Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die groot gebedeboek
Die groot gebedeboek
Die groot gebedeboek
Ebook861 pages11 hours

Die groot gebedeboek

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Dié omvattende bundel kan gebruik word as dagboek vir 366 dae (met Skrifgedeelte en gebed), maar ook as naslaanbron vir verskillende behoeftes en geleenthede. Die groot gebedeboek bevat indekse om temas, outeurs en voorgestelde Skrif-leesgedeeltes na te slaan. ’n Onontbeerlike klassieke boek in ’n nuwe baadjie.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateSep 17, 2014
ISBN9780796319036
Die groot gebedeboek
Author

Piet Naudé

Professor Piet Naudé is die vise-kanselier van akademie by die Nelson Mandela Metro Universiteit en buitengewone professor by Stellenbosch Universiteit se Teologiedepartement. Hy is al verskeie kere bekroon vir sy skryfwerk, onder andere die Andrew Murray-Desmond Tutu-prys in 2011. Hy skryf gereeld vir Lééf.

Related to Die groot gebedeboek

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die groot gebedeboek

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die groot gebedeboek - Piet Naudé

    DIE GROOT GEBEDEBOEK

    Daaglikse gesprekke met God

    Met inleidende gedagtes deur

    PIET NAUDÉ

    Lux Verbi

    Opgedra aan

    Estelle Steenkamp

    Die vertalings van gebede in hierdie boek is vryelik gedoen om in die Afrikaanse idioom en konteks te pas; daarom is die eerstepersoonsvorm (ek) ook dikwels gebruik waar die oorspronklike bidder meer omvattend van ons gepraat het. Dit is met respek gedoen en slegs met die doel om lesers van hierdie bundel te help om hulle beter met die inhoud van die gebede te vereenselwig. Baie van die gebede is ook nie klakkelose vertalings van die oorspronklike nie, maar nuutskeppings wat geïnspireer is deur die woorde en gedagtes van bidders deur die eeue heen, tot vandag.

    Here, daar is baie dinge waarvoor ons bid. Gee ons die genade om ook daarvoor te werk.

    THOMAS MORE

    Die kortste pad na ons naaste is altyd deur gebed.

    DIETRICH BONHOEFFER

    Daar is geen probleem in die lewe wat nie anders begin lyk wanneer ons dit in gebed na God bring nie.

    HELMUT THIELICKE

    Om in die alledaagse gesloer of in die koue van akute angs bewus te word van God se handpalm op jou – dit is egte gebed.

    FERDINAND DEIST

    Voorwoord by tweede uitgawe

    Die tweede uitgawe van Die groot gebedeboek elf jaar ná die eerste uitgawe maak ’n mens bly. Dit wys dat die boek baie mense help om intiemer saam met die Here te loop.

    Deur die jare het talle mense briewe en e-posse gestuur om te vertel hoe die versameling in die boek hulle inspireer en aanspoor. Sommige het self – soos die uitnodiging was – hand op papier gesit en nuwe gebede aangestuur.

    Wat dit so besonders maak, is dat Die groot gebedeboek nie die vrug van een outeur se kreatiwiteit is nie. Dis wyd en syd versamel en in maklik-lees Afrikaans vertaal.

    Die gebede praat vanuit donker dieptes en ook vanaf die bergtoppe. Dit praat uit die verre verlede en spreek tot ons kontekste vandag. Dis ekumenies en inklusief – soos God se genade self.

    Bid sonder ophou het nog altyd mooi geklink. En dis nodiger as ooit in ons jong demokrasie.

    Hier is die woorde weer. Lekker lees!

    Piet Naudé

    Koninkrykstyd 2014

    Verwonderd voor God

    Toe my pa op ’n vroeë 41 jaar oorlede is, het hy nie veel aardse besittings gehad nie. Die vier jaar lange stryd teen kanker het die mediese koste laat oploop in die dae toe boere nog nie aan mediese skemas behoort het nie.

    Soos ek groter geword het, het ek dikwels gewens hy het ’n groot boedel gehad om ons darem ’n hupstootjie of ’n goeie wegskopkans in die lewe te bied. Dink maar aan daardie klaar studeer sonder studieskuld, of grond wat in waarde toeneem om later ’n deposito op ’n eerste huis te wees.

    Dit was ons ongelukkig nie beskore nie.

    Mettertyd – veral toe ons self kinders in die huis gehad het – het my mening hieroor egter verander. Want wat onthou ek van Pa? Ten spyte daarvan dat ek hom skaars geken het, bly twee beelde glashelder in my gedagtes:

    Sondagaande voordat ons terug koshuis toe is, is daar uit die groot rooi Kinderbybel gelees en op die plankvloer gekniel. Here, ons bring elke kind na U toe vir die week wat voorlê, sou Pa bid met ’n stem wat al hoe heser word van die kobaltbehandeling. Later het hy voor die Here gefluister – asof met groter eerbied – soos hy swakker geword het.

    Dié gewoonte het mettertyd gegroei tot ’n kosbare deug: Ek het grootgeword met die diep besef dat ’n mens niks sonder die Here aanpak nie; dat jy in alles van Hom afhanklik is. Dit sluit alles in: skoolwerk, rugby, musiekeksamens, vriendskappe … Prestasies gaan nie na jou kop nie. Mag is nie ’n issue nie. Wat ek het en wat ek is – het ek geleer – is te danke aan God se genade en goedheid.

    Nee, my pa het ons nie met grond en goed gelos nie; hy het ’n lewensbesef nagelaat.

