Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

'n Dorp soos Silwer Streams
'n Dorp soos Silwer Streams
'n Dorp soos Silwer Streams
Ebook404 pages8 hours

'n Dorp soos Silwer Streams

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

’n Man struikel-stap deur ’n dorp se vervalle strate. Hy moet by die polisiekantoor uitkom. Hy het ’n paar ou tekkies aan, en hy het sy selfoon by hom. Hy is die dorp se predikant. Hy het op ’n lyk afgekom. Silwer Streams is ’n dorp soos enige ander op die Suid-Afrikaanse platteland. Daar is ’n kerk en ’n kafee, ’n rolbalklub en twee townships, ’n polisieman en ’n koerantman, ’n oudonderwyser, ’n dowe sekretaresse en ’n gay kafee-assistent. En nou ook ’n lyk. Ja, natuurlik het die dorp ’n dominee ook, dis juis hy wat op die lyk afgekom het. Net langs die laagwaterbrug buite die dorp het hy die bleek gelaat onder die watervlak sien roer. Was dit moord? Die dorp is in rep en roer. Hulle sê die lyk was dié van ’n onwettige immigrant. Die polisieman doen ondersoek; iemand bel die storie deur na die Sondagkoerant, almal se tonge klap. Almal behalwe die dominee s’n. Hý word nog stiller, nog meer teruggetrokke. Hy trek hom terug in sy binnekamer vir sy voortdurende sielestryd – sy stryd teen karakters wat nou al so lank sy kop bevolk. Hy sal tot skryf moet kom, weet hy nou. Nou is daar nie meer verskonings nie. Nou is daar ’n lyk.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateSep 1, 2011
ISBN9780624053118
'n Dorp soos Silwer Streams
Author

Barend Vos

Dr. Barend Vos is 'n bekende Christenskrywer en predikant. Hy het al verskeie boeke uitgegee: van dagstukkies en literêre fiksie tot romans met die Bybelse gegewe as agtergrond. Hy wen in 2001 die CBSA-prys vir fiksie vir Eksodus en in 2016 die Andrew Murray-prys vir Ewigheid in my hart. Hy skryf elke maand vir LiG-tydskrif sy Grootseun-storie. Hy is in 2016 bekroon met 'n ATKV-veertjie vir een van sy LiG-stories.

Read more from Barend Vos

Related to 'n Dorp soos Silwer Streams

Related ebooks

Related articles

Reviews for 'n Dorp soos Silwer Streams

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    'n Dorp soos Silwer Streams - Barend Vos

    title.jpg

    Saterdag 1 Februarie

    1

    Soos alle predikante het Elnatan Wait ipekonders. My man. Hy is vier en dertig jaar oud.

    Maar anders as by sy kollegas in hierdie omgewing, almal ouer as hy, het die kwale van die baie bejaardes in hierdie gemeente, die gereelde sterfgevalle en daaropvolgende begrafnisse hom na net agt jaar ingehaal. Hy dra al hoe swaarder daaraan, ek sien dit.

    Ek het hom lankal gesê hy moet weer begin draf soos toe ons studente was. Dit was tog nie so lank gelede nie – hy sal vinnig weer in die gewoonte kom. Ek is seker die drafskoene lê nog hier iewers rond, sê ek vir hom, ek sal vir jou ’n sweetpak kry, een van die nuwer soort met die ligte, dun materiaal. Ons kan dit in die stad gaan koop as jy nie daardie soort inkopies hier in die dorp wil doen nie.

    Maar hy het gekeer. Dráf? In dié dorp? het hy gesê. Ten aanskoue van al wat leef en beef en skinder? Is jy mal!

    Later het hy tog gesê dán klim hy liewer elke dag teen die kerktoring uit. Ou Koba Koster doen dit ten minste drie keer op ’n Sondag. Buitendien sal niemand hom daar sien nie.

    Dit was só vreemd, weet jy? Hy praat mos nie meer nie.Dit was sweerlik die langste sin wat ek hom in ses maande gehoor sê het. Maar dit was beslis ’n grappie. Hy het nog altyd hoogtevrees gehad – die vernaamste van alle ipekonders.

