Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Drie dekades van verandering: Die NG Kerk se pad na verruiming
Drie dekades van verandering: Die NG Kerk se pad na verruiming
Drie dekades van verandering: Die NG Kerk se pad na verruiming
Ebook304 pages4 hours

Drie dekades van verandering: Die NG Kerk se pad na verruiming

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

1990 was ’n waterskeidingsjaar in Suid-Afrika se geskiedenis. Sedertdien het die Suid-Afrikaanse samelewing (en ook die NG Kerk) baie verander. Neels Jackson bied sy indrukke van die belangrikste tendense wat van 1990 tot 2020 in die NG Kerk plaasgevind het. Die wortel van die kerk word teruggevoer na Jesus toe, en die NG Kerk vandag kan ’n uitdagende toekoms op die spoor van Jesus Christus met vertroue tegemoet gaan.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateApr 9, 2021
ISBN9780796322661
Drie dekades van verandering: Die NG Kerk se pad na verruiming
Author

Neels Jackson

Neels Jackson het naam gemaak as ’n ingeligte, verantwoordelike en kundige verslaggewer oor godsdienssake. Hy het goeie betrekkinge met ’n groot aantal teoloë en met kerkleiers uit verskillende denominasies. Hy was sedert 1990 die kerkverslaggewer vir die Beeld, die Pretorianer en ander Media24 blaaie. Neels is o.m. uitgenooi na sinodesittings van die NG Kerk, die NG Kerk in Afrika, die destydse NG Sendingkerk, die Verenigende Gereformeerde Kerk, die Metodiste Kerk en die Anglikaanse Kerk. Hy is pas aangestel as redakteur van die Kerkbode. Hy woon saam my sy vrou en twee dogters in Pretoria.

Read more from Neels Jackson

Related to Drie dekades van verandering

Related ebooks

Related articles

Reviews for Drie dekades van verandering

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Drie dekades van verandering - Neels Jackson

    9780624089810_FC

    Die NG Kerk se pad van verruiming

    Neels Jackson

    Lux Verbi

    Vir Louise

    wat hierdie 30 jaar

    saam met my was

    en saam met wie ek steeds

    gereeld op Sondae

    kerk toe gaan.

    Met liefde.

    Voorwoord

    1990 was ’n waterskeidingsjaar in Suid-Afrika se geskiedenis. Op 2 Februarie het pres FW de Klerk ’n historiese toespraak in die parlement gehou waarin hy in wese die beëindiging van apartheid aangekondig het. Die verbod op bevrydingsbewegings soos die ANC, PAC en die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty is opgehef en nege dae later is Nelson Mandela uit die tronk vrygelaat. Die land se politiek, ook die hele samelewing, sou nooit weer dieselfde wees nie.

    In die dertig jaar wat sedertdien verloop het, het Suid-Afrika en talle aspekte van die Suid-Afrikaanse samelewing baie verander. Een van die instellings wat ingrypend verander het, is die NG Kerk.

    Op 1 Junie 1990 het ek Beeld se kerksakeverslaggewer geword. Ek het dié pos die grootste deel van die volgende 23 jaar en ses maande beklee. Omdat die NG Kerk die grootste Afrikaanse kerk is en die een waaraan baie van ons lesers behoort het, was my fokus as verslaggewer in ’n groot mate op die NG Kerk.

    Nadat ek by Beeld weg is, was ek vyf jaar lank redakteur van Kerkbode, die NG Kerk se koerant. My kantoor was by die Algemene Sinode se kantoor. Ek het ontwikkelings in die NG Kerk van naby gevolg.

    Van 1990 tot 2020 het ek al elf sittings van die algemene sinode bygewoon. Ek was by talle streeksinodesittings; ek het minstens een sitting van elke Suid-Afrikaanse streeksinode bygewoon. Ek het by talle gemeentes besoek afgelê om berigte en artikels te skryf. Dit sluit gemeentes in van elke streeksinode binne Suid-Afrika se grense. Daarby het ek berigte en artikels van verskeie van Kerkbode se medewerkers ontvang, dit redaksioneel versorg en gepubliseer.

    Dit alles het nie gebeur met die koue en kliniese objektiwiteit wat soms van joernaliste verwag word nie. Daardie soort objektiwiteit is ’n mite. Geen goeie joernalis kan hom of haar op enige gebied ingrawe en oor ’n lang tyd daaroor verslag doen as hy of sy nie ’n passie het vir die saak waaroor daar geskryf word nie. Verbeel jou ’n rugbyskrywer wat afsydig staan teenoor rugby! Maar die passie vir ’n saak hoef nie ’n hindernis vir ’n joernalis te wees ten einde billik en gebalanseerd verslag te doen nie.