    As ekonomiese hupstoot is dit nie juis veel werd nie, maar as oriëntering tot die lewe is dit oneindig nuttig. Want gebed vorm ’n soort raamwerk wat gebeure in jou lewe, jou eie vorming, die mense rondom jou, in die kader van ’n Godsverhouding plaas. (En daarop kan jy in elk geval nie ’n geldwaarde plaas nie.)

    Ek dink dít is wat bedoel word met bid sonder ophou – hierdie diep wete van afhanklik-wees-voor-God.

    ’n Tweede samehangende beeld wat ek van my pa onthou, is die uitloop op die werf saans ná die nege-uur-radionuus op Afrikaans. Pa het nog van daardie groot boksradio’s met die liggies voorop gehad; hy het getrou na die nuus, Landbouradio met hoenderkraai, en Staal Burger geluister.

    Buite op die werf het ek en hy tot by die visdam in die middel van die tuin gestap. Van hier af was daar ’n onbeperkte uitsig – bo-oor die wilgerboom langs die lusernland en die kliprantjie by die dam.

    Dan sou Pa opkyk en die sterre begin uitwys. Die helder Karoohemel, ongesteur deur mensgemaakte lig, vertel hoe wonderlik God is. Die Drie Susters, die aandster en die Suiderkruis was later vir my as vier-, vyfjarige bekende ligpunte. Maar dan vertolk met ’n Godsbesef wat die kleinheid, die vervlietendheid, die relatiwiteit van ons mensebestaan beklemtoon het. (Sou Pa se siekte hom sensitiewer vir eindigheid gemaak het?)

    As ’n mens van voorwaardes vir gebed kan praat, is dít waarskynlik een: Verwondering oor God.

    Dié verwondering is ’n gevoel, ’n wete van beperktheid, van onmag en eindigheid in die lig van God se ewigheid, onbegryplikheid en volkome wysheid (Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 1). Dit is waaruit my en Pa se stom gebede op die werf voortgekom het: ’n soort sprakeloosheid voor God. Iets wat jy min, indien ooit, in die kerk of biduur met hulle soms kompulsiewe praatkultuur sou kry.

    Ek dink dit is waarom die Bybel onder meer oor praat-met-die-Here sê: God is in die hemel, en jy is op die aarde. Daarom moet jou woorde min wees.

    Vandag kan ek sê: Gebed is ’n gesprek (selfs ’n stilgesprek) met God.

    Dit spruit eerstens uit ’n lewende verhouding met God.

    Natuurlik praat Hy altyd eerste – ons het Hom immers nie eerste opgesoek nie. Gebed is dus ’n tweede woord op God se eerste Woord. Dit is daarom gepas dat gebed in die Heidelbergse Kategismus nié by sonde of selfs verlossing behandel word nie, maar by die derde deel: dankbaarheid.

    Gebed is vir Christene byna onafwendbaar, want dit is die vernaamste deel van ons dankbaar-wees voor God. Dit is onmoontlik om – as jy God se eerste genadewoorde hoor en aanvaar – nié daarop te antwoord nie. Genade is ’n salwing van die lippe, soos by die profete van ouds. Dit is onmoontlik, sê die apostels, om stil te bly oor dit wat ons gesien en gehoor het.

    Gebed is ook ’n gesprek in ’n vrymoedige verhouding met God.

    Hierdie moed spruit nie uit ons vermoë om te formuleer of selfs uit teologiese insig nie. Dit is die vrye moed van iemand wat weet dat sy of haar gebede deur Christus verdien is en deur die Gees gesuiwer word. ’n Mens kan daarom met moed bid as jy in Christus se Naam bid (vgl. Joh 14:13-14; 16:23-24). En as jy onthou dat die Gees ons gebedsvennoot is. Waar ons stamel en prewel, pleit die Gees namens ons voor God met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie (vgl. Rom 8:26). Gebed is ’n gesprek in ’n oop verhouding met God.

    Ons speel maar almal toneel. All the world’s a stage, sê Shakespeare tereg. Ons vervul verskillende rolle in die samelewing. Selfs Christene dra maskers – juis van die godsdienstige soort. Ons probeer hard om ordentlik te wees. En êrens tussen hierdie rolle is die ware ek weggesteek.

    Maar op jou knieë is daar die bevryding om eerlik en oop jousélf te kan wees, want jy weet voor wie jy staan. Here, U ken my, hoor ons in Psalm 139. Voordat ek dink of praat of ry, weet U dit al. Al my paaie – sleg en goed – is in elk geval aan U bekend. Daarom, Here, ondersoek my en toets my. Ek is nakend voor u oë. Dankie dat ek vir U kan sê wat ek dink; dat ek voor U die onuitspreeklike kan spreek. En kan luister wat U sê.

    Want gebed is ook dialoog. En selfs stilte is nie woordloos nie.

    Dit is in hierdie gees dat ons dié gebedeboek byeengebring het. Ons bied in hierdie bundel ’n groot verskeidenheid klassieke en eietydse gebede oor ’n wye spektrum genres.

    Dit sluit in: lofgebede en klagte, aanbiddings- en voorbiddingswoorde, informele gesprekke met God. Hier hoor ’n mens die ou kerkvaders soos Augustinus of Anselmus of Luther of Calvyn in die woorde van hulle tyd bid. Ander kere is die gebede eietyds gerig. Ons lees hier oorlewingsgebede uit Afrika, en ons hoor Suid-Afrikaners in die idioom van ons tyd en omstandighede met God praat.

