Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Moord in die beloofde land
Moord in die beloofde land
Moord in die beloofde land
Ebook294 pages4 hours

Moord in die beloofde land

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

’n Spanningsvolle roman oor ’n man in wie ’n onbekende mag stadig die oorhand kry. Die verhaal wentel rondom Samuel wat as seun reeds kennis maak met die donker sy van die lewe. Sy inisiasies in die grootmenswêreld (liefde, seks, die “reëls” van die ou Suid-Afrika, joernalistiek), van die 1970’s tot die 1990’s, is vervleg met sy obsessie met die skêrmoordenares Marlene Lehnberg. ’n Boeiende, intrigerende roman – die skrywer kry dit goed reg om die tydsgees en die manier waarop onskuld geleidelik verdwyn oor te dra.
LanguageAfrikaans
Release dateMay 31, 2013
ISBN9780798158718
Moord in die beloofde land
Author

François Bloemhof

François Bloemhof is die skrywer van meer as 40 boeke vir die volwasse, tiener- en jeugmarkte. Hy is meermalig in elke kategorie bekroon. Hy is ’n vryskut-taalpraktisyn asook -kopieskrywer, -resensent en -joernalis. François was ook al verhaleredakteur vir Sarie en boekeredakteur by Die Burger. Hy woon in Durbanville.

Read more from François Bloemhof

Related to Moord in die beloofde land

Related ebooks

Related articles

Reviews for Moord in die beloofde land

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Moord in die beloofde land - François Bloemhof

    1

    Dis byna vier jaar vandat ons hier na Wellington toe getrek het. Boland. Dis groen hier rond. Ver van die stad af.

    Vir die meeste mense lyk ek en my pa en my ma en my broer seker soos almal anders, en dit wys jou net wat weet die meeste mense.

    My pa is ’n dokter. Daar is twee van hulle op die dorp, maar die ander dokter is al ouerig en die meeste mense gaan na my pa toe. Van die kinders in my klas dink ek is ryk, en ons is nie arm nie, maar dis my pa se geld, nie myne nie. My pa sê ons ken nie die waarde van geld nie. Hy sê daar’s twee rand in elke Britse pond en ek kan nie glo ons geld is so min werd nie.

    My ma is ’n huisvrou. Van die kinders in my klas se ma’s werk, maar sy het al vir my en my broer gesê net omdat sy nie in ’n kantoor sit nie, beteken nie sy’t niks om te doen nie. Maar ons het ’n bediende en as ons van die skool af kom, sien ek nooit iets wat in die huis verander het wat nie deur die bediende gedoen is nie.

    My broer se naam is Erik en hy’s twee jaar jonger as ek, in standerd een. My ma het my al baiekeer herinner, gewoonlik as ek vir hom moerig is, hoe ek gebid het om ’n boetie te kry toe ek klein was. Erik lyk baie soos my pa, maar ek lyk nie soos my pa óf my ma nie.

    Erik is ook my pa se naam. Myne is Samuel en ek het nie ’n oupa of iemand anders se naam gekry nie – ek weet nie hoekom nie, die eerste seun kry mos gewoonlik sy pa of oupa se naam.

    Johanna is ons bediende. Jy sê haar naam op die Engelse manier: Djouhênna. Haar van is Plaatjies. Dis net Afrikaans.

    Wellington is groter as Victoria-Wes, waar ons eers gebly het. Elke keer as ek nie hou van iets hierso nie, sê ek ek verlang terug na Victoria-Wes en dan sê my ma nee, dis baie beter hier. Sy speel nou en dan tennis saam met drie tannies. Sy is mooi.

    My pa is seker nie lelik nie.

    Ek ook nie. Jy moet altyd so ’n mooi soet seun bly, het juffrou De Villiers nog op Victoria-Wes op een van my rapporte geskryf. Ek dink sy’t nie regtig mooi soet bedoel nie, sy’t bedoel mooi én soet.

    Erik is eintlik die soet een. Hy doen alles reg, soos om te sit en huiswerk doen wanneer ek radio luister – ek sê altyd ek sal dit later doen. Ek jok ook vir my ma oor wanneer ons toetse skryf, anders raak sy tog net op haar senuwees.

    Hoekom skryf julle soveel minder toetse as Erik-hulle? wou sy al weet.

    Maar hy’s jonger as ek.

    Presies! Julle moet mos méér skryf!

    Juffrou Mostert gee nie so baie toetse nie.

