Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Geseënd is dié wat treur: Jy is nie alleen in jou verlies nie
Geseënd is dié wat treur: Jy is nie alleen in jou verlies nie
Geseënd is dié wat treur: Jy is nie alleen in jou verlies nie
Ebook164 pages2 hours

Geseënd is dié wat treur: Jy is nie alleen in jou verlies nie

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Hoewel verlies en dood universeel is, hanteer elkeen dit anders. Christene se groot troos is dat God daar is in hulle pyn. In Geseënd is die wat treur beskryf geliefde outeurs hul eie ervarings met verlies, rou en die dood. Ons Christene se grootste troos bly egter dat daar lewe na die dood is: daar is 'n weersiens. Agter in die boek is 'n lys van tekste wat jy in jou Bybel kan gaan naslaan vir verskeie situasies. 
 
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateMay 18, 2022
ISBN9780796322975
Geseënd is dié wat treur: Jy is nie alleen in jou verlies nie
Author

Susan Jordaan

Susan Jordaan is die uitgewer van Lux Verbi. Lux Verbi, ’n Christelike druknaam van produkte met ’n evangeliese fokus, het ontstaan uit die oudste uitgewersmaatskappy in Suid-Afrika, NG Kerk-Uitgewers, wat in 1818 gestig is. 

Related to Geseënd is dié wat treur

Related ebooks

Related articles

Reviews for Geseënd is dié wat treur

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Geseënd is dié wat treur - Susan Jordaan

    Jy is nie alleen in jou verlies nie

    Saamgestel deur Susan Jordaan

    Lux Verbi

    Opgedra aan diegene wat verlies

    ervaar: Mag jy troos vind in Hom

    en weet dat jy nie alleen is nie.

    ’n Storie van drie leë plekke

    ANDRIES CILLIERS

    Die Sondag toe ek in Drieankerbaai bevestig is, was hulle al drie daar: Francois, André en Rachel. Daar was baie ander mense ook, maar hulle drie kon ek nie mis nie. Francois, het ek vasgestel, was al van 1966 af in die gemeente. ’n Instelling op die kerkraad, ’n sagte, liefdevolle mens. Hy het die mense getel, Sondag vir Sondag, ry op en ry af, maar dié Sondag, het hy glimlaggend vir my gesê, kon hy nie almal getel kry nie.

    André was ook op die kerkraad; ’n waardige, stil gryskopman wat gelyk het soos die afgetrede onderwyser wat hy was. Hy het my kom groet en my dadelik vertel dat hy ook op sy dag wou predikant word, en dat die droom om te preek eintlik nou nog in sy hart leef.

    Rachel het ek voor die erediens al ontmoet. Dit was vroeg en die kerk was nog leeg, maar Rachel het agter op haar plek gesit. Ek het nadergestap en myself bekendgestel. Ek is Rachel, het sy geantwoord. Ek het, op my beste dominee-manier, haar welkom geheet. Toe trek sy haarself regop en sê: Ek hoort by hierdie kerk.

    Asof sy wou sê sy moet mý welkom heet, nie ek vir haar nie.

    Sy het ’n swaar lewe gehad, dit kon ’n mens op haar gesig sien. ’n Tyd lank was sy op straat, toe kry sy werk as skoonmaker by ’n gebou hier in Seepunt. ’n Klein vroutjie, met haar wit kopdoek laag oor die voorkop, haar oorjas netjies gestryk. Toe ek nou die dag in Rebekah Eklund se boek The Beatitudes Through the Ages die uitdrukking By trials furrowed lees, het dit my aan Rachel se gesig laat dink: die diep vore van jare se swaarkry, die skaam glimlag, die oë wat wegkyk wanneer jy groet en dan weer tog jou oë opsoek.

    Vir Francois en André het ek deur die jaar goed leer ken omdat hulle in my weeklikse Bybelstudiegroep was. Francois het alleen in ’n woonstel in Groenpunt gebly. Toe ek wou kom kuier, sê hy vir my ons moet liewer in ’n koffiewinkel ontmoet. Ons het meermale so gekuier en ek het hom leer ken as ’n alleenmens wat tog baie mense liefgehad het en vir wie mense baie lief was. Al wou hy nooit op die voorgrond wees nie, het almal van hom geweet.

    André het in die Heilsleër se tuiste gewoon. Hoe hy daar beland het en wat die storie agter die onderwyser-uiterlike was, is nie hier ter sake nie. André het seergekry en hy het geweet dat hy seergemaak het. Hy het gereeld vir my oor ’n koppie koffie iewers in Groenpunt ’n bondel papiere met gedigte wat hy geskryf het, of ’n boek wat hy nog wou skryf, in die hand gestop vir kommentaar. Ek dink nie hy het ooit iets klaargeskryf gekry nie.