    Kerksake was en is vir my ’n passie. En dit geld veral die NG Kerk. Ek is ’n lidmaat van die NG Kerk. Ek is as babatjie van omtrent twee maande oud in die NG gemeente Villieria in Pretoria gedoop. Ek het my geloof geleer in die gemeente Villieria-Oos waar ek kategese deurloop het en aan die Senior Kerkjeugaksie behoort het. Ek het daar belydenis van geloof afgelê, deelgeneem aan die bedrywighede van die Belydende Kerkjeugaksie en ek het as diaken op die kerkraad gedien. Ek het my vrou Louise by ’n skoolverlaterskamp van die NG Kerk ontmoet toe ons albei daar personeellede was.

    Ek het saam met Louise in die jaar en ’n half voor ons troue eredienste in die gemeente Groenkloof in Pretoria bygewoon, waar sy grootgeword het en waar ons getroud is. Ná ons troue het ons in ’n woonstel in die gemeente Jakaranda ingetrek en daar ingeskakel. Nadat ons huis gekoop het, het ons lidmate van die gemeente Pierre van Ryneveld geword. En die laaste paar jaar skakel ons in by die gemeente Stellastraat in Pretoria.

    Die NG Kerk is ’n belangrike deel van my lewe. Ek is lief vir haar, maar ek is nie blind vir haar foute nie. My werk as kerksakeverslaggewer het my geleer om fyn te kyk en die mooi én die lelik raak te sien. Daarby het my werk my ook met baie ander kerke in aanraking gebring, en dit het my ’n baie goeie vergelykingsbasis gebied. Ek het geleer dat elke kerk eie sterk- en swakpunte het. Dit geld ook die NG Kerk.

    Wat ek hier aanbied, is my indrukke van die belangrikste tendense en ontwikkelings wat van 1990 tot 2020 in die NG Kerk plaasgevind het, en hoe die NG Kerk self by haar omstandighede aangepas het of daardeur verander is. Ek bied dit nie as akademiese geskiedskrywing aan nie. Ek probeer billik en gebalanseerd bly. Dit is uiteindelik my persoonlike indrukke, en interpretasies van wat ek gesien en beleef het.

    Uit die aard van die saak is dit ook nie volledig nie. Ek het dalk belangrike dinge uitgelaat wat ander mense in so ’n boek sou wou sien. Dit is seker deel van ’n persoonlike perspektief.

    Tussen die groter hoofstukke skryf ek kort stukkies oor sleutelfigure wat in hierdie afgelope dertig jaar ’n rol in die NG Kerk gespeel het en met wie ek te doen gehad het. Daar is soveel interessante en merkwaardige persone wat betekenisvolle bydraes gelewer het oor wie ek nie so skryf nie. Ek is jammer daaroor. Ek sou oor baie meer mense wou skryf, maar daar is ook net sóveel plek in een boek.

    Hoofstuk 1

    Die NG Kerk voor 1990

    Die Nasionale Party-in-gebed.

    Dié bynaam is in die loop van die twintigste eeu aan die NG Kerk gegee. Dit was ’n karikatuur van die NG Kerk, en soos by enige karikatuur of spotprent is daar twee kante van die saak. Aan die een kant is daar ’n duidelike waarheid wat oorgedra en beklemtoon word. Aan die ander kant is dit ’n oorvereenvoudiging, ’n veralgemening. Dit is nie die volle waarheid nie.

    Die NG Kerk wás in ’n belangrike sin die Nasionale Party-in-gebed. Sy het die godsdienstige en morele regverdiging vir die Nasionale Party se apartheidsbeleid verskaf. Sy was (saam met die twee ander en baie kleiner susterskerke, die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika) die godsdienstige been van die drie-eenheid party, volk en kerk.

    Maar die NG Kerk was ook baie meer as dit. Die NG Kerk was (en is steeds) ’n veelkantige organisme. Dit is ’n groot en komplekse organisasie met baie kante.

