Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Goudduiwel
Goudduiwel
Goudduiwel
Ebook401 pages6 hours

Goudduiwel

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Agent Rex Reynecke moet ’n span lei in ’n forensiese ondersoek vir die Valke. Sy verhouding met die beeldskone Alicia blom, ten spyte van daardie een doring in die vlees: haar broer, die wilde loot Niel Campher. Nes Rex dink hy begin die nuwe uitdagings van sy beroep baasraak, verdwyn Campher – pas nadat die man geïdentifiseer is as die hoofverdagte in ’n dubbele moordsaak. Spoedig blyk dit dat Campher se verdwyning verband hou met die sogenaamde Kruger-miljoene van die Anglo-Boereoorlog, en Rex moet hom red uit die kloue van ’n duistere organisasie genaamd die Ysterhout-laer. In dié intrige-belaaide roman bou die spanning op tot ’n hoogtepunt in Skukuza – ’n wilde jaagtog op donker stofpaaie wat geskik is vir die vrye beweging van swerwende wild, nie vir kat-en-muisspeletjies met kragtige voertuie nie . . .
LanguageAfrikaans
PublisherQueillerie
Release dateSep 6, 2016
ISBN9780795801181
Goudduiwel
Author

Duane Aslett

Duane Aslett is ’n senior lektor in forensiese rekenmeesterskap aan die Noordwes-Universiteit. Hy studeer tans vir sy LLD aan die NWU oor die onderwerp Combating Organised Crime in South Africa. Hy en sy vrou, Tammy, woon op Potchefstroom.

Related to Goudduiwel

Related ebooks

Related articles

Reviews for Goudduiwel

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Goudduiwel - Duane Aslett

    Duane Aslett

    GOUDDUIWEL

    Queillerie

    Vir Tammy

    Proloog

    31 Mei 2008, Skukuza

    Uitasem staak die twee operateurs hul geswoeg en bring die pomptrollie in die middel van die treinbrug oor die Sabierivier tot stilstand – ’n ongewone ligging vir die amptelike seremonie wat op die punt is om voor die gonsende skare af te speel.

    Niel Campher vee ’n blaartjie van sy swart aandpak se lapel af. Dan verstel hy die rooi lint op die derde knoop van sy gladgestrykte wit hemp en glimlag in sy binneste – die rooi lint is bevestiging van sy adellike herkoms. Hy sluit hom aan by die gaste wat ’n ent langs die spoorlyn afgestap het om die seremonie van nader te beskou.

    Are you enjoying yourself, your majesty? vra ’n kort, ronde man wat langs Niel kom staan het met ’n swaar Afrikaanse aksent. Sy grys hare gloei amper wit in die skemerlig.

    Very much so, thank you, sir, antwoord Niel met die Sweedse aksent waaraan hy weke lank gewerk het. Hy volg dit op met die breë, adellike glimlag wat hy voor die spieël ingeoefen het. Your country has a fascinating history … and an interesting blend of cultures. Hy gewaar uit die hoek van sy oog hoe Sydney Soundy en die ander hooggeplaastes van SANParke en die SA Munt van die treinbrug af terugkyk in die gaste se rigting, waarskynlik om die opwinding uit te rek. Hoewel Niel nie die medalje in Sydney Soundy se hand kan sien nie, weet hy die muntstuk wat minute gelede in die Selati-restaurant geslaan is, sal binnekort die lug in geskiet word om af te tuimel na die Sabie se kabbelende, donker waters.

    Dit het verskeie pogings geverg om dié munt te slaan – in dieselfde antieke handpers wat die Kruger-regering tydens ballingskap in die Anglo-Boereoorlog gebruik het – maar eindelik kon die amptenare van die SA Munt dit in die lug hou terwyl hulle die gaste se applous breëbors inneem. Daarna het hulle op die pomptrollie geklim en die halwe kilometer tot in die middel van die treinbrug afgelê.

    Miss Pernald did not join you for your visit to our beautiful country?

    Die ligte rilling wat by die aanhoor van dié vraag deur Niel se liggaam trek, verbaas hom. Hy het dan gemeen hy is goed voorberei vir vanaand se funksie. Hy het sy hare effens langer agter sy ore laat groei, soos die kroonprins van Swede syne dra, en dit met jel gladgestryk na aanleiding van ’n foto van die prins in ’n aandpak. Gekleurde kontaklense het sy blougrys oë in bruines omgetower en ’n week oue baard verberg die verskil tussen sy en die kroonprins se kakebeenlyn.

