slaan op my bolip uit. ’n Man kom verby met ’n trollie en stamp teen my bene. Ek tree vorentoe en vou my hande oor my maag.

    Louis kyk hom fronsend agterna. Ongeskikte vark.

    Jissie, maar dis warm. Anders warm as by die huis.

    Jy weet dan. Januarie en Februarie is die warmste maande hier. Mens sterf byna uit. Kom, ons moet hierso deur. Louis laai ons tasse op ’n trollie.

    Besef jy dat hierdie hele trip, van Jan Smuts-lughawe tot op Windhoek, toe na Eros-lughawe en toe die vlug tot hier op Rundu, al langer as nege uur duur?

    Hy knik. Ek weet. Dis moer ver. En ons is nog nie eens daar nie.

    Dis nogal iets om aan gewoond te raak.

    ’n Harige jong man in werksklere en met oë diep onder sy pet kom aangestap. Môre, Louis, hallo …

    Ja, Seun. Dis Maja, my vrou. Maja, Seun is die site se blougat. Dit beteken hy is die nuutste op die job en nou moet hy al die vuilwerk doen, soos om ons te kom haal en so aan. Louis glimlag vir hom en gee hom ’n lomp klop op die skouer.

    Ek stap agter die mans aan.

    Ons vertrek in ’n wit Toyota-enkelkajuitbakkie en hou eers vir koeldrank in die dorp stil. Dit wemel van vier-by-vier-voertuie by die garage oorkant die straat. Daar is ’n hele paar Boesmans ook, waarvan Louis al vertel het. Die meeste het met die beëindiging van die Bosoorlog hulle werk as soldate, en die gepaardgaande inkomste, verloor. Hulle hang met pap skouers by die garage rond. Verkwansel miniatuurpyle en -boë. Ek voel jammer vir hulle. Dit voel vir my asof ek ook soos hulle lyk, uit plek, en ek koop deur die venster drie stelletjies by hulle.

    Louis kom met ’n armvol koeldrankblikkies uit die supermark aangeloop.

    Ek skuif op toe hy inklim.

    Op hierdie paaie ry mens nie sonder proviand nie. Stof warrel van die bakkie af toe hy die deur toeslaan. Hy gee vir my ’n Tab aan en drink sy Stoney-gemmerbier met twee of drie lang slukke leeg.

    Seun lag hard. Dit kan jy weer sê. Hy vat ’n blikkie Coke by Louis aan, knak dit met een hand oop.

    Toe ry ons, rigting oos.

    Die stuk pad wat gebou word, se beginpunt lê honderd en dertig kilometer van Rundu af in die rigting van Katima Mulilo. So beduie Louis.

    Ek verkyk my aan die grensdorp terwyl hy kommentaar lewer. Die huise hurk diep en bewegingloos in die erwe. Nêrens roer ’n siel nie.

    En wat is die storie met die Boesmans? Ek skud my koeldrankblikkie en vat ’n laaste sluk. Hulle het vir my regtig sleg gelyk daar by die garage. Verwaarloos. Met my ander hand frommel ek ’n wolletjie tussen my wysvinger en middelvinger.

    Eks- Suid-Afrikaanse Weermaglede van 201 Bataljon. Hulle is mos briljante spoorsnyers. Die Vasekela-Boesmans is uit Angola en die Barangwena van die Kavango. Hulle uithouvermoë op die spoor, hulle stamina, was legendaries. Maar nou is daar niks oor nie en baie van hulle suip net. Die plaaslike ouens en die Boesmans is nie dik pelle nie. Ek weet nie. Hulle omstandighede is haglik.

    En niemand gee om nie, sug ek en kyk rond. Agter in die verlate dorpserwe is tekens van die bomskuilings van sand en sement, net soos by die vulstasie. Ek leun effens vorentoe. Waarvoor word dit nou gebruik? Dit lyk vir my nes miershope. Of reusebrode van modder. Speelgoedhuise.

    Dis destyds deur die weermag vir die inwoners opgerig. Waarvoor dit nou goed is? As ’n stoorplek of ’n bakoond of ’n goeie skuilplek vir wegkruipertjie speel? Ek het nog nooit daaroor gewonder nie. Louis fluit wysieloos deur sy tande.

    Die tuine is sanderig, slordig en sonder gras. Hier en daar groei bosse malvas of vetplante.

    Die dorp lyk moedeloos.

