Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Lindie Stander: Agter my glimlag
Lindie Stander: Agter my glimlag
Lindie Stander: Agter my glimlag
Ebook326 pages5 hours

Lindie Stander: Agter my glimlag

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Lindie Stander was op die kruin van haar loopbaan toe sy in ’n bloedbevlekte bed in ’n staatshospitaal wakker word. Elise Kruger, die karakter wat Lindie in Binnelanders vertolk het, het sonder waarskuwing van kykers se televisieskerms af verdwyn. Lindie het besef dat sy die rol van die geliefde Elise – en haar lewe soos sy dit ken – kwyt is. In haar kenmerkend rou stem vertel Lindie haar hartverskeurende maar tog hoopvolle verhaal soos net sy kan – sonder skroom en met ’n goeie skeut humor.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateSep 17, 2022
ISBN9780624093459
Lindie Stander: Agter my glimlag
Author

Lindie Stander

Lindie Stander is ’n bekroonde aktrise, veral bekend vir haar rol as Elise Kruger in kykNET se Binnelanders. Sy het haar honneursgraad in Drama aan die Universiteit Stellenbosch verwerf waar sy ook toekennings vir haar skryfwerk ontvang het. Sy woon tans in Langebaan en reis gereeld na Johannesburg vir televisiewerk.  

Related to Lindie Stander

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Lindie Stander

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Lindie Stander - Lindie Stander

    Tafelberg

    Sommige name en ander besonderhede is verander om anonimiteit te verseker.

    Ek dra hierdie boek op aan elkeen van ons wat ’n tweede kans gegun word. Kom ons stap saam . . .

    Jy moet kruip! 2012

    Dis middel van die nag en winter. Alles is vaag, maar ek weet waar ek is. In die gang van my huurhuis in Randburg. Ek lê op my maag met net ’n pajamabroek aan. Ek kry koud, maar ek kan nie beweeg nie. Die siellose boodskappe wat my brein na my lyf probeer stuur, kry nie hul pad nie. Van een ding is ek seker: Vannag gaan ek dood. Hierdie was die laaste keer.

    ’n Dommerige paniek kry my beet. Die vyftien slaappille wat my huisdokter, dokter Anna, dae vantevore voorgeskryf het, is inderdaad toe so sterk soos sy gewaarsku het. Met dankbare beloftes aan haar het ek my pilvriendjies huis toe gebring – wetend waarvoor ek hulle uiteindelik gaan inspan.

    Ek hoor stemme. Vrouestemme. Buite die huis, by die vensters. Twee van hulle. Kristalhelder. Hulle praat met mekaar. Oor my.

    Die een sê: Ons moet haar by haar kamer kry . . .

    Die ander een: Sy kan nie . . .

    Iemand roep my naam: Lindie!

    Ek probeer antwoord. Geluide kom by my mond uit, maar dit klink soos ’n onwêreldse taal. Die enigste woorde wat met relatiewe duidelikheid deur die oorblyfsels van my kop maal, is: Jy’s gefok . . . jy’s gefok . . . jy’s gefok . . .

    Lindie! roep een stem weer.

    Hulle probeer inkom . . . dink ek . . . ek dink.

    Waar is sy? kom die ander stem.

    Jy’s gefok . . .

    Lindie, jy moet kruip!

    Gefok . . .

    Lindie, kruip op jou maag!

    Fok . . .

    Terwyl die twee vrouestemme dringend heen en weer met mekaar praat, begin ek die reis gangaf na my kamer.

    Ek wil-wil kwaad raak vir die twee vroumense wat kan sien ek sukkel, maar niks doen nie. Hulle praat net – met mekaar. En met my. Maar dis asof ek vergeet het hoe om my moer te pluk. Asof die ellende van doodgaan jou beroof van elke meganisme wat jou ’n mens maak.

    Lindie, kruip!

    Help . . .

    Nog ’n minuut – of ’n uur, wie sal weet? Die vroumense moedig my aan. Soos moederlike cheerleaders. Hulle is steeds nie in die huis nie, want ek hoor net die stemme buite die vensters. Dalk kan hulle nie inkom nie omdat al die huis se deure gesluit is. Hoewel ek nou nader aan my kamer is, voel dit steeds of ek die ver pad Santiago toe moet stap.

