Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Ek kies steeds die kerk
Ek kies steeds die kerk
Ek kies steeds die kerk
Ebook300 pages3 hours

Ek kies steeds die kerk

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Dit het mode geword om die kerk te kritiseer. As ’n mens jou op van dié kritiek moet verlaat, het die kerk, in besonder die Afrikaanse kerke, geen geloofwaardigheid meer nie.
En tog is daar steeds elke Sondag honderdduisende Afrikaanse mense in die kerk . . .
Neels Jackson, bekende godsdiensskrywer en redakteur van die Kerkbode, is een van dié mense, en in Ek kies steeds die kerk beskryf hy die vyf hoofredes waarom hy steeds in die kerk bly. Die boek bevat die beste van sy rubrieke wat verskyn het in Beeld, Rapport, By en e-Hervormer, en vier só 20 jaar se in-diepte verslaggewing oor kerksake en geloof.
’n Paar hoogtepunte is sy onderhoude met bekendes soos Bobby Fischer, Yolanda Dreyer, Hashim Amla, Isak Burger, biskop Desmond Tutu en Adriaan Vlok.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateJul 20, 2014
ISBN9780796318091
Ek kies steeds die kerk
Author

Neels Jackson

Neels Jackson het naam gemaak as ’n ingeligte, verantwoordelike en kundige verslaggewer oor godsdienssake. Hy het goeie betrekkinge met ’n groot aantal teoloë en met kerkleiers uit verskillende denominasies. Hy was sedert 1990 die kerkverslaggewer vir die Beeld, die Pretorianer en ander Media24 blaaie. Neels is o.m. uitgenooi na sinodesittings van die NG Kerk, die NG Kerk in Afrika, die destydse NG Sendingkerk, die Verenigende Gereformeerde Kerk, die Metodiste Kerk en die Anglikaanse Kerk. Hy is pas aangestel as redakteur van die Kerkbode. Hy woon saam my sy vrou en twee dogters in Pretoria.

Read more from Neels Jackson

Related to Ek kies steeds die kerk

Related ebooks

Related articles

Reviews for Ek kies steeds die kerk

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Ek kies steeds die kerk - Neels Jackson

    Hierdie boek word opgedra aan Louise, my medepelgrim op die lewenspad.

    VOORWOORD

    Joernaliste wat die voorreg verdien om twee dekades lank verslag te doen op ’n beat, raak dikwels net so goed ingelig – en in sommige gevalle selfs beter – as baie van die mense wat self op daardie terrein werk.

    Nie net omdat hulle spesiale talente en gawes het nie – dit moet hulle immers hê om so lank voor die paaltjies te kan bly – maar ook omdat joernaliste die voorreg het om van die beste sitplekke in die arena te kry. Hulle kry die kans om met die bestes, sterkstes, slimstes en magtigstes te praat, hulle te leer ken en dan billik, reguit, eerlik en verstaanbaar oor te dra wat op daardie terreine gebeur.

    Hulle beleef die hoogtepunte, die laagtepunte, die toppunt van prestasie, die dieptes van mislukking, die skerp kant van konflik en die skoonheid van vrede. Hulle dra dit só oor dat lesers begryp wát gebeur en hóékom dit gebeur. As hulle dit twintig jaar lank doen, ken hulle die kwessies en die mense later so goed soos hul eie familie.

    Neels Jackson was as Beeld se kerksakeverslaggewer juis só ’n joernalis. Hy het daardie plek deeglik verdien. Hy het sy gawes gebruik op ’n manier wat vir hom agting verdien het. By predikante, akademici en ander beroepsgelowiges. By medejoernaliste. Ook by die lesers vir wie hy hard gewerk het om te sorg dat hulle begryp wat in die kerke gebeur en wat die neigings in die geloofslewe van Suid-Afrikaners is.

    Neels is een van die min joernaliste wat dit reggekry het om ook die vertroue en respek te wen van mense of groepe oor wie hy krities verslag gedoen het. Al was dit soms ’n teensinnige respek.