    Toe het ek in die dorp se verflenterde biblioteek gaan soek en op Lore of Running afgekom. Sommige bladsye was uitgeskeur, party was bekrap, maar die aantreklikheid van die fikswordprogram wat die skrywer voorstel is dat dit aanvanklik nie baie van jou vra nie. Jy begin deur doodgewoon te stap. En ek het gedink dat dit, meer as enigiets anders, hom sou aanspoor. Ek het die boek op sy bedkassie neergesit.

    En dit het gewerk! Is ek bly om aan jou te rapporteer. Oeps! Dalk is dankbaar ’n meer gepaste woord vir ’n pastoriemoedertjie. Hoe ook al, hy moes net eers die jaarlikse beplanningsvergadering oorleef – presies een byeenkoms waar ’n klompie ou mans vir mekaar sit en gluur. Niemand is lus daarvoor nie – nie hy nie, nie hulle nie. Hy wil net hê dit moet klaarkom. Húlle verkies iets om oor te baklei, iets waartéén hulle kan wees.

    Ag, ek praat al weer te veel. Maar hoe nou ook anders? Jy wil dan weet. Dis net … ek kan myself nie help nie, ek is so versigtig. Paranoïes. Hy het dit só op my hart gedruk. Gee jy om as ek gou die gordyne toetrek? Dit word vroeg warm. Die toegetrekte gordyne help regtig, dit hou die ergste hitte buite. En ek bly deesdae maar binne as dit kan.

    Waar was ons nou weer? O ja, ná daardie vergadering was daar die begrafnisse wat so óp mekaar gekom het – drie begrafnisse, drie dae. Daar kom maar sulke tye, dan sien ek hom nie, hy bly in die studeerkamer en die deur bly toe. Dis net vreemd, dit was so vroeg dié jaar. Die winter is eintlik die doodgaantyd hier.

    Maar saans voordat hy sy bedliggie afsit, hoor ek hoe hy in die gehawende ou boek blaai. Hier en daar lees hy. En toe kom die finale bewys: Hy het die oefenrooster wat voor in die boek is gaan fotostateer. Ek het die papiere op sy lessenaar gesien lê.

    Ek het maar nie my hart daarop gesit nie; niks oortuig my sommer nie, nie meer nie, jy sal verstaan. Die feit van die saak is egter dat hy op Saterdag 1 Februarie ’n kortbroek aangetrek het – die vorige aand reeds het hy sy ou tekkies in die pakkamer gaan uitgrawe.

    Sy selfoon is saam. Hy is tog so bang iemand bel en hy kan nie antwoord nie. Ek kan hom seker nie kwalik neem nie. Watter moeilikheid hét hy nie al gehad oor hy nie op aanvraag beskikbaar was nie. Maar vir een keer het ek nie omgegee dat hy almal tog so ter wille is nie. Wat toe vir my saak gemaak het was dat hy opgestaan het en aangetrek het en Dag Een se stappie aangepak het.

    Toe is hy weg, uit by die voordeur. Ek weet tot vandag toe nie presies watter koers hy gevat het nie, tóé het ek nie twee keer daaroor gedink nie. Ek was net bly vir die begin, sonder om te waag om enigiets verder te hoop. Miskien is hooploosheid ’n groter sonde as ongeloof.

    Haai, ek sê die verskriklikste goed! Ek is jammer oor my simpelgeit, maar ek hoop jy kry nou ’n idee waardeur ek die laaste tyd moes gaan. Wat ek alles by hom gesien en gehoor het. Nee, eintlik net gesién het. Hy praat mos nie meer nie. Daarom is dit goed jy vra jou vrae liewers vir my.

    2

    Begin met stap, stel Tim Noakes in sy boek voor. Dominee Wait is bly vir die eenvoudige opdrag, in ag genome die minder ideale omgewing; sy onwilligheid.

    Amptelik het Silwer Streams ses teerstrate – drie af, drie dwars. Maar vyf daarvan, kla die dorpsmense met oortuiging, is meer gat as straat. Vat nou maar Noordstraat, met daardie gevaarlike dongas; ook maar goed weinig van dié straat se bewoners – dis ouer mense en meestal armes wat in die sub-ekonomiese huisies woon – het hulle eie motors. Dit is dus net die kinders wat af en toe kom kuier, en die dokter en die dominee wat vir siekte en dood ontbied word, wie se voertuie die risiko’s dra. En dan is daar die skandalige Suidstraat waar die teeroppervlak in lang dwarsstroke oopgekap is om pype of kabels te lê. Wat ná twee jaar nog nie opgedaag het nie. Sedertdien lê die halfopgevulde slote maar so. Vlak grafte.