    Santiago . . .

    Ek begin lag. Histeries.

    Jy’s gefok . . .

    ’n Stem: Lindie, asseblief – jy kan nie nou stop nie . . .

    Ek lag. Santiago . . .

    Ek het Santiago toe gestap. ’n Jaar gelede. Agthonderd en sewe kilometer.

    Hou aan, Lindie – moenie stop nie . . .

    Die pyn wat deur my arms skiet toe my vingers aan die spykers van die deurdrumpel vashaak, ruk my terug na iets gelyk aan die hede.

    My lyf ruk. Van die pille . . . die koue . . . of albei. Ek kan nie verder nie. Die bloed onder my naels fassineer my.

    Ek lê nou stil. Op my maag. Met my hande plat op die grond voor my gesig. En ek sien die bloed. ’n Bewys dat ek hier was.

    Die vroumense is stil. Hulle is seker nou weg. Of hulle het my gelos. En dis eensaam.

    Ek kyk stip na die bloed. My bloed.

    My oë val vir oulaas toe: Jy’s gefok . . .

    ’n Laaste benewelde laggie: Jy was hier . . .

    Twee engele ook.

    Onthou jou DNS

    Ek is gebore in 1975 in Hillbrow, Johannesburg. My ma sê Hillbrow was toe nog ’n lekker plek. Sy was ’n groentjieverpleegster by ’n staatshospitaal. My pa was in die polisiemag. Dit was wat grootmense gedoen het ná skool: Hulle het vir die staat gaan werk.

    My broer is drie jaar ouer as ek. Hy was ’n koliekbaba. Eintlik was hy een groot pyn in die hol – vir so lank as wat ek kan onthou.

    My geboorte was heel normaal. Ek was ’n ronde, stil baba. My ma sê ek het net gehuil as ek honger was. Ek het as kind baie uitgevra oor die tyd vóór ek enige iets kon onthou.

    Het my maag ook soos Henkie s’n gepyn? wou ek by my ma weet?

    Nee, jy’t baie geslaap, sou sy antwoord. Jou streke het begin toe jy leer loop het.

    Ons het ’n paar keer verhuis – na plekke waar die polisiemag my pa geplaas het. Uiteindelik het ons in Bellville in die Kaap kom bly.

    My pa se bynaam was Buks. Sy regte naam was André Stander. Gedurende my kinderjare was ek mal daaroor om vir almal te vertel my pa was André Stander. Dan het almal grootoog gewonder of hy die beroemde bankrower was wat in Amerika doodgeskiet is.

    Hy was nie, maar ek het hulle selde reggehelp. Enige aanspraak op roem was van vroeg af vir my ’n dryfveer.

    My pa het ’n stoute humorsin gehad, en hy’t Lion-bier gedrink toe bierbottels nog dumpies was. My ma sê almal het van hom gehou. Hy’t grootgeword op ’n plaas in die Rhodesië van ouds. Ouma Lala het vertel dat hy as seuntjie met skerpioene gespeel het. Dit beïndruk my om te weet my pa was vreesloos. Dalk het dit oorgespoel na my toe.

    Kort voor my ma en pa se troue was my ma se jongste broer, oom Flippie, in ’n tragiese motorongeluk. Dit was vir haar bitterlik swaar. Dis ’n storie wat sy graag oorvertel.

    Oom Flippie het haar maande ná sy dood in ’n droom besoek. Hy’t gelukkig gelyk en vir haar gewink om hom te volg. Kyk, het hy gesê. Kyk my mooi plekkie.

    Die droom het my ma gehelp vrede maak met sy dood. Maar my en jou pa se troudag – drie dae ná oom Flippie se dood – was steeds aaklig. Almal was so hartseer. So morbied.

    Ek sou hul troufoto bestudeer en die rou in my ma en pa se fotogesigte soek. Ek kon dit nooit kry nie. Nie op die foto’s nie.

    Op die dag dat ek gedoop is, het my ma my styf teen haar vasgehou. Ek, ’n pokkeltjie in my outydse dooprok wat strek tot op die grond, my ma met ’n moewiese lelike wit hoed op haar kop. En ’n serpie om die nek.

