Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Ryker as Dawid: Oordenkings oor Psalms
Ryker as Dawid: Oordenkings oor Psalms
Ryker as Dawid: Oordenkings oor Psalms
Ebook275 pages3 hours

Ryker as Dawid: Oordenkings oor Psalms

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Mense is soms geneig om te dink die Ou Testament is nie relevant vir die tyd waarin ons leef nie. Die teendeel is egter waar! In Ryker as Dawid gaan kyk die skrywers spesifiek na die relevansie wat die Psalms vandag vir ons het. Sodoende ontsluit hulle die belangrikheid en die betekenis daarvan, in die lig van Jesus Christus wat gekom het om ons te verlos. Soos altyd is hierdie Bybelstudieboek ideaal vir selfstudie of studie in ’n groep. Lesers sal met nuwe oë na die Psalms kyk en dit sal opnuut betekenis kry. Ontdek saam met Hennie en Maretha hoe ons as gelowiges vandag ryker as Dawid is omdat ons met Jesus Christus beklee is. Want danksy Hom is ons ryker as Dawid. Sien hoe die Ou- en die Nuwe-Testamentiese Skrif saam ’n simfonie van lof en genesing, liefde en trou word.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateDec 12, 2012
ISBN9780796315939
Ryker as Dawid: Oordenkings oor Psalms

Related to Ryker as Dawid

Related ebooks

Related articles

Reviews for Ryker as Dawid

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Ryker as Dawid - Maretha Maartens

    9780796315939.jpg

    Ryker as Dawid

    Oordenkings oor Psalms

    Bybelstudie vir kleingroepe en individue

    Skrywer

    Maretha Maartens

    Navorser

    Hennie Maartens

    LUX VERBI

    Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang.

    – Joh 1:16 –

    Ryker as Dawid is vir jouself

    Ryker as Dawid is ’n persoonlike reis na ’n dieper kennis van die God van wie Paulus skryf:

    As God eenmaal aan mense sy genadegawes geskenk en hulle geroep het, trek Hy dit nooit weer terug nie.

    O diepte van die rykdom en wysheid en kennis van God! Hoe ondeurgrondelik is sy oordele, hoe onnaspeurlik sy weë!

    "Wie ken die bedoeling van die Here? Wie gee Hom raad?

    Wie bewys Hom ’n guns, sodat Hy verplig is om iets terug te doen?"

    Uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Aan Hom behoort die heerlikheid tot in ewigheid! Amen (Rom 11:29, 33–36, 1983-vertaling).

    Om jou in die Psalms te verdiep, is om in die magtige krag in te gaan

    van één Woord,

    één boodskap van God se liefde en trou

    en één verbond.

    Werk rustig. Ryker as Dawid is ’n boek sonder datums en sonder druk.

    Vertoef waar die Gees van God jou wil laat vertoef.

    Bid waar jou hart van verwondering en dankbaarheid wil breek.

    Keer terug na wat jy nodig het.

    Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang (Joh 1:16, 1983-vertaling).

    Jy ook.

    Ryker as Dawid is vir Bybelstudie- en selgroepe

    Om julle in die Psalms te verdiep, is om as Bybelstudie- of selgroep in die magtige krag in te gaan

    van één Woord,

    één boodskap van God se liefde en trou

    en één verbond.

    Dit is om by gladde clichés verby gelei te word

    — dis nie waar God ons wil hê nie.

    Wy soveel weke (of maande) as wat julle wil aan die nagaan en bespreking van die inhoud van hierdie boek.

    Ryker as Dawid is ’n Bybelstudieboek wat ’n groep laat vertoef waar die Gees van God die groep en die individuele gelowiges in die groep wil laat vertoef.

    God sal julle seën, daar waar julle saam om sy Woord is.

    Hy seën dié wat Hom dien, klein en groot (Ps 115:13).

    Julle ook.

    Sewe opmerkings

    Hierdie opmerkings is bedoel vir dié wat Ryker as Dawid as ’n handleiding vir ’n Bybelstudie- of selgroep wil aanwend.

    1 Daar is psalms en daar is Nuwe-Testamentiese Skrif

    In Ryker as Dawid vind jy Ou-Testamentiese psalms (nogal voor die hand liggend!) met Nuwe-Testamentiese Skrif daarby.

    2 Daar is onderafdelings in die Ou-Testamentiese psalms

    In elke Ou-Testamentiese psalm is daar onderafdelings aangebring. Dié onderafdelings laat jou regtig verstaan waaroor die psalm gaan.

