Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Jesus vir almal: Die gay-gesprek in die kerk
Jesus vir almal: Die gay-gesprek in die kerk
Jesus vir almal: Die gay-gesprek in die kerk
Ebook202 pages4 hours

Jesus vir almal: Die gay-gesprek in die kerk

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Neels Jackson glo dat godsdiens grootliks gaan oor die navolging van Jesus. Vir hom het Jesus se liefde egter implikasies vir die gay debat. Jesus se liefde vir gay mense moet verstaan word in die lig van Jesus se liefde vir die randfigure van sy tyd. Die skrywer ontleed die sewe gay-tekste in die Bybel binne die konteks waarin dit geskryf is en  vul sy argument aan met die behandeling van 'n misverstande en ander argumente wat gaywees veroordeel. 
 
 
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateAug 18, 2020
ISBN9780796322500
Jesus vir almal: Die gay-gesprek in die kerk
Author

Neels Jackson

Neels Jackson het naam gemaak as ’n ingeligte, verantwoordelike en kundige verslaggewer oor godsdienssake. Hy het goeie betrekkinge met ’n groot aantal teoloë en met kerkleiers uit verskillende denominasies. Hy was sedert 1990 die kerkverslaggewer vir die Beeld, die Pretorianer en ander Media24 blaaie. Neels is o.m. uitgenooi na sinodesittings van die NG Kerk, die NG Kerk in Afrika, die destydse NG Sendingkerk, die Verenigende Gereformeerde Kerk, die Metodiste Kerk en die Anglikaanse Kerk. Hy is pas aangestel as redakteur van die Kerkbode. Hy woon saam my sy vrou en twee dogters in Pretoria.

Read more from Neels Jackson

Related to Jesus vir almal

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Jesus vir almal

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Jesus vir almal - Neels Jackson

    Inleiding

    Hierdie boek is ’n persoonlike getuienis. Ek deel hierin van die insigte en oortuigings waartoe ek deur die jare gekom het.

    Ek was bevoorreg om byna drie dekades lank te werk as joernalis wat my hoofsaaklik op kerksake toegespits het. Dit het meegebring dat ek baie naby aan die kerklike gesprekke en besluitnemingsprosesse beweeg het. Ek het die voorreg gehad om die sleutelmense in die kerklike gesprekke te leer ken, om te hoor hoe hulle dink en om dikwels self met hulle in gesprek te tree. Dit het mense oor die wye spektrum van kerke en kerklike standpunte oor uiteenlopende sake ingesluit.

    Onvermydelik het dit my ook die geleentheid gegee om my sienings te weeg en te slyp. Dit het aan my ’n uitsonderlike geleentheid tot persoonlike groei, ook persoonlike geloofsgroei, gebied. Dit is van die wonderlike skatte wat ek in die proses ontdek het, en wat ek in hierdie boek wil deel.

    Die belangrikste hiervan was dat ek nuut moes leer dink oor Jesus, en daarom nuut moes leer dink oor God.

    Ek het in ’n Christelike omgewing grootgeword. In die huis, by die skool, in die kerk en deur die samelewing is my siening van Jesus gevorm. Maar in ’n stadium het ek die Evangelies begin lees en ontdek dat my persepsies van Jesus en dít wat in die Bybel oor Jesus staan, in baie opsigte nie klop nie.

    Dít was die grootste kopskuif, die grootste bekering van my lewe. Maar dit was ook die begin van ’n avontuur wat steeds voortduur: om Jesus beter te leer verstaan. Dit is waaroor die eerste en grootste deel van hierdie boek handel.

    Maar dit is nie genoeg om iets van Jesus te verstaan nie. Hy vra ook dat ons Hom sal volg. En dit is nie altyd so maklik nie. Kyk maar hoe verskil Christene oor die wêreld heen oor gaywees en oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag. Dit was veral in die afgelope twee dekades dat die gesprek hieroor ’n groot besprekingspunt in kerke geword het.

    As joernalis het ek in hierdie tyd die geleentheid gehad om met talle gay mense en met mense naby aan hulle te gesels. Ek kon hulle lewensverhale hoor en ek kon hulle geloofsworstelings hoor. Nêrens anders in die kerk het ek soveel pyn gesien en gehoor soos in die verhale van gay mense in die kerk nie.

    Dit is een van die dryfvere agter die skryf van hierdie boek. Ek hoop dat dit ’n bydrae sal lewer om, in navolging van Christus, die kerk ’n vriendeliker plek vir gay gelowiges te maak. Ek hoop dit help die kerke en die lidmate van kerke om met sagter oë na hulle gay broers en susters te kyk.