    Maar dan is daar die middelste straat – vir almal se begrip die hoofstraat. Die genadige uitsondering; die een wat deur die provinsiale owerheid in stand gehou word en dus redelik gereeld herstel word. Dit kom al die pad van die plase af, glip oor die nasionale pad, klief die dorp in twee en steek uiteindelik, ná ’n langerige afdraand, die rivier met ’n eenrigting-laagwaterbruggie oor. En van daar af word dit, in die dorpsmond, die tuislandpad.

    Dit is daardie bruggie aan die onderpunt van Rivierstraat wat Elnatan Wait se aanvanklike bestemming is, sy omdraaipunt vir hierdie eerste stappie. Maar voor hy daar kom, moet hy eers Kerkstraat se gate trotseer. Eintlik, weet hy, behoort hy dankbaar te wees vir dié dwarsstraat wat voor die kerk verbyloop. Die ander twee is doodsake. Skoolstraat is feitlik onbegaanbaar. En die meeste van Koöperasiestraat se teer het, soos sy koöperasie, lankal vergaan.

    Dis al klaar warm. Maar van die rook uit die lokasie wat later oor die nasionale pad aangedryf sal kom is daar gelukkig nog geen teken nie. Wat help dit jy gaan stap om jou longe oop en jou hart aan die pomp te kry en dan kry jy net nóg gif in? In die winter is dit ’n verstikkende gemors, veral soggens en saans. In die somer is dit nie heeltemal so erg nie. Nou is dit net die hitte. Hy weet hy moenie hier wees nie.

    Ook maar goed hy het toe nie die sweetpak se baadjie aangetrek nie. Die broek sit in elk geval soos ’n uitgerekte sak aan hom, dít is buite die kwessie. Die kortbroek moet maar doen. Daar is nog nie mense op straat nie, in elk geval nie gemeentemense nie.

    Verby die kerk, die breë plein langsaan waar die kerkgangers lankal nie meer parkeer nie – hulle het te min geword. Sondae staan al die motors binne die kerkkompleks se omheining; dit is in elk geval veiliger só. Kerkplein is nou die dorp se taxistaanplek en Vrydae en Saterdae slaan die smouse hulle tafeltjies daar op of sprei hulle grondseile oop. En sommer teen die straat maak daar oornag ’n hoop tuinvullis of ’n swart sak met huisafval ’n onwelriekende verskyning. Dominee Wait word genoop om sy asem op te hou terwyl hy haastig verbystryk. Iewers teen sy regterslaap spring ’n ongemaklike klopping op.

    Hy trek diep asem in toe hy voor die Portugees se drankwinkel verbygaan en blaas dit uit voor King’s Cash Loans wat langsaan ingedruk staan. Drank en duur geld teenaan mekaar, die een teer op die ander.

    Wanneer laas het iemand voor die poskantoor gevee? Die skuifhek staan wyd oop. Dit word nooit meer toegemaak nie, weet hy; watter nut het die nuwe palissade-heining nou? Oorkant is Paul Vincent se koerantkantoor met die breë stoep. Meer stoep as kantoor. Meer kantoor as koerant.

    Uiteindelik die hoofstraat se kruising. Hy waag dit om die hoek. Piet Paai moet net nie reeds oop wees nie. Gelukkig lê die pak oggendkoerante uit die stad nog voor die kafee se toe deur. En gelukkig is daar nie motors hierdie tyd nie. Hiervandaan is dit afdraand rivier toe. Hy weet hy moet maar terughou teen die hoogtetjie af – wat help dit jy begin te vinnig? Sy kuite begin al klaar te trek. Die klopping wat langs sy voorkop ontstaan het, hamer nou laer af, tot in sy nek.