    In die loop van die drie dekades 1990 tot 2020 het die NG Kerk in baie opsigte verander. Daar het in soveel verskillende fasette van die kerk se bestaan en funksionering groot verskuiwings gekom. Om dié skuiwe goed te verstaan, is dit belangrik om te weet waar die NG Kerk voor 1990 was. Waar het die kerk vandaan gekom en hoe het sy gelyk voor en aan die begin van die drie dekades waaroor hierdie boek eintlik handel?

    Dit is wat hierdie hoofstuk wil doen: ’n geskakeerde prentjie bied van hoe die NG Kerk tot voor 1990 ontwikkel het. En daarvoor moet ’n mens ver in die geskiedenis teruggaan.

    Die diepste wortels

    As ’n mens die NG Kerk se wortels wil naspeur, moet jy 2 000 jaar teruggaan, na die verskyning van Jesus van Nasaret as ’n rondreisende prediker en geneser in die omgewing van Galilea en Judea. Dit is waar die kerk in die breë, en elke kerklike denominasie in die besonder, se diepste wortels lê.

    Later (en nie eintlik terwyl Jesus tussen hulle was nie) het sy volgelinge Hom as die Seun van God herken, die verwagte Messias, die Verlosser. Hy was die Een wat die evangelie van die koninkryk van God verkondig het en wat, soos die kerk deur die eeue bely, gekruisig is, gesterwe het en begrawe is, maar op die derde dag weer uit die dood opgestaan en na die hemel opgevaar het.

    Sy volgelinge het getuies van hierdie evangelie geword. Deur woord en daad het hulle die geloof in die drie-enige God versprei. Dit lê deur die eeue in die hart van die kerk, en ook in die kern van die NG Kerk se identiteit.

    Die losse beweging van Jesus se volgelinge het gaandeweg struktuur gekry en ’n georganiseerde kerk geword. Die kerk het deur die eeue ’n veelbewoë geskiedenis gehad en daar was ligte, maar ook donker kante daaraan. Ook hierin is die NG Kerk nie anders as die kerk van die geskiedenis nie.

    ’n Belangrike baken in die kerk se lang geskiedenis is die kerkhervorming in die sestiende eeu. Die Duitse monnik Martin Luther het in die vroeë 1500’s ’n diep geloofsworsteling deurgemaak en uiteindelik tot sleutelinsigte gekom wat die loop van die kerkgeskiedenis sou verander. Sy nuwe insigte het onder meer behels dat ’n mens uit genade en deur geloof gered word. Ook dat die kerk van sy tyd die spoor byster geraak het wat die verlossingsleer betref.

    In 1517 skryf Luther 95 stellings neer, bedoel as ’n gespreksdokument oor hierdie saak. Uiteindelik lei dit tot ’n skeuring tussen hom en die kerklike owerhede in Rome.

    Martin Luther word ’n vroeë en leidende figuur in wat as die Reformasie bekend sou staan. Ander sluit by dié beweging aan en bou daarop voort. Onder hulle is Johannes Calvyn, wat teen die middel van die sestiende eeu in Genève ’n groot bydrae tot die denke en die vorming van die Reformasie lewer.

    Die idees van die Reformasie word dikwels in die vyf solas verwoord, dit is vyf slagspreuke aan die hand van die Latynse woord sola wat slegs of alleen beteken. Hierin word die kernwaarhede van die Reformasie saamgevat. Dit is ook waarin dié beweging van die kerk van Rome verskil het.

    sola gratia verklaar dat ’n mens deur genade alleen gered word (en nie op grond van verdienste nie)

    sola fide sê dat dit slegs deur die geloof gebeur (en nie deur werke verdien word nie)

    solus Christus sê dat Christus alleen die Middelaar is (en nie die kerk nie)

    sola scriptura sê dat die Skrif alleen die rigsnoer is (en nie die kerklike tradisie nie)

    soli Deo gloria verklaar dat dit alles slegs tot eer van God is (en dat Maria en die heiliges nie vereer word nie)

    Hierdie vyf stellings vat die kern van die leer van die Reformasie saam, en dit lê aan die hart van die identiteit van kerke wat in die tradisie van die kerkhervorming staan. Dit sluit die NG Kerk in.

    Daar is ’n verdere Latynse slagspreuk wat met die kerkhervorming geassosieer word. Daar word soms kortliks daarna verwys as semper reformanda; meer volledig lui dit: ecclesia reformata, semper reformanda. Dit beteken dat ’n kerk van die Reformasie altyd bly reformeer. ’n Kerk moet haarself altyd krities beskou en bereid wees om aan te pas waar dinge verkeerd is. Vir die NG Kerk het dit van 1990 tot 2020 besonder relevant geword.

