Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Slagoffer
Slagoffer
Slagoffer
Ebook307 pages4 hours

Slagoffer

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Dawid Neethling is ’n suksesvolle, getroude psigiater op Stellenbosch. Wanneer die beeldskone musiekstudent Eva Rodriguez sy pasiënt word, kan hy hom nie indink langs watter paadjies sy hom sal laat loop nie. Kort voor lank staan hy in die beskuldigdebank op aanklag van moord, en dan begin onbeheersde kragte uitspeel wat uiteindelik sy eie lewe sal bedreig.
LanguageAfrikaans
PublisherQueillerie
Release dateMay 6, 2020
ISBN9780795802218
Slagoffer
Author

François Smuts

François Smuts is an advocate at the South African Cape Bar, but in his time he has been a newspaper delivery boy, sales assistant in a book shop, security guard, medical student, salesman, manager and magistrate. He has an extensive legal practice and is passionate about making the law accessible to everyone: "This book is not written in the stuffy style of legal textbooks … my aim is to equip ordinary people with a basic working knowledge of the law."

Related to Slagoffer

Related ebooks

Related articles

Reviews for Slagoffer

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Slagoffer - François Smuts

    François Smuts

    SLAGOFFER

    Queillerie

    Vir Emily en die manne

    So shall you hear

    Of carnal, bloody and unnatural acts,

    Of accidental judgements, casual slaughters,

    Of deaths put on by cunning and forced cause;

    And in this upshot, purposes mistook

    Fall’n on th’ investors’ heads.

    – Hamlet, Shakespeare

    SORTEO

    Die menslike wese is die aarde wat ly.

    – Heilige Barnabas

    Uit die ewig sterwende Kaïro ry die taxi die tydlose woestyn in. Eers suidoos met die Kobri Al Ebageah-snelweg langs, wat ná ’n rukkie aansluit by die ringpad wat om die stad kronkel en ’n ent later afdraai op roete 75, die pad na Ain Sokhna, die vakansiedorp wat soos ’n goedkoop meisie aan die Rooisee lê. Kort na die aansluiting lig die stad se sluier en openbaar die woestyn sy naakte stilte.

    Hy het die bot taxibestuurder met die inklimslag al gevra om die radio se geblêr af te sit, en die botheid het daarmee kil afsydigheid geword. Die motor se geronk raak ’n agtergrond vir die stilte wat saam met die aandskemering in sy gemoed neersif, om die vrae weer soos sterre te laat verskyn.

    Kort voor lank skuif berge in die verte in sig, aan weerskante van die pad. Die pad word ’n stroompie waarop die voertuig willoos soos ’n blaar dryf. Dit slinger vir ’n anderhalf uur suidoos en draai dan net voor Ain Sokhna weg na die suide. Dit bly rofweg parallel met die Rooisee se kus, met die see nou op linkerhand en die berge regs. Dan swenk dit by Zaafarana weer suidwes en draai dan suid, om Deir Mar Antonios, die klooster van die Heilige Antonius, vader van die monastisisme, oor ’n plat klipbesaaide stuk aarde vanuit die noorde te benader.

    Voor die klooster se hek stop die teerpad. Die taxi kom tot stilstand. Hy klim uit, haal sy rugsak uit en betaal die bestuurder, wat ’n u-draai maak en wegry met die musiek weer blêrend deur die oop venster.

    Omtrent ’n uur later sit hy in die koel kantoortjie van die ab, wat die bekendstellingsbrief in sy beaarde hand hou.

    Dis ’n ongewone versoek. Baie ongewoon. Ek sal die biskop moet bel en dan ook moet hoor of abba Johannes bereid is om u te sien. Hoeveel tyd het u beskikbaar? vra die ab in Oxford-Engels.

    So lank as wat nodig is.

    Dan kan u hier tuisgaan tot ek vir u ’n antwoord het.

    Hy wag vir twee dae. Sit enigsins verdwaas in die sel wat aan hom toegeken is, oorweldig deur die stilte wat in die ruimte ingebid is. Dwaal deur die klooster, woon die dienste by. Klim die eenduisend-tweehonderd trappies na die grot in die berg waarin die Heilige Antonius jare lank gewoon het: ’n beknopte, heilige plekkie met demone in die mure. Hy besoek die verskillende kapelle en relieke van heiliges. Maak asof hy nie wag nie.

    Op die derde oggend kom haal ’n monnik hom en neem hom weer na die ab se kantoortjie. Die oubaas glimlag in sy skik.