    Haastig verby die losieshuis. Dalk lê die ou met die frokkie reeds met sy elmboë oor die hekkie, dan moet die dominee weer sy pensioenprobleme oplos. Hy dwing homself om nie te kyk nie. Verby die bank en die verlate OTM. Hy moenie meer hier kom nie.

    Die klompie populiere gooi lang oggendskadu’s oor die rolbalbaan. Dit is Saterdag, speeldag. Die motors staan tot teen die inrypad geparkeer. Nogal baie. Hy het nie geweet die dorp het soveel rolbalspelers nie. Die klubhuis het ’n stukkende ruit, sien hy sommer op dié afstand, ten spyte van die pynlike sametrekkings wat nou tot oor sy oë begin strek. Ou Gert Esterhuizen en sy gevolg samel seker vandag geld in om die ding te vervang. Wie sou dit gebreek het? Wát?

    Die oues roer vroeg, dit weet die dominee maar te goed. Wat is daar anders te doen? Die lewe is kort – iewers het hy daaroor gepreek. Vandag gaan iemand weer ’n mond vol hê oor die ruit. Was dit ’n klip? Gaan iemand sê dit was ’n geweer, ’n dwaalkoeël? Die lewe is te lank om dit sonder aanhoudende geveggies agter die rug te moet kry.

    Die vergane parkie net duskant die rivieroewer, die skewe geraamtes van gebreekte swaaie. Iewers dieper in lê die oorblyfsels van ’n swembad waarin daar deesdae glo rondlopers slaap.

    Die rivier is nogal leeg vir hierdie tyd van die jaar; dit het seker nog nie genoeg in die noorde gereën nie. Die hiasinte neem oor, niemand doen iets daaraan nie. Hulle moes dit daardie einste jaar toe dit hier aangespoel gekom het uitgeroei het. Toe was dit nog beheerbaar. Nou is dit vir altyd te laat. Hy moet omdraai, hy weet dit; hierdie besigheid gaan in ’n volskaalse migraine ontwikkel.

    Maar eers probeer hy onthou wanneer laas daar ’n behoorlike vloed was; genoeg water om die laagwaterbrug te oorstroom. Dit gebeur so elke twee, drie jaar.

    Dit sal wel nie 1974 s’n oortref nie. Niks sal nie! sug die ouer dorpsmense wat dit beleef het en steeds daaroor praat asof dit gister was. Selfs 1988 se vloed, toe Silwer Streams se deftige oewerwonings vuil rivierwater oor hulle Persiese tapyte gekry het, het nie by ’74 s’n gekom nie. Al kon almal nog ’88 se vloedlyn aan die dominee uitwys, pas nadat hy op Silwer Streams aangekom het. Trots op die groot gebeurtenis wat landwyd opslae gemaak het en weer eens nie hulle dorp oorgeslaan het nie.

    Dis waaroor hulle praat. Die vloede van destyds. Die dae lank gelede. Toe die dorp se kinders nog in die parkie teen die rivier gespeel het. Toe hier swemgalas gehou is en daar selfs skole uit die stad kom meeding het. Hierdie plek, het hy eenkeer lank terug vir Sandra gesê, word net deur herinneringe aanmekaargehou.

    Die nostalgie en die heldeverhale. En deesdae die magtelose frustrasie omdat die dorp so onstuitbaar agteruitgaan en elke jaar net meer gehawend daar uitsien as die vorige. Soos deurreisigers dit, met die meedoënlose vrymoedigheid van vreemdelinge, by die Caltex-petrolpompe aan die garagebaas sê en dit liefs nie waag om die toiletgeriewe te trotseer nie. Of wanneer hulle ’n vinnige koeldrank langsaan by Piet Paai se kafee koop en vir Lionel by die kasregister fluister hulle sien die dorp ly ook maar onder die nuwe bedeling. Hy wil nie hier wees nie.

    Soos ’n smorende kleed, dink Elnatan. Die teleurstelling wat die dorpie toedek, wat elke seisoen ’n bietjie laer sak. Nog iets doodwurg. Dodeliker as die lokasie se rook.

    Dalk moet hy nie so sinies wees nie. Dalk is die doodsheid wat hy al hoe sterker by die dorp se mense aanvoel maar net ’n gelatenheid. Aanvaarding is tog die laaste stadium in ’n suksesvolle terminale proses. Alles eintlik so voorspelbaar. Predikante leef van voorspelbaarheid. Die geykte formules, ’n teksvers vir elke geleentheid. Kapelaan van die gemeenskapsgodsdiens. Dinge gaan maar soos dit gaan.

