Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die ewigheid in my hart: 'n Gebed vir elke dag uit die Psalms
Die ewigheid in my hart: 'n Gebed vir elke dag uit die Psalms
Die ewigheid in my hart: 'n Gebed vir elke dag uit die Psalms
Ebook752 pages17 hours

Die ewigheid in my hart: 'n Gebed vir elke dag uit die Psalms

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Wat maak die Psalms so geliefd? Dit moet die menslikheid daarvan wees. Hier, in die hart van God se Woord, tussen al die groot woorde en ingrypende gebeure deur, staan die liedere en gebede van 'n ou volk opgeteken. Hulle uitbundige vreugde en hulle diepe hartseer; hulle worstelinge, onbegrip, hulle moedeloosheid. Sóveel van hulle geskiedenis. En nog net so van toepassing op vandag. Die gebede in hierdie boek is in gesprek met die Bybel se psalmboek gebid. Dit verklap sekerlik heelwat van die bidder en die manier waarop hy die Psalms lees. Maar dalk bring dit ook iewers, vir iemand, 'n skerfie lig. En 'n duideliker blik op die Eerste Adres vir ons hedendaagse vrae, ons knaende kleingeloof, ons hardnekkige twyfel - en die genadige sekerhede. En vir ál ons lof, dank en aanbidding.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateSep 25, 2015
ISBN9780796318947
Die ewigheid in my hart: 'n Gebed vir elke dag uit die Psalms
Author

Barend Vos

Dr. Barend Vos is 'n bekende Christenskrywer en predikant. Hy het al verskeie boeke uitgegee: van dagstukkies en literêre fiksie tot romans met die Bybelse gegewe as agtergrond. Hy wen in 2001 die CBSA-prys vir fiksie vir Eksodus en in 2016 die Andrew Murray-prys vir Ewigheid in my hart. Hy skryf elke maand vir LiG-tydskrif sy Grootseun-storie. Hy is in 2016 bekroon met 'n ATKV-veertjie vir een van sy LiG-stories.

Read more from Barend Vos

Related to Die ewigheid in my hart

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die ewigheid in my hart

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die ewigheid in my hart - Barend Vos

    Die

    ewigheid

    in my

    hart

    ’n Gebed vir elke dag uit die Psalms

    Barend Vos

    Lux Verbi

    Voorwoord

    Ek het grootgeword in ’n huis waar daar huisgodsdiens gehou is – met Pa wat graag uit die Bybelse psalms gelees het.

    Later jare, as predikant op die Noord-Kaapse platteland, het ek opgemerk hoe gemeentemense se Bybels so ’n bruingevatte strook aan die voorkant het, daar in die middel rond. By die Psalmboek.

    Wat maak die Psalms sulke geliefde leesgoed?

    Ek dink dit is die menslikheid daarvan. Hier, in die hart van God se Woord, tussen al die groot woorde en ingrypende gebeure deur, staan die liedere en gebede van ’n ou volk opgeteken. Hulle uitbundige vreugde en hul diepe hartseer; hul worstelinge, onbegrip, hul moedeloosheid. Sóveel van hul geskiedenis.

    En, uiteraard, hulle God en die rol wat Hy in hul lewe en die lewe van hul voorouers gespeel het. Dit is immers aan Hom wat die vrae gevra word; dit is Hy wat hul klaagliedere moet aanhoor. En Hy is die Een aan wie hulle die lof bring.

    Al hierdie sake raak, millennia later, steeds die Bybelleser se hart. Die konteks verskil aansienlik en die destydse kultuur is soms bitter vreemd – maar sal daar ooit opgehou vra word na God se teenwoordigheid, en na sy rol in ons en ons mense se lewe? Wie sal Hom nie aan sy beloftes wil herinner nie, en by wie sal ons ons teenstanders gaan verkla? En wanneer sal die laaste halleluja! verstom?

    Die gebede in hierdie boek is in gesprek met die Bybel se psalmboek gebid. Dit verklap sekerlik heelwat van die bidder en die manier waarop hy die Psalms lees. Maar dalk bring dit ook iewers, vir iemand, ’n skerfie lig. En ’n duideliker blik op die Eerste Adres vir ons hedendaagse vrae, ons knaende kleingeloof, ons hardnekkige twyfel – en die genadige sekerhede. En vir ál ons lof, dank en aanbidding.

