Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Duet: Dagstukkies vir huweliksmaats
Duet: Dagstukkies vir huweliksmaats
Duet: Dagstukkies vir huweliksmaats
Ebook754 pages26 hours

Duet: Dagstukkies vir huweliksmaats

Rating: 5 out of 5 stars

5/5

()

Read preview

About this ebook

Dié boek bevat 366 dagstukkies spesiaal vir getroudes. Dis perfek vir huwelikspaartjies om in hulle stiltetyd saam te lees, en is van pas vir mense van enige ouderdom. Almal van pasgetroudes in hul twintigerjare tot ouer pare wat reeds dekades lank getroud is sal hierdie boek van nut vind: Dis prakties, geestelik verrykend, en help julle om as huweliksmaats jul geloof saam op te bou.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateSep 17, 2015
ISBN9780796318183
Duet: Dagstukkies vir huweliksmaats
Author

Johan Ferreira

Dr Johan Ferreira is 'n sielkundige in privaatpraktyk in Johannesburg. Hy is hoof van Sielkundige- en Terapeutiese dienste by Mosaïek Gemeente in Randburg.

Related to Duet

Related ebooks

Related articles

Reviews for Duet

Rating: 5 out of 5 stars
5/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Duet - Johan Ferreira

    Die uitleg van dagstukkies in hierdie digitale uitgawe van Duet mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die dagstukkies.

    Voorwoord

    Die huwelik is die lakmoestoets vir karakter. Verhoudings begin gewoonlik in ’n romantiese waas van verliefdheid. Maar kort voor lank word daardie borrel geprik en ons ervaar die harde werklikheid van die lewe. Ons kom agter dat ons eintlik veel meer verskil as wat ons gedink het. En dit kan nogal spanning laat opbou.

    Die lewe stel hoë eise en moeilike uitdagings aan ons. Ons moet dit saam as ’n sterk span kan aandurf – al vervaag ons gevoelens met tye.

    Toe jy jou maat gekies het, het jy gedink jy kies sommer maar net ’n roomys. Moenie glo nie! Mettertyd besef jy dat jy in jou maat ook die skuurpapier gekry het wat jy nodig het om jou karakter te skaaf.

    Duet bevat hierdie juweeltjie: Ek weet ook dat die diepste en kosbaarste goud van ons karakter in die huwelik ontgin kan word.

    Dit is geen grap om in ons eietydse lewe ’n liefdevolle, standvastige verhouding te bou nie. Om die waarheid te sê, dit is ’n groot kuns! Aanmoediging en goeie rigtingwysers is meer as welkom – dit is noodsaaklik.

    En dit is net mooi wat hierdie dagboek bied!

    Lees gerus elke dag Christine en Johan Ferreira se padwysers vir eenheid in die huwelik en met God. Jy sal keer op keer nuwe vensters oopmaak om God se lig en liefde in die huis van jou lewe te laat skyn.

    Die skrywers lei jou na ’n dieper geloof in die oneindige goedheid en guns van God. Hulle weet waar die bron van Liefde lê. Hul toewyding aan mekaar is gebou op rots. Duet is deurweef met aanvaarding van die werklikheid van verhoudings. Prakties. Duidelik. Diep ervaring met huweliksberaad en goeie insig skyn oral deur.

    Ons nooi jou om ’n pad saam met die skrywers te stap. God self wil jou deur hul woorde en wysheid vorm en sterk maak vir die eise van die lewe en verhoudings.

    Willem en Joke Nicol

    Januarie

    1 Januarie

    Maak ’n Nuwejaarslysie

    1 Timoteus 4:8 – … maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat ’n belofte van lewe, vir nou en die toekoms.

    Die idee van ’n Nuwejaarslysie het ontstaan toe die kinders nog klein was. Ons het dié jaar naby die Vaalrivier gekuier saam met my skoonsus, haar man en hul dogter. Die kinders wou dolgraag tot middernag wakker bly.

    Ons het ná ete almal buite om ’n groot vuur wat die mans vir ons in die boma gemaak het, gesit en kuier. Een van die grootmense het met die idee van die lysie vorendag gekom om die tyd om te kry. Elkeen het ’n beurt gekry om wense en planne vir die jaar wat voorlê te deel, terwyl een van ons dit neerskryf. So het ons gesin se Nuwejaarstradisie begin.

    Die jaar daarna was ons op ons eie en die lysie is weer opgediep. Elkeen het kans gekry om terugvoer te gee oor die jaar wat verby is en dié dinge op die lysie wat met ’n regmerkie afgetik kon word. Ook dit wat ons nie kon regkry of behaal, word met mekaar gedeel en bespreek – die soet sowel as die suur, ons sukses én daar waar ons gefaal het.