    ’n Verdere belewenis wat ek in hierdie tyd gehad het, was hoe ’n kerk verdeeld en gepolariseer kan raak. Spesifiek in die NG Kerk waarvan ek lidmaat is, het dit die afgelope jare erg geword.

    Die NG Kerk is die kerk waarin ek gedoop is, waarin my geloof gevorm is, voor en nadat ek belydenis van geloof in dié kerk afgelê het. Dit is die kerk waarin ek getroud is en waarheen ek en my vrou ons kinders gebring het om gedoop te word. Dit is die kerk waar ons harte lê.

    En nou is ons kerk verdeeld, dalk dieper verdeeld as ooit tevore. En dit oor gay verhoudings. Ek hoop om by te dra dat daar in die kerk groter begrip sal kom vir die oortuigings waartoe ek gekom het.

    Daar is baie verkeerde persepsies, onder meer dat ’n mens die Bybel moet ontken of ignoreer as jy die oortuigings het waartoe ek gekom het. Dit is eenvoudig nie waar nie. Dit is juis omdat ek die Bybel ernstig opneem dat ek tot hierdie oortuigings gekom het. Dit is juis op grond van die Bybel dat ek pleit dat gay mense met hulle seksualiteit, hulle verhoudings en al die ander wonderlike aspekte van hulle menswees in die kerk verwelkom moet word. Nie bloot aanvaar moet word nie, maar met oortuiging verwelkom moet word.

    My nuwe verstaan van wie Jesus is, het heeltemal los van die gay gesprek ontwikkel. Baie daarvan het gebeur nog voordat die gay debat in die kerk vlam gevat het.

    Daarom dat ’n mens Deel 1 wat oor Jesus gaan, los van die gesprek oor gaywees kan lees. Die insigte wat ek uit die Bybel oor Jesus gekry het en wat ek in Deel 1 van die boek deel, gaan oor baie meer as hoe ’n mens dink oor gay mense en die kerk. Die implikasies daarvan strek tot by baie ander kwessies, soos hoe ’n mens dink oor armoede en rykdom, oor manlikheid en vroulikheid, oor ras, oor gesinsverhoudings, oor die politiek. Dit is grondliggend tot hoe ek oor die hele lewe dink.

    In Deel 2 skryf ek oor gay mense en wat ek oor hulle geleer het. Eers in Deel 3 bring ek dan die insigte van Deel 1 en Deel 2 bymekaar. Dan probeer ek uiteensit hoe ek die implikasies van alles wat ek oor Jesus geleer het vir die kerklike gesprek oor gay mense verstaan.

    Ek kan dink dat mense vir wie die saak oor die kerk en gay gelowiges baie belangrik is direk na Deel 3 van die boek sou wou gaan. Ek wil hulle vra om geduldig te wees en veral Deel 1 deeglik te lees. Daar lê die onderliggende en bepalende insigte vir die oortuigings waartoe ek gekom het. Hoewel ’n mens Deel 1, oor Jesus, los van die res van die boek kan lees, kan jy die res van die boek, dink ek, nie werklik begryp as jy nie Deel 1 goed gelees en verstaan het nie.

    Laastens, eintlik as ’n soort aanhangsel, probeer ek ’n aantal misverstande opklaar. In Deel 4 skryf ek oor van die interpretasies van Bybelgedeeltes en sommige van die argumente wat ’n mens in die kerklike gesprek hoor. Dit is argumente wat dikwels met groot opregtheid en groot erns gevoer word, maar wat ek meen op misverstande berus.

    Ek hoop dat hierdie boek sal help. Ek hoop dit help gay mense. Ek hoop dit help die familie en vriende van gay mense. Ek hoop dit help die kerk. Ek hoop dit kan ’n bydrae lewer om wonde te help genees. Gay mense se wonde, maar ook die wonde in die kerk.

    Ek dink dit is wat Jesus wil hê moet gebeur.

    Neels Jackson

    Maart 2020

    Deel 1

    ~

    Wie is Jesus?

    Hoofstuk 1

    ~

    Jesus is die Here

    Ek begin hierdie gedeelte oor Jesus met ’n gebed:

    Grote God, U is so gans anders as ons.

    U is in soveel opsigte onbegryplik,

    maar dankie dat U nie onbekend is nie.

    Dankie dat U u Godwees in menswees vertaal het.

    Dankie dat U Uself in Jesus van Nasaret aan ons

    kom toon het.

    Dankie dat die verhale oor Jesus vir ons opgeteken is.

    Dankie, Jesus, dat U nou deur u Gees lewend by ons is.