    BAREND VOS

    14 September 2015

    Januarie

    Lees Psalm 1    |    1 Januarie

    Vir hierdie nuwe jaar

    Here, seën my in hierdie jaar wat voor my lê!

    Seën my met die vreugde wat ek in u Woord sal vind.

    Seën my met die begeerte en die vermoë om dit dag

    en nag te oordink, sodat ek die uitdagings wat elke dag

    op my wag, en die vrese en onsekerhede wat die nag bring,

    in u geselskap kan aanpak.

    Seën my met die vermoë om te onderskei,

    sodat ek my nie op twyfelagtige raad sal verlaat nie.

    Pla my met u seën, ja, hinder my, maak my ongemaklik,

    sodat ek ál meer ontuis sal voel in die byeenkoms

    van die spotters. Dat ek sal opstaan, my sal verskoon,

    dat ek desnoods omdraai en ’n ander koers inslaan.

    Seën my met die krag wat net van U kan kom,

    met die vermoë om steeds te groei, te ontwikkel.

    Sodat die vrugte wat ek op die regte tyd sal dra,

    tot voordeel, tot genot, van ander en myself sal wees.

    En tot eer van U, die Gewer van alle goeie gawes.

    Ag, Here, en as ek mag vra … seën asseblief ook hulle

    wat in die byeenkoms van die spotters bly sit het.

    Hul ligsinnigheid oor die waarheid sal hulle duur te staan kom.

    Hulle het gekies om deel van dié bedenklike geselskap te bly.

    Hulle besef nie wat die uiteinde van hierdie keuse is nie.

    Hulle weet nie wat hulle doen nie.

    Ek is nie beter as hulle nie, Here.

    Daarom bid ek vir hulle:

    Red hulle van hulleself,

    soos U my gered het.

    En neem ons aan die hand,

    elke tree van die pad,

    hierdie nuwe jaar tegemoet.

    Lees Psalm 2    |    2 Januarie

    Koning van die konings

    Here, U ken konings! Hulle hou hulle groot

    en gebruik woorde wat by hierdie waan pas.

    Ja, regeerders raas en blaas en skop stof op

    om hul teenstanders te intimideer en só

    hul troon te bestendig. Hulle reken hulle sal

    vir altyd regeer en hul naam sal tot in alle

    ewigheid voortleef. Hul volgelinge is die

    ene bewondering, hul vyande effens bewerig.

    En U lag hulle uit.

    Dit sal die heersers straks loon om ’n bietjie meer

    beskeie te wees en hul grandiose planne ligweg

    te temper. Ag, hulle kan sekerlik maar hul lawwe

    speletjies met mekaar speel, of hoe, Here? En hul

    grootman-maniertjies potsierlik aan die wêreld wys.

    Hul medaljes dra, hul trone versier, die vergulde

    swaard probeer optel, toesprake met weidse gebaar

    aflees, korrupsie regverdig, ’n groot maag wegsteek.

    U lag hulle uit.

    U planne vir dié wêreld en vir u kinders hier

    is vergete reeds gemaak; in u boek is alles

    lánkal opgeskrywe. U werp ’n skadu oor die

    slinkse planne en trek ’n streep in die sand.

    U keer die bose by u grense voor en dek die

    agterhoede wanneer u kinders sukkelend wal

    gooi. U hou u hand oor u mense, u voetspoor

    is hul padkaart, u arms hul heel beste troos.

    Want U regeer.

    Daarom buig ons laag –

    nét voor U, o Heer;

    Voor U,

    Koning van die konings.

    Lees Psalm 3    |    3 Januarie

    My baie vyande

    Here, ek dank U vandag vir die vriende wat ek het –

    hulle is so kosbaar:

    die lojales, die onvoorwaardelikes;

    hulle wat lief is vir my, ongeag …

    Ag, Here, maar dan is daar ook diegene wat my haat.

    Ek verstaan nie aldag wat hulle teen my het nie –

    daardie mense wat hulle teen my verset,

    dié wat aktief stemming maak teen my.

    Soms lyk dit asof hulle in hul doel slaag –

    hulle kry ál meer simpatiseerders by.

    Word my teenstanders dan ál meer?

    Hulle word beslis ál selfversekerder, arroganter.

    Hulle pak sommer vir U ook aan!