    Elnatan wonder of hy dit kan waag om oor die smal brug tot anderkant die rivier te loop. Sê nou een van daardie taxi’s kom van die oorkant af aangejaag? Hoe gaan hy betyds padgee; die voetgangers se beweegruimte is bitter smal. Wie sal weet as hy in die rivier val? Wie sal hom daar kry? Die water is koud en vuil.

    Hy swenk regs, steek Rivierstraat se teerstrook oor. Verbaas hom oor die skielike flinkheid in sy bene – seker maar die afdraand. Seker maar die rivier.

    Die pyn in sy kop het hom eensklaps naar. Hoe is hy dan nou so uit sy asem uit. Hy moet by die water kom, dink hy, nóú. Die rivier.

    3

    ’n Saterdag moenie fokkenwil só begin nie!

    Adjudant-offisier P.C. van Deventer dwing sy oë oop, probeer op die verligte wekker fokus. Sesuur. Wat ruk so?

    Dis Carol wat aan hom skud. Peesee! Peesee! Word wakker! Daar’s iemand daar buite! Hoor jy? Is daai die asdrom? Daar’s iemand by die asdrom!

    Hy staan op en vat die flits, maar dis reeds helder lig buite. Hy jaag die donnerse hond weg. Een van die skoolhoof se groot dalmations.

    Nou is enige poging om verder te slaap in sy moer. Hy maak maar tee. Vir ’n oomblik oorweeg hy dit om sy ysters in die garage te gaan opsoek, maar hy’s nie wakker genoeg vir ’n sweisvlam nie. En dis reeds warm.

    Sy eerste sigaret vir die dag. Hy weet hy moenie so vroeg rook nie, en dan nog in die huis. Maar terwyl Carol in die kamer is, sal hy maar die kans vat. Maak maar die vensters oop. Wat anders is daar te doen? Op die voos bank voor die TV lê en rook en infomercials kyk.

    Hy moes tog weer aan die slaap geraak het, want dit is asof hy iets van baie ver af hoor. Dit neem ’n rukkie voor hy die deuntjie identifiseer. Dit kom nie uit die televisie nie; dis die selfoon aan die laaier in die gang.

    Die stasie. Een van die konstabels by die toonbank. Eers hoor hy nie wat die mannetjie sê nie. Die manier waarop hy praat. A corpse on the bridge, Sir. A member of the public just phone.

    Hy soek sy horlosie. Dis nog nie agtuur nie, dis naweek, en die gal word reeds deur sy oë gejaag. A cops on de brieds. Het jy al jou sersant gebel?

    Die stem aan die ander kant huiwer. There is no … He answer not his phone, Sir.

    P.C. byt amper sy tong raak soos hy hom bedwing. Hy haal asem soos Oudok hom gewys het. Stadig in. Stadig uit. Jy bel nou vir studentekonstabels Motaung en Beukes, hulle nommers sal daar iewers wees. Nou. Jy sê vir hulle ek kry hulle by die bruggie. Hulle moet hulle gatte roer.

    Hy skeer vinnig. Drie stukke Weet-Bix. Die melk solank in die mikrogolf. Die klere is oor ’n hanger in die gangkas. Sy skoene is onder die bed.

    Carol slaap nog. Maak of sy slaap, weet hy.

    Ek vra jou niks.

    Die melk is in sy moer in oorgekook. Hy stamp die droë koekies ontbytgraan weer terug in die regop pakkie. Hy kom agter sy ore suis.

    Jy gaan dit nie maak nie, Peesee, het die ou dokter gesê en die stetoskoop weer teen sy bors gedruk. Nie teen hierdie tempo nie, nie met ’n bloeddruk soos joune nie. En, laat ons nou maar met mekaar eerlik wees, vir wát? Jy moet dit kalm vat, Peesee. Jy gaan nie die polisie regruk nie. Nie in jou leeftyd nie. En beslis nie op ’n dorp soos dié nie.

