Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Wreed en mooi is die dood: Verhale oor verlies, hunkering en heling
Wreed en mooi is die dood: Verhale oor verlies, hunkering en heling
Wreed en mooi is die dood: Verhale oor verlies, hunkering en heling
Ebook298 pages4 hours

Wreed en mooi is die dood: Verhale oor verlies, hunkering en heling

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Al is die dood 'n feit soos 'n koei, vermy die meeste van ons dit om daaroor te dink of te praat. Hierdie boek probeer om dié stilte te verbreek.
In Wreed én mooi is die dood deel bekende Afrikaanse skrywers hulle verhale oor verlies en heling. Dit bied insig in hoe om die trauma van 'n geliefde se dood te hanteer en jou eie sterflikheid te konfronteer.
Só skryf Marita van der Vyver roerend oor haar babaseun se dood, terwyl Valda Jansen beskryf hoe sy aanvanklik lamgelê is deur die nuus dat sy kanker het en Kerneels Breytenbach vertel hoe sy vrou se sterwe hom tot selfkennis gelei het.
'n Jong paramedikus berig oor sy gereelde ontmoetings met die dood en 'n sterwensbegeleier vertel hoe dit moontlik is om hierdie wêreld blymoedig te verlaat. Daar is selfs 'n bietjie humor... soos die storie oor die jong dominee wat in 'n leë graf beland het en Annelie Botes se lang lys voorskrifte vir haar begrafnis.
Die dood is wreed ja, maar dit kan – verrassend genoeg ̶ ook mooi wees.
LanguageAfrikaans
PublisherJonathan Ball
Release dateMay 8, 2019
ISBN9781868429448
Wreed en mooi is die dood: Verhale oor verlies, hunkering en heling
Author

Tobie Wiese

Tobie Wiese is skrywer, medeskrywer en samesteller van etlike boeke oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe van geskiedenis en motorfietsry tot spioenasie. Dit sluit in die topverkoper Geheime Revolusie, asook Vreedsame Revolusie (geskryf namens Niël Barnard), Die Bike-boek (samesteller) en Die verhaal van Elandskloof. In sy lang loopbaan as joernalis het Tobie in verskillende hoedanig-hede by Volksblad, Die Burger, Huisgenoot (nuusredakteur) en Insig (adjunkredakteur) gewerk. Hy is al met Pica - en Mondi-toekennings bekroon vir sy skryfwerk. Tobie het ook by die Departement Joernalistiek aan die Universiteit van Stellenbosch klasgegee.

Related to Wreed en mooi is die dood

Related ebooks

Related articles

Reviews for Wreed en mooi is die dood

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Wreed en mooi is die dood - Tobie Wiese

    It is a tragedy that most of us die before we have begun to live.Erich Fromm

    The character of our life is the character of our dying; both are part of one process.Stanley Keleman

    If I had my life to live over again, I would form the habit of nightly composing myself to thoughts of death. I would practise, as it were, the remembrance of death. There is not another practice which so intensifies life. Death, when it approaches, ought not to take one by surprise. It should be part of the full expectancy of life.Muriel Spark

    Inleiding

    ’N TYD GELEDE woon ek die gedenkdiens by vir ’n oudkollega in die aftreeoord waar hy voor sy dood gewoon het. Hoewel hy in talle opsigte onkonvensioneel was en nie ’n gereelde kerkganger nie, verloop die verrigtinge voorspelbaar en kerklik: ’n boodskap uit die Skrif, gebed, sang, huldeblyke …

    Die amptelike verrigtinge was feitlik afgehandel toe ’n vrou na vore stap en geleentheid vra om iets te sê. Ná al die mooi dinge wat ons vandag hier oor Cas gehoor het, is daar iets wat ek mis. Waaroor niemand gepraat het nie, is dat hy ook ’n duiwel was … Talle snakke na asem kon gehoor word.