    Met die jare het ons geleer om die lysie eenvoudiger, doenbaar en bereikbaar te maak. Oujaarsaand word ’n nuwe lysie in die plek van die oue neergeskryf. Die lekker oefening is ook ’n manier van onthou, rekord hou en verantwoording doen aan mekaar as gesin. Nuwejaars is nie Nuwejaars vir ons sonder ons lysieritueel nie.

    Maak gerus jou eie Nuwejaarslysie. Gesels en droom saam oor dit wat julle wil bereik en uitrig.

    Here, ons bring vanaand ’n lys van voornemens en drome voor U. Seën ons met voorspoed en genade. Amen

    2 Januarie

    Beloftes van guns en genade

    Maléagi 4:2 – Maar vir julle wat my Naam vrees, sal die son van geregtigheid opgaan … (1953/1933-vertaling)

    Ons gesin vier Nuwejaars by die see op ’n verlate stranddorpie in die Oos-Kaap, met net ’n paar vakansiehuise, sonder winkel of selfs kafee. Ver van alles blink en raserig. Dis hoe ons daarvan hou. Hoe minder mense en lawaai om ons om die nuwe jaar te begroet, hoe beter.

    Laatmiddag op die laaste dag van die ou jaar, gaan stap ons oudergewoonte ’n lang ent langs die see. Hierdie tyd van die jaar sak die son laat; dit is dikwels mistig aan die soom van die branders. Ons maak ons teen sonsondergang aan die bopunt van een van die verste en hoogste duine tuis om saam-saam die son vir oulaas oor die ou jaar te sien sak. So sit ons in gewyde stilte terwyl die son soos ’n bal vuur op die horison die landskap om ons verkleur en die oseaan in die mooiste goud baai … ’n asemrowende teken van God se guns en genade.

    Ons sit totdat die son vir oulaas stadig agter die hoë duine wegsak en ons die wonder van God se almag en glorie tasbaar vergestalt in skakerings van goud en sagte silwer aanskou. In heilige oomblikke soos dié voel God so ontsettend groot en ongelooflik naby.

    Ons kan Hom vir alles wat voorlê, vertrou. Hy is hier, met ons. En ek bid saggies vir die welstand van my maat en kinders, dra hulle aan Hom op in die wete dat Hy daar is. Maak nie saak wat vir ons wag nie.

    Maak tyd om God se almag in jul lewe raak te sien en Hom saam as huweliksmaats te bedank.

    Here, ek bring my man en gesin voor U. Beskerm ons asseblief in die jaar wat voorlê. Amen

    3 Januarie

    ’n Feestradisie vir jou familie

    Spreuke 15:15 – Vir die blymoedige mens is die hele lewe ’n fees. (NLV)

    Die afgelope paar jaar hou ons vroeg in die nuwe jaar familiefees. Dié fees het nou tradisie geword. Reeds voor Kersfees word die dag se tema en spyskaart beplan. Ons is ’n klomp smulpape wat hou van kosmaak. Die detail van die dag word fyn beplan. Elkeen kry ’n opdrag en natuurlik ’n dis of twee om te berei.

    Vanjaar hou ons een groot dankbaarheidsfees met ’n tradisionele Amerikaanse piekniek as inspirasie. Ons dek die lang wit tafel op die stoep in blou, rooi en wit – en span stringe vlaggies feestelik oor die lengte van die stoep. Die mans braai tuisgemaakte burgers oor die oop vuur en vir nagereg is daar suurlemoen-meringue en soet, donkerbruin brownies.

    Die dag begin vroeg en hou tot lank ná donker aan. Daar word gekuier en geswem en teen sononder weer aangesit vir ’n tweede rondte van dit wat uit die oordaad van middagete oorgebly het. Dis asof die fees ons vuurmaakhout vir die res van die jaar gee.

    Soos ek deur my foto-album blaai, sien ek weer die foto’s van vorige feeste. Die fees van groen en wit, die Kubaanse kuier en die jaar wat ons jongste agttien geword het en ’n Meksikaanse fees wou hê. Ek kyk na die foto’s van die tafel en die lekker kos, al die mooigoed wat ons gebruik het om die tafel volgens tema mee te tooi. Maar dis eintlik die deurgaanse prentjie van vrolikheid en liefde wat my bybly en inspireer.

    ’n Lewe van vreugde is ’n gawe uit God se hand. Beplan ’n familiefees om dit te vier – en maak dit ’n tradisie!