    Sal hy die oggendprogram se nuus kyk? Die cops on de brieds kan tog nie meer ontsnap nie. Hy gaan lê weer op die bank, maar die nuusbulletin doen niks vir sy bui nie. Al die kak oor munisipale dienste in die townships. Daar is darem iets oor die krieket.

    Die Tazz se starter maak dit weer nie. Eendag is eendag, weet hy. Kan die battery ook wees. Carol sê dis van al die buite staan. Oor die ysters wat die garage vol lê. En die sweismasjien se gasbottels. Wat gee hy om. Hy vra haar niks.

    Skielik vat die kar. Die petroldampe hang die straat vol soos die Tazz steeks vorentoe beur. P.C. moet konsentreer om wydsbeen oor die reeks slaggate te kom. Agtermekaar geryg soos hempsknope. Wyd-om die twee grotes voor die skool se hek. Regs by die stopteken, af in die hoofstraat. Hierdie tyd van die oggend kyk jy net vinnig. Dis net die paar taxi’s uit die lokasie wat Spar se till-slaners en skoonmakers dorp toe gebring het en nou weer op pad terug is. Met ’n vrag drank vir die sjebiens. Dis naweek. Niemand anders ry nou al rond nie. Net die ou spul by die rolbalbaan; daar staan ’n plaat karre.

    Die klompie mense onder by die bruggie gee pad voor sy kar. Dit verbaas hom dat Beukes en Motaung reeds daar is. Hulle beduie iets aan ’n man wat koponderstebo staan. Kort broek. Dun, wit bene. Die predikant. Wat soek dié ou droë drol hier? Hy lyk selfs ellendiger as gewoonlik.

    My magtag, priester! P.C. maak maar praatjies; die man lyk of hy met die dood deurmekaar is. Jy kan tog nie nou al kom begrafnis hou nie; ons moet eers die saak ondersoek. Dan die ambulans. Dan die dokter. Dán eers jy.

    Morning, Sir. Motaung. Kan Beukes ook wees. Hulle is ’n week by die stasie. Nog vol goeie maniere. Selfs uniforms wat lyk of dit gestryk is. This gentleman here said he discovered a body.

    This gentleman staan steeds kop in die grond. Ek het alles vir die twee konstabels vertel, Adjudant, fluister hy. Alles.

    P.C. moet hom inspan om te hoor. Is die man siek?

    Kan ek dan maar gaan? Ek voel nie … Ek sal sommer hier bo by die rolbalspelers hoor of een van hulle my nie kan huis toe vat nie. Jy weet tog waar om my te kry as daar nog iets is.

    Bleek, krom. Dit lyk of hy enige oomblik kan omkap. P.C. besluit vinnig: Beukes. Of wat jou naam ook al is. Loop saam met die dominee tot by die rolbalbaan. Dan kom jy terug. Haastig.

    4

    Saais, Sááis! Kom help!

    Hy sien nie waarheen Sannie beduie nie; hy het net oë vir haar gesig wat skielik bloedrooi geword het. Toe kyk hy waarheen haar vinger wys – en daar staan hy, swaar leunend teen die klubhuisveranda se pilaar, sy oë gesluit soos ’n mens wat tot die dood toe moeg is.

    My gottatjie, Saais, vergeet Sannie haarself, is daai dan nie ons predikant nie!

    Dit lyk nou vir Saais of die man besig is om ’n hartaanval te kry. Wit in die gesig, sy mond staan oop soos een wat nie asem kry nie. Maar hy maak nie ’n geluid nie, hy staan net daar. En hy lyk sleg. Van sy voete tot bo by sy broek met modder besmeer.

    Vat hom gou huis toe, Saais. Of dokter toe. Hospitaal toe, enigiets!

    Dadelik begryp Saais. Sy wil nie hê die ander moet sien nie, veral nie die besoekers nie. Sy weet hoe belangrik hierdie borgdag vir hulle klub is. Sy wil dit nie laat bederf nie.