    Die vrou het voortgegaan en voorbeelde gegee om haar uitspraak te staaf. Daaruit was dit duidelik dat sy en Cas jare lank goeie vriende was. Ja, hy het al daardie mooi eienskappe gehad wat julle genoem het, het sy gesê, "maar daar was ook ’n ander kant aan Cas: Hy kon baie selfsugtig wees, opvlieënd, onvoorspelbaar, nukkerig … Ons moenie van hom iets maak wat hy nie was nie. Hy was ’n volledige mensch, nie ’n engel nie."

    Die stilte van instemming en herkenning het oor die skaretjie neergedaal.

    In ’n sekere sin is dit ook die oogmerk met hierdie boek: om die groot stilte oor die dood – die ontkenning daarvan deur swye – te help verbreek. ’n Mens kan dié ingesteldheid selfs die mees algemeen aanvaarde leuen noem. Dit is nie die eerste Afrikaanse boek oor die dood nie, maar vergeleke met wat reeds elders in die wêreld – van die verre Ooste tot die nabye Weste – daaroor verskyn het, is die oes maar skraal.

    Tydens die werk aan dié boek het vriende meermale gevra: Nou wat kan jy ons van die dood vertel? Wat het jy wys geword? Dan het ek soms toegegee aan die versoeking – wie wil nou ’n lekker kuier met praatjies oor die dood bederf? – en die vraag lighartig van die tafel gevee: Ek weet ook maar net wat julle reeds weet: dat nie een van ons lewend hiervandaan vertrek nie.

    Dit was gewoonlik nie goed genoeg nie. Daar moet tog veel meer te sê wees as jy ’n hele boek oor die onderwerp saamstel! Ek probeer dus, ondanks my beperkte ervaring van die dood, om iets meer te sê:

    •Dis feitlik in ons DNS vasgelê dat ons altyd méér wil hê: meer geld, meer besittings, meer plesier, meer aansien, meer opsies wat alles betref, meer tyd. Uiteraard word die Groot Kortknipper van ons tyd – en die meeste ander bates – ’n natuurlike vyand. Maar terwyl dit moontlik is om ryker en slimmer en selfs gesonder as die bure te wees, kom ons op die ou end altyd tweede in ’n geveg met die dood.

    •Om hierdie tweede prys verslae of woedend van die hand te wys, is vrugteloos en verydel lewensgeluk. Om dié prys dankbaar te aanvaar en daarvolgens te leef, is die belangrikste kopskuif wat ons oor die dood kan maak. Ons het immers, benewens miskien ’n vroeë skop en ’n skreeu, niks gedoen om in die wêreld te kom nie.

    •Die vraag oor die sin of betekenis van die dood is eintlik ’n vraag oor die sin van die lewe. Daarom kan ons van die sterwendes so baie oor die lewe leer. En vandaar die waarneming van die versorgers van sterwendes: Soos jy gelewe het (met ander woorde jou lewenshouding en optrede), so sterf jy.

    •’n Groot maar geldige veralgemening: Oosterlinge het meestal ’n gemakliker en natuurliker verhouding met die dood as Westerlinge.

    •Die meeste van ons vrees eintlik nie die feit van die dood nie maar die hoe daarvan. Gaan dit uitgerek en pynlik wees? Sal ek op die ou end net ’n las, finansieel en andersins, vir my naastes wees?

    •Wanneer ons oor die dood dink, ook die eie dood, behoort ons dit nie te vermy om ook oor die voorsienbare omstandighede te dink en te praat nie. (Tensy die dood natuurlik onverwags en skielik kom.) Dis belangrik om onsself in daardie prentjie te sien: in die siekeboeg van ’n ouetehuis; in ’n hospies met palliatiewe sorg; in my eie huis met geliefdes of bekendes in die omtrek; in die algemene saal van ’n hospitaal, gekoppel aan masjiene en buise, omring deur vreemdes …?