    As kollega is ek telkens getref deur Neels se eerlikheid en erns. Hy gaan nie sommer ligsinnig om met enigiets waarby hy betrokke raak nie. Dit sien ’n mens onder meer in sy fotografie van voëls, die manier waarop hy en sy vrou, Louise, die Camino de Santiago aangepak het, sy liefde vir krieket – hy het dikwels ’n week verlof geneem om ’n vyfdagwedstryd by te woon – en in sy eie geloofslewe.

    Elke woord in sy skryfwerk en selfs in gesprekke, is meestal so deeglik bedink en geweeg, elke sin so nadenkend en presies saamgestel, dat dit ’n plesier is om te lees, en moeilik om sy kopie te sny.

    Elke woord uit Neels se toetsbord verdien om gelees en weer gelees te word.

    Peet Kruger

    Johannesburg 2014

    INLEIDING

    Jy gaan nie ryk word nie, maar jy gaan ’n ryk lewe hê.

    Male sonder tal het ek dié opmerking gemaak teenoor jong joernaliste of skoolkinders of studente wat ’n loopbaan in die joernalistiek oorweeg het.

    Dit was in elk geval my belewenis oor die 23 jaar en 6 maande dat ek ’n joernalis by Beeld was. Ek het toevallig in die joernalistiek beland nadat ek my loopbaan as Afrikaansonderwyser begin het. My opleiding het ’n BA-graad, ’n nagraadse onderwysdiploma en ’n honneursgraad in Afrikaanse letterkunde ingesluit.

    Skryfwerk was ’n passie. Die letterkunde het my bekoor en in my eie laaie het die hopies gedigte en stories gedurig gegroei. Terselfdertyd het die nuus my altyd geïnteresseer. Dit het gekom uit die huis waarin ek grootgeword het waar my ouers elke dag ’n koerant gekoop het – en Sondae twee.

    Ook die kerklike lewe het my belangstelling geprikkel. In die 1980’s, toe Suid-Afrika onder noodtoestande gebuk gegaan het, het die NG Kerk hom geleidelik begin loswikkel van apartheid.

    Ek was in my twintigs, pas getroud en het by twee groepe in Pretoria ingeskakel wat hulle met dié problematiek besig gehou het. Die een was Reforum, ’n forum op reformatoriese grondslag wat kwartaalliks saamgekom het om die kwessie te bespreek. Die ander was Koinonia, dr. Nico Smith se organisasie, wat klowe wou oorbrug deur kontak tussen wit en swart Christene te fasiliteer (vergelyk Wit en bruin in ’n dubbelbed by die swart Geels).

    Dis teen dié agtergrond dat ek in 1990 gehoor het Beeld soek ’n verslaggewer wat kerksake kan hanteer. Ek het aansoek gedoen en die avontuur het op 1 Junie 1990 begin.

    Waar ek gevoel het dat my wêreld as onderwyser so groot was soos die klaskamer en die personeelkamer, het my horisonne as joernalis eindeloos verbreed. Ek het op plekke gekom en mense leer ken van wie Jan en San Alleman net in die koerante lees.

    As verslaggewer kry ’n mens te doen met almal van plakkers tot presidente – en op ’n manier leer jy om almal met dieselfde basiese respek te hanteer.

    ’n Mens leer om te luister, fyn te luister, want jou werk is om die mense met wie jy praat, se perspektiewe met jou lesers te deel, nie om jou eie siening daarvan te verkondig nie.

    Die beste kompliment wat ’n verslaggewer kan kry, is as iemand hom- of haarself herken in ’n stuk wat jy oor daardie persoon geskryf het, en kan sê: Ja, dis ék daardie.

    Op ’n dag vra iemand oor ’n artikel wat ek oor die een of ander kerkmens geskryf het: Word hulle nie kwaad as jy sulke goed oor hulle skryf nie? Dít kort nadat die persoon oor wie die storie gegaan het, gebel en gesê het: Dankie dat jy my korrek gerapporteer het.