    Opmerksame lesers sal sien dat ons vir die inleidende gedeeltes tot elke maand van hierdie gebedeboek (wat ook as ’n jaar-dagboek gelees kan word) die bekende indeling van die Heidelbergse Kategismus oor gebed gebruik (Sondag 45-52): Die vraag waarom gebed vir Christene nodig is, word onderskeidelik as inleiding by Januarie en Desember gebruik. Die uitleg van die Ons Vader-gebed dien as inleiding tot die ander tien maande, Februarie tot November. Lesers kan hierdie kort inleidings een-een en maand vir maand lees, óf as ’n eenheid om die samehang te sien. In die res van die boek is daar egter met opset geen formele orde of progressie nie.

    Dié boek kan chronologies as dagboek gelees word, maar dit is óók bedoel vir enige-plek-oopslaan, en vir voorlees óf selflees. Dit is vir persoonlike stiltetyd én vir gebruik by eredienste of ander spesiale geleenthede.

    Hierdie gebedeboek is bedoel om jou gemoed oop te stel, sodat ander se woorde met en voor God ook jóu woorde kan word. Elke eggo van hierdie gebede in jou lewe – elke aanklank – maak die saamstel van dié boek reeds die moeite werd.

    PIET NAUDÉ

    Port Elizabeth

    Ons Vader-gebede

    Ons Vader wat in die hemel is,

    laat u Naam geheilig word;

    laat u koninkryk kom;

    laat u wil ook op die aarde geskied,

    net soos in die hemel.

    Gee ons vandag ons daaglikse brood;

    en vergeef ons ons oortredings soos ons ook

    dié vergewe

    wat teen ons oortree;

    en laat ons nie in die versoeking kom nie,

    maar verlos ons van die Bose.

    Aan U behoort die koninkryk

    en die krag

    en die heerlikheid

    tot in ewigheid.

    Amen.

    JESUS SE MODELGEBED IN MATTEUS 6:9-13

    Hierdie gebed bevat alle moontlike bedes. ’n Mens kan geen gebed uitdink wat nie daar inbegrepe is nie. Dit is onmoontlik om dit een keer na te sê en jou volle aandag op elke woord daarvan te rig, sonder dat daar ’n verandering – miskien onopmerkbaar klein, maar tog onontkenbaar – in jou plaasvind.

    SIMONE WEIL

    Ons Vader wat in die hemel is,

    dankie dat U nie net daar bo is nie,

    maar ook hier by ons in al ons nood en seer.

    Dankie dat U ons soos ’n vader beskerm en soos ’n moeder versorg.

    Laat u Naam geheilig word deur ons vandag,

    dat ons só sal optree dat mense U in ons sal herken

    en ter wille van ons lewe aan U eer sal gee.

    Laat u koninkryk kom.

    Breek vandag die mag van die bose,

    bevry ons van die mag van die sonde, en van ons eie selfsug,

    en help ons om só te lewe dat u heerskappy teen vanaand

    deur meer mense erken en eerbiedig sal word.

    Laat u wil geskied,

    al is dit anders as wat ons dit graag sou wou hê.

    Here, ons huiwer om dit te sê, maar stel ons asseblief teleur

    as ons begeertes nie met u wil ooreenkom nie.

    En maak ons dan gewillig om u wil te doen.

    Gee ons vandag ons daaglikse brood,

    want ons is elke dag in alles van U afhanklik.

    Wanneer ons in nood is, besef ons dit meer as ander kere,

    maar sonder U kan ons nooit regtig regkom nie.

    En al sou ons ook genoeg geld in die bank hê,

    kan dit nog nie ons gesondheid en geluk koop nie.

    En vergeef ons ons oortredings – wat vir ons maar klein lyk,

    maar in die lig van die prys wat dit U gekos het, is dit verskriklik groot.

    Só groot dat ons maklik dié mense kan vergewe

    wat teen ons gesondig het.

    En laat ons nie in versoeking kom nie,

    omdat die duiwel vir ons te sterk is en ons nooit

    sy lis sal kan weerstaan as U ons nie beskerm nie.

    Daarom bid ons: Verlos ons van die Bose,

    ook waar hy op fyn, vermomde maniere

    ons wil verlei om onskuldige sondetjies te doen,

    soos om goed te vat (klein of groot) wat nie aan ons behoort nie,

    en wit leuentjies te vertel.

    Aan U behoort die koninkryk en die krag

    en die heerlikheid tot in ewigheid.

    U is die Here, U het alles gemaak. Daarom het U reg op alles.

    Laat alles wat asemhaal U prys.

    Alle lof moet aan U gebring word.

    U is groot en goed en getrou.

    Niks en niemand kan met U vergelyk word nie,

    wonderlike God, genadige Vader, getroue Vriend.

    ADRIO KÖNIG

    Januarie

    Waarom bid?

    Aan die begin van hierdie gebedsjaar klink dit dalk onvanpas om te vra: Waarom bid? Is dit nie in ’n boek soos dié ’n oorbodige vraag nie?

    Miskien tog nie.

    Want dit kan ons help om na te dink oor ons gebedsreis in die maand of jaar of toekoms wat voorlê.

    Dit is waarskynlik so dat die meeste gewone Christene aan gebed dink as iets wat ons in noodtoestande nodig het. Noodroepe en momentele skietgebede word seker ook die meeste gebid. Ons het nie altyd die tyd vir ander soort gebede nie, en dit is tog menslik om na God te draai as jy swaar kry of voor moeilike besluite staan. Ons draai dan minstens na God toe – en nie bloot na onsself of ons vriende nie! Ons weet daar is tye dat net God ons kan help, en nie ander mense se beste bedoelings en goedgesindheid nie.