    Here, salf ons met u vreugde. Laat ons die lewe elke oomblik met blymoedigheid aanpak. Amen

    4 Januarie

    Kyk met nuwe oë rond

    Hooglied 2:10 – My liefling sê vir my: Staan op, my mooi beminde. Kom saam met my! (NLV)

    Buite ons agterdeur groei ’n bedding krismisrose. Dit is my gunstelingblomme veral dié wat blou en pers is. Iemand het gesê dis van die min blomme wat lewend of selfs dood en gedroog mooi is.

    Waar ek gaan, merk ek dié blomme altyd op – van daar by die ou huis met die lae muurtjie oorkant die park tot by die kerkie op pad werk toe waar bloupers bosse welig onder die koeltebome blom. By die skool waar my kinders skoolgegaan het, is ’n tuin met saggroen krismisrose wat tot laatsomer nog blom.

    Ek onthou deftige funksies waar bosse spierwittes gebruik is om die tafels mee te tooi en die begrafnis van ’n kollega waar die massa krismisrose in alle kleure die afskeid moes temper.

    Vroegsomer verlede jaar, nog voor die plante in ons bedding begin blom, besluit ek om die kleur van ons krismisrose te probeer verander van dieppienk na ligblou. Ek koop die nodige plantkossies en suurgoed en volg die instruksies getrou na. Maar ondanks al my fyn berekende planne, bly ons blomme so pienk as kan kom. En daar blom boonop vanjaar die minste blomme ooit!

    Nou, aan die einde van die blomseisoen, kan ek nie help om te wonder nie: Is dit ’n gebrek aan geduld aan my kant of die feit dat jy nie moet probeer verander aan iets wat goed en reg is, wat ons bedding vanjaar so mistroostig en leeg gelaat het?

    Soms soek ons iets veel mooier en beter en sien dit wat juis pragtig is nie meer raak nie. Kyk met nuwe oë na dit wat bekend is en sien die skoonheid dáárvan raak.

    Here, help ons om opnuut dit wat goed en mooi is tussen ons raak te sien. Amen

    5 Januarie

    Soek na meer – by God

    Johannes 7:38 – Die een wat in My glo – soos die Skrif sê: Riviere lewende water sal uit sy binneste vloei. (NLV)

    Ek gesels in die week met ’n begaafde kunstenaar oor ’n projek. Vier van haar kunswerke hang bokant ons bed. Dat haar pad haar al deur groot klowe en diep valleie geneem het, word weerspieël in haar fyn aanvoeling vir die Gees van God.

    Sy vertel ’n storie binne ’n storie. Sy kan, volgens eie belydenis, nie by een storie op ’n slag bly nie. Dis nou glo dáárvoor dat sy haar man nodig het; hy bestuur haar so mooitjies deur die draaie van haar vertellings. Een van haar afdraaipaaie vat ons na die volgende stukkie goud wat sy met my deel:

    ’n Geestelike leier het in ’n preek verduidelik dat God sekere geheime oor ons elkeen bewaar wat slegs die Heilige Gees by God self kan hoor oor ons as individu. Die idee staan my dadelik aan. Ek het al agtergekom dat daar oneindige potensiaal en verrassings opgesluit lê in die psige van die mens.

    Dit maak sin dat daar by God kennis oor my menswees sou wees wat nie elders beskikbaar is nie. Ek weet ook dat binne die huwelik die diepste en kosbaarste goud van ons karakter ontgin kan word. Dit is na die Heilige Gees wat Johannes in hierdie skrifgedeelte verwys. Daardie deel van God wat in ons kom leef en ons na die geheime van ons karakter by God kan neem.

    Ons kan kies om nie na hierdie dieptes van ons gees te soek nie, maar dan sal ons altyd na iets meer smag. Net in intimiteit met God kan ons versadig raak in ons versugting na meer.

    Waar soek ek na meer?

    Vader, laat my deur die Heilige Gees nader aan U leef en so meer van myself ontdek. Amen

    6 Januarie

    Strome van seën vir julle

    Hooglied 2:16 – My liefling behoort net aan my en ek is net syne.

    In ons sitkamer hang ’n skildery van twee figure, modern en effe abstrak – ’n man en ’n vrou. Sy sit veilig op die man se skoot en dra ’n eenvoudige rok wat tot onder haar knieë hang. Die rok het lang moue met ’n ronde hals, is wit aan die bokant en verander geleidelik tot dieprooi aan die soom. Hy dra ’n vaalbruin baadjie, amper ouwêrelds, toegeknoop tot onder sy ken.

