Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

By fonteine langs
By fonteine langs
By fonteine langs
Ebook796 pages13 hours

By fonteine langs

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

“Mag God vanjaar jou lewe verkwik met sy reënbuie van seën en jou elke dag by fonteine langs lei!” Nina Smit begin haar dagboek deur God se seën oor jou uit te spreek. Wat ’n wonderlike manier om jou jaar te begin! Deur elke maand van die jaar loop jy ’n pad saam met haar om God se seën en voorspoed te ervaar. Uit haar vrouwees verstaan sy die psige van ’n vrou en só ervaar jy in hierdie dagboek troos, hulp en bystand in die kompleksiteit van jou daaglikse lewe. Sy inspireer jou om aan die begin van die jaar koning Salomo se gebed jou eie te maak: om saam met God die uitdagings te aanvaar en om gehoorsaam aan Hom te wees sodat jy elke dag sy liefdevolle teenwoordigheid in jou lewe ervaar.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateJun 30, 2013
ISBN9780796316714
By fonteine langs
Author

Nina Smit

Nina Smit is een van Suid-Afrika se bekendste en gewildste skrywers. Hierdie bekroonde skrywer is veral bekend vir haar inspirerende boeke vir vroue, maar het ook talle gesogte boeke vir kinders geskryf. Nina woon saam met haar man, Johan Smit, in Somerset-Wes. Die egpaar het drie volwasse kinders en vyf kleinkinders.

Read more from Nina Smit

Related to By fonteine langs

Related ebooks

Related articles

Reviews for By fonteine langs

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    By fonteine langs - Nina Smit

    By fonteine langs

    ’n Bybelse dagboek vir vroue

    Nina Smit

    Lux Verbi

    Januarie

    God gee Voorspoed!

    Almal van ons wil graag gelukkig en voorspoedig wees

    in die jaar wat voorlê –

    om hierdie rede wens ons mekaar dan ook tradisioneel

    ’n gelukkige en voorspoedige nuwe jaar toe

    wanneer die horlosie op 31 Desember twaalfuur slaan.

    Tog dink min van ons van Wie kom daardie geluk en voorspoed

    waarna ons so hunker.

    Dit is net Gód wat vir sy kinders voorspoed kan bring,

    dit is net Hy wat ons by fonteine langs kan lei

    sodat ons sy sorg elke dag in ons lewens kan ondervind.

    "Ek laat die reëns val op die regte tyd,

    reëns wat voorspoed sal bring,"

    beloof God self by monde van die profeet Esegiël (Eseg 34:26).

    Die Engelse vertaling sê dit byna nóg mooier:

    "I will send down showers in season;

    there will be showers of blessing […]" (The Holy Bible, NIV).

    Mag God vanjaar jou lewe verkwik met sy reënbuie van seën

    en jou elke dag by fonteine langs lei!

    1 Januarie

    Gebed vir die nuwe jaar

    Lees 1 Konings 8:51-61

    Mag die Here ons God by ons wees soos Hy by ons voorvaders was. Mag Hy ons nooit verlaat of laat vaar nie. Mag Hy ons gewillig maak om altyd volgens sy wil te leef en ons te hou aan sy gebooie, sy voorskrifte en sy bepalings […] Mag julle met volle oorgawe voor die Here ons God leef […] – 1 Kon 8:57-61

    squig.jpg

    Daar is kwalik ’n beter stel Nuwejaarsvoornemens as dié wat in Salomo se gebed vir die inwyding van die tempel vervat is:

    * Mag God by jou wees – met God by jou, gaan geen uitdaging wat die nuwe jaar kan bied jou ooit onderkry nie – soos Paulus sal jy vind dat jy sáám met Hom tot alles in staat sal wees.

    * Mag Hy jou nooit verlaat of laat vaar nie – in die jaar wat voorlê, sal jy nooit alleen wees nie – God is daar om jou in krisistye te help en te ondersteun.

    * Mag Hy jou gewillig maak om altyd volgens sy wil te leef – God se wil is vir jou veel beter as jou eie sin en wil – gehoorsaam dit, en dit sal goed gaan met jou.

    * Mag Hy jou gewillig maak om sy gebooie, voorskrifte en bepalings te gehoorsaam – indien jy daartoe bereid is, het jy die resep van ’n gelukkige lewe ontdek.

    * Mag jy met volle oorgawe voor Hom leef – sodat jy elke dag sy liefdevolle teenwoordigheid in jou lewe sal ervaar.

    Dit is my gebed vir jóú dat die Here vanjaar elke deeltjie van hierdie gebed in jou lewe sal verwesenlik.Hemelse Vader, ek bid dat U vanjaar by my sal wees; dat U my nooit sal verlaat nie sodat ek met volle oorgawe voor U sal leef.

    Amen

    2 Januarie

    ’n Jaar van genade!

