Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Ware verhale van vergifnis: Loop die pad na herstel
Ware verhale van vergifnis: Loop die pad na herstel
Ware verhale van vergifnis: Loop die pad na herstel
Ebook314 pages4 hours

Ware verhale van vergifnis: Loop die pad na herstel

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Ons ken almal die gesegde “vergeet en vergewe”, maar dis makliker gesê as gedaan. Dis moeilik om iemand te vergewe wat jou seergemaak of kwaad aangedoen het. Die gevolg is dat baie van ons met bitterheid in ons harte rondloop. En solank as wat ons bitter is, kan ons nie genesing vind nie. Die goeie nuus is dat vergifnis nie ’n emosie is nie, maar ’n besluit – ’n besluit om die pad van herstel te loop, hoe moeilik dit ook al is. Want op die ou end bring dit bevryding. In Ware verhale van vergifnis bring Helana Olivier 25 verhale byeen van mense wat hierdie besluit geneem het. Dis ware verhale wat lesers aan die hart sal gryp. Dit sal vir enigeen wat sukkel met vergifnis hoop en inspirasie bring en wys dis moontlik om genesing te vind.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateDec 6, 2012
ISBN9780796315717
Ware verhale van vergifnis: Loop die pad na herstel

Related to Ware verhale van vergifnis

Related ebooks

Related articles

Reviews for Ware verhale van vergifnis

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Ware verhale van vergifnis - Helana Olivier

    Titelbladsy

    WARE VERHALE VAN VERGIFNIS

    Loop die pad na herstel

    Helana Olivier

    LUX VERBI

    Opdrag

    Aan Pieter, Lloyd, Michelle en Mia

    omdat julle wéét van vergifnis

    Aanhaling

    "En wanneer julle staan om te bid,

    en julle het iets teen iemand, vergewe

    hom; dan sal julle Vader wat in die

    hemel is, julle ook julle

    oortredings vergewe."

    Markus11:25

    Inleiding

    Inleiding

    Vergewe? Oor my dooie liggaam! Vergeet? Nooit nie!

    Klink dit bekend?

    Dalk was die lewe eens op ’n tyd vir jou rooskleurig. Maar toe, op ’n dag, het alles verander. Die lewe het begin gebeur. Dalk kon jy nie swanger word nie. Of jou kind is gestremd gebore. Dalk was jy iemand wat moes hoor jou pragtige kind is noodlottig beseer of word ’n para- of kwadrupleeg. Jou lewensmaat is dalk nie die mens wat jy gedink het nie – jul kind word misbruik of jy word fisiek mishandel. Dalk het jou geliefde in die tronk beland weens misdaad. Jou lewensmaat het jou dalk verruil vir ’n beter opsie. Jy is dalk selfs die ander kant van die munt: Jy is die persoon wat die hele gemors veroorsaak het! Daar loop seker nie ’n enkele mens op hierdie aarde rond wat nog nooit te na gekom is of wat nie self iewers langs die pad iemand gekwets het nie.

    Wanneer mense en situasies ons teleurstel, verloor ons soms moed en wroeg ons. Ons voel dalk deurentyd kwaad, verbitterd of so gegrief dat negatiewe gevoelens ons begin verteer. Die situasie waarin ons is, beïnvloed ons dalk fisiek en geestelik sodanig dat ons al dieper in ’n ál donkerder gat wegsink.

    Hierdie boek se bydraers het elkeen ’n krisis beleef en hulle vertel ons hoe hulle die pad na vergifnis geloop het. Almal van ons weet vergifnis is nie maklik nie ... totdat ’n mens op ’n dag besluit om met die proses te begin en voel hoe ’n groot gewig van jou afrol! Weer eens mag jy dalk die ander party wees: Die persoon wat vergewe word.

    Die goeie nuus is dat vergifnis nié iets emosioneels is nie. Dis ’n keuse. Moenie van ’n berader of iemand anders verwag om jou vry te maak nie. Hulle kan jou slegs lei in die proses. Vryheid is die gevolg van jou eie keuses. Moenie toelaat dat onvergewensgesindheid jou laat voel jy het nie mag oor ’n situasie nie. Dis vals om te glo jy is hulpeloos.