    Hul oë is gesluit, hul gesigte digby mekaar, asof gereed om te soen. Haar hand vou saggies oor syne aan die voorkant van die skildery. Om hulle skyn ’n gloed van lig uit die donker om hulle. In die hoek onder is daar ’n klein vierkant wat die sagte kyk van die oog van ’n hond uitbeeld en bokant hulle dwarrel ’n paar donkerblou blare in die lug. Bokant hulle in die boonste hoek van die skildery is ’n paar hande wat ’n emmer vashou en ’n stroom water, strome van seën, oor hulle omkeer. In skakerings van blou, wit, geel en rooi is die prentjie van die twee geliefdes rustig op die oog.

    Johan het dié skildery gekoop op die dag dat ek en hy tegelyk uit die bloute, nadat ons mekaar jare as vriende geken het, besef het ons is vir mekaar bedoel. Toe hy die oggend voor die uitstalling die skildery by sy vriendin se ateljee sien, het hy geweet dit is syne.

    Slegs onder die wakende hand van God is ’n suksesvolle huwelik moontlik. Vra God om die Stuurman van jul lewe saam te wees en om vandag weer die oorvloedige strome van sy seën oor julle te laat reën.

    Here, dankie vir strome van seën oor ons saamwees. Amen

    7 Januarie

    ’n Spieëlbeeld van God se genade

    Jesaja 40:18 – Met wie kan julle God dan vergelyk? Met watter beeld sal julle Hom kan vergelyk? (NLV)

    Vir Francois, ons oudste se 21ste verjaardag, nooi die seuns se peetma’s ons na die Okavango. Kom ons ses gaan vier die groot gebeurtenis in die Afrika-bos! sê die tweeling maande voor die tyd.

    So breek die langnaweek uiteindelik aan. Ons vlieg van Johannesburg na Maun, waarvandaan ons met ’n ses-sitplek-vliegtuigie verder vlieg na die eiland waar ons lodge geleë is. Nadat ons geland het, neem ’n viertrekvoertuig ons na die motorboot by ’n jetty in die veld wat ons na die oord op ’n piepklein eiland in die delta neem.

    Wat ’n groot bederf en seën word die naweek nie! Soggens en saans is daar ’n wildrit per motorboot deur die delta. Ons sien seekoeie en olifante, en die mooiste plate waterlelies wat geil in die vlak water blom. Ons beleef Afrika op sy beste!

    Maar die hoogtepunt is ’n enkele laatmiddagvaart op die makoro’s, die uitgeholde houtbote eie aan die omgewing. Ons klim twee-twee in ’n boot terwyl die gidse en bootbestuurders hulle elk met ’n lang stuurstok in die hand voor in die boot staanmaak. Saggies gly ons bote deur die water.

    Teen sonsondergang seil ons geluidloos tussen die riete en die waterlelies. Die laatmiddagstilte is sonder omvang. Toe ek vorentoe kyk, na waar die seuns se boot voor ons vaar, sien ek voor my die perfekte weerkaatsing in die blink water van ons twee seuns uit hul boot weerkaats. Vir my is dit ’n spieëlbeeld van God se seën en groot genade.

    God praat met ons deur prentjies. Is jy ’n toonbeeld van sy liefde? Hoe lyk die fotoverhaal van jul huwelik as ander daarna kyk?

    Vader, herinner ons dat ons na u beeld geskape is en u verteenwoordigers op aarde is. Amen

    8 Januarie

    Twee unieke helftes

    Genesis 1:27 – … man en vrou het Hy hulle geskep.

    Die boom reg voor die dek pla ons nou al ’n geruime tyd. Dit belemmer ons uitsig en volgens ons buurvrou bied dit ’n toegangsplek vir boomslange. Maar van boomsnoei kom daar nie veel nie. Tot ons die voorlaaste dag van ons seevakansie deurry Port Alfred toe. By ’n knus koffiewinkeltjie naby die rivier en ou hawe stop ons vir goeie koffie en varsgebakte skons met room en appelkooskonfyt.

    Ons volgende stilhouplek is die winkel wat die mooiste tweedehandse porselein, silwer en gerestoureerde meubels verkoop. Met die instapslag gewaar ek die vrou wat ’n ou silwerkaasbord met ’n koepeldeksel in haar hand vashou. Haar man is duidelik nie ingenome met haar voorgenome kopie nie en raai haar af om dit te koop. Sy probeer hom ompraat, maar hy hou voet by stuk. Teleurgesteld bêre sy weer die kaasbord in die groot bruin kas en verlaat koponderstebo saam met hom die winkel.

    Ek voel skoon hartseer vir haar onthalwe, maar sien dadelik die waarde van die kopie raak toe ek die prys sien! Ek wag eers om te kyk of sy nie maar tog omdraai om die kaasbord te kom koop nie voor ek dit weer uit die kas haal en na die kassiere neem. So ’n winskopie laat ek nie deur my vingers glip nie!