    Help ons nou om die verhale oor U goed te verstaan,

    sodat ons beter kan weet wie U is,

    wie God is.

    Amen.

    Twee bakens

    Ek het grootgeword met die gedagte dat Jesus die oppergesag in my lewe is.

    As klein seuntjie sou ek dit natuurlik nie in sulke woorde gesê het nie. Maar of ek dit nou so kon sê of nie, ek het dit van kleins af verstaan. Jesus is die hoogste en finale gesag, want Hy is God. Hy het die laaste sê.

    Eers baie jare later sou ek leer dat dit in wese die eerste belydenis van die vroegste kerk was. Daardie eerste groepie gelowiges wat ná Jesus se hemelvaart en die uitstorting van die Heilige Gees ’n nuwe beweging begin het, het bely: Jesus is die Here.

    Ons lees hierdie belydenis reeds in die Nuwe Testament raak. In Romeine 10:9 staan daar: As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word. Hierdie belydenis is die toetssteen van die Christelike geloof. Daarom staan daar in 1 Korintiërs 12:3 dat niemand kan sê: Jesus is die Here nie, behalwe deur die Heilige Gees.

    Vir die eerste volgelinge van Christus wat uit die Joodse geloof gekom het, was hierdie belydenis ’n voortsetting van die woorde in Deuteronomium 6:4, wat die hoeksteen van die Joodse geloof gevorm het: Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here.

    Ek is dankbaar dat hierdie belydenis steeds die belydenis van my hart is. Ek kan vandag bely dat Jesus ook my Here is. My verstaan van dié belydenis het gegroei, sodat dit nie meer presies dieselfde as destyds is nie, maar ek bely dit met groter oortuiging as ooit tevore. Ek sing graag Lied 177 uit die Liedboek van die kerk:

    Jesus, gróót bo almal –

    sterke Verlosser, magtige Heer en Heiland,

    Immanuel – God is met ons –

    reddende Here, lewende Woord.

    ’n Tweede gedagte waarmee ek grootgeword het, is dat die Bybel die Woord van God is. Dit is die bepalende koersaanduider vir my lewe. Dit is die boek waardeur ons God leer ken, maar ook die boek waardeur ons God se stem hoor.

    Ook dít is ’n oortuiging waarby ek steeds staan, ook met meer oortuiging as toe ek ’n seuntjie was. Maar ook wat dit betref, het ek geleer om beter te verstaan wat ek daarmee bedoel.

    Hierdie twee oortuigings – dat Jesus die Here is en dat die Bybel die Woord van God is – is die hoekstene van my geloof. Dit is daarom ook my vertrekpunte vir enige gesprek oor die geloof, en spesifiek vir die gesprek oor verhoudings tussen mense van dieselfde geslag.

    Dit is egter ongelukkig so dat Christene, mense wat hulle geloof in die drie-enige God bely, nie hierdie kernbelydenisse op dieselfde manier verstaan nie.

    Self verstaan ek dit anders as toe ek dit as seuntjie aangeleer het. Daar was baie spesifieke ervarings wat my gehelp het om in my verstaan van hierdie belydenisse te groei. Ek deel ’n paar van hierdie ervarings in hierdie boek om daardeur te vertel wat ek oor Jesus en die Bybel geleer het, en hoe ek geleer het om Jesus en die Bybel te verstaan.

    Die Bybel

    Toe ek ’n klein, klein seuntjie was, het my ma en my susters elk ’n hoed gehad wat hulle kerk toe gedra het. Dit was hoe dit was: Vroue het hoede gedra kerk toe, soos mans dasse kerk toe gedra het.

    En toe, iewers in my vroeë laerskooljare, bars daar ’n groot debat in die kerk uit oor of vroue wel ’n hoed kerk toe moet dra. Dié debat is onder meer in koerante se briewekolomme gevoer en ek het dit met aandag gelees – waarskynlik nie omdat die dra van ’n hoed vir my ’n belangrike saak was nie, maar omdat ek nuuskierig was, en dalk omdat ek toe al ’n aanvoeling gekry het dat dit hier oor baie meer as hoede gaan. Dit gaan oor die Bybel, en oor hoe ons verstaan wat in die Bybel staan. Die Bybel is immers die Woord van God.

    Ek onthou dat daar destyds dominees was wat vroue by die kerk uitgejaag het as hulle sonder ’n hoed daar sou opdaag. Of as die ietsie wat hulle as ’n soort hoofbedekking gedra het, volgens die dominee se sin, te skraps was. Sommer so van die kansel af, as die dominee so ’n vrou in die banke vol mense voor hom sou opmerk, sou hy haar betig en uit die kerk wegstuur.