    As ’n mens verbitterd of angstig bly, kan jy nie jou lewe herbou nie. Bykans elke bydraer getuig van die vreugde wat hulle ervaar het nadat hulle uit die donker gat opgestaan het. Almal van hulle wil graag hierdie bevrydingsboodskap daagliks uitdra en hul bydrae tot hierdie boek is ’n beskeie deel van hul dankbaarheid teenoor God vir sy genade. Die boodskap wat soos ’n goue draad deur hierdie verhale loop, is dat ’n mens jou kán losmaak van jou pynlike verlede en dat dit moontlik is om te vergewe, al is dit nie altyd moontlik om ooit heeltemal te vergeet nie. Knip die bande van die pynlike verlede en word vry!

    ’n Baie spesiale woord van dank aan elke bydraer wat tussen ontstellende herinnerings moes gaan delf om hul reis na algehele bevryding weer te gee. Elkeen van julle het my lewe op ’n besondere wyse geraak. Ek glo jul openheid oor hierdie onderwerp sal mense wat nog diep in ’n donker gat lê, laat opstaan en weer vry laat asemhaal. Ek glo vele mense sal ná die lees van jul verhale, vrede, vryheid en die volheid van die lewe ervaar. Groot seën vir elkeen van julle.

    As ons die volgende vier B’s in gedagte hou, sal die pad na ’n vergifnis dalk makliker wees:

    • Besluit ... dis ’n keuse om nie meer ’n gevangene te wees nie.

    • Bid ... met Markus 11:25 se beloftes in gedagte.

    • Bestudeer ... vergifnisverse in die Bybel.

    • Wees Blymoedig en leef vry en in vrede ... wanneer jy vergifnis ontvang óf wanneer jy iemand anders vryspreek.

    Helana Olivier

    Verhaal 1: Van tronkvoël tot pastoor

    1

    Van tronkvoël tot pastoor

    Dr Ross Olivier

    Wanneer ek aan my lewe dink en wat van my sou geword het as dit nie vir vergifnis was nie, kan ek net sidder.

    My lewensverhaal begin by my verraad teenoor mense wat my vertrou het en my die meeste liefgehad het. Dit is ’n verhaal wat opgesom kan word met die diepsinnige woorde van John Newton: Genade onbeskryflik groot het U aan my bewys, verlore seun ’n wegloopkind, weer in die Vaderhuis! Die woorde van hierdie lied is op my lewe van toepassing.

    Ek wil met jou my lewensverhaal deel, die verhaal van hoe my etiek gevorm, my waardes uitgebou en my houding teenoor my medemens verander is. My verhaal is gewortel in ’n diep geestelike gebeurtenis. Dis nie dat ek hiermee wil voorgee dat iemand wat godsdienstig is altyd goeie morele waardes nastreef nie. Ek is lank genoeg in die kerk om te weet daar is goeie gelowiges en minder goeie gelowiges in elke soort godsdiens. Die profeet Jesaja stel dit reguit: Die Here het gesê: Hierdie volk is naby My met die mond, hulle eer my met wat hulle sê, maar hulle hart is ver van My af ... (Jes 29:13).

    Ons moet versigtig wees dat ons optrede nie met ons geloofsbelydenis bots nie; dat die dinge wat ons doen, onversoenbaar is met die belydenis waarop ons ons beroem.

    Dit daar gelaat. My morele bekering was in wese ’n sielservaring. Dis die verhaal van my oorgang van die donker na die lig, van die eie ek na God.

    Ek is nie godsdienstig opgevoed nie. Ons het nie as ’n gesin saam kerk toe gegaan nie. Afgesien van troues en begrafnisse was ek, tot die Sondag dat ek ingeseën is, nie een keer saam met my ouers in die kerk nie. Hulle het beslis nooit met ons kinders oor God en godsdiens gepraat nie. Ek onthou wel die kort tydjie toe ’n wonderlike paartjie, meneer en mevrou Banks, by ’n huis in ons straat ingetrek het. Hulle was ooglopend gelowig en het God gedien. As deel van hul Christenroeping het hulle die kerklose ouers in die omgewing gevra of hulle hul kinders Sondae mag Sondagskool toe neem. Vir die meeste van die ouers was dit so effens van ’n verleentheid en hulle het maar ingestem. So het dit gekom dat meneer en mevrou Banks elke Sondagoggend opgedaag het om my en my broer te kom haal. Ons twee was altyd ewe netjies uitgevat in ons Sondagklere, kuiwe platgekam en glad geolie met Brylcreem, skoene blinkgevryf – twee boeties, gewas en gekam vir die geleentheid.