    Johan het intussen ’n stokou geroeste antieke saag in een van die agterste hoekies raakgesien. En wat gaan jy hiermee doen? vra ek. Met dié saag snoei ons môre die boom! sê hy selfvoldaan oor sý vonds.

    Vier mekaar se uniekheid. Hoe vervelig sou dit nie gewees het as julle altyd van dieselfde goed gehou het nie!

    Here, dankie dat U ons as man en vrou geskep het – elkeen uniek, twee helftes van ’n ronde geheel. Amen

    9 Januarie

    Jou heupe is soos juwele

    Hooglied 7:1 – Die rondings van jou heupe is soos juwele … (NLV)

    Vandat ek kan onthou, pla my gewig my. Het ek maar geweet wat ek nou weet!

    Met die jare word die stryd teen die skaal nie minder nie; inteendeel, dit word net moeiliker. Twee swangerskappe en die natuurlike verloop van tyd het hul tol op my eens vietse lyf geëis. Nie dat ek ooit die tengerigste van vroue was nie en boonop is ek (en my man) lief vir kosmaak en eet!

    Maar as ek vandag terugdink, wens ek ek het my lyf oor die jare meer waardeer en minder gekritiseer. Het ek tog maar minder tyd gemors met ongesonde diëte en negatiewe gedagtes oor myself, my minder met ander vergelyk en meer waardering getoon vir die unieke manier waarop God my gemaak het.

    Ek is sterk en gesond, soepel en lief vir dans en beweeg! In sy Woord gee God, ons hemelse Bruidegom, ons die opdrag om Hom ook met ons liggaam te eer. Dit ís immers die tempel waarin die Heilige Gees woon. As huweliksmaats is ons veronderstel om mekaar ook met ons liggaam te eer en ter wille van ons gesin ons gesondheid op te pas. En te koester.

    As ek goed voel oor myself is ek in staat om liefde in oorvloed uit te deel aan my naaste. In plaas van laatlê vanoggend trek ek my swembroek aan en kies koers na die gim. Terwyl my arms deur die blou water klief en ek my hart diep binne my voel klop, sê ek dankie vir my lyf en my gesondheid.

    Ken die uitdagings vir jou gesondheid in elke lewensfase. Moedig mekaar aan om na julself om te sien.

    Here, laat ons mekaar en U met ons liggaam eer. Herinner my daaraan dat ek ook u beminde is. Amen

    10 Januarie

    ’n Spreuke-vrou soos korale

    Spreuke 31:17 – Sy werk baie hard, haar hande staan vir niks verkeerd nie. (NLV)

    Die vrou met die kort hare en byderwetse klere kom maak ’n draai op kantoor om oor ’n projek te praat wat ons saam gaan aanpak. Sy is ’n reguit mens, sê ’n ding soos hy is en hou nie van nonsies nie. Wat jy sien, is wat jy kry, soos die manier is om te sê. Ek hou daarvan.

    Sy gesels opgewonde oor alles waarmee sy besig is. Net as jy my R100 000 per maand betaal, sal ek weer heeltyds werk. Net soveel geld kan ’n verskil aan my lewe maak! Sy is gek daarna om nou tuisteskepper te wees. Vir haar hande staan niks verkeerd nie en sy is bésig.

    Sy is besonder kreatief en gek na handwerk. Sy brei opgewonde uit oor die spesiale masjien waarmee sy papierwerk doen en vertel van die honderde flessies konfyt en ander oulike goed wat sy vir ’n onlangse familiefees berei het. Vir die lang vakansie het sy vooraf ’n presiese spyskaart uitgewerk en is met ’n sleepwa vol kos en vleis af see toe. Sy wys foto’s van haar Kerstafel, pragtig gedek in skakerings van wit en bruingrys, met aardse elemente soos dryfhout en papier.

    Sý is ’n vrou van vele talente. Toe sy groet om te loop, kan ek nie help om aan die vrou uit Spreuke 31 te dink nie.

    Spreek jou waardering vir jou maat uit. Maak ’n lysie van dié dinge wat hy of sy doen om die wêreld ’n beter en mooier plek vir julle as gesin te maak.

    Here, dankie vir die vele talente waarmee U ons geseën het. Help ons om dit ten volle en tot u eer te gebruik. Amen

    11 Januarie

    Dra jou man op die hande

    Jesaja 61:6 – Julle sal genoem word: die priesters van die Here, die bedienaars van ons God. (NLV)

    Elke keer dat ons deur die Vrystaatse dorpie ry en ek die reuseletters Jesus is Lord op die dak van ’n skuur by die ingang van die dorp geverf sien, dink ek aan hom en sy gesin.