    Hierdie soort noodtoestand-gebedslewe is arm. Daarom word daar in dié gebedeboek gewys op die vele ander gestaltes en vorme wat gebed ook kan aanneem: aanbidding, voorbidding. skuldbelydenis, noodroepe, opstand, lofprysing, bloot stilte, en nog vele meer.

    Maar daar is tog ’n raakpunt tussen ons noodgedrewe gebedslewe en die wese van God. Dit is omdat God ons verstaan en weet hoe ons is. Daarom kan ons ook op ’n ander manier die vraag Waarom bid? beantwoord.

    Dié antwoord is eenvoudig: Omdat God vrygewig is. Sy wese is anders as dié van gewone goeie en slegte mense – soos ons.

    Hierdie vrygewigheid blyk dwarsdeur die Skrifgeskiedenis:

    •God gee ’n reënboog aan ’n bedremmelde Noagfamilie en ’n verspoelde aarde.

    •God gee ’n kind aan die heeltemal té oue Abram en Sarai.

    •God gee ’n hoë posisie in Egipte aan ’n arrogante tronkvoël – Josef.

    •God gee ’n nuwe land aan moeë, halsstarrige woestynswerwers.

    •God gee ekonomiese en militêre voorspoed aan ’n owerspelige moordenaar – Dawid.

    •God gee helder profetestemme aan ’n weerbarstige tienstammeryk.

    •God gee Jerusalem terug aan ’n klompie bangerige ballinge.

    •God gee Homself aan ’n onverdienstelike wêreld – in Betlehem.

    •God gee sy Gees aan die kerk op Pinksterdag.

    Jesus verwoord hierdie Ek hou daarvan om te gee-karakter van God die helderste:

    Vra, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal kry; klop, en vir julle sal oopgemaak word; want elkeen wat vra, ontvang; en elkeen wat soek, kry; en vir elkeen wat klop, sal oopgemaak word (Matt 7:7-8).

    Dié vrygewigheid hang saam, so verduidelik Jesus, met God se Vader-karakter. As slegte pa’s weet om goeie dinge te gee, hoeveel te meer sal ons hemelse Pa dit nie doen nie. Hy weet in elk geval wat ons nodig het nog voordat ons vra (vgl. Matt 7:9-10; 6:8).

    In hierdie lig maak dit sin om gedurig te bid (vgl. 1 Tess 5:17). Want ons bid tot ’n vriendelike, ryk en vrygewige Vader. Moet jou dus nie bekommer oor môre of die res van die jaar, of oor jou lewe wat om die draai lê nie.

    God, die groot Vrygewige,

    hou sy hand op die draai van die rat,

    en sy oog op die verste draai in die pad.*

    PIET NAUDÉ

    * Met apologie aan C. J. Langenhoven.

    1 JANUARIE

    Lees Nehemia 8:2-13 Hierdie dag word gewy aan die Here julle God. Moenie treurig wees nie, moenie huil nie … Gaan vier fees, eet en drink, en deel uit … (Neh 8:10-11).

    Vol van God se blydskap

    Here God,

    ek het vanmôre vreugde aan die lewe;

    ek dank U vir hierdie nuwe dag.

    Ek gooi my vreugde in die lug op

    – soos voëls,

    want die nag het weggefladder

    en ek verheug my oor die lig.

    U son het die dou weggebrand van die gras

    en die donker uit my hart verdryf.

    Daarom is die woorde wat vanoggend uit my mond kom,

    net vreugde en dank.

    Here, ek is vanmôre vrolik.

    Die voëls en die engele sing,

    en ek sing ook.

    Die heelal staan bakhand vir u genade,

    en my hart ook.

    Die son skyn op my lyf en ek dank U daarvoor.

    Die branders breek op die strand,

    dankie daarvoor.

    Here, ek verlustig my in u skepping,

    want U is daarin en daarbo en daaragter,

    en ook in my.

    Ek is gelukkig, Here,

    bly,

    bly,

    vol van u blydskap.

    Here, ek gooi my vreugde soos voëls in die lug op.

    ’n Nuwe dag gaan singend oop,

    tjirp en kwetter van u liefde.

    U genade skitter in elke uur.

    Halleluja, Here!

    ’n Gebed uit NIGERIË

    Die vreugde van die Here, die vreugde wat ons bekragtig,

    die vreugde wat niemand van ons kan wegneem nie, groei uit

    ’n lewe waarin gesprek met God – want dit is wat gebed is –

    ’n doodgewone deel van jou alledaagse lewe is.

    FRANCIS PAGET

    2 JANUARIE

    Lees Galasiërs 5:13-6:2 Dra mekaar se laste, en gee op dié manier uitvoering aan die wet van Christus (Gal 6:2).

    Leer my om lief te hê

    O Here, my God,

    alle pyn, alle onreg,

    alle bitterheid, vernedering,

    hartseer, haat, wanhoop,

    ja, alle seerkry is ’n simptoom van ’n honger

    wat nie gestil word nie,

    ’n smagting na liefde.

    Ek kom bely vandag

    dat ek hulle wat my liefde nodig het

    so dikwels nie met liefde bedien nie, Here.

    En dit is nie net ek wat hieraan skuldig is nie.

    Ons hele samelewing het stadig,

    met die een stukkie selfsug na die ander,

    ’n geskonde wêreld gebou

    wat mense neerdruk en vernietig.

    En daagliks gaan ons voort

    om eerder ons selfliefde te voed,

    terwyl mense rondom ons met uitgestrekte,

    bedelende hande sterf

    weens ’n gebrek aan liefde.

    Here, ons het die liefde wat ons nie self gebruik het nie

    nutteloos verspil …

    O my God, leer my om lief te hê.

    Help my om nie my liefde op myself te vermors nie.