    Dis hoe ek die Metodistekerkie in Brakpan ’n kort tydjie bygewoon het. Ek het die weeklikse uitstappie geniet, maar kon nie sê dat enigiets van ’n godsdienstige aard tot my deurgedring het nie. Of so het ek gedink! Soos dit op myndorpies gaan, het óf ons, óf die Banks-gesin weggetrek en was dit die einde van my kort kennismaking met die kerk. So het ek het maar grootgeword sonder enige ware begrip van wat bekend staan as geestelike en morele waardes.

    Ná matriek is ek opgeroep vir twee jaar militêre diensplig. Teen my agtiende verjaardag was ek in ’n buurland in ’n oorlog betrokke wat ek jare later ontdek het onregverdig was. Maar ons was jonk en ontvanklik en te onskuldig om te besef ons is kanonvoer vir die apartheidsregering se sinlose oorlog. Ek weet nie hoe om dit anders te stel nie, maar ek het erg opgemors uit die weermag gekom.

    My eerste werk was by ’n finansieringsmaatskappy. Ek het hard gewerk, gedryf deur ’n obsessie om so gou moontlik baie geld te maak. Ek het my beloning gekry. Teen my twee en twintigste verjaardag is ek reeds verskeie kere bevorder. Ek het ’n mooi motor besit en ’n huis gekoop. Ek en Shayne is toe ook getroud. Ons het begin uitgaan toe ons sestien was en gelukkig het sy nie daaraan gedink om my af te sê nie. Sy is steeds die liefde van my lewe.

    Maar dit was nie lank nie of ons lewe saam het begin uitrafel. Ek is aangevuur deur gierigheid; ek was immoreel en gewetenloos. Ek het Shayne se lewe in ellende gedompel. Wanneer ek terugkyk na daardie tyd, besef ek my optrede het waarskynlik daartoe bygedra dat sy ’n miskraam gehad het. Ek het ’n skuiwergat ontdek in die samestelling van die maatskappy waar ek gewerk het en begin geld verduister. ’n Hele ruk lank het ek dit reggekry sonder om gevang te word. Hoe dit ook al sy, uiteindelik het alles in duie gestort. Dit het sleg gegaan met ons huwelik, so sleg dat Shayne my eendag min of meer so gekonfronteer het: Jy het ’n aaklige mens geword, het sy gesê. Ek hou nie van die mens in wie jy verander het nie. Jy is nie die een wat ek gedink het jy is nie.

    Tipies man, het ek geweier om enige skuld te aanvaar. Ek het woedend ’n tas gegryp, ’n paar kledingstukke ingegooi, in my kar geklim en met skreeuende bande weggejaag. Ek is reguit na die Johannesburgse middestad, waar ek vir my ’n kamer in die New Library-hotel gekry het. Een van my gunstelingdrinkneste was immers in die New Library.

    Ek onthou ek het op die bed gaan sit met my tas voor my op die vloer en was oorweldig deur die besef dat ek by ’n kruispad gekom het. Op ’n manier het ek tot die slotsom gekom dat my volgende stap die rigting sou aandui vir die res van my lewe. Ek onthou hoe angs my oorweldig het in daardie stil hotelkamer. Ek was op die punt om iemand te verloor wat vir my kosbaar is.

    Met daardie dreigende gevoel van verlies soos ’n swaard oor my kop, het ek opgestaan, my tas gevat en uitgeteken. Ek is reguit na die naaste polisiekantoor, waar ek ’n verklaring afgelê en ’n skulderkenning geteken het. Ewe naïef het ek verwag dat die polisie iets sou sê soos: Jy’s ’n oulike jong man, dis mooi van jou om ons te kom vertel wat jy gedoen het. Gaan nou huis toe, ons sal later alles uitsorteer.

