Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Trousseaukis
Trousseaukis
Trousseaukis
Ebook197 pages3 hours

Trousseaukis

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

'n Vrou laai vir haar 'n kind en 'n hond langs die pad op, want sy wil nie meer alleen wees nie. 'n Ma besluit om te staak omdat haar man en kinders haar slegter as 'n paradysdonkie behandel. 'n Man begin orrelles neem in 'n desperate poging om God se medelye met hom te toets, maar ontdek dat dit sy eie medemenslikheid is wat beproef word. 'n Predikant verslaaf hom aan 'n rekenaarspeletjie en verloor sy houvas op alles behalwe die geel, rooi, groen en blou blokkies wat hy dag en nag met koorsagtige presisie inmekaar probeer pas. 'n Vrou wat nooit weer aan die huwelik en liefde herinner wil word nie, moet tydens haar skeisaak 'n trourok maak vir 'n aanstaande bruid wat by die dag duideliker oor die buik en bors uitsit.Dis oor boeiende mense soos dié dat Annelie Botes in Trousseaukis skryf – vroue en mans met wie jy jou kan én wil identifiseer. In elkeen van dié dertien stories wys die verteller dat sy die menslike swakheid én goedheid ken, en dat sy weet hoe om met empatie te vertel.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateMay 20, 2008
ISBN9780624052487
Trousseaukis
Author

Annelie Botes

Annelie Botes is in Junie 1957 gebore op die plaas Grootfontein in die Kammanassie naby Uniondale. Sy is gedoop, geskool, getroud op Uniondale en het in 1986 ’n onderwyslisensiaat in klavier aan Unisa behaal. Sy was onder meer ’n musiekonderwyseres en kerkorreliste. Haar eerste skryfwerk is gepubliseer in die destydse Brandwag toe sy 18 was. Ná baie jare van stilte begin sy in 1994 aktief skryf. Ongeveer 50 kortverhale en novelles het reeds in Huisgenoot, Sarie en Rooi Rose. verskyn. Sy debuteer in 1995 met die roman Trippel Sewe en later in 1995 verskyn Ribbokvoete, en in 1997 verskyn Klawervier by Tafelberg-Uitgewers, waarvoor sy die ATKV-prys vir gewilde prosa ontvang. Sy is ook bekend vir haar Goeie Môre-rubriek in Volksblad en Van Alle Kante-rubriek in Die Burger, en is ook ’n gewilde gasspreker.

Read more from Annelie Botes

Related to Trousseaukis

Related ebooks

Related articles

Reviews for Trousseaukis

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Trousseaukis - Annelie Botes

    Trousseaukis

    Annelie Botes

    Tafelberg

    Trousseaukis

    Vooroorgebuk, ’n hand op elke duskantse hoek van die swaar, donker embuiakis, skuif Elsbet dit aks vir aks oor die gangmat. Die reuk van motballe maak haar naar. Kan naftaleen ná soveel jare nog so skerp ruik?

    Maar vandag, nie môre of ander week nie, vandág sal hierdie euwel uit haar huis uit. Sewe en twintig jaar lank staan hy haar al en treiter. Sy het die streep kláár getrek: vandag.

    Ek wil nie die kis hê nie, Ma! Gee hom vir Mart of vir Hans se vrou of vir die kerk, het sy destyds vir haar ma gesê.

    Ouma wou só graag dat jy . . .

    Ouma, op wie se dik skoot daar plek was vir almal, behalwe vir haar. Jou stêre steek soos naalde, Elisabeth, en jy ruik na nat hond. Almal kon die haarnaalde by Ouma se bolla indruk, maar as sý wou probeer het, het Ouma seergekry. Ouma wat gemmerkoekies bak en nie eens ’n stukkie deeg uithou vir ’n gemmermannetjie nie. Wanneer sy terugkom van haar middagsit by die eende onder by die rivierdam, het Ouma al ’n klomp deeg aangemaak en hardloop al wat ’n ander kind is op die werf rond met gemmermannetjies. As Mart of Hans Ouma se oggendkoffie vat, kon hulle by haar inkruip. Maar laat sý die koffie neem, dan’s die koffie of te warm of te koud of daar’s roomdryfsels op. Ouma wat die bruin kardoessak met lemoenlekkerhalfmane altyd heel laaste vir haar hou, sodat sy dié met die minste suiker om moes vat.

    Ek eet nie lemoenlekkers nie.

    Klein gifangel! Hoog tyd dat jy die pak van jou lewe kry!

    Dan het sy in die hoekie langs die houtstoof by haar ma gaan wegkruip.

    Wat is dit met Ouma, Ma? Ek sweer Ouma wens my dood.