    Vir Rachel het ek soms hier onder op die Promenade raakgeloop. Meestal was sy vriendelik. As sy ’n sigaret in die hand gehad het, het sy dit so half agterlangs gehou. Soms het sy dit weggegooi asof sy wonder hoe die ding in haar hand beland het. Dan het ons ’n bietjie gesels oor haar werk en sulke dinge, maar sy was nie ’n mens wat jou sommer van haarself vertel het nie. Net so dan en wan was sy nie heeltemal by haarself nie. Dan was sy skaam om die dominee te moet groet. Maar Sondag vir Sondag het sy agter in die kerk gesit, op dieselfde plek, die plek waar sy geweet het sy hoort.

    Toe die pandemie en grendeltyd ons deure Sondae sluit, het ek dikwels op ’n Sondagoggend oorgestap na ons kerkgebou toe, musiek (meestal Handel se Messias) opgesit en iewers in die leë banke gaan sit en bid. Of sommer net gesit. Dan het ek gedink aan die mense wat Sondae hier gesit het, ook aan Francois en André en Rachel. Ek het, sover ek my mense se name kon onthou, vir hulle gebid. Elke Sondag se alleensit in die leë bankie was vir my ’n verlies. Soms was die seer vir my amper te veel.

    Op ’n dag het Francois my gebel. Hy verlang kerk toe. Ek het hom genooi om die Sondagoggend te kom. My vrou, Sonja, het vir hom ’n koffie en eetgoed neergesit, by ’n kers. Sommer vir die mooi sit sy toe ’n string liggies tussen alles deur. Ons het die musiek laat speel en elkeen op ons eie gesit. Toe ek opkyk na Francois sit en huil hy, die string liggies om sy hande gevleg terwyl hy bid.

    André het ek net gesien wanneer ek vir hom iets gaan afgee het by die Heilsleër se tuiste. Rachel het ek later raakgeloop toe ons weer kon gaan stap op die Promenade. Dit was of die lang grendeltyd iets in haar gebreek het. Sy het net iets gemompel en my oë vermy.

    Ons het haar een dag, in grendeltyd nog, moes groet. Sy is doodgery deur ’n dronk bestuurder wat deur die rooi lig by die voetgangersoorgang gejaag het. Agterna sit ek verslae in my studeerkamer en dink aan die klein mens wat so hard uit die lewe gestamp is. Sy het so baie swaar geken, het ek gedink. Dít moes haar nie ook nog getref het nie.

    Iemand het vir my ’n videogreep aangestuur van Rachel wat by die vorige jaar se basaar op die maat van boeremusiek dans. Ek het daarna gekyk en getreur oor Rachel, maar ook gedink: Sy was gelukkig hier. Sy hét gehoort. Sy het tuisgekom. Al verstaan ek niks van hoekom haar lewe so geëindig het nie, weet ek tog dat sy ’n plek gehad het waar ons haar kon groet, nou die dag; dat sy mense gehad het wat haar wou groet. Sy het ’n tuiste gehad waar sy gemis sal word.

    Vir Rachel kon ons darem nog in die kerk groet. André het net weggeraak. Ek het hom eendag probeer bel, toe hoor ek hy is aan ’n hartaanval dood. Ons het die Sondag vir hom ’n kers opgesteek in die kerk, maar behoorlike afskeid was daar nie.

    Francois is ook nie meer met ons nie. Hy het nog, toe eredienste hervat het, Sondag vir Sondag gekom en die mense getel. Die tellery het vinnig gegaan, want die leë plekke was meer as die mense. Een Sondag het hy gebel en verskoning gemaak omdat hy nie lekker voel nie. Ons het die Maandag nog gepraat. Die Woensdag het sy familie gebel en besorg gesê dat hulle nie antwoord kry nie. Ons moes inbreek by die woonstel. Toe ek deurstap, het ek verstaan hoekom hy eerder in die koffiewinkel met my wou gesels. Hy het in die badkamer gelê, netjies aangetrek, asof hy net ’n oomblikkie ingedut het.

    Vir hom kon ons net ’n aanlyn diens hou. Dit voel of ek hom nie ordentlik gegroet het nie, nes dit voel of ek nie vir André en Rachel kon groet, rêrig kon groet nie. Hulle het sommerso weggeraak tussen ons, en ons kon nie eens goed tot stilstand kom en vir mekaar sê hoe seer dit is nie.

    Wanneer ons deesdae erediens hou, tel niemand die mense nie. Ek dink nie iemand sien kans om Francois se werk oor te vat nie. Niemand dra ’n wit kopdoek in die kerk nie. Niemand gee agterna vir my ’n papier met ’n gedig op nie. Die kerk is al weer voller, hoewel nog lank nie soos dit voor die pandemie was nie. Maar ek bly bewus van drie leë plekke. Ek dink amper elke Sondag aan hulle. Soms wens ek sommer ek was Rooms dat ek vir hulle kan bid of hulle kan vra om vir my te bid.