    Skool is ’n plek waar ek aan die begin van die jaar hardloop vir ’n bank in die agterste ry en waar ek afkyk as die onderwyser ’n vraag vra. As ek vanjaar klaar is, bly daar net sewe jare van skool oor. Dan kan ek my eie ding doen.

    Ek het nie ’n idee wat dit gaan wees nie.

    Wellington is seker nie groot nie, want ek lees in boeke – grootmensboeke, nie die Jaspers en Trompies wat my klasmaats lees nie – van plekke waar jy definitief nie in ’n halfuur van een kant van die dorp na die ander kan loop nie. Terwyl ek loop, sing ek graag van die nuwe liedjies, soos: Get out, damn it! Close the door, don’t slam it …

    Juffrou Mostert het my verlede week benoud gemaak toe sy my saggies in die klas gevra het of daar fout is by die huis. Dis hoe sy dit gevra het: Is daar fout by die huis, Samuel? Dit was nadat ek weer nie so goed in ’n toets gedoen het nie.

    Dis aand en hulle saai stories oor die radio uit terwyl ek en my pa en ma en Erik in die sitkamer is. Dis die storie wat altyd begin met: These are the men … of Squad Cars! As ek daarna luister, voel dit vir my ek is in ’n kar wat net ek kan sien en ek ry weg van alles wat simpel is.

    Hoekom lag jy? vra my ma. Dis ernstig!

    Ek weet. Ek luister na die stemme. Ek weet dit is akteurs, nie regte mense nie – of die akteurs ís regte mense, maar hulle is nie in enige gevaar nie en hulle beleef geen opwindende avonture nie.

    Ek het ’n goeie woordeskat. Erik kan maar sit en leer soveel as wat hy lus het, hy is net ’n herhaler van ander mense se idees.

    Laat hý nou so iets probeer sê!

    Dis ’n stil dorp, al is dit darem besiger as Victoria-Wes. As hier ’n basaar is, praat die mense weke voor die tyd oor niks anders nie.

    Maar in Amerika, maar in Amerika, daar stuur hul ruimteskepe na die maan.

    Ek het twee maats by wie ek partykeer gaan speel, maar ek mag nie meer as twee middae ’n week uitgaan nie. Ek hou nie daarvan as hulle hierheen kom nie, ek gaan eerder na hulle toe, want hulle ma’s werk ook, André s’n by die slaghuis en Jaco s’n by die viswinkel.

    Bloed, Vleis en Snoek. Dis wat die ander kinders ons noem, elkeen se bynaam het met sy pa se besigheid te doen. Ek het my bynaam gekry omdat dokters met bloed werk.

    Johanna maak vir ons kos: tjops met aartappels, of wors en eier. Op sekere dae eet ons sekere goed en die dae gaan verby en die mense dink ons is nes almal anders.

    My pa slaan my ma nie so baie nie.

    2

    Al is die aandlug koel, is die rooikop se klere dun. Sy het geweet sy sal dalk laat moet werk, maar nie dat dit só laat kon raak voor sy by die huis kom nie.

    Of eerder, woonstel. Sy is nog ’n hele ent daarvandaan, die ruimtetjie wat sy met ’n kollega deel – die lui kollega wat vroegmiddag huis toe is met ’n skeelhoofpyn.

    Die wind swiep deur haar hare, wat sy weer sal moet kleur, want die donker wortels wys al kwaai. Onder die geel toppie is haar tepels styf en die te-klein bra se streppies sny in haar rug in. Sy stap al ’n ver ent, haar voete is moeg en hierdie hoë hakke is moord. Sy het te min geld om nuwe skoene te koop en hoop maar niemand let op sy dra elke dag dieselfde paar nie.

    Ten spyte van die wind kon iemand haar al lankal hoor aankom het.

    Sy gaan byna staan, so skrik sy vir daardie gedagte. Sy wil lag ook, want dis mos lawwigheid.

    Geen ander mense hier nie, stil, ’n besigheidsarea. Net twee blokke nog. Sy sal dadelik koffie maak as sy by die woonstel kom.

    Dié deel van die stad is nie naby die see nie, tog is daar ’n dynserigheid in die lug. Dit laat alles om haar oud voel, asof dit tot ’n vorige eeu behoort.

    Betonwêreld, dis 1984 en alles is modern. Ver van groenigheid en rustigheid, van plekke soos Wellington en …

    Hoekom het sy dááraan gedink, aan die Boland, aan Wellington?

    Haar voetstappe eggo, verdubbel soos in ’n tonnel.