    Dit help ook dat prins Carl Philip tans drie weke lank opleiding by die Sweedse Nasionale Weermagkollege ondergaan, waarna hy blykbaar tot die rang van kapten in die Sweedse Vloot bevorder sal word. Geen mediaberigte oor die prins se doen en late sal Niel dus vandag verraai nie. Verder maak hy daarop staat dat Suid-Afrikaners taamlik vertroud is met die monargieë van die Verenigde Koninkryk en Monaco, maar redelik oningelig oor dié van die Skandinawiese lande. Hy het dus gemeen die gaste by vanaand se geleentheid sal nie op hoogte wees met die Sweedse Koninkryk nie – maar toe kom verras hierdie ronde mannetjie hom.

    Ten minste het Mannetjie nog nie sy identiteit as kroonprins bevraagteken nie. Seker deels omdat Niel se neus met behulp van ’n professionele grimeerder effens aangepas is. Hy onthou hoe hy haar ontmoet het nadat hy haar eers ’n ruk lank op Facebook dopgehou en toe ’n paar dae agtervolg het om die perfekte geleentheid vir hul kennismaking te skep. So, toe een van sy handlangers soos afgespreek haar handsak steel en hy wat Niel is dit kort daarna triomfantlik aan haar terugbesorg, het dinge seepglad verloop. Hy was haar ridder op die wit perd en haar onervarenheid in die slaapkamer het van hom ’n nog groter held gemaak – tot so ’n mate dat hy nou nog haar kaal borste voor hom kan sien hang terwyl sy die neus op sy gesig fatsoeneer. Hy sal haar nog so ’n week lank aan die lyn hou voor hy haar loslaat.

    Hy merk dat Mannetjie steeds op sy antwoord wag.

    "Uhm … I am afraid Emma could not make the trip due to … other commitments. And I am here on a clandestine visit to your National Defence Force as part of my own military training. I am soon to be promoted to the rank of kapten in the Swedish Navy and wanted to learn more about the warfare techniques employed during the Bush War. We don’t have this kind of terrain in Sweden, so I find it fascinating … Alas, it seems the ceremony is about to begin …" Niel wys in die rigting van die treinbrug.

    Die skare rek hul nekke in afwagting toe Sydney Soundy se blik verskuif na die water wat onder die treinbrug deurvloei. Die Sabie skitter plek-plek in die skemerte, sonder enige teken van die krokodille wat ongetwyfeld geduldig op hul prooi wag. Niemand sal dit waag om daardie muntstuk te gaan uitduik nie, dink Niel.

    Mannetjie klap op sy nek waar ’n muskiet klaarblyklik besig was met sy aandete en bekyk dan sy handpalm om te sien of dit ’n kolskoot was.

    Fortunately the malaria-carrying buggers operate below knee level, sê hy glimlaggend en Niel wonder wié se kniehoogte, want Mannetjie opereer heelwat nader aan die grondoppervlak as die deursneepersoon.

    Sydney Soundy loer vir oulaas na die skare, skiet dan die muntstuk hemelwaarts en kyk hoedat dit ’n afwaartse trajek na die glinsterende waters inslaan en met ’n ligte plons in die dieptes verdwyn. Opwinding bruis deur die skare en spontane applous gaan op toe die pomptrollie stadig in die stasie se rigting begin terugbeweeg.

    Niel baan saam met die ander sy weg na die Selati-restaurant op die perron van die voormalige Skukuza-spoorwegstasie, waar glase vonkelwyn en skinkborde met versnaperinge gereed staan ter viering van die Nasionale Kruger-wildtuin se 110-jarige bestaan.

    So, do you have any plans to settle down in marriage in the near future, your majesty?

    Niel was onder die indruk dat hy Mannetjie afgeskud het, maar nee. My eie muskiet wat om my ore gons, dink hy en wens hy kon ook sy plathand inspan.

    No, I have recently taken up motor racing and will be competing in the Porsche Carrera Cup this year, which will hardly allow any time for planning a wedding and settling down, antwoord hy gemaak vriendelik.

    And is King Carl Gustav not concerned that you may get hurt participating in such dangerous sporting activities? vra Mannetjie ernstig.