    Calvyn se idees versprei onder meer na Nederland, waar dit ’n groot invloed gehad het. By die sinode van Dordrecht in 1618 tot 1619 word onder meer ’n kerkorde opgestel wat vorm gee aan die gereformeerde kerke in Nederland.

    Die Kaapse vestiging en uitbreiding

    Net meer as drie dekades later sit Jan van Riebeeck voet aan wal in Tafelbaai, met die opdrag om ’n verversingspos vir verbygaande skepe daar te vestig. Die godsdiens waarmee hy en sy geselskap hulle aan die suidpunt van Afrika vestig, is hierdie gereformeerde godsdiens uit Nederland wat op Johannes Calvyn se spoor Jesus Christus as Verlosser bely.

    Die klein groepie manne van die Vereenigde Oostindische Compagnie het, benewens alles anders wat hulle gedoen het, met die Bybel gekom, kerk gehou, die evangelie verkondig, en die sakramente laat bedien as daar ’n predikant by hul verversingspos aangedoen het. En hulle het nie-Christene tot die geloof oortuig. So is Krotoa, die Khoivrou wat as tolk vir Jan van Riebeeck gewerk het, in 1662 gedoop en het sy deel van die kerk geword.

    In 1665 kom ds Johannes van Arckel as die eerste gereformeerde predikant na die Kaap en ’n eerste gemeente word gestig – die gemeente wat vandag nog as die NG gemeente Kaapstad bestaan, met die Groote Kerk as plek van aanbidding.

    Namate die verversingspos ’n nedersetting geword het en die nedersetting ’n kolonie, het die kerk saam met haar mense al dieper die land in wortel geskiet.

    Die koms van die Franse Hugenote in 1688 het die kerk versterk. Hulle was vlugtelinge wat die gereformeerde godsdiens beoefen het en wat weens godsdiensvervolging uit hul vaderland gevlug het. Hulle het gou vernederlands en deel van die Kaapse gemeenskap en kerk geword.

    Vir pioniers wat in moeilike omstandighede geleef het, was geloof ’n anker. Mettertyd het al meer gemeentes tot stand gekom. En soos klokslag was die kerkgebou die middelpunt van die dorpe wat ontstaan het. Die kerk het in die hart van die gemeenskap gelê.

    In 1824 het die Kaapse gemeentes die eerste keer sinode gehou, en in 1842 het die sinode besluit om die kerkverband wat so ontstaan het die Nederduitse Gereformeerde Kerk te noem.

    ’n Belangrike faktor in die uitbreiding van die kerk was die Groot Trek van 1836 tot 1838. Die Kaapse kerk het die Groot Trek afgekeur, maar die trekkers het hul geloof saam met hulle geneem en mettertyd het daar gemeentes in die Vrystaat, Transvaal en Natal ontstaan. Daar het ook twee ander kerkverbande in Transvaal ontstaan: die Nederduitsch Hervormde Kerk van Afrika en die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika. Hulle, saam met die NG Kerk, sou later as die drie susterskerke bekend staan.

    ’n Hof het in 1862 beslis dat afgevaardigdes van NG gemeentes buite die Kaapkolonie nie sittingsreg in die Kaapse sinode het nie. Dit het daartoe gelei dat onafhanklike sinodes in die Vrystaat, Natal en Transvaal tot stand gekom het. In 1957 het daar ook ’n selfstandige sinode in die destydse Suidwes-Afrika tot stand gekom.

    In 1907 is die Federale Raad as ’n samewerkingsmeganisme tussen die verskillende sinodes gevestig. Dit was ’n forum vir oorlegpleging en kon nie bindende besluite neem nie. Daar is slegs aanbevelings na die verskillende sinodes gemaak.

    Daar wás pogings tot ’n hegter eenheidstruktuur, maar dit was eers in 1962, net nadat Suid-Afrika in 1961 ’n republiek geword het en die eenheidsgevoel onder Afrikaners hoog geloop het, dat die verdeeldheid opgehef is. Toe is daar een algemene sinode van die NG Kerk gestig waarin elk van die deelnemende sinodes verteenwoordig is.