    Die serpie was om die wurgmerke weg te steek, het sy gesê. Die eerste keer dat ek gehoor het van die geweld het my ma dit laat klink soos iets wat met iemand anders gebeur het. Sy’t nie hartseer gelyk nie, eerder asof sy ’n keer herroep toe sy verdwaal het. Sy’t haar kop vinnig heen en weer geskud.

    My pa het haar die vorige aand in ’n dronk woedebui aan die keel beetgekry. Hy’t haar rondgepluk en geslaan. Die wete dat my pa my ma seergemaak het kort voor hulle my aan die Here beloof het, sit van altyd af in ’n hoek en tart my. As tiener het ek dikwels gedink aan wat in die Bybel staan: Ek het jou op die naam geroep. Jy is myne.

    Dieselfde naam wat ek ontvang het terwyl my ma met haar serpie en my pa met ’n hangover gekyk het hoe die dominee druppels water op my kop laat val.

    Dis ondraaglik om te dink dat ek waarskynlik in haar maag was toe hy haar die eerste keer geslaan het. Die geweld sit in my gene.

    Blou en rooi flikker

    My pa het homself om die lewe gebring toe ek vyf jaar oud was.

    Die aand van sy dood is my helderste herinnering. Hy het baie laat by die huis aangekom. My ma was in ’n angsbevange toestand. Ek kon haar nie gerusstel nie. En sy kon my nie troos nie.

    By die voordeur het ek my pa verlig bestorm: Pappa!

    Nie vanaand nie, het hy gesê en my arms om sy bene losgemaak.

    Hy’t verdwyn na die spaarkamer. En nooit weer uitgekom nie.

    Ma het aan die deur gehamer en geroep: André, maak oop die deur!

    Sy’t my broer om die huis gestuur om deur die venster te probeer sien wat aangaan. Ek weet nie hoekom sy nie self gaan kyk het nie. Henkie was agt jaar oud. Kon hy iets deur die venster sien? Hy’t nooit gesê nie.

    Later die aand was daar blou en rooi flikkerende ligte. Dit was donker en ek was bang. Ek het na die weerkaatsings op die mure gekyk van waar ek op die sitkamerbank gelê het. Mense het die spaarkamer se deur oopgebreek. My ma het soos ’n besetene geskreeu. Sy’t hom sien hang aan ’n tou. Ek weet nie wat ek gesien het nie. Behalwe die flikkerende ligte.

    My ma het jare gelede vir my die stompie gewys van die laaste rooi Stuyvesant wat hy gerook het. Dit was weggebêre in ’n banksakkie binne-in ’n staalboks saam met ’n spul foto’s en sertifikate. Ek het die stompie noukeurig bestudeer. Dit was nie ’n gewone uitgebrande sigaret nie, meer asof my pa dit met ’n hardhandige finaliteit doodgedruk het. ’n Verfrommelde res van hom wat oorgebly het. Dit het my gefassineer om daarna te kyk. Die einste stompie wat hy met sy lewensmoeë vingers vasgehou het.

    In dieselfde blou staalboks was daar altyd ’n blonde vlegsel van my hare.

    Op my pa se begrafnis kon my ma nie self loop nie. Sy’t ’n diep-rooi fluweelrok aangehad. Dit was ’n helder sonskyndag, perfek vir Bellville se munisipale swembad. Weerskante van my ma het mense haar regop gehou terwyl sy saam met sy kis die grondpad afgestrompel het. Ek het haar nog nooit so vreemd sien optree nie. Haar huilgeluide het nie soos ’n mens s’n geklink nie, en my vyfjarige hart kon nie die rou, dierlike verdriet verstaan nie.

    Ek het geweet my pa is in die kis. Opgedollie in my wit kerkrok met die pofmoutjies het ek langs hom geloop met my hand op sy kis. Saam met die ander mense wat my ma dra. Haar voete het in die stof gesleep. Buiten haar geween, was daar ’n doodse stilte heelpad tot by die gat in die grond. Hulle het die kis laat sak en ek het besef my pa gaan nie weer daar uitkom nie. Dat hy onder die grond gaan bly en dat ek hom nooit weer sal sien nie.

    Ek het hardop en sonder ophou Pappa . . . Pappa . . . Pappa! geroep terwyl my tannie my weggedra het.