    Lees Jesaja 61:1-11

    In my trou sal Ek my volk gee wat Ek beloof het. Ek sal ’n ewige verbond met hulle sluit. Julle sal in julle land twee keer soveel besit as tevore en julle sal altyd vreugde hê – Jes 61:8, 7

    squig.jpg

    Jesaja verkondig hier ’n blye boodskap aan sy volk wat in groot nood verkeer. Ná hulle terugkeer uit ballingskap gaan dit baie sleg met hulle. Armes word uitgebuit en ellende heers oral. God gáán weer genade aan hulle bewys, belowe Jesaja. Hy gaan vir hulle letterlik ’n jaar van genade daarstel; ’n tyd van rus en vrede wanneer God se heerskappy oor alle dinge gaan aanbreek; ’n tyd van voorspoed wanneer hul besittings sal verdubbel en hulle altyd vreugde sal hê. Hy gaan ook sy verbond met hulle hernu sodat almal wat na hulle kyk, sal kan sien dat hulle ’n volk is wat deur God geseën is.

    Aan die begin van ’n nuwe jaar is Jesaja se boodskap steeds op ons van toepassing. Soos dié van Israel van ouds is ons omstandighede ook nie altyd na wense nie. Die heersende misdaad en armoede in ons eie land wil maar nie end kry nie. Ons smag almal na ’n jaar van genade, ’n jaar waarin God se beloftes vir óns persoonlik waar sal word, ’n tyd van rus, voorspoed en vrede vir ál God se kinders.

    Neem God gerus op sy woord. Hy belowe om jou omstandighede vanjaar te verander en vir jou rus en vrede te gee, mits jy gewillig sal wees om sy voorskrifte te gehoorsaam.

    Here, dankie vir die belofte dat U ook vir mý ’n jaar van voorspoed wil skenk. Gee asseblief vir my vanjaar ’n lentegeloof in wintertyd sodat ek aan u beloftes sal vashou, al het hulle nog nie vir my waar geword nie.

    Amen

    3 Januarie

    Jy kan op God se seën reken

    Lees Genesis 1:27-31

    Toe het God hulle geseën en vir hulle gesê: "Wees vrugbaar, word baie, bewoon die aarde en bewerk dit. Heers oor die vis in die see, oor die voëls in die lug, oor al die diere van die aarde […] – Gen 1:28

    squig.jpg

    Die heel eerste ding wat God doen nadat Hy die wêreld gemaak het, is om sy skepping te seën. Hy seën ook die eerste twee mense en beveel hulle om vrugbaar te wees, die aarde te bewoon en te bewerk en oor die diere van die aarde te heers (Gen 1:28). Wanneer God later sy verbond aan Abraham bekend maak, onderneem Hy om hom te seën, om hom ’n groot nasie te maak, en sê dat alle volke van die aarde in hom geseën sal wees (vgl Gen 12:2-3). Wanneer Jabes (1 Kron 4:9-10) God vra om sy seën oor hom uit te stort en hom te beskerm, verhoor God ook sý gebed.

    God stort graag sy seën oor sy kinders uit, maar God seën sy kinders altyd met ’n spesifieke doel: Hy wil hê hulle moet die seën wat hulle van Hom ontvang, weer na ander mense deurgee. Ons lees nie minder nie as vyf en vyftig keer in die Bybel dat God óns wil seën sodat ons vir ánder tot seën kan wees.

    God is aan jou kant, jy kan vanjaar op sy oorvloedige seën in jou lewe reken. Solank jy net onthou dat jy juis hierdie seën ontvang sodat jy op jou beurt weer vir ánder mense tot seën kan wees.

    Here, ek loof U dat ek elke dag u seën in mý eie lewe kan ondervind. Help my om altyd te onthou dat U my seën sodat ek u seën aan alle ander mense kan deurgee wat vanjaar oor my pad gaan kom.

    Amen

    4 Januarie

    By fonteine langs

    Lees Jesaja 49:8-13

    Hulle sal nie honger of dors kry nie, die woestynhitte en die son sal hulle nie brand nie, want Hy wat Hom oor hulle ontferm het, sal hulle onder sy sorg neem. Hy sal hulle by fonteine langs lei – Jes 49:10

    squig.jpg

    In Jesaja 49 kry ons die allermooiste beloftes by monde van die profeet Jesaja: God se volk sal nie langer honger of dors ly nie, want Hy self sal hulle onder sy sorg neem, en hulle by fonteine langs lei … Hierdie is sekerlik een van die heel mooiste Skrifgedeeltes om aan die begin van die jaar te oordink en heeljaar saam met jou te neem.

    God belowe hier sélf om sy volk se gebede te verhoor. (Let wel dat Hy ’n voorwaarde gee – die verhoring van hul gebede sal geskied op ’n tyd wat Hý goeddink! – vgl vers 8.) Hy onderneem verder om hulle te beskerm, om sy verbond met hulle te hernu, om hulle te versorg en in al hul behoeftes te voorsien. Hulle sal nie honger of dors kry nie, want hul God sal hulle by fonteine langs lei, Hy sal self vir hulle uitkoms gee.