    Van dié sinodes het later so groot geword dat hulle onderling verdeel het, sodat daar teen 1990 elf deelnemende sinodes aan die algemene sinode was. Dit was die drie Kaapse sinodes (Wes-, Oos-, en Noord-Kaap), die vier Transvaalse sinodes (Noord-, Suid-, Oos-, en Wes-Transvaal), die Vrystaat, Natal en Namibië. En Midde-Afrika, wat hoofsaaklik uit gemeentes in Zimbabwe bestaan het, maar ook gemeentes in Zambië en verder noord tot in Oos-Afrika ingesluit het.

    Kerk en ras

    In die 1800’s was daar ’n klompie belangrike ontwikkelings in die NG Kerk. Een daarvan was die gesprek oor ras. Krotoa was kort ná die vestiging aan die Kaap die eerste inheemse persoon wat lidmaat van die kerk geword het, en in die loop van die jare was daar meer, sodat daar teen die 1800’s ’n hele klomp bruin of swart lidmate was. Die toegang tot lidmaatskap was die doop, niks meer nie.

    Nie alle wit gelowiges was daarmee geneë om saam met slawe, vrygelate slawe en ander bruin of swart lidmate aan die nagmaaltafel te sit nie, en die saak is herhaaldelik by sinodes geopper. Maar versoeke tot kleurskeiding is herhaaldelik afgewys op grond van die Bybel. In Christus is daar nie onderskeid tussen wit en bruin of swart nie.

    In NG Kerk 350, die feesbundel wat in 2002 oor die NG Kerk se geskiedenis verskyn het, skryf Hannes Adonis onder meer: In 1852 het die sinode in ’n herderlike brief lidmate opgeroep om te bly glo dat God die menslike geslag uit een bloed gemaak het en dat Hy geen aannemer van die persoon is nie. Dit beteken dat lidmate nie teen ander mense mag diskrimineer nie.

    By die sinode in 1857 het dinge egter verander. Die sinode het ’n kompromisbesluit geneem wat op grond van die swakheid van sommige ruimte laat dat daar op plekke afsonderlike byeenkomste op grond van ras gehou sou kon word. Dit was duidelik as ’n uitsondering bedoel. Volgens die sinode was dit wenslik en skrifmatig dat bekeerlinge uit die heidene as lidmate in bestaande gemeentes opgeneem word.

    Die uitsondering het egter gou die reël geword. Afsonderlike aanbiddingsgeleenthede het afsonderlike gemeentes geword, en in 1881 is afsonderlike gemeentes in ’n afsonderlike kerkverband saamgesnoer.

    So het daar naas die NG Kerk vir wit lidmate ander denominasies ontstaan wat volgens ras van mekaar geskei is. Daar was die NG Sendingkerk vir bruin lidmate, die NG Kerk in Afrika vir swart lidmate en die Reformed Church in Africa vir Indiër-lidmate. Rasseskeiding is dus reeds sedert die 1800’s in die kerklike strukture ingebou.

    Verskillende spiritualiteite

    Die woord spiritualiteit verwys na die manier waarop gelowiges hul godsdiens beleef. So verskil ’n Katolieke spiritualiteit van ’n protestantse spiritualiteit, en ’n charismatiese spiritualiteit van ’n gereformeerde spiritualiteit.

    Die gereformeerde spiritualiteit wat aan die Kaap gevestig is, is ’n sober spiritualiteit. Die kerkgeboue is eenvoudig en met min vertoon, soos die eredienste.

    Dit is ’n spiritualiteit waarin die rede ’n belangrike rol speel. Geloofswaarhede moet verstaan en verwoord word. Daarom neem belydenisskrifte so ’n belangrike plek in die gereformeerde tradisie in, en daarom beklee Sondagskole van vroeg af so ’n belangrike plek in die NG Kerk. Kinders van gelowiges moes geleer word sodat hulle verstaan wat hulle glo. Die doel was nie in die eerste plek om kinders tot bekering te bring nie, maar om hulle in die gereformeerde godsdiens groot te maak.

    In die 1800’s was daar ’n ander belangrike ontwikkeling in die Kaapse kerk, net nadat Engeland die bewind aan die Kaap oorgeneem het. Destyds het die regering nog ’n groot sê in die kerk se sake gehad en die Britse bewind het daarom bepaal hoe daar te werk gegaan sou word om die kerk se tekort aan predikante aan te vul.

    Hul oplossing, as deel van hul poging om die hele samelewing te verengels, was om predikante uit die Skotse Presbiteriaanse Kerk na die Kaap te bring. Teologies gesproke was die Presbiteriane na aan die gereformeerde tradisie, maar die Skotse predikante het tog ’n ander geloofsbelewenis met hulle saamgebring.