    Ek het die man wat die kunstige doringdraadwerk doen by ’n kunstefees in Bloemfontein ontmoet. Die kunstenares van Aliwal-Noord wat die mooi tonele van skapies in die veld skilder, en langs hom uitgestal het, het my meer van hom vertel en uitgewys dat hy ’n gelowige man is.

    ’n Tyd daarna vertel hy in ’n tydskrifartikel sy lewensverhaal – dis ’n verhaal van oorwinning en ’n lewe oorgegee aan die Vader. Hy vertel nie net van sy swaarkrydae nie maar ook van sy liefde en afhanklikheid van God. Hy deel hoe God hom gelei het om skinkborde van draad te maak. Hoe hy snags deur God wakker gemaak is om biddend die vloek van armoede oor hul lewe te breek.

    Hoekom draadskinkborde? het ’n besoeker aan sy stalletjie by die kunstefees hom gevra. Sy antwoord het oorspronklik van God gekom: Dis ’n bediening – om mense wat moedeloos is weer hoop te gee. Hierdie man wat eens amper nie vir sy gesin kon sorg nie, verskaf nou vir talle mense werk. En ou rolle geroeste doringdraad word deur genade tot die mooiste kunswerke omskep – nes weggooilewens. ’n Ware verhaal van weggooigoed wat wonderwerke word.

    Gesels saam oor die man se rol as priester, koning en profeet binne die huwelik en die seën wat dit vir julle as paartjie inhou.

    Here, dankie vir die man in ons huis wat deur harde werk vir ons as gesin sorg. Help hom om sy oë op U te rig. Amen

    12 Januarie

    Andersheid is dubbel lekker

    Genesis 2:23 – Daarom sal sy vrou genoem word; sy is uit die man geneem.

    Die getyboek is ’n belangrike deel van die manne se lewe. Elke oggend word dit oor ’n bakkie graanvlokkies en melk bestudeer om die dag se aktiwiteite te beplan. Laagwatertyd is veral belangrik, want dan kan daar op die strand aan die soom van die branders gedraf of fietsgery word. Vakansietye by die see word die ganse dag soms rondom die gang van die getye beplan.

    Vandag was dit weer dieselfde storie. Ons kan maar afgaan strand toe, kondig Johan aan, terwyl hy sy drafskoene aantrek. Dis laaggety. Soms draf of stap ek saam met hom en die seuns; ander kere verkies ek, soos vandag, om tussen die duine rond te dwaal op soek na spoelklippe, skulpe of stukke mooi dryfhout.

    Hier tussen die hoë duine en die blou branders verloor ek tred met tyd en slenter doelloos met my oë op die sand gerig. Ek buk nou en dan af om iets moois op te tel en gaan staan elke paar minute stil om oor die branders te tuur. Ek volg die fyn spoortjies van strandlopervoëltjies oor die duine en bewonder die wit wolkpatrone. Te gou is ’n uur of wat daarmee heen. Dis gewoonlik ons bruin labrador, Tinder, wat eerste aangedraf kom en dan weet ek dat die manne se missie voltooi is.

    Dit was nou lekker! sê Johan toe hy uitasem en natgesweet by my aankom. Ja, lekker inderdaad, antwoord ek, terwyl ek die sak met skulpe vir hom aangee om motor toe te dra.

    Vier jou uniekheid as mens. Doen iets vir jouself wat jou maat nie noodwendig sal geniet nie.

    Dankie, Here, vir die vreugde wat my maat se andersheid my bring, en die eiesoortige manier waarop U ons elkeen geskep het. Amen

    13 Januarie

    Vele hande, ligte werk

    2 Korintiërs 12:9 – My genade is genoeg vir jou, want my krag kom juis in swakheid tot volle verwesenliking. (NLV)

    Teen drieuur word ons wakker. Ons wil vieruur in die pad val terug huis toe. Ons het reeds die aand vantevore alles wat nodig is, gepak. Nou is dit net opstaan en inlaai. Ons maak vir oulaas die strandhuis se deure en vensters dig toe tot ons volgende kuier.

    Vir die pad het ek flessies koffie en toebroodjies gepak. Ook die varsgebakte pasteitjies wat ons gister by die deli op Bathurst gekoop het. Dis meer as 1 000 kilometer huis toe en ons wil so min moontlik langs die pad stop.