    In stede daarvan is ek onmiddellik in hegtenis geneem en in ’n polisiesel op John Vorster-plein opgesluit. Daarna is ek oorgeplaas na die destydse Fort-tronk. Weke later is ek aangekla, verhoor en vir drie en ’n half jaar tronk toe gestuur. Kan jy jou voorstel hoe verneder en geskok Shayne, my ouers, my werkgewers en my vriende was, hoe die skande hulle getref het?

    Ná die vonnisoplegging is ek na die Sentraal-gevangenis in Pretoria om my vonnis uit te dien.

    Laat ek jou vriendelik waarsku: Luister na die raad van iemand wat daar was. Moenie iets aanvang wat jou in die tronk sal laat beland nie – dit is nie ’n vakansie nie! Die tronklewe is hard en soms selfs wreed. Ek het daar tot op die randjie van my moed en uithouvermoë gekom. Ek was skaam en ek het gevoel soos ’n mislukking. Al wat my aan die gang gehou het, was my vrou se ongelooflike vergewensgesinde liefde. Ten spyte van die feit dat almal haar aangeraai het om van my ontslae te raak, het sy besluit om my te vergewe en my deur dik en dun by te staan. Haar buitengewone liefde het my aangespoor om my lewe te verander. Maar ek het nie geweet hoe om dit te doen nie.

    Kersfees was aan die nader kom. En toe, een dag, dink ek uit die bloute aan die Sondagskoollesse in meneer en mevrou Banks se klein kerkie. Ek het begin wonder of God regtig bestaan, soos ons geleer het. Sonder om te weet hoe, het ek snags begin bid, ’n eenvoudige gebedjie: Here, ek het hulp nodig. Ek weet nie wat om te doen nie. As U daar is, kan U my help?

    Dit het gehelp om te bid – selfs daardie onafgeronde gebedjie. Dit het my daaglikse bron van krag geword en dit het my nuwe hoop gegee. Maar ek was nog nie oortuig God bestaan nie. Dit het ’n wonderwerk gekos om my sover te bring om te glo. Nou, byna 30 jaar later, kan ek daardie nag wat my lewe drasties verander het, steeds goed onthou.

    In ’n eensame enkelsel lê ek op my rug op die bed en staar na die naakte gloeilamp teen die plafon hoog bokant my kop. Die lig bly die hele nag brand, seker sodat die wagte deur die loergaatjies in die swaar metaaldeure wat op die D-blok se reghoekige gang oopswaai, kan sien wat in die selle aangaan.

    1.jpg

    Ek dink dié nag aan God en wonder of daar werklik ’n almagtige skepper is wat vir my ’n bron van krag kan wees en of dit net een of ander kopspeletjie is, ’n geestelike kruk waarop ek leun ter wille van oorlewing.

    Toe gebeur alles so vinnig, een gedagte ná die ander vlieg deur my kop: As God bestaan, kan Hy Hom tog sekerlik aan my openbaar. Hoe? Hoe kan Hy my laat weet Hy is eg? Hy kan die lig afsit. En die laaste gedagte is skaars uit my kop uit of die hele blok D word in totale duisternis gehul!

    Maar dit was toe nie die antwoord nie. Dit kon verklaar word as een van daardie toevallighede wat soms net gebeur. Nee, dit was veel meer as dit; baie, baie meer.

    Die oomblik toe die tronk in donkerte gehul is, is ek soos ’n baba in ’n warm kombersie toegevou in ’n tasbare, regte, egte, omhelsende, allesoortreffende gewaarwording van aanvaarding, vergifnis en uitsonderlike liefde.

    Ek het uitasem bly lê, toegevou in die teer omhelsing van ’n onsienlike teenwoordigheid. Ek was nie in staat om te dink, te beweeg of ten volle te verstaan nie. Tog het ek geweet my vrae is beantwoord. Diep in die siel van my menswees, diep in die bewussyn wat ek tot dusver nie geken het nie, is ek finaal oortuig.

    My lewe het in daardie oomblik vir altyd verander. Elke greintjie twyfel is weggeneem en vervang met die wete dat my lewe intrinsieke waarde het. Ek was blind en nou kan ek sien.

    Ek het die genade ontvang wat John Newton as onbeskryflik groot ervaar het.