    •Die fenomenale prestasies van die mediese wetenskap – en in baie gevalle ook die optrede van medici – het ons bewuswees van ons sterflikheid afgestomp.

    •Indien ons op ’n gesonde manier bewus bly van die dood, verskerp dit ons ervaring van die lewe as kosbaar en kortstondig. Die skrywer Saul Bellow het dit treffend gestel: Death is the dark backing that a mirror needs if we are to see anything.

    •Wanneer iemand skielik en veral onnatuurlik sterf, sien ons dikwels ’n bykomende tragedie daarin dat hulle nie tyd gehad het om hulle daarop voor te berei nie. Inderwaarheid het ons almal tyd daarvoor gekry. Ons weet immers, al vergeet ons dit graag, dat ons sterfte reeds van ons geboorte af elke dag en elke oomblik naderskuif.

    Die sterwensberader Ganga Stone vertel in haar boek Start the Conversation (New York, Warner Books: 1996) hoe ene Heidi tydens ’n werkswinkel haar hand opgesteek het: Ek is pas met vigs gediagnoseer. Al waaraan ek nou kan dink, is dat my horlosie soveel vinniger as almal s’n tik. Dis nie regverdig nie!

    Waarop Stone gesê het: Jou horlosie tik nie vinniger nie, Heidi. Hy tik net baie harder, dis al.

    Met hierdie boek hoop ek en die uitgewer om ’n gesprek oor die dood aan te wakker en om deur die vertellings van uitmuntende skrywers en die insigte van wyses dit vir lesers moontlik te maak om gemakliker en meer sinvol met die dood saam te leef. Dit is ook wat die werk hieraan vir my persoonlik beteken het – en dis nie ’n kleinigheid nie.

    TOBIE WIESE

    1

    Wreed én mooi is die dood

    Don’t go just yet, said the one ant to the other.

    But why not?

    Because the anthill won’t be the same without you.

    – Confucius (uit The Analects)

    My lief

    KARIN BRYNARD

    SAANS, WANNEER ek by my ma langs gaan daar in die ouetehuis, sit sy dikwels na jou begrafnisbrief en kyk.

    Dis skemer in haar vertrekkie. Sy sit mos nie ’n lig aan nie. Wag vir die aandster om uit te kom voordat sy bed toe gaan. Ek durf nooit sê die aandster is gewoon ’n straatlig nie. Dit sou gemeen wees, het jy altyd gemaan.

    Maar daar sit sy, so in die donkerskemer, met die brief.

    Soos altyd is sy bly om my te sien. Soos altyd blom sy, gaan dit goed-goed-baie-goed met haar. Sy wys my jou foto op die voorblad van die blaadjie. Jy staan onder ’n boog van pruimbloeisels in ons agtertuin. Dis laatmiddag, die nagloed van sononder op jou gesig, jou oë vol heimwee.

    Ek praat elke dag met hom, verklaar die moeder ingenome.

    O? En wat vertel jy alles?

    Sy glimlag skelm. Ag, sommer ou dingetjies.

    En hy?

    Hy sê hy verlang na ons, maar hy’s gelukkig waar hy is. Hy praat net ’n bietjie sag, ek hoor nie mooi nie.

    Ek moet sluk, soos altyd.

    Is jy nou alleen?

    Ja, Mamma.

    Waar woon jy?

    Ek verduidelik, die duisendste keer: net hier af in die straat en dan links af tot by die rivier.

    Woon jy dan in die rivier? Sy lag uitgelate vir haar grappie.

    Langs hom, skapie.

    Hoekom kry jy nie iemand om by jou te slaap nie?

    Ek wil nie ’n vreemde daar hê nie.

    Woon tannie Mart dan nie by jou nie? Sy verwys na haar ouer suster, wat nou 96 sou gewees het.

    Sy’s mos lankal oorlede, Mamma.