    God se beloftes in sy Woord is steeds aan die adres van elkeen van sy kinders gerig. Wanneer daar dalk vanjaar woestyntye in jou eie lewe opduik, mag jy aan God se beloftes in Jesaja 49 vashou … Hy sal vir jou onderneem, Hy sal op sy tyd jou gebede verhoor, Hy sal jou beskerm, jou versorg en in elkeen van jou behoeftes voorsien. Hy onderneem om jou vanjaar by fonteine langs te lei. Vertrou Hom daarvoor!

    Hemelse Vader, baie dankie vir u belofte dat U vanjaar vir my sal onderneem, dat U my gebede sal verhoor, in elkeen van my behoeftes sal voorsien en my by fonteine langs sal lei.

    Amen

    5 Januarie

    Verheerlik God in jou lewe

    Lees Johannes 15:1-8

    My Vader word juis daardeur verheerlik dat julle baie vrugte dra en my dissipels is – Joh 15:8

    squig.jpg

    Jy sal God se seën oor jou lewe vanjaar op ’n besondere manier kan ervaar mits jy jouself leer om God in alles wat jy sê en doen te verheerlik. Jy kan dit veral doen deur vir God vrugte te dra. Die doel van vrug dra vir God is juis sodat die Vader verheerlik kan word.

    In Galasiërs 5:22-23 word hierdie vrug van die Gees breedvoerig beskryf, terwyl Die Boodskap-vertaling dit verder toelig: Net soos ’n boom wat ’n baie goeie vrug oplewer, wys hierdie mense se lewe dat hulle aan God behoort. Sulke mense gee baie om vir ander. Hul lewe is vol vreugde. Die vrede wat van God af kom, ken en ervaar hulle. Hulle verdra ander mense sonder om ooit lelik met hulle te wees. Hulle straal vriendelikheid en warmte uit; daarom wil ander graag in hul teenwoordigheid wees. Hulle doen goeie dinge vir ander mense. Ander kan altyd op hulle reken omdat hulle self deur dik en dun op God vertrou. Hulle is vol deernis en ontferming. Die Gees stel hulle in staat om hulself goed te beheer sodat sonde nooit hoogty in hul lewe voer nie.

    Gaan die lysie hierbo noukeurig deur en sorg dan vanjaar dat hierdie eienskappe in jou eie lewe raakgesien kan word. Só kan jy verseker dat jy nie net God in jou eie lewe sal verheerlik nie, maar dat ander wat na jou kyk, dit ook sal doen.

    Hemelse Vader, ek bid dat U die vrug van u Heilige Gees in my lewe sal insleutel sodat elkeen van die eienskappe daarvan in my lewe raakgesien sal kan word, en U so verheerlik sal word.

    Amen

    6 Januarie

    Nog baie meer

    Lees Efesiërs 3:14-21

    Aan Hom wat deur sy krag wat in ons werk, magtig is om oneindig meer te doen as wat ons bid of dink, aan Hom kom die eer toe, in die kerk, deur ons verbondenheid met Christus Jesus, deur al die geslagte heen tot in alle ewigheid – Ef 3:20-21

    squig.jpg

    Miskien droom jy daarvan dat jou ideale vanjaar verwesenlik sal word, dat jy jou drome waar sal kan maak in die nuwe jaar wat voor jou lê. Aan die einde van ’n jaar ontdek ’n mens mos baiekeer dat die meeste van jou drome aan flarde lê, dat jy moedeloos is omdat teleurstellings so dikwels oor jou pad gekom het en jy so baie maal misluk het.

    Laat God toe om vanjaar sý wil in jou lewe uit te voer. Maak gerus op sý krag staat in plaas van op jou eie. Laat Paulus se ontdekking jou eie word: Deur Gód se krag wat in jou werk, kan jy jou situasie omkeer. Onthou net dat jy naby God behoort te lewe as jy sy krag tot jou beskikking wil hê. God is magtig om nie net jou drome van vandag waar te maak nie, maar om oneindig méér te doen as wat jy bid of dink. God se agenda is altyd veel groter en heerliker as jou eie. Vanjaar kan jy daarvolgens werk en seker weet dat jy tot álles in staat sal wees deur Hom wat jou krag gee. Maak net doodseker dat jy die eer wat Hom toekom aan Hom gee.

    Here, dankie dat ek aan die begin van ’n nuwe jaar op u krag kan staatmaak, dat ek kan weet dat U magtig is om oneindig méér te doen as wat ek kon droom of bid of dink.