    Hulle sê: Gaan God hom red? Nie sommer nie!

    Hulle ken U nie soos ek U ken nie:

    U is die Een wat die kwaad van my wegkeer, die skild

    wat my teen die brandende pyle beskerm.

    Ek hoef nie koes-koes deur die wêreld te sluip nie,

    ek mág maar, in u krag, my kop hoog hou.

    Nooit roep ek in ’n leegte in nie;

    U antwoord my, keer op keer.

    Van u berg af, deur hierdie wêreld se verraderlike klowe heen,

    kom u antwoord na my toe aangerol.

    Eggo dit, oor en oor, sodat ek góéd moet hoor.

    Met hierdie herhaalde versekerings in my ore

    gaan slaap ek, gerusgestel, vol vrede

    en met nuwe vooruitsigte vir die dag wat op my wag.

    Môreoggend sal ek opstaan en sê: Hallo, Here!

    Dankie dat U my laat rus het. Dankie dat U my gerus maak.

    My beskermer.

    Ek is nie meer bang nie, want U ruk my vyande in die bek.

    Hulle is niks.

    Lees Psalm 4    |    4 Januarie

    Ons lig

    Here, ons kom al ’n lang pad, ek en U.

    Ek was al sóveel keer in die moeilikheid

    en dan het U my uitgehelp;

    soveel keer vasgevang,

    en dan het U my losgemaak, vrygelaat.

    Vir my ruimte gemaak.

    Daarom, Here, bid ek nou weer, smeek ek:

    Hóór my, asseblief!

    U weet dat daar mense is wat nie van my hou nie.

    Dit wat hulle oor my sê en beplan,

    is net op een ding gerig:

    Om my leed aan te doen.

    O Here, laat hulle tog besef dat hulle met vuur speel

    wanneer hulle een van u getroue volgelinge se eer skend.

    Laat hulle tog weet dat U na my luister wanneer ek roep.

    Ek roep na U, Here! Hoor my!

    Elke dag beleef ek u goedheid.

    U is teenaan my, en hierdie intieme teenwoordigheid

    skyn helder oor my.

    U sorg vir die brood en die wyn, die oorvloed op my tafel.

    U sorg vir die oorvloed in my hart, die vreugde.

    U gee die vrede wat maak dat ek kan gaan lê

    en gou aan die slaap raak,

    omdat U die Een is wat my bewaar.

    Dan is daar ook dié wat nog meer sukkel as ek.

    Hulle ken U nie regtig nie. Hulle sien U nie.

    Hulle onthou U vaagweg as die God van gister.

    Hulle sê: Déstyds was God goed …

    maar waar is Hy nou?

    U is hiér, Here, ek weet,

    U is hier in die lig.

    U is ons lig.

    Lees Psalm 5    |    5 Januarie

    In die vroegoggend

    Reeds in die vroegoggend, Here, roep ek U aan,

    in die volle verwagting dat U my hoor.

    En in die loop van die dag

    spits ek my ore vir u antwoord.

    Bloot ’n aanduiding dat U my gehoor het

    is vir my genoeg, Here!

    Maar sê tog, wýs my weer, asseblief,

    dat U nie goddeloosheid duld nie,

    dat boosheid U ontstel.

    Dat slimstories U nie beïndruk nie

    en grootmonde U nie bluf nie.

    Dat die wiel uiteindelik sál draai,

    omdat U aan die stuur is.

    U is lief vir my, Here,

    en daarom mag ek na U toe kom.

    Ek buig laag voor soveel onvoorwaardelikheid,

    en ek vra: Leer my om te midde van my teenstanders

    se baie stories, te kan onderskei wat u wil en u weg is.

    Hulle praat regtig báie, Here – en kán hulle lieg!

    Hul woorde is so soet, so vroom.

    Soms dink ek – hoe vreemd dit ook al mag klink –

    hulle glo hulself.

    Maar U weet hoeveel bedrog lê daar

    diep agter op hul tong

    en uit watter bose hart dit voortkom.

    U moet met hulle afreken,

    op u tyd en op u manier –

    U wat alles van hulle af weet.

    Intussen sal ek agter u rug skuil.

    Ja, ek kom kruip solank by U in.

    Lees Psalm 6    |    6 Januarie

    By wie sal ek gaan huil?