    Ag. Sy raak effe bewoë, maar bolangs, soos al haar emosies deesdae maar blyk te wees – vinnige veegsels oor haar gelaat. Dan sê sy:

    Langsaam word die stoele ledig

    Een vir een het weggegaan

    Sal die huiskring eens volmaak wees,

    Een maal weer, een maal weer.

    In ’n beter hemelwoning

    By die Heer, by die Heer.

    Ek is elke keer verbaas as sy dit opsê – die ou half-Hollandse gesang uit haar kinderjare. Sy’s 93 en kan skaars al haar kinders se name onthou, maar hierdie ou rympie hoor ek minstens twee keer tydens my daaglikse besoek.

    Ja, my ou kind, ons moet maar almal gaan, eindig sy gewoonlik. En ek is reg.

    Dan blink die glimlag weer: Ek woon baie lekker hier, hoor. Ek is dankbaar. En tevrede. Maar ek is ook reg om huis toe te gaan.

    Oukei, sê ek.

    Bly jy nou alleen?

    Ja, Mamma.

    In daardie grote huis? Waar’s jou man dan?

    Hy’s dood, Mamma.

    Sy tel jou begrafnisbrief weer op, lees die gedig agterop. Dit was een van jou lieflinggedigte, van Breyten:

    Ek sal sterf en na my vader gaan

    Wellington toe met lang bene

    blink in die lig

    waar die kamers swaar en donker is

    waar sterre soos seemeeue sit op die nok

    en engele vir wurms spit in die tuin …

    My ma lag vir die wurms, draai weer die brief om en kyk na jou foto voorop.

    Wie’s hy nou weer? vra sy.

    Dis my man, Mamma. Kyk, sy naam staan daar.

    Sy lyk ’n bietjie verward. Haar spierwit hare spokerig in die skemerte. Snaaks hoe sy deurskynend word, dink ek. Wasig, byna, asof sy fisiek verdof. Uitdoof. En hoe sy onder my uitglip, sagkens onder my vingers uit. Hoe sy die ankers een-een lig. Kindse onskuld oor haar gelaat. Gewillig. Sy dryf weg in ’n groot rivier, gee haarself inskiklik oor.

    En ek bly op die oewer staan, hulpeloos, kyk hoe sy glimlaggend al hoe verder van my wegvloei.

    Ek gaan weer huis toe. Die huis by die rivier. Waar ek alleen bly. Godsydank alleen, besef ek ineens. Waar ek soos ’n wolf kan huil saans sonder om ’n ander te ontstel.

    Ek dink aan die kontras tussen julle twee. Julle, wat my lewenshegting was, my tribe. Sy, wat talmend, gelate, vervaag en jy wat uit my arms weggeworstel is.

    Here, hoe het jy nie baklei nie. Soos ’n dier. Rage, rage against the dying of the light … En ek het saam baklei. Tot aan die einde toe: vyf dae en nagte lank in daardie verdomde ICU. Jy, só vol buise en plakkers en maskers, dit was moeilik om aan jou vas te hou. Maar ons het geklou. Verbete.

    En desperaat bly glo ons sal dit weer maak, nog één keer weer, een keer om die hoekie skuur, betyds. En jy bons weer diékant toe, lewe toe. En ons gaan weer terug huis toe, met jou ’n bietjie broser, meer weerloos, jou skulp ’n bietjie dunner. En ek, die moederhen, meer kloekend en beskermend.

    Maar ons het verloor.

    Hoe stylloos is die dood. Hy pik. Fataal. En seil geruisloos weg na godweetwievolgende.

    En in sy sleepsel lê daar chaos.

    ’n Spesialis gee jou ’n pynmiddel. Dit blyk ’n oordosis te wees. Jou organe gee in, jy glip in en uit bewusteloosheid. As jy by is, baklei jy: jy wil op en uit. Uit die bed uit, by die venster uit. Weg hier uit die doodsbed uit. Jy trek my nader, stoot my weg, klem my vas, roep uit dat ek jou moet help. Jy moet uit, jy moet hier uit.