    Amen

    7 Januarie

    God sal voorsien

    Lees 2 Petrus 1:3-11

    Sy Goddelike krag het ons alles geskenk wat ons nodig het om te lewe en Hom te dien. Dit kom deurdat ons Hom ken wat ons geroep het deur sy heerlikheid en mag – 2 Pet 1:3

    squig.jpg

    Deur die geskiedenis heen het God se kinders nog altyd ondervind dat Hy in hul behoeftes voorsien het. By monde van die psalmdigter beloof Hy om sy kinders alles te gee wat hulle nodig het: Wat julle nodig het, sal Ek in oorvloed gee (Ps 81:11). Die Israeliete het met hul woestynreis hierdie belofte elke dag fisiek ervaar toe God vir hulle kos en water voorsien het wanneer hulle dit nodig gehad het.

    Aan die begin van ’n nuwe jaar (en veral hier kort ná Kersfees) is ons dikwels bangerig dat ons geld dalk te min gaan wees – veral wanneer ons kan sien dat alles in die winkels oor die vakansietyd duurder geword het. Baie van die ouer mense wat reeds afgetree het, sukkel ook deesdae met hul begrotings omdat die rentekoerse al hoe laer word. Wanneer al hierdie faktore in aanmerking geneem word, wonder ons of ons finansieel die mas gaan opkom.

    As jy vanjaar ook oor jou finansies bekommerd is, neem gerus die belofte in 2 Pet 1:3 vir jou rekening: God onderneem om in jou behoeftes te voorsien in die jaar wat voorlê en sy Goddelike krag sal jou alles skenk wat jy nodig het om te lewe en Hom te dien. Hierdie belofte is egter net aan jou adres gerig as jy Hom, wat jou geroep het, ken en dien.

    Here, dankie vir die gerusstelling dat U vir u kinders kan en sal sorg, en dat ek ook vanjaar op u belofte kan steun dat U dié dinge wat ek nodig het, in oorvloed vir my sal gee.

    Amen

    8 Januarie

    Leef soos ’n Christen!

    Lees Filippense 2:12-18

    Toe ek by julle was, het julle altyd gedoen wat ek gevra het. Hoeveel te meer moet julle dit doen noudat ek nie meer daar by julle is nie? Onthou, God hou julle dop. Doen daarom alles wat julle kan om te leef soos mense wat aan God behoort. God self is by julle lewe betrokke – Fil 2:12-13, Die Boodskap-vertaling

    squig.jpg

    Terwyl Paulus onder die Filippense gewerk het, het hy ondervind hulle luister met aandag na hom. Tien jaar later tree hy weer met hulle in verbinding en vra dat hulle ook noudat hy nie meer by hulle is nie, sy voorskrifte sal nakom. Hy waarsku hulle dat God hulle dophou en versoek hulle om soos ware Christene te lewe omdat God persoonlik by hul lewens betrokke is.

    In hierdie Skrifgedeelte kry ons twee belangrike voorskrifte vir die nuwe jaar wat jy ook deel van jou Nuwejaarsvoornemens behoort te maak: ons behoort soos kinders van God te lewe en ligdraers te wees deur sy woord uit te dra. Wanneer jy tot bekering kom, is alles nog nie afgehandel nie. Nou moet jy jou daarop toespits om soos ’n verloste te léwe en die evangelie uit te dra.

    Paulus vertel die Filippense ook presies hóé dit gedoen behoort te word: met eerbied en ontsag en sonder kla of teëpraat (Fil 2:12,14). As jy gewillig is om te probeer, sal God jou self gewillig en bekwaam maak om sy wil uit te voer.

    Hemelse Vader, help my om vanjaar soos ’n kind van U te lewe, om ’n ligdraer te wees en u Woord uit te dra. Ek wil dit graag met eerbied en ontsag en sonder kla of teëpraat doen. Maak dit vir my moontlik asseblief.

    Amen

    9 Januarie

    Lyding: ’n diensvoorwaarde?

    Lees Filippense 1:27-30

    God het julle die voorreg gegee om Christus te dien, nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly – Fil 1:29

    squig.jpg

    Paulus rig hier ’n bra eienaardige boodskap aan die gemeente in Filippi: God gee hulle die voorreg om Christus te dien – nie alleen deur in Hom te glo nie, maar ook deur vir Hom te ly. Die meeste mense sal lyding beslis nie as ’n voorreg beskou nie, maar daar is uitsonderings. Lyding word meermale in die Bybel as voordelig beskou omdat ons, wanneer ons swaar kry, veel nader aan God leef as wanneer alles voor die wind gaan. Swaarkry is die vrugbare grond waarin God elke Christen oorplant wat moet groei, lui ’n anonieme aanhaling. Wanneer ’n mens ter wille van jou geloof swaar kry, het jou voorbeeld ’n positiewe uitwerking op ander gelowiges en word jy deur God gebruik om ánder mense nader aan Hom te trek omdat hulle in jou lewe kan sien dat jy getrou aan jou geloof is.