    Verlies, lyk dit my, is om jou keer op keer in leë plekke vas te loop.

    En die kerk, glo ek, moet die plek wees waar mense gemis word as hulle nie daar is nie; waar mense onthou word as ander hulle vergeet.

    Dr Andries Cilliers is tans predikant in die NG kerk Drieankerbaai. Hy het in 2016 die Andrew Murray-prys saam met Coenie Burger gewen. Hy het al nege boeke publiseer.

    ’n Optog van drie

    Barend Vos

    Dit is ’n prentjie wat my elke Sondagoggend opnuut ontroer het: die motor wat knap langs die kerk stilhou, die bestuurder wat uitklim en iets uit die kattebak haal wat hy op die grond oopvou. ’n Rolstoel.

    Dan maak hy die passasierskant se deur oop, buk in, huiwer ’n oomblik koponderstebo, so asof hy sy kragte bymekaarmaak of ’n laaste aanwysing gee. Oplaas beur hy orent, tree agteruit en draai uiteindelik om. Hy het ’n mens in sy arms.

    Sy is nie swaar nie, óf hy is goed sterk. Versigtig sit hy haar in die stoel neer, trek alles aan haar gou reg. Sy kyk op na hom, glimlag. Dit lyk of sy iets sê wat dankie kan wees.

    Agter die rolstoel het daar intussen nog ’n figuur verskyn, ouer en krommer as die een wat die motor bestuur het, wat die handvatsels vasvat en begin stoot. Hulle deel ’n vinnige grappie, dié drie.

    Dis ’n vrolike klein optog wat die kerk binnekom. Daar word na alle kante toe gegroet. Die kerkgangers wat reeds sit, staan op en sommige buk af en soengroet die tenger figuurtjie in die stoel. Sy straal haar glimlag na almal toe. Die stoel word maklik oor die mat in die gangetjie gestuur tot by die plek waar daar lank gelede reeds een kerkbank verwyder is sodat die stoel kan inpas.

    Die kerkgangers wat laat opdaag, gaan maak eers ’n draai by die rolstoel, sit ’n hand op die skraal skouer, wissel ’n paar woorde. Daar word dikwels gelag.

    Voordat die diens begin, leun die jonger man oor en vee die vrou se mond met sy sakdoek af. Dankie, my kind, sê sy en hierdie keer hoor almal.

    Dié storie eindig soos al sulke stories eindig. Op ’n dag was daar net twee persone in die motor wat by die kerk gestop het. ’n Lang, swart voertuig het agter hulle tot stilstand gewieg.

    ’n Man in ’n donker pak het uit die stasiewa geklim en die agterklap oopgemaak. Hy het aan iets begin trek en ’n soort draagbaar het verskyn waarvan die wiele oopgevou het toe hy aan ’n handvatsel pluk. Die draagbaar het ’n trollie geword. Op die trollie was ’n donkerbruin kis.

    Die twee wat uit die voorste motor geklim het, die een wat bestuur het en die ander een, oud en krom, het by die kis stelling ingeneem, heel voor, een aan elke kant. Daar het nog deure geklap en ’n klompie mans het na die swart voertuig gestap en hul onderskeie plekke by die kis ingeneem. Niemand het gepraat of beduie nie; hulle het sekerlik alles vooraf so afgespreek.

    Toe hulle die kis die kerk indra, het almal opgestaan, soos hulle Sondag ná Sondag opgestaan het as die rolstoel-optog binnekom. Maar nou was almal stom.

    Ons het toegekyk hoe die draers nie eens huiwer by die plek waar die kerkbank uitgehaal is nie. Ek het my seker verbeel dat die ouer man so skrams na hul ou sitplek geloer het. Daar het ander mense gesit, vreemdes wat nie geweet het nie. Die draers het die kis op die lang tafel voor die kansel kom neersit.

    Die twee wat voor gedra het, het hul plek ingeneem waar hulle nog nooit in dié kerkgebou gesit het nie – heel voor. Die jonger man het sy sakdoek uitgehaal en eers oor sy pa se voorkop en toe, langsaam, oor sy eie kop en nek gevee. Ek het gesien dat hy die sakdoek byderhand hou. Dit was duidelik dat hulle dié keer swaarder as ooit gedra het.

    Wanneer ek nou hieraan terugdink, is ek dankbaar dat dit alles in die tyd voor die pandemie afgespeel het. By die begrafnis, byvoorbeeld, was die kerk stampvol. Die opkoms was die drie optoggangers waardig.

    Dr Barend Vos is die skrywer van Uit die Beek en het verskeie ander publikasies soos rubrieke en Bybelse romans op sy kerfstok. Hierdie verhaal het oorspronklik in Volksblad verskyn.

    Beloftes wat troosryk vervul word

    Solly Ozrovech

    Ons het die vaste belofte dat God ons nooit sal begewe of verlaat nie. Maar God belowe nie net nie; in sy almag

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1