    Ek het vir u goeie nuus. U biskop het sy versoek bevestig, en ook dat hy bevriend is met abba Johannes. Die wêreld het klein geword. En ek het u versoek na abba Johannes gestuur saam met die monnik wat een keer per week vir hom kos neem.

    Abba Johannes het die monnik ontmoet – iets wat hy omtrent nooit doen nie – en het gesê dat hy u verwag.

    Maar hoe …?

    Die ab hou ’n hand in die lug.

    Moenie u kwel oor dinge wat nie verduideliking verg nie. Dis klaarblyklik nie hoekom u hier is nie.

    So wanneer sal hy my sien?

    As u gereed is, kan u nou vir broer Jacques vergesel na abba Johannes se grot.

    ’n Rukkie later stap hy saam met ’n dun Belg met ’n vriendelike gesig, ’n yl baardjie en ’n haakneus weg van die klooster, in die rigting van die bergreeks wat aan die suidekant lê. Hulle loop eers op ’n grondpad verby ’n kerk en draai ’n entjie verder af op ’n voetpaadjie wat die voetheuwels van die berg bestyg. Dis warm en winderig en die Belg stap vinnig, klaarblyklik gewoond daaraan om opdraand te loop. Hy self is gou papnat gesweet en sy asem begin jaag. Hy wonder hoe die monnik voor hom dit hou, met sy swart monnikgewaad en kalotjie.

    Ná ’n uur se stap kom hulle by ’n nek in die berg, waar ’n lang paal in die grond geplant is. Aan die paal hang ’n leersak. Die monnik gaan staan.

    Waarvoor is die paal? vra hy.

    Ons sit die abba se kos hierin.

    En waaruit bestaan dit, as ek mag vra?

    Die monnik huiwer en hy wonder of hy aanstoot gegee het.

    ’n Brood, soms ’n vrug of twee. Soms groente.

    En vleis?

    Nee.

    Die monnik begin weer stap. Hoe hoër op, hoe steiler word dit. Die stap word ’n kloutery oor rotse. Ná ’n rukkie kom hulle voor ’n krans te staan, met ’n lysie wat die onderkant daarvan omsoom. Hierop begin hulle versigtig loop, met ’n steil skuinste aan hulle regterhand. Die lysie word nouer, sodat hulle later hand oor hand aan die rotswand moet vashou. Dan draai die krans aan hulle linkerkant weg en die skuinste aan hulle regterkant vorm ’n gelykte.

    En aan die ander kant van die gelykte is daar ’n grotopening, en voor dit ’n ou man wat op ’n klip by ’n vuurtjie sit. In die kole staan ’n potjie en kook.

    Abba Yahya!

    Die monnik slaan ’n kruis terwyl hy vooroor buk en staan dan op met sy hande ’n bakkie voor hom.

    Maar die ou man is eensklaps op, ignoreer die monnik se bakhande en omhels hom. Daarna soen hulle mekaar plegtig, links-regs-links op die wang.

    Abba Johannes en die monnik praat kortliks met mekaar in Arabies. Dan groet die monnik, draai om, wuif vir oulaas in sy rigting en loop weg. Die ou man draai na hom en wat hy dadelik oplet, is die warm glimlag en glinsterende oë.

    Die ou man neem hom aan die skouers, kyk hom in die oë en omhels hom net soos die monnik. Hy probeer om die abba se hand te soen soos die Koptiese gewoonte is, maar die ou man soen hom op die wange.

    Sit asseblief, my kind. Dis in stadige, perfekte Engels, maar met ’n swaar Griekse aksent, terwyl hy beduie na ’n ander klip langs die vuurtjie. Jy’s seker lus vir tee.

    Dit sal lekker wees.

    Hulle gaan sit en die oubaas gaan die grot binne en keer terug met twee blikbekertjies.

    Dankie dat u … dankie dat u my kon sien.

    Nee. Sit eers en drink jou tee. Laat jou siel tot rus kom.

    Die abba gooi die tee deur ’n lappie en oorhandig ’n koppie. Hy skink vir homself ook en gaan sit. In die skaduwee van die krans drink hulle die swart, bitter tee en kyk uit oor die woestyn. Die wind het gaan lê en daar is omtrent geen geluid nie, net die effense gesis van die vuurtjie.

    Hy voel hoe die stilte stadig oor hom toesak – en die dringendheid van sy vrae. Hy wonder wat hy eerste moet vra en of hy alles gaan onthou. Hy moes notas gemaak het, besef hy nou.