    Daar is nie meer juis rolbal-borgdae nie. Beslis nie soos in die ou dae nie. Toe was dit ’n behoorlike klub. Saais weet wat die rede daarvoor is. Niemand wil in ou Gert Esterhuizen se geselskap wees nie. Die ou suurgat. Negatief oor als. Kwaad vir die lewe. Nie dat iemand dit ooit in sy gesig sal sê nie. Deesdae praat hy wat Saais Vogel is sommer openlik hieroor: Jaar vir jaar sien jy hoe betaal ons klub die prys, en dít oor daai ou bitterbek. Mense hernu doodgewoon nie meer hulle lidmaatskap nie. Ons handjie vol bittereinders wat die klub oor jare heen opgebou het, ons voer ’n opdraande stryd om alles in stand te hou.

    Die enkele borgdae is hulle behoud. Maar die dorp se sakemanne raak al hoe taaier om geld te gee. Saais ken Gert se rympie hieroor al uit sy kop. Ons is te leliewit na hulle sin, sê hy ná elke minder suksesvolle kollekteerpoging. Temerige ou rassis wat hy is. En onnosel. Ek sê vir hulle, gloei ou Gert voor die ander, ek sê: ‘Kyk net wie spandeer die groot geld by julle. Moenie julle blind staar teen getalle nie.’ Maar nee, dis mos net sokker, sokker, sokker!

    Saais, dóén iets! roep Sannie.

    Vervaard klap Saais op sy hempsak, kry die sleutels dan in sy broeksak. Maar sy kar is vasgetrek en hy moet Gert se sleutels gaan vra. Dié is besig met ’n taai wedstryd teen ’n gewese provinsiale kampioen. Ha! dink Saais terwyl hy die motorsleutels by hom aanvat, kyk net hoe wild staan sy oë – natuurlik fluks besig om op sy moer te kry.

    Niemand help Gert reg oor die presiese ligging van die koopkrag in ’n dorpie soos dié nie, beslis nie die winkelbase nie. Hieroor neem Saais hulle erg kwalik. Hy weet wat Piet Paai sal sê: Los tog die oubaas, hy is amper tagtig, hy’s geregtig op sy onkunde. Maar dis mense soos die kafeebaas wat maak dat Gert Esterhuizen jaar vir jaar net erger word.

    Skouperd voor die klub se vrouens: Julle moet maar mooi dink voor julle in die vervolg by Spar koop, sal hy sê. Of by Piet Paai. En selfs die garage, wat mos vra net wat hulle wil om ’n skroefie aan jou kar vas te draai. Die skedonke van anderkant die pad loop die strate vol. En hulle mors olie op ál wat ’n parkeerplek is.

    Saais maak die Corolla se deur vir die arme verdwaasde predikant oop. As die man net iets wil sê! Het hy in die rivier geval? Het hy oor die hengelaars se groot klippe probeer loop? Hy moet mos wéét die rivier is niemand se speelplek nie; hy’s ’n geleerde mens.

    Ou Gert het net standerd ses en die bietjie logika wat hy dalk gehad het is nou geheel daarmee heen. Daar was nooit veel verstand nie, het Saais laas jaar al vir Piet Paai gesê. Maar nou raak hy die kluts so kwyt dat dit vir ons ’n verleentheid is en die hel uit almal irriteer.

    Maar, wonder bo wonder, uiteindelik kom Gert tog met geborgde pryse by die klub aan. Saais het geen idee hoe dít werk nie. Waarskynlik wil hulle net ontslae raak van die ou. Dalk kry hulle hom jammer en wil hulle nie sy gevoelens seermaak nie.

    Dit lyk darem nie of die predikant seergekry het nie. Die modder op sy bene is reeds aan die hard word. Dis net sy voete wat nog deurnat is; daai tekkies is daarmee heen. Maar hy kan maar op hierdie kar se sitplekke mors.

    Saais neem hom pastorie toe. Die man het net sy kop geskud toe hy hom vra of hulle nie maar eers ’n draai by Oudok moet maak nie. En toe het hy iets gesê van ’n lyk wat onder die brug lê. Seker maar ’n swarte, dink Saais, anders was daar vanoggend ’n groter gedoente by die bruggie. En dit sou die borgdag ordéntlik beduiwel het!