    Dis maar Ouma se geaardheid. Kom help my roer aan die melktertpap. Dan kan jy die pot uitlek.

    Toe Ouma dood is, erf almal dat dit aardig is.Van haar pa af, anderkant uit tot by die agterkleinkinders en die skaapwagter en die kerk. Net haar ma het niks gekry nie. En sý die stink kis vol outydse linne. Sy was al vyf en twintig toe haar ma met die trousseaukis op die bakkie by haar dorpshuis aankom.

    Ek vat dit nié, Ma.

    Asseblief, Elsbet, om my onthalwe.

    Hoekom, Ma? Ouma het niks vir my oorgehad nie. Almal het góéd getrou, net Gabriël van mý was in haar oë ’n derm. Hans en Mart sit gebotter! En Ma het nie eens ’n skeefgedrukte koekblik gekry nie. Nou moet dié ou kis in my huis staan en stink sodat Ouma my uit haar graf kan herinner dat ek nooit goed genoeg was nie. Nee, Ma, vat die ding terug.

    Asseblief?

    Hoekom, Ma? Wat was al die jare verkeerd met my?

    Dit was nie met jou nie, Elsbet. Dit was met my. Jy’s my 1944-kind.

    Wat het dít met Ouma te make?

    Haar ma was lank stil, haar oë troebel. Jou pa was met die 1944-oorlog in Egipte. Vir lank, baie lank. Ag, my kind . . .

    Soos twaalfuur-duisternis het die waarheid oor Elsbet gekom. Die haarnaalde, die gemmermannetjies, die oggendkoffie, alles het soos ’n boek voor haar oopgeval. En ín haar was die hartseer wete dat haar pa nooit onderskeid gemaak het nie. Maar haar ouma kon nie vergewe nie. Skandekind, oorlogsonde. Elisabeth wat nooit Elsbet kon word nie. Kind van Kleinpoortjie, wat nooit kind van Kleinpoortjie moes gewees het nie.

    Laat ons die kis aflaai, Ma.

    Teen nege-uur het Elsbet die kis verby die klavier. Haar rug is lam en haar handpalms brand. Sy los eers en maak tee. Die kis is swaarder as wat sy kon dink. Sy het nie ’n benul wat daarin is nie; wil ook nie weet nie. Eendag het sy die deksel opgelig en linnegoed met pienk borduurrosies gesien. Maar dit was toe sy Klein-Gabriël verwag het, en die reuk het haar so gewalg dat sy Gabriël gevra het om die kis garage toe te sleep. Hy’t gesê dan is daar nie plek vir die motor nie, en die kis het gebly.

    Toe kom Jan Hendrik, na haar pa vernoem. Haar pa wat in 1944 té lank in Egipte was. Op doopsondag was sy eindeloos weemoedig toe haar pa die seuntjie die kerk indra en in haar arms neersit. Agterna het hy die baba by die dooptee rondgedra asof hý die ma is.

    Daarna was dit Braham. Nooit ’n meisiekind wat die kis se deksel uit vroulike nuuskierigheid wou oplig nie.

    In die sewe en twintig jaar wat die ding al haar huis staan en bestink, het sy en haar ma nooit weer daaroor gepraat nie. Dit sou tog niks verander nie. Gister was dit ’n jaar sedert hulle haar ma gebêre het. Sy het lankal besluit: die dag as die roujaar verby is, moet die trousseaukis úit. Tweedehandsewinkel toe. Hekelgoed, linne, motballe en al. Met die geld wat sy daarvoor kry, sal sy vir Gabriël iets koop. Omdat hy so goed is vir haar.

    Laas nag het sy rondgerol, later opgestaan om water te drink. In die ganglig het sy die teken gekry wat haar in haar besluit gesterk het. ’n Yslike bruin kakkerlak het onder die trousseaukis uitgeskarrel en oor haar kaal voet gekriewel. Sy het met die stoffersteel onder die kis rondgewoel, en nog sewe kakkerlakke het uitgepeul.

    Sy het onthou van die dag toe sy in die stoofhoekie gesit en die kragmeting tussen haar ma en haar ouma afgeluister het.

    Daar’s kakkerlakke in die spens, Martha.

    Hulle kom uit die veld, Ma. Dis ’n plaas en . . .

    Kakkerlakke is morsig. En hulle broei hiér uit, waar ék ook moet leef en eet.

    Gaan eet en leef êrens anders as dit vir Ma onaanvaarbaar is hier. Wil Ma vir my sê . . .