    Abba Johannes buk vooroor en sit sy koppie neer, tel sy dun gebedstou op en draai na hom toe. Kyk hom deurdringend maar steeds vriendelik aan.

    Jy is hier om te vra of ’n moordenaar ’n priester kan word.

    Hy voel asof sy asem uit hom gesuig word. Hy gaap die ou man oopmond aan.

    Jy wil weet of jy aan jou biskop se versoek moet voldoen. Jy het baie vrae oor die pad vorentoe. Jy voel verlore in die Ortodokse Kerk se kultuur en beskouing, selfs al het jy jou in beginsel daarmee versoen. Jy weet nie wat God vir jou sê nie. Jy weet nie of Hy vir jou sal sorg nie. Jy weet nie wat jy moet maak as jy ’n priester sou word nie.

    Die ou man neem sy hande in syne. Hy voel die eelte en growwigheid. Dis asof die liefde in die ou man se oë hom hipnotiseer.

    God sê jy moenie vrees nie. Hy sê jy moet onthou van Moses, wat ook ’n moordenaar was en ’n priester geword het, en God se vriend. Hy sê as jy jou taak in afhanklikheid van Hom volvoer, sal Hy sy genade oor jou en jou werk uitstort. En ja, Hy sál vir jou sorg. Deur alles wat gaan gebeur. Ook die einde.

    Hy staar die monnik aan, wat nou breed in sy grys baard glimlag. Probeer die woorde verteer. Besef mettertyd dat hy lig en vredig voel, selfs vreugdevol, soos iemand wie se rasende dors geles is. Dat sy vrae verdwyn het soos sterre voor die son. Daar bly net een oor.

    Hoe moet ek leef? Ek bedoel … hoe moet ek … Ek voel so dikwels asof ek net voortstrompel sonder om te weet of ek genoeg doen, of ek op die regte pad is.

    Die ou man soen die kruis op sy gebedstou.

    Soek die stilte op. Moet niks doen wat jou vrede wegneem nie. Koester die gebed van die hart soos die kleinood wat dit is. Onthou dat die Theotokos en die heiliges jou op die weg vergesel. Dan sal alles reg wees.

    Hulle sit nog ’n rukkie terwyl die ou kluisenaar hom glimlaggend in sy oë kyk en dit voel of hy gevoed word, met liefde vervul word. Hy voel hoe abba Johannes sy hande vryf en dis asof hy wakker word.

    Jy sal moet loop, anders gaan jy nie voor donker by die klooster wees nie.

    TERCIO DE VARAS

    DIE DERDE VAN DIE LANSE

    Daar is net een fout, liplief

    lieflip: ek moes jou

    nooit gesien het nie.

    – Petra Müller

    EEN

    Want die skone is niks anders nie

    as die begin van die verskrikking wat ons nét kan verduur.

    – Rainer Maria Rilke

    Oor die eerste blik sou die media later uitbundig berig. Maar dit sou natuurlik tweedehands wees: die woord skep sy eie werklikheid, maar kan nie die beleefde werklikheid bevat nie. Dié wete was later vir hom ’n troos wanneer hy daaroor nadink en die gebeure herleef, soos ’n tong wat telkens sy pad vind na die gat waar ’n tand was. Omdat hy weer en weer die varsheid van die eerste, ligtende oomblikke wou ervaar. Maar natuurlik ook oor wat later gebeur het.

    Die oggend het begin soos te veel ander, met die geluidjie van die iPad wat hy al hoeveel keer wou verander maar nie het nie. En die wete dat hy nie heeltemal genoeg geslaap het nie. Die opera in die Kunstekaap het tot laat aangehou.

    Toe die regop kom, sy bene van die bed afswaai en vir die soveelste keer besef hoe eienaardig dit is om die klein besonderhede van jou lewe presies te vind soos jy dit gelos het toe jy aan die slaap geraak het. En: Hoe onmagtig ’n mens is teen die dikker wordende laag stof wat oor jou lewe neersif.

    Hy het opgestaan en seker gemaak dat hy die beddegoed agter haar rug terugsit. Hy het aantrekkamer toe gegaan, die deur saggies toegemaak en die lig aangeskakel, die teëls koud onder sy voete.