    Elke jaar kom spog die dooilam van ’n Gert met ’n hele klompie skenkings. Beloftes van vleis van die slaghuis, skinkborde met eetgoedjies van Piet Paai. Kontant van die garagebaas. En van Oudok, wat tog nie sy naam genoem wil hê nie. Ons borgdag is aan, kom kraai Gert dan by die vrouens. Triomfantelik, die ou bitterbal: Oudok sê vir my: ‘Gert,’ sê hy, ‘ek hoop die rolbalklub waardeer alles wat jy vir hulle doen.’

    Sien julle dan nie dwarsdeur hom nie, wil Saais vir hulle vra. Hy is altyd die held in sy eie verhaal, al moet hy dan ook vrá vir ’n handeklap. Die vroumense se goedkeuring uit hulle uit mélk. Nie dat daar veel aan hulle te melk is nie. Ou droë koeie.

    Toe hulle by die Portugees se drankwinkel verbyry en hy die klompie vroeë klante op die sypaadjie sien, wonder Saais vir ’n oomblik oor die lyk. Seker ook maar dronk gewees en in die rivier geval en versuip. Dit het al gebeur. Maar hy kan seker nie die beteuterde skepsel hier langs hom probeer uitvra en dan nog verder ontstel nie. Dié sit steeds met sy oë bot toe en sy kop agteroor gegooi asof hy aan die slaap geraak het. Maar Saais weet hy sal wel agter die kap van die byl kom. Op ’n dorp soos dié vat ’n storie sommer kortpad; dit weet hy wat Saais Vogel is maar te goed.

    By die pastorie gekom, stop Saais so na hy kan aan die randsteen. Die predikant se vrou maak onmiddellik oop nadat hy geklop het, asof sy by die deur gestaan en wag het. Fraai ou dingetjie, dink Saais, so met die langbroek. Nie kinders wat haar afgerem het nie. Maar sy loop ook nie juis oor van dankbaarheid nie. Groet skaars. Nooi hom ook nie binne nie. Vat net haar man vinnig aan die arm en in by die huis. Druk die deur toe.

    Teen die passasierskant se ruit, sien Saais met die terugklim in Gert se kar, sit die vetkol waar die dominee sy kop laat leun het. Die sitplek is vol halfdroë modder soos dit van hom afgeskilfer het. Die mat by sy voete is sopnat. Die kar sal behoorlik skoongemaak moet word. Gert Esterhuizen se bydrae vir die kerk, die ou klipchristen.

    Wag net tot hulle hoor van die lyk in die rivier! Saais gee vet. Hy probeer nie eens uitswaai vir die slaggate nie.

    5

    Wie sou hulle al ’n lyk gewys het? wonder adjudant-offisier P.C. van Deventer. Niemand by die kollege nie. Nie deesdae nie. Wie van die twee gaan eerste kots?

    Hulle is wel geleer om handskoene aan te trek, sien hy. Kan nog nie hulle snotneuse afvee nie, maar kan vigs van hulle lywe afhou.

    Wat maak ek met hulle? het P.C. vir kaptein Coffee gevra. Buitendien het ek nie ’n goeie rekord met studentekonstabels nie. Kaptein sal dit al in my lêer gesien het.

    Hy het geweet dit sou nie help nie. Kaptein Reginald Coffee se selfvertroue het toegeneem sedert hy hier aangekom het. Dis reeds ses maande. Vat tog maar die twee jong manne, Adjudant. Leer hulle om polisiemanne te wees. Jy’s tog ’n ou hand, Peesee!

    P.C. van Deventer het al geleer om sy mond te hou wanneer sy ore begin suis.

    Wys jy hulle hoe ons sake op die grond benader, het die kaptein gepaai. In die kollege het hulle geleer om trots te wees op die uniform; jy moet hulle leer hoe om daardie uniform vir hulle te laat wérk. En, Peesee, tel tog maar jou woorde voor hulle. Jy weet hoe die kolonel voel oor ’n gevloekery by sy manne.

    Ek is nie een van die kolonel se manne nie, Kaptein, sou hy vir Coffee gesê het as dit nie vir die skielike hoë fluitgeluid in sy ore was nie. Ek het my trots. En my woorde is myne. Ek sal hulle tel soos en wanneer ek wil.

    Maar hy sê niks. By Coffee se soort loop jy gedurig op dun ys. Gelukkig hou hulle nie lank op ’n dorp soos dié nie. Hierdie kaptein sal ook binnekort stad

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1