    Here, moenie vir my kwaad wees nie …

    maar hier huil ek al weer. Ek is jammer.

    Hoe kan ek tog my trane vir U wegsteek?

    By wie sal ek gaan huil?

    Wie anders sal ek met my leed vertrou?

    Here, U moet tog goed kyk hoe lyk ek,

    hoe uitgeteer ek is.

    En ek is moeg, Here, so bitter moeg.

    En baie bang.

    U moet weet hoe bekommernis my uitmergel –

    ek is net vel en been. Sien U dit?

    Hoor U my ooit?

    Of slaan my gesoebat teen die dak vas

    en wag ek tevergeefs?

    Ek kan tog nie nou al doodgaan nie, Here!

    U moet my asseblief nie los nie –

    ek wil nog oor U praat, van U vertel

    en vir almal sê: God is goed.

    Terwyl ek nog asem het, wil ek uitroep:

    Sy Naam is groot!

    Maar nou vertel my dikgehuilde oë

    ’n ander storie en almal hoor hoe ek

    na my asem hyg. Ek is al moeg gesug,

    gedaan gekla. Skaam, want almal ken

    reeds my verhaal. Ek slaap nie meer nie.

    ’n Mens kry nie rus as jou kussing nat is nie.

    U hoor my snikke.

    U sien my trane.

    Daarom sê ek nou: Gee pad, julle!

    Ek skreeu: Weg is julle! Kwaadpraters!

    U laat hulle druipstert omdraai.

    Niemand mors met u kinders nie.

    Lees Psalm 7:1-6    |    7 Januarie

    As dit mý skuld is …

    Here, ek hardloop weg

    van hulle wat my bloed soek.

    Hulle sal nie ophou nie.

    Hulle maak behoorlik jag op my,

    hulle is soos roofdiere wat ’n prooi

    se reuk gekry het en nie gaan opgee

    voordat hulle my nie verskeur het nie.

    Soos altyd het ek net een toevlug –

    en dit is U. Help my, asseblief!

    Laat my by U wegkruip,

    maak u arms vir my oop en neem my

    onder u beskerming. Bewaak U my tog!

    Want as hulle my in die hande kry,

    bly daar niks van my oor nie.

    Hulle is baie en hulle is sterk.

    Hoekom het hulle mý geteiken, Here?

    Waarom bly hulle op my spoor?

    Is dit iets wat ek gedoen het?

    Het ek iemand te na gekom?

    Kleef daar bloed aan my hande?

    Is dit alles … dan mý skuld?

    My groot vrees is dat ek ’n vriend leed aangedoen het.

    Vriende is so kosbaar.

    Ag, en dalk het ek my sleg gedra teenoor iemand wat lelik was met my.

    Here, as dit dan só is, as ek iemand verontreg het

    – vriend of vyand – dan het ek geen verskoning nie.

    Dan ís ek skuldig en dan moet die waarheid wen;

    die geregtigheid wat van U kom, seëvier.

    Ek sal die prys vir my misdrywe betaal,

    ek sal my pak soos ’n mán vat.

    Dan moet hulle maar kom.

    Ek sal my nie teësit nie.

    Dan is dit maar reg so …

    Lees Psalm 7:7-18    |    8 Januarie

    Here, word tog kwaad!

    O Here, ek wag dat U kwaad raak.

    U moet woedend word

    en lostrek op hulle wat my leed aandoen.

    Maak dié stil wat so op my skreeu,

    maak hulle gelyk met die grond!

    U is ver bo almal en alles verhewe;

    daar is niemand of niks wat eens

    naastenby u gelyke is nie,

    U troon hoog bo hulle uit.

    U sien ver, oneindig ver,

    en U weet alles.

    U weet dus dat ek dit goed bedoel.

    Daar is nie bedrog in my hart nie.

    Daarom vra ek mooi dat U dit in ag sal neem

    wanneer U ’n oordeel uitspreek en voltrek.

    Dat U wat hoog is, nie my opregtheid sal miskyk nie.

    Ek weet U sal nie, want U sien dwarsdeur my;

    my motiewe lê oop en bloot voor U.

    Maar die kwaaddoeners se knoeiery ontstig U.

    Ek hoop vir hul onthalwe dat hulle teen U gepantser is,

    dat hulle u boog en brandpyle kan ontwyk.