    Ai, net jy wat so sal redeneer. Louis lag effens en fluit verder. Of miskien het ek al gewoond geraak hieraan.

    Net die eerste twintig kilometer van die Caprivi-pad is geteer. Ek voel vroliker toe ons die grondpad slaan. Ons skud heen en weer in die bakkie. Dit is tog ’n avontuur. ’n Ekspedisie in die wildernis. Iets waaroor mens ’n gedig of ’n storie kan maak; die romantiek van die uitgestrekte vloedvlaktes langs die Okavangorivier. Daar móét iets aan die plek wees wat my sal bekoor. Want die onbekendheid van die jaar wat kom, lê soos ’n beneuktheid oor my. Dit versmoor my, wil nie skietgee nie.

    Middel 1992 is Louis deur sy konstruksiemaatskappy na die Caprivi verplaas om honderd en dertig kilometer van die nuwe Trans-Caprivi-hoofweg tussen Rundu en Katima Mulilo te herbou. Die ou Goue Hoofweg, of B8. Praat van ’n uithoek van die aarde. Ek moes dit gaan opsoek, die welluidende, vreemde name: Shinyungwe, Bagani, die Popa-watervalle, Katima. Wilde wêreld. Bosoorlogplek. Sonder kaart en transport vir my, as ’t ware. Tydelike reisigers in ’n padkamp, dit sou ons wees, het ek uit Louis se vertellings verstaan. ’n Stippeltjie op die grondpadslagaar waaruit die gebied opgegradeer sal word sodat besoekers aan die oostelike wildernis gemaklik kan reis.

    ’n Vrou in manswêreld.

    Ons sit styf, ek in die middel met my bene ingedruk aan die passasierskant van die bakkie. Op die bakkie se vloer rittel die leë koeldrankblikkies. Die geluid is vaagweg hoorbaar bo die geraas van wind wat by die oop vensters inblaas. Louis het sy arm agter verby my skouers. Sy aandag is by Seun. Hulle gesprek gaan oor die job, hoe die oprigting van die kamp en die werkerskamp vorder, wie al daar aangekom het en watse masjinerie op pad is. Tussen die twee mans huiwer ek op die rand van woorde. Kort-kort verskuif ek my bene. Spoeg stoot in my keel op.

    Ons gaan teen Maart 1993 net meer as dertig mense in die padkamp wees. En in die werkersverblyf langsaan nog sowat vyftig arbeiders van Suid-Afrika. Die res van die werkers sal Kavango’s wees.

    Die padkampinwoners gaan bestaan uit die verskillende voormanne, ’n opmeter of twee en masjienoperateurs. Ek vra uit, probeer verstaan. Watse masjiene? Gaan al die operateurs gelyktydig daar wees? Wat is die probleem met die gruisgate?

    Daar is ook twee of drie gastekamers vir die grootbase en tydelike werkers, sê Louis. Die laaste padkampgeriewe moes so gou as moontlik opgerig word. Almal moet slaapplek hê. Hy draai sy gesig na die venster en maak keel skoon. Die projek moet binne ’n bepaalde tyd voltooi word. Hy praat vinnig, leun vooroor. In konstruksie is tyd geld. Sy elmboog druk in my sy. En sy spanning maak dat ek net hier in die bakkie wil opgooi.

    Die bakkie ruik na diesel en ou stof, die vere protesteer op die sinkplaatpad.

    Ek het weggedommel tussen die manslywe. Skrik eers wakker toe ons by die klooster op Nyangana stop.

    Wilkommen in Namibia, groet ’n Kavango-man toe Louis die bakkiedeur oopmaak. Die man lyk netjies en trots in sy vaalgrys uniform.

    Louis kyk na my. Sy oë uitdagend. Kom. Wees versigtig wanneer jy uitklim. Die bakkie se kante is vol stof.

    Hy het klaar besluit dat ek van hierdie stuk aarde gaan hou. Ek sluk en vee my voorkop met die agterkant van my arm af. In die truspieël staan my hare droog soos gras om my kop gewaai en my gesigvel voel styf.

    Vader Buchner verskyn aan die oorkant van die grasperk en stap stadig nader. Die kloostertuin blom oorvloedig. Kappertjies en malvas, rose, bone, wortels, knoffelblomme en pampoen wat lukraak langs mekaar voortplant. Alles om my is skakerings van groen; die verweerde kloostermuur, die lang, ruie gras. Selfs die lug het ’n groen skynsel. Ek haal my sonbril af. ’n Tuinier probeer met ’n enkele tuinslang die belangrikste plante in die tuin water gee.