    Hy het saggies sy fietsryklere aangetrek, die lig afgeskakel en weer die aantrekkamer se deur oopgemaak. Met sy fietsryskoene in sy hand by die trap afgegaan. Hy het die alarm afgesit en in die garage saggies die deur toegemaak en toe sy fiets van die muur afgehaal. Hy het sy fietsryskoene aangetrek, die garage se roldeur laat oopgaan, op sy fiets geklim en weer die deur met die afstandbeheer toegemaak. Hy het ’n oomblik so in die donkerte bly staan en na die dowwe sterre gekyk, die suidooster voel opsteek. Toe die kareeboom opgemerk, wat freneties met sy blare letters teen die lug skryf. Hy’t gedink Helshoogte gaan moeilik wees vanoggend en die fiets vorentoe laat loop, af in Piekesig. Hy het die veiligheidskompleks se skuifhek laat oopgaan, eenbeentjie deurgery, dit weer toegemaak, die afstandbeheer by sy hemp se agtersak ingevroetel en die ander skoen vasgeklik in sy pedaal.

    Hy het regs geswaai in Endlerstraat, toe links in Martinson en weer in Merriman. Links van hom het die steendenne soos boodskappers opgedoem, voor hom kon hy die gloed van die dorp se ligte sien. Soos gewoonlik het hy nie dadelik Helshoogte se kant toe gedraai nie, maar eers afgery tot by die kruising met Cluverstraat, om bietjie op te warm voordat hy die bult aanpak. Hy het gestop by die verkeerslig en toe die lig groen word, opgestaan in sy saal en regs by die Helshoogtepad ingedraai. Die heerlike spanning in sy bene gevoel soos hy die bult vat.

    Veel meer van die fietsrit kon hy nie later onthou nie. Dit was te soortgelyk aan talle ander kere. Hy kon wel onthou dat die wind inderdaad kwaai was en dat hy op ’n afdraand een keer wild moes uitswaai vir ’n kat. Of het dit ’n ander oggend gebeur?

    Toe hy die huis deur die garagedeur binnekom, het sy oor ontbyt gesit en koerant lees.

    Môre, het hy gegroet.

    Môre.

    Sy het aanhou lees sonder om op te kyk.

    Op die vraag hoe haar dag loop, het sy hom vertel dat sy die aand ’n ete met die ouditeursfirma PwC het. ’n Bekendstelling van hulle borgskap vir bergfietsry.

    Klink interessant. Wie gaan daar wees?

    Weet nie. Seker die gewone spul, plus ’n paar sportmalles.

    Gaan jy alleen?

    Sy het die koerant laat sak en hom aangekyk.

    Wou jy saamgaan? Soos ’n uitdaging.

    Nee wat.

    Hy het met die trappe opgestap om te gaan stort en aan te trek.

    ’n Rukkie later het hy die BMW hoor grom en wegry. Hy is terug kombuis toe. Hy’t ’n pakkie van Woolies se gesnyde vrugte oopgemaak, muesli en jogurt bygesit. Die koerant opgetel.

    Selfs dié gesprek sou hy net onthou omdat hy die ete daardie aand met PwC as ’n soort kapstok in sy geheue gehad het.

    Dit was sy gewoonte om by Vida e Caffè ’n koffie te drink voor hy werk toe gaan. Daar was ’n warmte aan die plek; en die ligging – op die hoek van Kerkstraat by die oopmaak van Birdstraat op pad Braak toe – het hom altyd op die een of ander manier aan sy kinderdae laat dink. Daar was vroeër jare ’n klerewinkel. Was dit De Jagers? Of was dit op ’n ander hoek? En die musiek, die luide vrolikheid van die personeel en die gemeensaamheid van mense wat koffie drink, het sy gees net so goed gedoen soos die sterk, bitter koffie.

    Hy het altyd vroegerig gegaan sodat hy nog parkeerplek daar naby kon kry. Maar dié oggend was Dorpstraat al besig en was daar nie meer parkeerplek nie. Hy het meteens onthou dat die studente terug is. Bliksem. Maar hy het tog plek voor Cluver Markotter se gebou gekry en vir die soveelste keer die ry figuurtjies van metaalwerk op die oorhang opgemerk.

    Hy het oor die straat gestap, sy oë opgeslaan na die koffierestaurant en byna gaan staan.

    Want by ’n tafeltjie agter Vida se groot vertoonvenster, met ’n koppie koffie in die hand, het ’n beeldskone meisie na hom sit en kyk. In ’n oomblik het hy die groot, bruin oë ingeneem, die perfekte wenkbroue, die fyn neus en breë, vol mond. En haar blik: daar was ’n doelgerigtheid daaromtrent. Hy het verward sy oë laat sak en die argeloosheid probeer veins van iemand wat nie daarvan bewus is dat hy dopgehou word nie.