    Geen motors nie.

    Sy kan sweer sy word dopgehou.

    Hy kan daar agter wees, net om die hoek.

    Sy gaan staan, kyk soontoe. Haar hart gaan staan byna, haar asem stol.

    Nee. Nee. Sy verbeel haar.

    3

    Ek hoor woorde soos Watergate en Viëtnam-skietstaking, maar dit gebeur ver van hier af en ek het ander goed om aan te dink.

    Ek is nie seker tot in watter standerd Johanna skoolgegaan het nie, maar sy het nie klaargemaak nie. Ek sal moet klaarmaak, want jy moet as jy wit is. En dan moet jy army toe gaan as jy ’n seun is.

    André se broer is daar. Hy verdedig die land, hy’s op die grens. Ek het nooit van hom gehou nie, maar nou’s hy anders en interessant en lyk ouer. Jy gaan soontoe en word ’n man, sê hulle, maar mense praat eintlik min daaroor want van die ouens gaan dood daar.

    Die bruin skool sit nie ver van ons huis af nie. Dis nie so groot soos ons skool nie. My pa gaan laai party Saterdae van die kinders in die bruin koshuis op om vir ’n rand in ons tuin te kom werk. Ek en Erik moenie met hulle speel nie, want hulle is hier om te werk, al weet hulle nie altyd wat om te doen nie en trek verkeerde goed uit en dan is my pa weer moerig. Ek dink nie hulle hou van ons nie, maar dalk is dit net oor ek skuldig voel dat hulle moet werk terwyl ek en Erik speel.

    Ek voel te maklik skuldig, sê André. Dis net hotnots, Samuel.

    Hy is al een wat my op my naam noem. Jaco noem my ook Bloed. Dalk wil André net hê daar moet een iemand minder wees wat hom Vleis noem. Ek noem hom ook op sy naam.

    Ek kan nooit verstaan hoekom my pa van die koshuiswerkers as mannetjies praat, terwyl die skoonmaker by sy spreekkamer ’n boy is en hy soveel ouer as hulle is nie.

    Ek lees van The exorcist en Jesus Christ superstar, wat flieks is wat oorsee wys. My ma sê die sensors het besluit ons kan dit nie sien nie. Dis hulle werk om te besluit wat sleg is vir mense.

    Maar ek kan self besluit!

    Sy lag. Jy is tien jaar oud!

    Ja, maar …

    Jy kan nog nie self oor sulke goed besluit nie.

    Maar julle is baie ouer en julle mag dan ook nie.

    Maar ek wil dit nie sien nie.

    Maar as Ma wóú.

    Het jy al jou huiswerk gedoen?

    Ek hou van monsters. Ek hou van stories oor die duiwel. Die dele met die goeie ouens is vervelig.

    My pa is in die dag by sy spreekkamer. Almal in die dorp kyk wat ons doen, het my ma al gesê. Ek en Erik moet ons gedra en ’n voorbeeld stel. Dan dink ek dieselfde hande waarmee my pa mense gesond maak, gebruik hy om …

    Ek het nog nooit gesien hoe hy haar slaan nie, maar hulle slaapkamer se deur sluit nie dig genoeg nie en ek het al gehoor.

    Arnold Taylor! Boksgeveg! het Erik ’n paar maande gelede geroep toe ons een aand weer die geluide hoor. Dis sy hero en hy mis nooit een van Arnold Taylor se fights op die radio nie. Ek het hom probeer stilmaak, toe roep hy net weer: Boksgeveg! Boksgeveg!

    Nou is hy ’n bietjie ouer en weet hy wat hy hoor. Wanneer dit gebeur, druk hy sy ore toe of hardloop uit.

    Maar gelukkig gebeur dit nie meer as een keer ’n maand nie. Selfs minder. En dis ook nie altyd so hard nie.

    My ma sal in elk geval nie weggaan nie, want sy is lief vir ons. Ek is nie bang dat sy sal weggaan nie.

    Maar ek ry nooit saam met my pa as hy iets in die dorp wil gaan haal nie. Erik doen dit graag. Ek praat ook nie met hom oor rugby, soos Erik maak nie. My pa lyk partykeer of hy sleg voel oor wat hy gedoen het, maar ek is ook nie seker nie en as hy sleg voel, vir wat doen hy dit dan?