    In sý gemoed het hy goed gelyk. Die ander persoon het gedink hy lyk sleg. Die verslaggewer se werk is nie om daardie keuse te maak nie. Hy of sy moet bloot die spieël ophou. Die leser sal self besluit of die prentjie daarin mooi of lelik is.

    My werk het my veral na kerkmense geneem. Daar was ander ook: politici en krieketspelers. Kunstenaars, regslui, natuurbewaarders, misdaadslagoffers, sakelui. Brandarmes en skatrykes. Helde en skurke. ’n Bonte mengelmoes uit ons reënboognasie en verder.

    Hierdie versameling fokus grootliks op die kerke waar my hooftaak as verslaggewer gelê het. Ek het vroeg-vroeg geleer dat elke kerk, elke tradisie, elke stroom binne die groot Christendom sy eie sterk- en swakpunte het. By elke kerk, het ek gevoel, is daar iets wat jy kan leer en by elke kerk is daar dinge wat jy liefs anders kan doen.

    My benadering was om my persoonlik te laat verryk deur ander se sterkpunte, maar om hul swakpunte by my te laat verbygaan.

    Miskien is dít wat daartoe bygedra het dat my joernalistiek nie soveel gekonsentreer het op die ondersoek na wat verkeerd was nie. Dáárvan was daar ook, maar in die kerklike woud het ek veel eerder gesoek na goeie paaie.

    Veral later in my loopbaan, toe ek self ryper was, het dit vir my al meer begin gaan oor stories wat inspireer, stories van hoop, verhale wat koers aandui. In die groot potjiekos wat elke koerant is, was dít die bestanddeel wat ek wou bydra om die geheelresep ’n ryk smaakervaring te maak.

    Die hooftaak van ’n verslaggewer is om nuusberigte te skryf. Dit is die stapelvoedsel van ’n dagblad. Dis egter ook die mees vervlietende deel van die koerant. Vandag se nuus is oor ’n week dikwels vergete. ’n Klein gedeelte van hierdie versameling bestaan daarom uit nuusberigte.

    Die meeste van die stukke wat hier opgeneem is, is wat ons in die joernalistiek artikels noem: langer stukke wat meer diepte het as berigte. Baie daarvan is profiele van mense in die nuus, maar soms gaan dit oor kwessies.

    Dan is daar ook rubrieke waarin ek my eie ervarings of perspektiewe kon deel, soos die een waaraan die titel van dié bundel ontleen is.

    In die volksmond het die woord sensasie ’n soort vloekwoord geword om opspraakwekkende, maar oppervlakkige joernalistiek mee te beskryf. Die waarheid is dat ’n joernalis met elke stukkie skryfwerk sy leser se emosies wil aanraak. Soms wil jy jou lesers ontstel. Soms wil jy hulle amuseer. Soms wil jy hulle skok. Ander kere wil jy hulle bly of opgewonde maak. Partykeer wil jy hulle inspireer. Die een ding wat jy nooit, nooit wil doen nie, is om jou leser te verveel.

    Hierdie bundel bevat ’n spektrum van soorte skryfwerk wat die leser op verskillende maniere wil aanraak. Uit ’n loopbaan van byna ’n kwarteeu, is dit ’n seleksie wat ek hoop ’n langer lewe verdien as die gemiddelde vervlietende nuusberig in ’n dagblad.

    Die meeste van die stories het in Beeld verskyn, enkeles elders. Hier en daar is klein redaksionele veranderings aangebring en enkele opskrifte is verander.

    Vir my was dit ’n avontuur om die stories in hierdie bundel te gaan haal en te skryf. Ek hoop dit bly ’n vreugde om dit te lees.

    Neels Jackson

    Januarie 2014

    GELIEFDE OOM BEN IS NIE BITTER

    (Ben Marais)

    squiggle.jpg

    Toe ons by prof. Ben Marais aankom, het hy pas sy rose versorg.