    Johan bestuur, soos die gewoonte is, die eerste stuk van die pad. Dis volmaan toe ons by ons strandplekkie wegry en ons die Vader vir genade en beskerming vir die langpad vra. Ek raak kort duskant Oos-Londen aan die slaap. Teen die tyd wat ek weer wakker word, skyn die eerste lig oor die veld. Ons hou vinnig vir brandstof in Aliwal-Noord stil. Daar’s ’n byt in die helderblou oggendlug.

    Francois, ons oudste, neem hiervandaan die stuur. Ek neem my plek in op die agterste sitplek. Johan sit voor langs ons kind. By Ventersburg hou ons stil om bene te rek en ’n koeldrank te koop. Vir die laaste stuk van die pad skuif Johan na agter om hopelik ’n uiltjie te knip en is dit my beurt om die laaste stuk van die pad huis toe te bestuur.

    Spanwerk is noodsaaklik – so maak julle die las sommer ligter. Wat kan jy doen om jou maat se lewe makliker te maak?

    Here, help ons om die stuur van ons lewe aan U oor te gee – en nie kort-kort terug te gryp nie. Amen

    14 Januarie

    Die warrelwind van sy genade

    Psalm 91:1-2 – Hy wat woon in die skuilplek van die Allerhoogste, sal rus in die skadu van die Almagtige. Ek sal vir die Here sê: U is my toevlug en my vesting, my God op wie ek vertrou. (NLV)

    Die lewe vat ’n mens soms op ’n onbekende, vreemde vaart en spoel jou op ’n klipperige, koue strand uit. En daar lê jy, blootgestel en ontredderd.

    Ek word genooi om my studienavorsing in die VSA aan te bied. Ná vier jaar van worstel meen ek en twee slim professore dat ek die onderwerp van praktiese wysheid genoegsaam bestudeer het.

    Philadelphia, in die deelstaat Pennsylvanië, is ’n groot stad tussen twee riviere. Ek voel ver van alles en naby aan niks. Vertwyfeling oorval my kragdadiglik. Ek probeer my vrou bel, maar die tydsverskil fnuik ons. Ek veg met God oor ek nie eens gepraat kry met een wat darem in my glo nie!

    Die oggend van my aanbieding daag ek bleek en naar by die internasionale konferensiesentrum op. ’n Vriendelike Australiër koop vir my koffie en stel my voor aan sy vriendin uit Israel. Hulle babbel voort asof ek iemand van groot kennis is. In hierdie klein warrelwind van God se genade vergeet ek van die knoop in my maag.

    Daardie middag loop ek ver in die geskiedkundige stad rond. Ek sien installasiekuns, en beland voor die standbeeld van die bokser Rocky! Op die trappies van die kunsmuseum sit ek lank, en glimlag skaam en dankbaar. Dat die Here nou daai twee vreemdelinge sou stuur om my onstuimige gemoed te kalmeer.

    Ek dink aan my beskuldigings hemelwaarts vanoggend: Was ek dan nie reeds in gesprek met die Een wat in my glo nie?

    Waar gaan ek heen wanneer ek onseker voel?

    Ewige Vader, hou my tog bewus van u alomteenwoordige liefde vir my. Amen

    15 Januarie

    ’n Bêre-briefie uit jou hart

    Markus 10:9 – Wat God dan saamgevoeg het, mag ’n mens nie skei nie.

    Terwyl ek kaste regpak, kom ek op die kartonboks met briefies, kaartjies en foto’s af. Die boks is propvol herinneringe.

    Heel bo lê ’n pak verjaardagkaartjies. Daar is ’n swart satynlint met my naam en van in goud op geborduur, ’n foto van my en Johan wat toe pas begin uitgaan het, en talle Moedersdagbriefies van die seuns – met die hand geskryf en kleurvol versier met blomme, harte en soene.

    Daar is ’n ligpers koevertjie met ’n gedroogde roosknoppie binne-in en buite-op die datum, 10 Januarie 1924. Ek wonder waar die koevert vandaan kom en onthou eers heelwat later dit is Ouma, lank reeds oorlede, se geboortedag. Ek ontdek skoolprogramme van prysuitdelings en die mooiste briefies en kaartjies wat Johan vir my geskryf het.

    Lank sit ek deur die kosbare herinneringe en tasbare tekens van liefde en blaai. Heel onder in die boks kom ek af op ’n leë bruin koevert waarop iemand met ’n goue pen Egpaar Ferreira geskryf het. ’n Kaartjie met silwer harte sê voorop Marriage is a gift. Dit is geteken deur mense wat ek nie eens ken nie, waarskynlik van Johan se vriende wat ons troue bygewoon het.