    Help my om myself algaande minder te bemin,

    sodat ek meer liefde oorhet vir ander.

    En sodat niemand sal ly of sterf

    omdat ek die liefde gesteel het

    wat hulle nodig gehad het om van te lewe nie.

    MICHEL QUOIST

    Ons sê dat ons magteloos is teen die kwaad en onreg en pyn in die wêreld. Gebed is die magtige wapen wat God sy kinders gegee het om in so ’n wêreld te oorleef. Tog sê ons dat ons te besig is om te bid.

    J. SIDOW BAXTER

    3 JANUARIE

    Lees Hebreërs 13:1-8 Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie: wat kan ’n mens aan my doen? (Heb 13:6).

    Is U by my?

    Vandag, Here,

    breek daar voor u oë en myne

    ’n splinternuwe dag.

    Dit lê oop voor U en my.

    En hier is ek

    op die punt om die dag in te gaan.

    Maar ek voel onseker, Here,

    selfs bang vir wat die dag mag inhou;

    vir wat dit alles van my sal eis.

    Het ek die krag en die integriteit, Here,

    om te lewe soos iemand in wie U lewe?

    Kan ek die dag ingaan

    met vreugde en kalmte en die vertroue

    dat U by my is?

    My kind, dit is die dag waarin Ek soos altyd

    by jou sal wees.

    Aanvaar dit met vreugde.

    Gaan dit dansend tegemoet.

    En dra saam met jou

    die vreugde van die opstanding,

    die vrede van diens aan ander,

    die liefde wat kan vergewe en aanvaar.

    Jy moet vreugde hê aan hierdie dag, my kind.

    Gee jou daaraan oor.

    Aan wat ook al oor jou pad kom.

    En sien My raak in elke mens,

    in elke stukkie skoonheid

    en in almal wat jou nodig het.

    Want Ek sal daar wees.

    Jy is nooit sonder My nie.

    Here, ek dink ek het U met my hoor praat.

    U ís by my, u Gees is in my.

    Ek vrees nie meer die dag nie.

    ANONIEM

    Eers het ek God altyd gevra om my te help. Toe het ek begin vra of ek Hom kan help. Uiteindelik het ek besef dat gebed net is om te sê: Hier is ek, Here! Doen u werk deur my.

    JAMES HUDSON TAYLOR

    4 JANUARIE

    Lees Kolossense 3:1-17 Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit (Kol 3:1).

    Dit is my troos

    Here Jesus,

    U sit aan die regterhand van God.

    Dit is die eerste en laaste ding

    wat regtig saak maak vir my bestaan.

    Watter voorspoed ek vandag ook al beleef,

    of watter teenspoed my ook mag tref,

    wát ook al op my lewenstoneel verskyn

    of uit my lewe mag verdwyn:

    Één ding staan onveranderlik vas,

    een saak kan nooit verander nie

    en dit sal my vandag en altyd troos.

    En dit is, Here,

    dat U aan die regterhand van die Vader sit.

    Wat U gedoen het, is genoeg.

    Vir vandag, vir môre, vir altyd.

    Na ’n uitspraak van KARL BARTH

    O Here, my God,

    in u Seun, ons Here, Jesus Christus,

    het U my u kind gemaak.

    Dankie dat ek daarom u stem hoor wat my roep.

    Ek kom nou om U te loof,

    om te hoor wat U vir my wil sê,

    en om met U te praat.

    O Here, maak my so duidelik bewus

    van u stralende teenwoordigheid

    dat vandag vir my ’n dag van lig sal word.

    ’n Dag waarin ek die hemel geopen sien

    en sal ervaar hoe ’n bietjie van u glans

    op ons donker aarde skyn

    en u vrede laat neerdaal.

    Ek vra dit in die Naam van Jesus Christus,

    ons Here.

    KARL BARTH

    God verwarm sy hande by die vuur van die hart wat opreg bid.

    JOHN MASEFIELD

    5 JANUARIE

    Lees Psalm 5 Gee tog aandag aan my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek. U luister na my stem in die môre, Here … (Ps 5:3-4).

    In my is daar donkerte

    Vader in die hemel,

    Vroeg in die môre roep ek tot U.

    Gee my woorde om met U te praat,

    help my om my verwarde gedagtes

    by U te bepaal.

    Ek kan nie op my eie bid nie, Here.

    In my is daar donkerte;

    by U is daar lig.

    Ek is eensaam;

    U verlaat my nie.

    Ek voel nietig en bang;

    U laat my nie alleen nie.

    Ek is rusteloos;

    by U is daar vrede.

    Ek vind bitterheid in my hart;

    U leer my geduld.

    U weë is vir my onbegryplik;

    U ken die pad waarop ek gaan.

    DIETRICH BONHOEFFER

    O hemelse Vader, ek loof en dank U

    vir die rus van die nag wat verby is.

    Ek loof en dank U

    vir die nuwe dag wat gebreek het.

    Ek loof en dank U

    vir u eindelose goedheid

    en trou

    dwarsdeur my lewe.

    U het my so ryklik geseën tot nou toe.

    Gee my nou die moed

    om ook spanning en hartseer te hanteer.

    U sal my nie bo my kragte laat ly nie.

    U laat alle dinge ten goede meewerk

    vir ons, u kinders.

    DIETRICH BONHOEFFER

    Hy wat wil fokus op die innerlike en geestelike dinge, hy wat wil leer wat gebed is, moet eers leer om saam met Jesus soms van die skare weg te draai.

    THOMAS À KEMPIS

    6 JANUARIE

    Lees Psalm 8 As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en sterre waaraan U ’n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink …? Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde! (Ps 8:4-5, 10).