    Die lakens

    Ek word wakker, want ek kry koud. En dit raas. Harde stemme en tipiese hospitaalgeluide vul my ore. Iemand pluk aan iets aan my arm. Die lig is te helder. My keel is seer. ’n Vrou in ’n donkerblou verpleeguitrusting en ’n wit plastiekvoorskoot laat val my arm onseremonieel. Sy verstel ’n klep aan die pypie wat eindig by die naald in my pols. Sy lyk nors.

    Ek is in ’n staatshospitaal, ek vermoed Helen Joseph, want ek is lankal bekend met die mislike raasklanke van die plek. Maar ek het geen idee hoe ek hier gekom het nie.

    Water, please . . . rasper die klanke droog uit my mond.

    Eh? What you want?

    Water . . . amanzi . . . please . . . nceda . . .

    Hah! You speak Zulu?

    No, sisi, wurg ek uit. Ndiyakwazi ukuthetha isiXhosa. Ek kan Xhosa praat.

    Sy lag, maar nie met haar oë nie. Yoh! Ngubani igama lakho? Sy wil my naam weet en verstel weer die drup se kleppie. Dit lyk of die wit vloeistof in die pypie vashaak. Daar’s bloed onder die pleister aan my arm, en dit lyk of vars bloed aan die onderkant van die pypie inlek.

    Jir, nog bloed . . .

    Ek het nie lus om verder Xhosa te praat nie. Dis ’n moeilike taal en ek is dors. My tong klou aan my verhemelte soos stront aan ’n wolkombers. Dis iets wat ouma Miemie altyd gesê het.

    Tog probeer ek ordentlik wees en verduidelik my naam in Xhosa is Intombi.

    Sy praat baie hard. Intombi?! Yoh! Asof sy nou áls gehoor het.

    Ek sluk, maar daar’s nie spoeg in my mond nie. Ek vertel ’n juffrou by die skool het vir my die naam gegee.

    Hah! Seriaas?

    Ewe. It means little girl . . .

    Die verpleegster loop weg na ’n kraan in die hoek van die saal. Daar tap sy ’n koppietjie vol water en bring dit nader. My hande ruk.

    Enkosi kakhulu.

    Sy staan en kyk terwyl ek probeer drink. Die eerste mond vol water loop tussen my lippe uit. Dis seer as ek sluk. Niks wil lekker saamwerk nie.

    Sorry.

    Vir die eerste keer lyk sy minder kwaai. Hayi, no – it’s okay.

    Why you kill yourself? vra sy uit die bloute.

    Die balkie op haar regterbors lees: Staff nurse Sesi Makwatla. Sy’s Sesotho. Ek praat nie Sotho nie. In Johannesburg praat baie mense Sotho, maar ek is ’n Kapenaar.

    Stafverpleegster Makwatla stap aan na die volgende bed sonder dat ek haar vraag beantwoord. Ek wou graag.

    G’n wonder jy hoort nie op hierdie aarde nie, prewel ek terwyl ek my gesig na die muur draai en die laken tot onder my ken optrek.

    Daar’s vlekke op my laken. Ou staatshospitaalvlekke wat nooit uitgewas kan word nie. Ek raak weer aan die slaap. Steeds dors.

    Iemand staan weer by my bed. Dis nie stafverpleegster Makwatla nie. Dis Freddie en Simoné. Albei se oë is groot, maar Freddie s’n is die grootste.

    Wat de fok, Lindels? Simoné se stem is hees. Maar dis van al die rook, ek weet. Niemand kan kettingrook soos Simoné nie.

    Freddie sê niks, soos gewoonlik. Veral as ek aangejaag het. Freddie is my stilste vriend.

    Ek en Simoné is huismaats. Ons bly al vier jaar lank saam. Sy’s getroud met Chris. Chris boer met tamaties op iemand anders se plaas buite Johannesburg. Sy gaan naweke na hom toe, maar deur die week is sy ’n baie talentvolle regisseur by Kwêla.

    Weet jy hoe jy hier gekom het? fluister sy. Niemand anders fluister nie, so ek verstaan nie hoekom sy wil sag praat nie.

    Ek weet nie, Nytjie. Ek kan niks onthou nie.

    Miskien het jy self ’n ambulans gebel, bied sy ’n oplossing.

    Ek twyfel sterk of dit die geval is. Daar was engele, prewel ek.