    Hy het die koffierestaurant binnegegaan en in die ry gaan staan, net vaagweg bewus van die koffiejoggies se opgeruimde groete en geselsies met die klante, die gemurmel van die mense by die tafeltjies. Wie is sy? Ken sy my? Nee, hy het haar nog nooit gesien nie, daarvan was hy seker. Sy was nie ’n pasiënt nie, nie ’n student nie, nie een van Ingrid se kollegas of leerklerke nie. Hy sou onthou het.

    Sy het aan sy regterkant gesit, knap langs hom waar hy in die tou staan. Hy het probeer om nie te kyk nie, maar kon sy oë nie keer nie. Haar rug was na hom toe gedraai en sy het steeds by die venster uitgekyk en met haar teelepel gespeel. Haar hare was ’n dik bos swart krulle wat tot by haar skouers reik. Sy het smal skouers gehad onder ’n ligte truitjie. Haar vel was karamelkleurig en glad soos room. Hy kon haar parfuum ruik: ’n soeterige roosgeur met iets kruierigs by.

    Hy het die koffiejoggie se Next! gehoor en besef hy is voor in die ry. Hy het sy bestelling selfbewus geplaas; iemand wat dopgehou wil word.

    Met sy koffie in die hand het hy skuins agter haar teen ’n muur gaan sit. Na haar rug en weer na haar hare gekyk. Totdat hy sy blik verskuif en met ’n skok besef dat sy hom, of sy weerkaatsing, in die venster dophou. Maar voor hy haar oog kon vang, het sy opgestaan, ’n dagsak op haar rug geswaai en uitgestap.

    Hy het haar agterna gekyk: heerlike lyf, stywe boude wat woel in haar broek, lang en lenige bene. Sy het met ’n los en vinnige tred gestap, soos iemand wat gereeld oefen en gemaklik is met haar lyf. Krulle wat wip met elke tree. Sy het verdwyn na die Braak se kant toe sonder dat hy weer haar gesig kon sien.

    Effe bedroë het hy sy koffie sit en drink. Miskien het hy hom verbeel. Maar tog nie. Dalk was sy net ingedagte en het sy hom nie eens raakgesien nie. Ook nie: sý het weer na hóm gekyk. Doelbewus gekyk. En hoekom het sy dadelik geloop toe sy agterkom hy kyk na haar?

    Jy sit nou en kwyl soos ’n bleddie student, het hy homself betig.

    Dit was hy natuurlik lankal nie meer nie. Bepaald nie: uiters suksesvolle psigiater van al Stellenbosch se oorrykes, ja. Sekulêre versorger van hulle siele en ontvanger, deur sy goedversorgde ontvangsdame van afstandelike ouderdom, van irrelevante hoeveelhede van hulle of hulle mediese fondse se geld. Deeltydse dosent aan die universiteit, met verskeie gesaghebbende artikels oor die psigopatologie agter sy naam. Medeskrywer van ’n voorgeskrewe werk vir studente. Voltooier, met nogals skaflike tye, van verskeie bergfiets-uitdaagwedrenne. Besitter van ’n knalgeel Porsche – weliswaar op skuld, maar dit staan nie op die kar nie.

    Net jammer oor die huwelik.

    + + +

    Hallo, duende, my ou vriend. Ek het weer met jou kom praat.

    Ek het hom gaan opsoek op sy webwerf. ’n Lelike maar interessante gesig. Dun, met die plooie van iemand wat baie oefen en min eet. Donker hare wat wil-wil grys word. Groot, vriendelike, hartseer oë onder ruie wenkbroue. Oorgroot neus. Drie dae oue baard, sout-en-peper. Mond met kleurlose lippe. Onreëlmatige tande in die glimlag.

    Hy lyk nie soos ’n psigiater nie. Geen tweedbaadjie of pyp nie, net ’n linnehemp in Provensaalse blou.

    Ek het met my hartseer wat sing in my hand – jou hartseer, noudat ek daaraan dink – ’n afspraak gemaak by die formele vrou wat oor die foon klink of sy Nederlands is, of dalk Duits. Vir vanoggend.

    Ek sit vroegoggend in ’n koffierestaurant – en God, hier stap hy oor die straat. Oor die straat reguit na my toe. Hy kyk op en dit lyk of hy skrik. En ek kan net weerloos staar. Soos ’n danseres wat die eerste akkoorde van ’n liedjie hoor en wie se heupe begin wieg sonder dat sy dit weet.