    Jy kan ook seker wees, reeds hier aan die begin van ’n nuwe jaar, dat jy nie seerkry en swaarkry vanjaar gaan vryspring nie. Dis nie net onvermydelik in die wêreld nie, maar dit is ook ’n diensvoorwaarde vir ’n Christen! Daar is egter één belofte waarop jy kan staatmaak wanneer dit moeilik gaan: In jou lyding het jy God altyd by jou, sal sy liefde jou omsluit en kan jy op sy krag staatmaak.

    Hemelse Vader, ek besef nou dat lyding eintlik een van my diensvoorwaardes as u kind is! Dankie dat ek te midde van swaarkry kan weet dat U my nooit sal verlaat nie en dat u liefde my ook te midde van die lyding sal omvou.

    Amen

    10 Januarie

    Hou aan met reg doen!

    Lees Spreuke 11:17-21

    Wie volhou om reg te doen, kry blywende beloning – Spr 11:18

    squig.jpg

    Mense wat die regte ding doen, sal beloon word, beloof die Spreukeskrywer. Ongelukkig lewe ons in ’n korrupte samelewing waar daar maar min sprake is van reg doen. Elke keer wanneer ons die koerant oopmaak of die nuus aanskakel, lees en hoor ons van witboordjiemisdaad, bedrog, diefstal, aanranding, kinderverkragting, dwelmmisbruik en geweld. Hierdie dinge het só algemeen geword in die wêreld waarin ons woon, dat dit ons nie eers meer werklik ontstel nie. Ons het gewoond geraak daaraan …

    Dit is egter nié soos God sy skepping beplan het nie. In die begin was alles wat Hy gemaak het baie goed. Hy stel mense oor sy skepping aan as sy verteenwoordigers wat oor die skepping moet regeer, verantwoordelikheid daarvoor moet aanvaar, mekaar moet dien en liefhê. Sal dit nie wonderlik wees as ons vanjaar kan terugkeer na God se bloudruk vir die wêreld nie? As Christene oor die wêreld heen ’n wilsbesluit sal neem om reg te doen, om die skepping te bewaar, al sou dit ook beteken dat ons soms tweede sal kom. Indien jy daarvoor kans sien, sal God jou ’n blywende beloning gee: Jy sal ’n lig in die donker wêreld wees.

    Daar is ’n pragtige belofte in Die Boodskap-vertaling van hierdie teksvers: Wie vir ander mense omgee, se lewe sal vol blydskap wees. Nie net wag daar vir jou ’n blywende beloning as jy vanjaar sal onderneem om aan te hou om die regte dinge te doen nie, maar dit sal ook vir jou ’n lewe van blydskap verseker.

    Here, ek wil nou ’n wilsbesluit neem om vanjaar in reg doen te volhard, om hier op die wêreld ’n lig vir U te wees en u wil te gehoorsaam.

    Help my asseblief om dit reg te kry.

    Amen

    11 Januarie

    God rondom jou

    Lees Psalm 139:1-6

    U omsluit my van alle kante, U neem my in besit. Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip – Ps 139:5-6

    squig.jpg

    Terwyl ek en my man op ’n klein Vrystaatse dorpie optree, sit ons vriendelike gasvrou ’n kaartjie met die volgende woorde op my kopkussing:

    "God is voor my, Hy sal my altyd lei;

    God is agter my, Hy waak altyd oor my;

    God is langs my, om my troos te wees;

    God is om my, ek hoef niks te vrees."

    Watter ongelooflike belofte om die nuwe jaar mee in te gaan! God is voor jou – jy kan dus elke dag met groot vertroue op sy leiding staatmaak vir die probleemareas in jou lewe. Met God agter jou kan jy in gevaarsituasies op sy beskerming aanspraak maak. Met God langs jou kan jy verseker wees van sy troos en bystand in tye van hartseer. Met God rondom jou kan jy met vertroue élke vrees en bekommernis aan Hom oorlaat. Wanneer ’n mens daaroor nadink, kan jy nie help om met die psalmdigter saam te stem nie: Dié wete oorweldig my, dit is te hoog vir my begrip (Ps 139:6).

    Neem gerus die woorde van ons kaartjie saam op jou pad van die nuwe jaar. Dan sal jy toegerus wees vir enige gebeurlikheid, dan sal jy elke dag bewus wees van God se seënende teenwoordigheid in jou lewe. Dan kan jy maar jou vrese en bekommernisse oor die jaar wat voorlê met groot gerustheid in God se hande laat met die sekere wete dat Hy vir jou sal sorg.

    Hemelse Vader, dis wonderlik om te weet dat U my van alle kante omsluit – dat alles wat met my gebeur, eers by U sal moet verbykom. Ek loof U vir die belofte dat U vanjaar rondom my sal wees.