    Tekens van u grootheid

    As ek om my rondkyk, Here,

    sien ek die tekens van u grootheid

    en goedheid:

    die inkomende gety in Algoabaai,

    die volmaan oor die see by Swakopmund,

    die melkweg helder oor ons plaas,

    La Mascotte, in die Oos-Kaap.

    Dit is die magtige werk wat U gedoen het.

    Maar ook in die klein wonders

    blyk u sorgsame hand:

    swaeltjies onder die stoepdak in die lente,

    erdwurms in die nat sooi

    van ’n omgeploegde land,

    en vuurvliegies wat helder skyn.

    Nou kyk ek na myself:

    Ek is ’n spikkel in die groot heelal.

    Maar tog dink U aan my.

    Met wetenskap en kultuur

    voer ek saam met ander heerskappy:

    God se wagters oor die wêreld

    – in dié opsig byna soos engele.

    Help my, Here,

    om U weer in die alledaagse raak te sien.

    Here, my Here,

    hoe wonderbaar is u Naam

    oor die hele aarde!

    PIET NAUDÉ

    Here, wat is die mens

    dat U ons as ú beeld gemaak het?

    En hoe het sonde dié beeld nie in ons

    verdof en verwring nie!

    Goddank! In Christus is u stempel wéér op ons afgedruk.

    ERNESTO CARDENAL

    Die gebed van geloof is die enigste krag in die heelal waarvoor die groot Jahwe buig.

    ROBERT HALL

    7 JANUARIE

    Lees Romeine 7:14-25 So vind ek dan hierdie wet in my: ek wil die goeie doen, maar al wat ek doen, is die slegte … Wie sal my van hierdie doodsbestaan verlos? Aan God die dank! Hy doen dit deur Jesus Christus ons Here (Rom 7:21, 24-25).

    Steek ’n kers aan in my hart

    Hemelse Here,

    U het my lewe soos ’n boom laat groei.

    Maar nou het daar ’n ding gebeur:

    Satan het soos ’n voël sy eie takkies begin inent.

    Voordat ek geweet het wat aangaan,

    het hy hier in my

    ’n blyplek vir hom ingerig.

    Vandag, Here, gooi ek voël en nes al twee uit.

    ’n Gebed van ’n NIGERIESE CHRISTEN

    O Here, dit is met hartseer dat ek bely

    dat ek U vandag wéér teleurgestel het.

    Soveel jare al hoor ek u Woord,

    maar dit dra so min vrug in my.

    Ek het nie vandag soos ’n verloste mens gelewe nie …

    Die mag van geweld en haat,

    onreg en materialisme

    wat rondom my woed,

    het ook nes gemaak in my eie hart.

    Ek verootmoedig my in skaamte

    en pleit by U

    om vergifnis in die Naam van u Seun, ons Here.

    Wees my genadig!

    Na ’n gebed uit KAMEROEN

    Here,

    steek ’n kers aan in my hart,

    sodat ek in die lig daarvan kan sien

    om die vuil in my skoon te maak,

    sodat U hier kan woon.

    ’n Gebed van ’n SKOOLMEISIE UIT AFRIKA

    Om oefening te kry in gebed, het niemand ’n gimnasium nodig nie – enige stíl plek sal deug; geen oefenapparaat word benodig nie – net ’n geboë hoof. Maar jy moet versigtig wees, want die lewende God is ’n kragveld waarbinne jy dit waag wanneer jy bid. En om naby God te kom, is om te verander.

    DOUGLAS V. STEERE

    8 JANUARIE

    Lees Psalm 91 Wanneer hy My aanroep, sal Ek sy gebed verhoor; in sy nood sal Ek by hom wees … (Ps 91:15).

    Ek roep tot U

    Here God, dankie dat U my raaksien.

    Dankie dat U my nou ook hoor as ek bid.

    Ons mense wil maar van geweet wees.

    Dankie dat U dit verstaan en my nie ignoreer

    of vir my moeg raak

    as ek U aandag so aanhoudend soek nie.

    Dankie, Here, dat U so diep betrokke is by my

    dat U u Seun gegee het om te sterwe,

    sodat ek die lewe kan verkry.

    Dit bly vir my ongelooflik dat ’n Sondelose sy lewe kon gee

    vir swak sondaars, soos ek.

    Baie dankie, Here Jesus,

    dat ek kan weet dat u kruisdood voldoende was

    om vir al my sonde en swakkerige pogings te vergoed.

    Hemelse Vader, ek bely weereens vandag

    dat U my God en Vader is; my rots en veilige vesting;

    die Een op wie ek vertrou; na wie ek altyd kan gaan.

    Dankie dat ek in enige omstandigheid

    met U kan praat oor alles wat in my hart is.

    U het die psalmdigter belowe

    dat U sy gebed sal verhoor wanneer hy U aanroep.

    Hoor ook nou my gebed as ek tot U roep.

    Here, ek beland so dikwels in moeilike situasies

    in my gesin, by die werk, saam met vriende …

    U ken my onvermoë, my vrese, my swak beslissings,

    en dikwels my gebrek aan integriteit. Vergewe my, Here.

    Help my om in die geloof elke dag nader aan U te groei;

    om elke dag ’n stukkie meer van u wil te begryp;

    ’n bietjie meer soos U te wees.

    Hemelse Vader, omdat ek u kind is,

    is u Naam op die spel waar ek rondbeweeg.

    Maak my daarom ’n goeie ambassadeur vir U,

    sodat mense wat sien wat ek doen, en hoor wat ek sê,

    rede sal hê om ú Naam groot te maak.