    Hy kom in en bestel sy koffie en hy gaan sit en hy kyk na my. Kyk na my met daardie oorgroot, vriendelike, hartseer oë. Of hy my bedink terwyl hy kyk.

    Laf is jy. Laf. Laf. Hy het nie. Hy het nie.

    O, maar hy het.

    + + +

    Hy was nog ’n mediese student toe hy haar een aand by ’n braai ontmoet het. Dit was ’n huismaat se verjaarsdag, maar hy moes die volgende oggend by Ongevalle werk en kon nie regtig saamkuier nie. Hy het daarom maar met ’n Coke in die hand gestaan en luister na die manne se gesels. Sy het skuins van agter gekom.

    Wat maak ’n sappige stuk vleis soos jy hier op jou eie? Terwyl sy haar hand op sy boarm sit en aan sy spiere voel.

    Ek … e … het hy nog probeer, maar sy het hom onderbreek.

    Ingrid Burger.

    Dawid Neethling.

    Hallo, Dawid Neethling. So, wat is jou verskoning om los op die Bos te wees?

    Ek is vyfdejaar medies.

    En ek doen BRek-honneurs, maar my persoonlikheid is nie ’n ingeboude voorbehoedmiddel nie.

    Hy het onthuts gelag en gewonder wat die meisie met die aristokratiese, byna Middeleeuse gesig en lenige lyfie in hóm sien. Hy het nie lank moes wag om uit te vind nie. Sy het die res van die aand op dieselfde flankerende toon met hom gekuier. Hulle het albei te veel gedrink – hy ten spyte van sy verpligtinge die volgende oggend – en is later saam na haar woonstel toe. Hy het in die nag wakker geword van ’n gevroetel aan sy onderlyf, sy oë oopgemaak en vasgekyk in haar skoongeskeerde geslag en die onderkant van haar boude. Hy het haar boude in sy hande geneem en gulsig saam geëet, soos iemand wat in ’n droom aansit by ’n feesmaal waarna hy nie genooi is nie.

    Hy het die volgende maand by haar ingetrek, hoewel hy om sy ouers se onthalwe sy vorige kamer bly huur het.

    Hy het die volgende ses maande agtergekom dat sy baie nougeset is. Oor wat sy eet, oor hoe haar goed in die badkamer gerangskik moet wees, oor haar werk, haar uur lange gimsessie oor middagete, oor seks elke oggend en elke aand. En oor die feit dat dinge moes werk net soos sy dit beplan het. Indien nie, was die hel los. Sy het hom gevloek en geskel soos ’n viswyf, dinge gebreek en hom selfs per geleentheid fisiek bygedam.

    Dan sou sy hom ná so ’n ontploffing – want dis wat dit was, onverwags en oorweldigend – vir dae aaneen totaal ignoreer, tot sy op ’n nag op hom kom sit en hom bevry met die dorstigheid van ’n hermiet wat pas sy siel aan die duiwel verkoop het.

    Die kontras tussen die prettige, pittige meisie en die woedende kind het hom aanvanklik verskrik gelaat. Hy was glad nie so iets gewoond nie. In sy ouerhuis was die emosionele landskap afgebaken en bekend. Sy ouers het nooit voor hom baklei nie en sy sibbe was sy intellektuele en emosionele minderes. Maar die onvoorspelbaarheid van haar woede het hom ook geprikkel. Dit was soos oorgawe aan ’n chaotiese onbekende. En hy was heimlik seker dat as hy haar beter sou leer ken, hy die aanvalle beter sou leer hanteer, of selfs beheer. Buitendien, as hy dit nie regkry nie, kon hy altyd later sy opsies heroorweeg.

    Die boom van die chaos en die opsies het een oggend uitgeval toe Ingrid by die badkamer uitkom en aankondig dat sy swanger is. Hy het gevoel hoe die bloed uit sy gesig dreineer, terwyl hy in sy gedagtes rondgryp na implikasies en uitkomkanse.

    Van implikasies was daar heelwat, uitkomkanse geen. Want die waarheid was dat Dawid te veel van ’n jong, onseker Afrikaner was om ’n swanger meisie sommerso op die vlakte te laat, of selfs in ’n voorwaardelike verhouding met haar voort te gaan. Buitendien het Ingrid hom duidelik laat verstaan dat die hel los sou wees as hulle nie trou nie. Die resultaat het eenvoudig meer chaos beloof as wat Dawid sou kon hanteer.

    Ingrid het die troue haastig gereël en hy moes die vrank vernedering daarvan smaak

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1