    Amen

    12 Januarie

    God ken jou naam

    Lees Jesaja 43:1-7

    Luister, so sê die Here wat jou geskep het, Jakob, wat jou gevorm het, Israel: Moenie bang wees nie, Ek verlos jou, Ek het jou op jou naam geroep, jy is Myne – Jes 43:1

    squig.jpg

    God praat hier met sy verbondsvolk – dié volk wat Hy met die hand vir Hom uitgesoek het om Hom te dien. Die hoofstuk gaan oor individue soos ek en jy. God het jou gemaak en Hy ken jou naam – al is daar derduisende miljoene mense in die wêreld, ken God jou persoonlik, weet Hy alles van jou af as jy in Jesus glo. Jou naam is vir Hom só belangrik dat Hy dit in sy handpalms gegraveer het (vgl Jes 49:16), dat Hy dit in die boek van die lewe opgeteken het … (vgl Op 13:8).

    God ken jou soos ’n Vader sy kind ken. Nog voordat jy gebore is, het Hy jou reeds op jou naam genoem, skryf die profeet Jesaja (Jes 49:1). Wanneer jy by Jesus se kruis stilstaan en oor sy soenoffer nadink, ontvang jy elke keer God se liefdesbrief aan jou persoonlik: Só lief het Hy jou, dat Hy sy enigste Seun prysgee sodat jý sy kind kan wees.

    Dit maak dus nie saak wát met jou gebeur nie; watter rampe jou in die loop van die jaar kan tref nie, as jy aan God behoort, het jy die sekerheid dat Hy jou persoonlik ken en jou vir sy rekening neem. Met só ’n God by jou kan jy die nuwe jaar wat voor jou lê met groot vertroue binnegaan.

    Hemelse Vader, dankie dat U my persoonlik, by my naam, ken. Ek loof U dat U my so liefhet dat U spesiaal u Seun gestuur het om in my plek te sterf sodat ek vir altyd aan U mag behoort.

    Amen

    13 Januarie

    Jy hoef nooit weer bang te wees nie

    Lees Jesaja 43:1-5

    As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie – Jes 43:2

    squig.jpg

    Niemand van ons erken graag dat ons bang is nie, tog is daar talle vrese wat by ons bly spook. In die Ou-Testamentiese tyd was twee van dié bangmaakdinge vuur en water. Sommige dinge wat ons bang maak, is volkome buite ons beheer, soos siekte, onrus, geweld en die dood. Alhoewel ons as mense geen beheer hieroor het nie, verdryf God se teenwoordigheid steeds ons vrese. Bangmaakdinge is nie meer ’n bedreiging as jy God by jou het nie.

    In die ergste gevaarsituasies kan jy weet dat God jou nooit sal laat los nie; Hy is altyd daar om jou teen élke gevaar te beskerm. En al sóú jy aangeval, verkrag of selfs doodgemaak word, sal God steeds dáár wees, sal sy hande jou vashou. Hy onderneem om jou deur die doodsvallei te dra tot in die hemel waar jy vir altyd by Hom sal wees.

    My man sê graag Christene is nie lewendes op pad na die land van die dooies nie, maar sterwendes op pad na onsterflikheid!

    Gaan vertel God gerus vanjaar van al jou vrese sodat Hy hulle vir sy vrede kan verruil.

    Hemelse Vader, ek weet nou dat met U by my, ek maar met vertroue van elkeen van my baie vrese ontslae kan raak. Dankie vir die belofte dat U my elke dag van die nuwe jaar sal beskerm.

    Amen

    14 Januarie

    Jy is kosbaar vir God

    Lees Jesaja 43:4-7

    Omdat jy vir my kosbaar is, omdat Ek jou hoog ag en jou liefhet, gee Ek mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe – Jes 43:4

    squig.jpg

    Ons kleindogter het ’n hele familie Barbie-poppe en sy is ewe erg oor elkeen van hulle. Dit maak vir haar geen saak dat sommige poppe die ware Jakob en ander goedkoop namaaksels is nie: álmal is vir haar kosbaar.

    Net so is élke kind van God vir Hom oneindig kosbaar – jy ook! In die wêreld waarin ons lewe, word prestasie, rykdom en mag baie hoog aangeslaan. Slegs dié mense wat boaan die suksesleer staan, is werklik belangrik in die samelewing. Maar by God werk dit nie so nie. Elke mens, al is hy in die oë van die wêreld maar nikswerd en onbelangrik, is vir Hom waardevol.

    As jy ooit weer met ’n minderwaardigheidskompleks sukkel en meen dat mense jou nie na waarde skat nie, dink ’n slag aan jou waarde in God se oë. Vir Hom is jy só kosbaar dat Hy mense in jou plek, volke in ruil vir jou lewe gee. Vir God het jy ewigheidswaarde – die ewige lewe is joune as jy Jesus liefhet en in Hom glo.