    Aan U kom die lof toe en die eer en die dank en die aanbidding,

    van nou af tot in alle ewigheid.

    LAMBERT JACOBS

    As Christene soveel tyd in gebed deurgebring het as wat hulle aan kla en foutvind bestee, sou hulle niks gehad het om oor te kla nie.

    ANONIEM

    9 JANUARIE

    Lees Psalm 9 Met my hele hart wil ek U prys, Here, wil ek van u magtige reddingsdade vertel. Oor U wil ek my verbly en vrolik wees, u Naam wil ek besing, o Allerhoogste (Ps 9:2-3).

    Leer ons om u Naam te heilig

    Vader van genade,

    my toevlug en my rots,

    ek bid vir u lieflingshemelliggaam,

    Planeet Aarde – ons woonplek:

    vir die atmosfeer, die see en die land

    en alles wat daarin en daarop leef.

    Ek bid vir ons arme mense, u lieflingskepsels,

    wat geteister word deur plae:

    siektes en hongersnood,

    oorlog en terreur,

    armoede, onsekerheid, vrees,

    werkloosheid en oorwerktheid,

    uitsigloosheid, hooploosheid, verveling,

    ongeloof, liefdeloosheid, verslawing,

    ontbering, verlies, spanning,

    die verval van familie- en ander verhoudinge.

    Ek bid vir mense met gestremdhede

    en allerlei ander agterstande.

    Ag, Here, ek bid vir ons samelewing:

    vir onderwysinstellings en hulle personeel,

    vir dié wat moet regspreek en die reg moet handhaaf,

    vir mediese dienste en personeel,

    vir die vervaardigingsbedryf

    – nyweraars, handelaars, werkers;

    vir die media

    – redakteurs, joernaliste en spotprenttekenaars;

    vir regerings en politici,

    vir amptenare en ampsdraers,

    vir alle mense in leiersrolle.

    Laat hulle u Naam heilig.

    Laat almal op aarde leer om u Naam te heilig.

    Help mý om u Naam vandag heilig te hou.

    JAN NIEDER-HEITMANN

    Dit is goed om boek te hou van ons gebede, sodat ons dade nie ons gebede weerspreek nie.

    MATTHEW HENRY

    10 JANUARIE

    Lees Johannes 14:15-27 Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie (Joh 14:27).

    Gebruik my vir vrede op aarde

    Gee my vandag die moed, Here,

    om te wys waarvoor ek staan.

    Om op te staan vir die reg van hulle

    wat hulleself nie kan verdedig nie,

    selfs al sou dit onreg teenoor myself ontlok.

    Help my om aan niks hoër prioriteit te gee

    as aan U nie.

    Om niks liewer te hê

    as vir U nie,

    want dan sal ek niks hoef te vrees nie

    behalwe om U te verloën.

    Help my om van niks ’n afgod te maak

    wat u plek kan inneem nie.

    Nie van die staat

    of my kerk

    of my politieke party nie,

    nie van geld of status of eiebelang nie.

    Help my om geen ander vorm van vrede te soek

    as dié wat net U kan gee nie.

    Maak my ’n instrument van daardie vrede, Here,

    deurdat U my oë en my ore en my hart oopmaak.

    Sodat ek duidelik sal weet

    hoe U my wil gebruik om te werk

    vir ú vrede op aarde.

    ALAN PATON

    Here, ek kan nie vrede op aarde

    probeer bewerkstellig

    voordat U nie ú vrede

    in mý hart uitstort nie.

    HUBERT VAN ZELLER

    ’n Verhouding met Jesus Christus is net so min moontlik sonder gebed as poësie sonder taal of musiek sonder note.

    JAMES MARTINEAU

    11 JANUARIE

    Lees Deuteronomium 31:1-8 Die Here sal voor jou uit gaan. Hy sal by jou wees. Hy sal jou nie in die steek laat nie, jou nie alleen laat nie. Moenie bang wees nie … (Deut 31:8).

    Môre is in u hande

    Genadige God,

    ek soek u teenwoordigheid

    hier aan die einde van nog ’n dag.

    Laat ’n stukkie van u hemelse vrede

    my onstuimige hart tot bedaring bring

    voordat ek my neerlê om te slaap.

    Sodat die gedagte aan môre,

    met sy spanning en onsekerhede,

    my nie vannag wakker hou nie.

    Laat al vandag se opwinding en stres

    nou wegvloei

    en plek maak vir rustige gedagtes

    oor u grootheid en liefde.

    Gee my weer die vaste oortuiging

    dat U môre voor my uit sal gaan

    soos U dit vandag gedoen het.

    Gee my vanaand, o my Vader,

    ’n diepe gevoel van dankbaarheid

    vir u eindelose genade

    wat my vandag oral gevolg het.

    U goedheid oor my was so groot.

    Daar was nooit een oomblik

    waarin U u sorg aan my onttrek het nie.

    Nooit was dit vir my nodig

    om uit eie krag enigiets te doen nie.

    Dankie, Here,

    dat toe ek te besig was met my klein belange

    om U te onthou,

    U – wat ’n heelal het om te bestuur –

    mý nie vergeet het nie.

    JOHN BAILLIE

    Here, hou ons elke dag so wakker in die uitvoering van die pligte waartoe U ons roep, dat ons elke aand in vrede kan gaan slaap en kan wakker word in u heerlikheid.

    JOHN DONNE

    12 JANUARIE

    Lees Filippense 1:3-11 Ook bid ek dat julle liefde al hoe meer sal toeneem in begrip en fyn aanvoeling, sodat julle die dinge sal kan onderskei waarop dit werklik aankom (Fil 1:9-10).