    Sulke dominees het ’n Bybelgedeelte gehad waarop hulle hulle beroep het: 1 Korintiërs 11. In dié gedeelte, van vers 2 tot 16, word daar in soveel woorde gesê dat ’n vrou tydens die erediens iets op haar kop moet dra. En dit is nie net ’n losstaande opmerking nie. Daar word ’n hele argument gevoer om dit te regverdig.

    Maar toe kom daar ’n verduideliking wat gou deur die hele kerk aanvaar is: Ons moet die voorskrif dat ’n vrou vir die erediens iets op haar kop moet sit, verstaan as deel van die kulturele konteks van die Bybelse tyd. In die destydse kultuur sou dit vir ’n vrou skandalig gewees het om met ’n kaal kop in die openbaar te verskyn. Sou sy dit doen, sou sy soos ’n prostituut lyk. Paulus se voorskrif het daarom ten doel gehad om daardie skande te vermy. Dit gaan nie oor die hoed as sodanig nie. Dit gaan oor die skandalige gedrag wat vroue behoort te vermy.

    In vandag se kultuur het ’n hoed glad nie meer hierdie kulturele betekenis nie. Dit sou in vandag se kultuur geen skande wees as ’n vrou sonder ’n hoed in die erediens sou verskyn nie. Daarom hoef vroue nie hoede kerk toe te dra nie, al staan dit so in die Bybel. Maar al hou ons nie meer by hierdie letterlike voorskrif nie, sou mense waarskynlik steeds saamstem dat dit nie goed sal wees as ’n vrou haar soos ’n prostituut gedra nie.

    Dit het my ’n belangrike les geleer: Ons kan nie alles wat ons in die Bybel lees net so op vandag van toepassing maak nie. Daar is ’n groot kultuurverskil tussen ons en die gemeenskappe waarin die Bybel ontstaan het. Ons moet, in ons vertolking van die Bybel, die kulturele kontekste van toe en nou in ag neem. Ons moenie net na die woorde kyk wat daar staan nie. Ons moet vra wat die bedoeling met daardie woorde destyds was en wat dit vir vandag sou beteken.

    Ek het ook ’n tweede les oor die Bybel geleer, wat voortgespruit het daaruit dat ek die Bybel en dit wat daarin geskryf staan regtig ernstig wou opneem.

    ’n Mens hoor soms dat mense met nadruk sê hoe belangrik die Bybel vir hulle is, maar as jy ’n bietjie met hulle gesels, kom jy agter hulle lees nie regtig die teks nie. Hulle het so ’n paar godsdienstige idees wat hulle dink uit die Bybel kom, en om dié idees te regverdig of te propageer of te verdedig, beroep hulle hulle op die Bybel. Soms kom daardie idees nie eens regtig uit die Bybel nie.

    Een voorbeeld hiervan is die gedagte dat Jesus sou gesê het ’n mens moet soos ’n kind glo. En dan bedoel hulle jy moet naïef glo, glo sonder om te dink of vrae te vra, blindelings moet glo. Mense glo dit, want hulle glo dit is wat Jesus gesê het. Maar dit is nié wat Jesus sê nie. Jesus sê in Matteus 18:1-5 ons moet soos kinders wórd. Kinders was onbelangrik in die destydse samelewing en Jesus sê ons moet net so onbelangrik word. Dit is iets wat Hy oor en oor op verskillende maniere sê. Ons moet net reg lees.

    Ook waar Jesus in Lukas 18:15-17 sê ons moet die koninkryk soos kindertjies ontvang, sê Hy nooit ons moet naïef glo nie. Dit is eintlik ’n baie vreemde gedagte dat God vir ons die gawe gee om te dink, maar dat ons dit dan nie mag gebruik nie. Dit klop ook nie met die opsomming van die wet nie. Daarin staan tog dat ons God met ons hele verstand moet liefhê.

    Die punt is, ons moet die teks ernstig opneem. Ons moet lees wat regtig in die teks staan en verstaan wat daarmee bedoel word.

    Juis omdat ek die teks ernstig opgeneem en probeer lees het wat regtig in die Bybel staan, het ek onder die indruk gekom van die groot aantal kere dat daar teenstrydighede of oënskynlike teenstrydighede in die Bybel is.

    Vanuit ’n sekere hoek beskou, sou ’n mens selfs kon sê die Bybel is vol foute. Inderdaad is daar dan ook baie mense wat dit sê. Vir my het dit ’n krisis geword. Ek het later gewonder of ’n mens regtig die Bybel nog die Woord van God kan noem.

    Een voorbeeld om dit

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1