    Ons probeer die media hier uithou, verander sy die onderwerp. Niemand kan jou sonder toestemming besoek nie.

    Ek probeer regop sit. My lyf wil nie ophou ruk nie.

    Water . . . asseblief . . .

    Simoné bring ’n Spar-plastieksak te voorskyn. Sy pak die Energade, Jolly Jammers en Huisgenoot uit op ’n afgedopte staalbedkassie. Ek kan die bedkassie se roes ruik.

    Jy moet jou ring en selfoon wegsteek, maan sy. Hulle gaan jou besteel terwyl jy slaap. Sit dit binne-in die kussingsloop onder jou kop. Dis die veiligste.

    Sy maak die rooi Energade oop en gee dit vir my aan. My hande bewe onophoudelik wanneer ek die bottel by my mond probeer kry. Freddie se oë rek weer toe hy sien hoe ek ruk.

    Ek dink aan my bevlekte laken en wonder of die kussing onder my kop ook menslike reste op het. Ek is glad nie gepla daaroor nie. Ook nie oor my verloofring of my BlackBerry nie. Ek weet nie eens hoekom ek nog die simpel ring dra nie. Dis nie asof ek nog ’n verloofde het nie.

    Freddie oorhandig ’n rugsak. Binne-in is slaapklere, panties en ’n badsakkie.

    Ons weet nie hoe lank jy gaan bly nie, sê Simoné.

    Ek is oukei.

    Jy sal eers ’n psigiater moet sien, dan sal hulle besluit.

    "Ek kan nie werk mis nie, Nytjie, Binnelanders sal my afdank."

    Freddie praat vir die eerste keer: Hulle weet jy’s hier, Lindels.

    Hoe lank is ek al hier?

    Twee dae.

    Die besef dat ek al twee dae lank afwesig is, maak my geïrriteerd. Bliksem.

    Ek voel nie bekommerd nie, net vererg. Asof ek myself verontrief het deur te probeer doodgaan en dit nie reggekry het nie.

    Ek en Freddie is al vyf jaar lank vriende. Hy’t begin as agtergrondspeler – ’n extra – een van die arme drommels wat in Binnelanders se koffiewinkel sit en maak of hulle Griekse slaai eet. Daarna was hy ’n drywer – of ’n runner soos almal die arme drommel noem wat akteurs rondry. Uiteindelik is hy aangestel by die kunsdepartement van Binnelanders en nou is hy vloerbestuurder. Dis die drommel wat vir akteurs notas gee van die regisseur af. En die vloerbestuurder moet verkieslik altyd gaaf wees. Freddie sukkel daarmee.

    Simoné sê: Jy mag nie ontslaan word sonder ’n brief van die psigiater nie.

    Ek haat psigiaters.

    Die psigiater is ’n ouerige man. Hy blyk te veel staatsmalles in sy lewe te gesien het en ek’s net nóg een van hulle. Hy vra die gewone vrae en maak notas. Hy kyk byna nooit op nie.

    I’m fine, really, probeer ek. I had a bad day and did a silly thing. Sorry about that.

    Hy praat nie gaaf met my soos mens wil hê ’n dokter wat met sielsiekes werk, moet met jou praat nie. Hy is saaklik en klinies. Bygesê, psigiaters het my nog nooit as empatiese mense opgeval nie. Nie soos kliniese sielkundiges nie. Ek weet, want ek het ’n hele versameling van hulle al besoek.

    Hy bly doenig met sy notas. Nugter weet wat hy daar skryf, want hy vra my eintlik niks. Okay, so, I’m actually supposed to admit you to the psych ward.

    No, no! I’m fine, really.

    Hy stu voort asof dit ’n rympie is wat hy al telkemale opgesê het. "But if you commit to follow up with the clinical psychologist I’m referring you to . . .

    If you commit to seeing Dr Stuart I will let you go home.

    Yes, yes, absolutely. I’ll go and see Dr Stuart.

    Ek is verlig. Ek wil nie ’n minuut langer onder Helen Joseph se stink lakens koud kry nie. Hierdie hospitaal is die presiese teenoorgestelde van die spogkliniek waar my Binneland-karakter verpleeg. Binnelanders het snoesige beddegoed en portrette van blomme en buitelugtonele. Daar is kleurvolle gordyntjies voor die vensters, die personeel is gaaf en die pasiënte word soos adellikes behandel. Die TV-wêreld is ver verwyder van hierdie ongenaakbaarheid.