    Welkom by ons huis, sê die kloosterhoof ook en kyk my vas in die oë. Sy hand voel sag en benerig toe hy dit om myne vou. Dit is goed om jou te ontmoet. Hy draai na Louis. Welkom terug. Jy sal jou vrou die kamer wys?

    Ons stap deur ’n suurlemoenboord na ons kamer in ’n lang gebou met ’n lae dak en rye kamers soos in ’n koshuis. Dit is waar die jong Duitse en Nederlandse nonne bly wat op die sendingplaas kom werk, vertel Louis. Vrywilligerswerk in Donker Afrika, die mistiek daarvan steeds onweerstaanbaar vir die Europeërs. Ons kamer is aan die punt van die gang. Twee grys kateltjies staan teen mekaar. ’n Houtkassie met ’n kers in ’n blaker en vuurhoutjies daarop staan langs die beddens. Teen die oorkantste muur is ’n houthangkas met ’n kakiehempsmou van Louis wat uitsteek. Daarnaas ’n kantoorstoel met ’n uitgeholde sitplek. Louis het ’n foto van ons twee op die vensterbank staangemaak. Ons lê in vlak branders en lyk sorgeloos. Dit was die seevakansie saam met my ouers, my suster Maryke en Louis, net voordat ons getroud is. Ek kyk weg, buitentoe. Die vensters met die bruin gordyne maak op die boord oop.

    Die kragopwekker stotter skielik terwyl Louis die twee tasse teen die kas neerplak. Ek ruk van die skrik. Deur die boord sluip ’n donkergrys kat.

    Louis draai sy gesig na sy kraag en maak keel skoon. As jy nog wil hare was of bad, is dit nou die tyd. Gewoonlik is daar net tot negeuur krag. En ons kan nie laat wees vir aandete nie. Die Duitsers is nogal erg gesteld op reëls. Hy sit sy aktetas op die lessenaartjie neer.

    Oukei, moenie worry nie, ek sal gou maak. Ek loer na die horlosie aan my pols. My lyf voel soos een groot blou kol. Ek stap met ’n handdoek na die gemeenskaplike badkamer verder in die gang af.

    Stiptelik om halfagt kondig die kloosterklok aan dat aandete voorgesit gaan word. Ons stap agter twee van die susters aan die eetsaal binne. Uit die skemerte stuif die klam grondreuk van natgeleide gras.

    Die vertrek is asketies gemeubileer. Aan die langwerpige tafel is sewe plekke voorberei. Vader Buchner neem eerste plaas, aan die koppenent van die tafel. Daarna gaan sit die res van ons. Suster Inge, suster Heike en nog twee ander wie se name ek nie mooi hoor nie. Die jonger non, Heike, loer onderlangs in Louis se rigting toe ons plaasneem. ’n Fladdering onder die blonde wimpers. Louis kyk vinnig op. Ek voel die glimlag om my mond trek. Die goddelike drang van begeerte ontsien niemand nie.

    Twee Kavango-mans, geklee in skoongestrykte, lospassende wit klere, bedien ons in Duits. Dinsdagaand. Dus is daar frikkadelle in ’n soetsuursous, rys en groente uit die tuin. ’n Vaste spyskaart en ’n goeie kok, het Louis verlede jaar al oor die telefoon vertel.

    Jy sal mal wees oor die suurlemoenstroop, fluister hy. Vars uit daardie boord langs ons kamer.

    Ons moet die resep kry, glimlag ek en skink my glas vol.

    Ons kry elkeen ’n taai broodjie op ons kleinbordjies. Dit word daagliks gebak. Die ete is eenvoudig en smaaklik. In die stilte wat volg nadat die klank van opskeplepels teen skottelrande bedaar het, kan ek my tafelgenote tydsaam hoor kou en sluk.

    Ek is honger maar kan nie veel inkry nie. Daarvoor is die omstandighede te vreemd. Ek sit tussen mense maar is uit pas met hulle ritme. Dit voel op ’n manier na ’n vakansie, ’n avontuurkamp, so met die kragopwekker wat netnou afgeskakel word. Koloniale beskaafdheid hier binne. Buite is die onbeperkte, uitgestrekte vlaktes van Moeder Afrika. ’n Herverkenning van die oerkontinent. Ek moet fokus op die feite, die harde werklikheid, die ware rede vir ons besoek.