    In elke klaagpsalm is daar byvoorbeeld ’n minimum van vyf onderafdelings. Dit wys die Ou-Testamentiese geestelike dissipline uit waardeur ’n gelowige van die duisternis na die lig, van radeloosheid na sekerheid beweeg. Daar is baie klaagpsalms in die boek Psalms … jy en jou groep gaan ook ontdek hoe om triomfantelik in die geloof te leef!

    3 Daar is baie Skrifverwysings

    Die inskrywings in die Nuwe Testament-segment van elke hoofstuk kan in die vorm van ’n gebed wees. Soms is dit ’n teks-vir-teks-uitwysing van die vervulling van Ou-Testamentiese beloftes. Daar is geen vaste vorm nie, maar daar is altyd Skrifverwysings, hetsy in die voetnote of ná ’n versreël of bede. Alles gaan oor daardie Skrifgedeeltes. Slaan hulle na. Lees hulle. Laat dié Skrifgedeeltes die grondslag en die kern van jul Bybelstudiegeleentheid wees.

    4 Daar is eenheid

    Ryker as Dawid is ’n studieboek oor één God, één Woord, één verbond. Hierin herontdek jy die Ou Testament en die Nuwe Testament as één geskiedenis van God se liefde en trou.

    5 Daar is tussenhoofstukke

    Tussen die psalms is daar tussenhoofstukke. Jy sal hoofstukke in die reeks vind oor die verbond, die Naam van die Here, Bybelse feeste, ensovoorts. Daar is ook hoofstukke oor argeologiese ontdekkings wat vir sommige gelowiges baie opwindend kan wees.

    Die tussenhoofstukke werp lig op die inhoud en die agtergrond van ’n spesifieke psalm of groep psalms. Ons beveel die tussenhoofstukke vir dieptestudie aan.

    6 Daar is een lewensveranderende tussenhoofstuk

    Ons dink die inhoud van die tussenhoofstuk Een Woord tussen Psalm 5 en Psalm 6, is lewensveranderend, dat jy en jou groep daardeur oorweldig sal word, en dat julle God ná die deurwerk daarvan met groter verwondering en dankbaarheid sal aanbid.

    7 Daar is feite oor God en oor jou in die psalms

    Die waarheid van God is groter as enigiets wat die mens kan bedink.

    Hoe om Ryker as Dawid as ’n groep te gebruik

    Die voorafgaande sewe opmerkings bevat riglyne vir die gebruik van Ryker as Dawid as ’n Bybelstudie- of selgroephandleiding wanneer julle die psalms as ’n kosbare segment van een Woord en een verbond wil bestudeer.

    Lees al die Skrifgedeeltes wat in die betrokke hoofstuk aangedui word. Alles wat verder tydens jul Bybelstudiegeleentheid gaan gebeur, gaan hieruit voortvloei.

    Gebruik die volgende ses vrae by elke geleentheid as die besprekingsvrae. Die belangrikste vraag is die vraag oor God. Keer gedurigdeur terug na hierdie vraag. God openbaar Hom in en deur die Skrif aan ons. God wil Hom deur sy Woord aan julle openbaar. Moet niks of niemand toelaat om Hom tydens jul Bybelstudiebyeenkoms selfs net ’n paar minute lank te verdring nie.

    Twee inleidende vrae

    1. Wat het jy gehoop en gewens om in dié psalm (of tussenhoofstuk) te kry?

    2. Wat het jy verwag om in dié psalm (of tussenhoofstuk) te vind?

    Twee vrae oor die mens se emosies, wil en verlangens

    3. Hoe is die Ou-Testamentiese mens volgens dié psalm? Hoekom? Is ons nog so?

    4. Wat verander (of kan verander) wanneer ons in Christus is? Hoe en hoekom?

    Die kernvraag: die vraag aangaande God

    5. Wat het God nou vir jou deur sy Woord aangaande Homself openbaar?

    Die besinningsvraag: Wat wil jy vir God sê?

    6. Hier kan elke lid van die Bybelstudiegroep vyf minute lank in ’n aantekeningboekie persoonlike aantekeninge maak.

    Bring lof en eer aan God en aanbid Hom.

    Psalm 1

    Die twee weë

    1. WELGELUKSALIG is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie;

    2. maar sy behae is in die wet van die HERE, en hy oordink sy wet dag en nag.

    3. En hy sal wees soos ’n boom wat geplant is by waterstrome, wat sy vrugte gee op sy tyd en waarvan die blare nie verwelk nie; en alles wat hy doen, voer hy voorspoedig uit.