    Hulle kan niemand anders die skuld gee

    vir wat hulle gaan tref nie –

    hulle is die skeppers van hul eie ondergang.

    Die onheil wat by hulle uitbroei

    en wat hulle uiteindelik gaan vernietig,

    is hul eie maaksel.

    Hulle trap in hul eie strik,

    hulle tuimel kop eerste in die gat

    wat hulle vir ander gegrawe het.

    God sorg vir die regverdiges –

    en dít is iets om oor te sing.

    Luister dan hier, julle almal:

    Prys die Here vir wat Hy doen!

    Lees Psalm 8    |    9 Januarie

    Wat is ’n mens dan …?

    Here, ons Heer,

    u Naam klink helder oor die aarde heen,

    u roem skitter aan die hemel.

    U mag strek verby my verste denke oor U.

    Selfs die kleinste ou kindertjies weet dit wanneer

    hulle sing: "My God is so groot, so sterk en so magtig;

    daar’s níks wat my God nie kan doen!"

    Hul stemmetjies doof die slimstories uit;

    die kordate kenners bly stil as kleintjies sing.

    En kyk ek op, na die sterre, ken ek eensklaps my plek.

    Want as ek my die ruimte ánderkant my blote oog verbeel,

    slaan dit my heeltemal stom. Dan weet ek nie hoe U mý,

    stofkolletjie, raaksien nie; nog meer: dat U aan my dink nie.

    Tog weet ek dat u grootheid bevestig word

    juis deur u aandag aan besonderhede,

    u diepe nadenke oor klein dingetjies

    en piepklein mensies.

    Op ’n manier – en ek weet regtig nie hoekom nie –

    het U die mens verhef. Het U aan ons ’n waarde

    gegee wat ons waaragtig nie verdien nie:

    U het ons dan ampergode gemaak!

    ’n Soort baas oor u handewerk.

    U het ons gekroon met aansien wat ons verleë maak,

    omdat ons weet dat ons dit nie werd is nie.

    Ag, Here, ek verstaan hiervan niks,

    ek sê maar net dankie vir die diere, die voëls, die visse –

    almal ú skepsels, wat my lewe so oneindig verryk.

    Leer my elke dag om mooi te kyk

    na wat U aan my toevertrou het –

    U wat so mooi na mý kyk.

    Here, ons Heer,

    klokhelder klink u Naam oor u skepping heen!

    Lees Psalm 9:1-7    |    10 Januarie

    Hoor my hart

    Here, vandag borrel die vreugde sommer in my op!

    Dikwels is my blydskap mos … stiller, besadiger –

    ek is tog nie meer ’n kind nie

    en uitbundigheid by ’n grootmens

    laat niksvermoedendes skeef opkyk.

    Maar vandag is dinge anders;

    ek is immers die getuie van ’n Godswonder.

    Daarom: "Kyk maar as julle wil!

    Hóór my as ek sê God se goedheid

    het nie grense nie. Sien tog my vrolikheid

    voor die Here – ja, ek is sommer lus om te sing!"

    Here, dankie dat ek hierdie dag kon beleef.

    Dat ek kan leef, is ’n onmeetlike voorreg.

    En dat ek die soetheid van oorwinning

    steeds agter in my keel kan proe,

    maak hierdie lewe ’n loutere genot.

    Dankie vir u ingrype.

    Dankie dat ek dié dag gegun is, dat ek kon sien hoe U

    met kwaaddoeners klaarspeel. Tog verstommend

    hoe hulle die aftog blaas wanneer U aankom!

    Oor hul voete val soos hulle haastig padgee,

    so ver moontlik van U af weg.

    Want U het op u troon gaan sit

    en hulle net één kyk gegee –

    en toe is dit verby.

    Hul hele ou wêreldjie het ineengestort.

    Hul naam is tot niet, uitgewis, asof dit nooit bestaan het nie.

    Wie sal ooit weer oor hulle praat – behalwe om te vertel van dié keer

    toe die Here hulle weggevee het? Dit is klaar met hulle, ja.

    Maar met mý het U weer begin.

    Luister na my loflied hieroor, mense!

    Hoor my hart, Here,

    ontvang my oorvloedige dankbaarheid.

    Lees Psalm 9:8-13    |    11 Januarie

    Kom na My toe!

    Here, U het reeds oor en oor gewys

    dat U die Heerser oor die wêreld is.