    Die sap bring lafenis teen die hitte wat nog broei. Om die tafel is dit eers stil maar ná die maal begin die vroue geleidelik gesels.

    My suster skryf vir my …

    Die kliniek moet môre vroeër oop …

    Het jy gehoor van die Hollander-gesin wat met hulle vier kinders op pad hierheen is?

    Ons stoele skraap oor die sementvloer toe ons opstaan.

    Die massiewe, handgekerfde houtbak by die deur bevat sewe Granny Smith-appels. Die vrank sap laat my wange saamtrek toe ek deur die skil byt. ’n Rilling trek teen my ruggraat af. Ons hoor die paddas en krieke buite. Ek asem diep in en ruik ’n vreemde land.

    Louis, roep Vader Buchner sag agterna. Bly gerus vir koffie en ’n kuiertjie saam met my. Ek wil die kontrak met jou bespreek.

    Louis draai na my. Sal jy solank kamer toe gaan?

    Hy moes nog ’n paar finansiële sake met Vader Buchner bespreek, het hy vroeër in die bakkie vertel. Louis moes hom help om die Nyangana-oprit te skraap en die kliniek te vergroot.

    Natuurlik. Ek stap vinnig deur die skemer tuin na ons kamer.

    Oral om my is die sagte stemme van mense by hulle woonplekke. Daar is nou twee katte in die boord. Dit lyk asof hulle iets bekruip. Die haartjies op my arms staan regop.

    Dit ruik na stof en kookvure en veld. Die wêreld is groener as wat ek my dit voorgestel het. Die res van Namibië is semiwoestyn. Maar hier op die vloedvlaktes van die Okavango groei die veldgras en lae struike geiler, is die bome teenaan die rivier hóóg. Eindelose vlaktes. En tussendeur die groepe hutte van bestaansboere, werwe netjies gevee. Takkrale vir beeste en bokke. By elke groep hutte is daar ’n badhuis – die afskorting ooghoogte en ’n opening bedek deur lap of ’n takdeur – waar die wasrituele plaasvind. Die hoofman van die familie woon apart in sy eie takomheining. Beesskedels word aan die takheinings vasgemaak, het Louis vertel. Hoe meer skedels, hoe ryker en vrygewiger is die familie.

    Motte fladder teen die buitelig toe ek die kamerdeur oopstoot. Ook pouoogmotte, net soos dié in die Soutpansberg. Ek hou die agterkant van my hand na hulle toe uit. Voel die ligste beweging teen my vingers. Iets soos stof bly agter.

    Met die waaier nog aan, trek ek my hemp met een haal oor my kop en strek my op die bed uit. Die waaier se wind gee my hoendervleis. Ek wil nie aan verlede jaar dink nie. Nie nou nie. Ek kreun en rol om op my sy, my hande tussen my bobene vasgeknyp.

    Sy woorde. Blommekind. Jy sal daardie boswêreld soos ’n fokken steeks perd moet ry.

    Afskeidswoorde. Die manier waarop hy my kon vaspen met sy donker oë. Ek wieg myself heen en weer op die bed. Herinneringe van die tye wat ek saam met hom deurgebring het, vryval deur my.

    Rol op my rug, lig my kop effens op en kyk na my maag. Dit lyk nog plat en ferm. Ek streel stadig daaroor. Ek het my sin vir rigting verloor. Dit en die vooruitsig op ’n rustige, ongekompliseerde lewe. Oor ’n paar weke kom ek weer hierheen, om te bly.

    Louis kom in nadat die kragopwekker stil geraak het. Hy ruik na rook. Ek lê doodstil, asof ek reeds slaap. Probeer my asemhaling egalig hou. Hy trek haastig uit en val met ’n sug op die ander enkelbed neer. Toe draai hy na my en vou sy arm oor my skouer.

    Ek knyp my oë toe en kruip later heeltemal onder die laken en grys kombers in om die muskiete te ontwyk. Hulle bly deurnag pla. Sonder krag is ons aangewese op Tabard-room en -spuitgoed. Die matrasse is hol in die middel en ek lê heeltyd skeef.