    Help my, roep jy oor en oor, help my! Jou kinders bel uit die buiteland, sukkel met visums om nog betyds te wees. Welmenendes kom langs, stry vir toegang tot die ICU. Die gelowiges roep gebede oor jou af, beveel God en die Heilige Gees om in te gryp. Huil. Ander kom om my te ondersteun, dra vir my tee aan by jou bed, los my af om badkamer toe te gaan, sit deur die nag en wag. En wag.

    Soms slaap jy, skrik dan rukkend wakker met jou arms wat uitskiet, soos een wat agteroor tuimel. Ek val, roep jy. Help my, ek val! En dan begin dit weer: Ek moet uit, ek moet hier uit, help my! Dis hier dat die koue wete my tref. Dit sny soos lemme deur my buik: Ons red dit nie.

    Jy weet dit ook, my lief. Stoei en woel en roep en baklei al hoe feller. Ek smeek die dokters om jou meer morfien te gee om jou trauma te verminder. Ons speel nie God nie, sê jou spesialis saaklik en groet. Dis sy af naweek. ’n Nuwe kom in sy plek. Hy’t sy tekkies aan, is laat vir tennis.

    Jy baklei tot jy jou arms nie meer kan lig nie. Nog net jou hand gryp. Gryp na my. En los. Gryp en los. En roep. Uiteindelik kan jy nie meer beweeg nie, nie meer woorde vorm nie. Maar die roep bly in jou oë. Ek vang dit dapper op, keer my geen moment weg nie. Dis die laaste wat ek nog vir jou kan doen. Ek sit by jou, kyk terug met soveel oopheid, soveel liefde as ek kan. Deurentyd probeer ek paai en troos, die vrees en wanhoop uit jou blik verjaag.

    Ek durf nie meer aan jou raak nie. Jou hele lyf het seer geword. Ek kan nog net oor jou hare vryf.

    En dan, ten laaste, is die geveg verby. Jy’s in jou laaste slaap. Jy haal nog asem, maar jou suurstofvlakke is minimaal.

    Jou liewe huisdokter kom langs. Sy bring ’n fles vars koffie. En troos. Lê vir my die monitors en masjiene se duistere tydings uit. Hy is nou breindood, sê sy en hou my hande vas, sy lyding is verby.

    Maar jou hart bly klop, meedoënloos. Dis die pasaangeëer, sê sy, ons mag dit nie afskakel nie. Dit stop eers wanneer die hartspier ingee vanweë gebrek aan suurstof.

    Godverdomme, sou jy sê.

    Hoe lank hang die skaduwee van dié dag nie al oor ons twee nie. Reg van die begin af, eintlik, oor jy soveel ouer was as ek. En oor ons gelukkig was, die 26 jaar verskil ten spyt.

    Van meet af aan was dit deel van ons gesprek. Moenie, het jy vir my gesê toe ek jou kies, jy word ’n jong weduwee. Maar ek was verlief. En vir albei van ons was dit ’n tweede kans op geluk. Ons het dit gulsig aangegryp.

    Maar altyd was daar die wete dat ons horison ’n bietjie anders was as dié van leeftydsporture. Altyd het jy gesê: As alles reg loop, dan gaan ek eerste. Wie weet, dalk is dit binnekort.

    Kort ná jou sewentigste het dit jou hard begin tref. Vir die eerste keer in jou lewe is jy na ’n sielkundige, wat jou huis toe gestuur het met ’n boek: The Tibetan Book of Living and Dying.

    Jy’t nie weer teruggegaan nie.

    En ook nie die boek gelees nie. Maar ons het gepraat. Baie gepraat. Oor dood en doodgaan. En agterbly. Jy sou vir my artikels uit The Economist of die Financial Times aanstuur: medisinale deurbrake, nuwe teorieë oor kriogenetika, doodservarings, doodsbegeleiding. En genadedood. Jy’t alles gelees oor genadedood.