    Hierdie feit behoort ’n waardebepaling van jou eie lewe te wees. As dié Skeppergod wat die hemel en die aarde gemaak het en dit elke dag in stand hou jou só hoog aanslaan, kán jy mos nie die mislukking wees wat jy gedink het nie. Met Hom aan jou kant kan jy die nuwe jaar se uitdagings vreesloos tegemoetgaan – want saam met God is jy verseker dat alles vir jou goed sal afloop.

    Hemelse Vader, U weet dat ek dikwels maar taamlik nikswerd voel. Dankie vir die belofte dat ek vir U, die almagtige Skeppergod, kosbaar en waardevol is.

    Amen

    15 Januarie

    Waag dit om jouself te wees!

    Lees Psalm 139:13-18

    U het my gevorm, my aanmekaargeweef in die skoot van my moeder. Ek wil U loof, want U het my op ’n wonderbaarlike wyse geskep. Wat U gedoen het, vervul my met verwondering – Ps 139:13-14

    squig.jpg

    Alhoewel God se kinders goed wéét dat Hy hulle liefhet, ken en dat hulle vir Hom kosbaar is, loop daar steeds ’n verstommende aantal mense met minderwaardigheidskomplekse in die wêreld rond. Miskien is jy een van hulle. Indien wel, is daar een ding wat jy moet besef: God het jou wonderlik gemaak. Jy is uniek en spesiaal. In die hele wêreld is daar niemand anders presies soos jy nie. Waag dit dus om jouself te wees.

    Dis nie nodig om te dink soos die wêreld dink nie, om te doen wat die wêreld doen nie. Dit is ook nie nodig om die heersende modeneigings slaafs na te volg as dit jou nie pas nie. Dra waarvan jý hou, waarin jý gemaklik voel. Doen dié dinge wat vir jou lekker is. Hou op om jou te steur aan die menings van ander. Jy hóéf nie soos ander mense te dink, te wees of in die heersende modepatroon te pas nie. Jy kan maar dink wat jý wil, en dra en doen (en eet!) waarvan jý hou. Jy kan dit selfs waag om heeltemal ánders en oorspronklik te wees en jou eie ding te doen. Dit is ook glad nie nodig om jouself oor te maak sodat jy vir ander mense aanvaarbaar kan wees nie. My business is not to remake myself, but to make the absolute best of what God has made, sê Robert Browning by geleentheid. Begin vandag om presies dít te doen!

    Vader, dankie dat U my wonderlik gemaak het: dat ek nie die heersende neigings of modes slaafs hoef na te volg nie, maar net met vertroue myself kan wees.

    Amen

    16 Januarie

    Verander jouself positief

    Lees Efesiërs 4:17-24

    Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig – Ef 4:23-24

    squig.jpg

    Gister het jy ontdek dat God jou wonderlik gemaak het; dat dit dus in orde is om jouself te wees, want jy is goed genoeg nés jy is. Tog is daar terreine in elke mens se lewe wat kan doen met positiewe veranderings. As jy kan leer om vanjaar deur God se oë na mense en omstandighede te kyk, om nie terug te deins vir nuwe uitdagings nie, maar hulle te omhels en bereid te wees om van jou probleme trappe na ’n nuwe lewe te maak, gaan jy vanjaar altyd as ’n hoogtepunt in jou eie lewe onthou.

    Positiewe verandering begin altyd by jouself. As jy graag die wêreld wil verander, kyk éérs of jy nie dalk verandering nodig het nie. Gandhi het graag gesê: Ons moet die verandering wórd wat ons in die wêreld wil síén. Gaan sit en skryf dié dinge neer wat jy graag in ander mense sal wil verander: dat hulle vriendeliker sal wees; meer vergewensgesind; liefdevoller; nie so krities nie; geduldiger … Neem nou jou lysie en begin self só leef. Vra die Here om jóú vriendelik, vergewensgesind, liefdevol en geduldig te maak. Wórd self die verandering wat jy graag om jou wil sien. Binnekort gaan mense wat na jou kyk, jou voorbeeld begin volg. En dan gaan ons wêreld ’n veel beter een wees!

    Here, ek bid dat U van die wêreld ’n mooier, veiliger, vriendeliker plek sal maak, en dat U by my persoonlik sal begin. Ek wil graag die verandering word wat ek by ander wil sien.

    Amen

    17 Januarie

    Wag op God

    Lees Jesaja 66:1-13

    Ek het alles gemaak en so het alles ontstaan, sê die Here. Ek slaan ag op die mens in nood, op dié een wat berou het oor sy sonde, wat ontsag het vir my woord. Soos ’n moeder haar kind laat veilig voel, so laat Ek julle veilig voel – Jes 66:2, 13

    squig.jpg

    Elke keer wanneer jy jou Bybel oopmaak, praat dié God wat die wêreld gemaak het, wat die sterre name gegee het, wat die skepping elke dag onderhou, met jóú persoonlik. Dit is nodig dat jy die nodige ontsag vir sy Woord sal hê, jou Bybel nie sommer maar op enige plek sal oopslaan om gou ’n paar verse te lees nie. Jy behoort fyn te luister na dít wat die Here vir jou in sy Woord wil sê, en te onderneem om die dinge te doen wat Hy vir jou in sy Woord vra.