    Dit is een faktor wat geïdentifiseer word as aanleiding tot die vestiging van, soos dit soms genoem word, ’n evangeliese stroom in die NG Kerk.

    ’n Verdere belangrike faktor was die herlewing wat in 1861 tydens pinkstertyd in die Paarl begin het en daarvandaan uitgekring het. Dit was ’n golf van godsdienstige belewenis wat gelowiges diep in die hart gegryp het. Hieruit het ’n nuwe klem op gebed, bekering en heiligmaking gevolg, en ’n sterk sendingbewussyn is gekweek. Dit is ook hier waar die unieke tradisie van pinksterbidure in die NG Kerk ontstaan het.

    Daar word soms gesê dat daar twee teologiese strome in die NG Kerk is: ’n meer gereformeerde, meer rasionele stroom, en dan ’n meer evangeliese stroom wat ’n groter ruimte vir emosie laat.

    Vincent Brümmer onderskei in sy bekroonde boek Vroom of Regsinnig? tussen dié vir wie geloof something like a theory is, en dié vir wie geloof something like a love affair is. Vir die eerste groep gaan dit in die geloof veral om die korrekte formulering van ’n aantal geloofswaarhede, terwyl die tweede stroom veral ’n persoonlike verhouding met die lewende God belangrik ag.

    Brümmer se boek laat ook blyk dat die werklikheid ingewikkelder as ’n blote onderskeid tussen twee strome is. Hy beskryf die teologiese strome in die NG Kerk aan die hand van ’n aantal hofsake waarin die kerk betrokke was.

    In die middel van die 1800’s was daar ’n teologiese stryd tussen mense soos dr Andrew Murray, vir wie geloof something like a love affair was, en ’n aantal moderne teoloë wat die bestaan van die bonatuurlike verwerp het. Laasgenoemde benadering is deur kritici as ’n panteïstiese rasionalisme bestempel.

    Twee predikante van die NG Kerk, ds TF Burgers van Hanover (wat later president van die Zuid-Afrikaansche Republiek sou word) en ds JJ Kotze van Darling, was uit dié denkskool en het aan debatte daaroor deelgeneem. Nog ’n verteenwoordiger van dié skool was DP Faure wat teologiese opleiding gehad en sy eie Vrye Protestantse Kerk in die Kaap gestig het.

    Burgers en Kotze is uiteindelik van onregsinnigheid aangekla en geskors, maar het hulle op die hof beroep en hul skorsing is tersyde gestel. Dit was volgens Brümmer vir die kerk moeilik om hul dwaling te bewys, onder meer omdat hulle skuilname gebruik het wanneer hulle meer omstrede uitlatings gemaak het.

    Dié moderne rigting het egter ’n natuurlike dood in die kerk gesterf, skryf Brümmer, onder meer weens die vestiging van die kerk se teologiese opleiding in Stellenbosch, sodat studente nie langer in Europa hoef te gaan studeer het waar hulle aan sulke invloede blootgestel is nie.

    Vroeg in die twintigste eeu was daar weer ’n teologiese geskil wat op ’n hofsaak uitgeloop het. Die man in die middel daarvan was prof Johannes du Plessis. Du Plessis was ’n sendingwetenskaplike wat onder meer ’n lang reis deur Afrika onderneem het om sendingmoontlikhede te ondersoek. Brümmer plaas hom in die Andrew Murray-stroom.

    Die teologiese stryd waarom dit hier gegaan het, het niks met die moderne teologie van predikante soos Burgers en Kotze te doen gehad nie; Du Plessis én sy teenstanders het van die moderne teoloë verskil. Dit het wel oor nuwe insigte in die Bybel gehandel, oor die inspirasie en oor die foutloosheid van die Bybel.

    Du Plessis se standpunt was onder meer dat die Bybel nie in alle opsigte onfeilbaar is nie, dat dit historiese, chronologiese en geografiese foute bevat. Hy hou by die standpunt dat die Bybel in die geheel deur God geïnspireer is, maar reken dat die doel van dié inspirasie nie foutlose inligting was nie, maar om mense in ’n verhouding met God te bring. Dit was vir Du Plessis ook duidelik dat Moses nie die finale skrywer van die eerste vyf Bybelboeke was nie.

    Du Plessis se kritici het uit twee denkskole gekom: Die een was dié

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1