    Ek ry net saam as ek die petrolmeter dopgehou het en dink hy wil die kar gaan volmaak. By een garage kry jy sulke badges van verskillende lande se vliegtuie. Elke keer as jy petrol ingooi, kry jy een, en ek en Erik het borde waarop dit geplak kan word. Jy kan nie kies watter badge nie, hulle gee vir jou een. Dis veronderstel om een-vir-my-en-een-vir-hom te wees, maar Erik het skielik meer van die goed as ek en ek dink my pa het vir hom ekstras gegee.

    Die paar keer wat ek al by die spreekkamer was, het ek soos die belangrikste ou op die dorp gevoel toe ek die mense in die wagkamer sien, en die ontvangsdame, en die verpleegster. Dit moet wees hoe my pa elke dag voel.

    Hoekom het hy dan nodig om …

    Tie a yellow ribbon round the old oak tree, sing ek terwyl ek dorp toe loop en wonder watter kleinplaatjie ek gaan koop met die geld wat ek gespaar het, want ek en Erik kry elke Saterdag net soveel soos die hotnotoutjies wat in die tuin werk, if you still want me …

    My pickup is stukkend. As jy die ronde ding – die turntable – oplig, sien jy daar is ’n bandjie wat gebreek het. Nou moet ek dit self draai as ek ’n plaat speel, en dis lekker om dit vinnig te laat gaan, dan raak die mense se stemme so snaaks!

    My pa speel dikwels gholf. Mense hou van hom. Dis nie net oor hulle respek vir hom moet hê omdat hy ’n dokter is nie. Hy maak grappies en as ek hom so saam met hulle sien lag, wonder ek:

    Ken ek jou?

    My pa is baie logies, jy kry die indruk hy dink altyd voordat hy iets sê. Sy name is Erik Daniël. Ek dink hy hou daarvan om mense gesond te maak, maar dat dit nie vir hom daaroor gaan dat hulle beter voel nie, dis net goed om hulle te kan verander. Hulle moet regkom omdat hy so sê. Ek dink partykeer hy’t my ma gekies omdat sy mooi is, nie oor iets wat hy gevoel het nie.

    Net soos ek by die skool niks doen om die onderwysers se aandag te trek nie, bly ek uit my pa se pad, al doen hy nooit iets aan my nie behalwe om af en toe goed te sê soos: Wat sit jy weer net so rond? of: Het jy niks om te doen behalwe sit en vet word nie?

    Ek is nie vet nie.

    Hy is maer.

    My ma sou met hom getrou het omdat sý iets gevoel het. Op die troufoto in die gang, waar hulle staan op gras wat so groen is dat dit my aan lekkergoed laat dink, lyk sy gelukkig. Toe was my pa seker vol beloftes. Hy sou iéts moes gesê het om haar te kry om met hom te trou.

    Aan die ontbyttafel sê my ma: Julle moet opskud en klaar eet.

    Ma, daar’s nog baie tyd, sê ek.

    Julle gaan laat wees vir skool as julle so julle tyd vat.

    Ons was nog nooit laat nie. Ek kyk na Erik vir ondersteuning. Hoekom moet ons elke oggend so jaag? Maar hy hou net aan met eet. Hy sê nooit iets wat hom in die moeilikheid kan laat beland nie.

    Daar’s altyd ’n eerste keer, Samuel.

    Ma worry te veel.

    Dis nou genoeg. Eet jou kos en maak gou.

    Ma sê dan ander kere ons moenie so vinnig –

    Samuel! Eet nou of ek roep jou pa.

    Ek weet sy sal nie. Sy praat dan saggies sodat hy nie moet hoor nie. Hy’t ’n paar minute gelede al van die tafel af opgestaan, maar die reuk van sy Old Spice hang nog in die lug.

    Ek wonder hoe my ma geslaap kry. Hoe sy langs hóm geslaap kry.

    Dis eers onlangs dat ek agtergekom het ons is anders. Ek het gedink dit is so in alle huise. Ek het iets vir André gesê van die blou kol op my ma se boarm, toe vra hy waarvan dit is, toe sê ek my pa het haar geneuk, toe lag André asof ek ’n moerse joke gemaak het. Toe lag ek ook maar.

    Ek wil nie eendag ’n dokter word nie; ek weet nie wát ek wil word nie. André gaan by sy pa in die slaghuis oorneem, sê hy, dis klaar besluit. Jaco gaan weer as hy klaar is met skool – of eers met die skool en dan met die army – in die viswinkel werk tot hy eendag by sý pa oorneem. Ek wil nie na vleis of vis ruik as ek saans by die huis kom nie, maar ek kan my glad nie indink om saans by ’n huis te kom nie.