    Deur eeue heen sien die mensdom dit.

    Die God van nasies, noem hulle U;

    die Een wat oor die volke oordeel.

    Maar ek beleef u heerskappy ook in my eie klein wêreldjie,

    wanneer U wat groot is na my toe afbuk.

    As U vir my sê: Toemaar, toemaar …

    Dan verwonder ek my: Is dit hoe die grote God klink?

    Is dit hoe Hy fluister?

    U wat die mensdom bulderend kan oordeel,

    Here, U wat oordonderend kan regeer –

    Ú kies om sag te wees.

    Is dit omdat U weet hoe hard hierdie wêreld is,

    en van u kinders se weerloosheid teen kragdadigheid?

    Of is dit maar soos U is –

    die Almagtige wat in die aandwind met sy kinders wandel,

    die Alwetende wat in die stilte fluister?

    Dié een wie se krag juis in ons swakheid vervul word?

    Dan het dit vir my sin, Here, dat U ook Toevlugsoord heet.

    Dat brose mense in u teenwoordigheid tuiskom

    en ontredderdes van altyd af by U skuil.

    U wat ons op die naam ken,

    en ons só roep,

    U laat U ook deur óns ken,

    sodat ons U op die Naam kan roep:

    Here, help!

    Sodat ons weer en weer kan hoor

    hoe U antwoord: Hier is Ek!

    En nóg ’n slag kan sien hoe u arms wyd oopgaan

    terwyl U herhaaldelik sê:

    Kom na My toe!

    Lees Psalm 9:14-21    |    12 Januarie

    Ek sal sonder ophou praat

    Ek het heelwat om te vertel, Here –

    láng stories oor U

    wat my gered het – lank gelede, én heel onlangs.

    Nou is dit weer sulke tyd …

    Asseblief, Here, daar is mense

    wat dit nie goed met my bedoel nie.

    Hulle haat my met ’n passie

    en U is ál wat my kan help:

    Red my uit hul kloue!

    Ek belowe ek sal weer hiervan vertel;

    ek sal sonder ophou praat

    en ek sal jubel oor U, my Verlosser.

    Die boosdoeners val in die gat wat hulle gegrawe het,

    hulle skiet hulleself in die voet.

    Dat ’n mens nou só die argitek van jou eie ondergang kan wees …

    Maar U het weinig simpatie met hulle;

    hulle het immers gekies om U nie te ken nie.

    Hulle het die gesig weggedraai toe U verskyn,

    hulle uit die voete gemaak toe U naby kom.

    Nou moet hulle maar sien kom klaar.

    U aandag is op die hulpeloses toegespits.

    U onthou dié wat weet dat hulle

    nie sonder U kán klaarkom nie.

    Ons wat niks het om aan U te bied nie,

    wat keer op keer met leë hande voor U kom staan,

    óns hoop is op U, wat ons nooit sal vergeet nie.

    Ons vertrou U met ons magteloosheid

    en moedeloosheid; U sál ’n plan maak.

    Daardie spul weet niks, Here;

    hulle is ook maar mense, dom en sonder insig.

    Maar, dankie tog, ék weet,

    ek weet genoeg,

    en ek sal dit oor en oor sê.

    Lees Psalm 10:1-11    |    13 Januarie

    Waar is U?

    Waar is U?

    Hoekom sien ek U nie, Here?

    Waarom hoor ek niks van U nie?

    Speel U ’n speletjie met my?

    Kruip U dan vir my weg?

    Ek het U nou nodiger as ooit –

    U moet die verwaande goddeloses keer.

    Hul hoogmoed ken geen perke nie;

    hulle sê net wat hulle wil,

    sonder dat iemand dit waag om hulle teë te gaan.

    Hulle doen net waarvoor hulle lus het,

    vas oortuig dat niemand hulle sal stuit nie.

    Hierdie soort mens verkondig wyd en syd

    dat hy onaantasbaar is, onoorwinlik, sonder weerga.

    Sonder gewete – en trots daarop!

    Here, U moet net hoor wat sê hy van U!

    Hy sê dit is onwaarskynlik dat daar ’n God is;

    elke mens is sy eie beste baas.

    Ek maak soos ek wil, smaal hy, "en solank ek genoeg wins maak,

    is dit reg met my. Ek het vrede met jou en jou sogenaamde God."