    In daardie stadium van my vonnis is ek een halfuur lange besoek per maand deur een persoon toegelaat. Shayne het my altyd kom besoek. Ons het deur ’n dik glasvenstertjie na mekaar gekyk en gesels deur ’n draadrooster oor ’n afskorting wat ons ’n meter van mekaar af weggehou het.

    Die eerste keer dat sy my ná my oomblik met God besoek het, het ek haar gevra om vir my ’n Bybel te bring. Sy het my vraend aangekyk, maar die volgende keer het sy die Bybel saamgebring. Dit was ’n King James-weergawe en ek kon skaars die taal verstaan.

    Maar ek het dit vandag nog, my tronknommer staan aan die binnekant van die buiteblad geskryf: 1631/77.

    Daar is ook oral kort boodskappies van liefde en aanmoediging wat Shayne in groen ink geskryf het.

    Nadat ek uit die tronk vrygelaat is, het ek begin werk soek. Ek was vasbeslote om altyd die volle waarheid oor my verlede te vertel. Vir sewe maande het ek die een afjak ná die ander gekry. Eindelik het die plaaslike munisipaliteit my aangestel as ’n meterleser. Gewapen met ’n groot boek en ’n potlood het ek deur die strate van ons dorp geloop, water- en elektrisiteitsmeters gelees en besonderhede van verbruik neergeskryf. Party mense sal sê dis nie veel van ’n werk nie, maar ek het dit met vreugde gedoen. ’n Jaar later is ek na die finansiële departement verskuif. Dit was asof ek die sirkel van herstel voltooi het. Dit was asof die Here vir my gesê het: Jy was ’n dief, maar nou kan jy weer met geld vertrou word.

    Wie sou kon droom dat ek jare later ’n aanstelling sou kry as die algemene tesourier van die Metodistekerk van Suider-Afrika, een van die talle verantwoordelikhede wat deel is van my werk as die algemene sekretaris. My lewe is ’n reis wat verandering in baie opsigte insluit, die aanleer van nuwe waardes en ’n dieper geestelike moraal. ’n Reis wat ek nie sou kon aanpak sonder die ongelooflike ondersteuning van ’n liefdevolle vrou nie, ’n reis met foute, mislukkings en lesse langs die pad, ’n reis wat my van ’n tronksel in Pretoria-Sentraal na ’n kerklike leiersposisie en ’n betekenisvolle bediening in die Verenigde State geneem het. Ek staan tot vandag toe verwonderd oor my reis van die tronk na die bediening en ek kan God net dank vir die suiwerende krag van vergewende liefde wat my deur die jare skoongewas en gedra het.

    By elke geleentheid wat ek kry, doen ek moeite om ander uit te daag om hul mislukkings en sondes te erken. Dan vertel ek hulle van vergifnis. Ek herinner hulle aan God se vergifnis en ek nooi hulle uit om hulself te vergewe. Ek vra hulle om vergifnis aan te gryp, om te leef soos mense wat vergewe is en soos ’n vergewensgesinde mens.

    Elke keer dat ek die woorde uitspreek: Jy is vergewe, ervaar ek weer die oorweldigende gevoel van verwondering en waardering dat my lewe onverdiend verander is deur die krag van vergewende liefde. My lewe getuig van hierdie krag.

    Ek sidder wanneer ek dink wat van my sou geword het sonder die aanraking van so ’n liefde, sulke vergifnis. Meer nog, ek ervaar dit oor en oor. Elke keer dat ek struikel en val, word ek opgehef deur dieselfde gawe van vergewende liefde. En elke keer word ek klein by die besef dat die liefde vry en onvoorwaardelik uitgedeel word. Die liefde word nie verdien nie, nie verkry deur verdienste, inspanning of prestasie nie. Vergewende liefde bestaan al van voordat ons besef dat ons dit nodig het; dit wag geduldig vir ons om ons lewe na God te keer. Dit is werklik onbeskryflike genade!

    Daar is nog ’n stukkie van hierdie verhaal wat ek moet vertel. ’n Paar jaar gelede is ek uitgenooi om te preek by die eeufees van die Metodistekerk in Kensington, Johannesburg. Ná die diens, toe ek staan en handskud met die vertrekkende lidmate, merk ek ’n ouerige paartjie wat eenkant wag. Toe almal weg is, kom hulle nader gestap. Jy sal ons nie onthou nie, sê hulle, maar ons is meneer en mevrou Banks. Ons het jou altyd saamgevat Sondagskool toe.