    Vandag is God se boodskap aan jou dat Hy op jou ag sal slaan mits jy jou sonde bely en ontsag het vir sy Woord, dat Hy jou veilig wil laat voel soos ’n besorgde ma dit vir haar kind doen.

    Wysheid begin met die dien van die Here; wie die Heilige ken, het werklik insig, staan daar in Spreuke 9:10. Maak baie seker dat die boodskap wat God vandag regstreeks aan jou rig, nie dalk by jou verby sal gaan nie. Dink daaroor na, en antwoord God op sy Woord. Moet jou Bybel nooit sónder ’n gevoel van afwagting lees nie. Sorg dat die bestudering van jou Bybel, die luister na God se stem, die wag op Hom, ’n onlosmaaklike deel van jou lewe sal vorm.

    Vader, dankie dat U met my persoonlik praat wanneer ek my Bybel oopmaak. Help my om ontsag vir u Woord te hê. Maak my sensitief vir u stem en bereid om U te gehoorsaam.

    Amen

    18 Januarie

    Luister aandagtig na God

    Lees Eksodus 15:22-27

    Hy het gesê: "Julle moet goed luister na wat Ek, die Here julle God, sê! Julle moet doen wat reg is in my oë, gehoor gee aan my gebooie en alles doen wat Ek vir julle voorskryf – Eks 15:26

    squig.jpg

    Toe die Israeliete by die Surwoestyn kom, kon hulle vir ’n paar dae geen water kry nie. Toe hulle uiteindelik by Mara aanland, kon hulle die water nie drink nie, want dit was bitter. Oudergewoonte kla hulle by Moses en wil by hom weet wat hulle moet drink. Op die Here se bevel gooi Moses ’n stuk hout in die water sodat dit soet en drinkbaar word.

    Met hierdie waterskaarste wou die Here die volk op die proef stel, staan daar in Eksodus 15:25. God het ook baie ernstig met hulle gepraat en hulle gevra om goed na Hom te luister en Hom te gehoorsaam. Dan onderneem Hy om die siektes waarmee Hy Egipte getref het van hulle te weerhou.

    Die Hebreeuse teks beteken hier letterlik om met absolute aandag na God se stem te luister. Wanneer God se kinders na sy stem luister, onderneem Hy om hulle te help en te seën. In Deuteronomium 28:1-2 is ’n pragtige belofte vir die nuwe jaar opgeteken: As jy goed luister na die Here jou God […] sal al hierdie seëninge oor jou kom en jou lewe verryk. Probeer vanjaar doelbewus om met absolute aandag na God se stem te luister, om te doen wat reg is in sy oë en sy gebooie te gehoorsaam. As jy dít kan regkry, sal sy seëninge jou lewe verryk.

    Here, ek wil graag vanjaar met absolute aandag na u stem luister, doen wat reg is en u gebooie nakom sodat ek u hulp en seën in die jaar wat voorlê kan ervaar.

    Amen

    19 Januarie

    Gee aandag aan wat jy hoor

    Lees Markus 4:21-25

    Hy het ook vir hulle gesê: Gee aandag aan wat julle hoor! Want met die maat waarmee julle meet, sal vir julle gemeet word en daar sal vir julle nog toegevoeg word. Wie het, vir hom sal daar nog meer gegee word; en wie nie het nie, van hom sal ook die bietjie wat hy het, weggevat word – Mark 4:24-25

    squig.jpg

    Jesus waarsku hier dat God se koninkryk aan die kom is. Volgens Die Bybellennium (p 1201) begin dit op ’n half weggesteekte manier, maar uiteindelik sal ons almal dit sien. Dié mense wat ore het om te luister, moet dus góéd luister. As ons bereid is om na God se stem te luister, sal Hy ons help om geestelik sterker te word. In vers 24, sê Jesus:Whoever has, will be given more (NIV).

    Jy gaan God se stem nooit duidelik genoeg met jou hoor praat as jy nie ’n spesiale poging gaan aanwend om na Hom te luister nie.

    Dit hang dus van jouself af hoeveel seën jy vanjaar van God gaan ontvang. Maak doodseker dat jy op die regte manier na sy stem sal luister. Pas dus op hoe julle luister, want wie het, vir hom sal nog meer gegee word, lui die Lukas-weergawe van ons teksvers (Luk 8:18). Die manier waarop jy jouself vir God oopstel, gaan die mate bepaal waarin Hy Homself in die nuwe jaar aan jou gaan openbaar.

    Here, ek wil myself nou oopstel vir u stem en só fyn na U luister dat U Uself aan my sal openbaar en dat

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1