    Aan die binnekant is egter dié wyse woorde geskryf: Marriage is a gift you give each other – a gift of yourself that connects you in spirit and completes you in body, mind and soul. It’s something for you to honour and care for, just as you do each other.

    Skryf vir jou maat ’n bêre-briefie oor hoe jy oor hom voel en wat hy alles vir jou beteken.

    Here, dankie vir my man se liefde en ons saamwees. Help my om dit soos ’n kosbare geskenk te koester. Amen

    16 Januarie

    Man en vrou word één

    Genesis 2:24 – Dit verklaar waarom ’n man van sy pa en ma weggaan, saam met sy vrou lewe en hulle dan soos een word. (NLV)

    Ons verhouding met ons eie ouers ontwikkel gewoonlik vanuit die gesin van herkoms. Dis hier waar ons lewenslesse leer en gewoontes vorm. Dis gewoonlik die eerste plek waar ons liefde maar ook verwerping beleef.

    God se opdrag oor die huwelik is duidelik in sy Woord. As individu moet jy jou verhouding met jou eie ouers herskryf om ruim plek vir jou lewensmaat in jou lewe te maak. Dit impliseer geensins ’n afsluiting van die verhouding met jou ouers nie, maar wel ’n skuif in die inhoud en fokus daarvan.

    Jou lewensmaat neem die eerste plek in jou lewe in wat gehaltetyd betref. Hierdie skuif kan aanvanklik baie moeilik wees. Soos die huweliksverhouding egter groei, word die verandering in prioriteite makliker. Dit moet egter die hartsbegeerte van albei lewensmaats wees.

    Nie alle ouers is bereid om uit die nes geskop te word en self te leer vlieg nie. (Hoe word die rolle nie omgeruil nie!) Dit kan die huweliksverhouding van hul groot kinders kompliseer. Maar elke getroude paar moet kies om hul verhouding eksklusief te bedryf en primêr op mekaar te fokus. In God se Woord is die boodskap duidelik dat niks tussen man en vrou mag staan nie; nóg ouers nóg kinders of honde of vriende. Dit is in die band tussen man en vrou dat God gestalte vind op aarde en dit maak hierdie ruimte heilig. Man en vrou moet dit suiwer hou vir God.

    Wat is in die ruimte tussen my en my lewensmaat wat één-wees bemoeilik?

    Vader, gee ons die krag en insig om altyd na mekaar, nie weg van mekaar nie, te kyk en U ons middelpunt te maak. Amen

    17 Januarie

    ’n Oop hart vir jou skoonmense

    Deuteronomium 30:19 – Ek roep vandag die hemel en die aarde tot getuie teen julle dat ek die lewe en die dood aan jou voorgehou het, die seën en die straf. Kies die lewe, sodat jy en jou nageslag kan lewe.

    Ouers en skoonouers kan ligjare verskil – en dit gaan soms met aardige uitdagings (slaggate?) en aanpassings gepaard. Maar dan hoor jy ook weer van die voorreg van skoonouers wat ’n hele skatkis vol nuwe en ryk ervarings na die prentjie bring.

    Dikwels besef ’n man of vrou dit eers nadat die verhouding al ’n paar jaar gevestig is, en onbekend nie meer onbemind is nie. Natuurlik is die aanpassing vir die paartjie groter as die twee stelle ouers baie van mekaar verskil. Waardes word tog maar meestal in die gesin aangeleer en dan later weer uitgeleef binne ’n nuwe konteks.

    As albei kante daarop ingestel is om by mekaar te leer en aan te pas, kan sulke soms netelige uitdagings wonderlike nuwe wêrelde oopsluit.

    Van die mees positiewe verhale waarvan ek al getuie was, het begin waar die ouers vanuit ’n meer volwasse en geduldige hoek na die uitdagings kyk en besluit om hul horisonne te verbreed en ’n skoonseun of -dogter onvoorwaardelik te aanvaar, met vreemde kleredrag, gewoontes, selfs taal of kultuur en al. As die jonger party ook na die twee stelle ouers kan kyk as mentors is die kanse ook al beter dat almal lank en gelukkig sal saamleef.

    Knoop gerus hierdie juweel van wysheid aan jou oor: Luister – oop en onbevange, met jou hart en jou hele wese.

    Hoe luister ek na my skoonouers of -skoonkinders? Berei ek solank my toesprakie terug voor? Nee, dis die verkeerde manier!

    Vader, help my om die verhouding met my skoonfamilie te eer en te respekteer. Amen

    18 Januarie

    Bak en brou? Nee, dankie!

    Prediker 9:9 – Geniet die lewe met die vrou wat jy liefhet, dié lewe wat tot niks kom nie, maar wat God jou in hierdie wêreld

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1