    4. So is die goddelose mense nie, maar soos kaf wat die wind verstrooi.

    5. Daarom sal die goddelose nie bestaan in die oordeel en die sondaars in die vergadering van die regverdiges nie.

    6. Want die HERE ken die weg van die regverdiges, maar die weg van die goddelose sal vergaan.

    Ryker as die Psalmskrywer

    • Langs Psalm 1 galm nou ook die blye boodskap aangaande Jesus Christus: [D]ie Woord het vlees geword en het onder ons gewoon – en ons het sy heerlikheid aanskou, ’n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom – vol van genade en waarheid (Joh 1:14).

    • Langs die wete van die psalmis dat elke mens sy/haar eie heil uitwerk deur die keuses wat hy/sy gedurigdeur maak, staan Jesus Christus met God se heilsboodskap aan die hele mensdom: Jou heil, jou lewe, die waarheid wat jy soek, jou lewensin, jou redding, jou hoop en jou veiligheid is ’n Persoon. Jesus Christus sê: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie (Joh 14:6, 1983-vertaling).

    Jesus Christus is die weg wat na die lewe lei

    1. Geseënd is jy wat in Jesus Christus glo

    want God het jou uit genade gered.¹

    En omdat jy in Christus is, het alles – die bron van jou wysheid,

    jou denke en jou verhoudings – nuut geword.²

    2. Hoe lief het jy die Woord van God,

    want dit is die kennis tot geloof in Jesus Christus.³

    Hoe ononderhandelbaar en suiwer

    is die groot gebod vir jou: om God bo alles lief te hê

    en jou medemens so lief soos jouself.

    3. Jesus Christus sê: "Wie in My [as die Wingerdstok] bly, en Ek in hom,

    hy dra veel vrug; want sonder My

    kan julle niks doen nie."

    4. Jesus Christus het in ’n liggaam soos ons s’n na die wêreld gekom –

    God uit God, Lig uit Lig, Een met die Vader –

    en sy eie mense het teen Hom as die Verlosser gekies.

    5. Hoor tog, skuldbelaaide, uitgeputte mens:

    God het sy Seun nie na ons wêreld gestuur

    om die mense van die aarde te veroordeel nie,

    maar sodat verlorenes deur Hom gered kan word.

    Hy wat in Jesus Christus glo, word nie veroordeel nie;

    maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel

    omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie.

    6. Niks in die heelal is vir God onsigbaar nie.

    Alles lê oop en bloot voor Hom aan Wie ons rekenskap sal moet gee.

    Medereisiger deur die aardse landskap,

    Jesus het die blye boodskap van God vir ons gebring:

    "Die koninkryk van God het naby gekom.

    Bekeer julle! Glo die boodskap van genade en redding.

    In die hemel sal daar groter blydskap wees

    oor een sondaar wat hom bekeer,

    as oor nege en negentig mense wat reg doen

    (die voorskrifte van die Wet nakom)

    en (in die dwase illusie verkeer dat hulle wat soveel goeie dinge doen)

    nie bekering nodig het nie."

    Langs Psalm 1 staan Jesus Christus.

    Die weg is ’n Persoon.

    Besprekingsvrae

    1. Wat het jy gehoop om in dié psalm te kry?

    2. Wat het jy verwag om in dié psalm te vind?

    3. Hoe is die Ou-Testamentiese mens volgens dié psalm? Waarom sê jy so? Is ons nog so?

    4. Wat (kan) verander wanneer ons in Christus is? Hoe en hoekom sê jy so?

    5. Wat het God nou vir jou deur sy Woord aangaande Homself openbaar?

    6. Wat wil jy vir die Here sê?

    1. Efesiërs 2:8

    2. 2 Korintiërs 5:17

    3. 2 Timoteus 3:15

    4. Matteus 22:37–40

    5. Johannes 15:5

    6. Johannes 1:1, 11

    7. Johannes 3:17, 18 (1983-vertaling)

    8. Hebreërs 4:13 (1983-vertaling)

    9. Lukas 15:1–7

    Psalm 2

    Die stryd en oorwinning van die Messias

    1. WAAROM woel die nasies en bedink die volke nietige dinge?

    2. Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê:

    3. Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!

    4. Hy wat in die hemel woon, lag; die Here spot met hulle.

    5. Dan sal Hy hulle aanspreek in sy toorn, en in sy grimmigheid sal Hy hulle verskrik:

    6. Ék tog het my Koning gesalf oor Sion, my heilige berg.

    7. Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer.

    8. Eis van My, en Ek wil nasies gee as u erfdeel en die eindes van die aarde as u besitting.

    9. U sal hulle verpletter met ’n ysterstaf, U sal hulle stukkend slaan soos ’n erdepot.

    10. Wees dan nou verstandig, o konings; laat julle waarsku, o regters van die aarde!

    11. Dien die HERE met vrees, en juig met bewing.

    12. Kus die Seun, dat Hy nie toornig word en julle op die weg vergaan nie; want gou kan sy toorn ontvlam. Welgeluksalig is almal wat by Hom skuil!