    Ons sien my ma se familie min, hulle is in die Transvaal. Maar my pa se ma en suster is hier in die Kaapprovinsie en ons sien hulle nóóit nie. Ek het een keer daaroor uitgevra. Net een keer.

    Hoekom sien ons nooit vir Ouma Lizzie-hulle nie?

    Toe klap hy my dat ek val en my elmboog op ’n klip oopsny. ’n Dag later het hy vir my ’n comic gekoop en ek het geweet hy wil daarmee sê hy’s jammer.

    4

    Die drang is so intens. Om na die meisie te storm, haar te gryp en …

    Hy kan voel hoe dit sal wees. Sy hande om haar keel, die verrassing in haar lyf, hoe dit onwillekeurig ruk, die geluide wat deur haar saamgeperste stembande ontsnap, hoe sy probeer terugveg. Hoe sy ’n paar oomblikke lank sterker word as die paniek haar krag gee, die laaste verdediging. Hy het al dié fases leer ken, die reaksies waardeur iemand gaan wanneer die brein toemaak, die liggaam al swakker raak.

    En dan die goue oomblik: as haar lewe syne word – dit vloei by haar uit en by hom in. Daar is geen ander sensasie wat naastenby daarmee vergelyk nie. Aan sy voete soos ’n pragtige dier, hy die jagter.

    Maar dan kry hy dit skielik onder beheer, hy weet nie hoe nie. Hierdie keer. Hy kan by die hoek bly staan en kyk hoe sy verder en verder van hom af wegstap.

    Verligting in hom, en frustrasie. Die prooi het ontsnap.

    Nee, hy het haar laat gaan.

    Hy sal nie weer nie.

    • • •

    Toe hy die volgende oggend wakker word, onthou hy niks nie.

    Of byna niks. Net flertsies, indrukke van ’n meisie wat al verder wegstap en iemand – hy? – wat haar om ’n hoek staan en dophou.

    Dis vaag, soos indrukke uit drome maar is.

    Dit wás mos ’n droom.

    5

    Die belangrikste dinge in jou lewe gebeur dikwels op ander plekke.

    Sy was sewentien en Christiaan Gerald van der Linde sewe-en-veertig. Die besonderhede is op verskeie plekke opgeteken vir dié wat meer feite soek, maar hier is vir eers al die inligting wat nodig is:

    Marlene Lehnberg, later bekend as Die Skêrmoordenares maar nou nog ’n skaam meisie soos soveel ander, het ondanks goeie akademiese vordering die skool aan die einde van standerd agt verlaat. Sy was sestien.

    Sy het dadelik by die Rooi Kruis Kinderhospitaal in Rondebosch begin werk, in die ortopediese afdeling. Al het sy geen vorige werkervaring gehad nie, was sy ’n vinnige leerder en welkom in dié omgewing waar die meeste personeellede mans was. Die hooftegnikus se van was Louw en die tweede-in-bevel was die senior ortopediese tegnikus, Van der Linde.

    Dit was ’n staatsinstansie, waarskynlik nie wat ’n jong meisie in haar drome as die ideale werk sou beskou nie. Kunsledemate en stutte is daar vervaardig, spesifiek volgens ortopediese dokters se voorskrifte.

    Die tweede-in-bevel had toe reeds jare se ervaring op dié terrein. Hy was die aktiewe werker, eerder as die hooftegnikus wat as konsultant vir die dokters opgetree het, en bekend as ’n perfeksionis. Outoritêr. Veeleisend ook.

    Soos ’n pa?

    Sy het hom Van der Linde genoem.

    As aantreklik kon hy nie beskryf word nie. Sy donkerbruin hare was aan die yl raak. Sy lyf was aan die lang kant, hy was groterig gebou. Rooi kolle op sy gesig het mense laat vermoed hy het ’n drankprobleem, maar die oë agter sy bril met die goue randjies was helder en indringend. Meer as een keer nadat hy en ’n vroulike kollega vir middagete verdwyn het, het hulle teruggekeer met die reuk van drank op hulle asem.

    Hy was ’n getroude man.

    Lehnberg, nie net jonk nie maar ook aantreklik, was ontvangsdame. Sy het vir die pasiënte afsprake gemaak en gesorg dat die rekords bygewerk gehou word. Sy was vriendelik en die gemiddelde persoon wat so ’n instansie moes besoek, sou in daardie stadium ’n glimlag nodig gehad het.

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1