    Nadat hy sedert die vroeë jare veertig dikwels alleen gestry het teen die Bybelse regverdiging van apartheid in die NG Kerk, maak hy deesdae op die ouderdom van 82 hoofsaaklik tuin.

    Vanoggend het hy sy vyftig tot sestig roosplante kos en water gegee. Hy het ook die beddings met gras en blare bedek om die wortels teen die somerson te beskerm.

    Voorts korrespondeer hy gereeld met sy kleinkinders om maar die bietjie wysheid deur te gee wat jy uit ’n ou mens kan druk, sê hy. As ere-seisoenkaartjiehouer kom hy ook nog gereeld op Loftus.

    Met ’n flinkheid wat niks van sy ouderdom verklap nie, neem hy ons na sy studeerkamer.

    Sy vrou, mev. Sibs Marais, bring tee. Hy stel haar voor as my eerste en beste vrou. Hulle is nou al 52 jaar getroud.

    Uit die foto’s teen die muur word ’n mens iets wys van oom Ben se lang en vol loopbaan. In 1933 was hy voorsitter van Maties se studenteraad. Op ’n foto van Wilgenhof se huiskomitee verskyn hy saam met ’n bloedjong Danie Craven en Beyers Naudé. Later sou hy 40 jaar lank, waarvan 26 as voorsitter, in die raad van Tukkies se manskoshuis, Sonop, dien.

    Baie jare later was hy dekaan van die fakulteit teologie aan die Universiteit van Pretoria. As ’n mens mooi kyk, herken jy ook die jeugdige proff. Johan Heyns en Carel Boshoff op die foto.

    Nadat hy in 1974 weens my hoë ouderdom van 65 gedwing is om uit te tree, het Unisa gelukkig vir hom ’n pos aangebied. Dit was ’n gawe uit die hemel, vertel hy. Tot 1988, toe hy 79 geword het, het hy nog daar gewerk.

    Maar hoewel hy diep spore op dié gebiede getrap het, is dit vir sy stryd teen die Bybelse fundering van apartheid dat mense Ben Marais onthou. Sy vrae oor die kerk se beleid en oor kleurverhoudinge het in 1934 op Stellenbosch begin. Maar dit was op die Transvaalse sinodes van 1940, 1944 en 1948 dat hy sy standpunte sterk in die openbaar gestel het.

    In 1953 het hy met sy boek Kleurkrisis in die Weste ’n polemiek ontketen wat maande in die pers voortgeduur het en so byna sy aanstelling as professor in kerkgeskiedenis by Tukkies in die wiele gery het.

    En in 1957 het hy die sinode in beroering gehad toe hy voorgestel het dat geen ampsdraer van die kerk tot enige geheime organisasie, ook nie die Broederbond, mag behoort nie.

    Dit het daartoe gelei dat hy sewe jaar lank deur geen gemeente, behalwe af en toe deur sy eie gemeente, gevra is om te preek nie.

    Maar dit alles kon hy verwerk omdat hy hom vroeg in sy lewe al voorgeneem het om nooit verbitterd te word nie. Hy sou ook nooit verskillende standpunte tussen hom en iemand anders tot vyandskap verhef nie.

    Voorts het hy nooit probeer om van buite af druk op die kerk uit te oefen nie. ’n Verandering onder druk kan in elk geval nie ’n fundamentele verandering wees nie, sê hy.

    En noudat die heersende gevoel van die gemeenskap in sy guns gedraai het, sal die woorde Ek het mos gesê! nie uit sy mond kom nie.

    Met die vriendelikheid wat hom ná alles ’n geliefde figuur in die kerk maak, kuier ons langer as wat ons wou by oom Ben. En toe ons uiteindelik buite staan, wys hy ons ’n aalwyn met ’n tweekleurblom.

    Van dié saad wil hy binnekort klein aalwyntjies kweek.

    (Uit Beeld, 16 September 1991.)