    "Martha, ek is nie jou speelmaat nie! Jou speeltyd is in 1944 al verby en ek wil nie gereken word onder die lot met wie jy tóé gespeel het nie! En jou meisiekind se bek is klaar net so skerp

    soos joune, en sy sit met groot ore daar langs die stoof."

    Laat ek en Ma mekaar vandag mooi verstaan . . .

    Al wat jy hoef te verstaan, is dat daar vir elke kakkerlak wat jy sien, vyftig is wat jy nié sien nie. En moenie vergeet nie: dis my plaas waarop Jan Hendrik én jy genadebrood eet.

    Toe haar pa huis toe kom, was haar ma klaar gehuil. Hy het haar ma gesoen en vasgehou.

    En jy, Pa se Ellie-tjint! Trek ’n jersie aan, dan ry ons tot by die Skeerpoort se lande en kyk hoe hoog die koring staan. Hy het haar oorlel getrek en sy vingers het na gekneusde bloekom en geweerolie geruik.

    Jy maak die kind hans, Jan Hendrik, het haar ouma gesê en lelik deur haar neus gesnork. Pleks Martha haar hierdie kakkerlaknes laat skoonskrop.

    Daardie dag het haar pa die weesbobbejaantjie wat agter ’n renosterbos gesit het, huis toe gebring. En vir die ander kinders gesê: Dis Ellie se bobbejaan. Julle los hom uit.

    Sewe jaar lank was dit háár bobbejaan. Trêppie. Toe breek sy ketting en haar ouma kry hom waar hy radyse uittrek. Sy het die geweer gaan haal en Trêppie se kop weggeskiet.

    Hier’s klaar een bobbejaan te veel op Kleinpoortjie, het sy harteloos gesê.

    So seer as wat Elsbet se hart oor Trêppie was, so seker was sy dat sý die oortollige bobbejaan was.

    Eenuur kom Gabriël huis toe, dan moet die kis uit wees. Dis Dinsdag en die vullismense kom teen elfuur. As sy die kis tot by die voordeur kan kry, dit dan by die ses stoeptreetjies afskuif en tot by die hekkie sleep, moet die vullismanne haar help om dit in die kattebak te laai.

    Verby die tafel met die koperpot. Klein klikbek! Vir wat vertel jy by die skool van die geldblik onder my bed?

    Onder die middelste gangvenster verby. Al weer in die onderste bondel met jou staanplek in die klas!

    By die gang se punt. Knip die kind se hare. Sy lyk soos ’n rolbos wat teen ’n draad vasgewaai het!

    Dit neuk oor die drumpel, maar sy hóú en trek. Dis oor. ’n Mannetjiesmens vir ’n hele naweek? Dis Kleinpoortjie hierdie, nie die dorp se optelplek nie.

    Tienuur gaan drink sy yskaswater. Sit ’n paar minute op die boonste stoeptreetjie en dink wat sy vir Gabriël kan koop. ’n Nuwe Bybel? Syne is al stukkend gelees. Nee, ’n Bybel is soos eie familie, ’n mens sit dit nie vir ’n ander eenkant toe nie. ’n Nuwe twaksak en pyp? Nee, dis amper erger as eie familie.

    Stram staan sy op. Die ent tot by die boonste trap strek genadeloos ver, want die stoepoppervlak is skurf en ongelyk. Maar uit sal hierdie kis vandag uit, al breek haar rug.

    Sy was neëntien toe haar ouma haar en Gabriël in die plaasdam vang. Kaal. Dag der helle op Kleinpoortjie. Sonder klere, soos slaggoed, het sy hulle met die seekoeisambok voor haar uitgejaag werf toe. Toe pluk Gabriël in die loop twee renosterbostakke af. Een vir haar om voor mee toe te hou. En met die ander een het hy agter haar geloop en toehou.

    Los die bosse! het haar ouma woedend geskree.

    Ek sal nie. Kalm.

    Sien jy hierdie sambok, mannetjie?

    Elsbet het die bossie neergegooi, want sy’t geweet wat die sambok kon doen.

    Ek sien die sambok, ja. Elsbet, tel op die tak en hou jou toe. Sy wou, maar sy was bang vir haar ouma. Tel op die tak, Elsbet.

    Sy sal nié.

    Here, het Elsbet gewonder, taan die mens se krag dan nie soos hy ouer word nie? Haar ouma het soos Simson gestaan; reg vir duisend Filistyne.

    Tel op, Elsbet, het Gabriël weer gesê.

    Toe buk sy en tel die tak op, want die Here alleen weet hóé kaal sy was. Die eerste hou het haar oor die kruis getref. Met die tweede hou was Gabriël tussenin en het hy die sambok vasgegryp.