    Ek het ineens besef hoe lank ek al met die dood besig was. Op universiteit al my eerste boek gelees oor die skyndood – On the Edge of the Etheric, onthou ek vaagweg, was die titel. Wat ek wél helder onthou, is dat my ma die boek verbrand het. Dit was in die eerste jare ná my pa se dood, ’n wond waarvan sy nooit herstel het nie. Sy het in ’n stadium in ’n charismatiese soort waankerk beland, waar alles wat vreemd was, vernietig moes word. Saam met ’n ander lidmaat het sy byna die helfte van my boekrak in ’n reusevuur verbrand. Dít, het ek destyds besluit, is die raserny wat ontstaan wanneer ekstreme verdriet en ekstreme godsdiens mekaar ontmoet.

    Die snaakse van dié verhaal is dat my ma sélf so ’n skyndood gehad het, nagenoeg ag jaar eerder. Pappa het nog geleef en sy was in haar vroeg veertigs en het aan’t bloei gegaan ná ’n histerektomie. Sy was lank in die hospitaal en het my daarvan vertel toe sy uiteindelik tuis was – die gevoel dat sy haar liggaam verlaat, die tonnel van lig wat haar intrek, die gevoel van salige vredigheid, alles. Toe ek haar later weer uitvra, het sy dit ontken. En nou, ag, nou onthou sy skaars haar naam.

    Ek en jy het gewonder of die skyndoodfenomeen eg was. Is dit waarlik wat gebeur wanneer jy doodgaan?

    Ons kom af op ’n dokumentêre program oor vegvlieëniers wat glo reëlmatig skyndoodervarings het. Dis klaarblyklik in toestande van ekstreme swaartekrag, soos wanneer hulle deur die klankgrens breek. Die bloed na die brein word letterlik in die liggaam teruggedruk en die vlieënier raak bewusteloos. Dié toestand word beskryf as G-LOC. Dan die klassieke doodservaring.

    Die tonnel met die wit lig is volgens die program heel eenvoudig verklaarbaar: namate die brein minder suurstof kry, is daar paniekreaksies by neurone wat met jou sig te doen het. Hulle begin onwillekeurig vuur, wat die effek van lig veroorsaak. En omdat daar meer neurone in die middel van ons sigveld is, lyk dit of die lig in die middel helderder is – vandaar die tonnelvisioen. Ook stel die brein groot hoeveelhede hormone vry, soortgelyk aan opiate, wat die euforie en hallusinasies veroorsaak, die gevoel van volkome vrede en liefde.

    Dít, sê ons afgehaal vir mekaar, help fokkol om te weet. Al hierdie helder, harde feite.

    Ons lees ’n boek oor die geskiedenis van die heelal, trap oor ’n ander werklikheid: die dood as essensiële onderdeel van lewe. Om te lewe, moet daar dood wees. Reeds in die baarmoeder, waar miljoene selle in die fetusvuis moet sterf om vingertjies te vorm. Die uiteindelike waarheid is nog meer banaal: dit gaan glad nie oor jóú nie, maar oor jou DNS. Dis al onsterflikheid aan jou. Sodra jy jou DNS oorgedra het, is jou taak voltooi, word jy weer misbaar. Nutteloos.

    Was ons bly oor hierdie nuwe insigte oor die dood? Het dit jou verlammende vrees laat bedaar?

    Natuurlik nie. Dit haal net God uit die verhaal, slag die mistieke uit die draak. Maar die draak bly steeds die draak. Hy word selfs heftiger.

    Ter troos begin jy Paulo Coelho lees. En André P Brink, wat beskouend oor sy lewe en oudword skryf. Coelho bied vir jou te min. En Brink vuur jou vrees aan. Julle was portuurs. Ewe oud, albei met jonger vroue. Sy dood het jou geskok, ’n nuwe depressie ingelui. Die dokter stuur jou na ’n nuwe shrink. Maar teen die tweede sessie dank jy hom af: Ik weet wat me schelen, man. Ik ga dood. Je kan daar niets aan doen.