    Kom op my elmboog orent en leun oor na Louis, oorgestimuleer deur die dag se gebeure. Dalk is hy ook onrustig en in ’n bui vir gesels. Maar dis pure verniet. Wanneer sy oë snags toegaan, het ek al agtergekom, sak hy weg in die dryfsand van sy lyf. Sy gesig word onherkenbaar. Hoekig, met swart vlakke en skaduwees. Ek lê lank na hom en kyk.

    Soms gebeur dit ook bedags. Louis se oë wat wegskuif, ander dinge bedink, selfs wanneer hy met my praat. Asof sy brein geprogrammeer is om gelyktydig op verskeie dinge te fokus. Asof gesprekke met my laer af op sy prioriteitslys is. Ek draai my rug na hom toe. Krul in ’n bondel op. My verhemelte proe droog, soos motvlerke.

    Louis skud my vroeg wakker. Klaar aangetrek. Kom ek gaan wys jou iets moois. Hy stap venster toe. Jammer ons kan nie eers koffie maak nie. Maar hierdie wêreld is op sy beste vroeg in die oggend. Trek jou stapskoene aan. Hy kyk na die muskietbyt op my arm. En jy moet jou deegliker met Tabard smeer.

    Oukei, ek wil net tande borsel. Wag vir my. Ek swaai my slaaplyf van die bed af.

    Die sementvloer is koel onder my voete. Ek spoel my gesig af onder die kraan in die badkamer. Met die buk oor die wasbak voel ek naar. Kyk op na my gesig in die spieël. Bleek. Hoe lank gaan dit nog aanhou? Ek spoel my mond uit en borsel tande. In my badsakkie is ’n bottel Liviton. Ek neem ’n deeglike sluk en stap uit.

    Ons loop in die vroegoggendstilte oor die grasperk. Toe al langs ’n paadjie wat na die Okavangorivier toe lei. Dou op die gras teen my bene. Daar is duiwe en kiewiete op die grasperk. Ek ruik die oggendpap wat by nabygeleë huisies kook. Die pap word van mahangu gemaak, sê Louis, en word op die styfgetrapte oppervlak van ’n termietnes deur die vroue met houtstampers gemaal. Die oshifima wat hulle daarvan berei, het ’n grinterige tekstuur. Dieselfde mahangu word gebruik om die tradisionele ontaku- of oshikundubier te brou. Heeldag sit die manne kruisbeen by die cuca shops en drink.

    Die omaramba lê verder as wat ons gedink het. Ons is omring deur ’n see van grasveld en vlaktes.

    Is ons al amper daar?

    Byna. Kyk, dis net daar voor by die riete. Louis is stapfiks, gewoond aan hierdie wêreld en sy afstande.

    Hy gaan sit op sy hurke en trek met sy wysvinger oor die sand in die paadjie.

    Wat maak jy?

    Ek het gedink ek sien ’n sitatunga se spoor. Ek soek al vandat ons hier aangekom het daarna, maar ek weet nie of hulle so ver wes sal voorkom nie.

    ’n Sitatunga?

    Hy kom orent. Dit is ’n uiters skaam boksoort. Met gewebde tone. Hulle hou tussen die riete en papirus hier naby die rivier. Voor ek uit Namibië uit is, wil ek een sien.

    Mooi naam vir ’n bok.

    Kom ons sit sommer hier voor op die riviersand. Hy trek my langs hom neer.

    Drifwater wat opstoot tussen die riet, daar vasgevang bly. Louis sit sy arm om my skouers. Sy been met die growwe rooi haartjies skuur teen myne. Ek voel die gewig van sy arm. Ruik sy deodorant. Die Okavangorivier dreun hoorbaar. ’n Veilige, bekende arm.

    Hy kyk weg, maak keel skoon en draai weer na my. Sien jy regtig kans hiervoor?

    Ek huiwer, byt my lip vas en maak my oë toe. Jis, Louis.

    Ek moet jou waarsku. Dit word bleddie warm en mens het eindelose frustrasies om dinge georganiseer te kry. Maar dit is belangrik dat jy saamkom. Ek gaan jou ondersteuning baie nodig hê. Uit die aard van die saak is dit nie ’n maklike kontrak nie. Sy oë dwaal rivier toe. En ons kan nie langer so ver uitmekaar bly nie. Vir ons verhouding is dit beter.