    Loop haal ons klere, Elsbet.

    Sy’t die renosterbostak neergegooi. Nakend en vreesloos het sy in die warmte teruggeloop dam toe. Tydsaam. Want ín Gabriël was die sterkte van ’n leeu.

    Jou bliksem, het haar ouma gesis toe sy aangetrek terugkom, en wegloop huis toe; die haarnaalde wat losgekom het, het geblink in die son.

    Die dag toe hulle getroud is, het haar ouma op Kleinpoortjie agter toegetrekte gordyne sit en rou.

    Halfelf het Elsbet die kis op die punt van die trap. Nou moet die Here haar help, want dis skuinser as wat sy gereken het. Sy loop drie maal om die kis, dink hoe sy moet maak. Sal sy nie maar die goed uitpak nie? Sy kan dit by die tuinhekkie weer terugpak.

    Nee, uitpak sal sy dit nié. Want dan sit sy opgeskeep met al die baie onthoue. Snaaks, dink sy, die dag toe sy een en twintig geword het, het iemand vir haar vier en veertig rooi rose gestuur. Sy het gewonder hoekom so ’n onvanpaste getal. Dae lank daaroor getob. Sy het gevra. Dit was nie haar ma of pa nie; ook nie Gabriël of Hans of Mart nie. Die bloemiste het gesê dis konfidensieel. Later het sy ophou wonder.

    ’n Maand later het haar ouma beroerte gehad, en dit was sleg om die eens regop vrou so teen die matras vasgepleister te sien. Toe was dit ’n ander ouma. Ouma wat gevoer en gewas moet word. Ouma wat soos ’n heks lyk met die grys haarstringe gesprei oor die kussing. Ouma wat roep vir water of ’n bedpan. Drie jaar lank het sy so in Kleinpoortjie se spaarkamer gelê voor sy swaar heen is. Hoekom sou niemand weet nie, maar Ouma wou nie in die familiekerkhof lê nie. Met haar laaste asem het sy, soos die sterk vrou van ouds, aangedring om teen die rantjie bokant die rivierdam weggelê te word.

    Sodat ek die eende . . . op die dam kan sien . . .

    Elsbet gaan draai die oondhoender om, pak die aartappels langsaan. Skud die pot met soetpatats. Ouma het gesê mens roer nie aan patats nie; jy skud die pot, anders word dit fynpatats.

    Ouma, Ouma, Ouma.

    Binne die volgende uur gaan sy Ouma uit haar huis weghê. Dan sal sy haar patats kook soos sy lus het en nie omgee of ’n kakkerlak van morsigheid uitbroei of van die veld af inkom nie.

    Sy drafstap terug stoep toe. Haar krag en tyd raak min. Sy gryp die kis, ruk dit met jare se opgeboude aggressie vorentoe. Dit tuimel met die voorste pote tot op die tweede trap. Ruk die ding, dink sy, ruk hom! Jare lank moes jy hom afstof en aanskou en aanruik. Ruk hom, want jy gaan nie weer die kans kry nie!

    Sy hoor die munisipaliteit se trekker ondertoe in die straat stilhou. Met albei hande om die handvatsel vasgeklem, trek sy haar asem op en ruk met al haar krag.

    Maar sy ruk té hard. In een verskriklike sekonde kom die kis op haar afgestorm. Die deksel glip oop en tref haar skeen. ’n Pyn skiet tot in haar borsbeen. Sy hoor hout kraak toe die deksel afbreek. Toe tuimel dit tot aan die onderpunt van die trappie. ’n Bont spul van lapgoed besaai die wêreld. Sy sak tussen die linne neer en die bloed aan haar skeen vlek ’n spierwit lap.

    ’n Uur nadat die vullistrekker weg is, sit sy steeds by die gebarste kis. Leeggehuil. Sy dop die kis regop, begin sorteer en opvou en terugpak. Gabriël moet haar maar verder help.

    Tussen twee lakens kry sy die groot bruin koevert. Sag van ouderdom. Bo-op staan: Vir Elisabeth. Sy herken haar ouma se inkskrif en wil dit stukkend skeur. Nee, besluit sy, laat sy lees en kláár lees.

    28 Januarie 1965

    Vandag is jy een en twintig en ek stuur vir jou vier en veertig rooi rose. Laat jou ma jou vertel van 1944. Jy erf my trousseaukis, omdat ek niks kosbaarder besit nie. Die vyfduisend pond in die koevert is vir jou ma, want sy sal dit nie by my vat nie. As sy dit nie wil vat nie, is dit joune.

    Van jou ouma

    Toe Gabriël by die huis kom, wag sy hom

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1