    Hére! En hy glo homself!

    In sy eie oë is hy onaantasbaar; hy sê dit was deur die jare só –

    met sy pa voor hom, en dié se pa voor hóm.

    Ons maak soos ons wil, sê hy, "niemand kon ons nog ooit keer nie.

    En wys my wie gaan dit nou probeer?"

    Wié gaan hulle keer, Here?

    Hulle lê die hulpelose voor,

    hulle vergryp hulle aan die weerloses.

    Waar is U dan, Here?

    Sien U dit nie raak nie?

    Kyk tog,

    kýk, asseblief tog, Here!

    Lees Psalm 10:12-18    |    14 Januarie

    Ons ken U

    Here, waar kom die goddeloses daaraan

    dat U nie omgee nie?

    Wie het hulle wysgemaak dat U

    u kinders ignoreer?

    Is dit omdat hulle U nie ken nie

    dat hulle U nie raaksien nie?

    Hoe sal hulle sien dat U opstaan en u kinders troos?

    Hulle lewe dan ongetroos, volledig aan hulleself uitgelewer;

    slagoffers van hul eie genadeloosheid – dit is ál wat hulle ken.

    Maar óns ken U.

    En ons weet hoe dit is wanneer U ons swaarkry vir u rekening neem,

    wanneer U ons laste op u skouers tel en dit dra.

    Ons het daaraan gewoond geraak om ons sorge aan U oor te gee,

    sodat u hand dit kan toevat, dit van ons af wegneem.

    U sal daarmee maak soos U weet reg is

    en op ’n tyd wat U reeds bepaal het.

    Ons kan onsself nie help nie, Here,

    en daarom is dit vir ons allertroostend

    dat U óns – probleme en al – in u hande hou.

    Soos U na weeskinders omsien,

    só kyk U na ál u kinders.

    So sien U almal raak –

    ook die boosdoeners.

    U moet húlle deeglik ondersoek,

    vlek hul boosheid tot op die been toe oop,

    sodat daar nêrens meer vir hul skuilplek is nie.

    Jaag hulle rond, Here, hot en haar –

    totdat hulle die pad vat!

    U oor is na ons gedraai,

    ons hart is gerus:

    Ons het ’n tuiste by U.

    Lees Psalm 11    |    15 Januarie

    Onder u vlerk

    Ek kruip weg by U, Here,

    en daarom ontstel dreigemente my nie.

    Mense wat knaend waarsku: Pasop vir dié!

    en vol besorgdheid maan: Wees versigtig vir daai!

    kan maar gerus wees:

    Die Here is my skuilplek.

    Dit is nie dat ek nié van die gevare weet nie;

    ek is maar té bewus van bose mense en hul

    duistere planne, van hul wreedheid en wraaksug.

    Ja, ek ken my weerloosheid, Here, my blootgesteldheid,

    en ek weet hoe min ek eintlik daaraan kan doen.

    As hulle daarop ingestel is om my leed aan te doen,

    sal hulle dit sekerlik regkry. Ek het geen verweer nie.

    Daarom hardloop ek, weerlose kind,

    met my arms uitgestrek

    gereeld na U toe.

    En voel ek veilig by U,

    want U het ook my hart gesien.

    Hierdie hart wat U s’n is.

    Vir hulle wat net wil seermaak, ja, doodmaak,

    vir hulle het U nie tyd nie. U verag hulle.

    Daarom keer U nie die kwaad van hulle af weg nie;

    dit kom onverdun op hul kop af.

    Dit sal hulle verswelg

    en uiteindelik verteer – goed so!

    Maar vir my, u kind,

    met die hart wat U

    vir U gevat

    en skoongewas het,

    vir mý is U ’n tuiste.

    So skuil ek by U.

    Kyk dan net hoe kruip

    ek onder u vlerk in …

    Lees Psalm 12    |    16 Januarie

    Maak u stem dik, Here!

    Here, kan ’n mens niemand meer glo nie?

    Het almal dan nou begin lieg?

    Vandag sê hulle dié ding,

    môre pas hulle weer hul storie aan.

    Soos dit hulle pas,

    só draai hulle die mantel

    en verdraai hulle die waarheid.

    Hulle roem openlik op hul gladde praatjies;

    hulle is trots op wat hulle met hul groot mond uitrig.