    Trane wel in my oë op. Jul getrouheid het gehelp om my lewe te verander.

    Daar is geen liefdesdaad, hoe klein ook al, en geen deernis sonder betekenis nie, geen leë vergifnis nie. Hierdie klein lewetjie van my is ’n lewende bewys van vergewende liefde.

    Verhaal 2: Misbruik tot bruikbaar

    2

    Misbruik tot bruikbaar

    Esté Mostert

    My pad van vergifnis begin toe ek ongeveer ses jaar oud was. Ons gesin het bestaan uit my ma, my pa, ek en my sussie. Ons het in ’n drieslaapkamerhuisie in Suidrand, Kroonstad, gewoon. Wat ek van hierdie tydperk van my lewe onthou, is motorongelukke as gevolg van dronkbestuur, verwyte, beskuldigings, spanning en hartseer oomblikke weens hoop wat telkens beskaam het. Ek sien hoe my pa, ’n alkoholis, reeds wiegend by sy motor se kattebak staan en brandewyn drink uit ’n bottel in die bruinpapiersak. My ma het dikwels gedreig sy gaan haar goed vat en wegloop. Ek het altyd gewonder of ek en my sussie ook deel van haar goed sal wees. As ons nie is nie, wat gaan van ons word? Mettertyd het die lewe by die huis ál meer gespanne geraak en het dit net ál slegter gegaan. Gelukkig kon ek in st. 6 ontvlug koshuis toe. Hoewel naweke steeds ’n gemors was, kon ek vir daardie volgende vyf jaar gedurende die week redelik sonder spanning funksioneer. Om maats huis toe te neem, het egter op ’n fiasko uitgeloop. Ek het ’n baie swak selfbeeld ontwikkel en ’n regte klein rebel geword wat letterlik met alles en almal wou baklei. Ek het geglo die hele wêreld weet wat by ons huis en binne my aangaan en daarom veroordeel almal my.

    Om weg te kom van alles en almal is ek ná matriek na die Vroueleërkollege in George. Ek was skielik ver van die huis af. Ek het in ontkenning geleef en sommer vinnig tien kilogram aangesit. Natuurlik het my reeds swak selfbeeld verder verswak, maar omdat ek nie van beter geweet het nie, het ek voortgesukkel. Ek was alleen, onseker en wanaangepas.

    Intussen het ek in voeling gekom met die geestelike sy van my lewe. Ek het God aangeneem as my Verlosser, maar toe begin my worsteling om Hom as my volmaakte hemelse Vader te sien, om te verstaan dat Hy my onvoorwaardelik sal vergewe, al was ek woedend vir my pa wat my lewe so verwoes.

    In 1979 het ek in Bloemfontein gaan kuns studeer. Gedurende hierdie tyd is kanker by my pa gediagnoseer en hy is in Bloemfontein in die tussentuiste vir kankerpasiënte opgeneem. Weer is ek gekonfronteer met gevoelens wat gewissel het van simpatie tot woede tot frustrasie. Ek het besef die spoke uit my verlede bly saam met my hardloop.

    In hierdie tyd ontmoet ek toe ook die persoon met wie ek eendag sou trou. Sy ma was die matrone by die tussentuiste waar my pa versorg is. Dis ’n hanetree van die universiteit af. Albei van ons het in die universiteitskoor gesing en omdat ek my pa se motor gehad het, kon ek hom ’n saamrygeleentheid gee wanneer ons moes gaan oefen. Hy begin my vertel ek is baie oulik en vir iemand met so ’n slegte selfbeeld soos myne, was dit al wat ek nodig gehad het om te hoor. Ek raak halsoorkop verlief. Intussen word my pa ál sieker, en my verhouding met die man raak ál hegter. In 1984 trou ons – min wetende dat dit die begin van die tweede fase sou wees waarvoor ek jare later weer vergifnis sou moes vra.

    Die eerste paar jaar van ons huwelik was opwindend – volgepak met gelukkige

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1