    Hiér is nie stoele waarop besoekers kan sit nie. Mense raak bakleierig oor onbeskikbare rolstoele en steel mekaar se kos uit hul borde. Hier is nie kussings vir siekes se koppe nie. En alles ruik na voete. Jy kom nie Helen Joseph toe om gesond te word nie. Dis ’n siek plek.

    Die ergernis oorweldig my weer. Ek was nie veronderstel om in hierdie hool te eindig nie. Die plan was om ’n oneindige hiernamaals te betree. Om te ontsnap. Maar hier is ek – in ’n soort hel, want ek verdien nie ’n hemel nie.

    Ek het ook nie ’n mediese fonds nie. Ek kan een bekostig, maar was nog altyd te min gepla oor my welstand. Selfsorg is nie hoog op my agenda nie.

    Terug in die saal sit ek op my bed en kyk hoe verpleegpersoneel die pasiënt oorkant my, wat die vorige nag opgeneem is, van haar bed aftel. Daar is mense rondom haar wat vreeslik ween. Hulle klou aan hul koppe en roep hemele toe. Eers dan besef ek sy is dood. Die personeel dra haar lyk uit. Nét so op haar laken wat hulle soos ’n hangmat inspan. Haar laken het meer vlekke as myne.

    Ek wonder hoe lyk háár hiernamaals.

    Klein kak

    As enkelouer van twee jong kinders het my ma swaargekry en ek was boonop ’n moeilike kind.

    Van my gelukkigste herinneringe duik egter op wanneer ek terugdink aan die tyd ná my pa se dood. Toe dit net ons drie was: ek en my ma en Henkie.

    Ons het eers in ’n woonstel in Bellville gebly. My blokkiesvloerslaapkamer was baie groot. My bed het onder die venster gestaan en wanneer al die ligte af was, het ek die maan deur die venster gesoek. Ek het kindernagte in daardie kamer verwyl deur eensydige gesprekke met die maan te voer. En die sterre. Ek het skynsels gesoek om my heilige vrees vir die donker te verlig. Ek het geglo iemand daar bo hoor my, en as iemand jou hoor, is jy nie meer alleen nie.

    Later het ons Kraaifontein toe getrek. Dit was ’n armoedige huis, want julle pa het ons met niks gelos.

    Gedurende die warmste somerdae het ons ’n matras met bruin en oranje blomme buitentoe gedra. Hier het ons gespeel en groen koeldrank gedrink terwyl my ma in die son lê. Met net ’n panty aan het ek heen en weer deur die spreier getrippel. My ma het geblink van die kookolie. Daar was nie ’n grasperk of blombeddings nie. Ons was gelukkig.

    My ma het elke aand vir ons stories gelees, Bybelstories of kinderverhale en ek het hardop begin wonder oor die hiernamaals.

    My ma het gesê: Daar’s vir ons elkeen ’n plekkie in die hemel.

    In my kinderkop was die hemel ’n hospitaalsaal met beddens wat weerskante toe strek. Eindelose beddens. Elkeen van ons se plekkie was ’n bed wat spesiaal opgemaak is en daardie bed wag nét vir jou. Ek het altyd daarna uitgesien om na my plekkie toe te gaan. Om knus onder die beddegoed in te kruip, met verpleegsters wat soos engele vir jou glasies water bring en dan in sagte stemme vra of jy beter voel. My pa sou met my gesels vanaf sy bed. Daar waar hy op sý plekkie gelê het.

    Saans voor bedtyd het ek my ma gevra om die Simon & Garfunkel-plaat vir my op te sit. Dan het ek met die groot oorfone op ’n kussing voor die enorme Telefunken hi-fi se luidsprekers gelê. Ek het saamgesing: Your time has come to shine, all your dreams are on their way. Baie keer het ek so aan die slaap geraak.

    Die aande wat my ma moes nagskof werk by Tygerberg-hospitaal, het sy ons saamgeneem. Ek en Henkie het in die piepklein verpleegsterruskamertjie geslaap.

    My eerste teaterervaring was letterlik in ’n teater – ’n hospitaalteater waar die

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1