    Leer my om te onderskei

    Here Jesus, Kenner van menseharte,

    vergewe my wanneer ek so hard besig is

    om ander se guns te wen

    dat ek vergeet dat ú goedkeuring belangrik is.

    Leer my onderskei tussen geloof en bygeloof,

    tussen besig wees en vrugbaar wees,

    tussen nederigheid en minderwaardigheid,

    tussen beginselvastheid en hardkoppigheid.

    My verstand is te min, my hart te power,

    my wil te krom en my verskonings te goed

    om werklik moeite te doen met onderskeiding.

    Heilige Jesus, Here van die here,

    bly by my in hierdie moeilike en moeisame tye

    waarin bedrog ’n gewoonte,

    leuens ’n kunsvorm,

    wreedheid ’n wetenskap en

    misbruik ’n speletjie geword het.

    Here, leer my om die goeie te onderskei.

    Wys my deurlopend op die uitnemender weg

    wanneer ek moet onderhandel.

    Laat my begrypend, kalm en saggeaard wees,

    ferm, maar nie halsstarrig nie,

    mededeelsaam, maar nie roekeloos nie,

    regsinnig, maar nie koud nie.

    Al kan ek dié met wie ek tot ’n vergelyk moet kom

    dalk nie liefkry nie,

    help my om steeds respek te betoon.

    Al verskil ons oortuigings,

    laat my steeds goed praat van hulle.

    Bly by ons.

    Bly in my.

    En laat my in U bly.

    FAAN HERHOLDT – na ’n anonieme gebed

    Gebed is om die oë van jou liggaam en die oë van jou siel toe te maak, en die oë van jou ore te open. Om in stilte jouself oop te stel vir dit wat in jou is, én aan God wat by jou is. Gebed is om te luister na die ewig Teenwoordige.

    MICHEL QUOIST

    13 JANUARIE

    Lees Jesaja 9:1-6 Hy sal genoem word … Vredevors … Hy sal dié koninkryk vestig en in stand hou deur reg en geregtigheid, van nou af en vir altyd (Jes 9:5, 6).

    Soveel geweld in ons land

    Ons is moeg, Here,

    uitgeput en verslae

    voor soveel geweld in ons land.

    Ons wil kla en bitter word.

    Ons is jammer vir onsself.

    Ons hart word hard teenoor die pyn van ander.

    Nog ’n sterfte laat ons koud.

    ’n Weduwee se trane val onopgemerk.

    Kinders erf hulle ouers se bitterheid.

    Woorde van geweld

    ontplof in dade van geweld

    deur jong hande

    wat sinnelose pyn en vernietiging bring.

    Here, wees ons genadig.

    Lei ons tot verootmoediging,

    sodat ons sal vergewe

    en vergewe sal word.

    THOMAS A. PATTERSON

    Here God,

    niemand kan weer aanmekaarsit

    wat tot stof vergaan het nie.

    Maar U kan in ’n gewete so koud soos as,

    weer ’n vlammetjie van meegevoel en berou aanblaas.

    U kan ’n hooploos verlore siel red en genees

    tot nuwe lewe.

    U kan in die geweld en haat in ons land,

    in die koue, berekende harte van geweldenaars,

    verlossing en vernuwing bring.

    Want U is die Skepper,

    en u Gees die Herskepper,

    deur u Seun se onselfsugtige lewe en sterwe.

    Doen dit vir ons land, o Here!

    GREGORY PETROV

    Dit is beter om te bid met ’n hart sonder woorde as met woorde sonder ’n hart.

    JOHN BUNYAN

    14 JANUARIE

    Lees Matteus 11:25-12:8 Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee (Matt 11:28).

    Elke dag, ú dag

    Genadige God,

    my siel het geword

    soos ’n groot pakhuis

    waarin vragtrokke dag vir dag

    hulle vrag kom aflaai,

    ongeorden en holderstebolder,

    totdat die hele ruimte

    van bo tot onder gevul is

    met onbenullighede,

    gemeenplase, nietighede,

    vervelende roetine.

    Leë woorde en sinlose aktiwiteit,

    oppervlakkige belange en

    die pretensie van belangrikheid,

    vul my hart in ’n nimmereindigende stroom.

    Maar dit help nie om daarvan te ontvlug nie.

    As ek deur die dag by U wil uitkom,

    sal dit met ’n pad moet wees

    wat deur my doodgewone bestaan loop.

    Ek sal moet leer om van elke dag ú dag te maak.

    Terwyl die eise van die wêreld my besig hou,

    sal ek tegelykertyd moet besig bly

    met U.

    Met U, die Enigste wat werklik saak maak

    in alles wat ek doen.

    Voor U smelt alle veelheid saam

    tot eenheid;

    word alles wat verward en verwilderd was,

    verenig.

    Alles wat deur die dag verstrooi word en uitgerafel raak,

    kom tot eenheid en rus

    in U wat liefde is.

    KARL RAHNER

    O God, help my om U nie te onderbreek met my geklets nie, maar om my ore oop te hou vir die klein, stil stem waarmee U daglank met my praat.

    PHILLIPS BROOKS

    15 JANUARIE

    Lees Romeine 8:18-30 Daarby het Hy die belofte van hoop gegee: die skepping sal self ook bevry word van sy verslawing aan die verganklikheid … (Rom 8:20-21).

    Sprankies van God se koninkryk

    Ek dank u, hemelse Vader,

    vir u Woord wat my verseker dat

    hoe nutteloos ook al

    die dinge wat ons vir U doen, mag lyk,

    hoe donker ook al die nag

    om en in ons bly,

    hoe gering ook al ons reaksie

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1