    Ryker as die Psalmskrywer

    • Langs Psalm 2 staan nou ook die magtige werklikheid van die onaantasbare koningskap van Christus en ’n oorwinnaarslewe in Hom.

    • Langs die Ou-Testamentiese werklikheid van die aanslag teen die volk van die onsienlike God en elke koning wat Hom verteenwoordig het, is daar die werklikheid van die aanslag teen Jesus Christus, die Een in Wie die volle wese van God beliggaam is, Hy Wie se menswording Goddelike misterie is: "Hy is die Beeld van die onsienlike God, die Eersgeborene van die hele skepping; En Hy is voor alle dinge, en in Hom hou alle dinge stand. Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen nadat Hy vrede gemaak het deur die bloed van sy kruis" (Kol 1:15, 17, 19–20).

    • Langs die waarskuwing aan die heersers van die Antieke Wêreld om die God van Israel as die enigste God in eerbiedige vrees te dien, staan nou ook die genadeboodskap van God se Gestuurde: Die tyd is vervul en die koninkryk van God het naby gekom; bekeer julle en glo die evangelie (Mark 1:15).

    Oorwinning van die Messias en die gereddes

    1–3. Drie-enige God, ons hoor uit die mond van die Seun en deur die apostels

    dat die oorlog teen die Seun en sy gesag tot sy koms sal voortduur

    en dat dié oorlog baie gestaltes het:

    vervolging van dié wat aan Christus behoort en sy wil doen,

    gevangenskap en marteling;¹⁰

    verkleinering, terrorisering, marginalisering, miskenning, hoon en smaad¹¹

    in al die dimensies van ons aardse bestaan

    en, in hierdie laaste uur, ook in die kerk

    waarvandaan baie antichriste uitgegaan het, nou uitgaan en sal bly uitgaan:

    Hulle is nie van ons nie.

    As hulle van ons was, sou hulle by ons gebly het,

    maar nou het dit duidelik geword dat hulle nie almal van ons is nie.¹²

    O, HERE, die oorlog teen die sagte juk van Jesus¹³

    en die loskoopprys van die bloed van die Lam van God¹⁴

    is ook ’n oorlog wat soos vrede lyk:

    die toegeeflikheid van geloofsvermenging,

    tegemoetkomendheid tot die dood toe,

    die kontaminering van die ononderhandelbare waarheid

    dat die volle wese van God in Jesus van Nasaret beliggaam word,

    dat al die volheid van God in Hom woon.¹⁵

    4–9. En so, HERE, was die strydbestaan van ’n klein beleërde volk

    met konings wat deur die heidennasies gehaat is,

    die skadubeeld van die haat waarmee die Christus gehaat en gekruisig is¹⁶

    en die beleëring van dié wat aan Hom behoort.

    Vader, ons leef seëvierend in oorlogsrumoer en verraderlike vrede –

    seker van die almag van ons God:

    U wat Christus uit die dood opgewek het en u heerskappy met Hom deel.

    Vader, ons eer die Seun vir sy oorwinning oor elke owerheid en mag,

    elke krag en gesag in ons bestaan en op die aarde.¹⁷

    10–12. Aan jou wat glo dat jy baie wysheid het,

    jy wat die mantel van mag en invloed dra:

    Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.¹⁸

    Verwerp nie die bloed van die Lam nie.

    Aanbid die Seun wat God met ons geword het.

    Geseënd is ’n lewe van geloof in God, in die Woord en in die Seun!¹⁹

    Langs Psalm 2 staan daar die finale waarheid aangaande die Messias en die gereddes: Wie anders is dit wat die wêreld oorwin as hy wat glo dat Jesus die Seun van God is? (1 Joh 5:5, 1983-vertaling).

    Besprekingsvrae

    1. Wat het jy gehoop om in dié psalm te kry?

    2. Wat het jy verwag om in dié psalm te vind?

    3. Hoe is die Ou-Testamentiese mens volgens dié psalm? Waarom sê jy so? Is ons nog so?

    4. Wat (kan) verander wanneer ons in Christus is? Hoe en hoekom sê jy so?

    5. Wat het God nou vir jou deur sy Woord aangaande Homself openbaar?

    6. Wat wil jy vir die Here sê?

    10. Matteus 5:10; Matteus 24:9; Lukas 21:16; Openbaring 12:17, 19:19

    11. Matteus 5:11; Lukas 6:22; 1 Petrus 4:14; Matteus 10:22; Romeine 8:36

    12. 1 Johannes 2:18–19

    13. Matteus 11:28–29

    14. 1

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1