    Ek lees ander boeke. Staring at the Sun – Overcoming the Terror of Death van Irvin D Yalom. Die dood, sê hy, krap gedurig aan ’n deur hier in ons binnekamers. Saggies, skaars hoorbaar, net onder die membraan van die bewussyn. Maar hy lek uit in ons simptome en is die bron van vele van ons handelinge, ons sorge, neuroses, konflikte en keuses. Dis die wurm in die kern van ons bestaan.

    Ek koop vir jou Nothing to Be Frightened Of van Julian Barnes. Maar jy skuif dit weg. Ek lees dit. Dis ’n mooi boek oor Barnes se eie vrees vir doodgaan, geskryf in sy kenmerkend elegante, intellektueel verfynde styl. Maar die onderstroom is banaal en bar: We live, we die, we are remembered, we are forgotten.

    Die boek het ’n onvergeetlike openingsin: I don’t believe in God, but I miss him.

    Ons trap dit deur in ons gesprekke. Jy het grootgeword in die Rooms-Katolieke Kerk. Was ’n koorknaap as seun in jou gemeente in Amsterdam, ken steeds die ou Latynse liturgieë, luister eindelose Gregoriaanse korale, Fauré se Requiem, die Stabat Mater van Pergolesi. Ons praat oor die koestering van die bekende, die kalmte wat ritueel bring.

    Daar’s soveel troos in geloof. Daar’s die belofte van ’n kontinuum, van wedersiens in my moeder se beter hemelwoning, by die Heer, by die Heer.

    Maar ons twee is te sinies. Die lewendes kan hoogstens spekuleer. En die dooies praat nie (of hulle praat ’n bietjie sag, aldus my moeder).

    Want, moet jy jou kinderlik afvra, ’n siel kan tog nie praat nie. Dit benodig lug. En longe. En ’n longpyp en ’n strot en tong en tande. En blykbaar weeg die siel maar 27 gram – die gewigsverskil van jou liggaam kort voor en ná die dood. Maar dis ’n bogteorie, vertel jy my, die 27 gram is gewoon die gewig van die lug in jou longe en buik. Praat bly buite die kwessie.

    Mens gaan dus nêrens nie, besluit ons. Jy gaan die grond in. Waar jy dalk weer bruikbaar word vir die aarde. So by so is ons opgemaak uit atome wat biljoene jare al bestaan, en wat voortdurend uitgeruil en herwin word, gehersirkuleer. Ons was eens deel van plante, visse, water, klip. Ook ander mense voor ons. Nou, vir ’n kort rukkie, is ons óns, ’n kort verposing in die nimmereindigende siklus.

    En die hemel dan? Mijn hemel ist hier, nu, sê jy. Daarvoor hoef jy nie dood te gaan nie. Dit is hier by my, by ons huis, in ons welige tuin met sy waters en sy voëls en die miere wat onder die huis deur tonnel en winters hulle eiers agter die yskas indra vir die hitte.

    As jy ’n siel het, is dit hiér.

    Maar wáár, hier? Hoekom kon ek dit nog nooit gewaar nie?

    Ek dink aan daardie allerlaaste oomblikke in die ICU, hoe ek na jou kyk. Hoe verskriklik kyk ek nie, asof my oë alleen jou vlees kan lewend hou. Maar ek sien hoe dit jou lyf verlaat. Weg-eb. En dan, skielik, is alles anders. Jy word vreemd, hoekiger, skerper afgeëts. Bleek. Jou neus, sag gefrommel deur die ouderdom, word weer die sterk haak van jou warse aard. Maar wit. Beenwit.

    Ek vat aan jou, voel die hitte onder my hande taan. Binne minute begin die bloed op plekke poel, jou skouerblaaie,

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1