    Die skade wat hulle aanrig, is nie vir hulle ’n skande nie,

    inteendeel.

    Daarom is my hoop op U gerig,

    om hulle tot orde te roep,

    om hul mond te snoer.

    Hulle doen soveel kwaad met wat hulle willens en wetens sê –

    al die roekelose praatjies wat so argeloos rondgestrooi word.

    Dit is tog niks anders as geweld nie, Here!

    Hulle maak seer,

    nee, méér: Hulle moor met die mond.

    Staan tog op, Here,

    maak u stem dik.

    Vertel hulle reguit wat U van hul gemeenheid dink.

    Praat dan ook met ons wat so onder hulle ly.

    Ons het ’n behoefte aan u woorde,

    u salwende woord, ons met die oop wonde.

    Leer ons dan sommer, Here,

    om ons minder te steur aan die los mond

    van hulle wat deur ego en eiebelang gedryf word.

    Help ons om hul goedkoop geklets te vermy,

    om ons ore vir u stem te spits. Ons wil U duidelik

    hoor wanneer U die geraasmakers doodpraat.

    Ons vreugde

    is u woord

    wat lewe gee.

    Lees Psalm 13    |    17 Januarie

    Ek kan nie meer nie …

    Vergewe my, Here, maar ek kan eenvoudig nie meer nie:

    Ek kan nie meer glo dat U luister as ek praat nie –

    wanneer ek soebat, smeek, sonder ophou móói vra.

    U reageer dan nie …

    Dit is asof U wegkyk wanneer ek smekend na U opkyk.

    Asof U u ore toedruk wanneer ek so huil.

    Dit is nou te sê ás U daar is waar ek kyk,

    waarheen ek roep.

    Ás U hoegenaamd … is.

    Sonder dat ek wil, dink ek my die troosteloosheid in

    van ’n lewe sonder God.

    ’n Wêreld met ’n doofstom God is ’n woestyn.

    My bors trek toe wanneer ek die moontlikheid oorweeg

    dat God vir altyd weg is. Dat Hy my alleen gelaat het,

    dat ek voortaan my eie potjie sal moet krap.

    Kyk net hoe weerloos laat dit my wanneer U

    nie antwoord as ek op my knieë gaan om te kla nie …

    Hulle het dit toe maklik reggekry, Here:

    Ek wonder oor U.

    Ek twyfel aan U.

    Hulle sê: Nog net ’n klein tydjie,

    en nóg ’n gelowige se geloof het afgesterf.

    Hulle juig oor hul oorwinning – boosheid is bó!

    Dit moet anders wees, Here;

    dit moet soos altyd wees.

    Soos die keer toe U my sonder twyfel gehoor het;

    toe U my gou gehelp het, dadelik verlos het.

    Die dae toe ek nog maklik oor God kon juig

    en sonder om twee keer te dink ’n psalm kon sing.

    Nou bly U al so lank stil.

    Nou kan ek nie meer nie.

    Lees Psalm 14    |    18 Januarie

    Dwaasheid

    Dit is ironies dat ek my oor ander mense

    se dwaling verlekker, Here, eintlik belaglik.

    En oneerlik, want ek is nie anders as hulle nie.

    Ek hou my maar so vroom, so ordentlik,

    maar my hart dra dieselfde dwaasheid.

    En U weet dit.

    U kyk ook na my

    om te sien of ek nie straks anders is nie,

    of ek nie minder afstootlik as hulle is nie.

    Maar toe is ek inderdaad ook een van hulle

    met weliswaar die skyn van insig en godsvrug.

    My sogenaamde intellek spreek die laaste woord:

    Ek glo nie ek glo nie.

    Hoe is dit dan dat U steeds in mý glo?

    Hoe weier U dan om my nee vir ’n antwoord te aanvaar?

    U sê tóg – en dan kom haal U my

    en maak vir my weer plek by U.

    U tel my by die regverdiges.

    U onthou steeds die tyd

    toe ek by U gaan skuil het.

    Eenmaal my kind, sê U, áltyd …

    Al is jy onder dié wat nié goed doen nie, doen Ek goed aan jou.

    Al het jy moed opgegee met My, het Ek jou nooit afgeskryf nie.

    Wat moet ek hierop sê, Here?

    Dat ek, die afdwaler, tog hiér is?

    Steeds in die skuilplek wat

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1