    Weet jy, ons moet regtig nog …

    Maar dinge sal reg wees wanneer jy hier aankom, jy sal sien. Ek sal sorg. Die huis sal klaar wees met ’n heining en als. Hy stamp met sy skouer na my. Komaan. Ontdekkingsreisigers. Sy oë blink. Sien dit só. ’n Nuwe begin. Ons kan hierdie hele plek ontdek. Botswana, Zambië, Zimbabwe. Alles is maklik binne bereik. Ek bedoel, hoeveel mense kry die kans om dit te doen?

    Ons moet nog praat, die een of ander …

    Daar is baie tyd om te praat in hierdie wêreld. Hy skiet ’n klippie oor die rimpelvlak.

    Wag nou eers.

    Dis tyd om te gaan. Ons kan nie laat wees vir ete nie.

    ’n Ander man se woorde weerklink in my kop. Oor en oor, soos die refrein van ’n popliedjie wat nooit end kry nie: ’n Kind het ’n ma én ’n pa nodig.

    Alles wat belangrik is, bly ongesê. Ek wil nie hierdie padkamplewe hê nie. My hart is nog stukkend ná daardie gesprek van Desember. Agter my het die pad doodgeloop. My wêreld van verlede jaar het grys geword. Die dinge wat gebeur het, het die verloop van my hele lewe verander. Van óns lewe verander. En hiervan weet Louis nog niks. My oë traan toe die son op die rivierwater reflekteer.

    Ek kyk weer na Louis, wil nee sê, hom vertel wat aan die gebeur is, maar ek kan nie. Wat gebeur wanneer ’n vrou haar woorde insluk? Waarin los daardie woorde op of wat heg daaraan vas?

    ’n Sprong in die donker. Met ’n valskerm wat dalk nie sal oopmaak nie.

    Ons stap terug na die klooster. ’n Klok lui in die verte.

    Ontbyt, beduie Louis en rek sy treë.

    Die paadjie wat ons volg, swenk verby die kliniek. Dis ’n klein, plat geboutjie met ’n sinkdak. ’n Ry mense sit gebukkend in die son. Hulle is klein, skraal. Die vroue het lappe en doeke om hulle. Hulle gesels in sagte klanke.

    Wat maak hulle daar?

    Louis kyk om na my. O, dit. Die kliniek maak netnou oop. Hier is baie malaria hierdie tyd van die jaar. Die DDT wat hulle om die hutte en teen die dakke spuit, help ook net tot op ’n punt. Hulle het gisteraand in die ry geslaap sodat hulle eerste kan wees wanneer die susters oopsluit.

    Wat is DDT nou weer?

    Dis ’n gifstof. Maar die gebruik daarvan het verreikende gevolge op die omgewing. Dis nie so straightforward nie.

    Wat kan gebeur?

    Man, dit beland naderhand in die water en dan word dit oor jare heen deur die visse ingeneem, dan deur die visarende en dan word hulle eiers sag. Wanneer die ouers per ongeluk daarop trap, breek die eiers. ’n Tragiese kringloop.

    Dis verskriklik.

    Malaria is net so verskriklik. Catch-22-situasie.

    Ek kyk na die groepie mense toe ons nader kom. Verrinneweer en verwese onder die broeiende son. Daar is ou mense met krukke en mense wat ledemate verloor het en vroue met kinders wat koorsig lyk. Vlieë koek op hulle neuse en ooglede. Een of twee van die meer gesonde kinders kyk nuuskierig na ons. Die volwassenes sit krom en kyk net vlugtig op toe ons groet.

    Louis kyk terug. Kóm, Maja.

    Ek dink aan ontbyt en verloor my aptyt.

    Soutpansberg

    Jissis, Maja. Wat gaan aan met jou? Ek bedoel, nége suurlemoenbome …

    My hand glip na my nek toe.

    Ons praat vanaand, Louis se stem is saaklik. Sam Malepane is op pad om my te kom haal.

    Maar dis dan Saterdag en ons wou nog dorp toe.

    Dit kan nie anders nie. Hierdie ongeluk vanoggend het alles beduiwel. Ons het ’n site inspection twaalfuur en ek moet die tender vanmiddag deurkyk.

    Jy is omtrent getroud met jou werk. Dit het uitgeglip.

    Louis se wenkbroue trek saam. Moet nou nie weer daarmee begin nie. Dis mos nou onnodig. Ons kan môre iets lekker saam doen. Hy blaas deur sy neus. Enigiets behalwe bome plant. Dis ’n huurhuis, for Pete’s sake.

    Jammer, mompel ek

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1