    DOPPERS, GATJIEPONDERS … STOEPSITTERS, WEDERDOPERS

    squiggle.jpg

    Byname soos hierdie is deel van die geskiedenis van Afrikaanse Kerke. Maar waarvandaan kom hulle? Met hoeveel venyn is dit gebruik? En hoe gebruiklik is dit nog vandag?

    Die oudste van dié kerklike byname is die woord Doppers. Nog voor die Gereformeerde Kerk of Dopperkerk in 1859 afgeskei het, is dié naam al gebruik.

    Daar is verskeie teorieë oor die oorsprong daarvan, maar volgens prof. Flip van der Watt, voormalige hoogleraar in kerkgeskiedenis van die NG Kerk, is die aanneemlikste teorie dat dit kom van die Nederlandse woord dorpers.

    Dit is gebruik vir mense van die platteland; dus nie stedelinge nie. Volgens prof. Van der Watt het dit op eenvoudige mense gedui, maar nie ’n negatiewe betekenis gehad nie.

    Prof. Adriaan Pont, Hervormde hoogleraar in kerkgeskiedenis, sê egter die bedoeling was selfs om agterlikheid aan te dui. Die naam is volgens hom soms ook vir Hervormers gebruik.

    Die naam Gatjieponders vir NG lidmate het sy ontstaan te danke aan die soort manelle wat NG predikante soms gedra het.

    Predikante van ander kerke het die ronde manel of kaggelpyp gedra, wat voor en agter lank was, sê prof. Pont. Dié kan ’n mens nog op Kerkplein in Pretoria in die standbeeld van pres. Paul Kruger sien.

    Van die NG predikante het egter ’n Engelse manel begin dra wat net agter oor die boude lank was. Dit is spottenderwys ’n gatjapon genoem. Só het die naam Gatjaponners of Gatjieponders ontstaan met, volgens prof. Pont, die effense konnotasie dat ware gelowiges die ronde manel gedra het en dié wat ligter was in die geloof, die gatjapon.

    Prof. Van der Watt meen egter dat dit nooit ’n negatiewe naam was nie. Hy gee ook nie om om ’n Gatjieponder genoem te word nie.

    Die benaming Stoepsitters vir die Nederduitsch Hervormde Kerk is volgens prof. Pont ’n Wes-Transvaalse naam. ’n Mens sal vergeefs op ander plekke daarna soek.

    Dit dagteken van die jare twintig toe die Hervormde Kerk nie genoeg predikante gehad het nie en van die Wes-Transvaalse gemeentes daarom nie Sondae eredienste gehou het nie.

    Die lidmate wou egter nie saam met die Doppers of Gatjieponders kerk hou nie en het tuis gebly. Vandaar die naam Stoepsitters.

    Dr. Jan Langerman, hoofsekretaris van die Apostoliese Geloofsending (AGS), sê die naam Wederdopers wat steeds as ’n skeldnaam ervaar word, kom uit ’n tyd toe die AGS die meeste van sy lidmate uit ander kerke getrek en die doop van die gelowiges bedien het aan mense wat ook as suigelinge gedoop is.

    Die meeste mense wat vandag deur die AGS gedoop word, kom egter uit eie geledere. In elk geval erken die AGS slegs die doop van gelowiges wat een keer bedien word. Uit hul oogpunt is daar dus geen kwessie van wederdoping nie.

    Die enigste van die kerklike byname wat wyd in die volksmond inslag gevind het, is Doppers. Die HAT noem dit dan ook ’n volksnaam. Daar is nog mense wat sensitief is daarvoor om Doppers genoem te word, maar oor die algemeen is dit nie die geval nie, sê dr. Callie Coetzee van die Gereformeerde Kerk Potchefstroom. Persoonlik gee hy nie om om só genoem te word nie. Hy gebruik die term immers self.

    (Uit Beeld, 23 Januarie 1992.)

    STERRE KNIP OË OOR ROOMSE DIENS IN NG KERK

    (Bonaventure Hinwood)

    squiggle.jpg

    Die sterre sal hul oë knip by die gedagte aan ’n Rooms-Katolieke priester wat van ’n NG kansel af preek. Só reageer iemand nou die dag teenoor my toe hy hoor dat vader Bonaventure Hinwood, Afrikaanse digter-priester van Pretoria, dié Sondag in ’n NG gemeente in Verwoerdburg sou optree.

    Méér as optree: Hy sou van die kansel af preek, as deel van die erediens.

    Ek kon dit nogal verstaan. In die Sondagskool het ek genoeg gehoor van die Roomse Gevaar. In die geskiedenisklas in st. 6 het ek dit weer geleer toe ons die Hervorming behandel het. Vandag word die Rooms-Katolieke Kerk steeds gereken as een van die Christelike kerke wat ekumenies die verste van die NG Kerk af staan.

    En tog.

    Ek het tevore al met vader Bonaventure te doen gehad. En met die Roomse biskoppe van Suid-Afrika. Ek het al met hulle oor verskeie aspekte van die godsdiens gepraat.

    Hulle pas eenvoudig nie in die prentjie uit my Sondagskooljare nie.

    En toe sit ek die oggend in die kerk en kyk hoe vader Bonaventure die trap van die preekstoel bestyg.

    Ek het gewonder of hy ’n pak klere sou dra. Maar toe die deur van die konsistorie oopgaan, verskyn hy in sy lang bruin priestergewaad, soos die priester in die advertensie wat hoe lank uitgehou het, maar eindelik tog moes swig voor die versoeking van ’n heerlike tros druiwe.

    Aan sy voete het vader Bonaventure ’n paar bruin sandale gedra, sonder sokkies.

    Toe ons deur die geloofsbelydenis is, kom hy aan die woord. En ek luister met gespitste ore na sy gebed.

    God, ons Vader, begin hy en hy sê dankie dat God ons bymekaargebring het om saam sy Naam te prys. Lei diegene wat U na u Koninkryk roep, tot eenheid in geloof en liefde dat hulle saam U en U alleen mag dien, vra hy twee sinne later. Hy bid vir berou oor sonde en vir eenheid van God se gemeente. En hy vra dit deur ons Here Jesus Christus, u Seun, wat met U en die Heilige Gees leef en regeer: een God tot in ewigheid.

    Hy lees sy eie vertaling van een van die Psalms voor en daarná Paulus se lofsang uit Romeine 11. Toe hy daarmee klaar is, kom die enigste duidelik Rooms-Katolieke kenmerk van die diens na vore. Sy een hand beweeg na sy voorkop en sak af tot voor sy maag. Met die vingerpunte bymekaar, trek dit die horisontale lyn van skouerknop tot skouerknop om die kruis te voltooi. En sy mond sê die woorde wat so bekend is in die gereformeerde tradisie: In die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees.

    Sy preek is eenvoudig. Dit gaan oor die vraag: Wat is godsdiens? Beteken dit, vra hy die gemeente, dat ons in diens van God staan? Of dat God in ons diens staan? Hy vra die vraag oor die samelewing. Oor die politiek. Oor die ekonomie. Dieselfde vraag word gevra oor mense se persoonlike lewe.

    Baie mense bly taamlik ver van die gebed af totdat hulle siek word of ’n ander ramp hulle oorval. En dan word God skielik oorval met gebede en vrome praktyke, sê hy. Sy woorde sny deur ’n klomp opvattings oor kultuur. En ek dink daaraan dat ’n dansonderwyser eens vir my gesê het party mense loop net, selfs al dans hulle. Ander dans, selfs al stap hulle net.

    En met sy woorde dans die digter deur konsepte waaroor my gedagtes al hoeveel keer gestrompel het. Tot by sy teks: Paulus se lofsang aan God. Dit is ’n belangrike deel van egte godsdiens, leer hy, dat ons tyd bestee om ons te verwonder aan God se grootheid, sy wysheid, sy kennis. En die teks word oopgebreek sodat ons iets van Paulus se verwondering oor God kan

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1