    Nou kos dit inspanning om nie sy irritasie te wys nie. Niel het voor die verrigtinge aangedui dat sy besoek aan Suid-Afrika ’n stil en private affêre is en dat daar dus nie vanaand ’n groot ophef daarvan gemaak moet word nie. Inteendeel, het hy laat val, hy en juffrou Pernald het verhoudingsprobleme en die besoek bied hulle die geleentheid om buite die kollig hul verhouding te oordink. Tot dusver is sy wense nagekom.

    "Au contraire, he is thrilled that I seem to have inherited the passion for motor sport from my godfather, Prince Bertil. Now, if you’ll please excuse me, I need to use the restroom."

    Of course.

    Verlig stap Niel in die rigting van die toilette. Hy sal Mannetjie die res van die aand vermy en wanneer die silwergedenkmedaljes aan die eregaste oorhandig is, sal hy hom uit die voete maak voor hy dalk sy rieme styfloop. Hy wil egter nie nou al padgee en die kans verbeur om een van die slegs 110 medaljes te besit nie.

    Die lewe is goed, dink hy terwyl hy sy plastiekneus in die spieël bekyk. Daniël Petrus Campher – of, soos hy vanaand bekendstaan, die kroonprins van Swede – is oseane ver verwyder van die knopknie-kaalvoetseun wat met sy tweedehandse fiets Stilfontein se strate moes aandurf. Daantjie, soos hy toe genoem is. ’n Naam wat hy gehaat het, in ’n dorp wat hom verdruk het.

    Na hoërskool het hy Stilfontein verlaat en homself in Niel Campher omskep. En dié verhuis eersdaags na ’n nuwe multi-miljoenrand-dakwoonstel met ’n panoramiese uitsig op Sandton.

    En hoe gemaklik leef hy nie onder die radar nie? Vandat die Skerpioene begin geluide maak het dat hulle Jacob Zuma vir korrupsie gaan vervolg, veg hulle vir eie oorlewing. Die man wat hier staan, is onbelangrik en die gewone polisie is veels te dom om hom vas te trek.

    Ja, Niel Campher reik steeds hoër. Niel Campher is onstuitbaar …

    1

    Rex Reynecke klap met die rugkant van die spaan op die wateroppervlak om sy balans te herwin. Die gedruis om hom raak harder en harder.

    Hy merk skielik ’n bultjie in die water ’n ent voor hom. Uit ondervinding weet hy onder só ’n bultjie skuil ’n rots, onsigbaar weens momentum wat die vloeiende waters bo-oor die rots forseer om ’n slagyster te vorm wat die onoplettende roeier onkant betrap.

    Rex trap die pedaal om die Assegai K1-kano links van die bultjie verby te stuur. Hy sien hoe die rots deur die dun watervlies aan die agterkant van die bultjie loer, oor die stiller water van die draaikolk wat daar vorm – asof die rots van agter ’n sluier vir hom gluur voordat dit op ’n volgende prooi wag. Rex blaas asem uit, tevrede met die verbetering in sy vermoë om die rivier te lees.

    Hy besef egter die grote lê nog voor: Karavaanpark. Van die oewer af lyk dié stroomversnelling nie besonder uitdagend nie, maar oor die boeg van ’n kano met jou sitvlak onder die waterlyn, is dit ’n monster. En vandag wil hy nie omslaan as hy Karavaanpark skiet nie. Hy oordink die stappe: stuur op die middelpunt van die watertong af; roei so ver moontlik in die stroomversnelling in; lig die spaan hoog wanneer jy deur die brander aan die onderkant skiet sodat die spaan nie vasgevang word en jou omtrek nie. En wanneer jy deur die brander is … roei vir ’n vale!

    Hy hoor die bruisende waterval voor hy die Karavaanpark-stroomversnelling kan sien. Dan gewaar hy Alicia en Michiel waar hulle stroomaf op die oewer staan, Alicia se groot wit sonhoed opvallend. Die eerste keer toe hy haar ontmoet het – en hy vasgekyk het in daardie blou oë wat steeds sy asem wegneem – sou hy nooit kon dink hulle sal eendag só saam by die Kliprivier ontspan nie. Sy trap hom nog gereeld speels uit oor hy haar toe vir ’n prostituut aangesien het.

    En ek was in my gewone verpleegstersuniform, het sy dit op ’n keer aan Niel en sy trawante duidelik gemaak. Nie daardie twee-groottes-te-klein wit pakkies wat die strippers dra nie. Rex se verweer is natuurlik dat dit haar broer se skuld was, want Niel Campher wou seker maak daar is geen romantiese verwikkelinge tussen sy suster en die geheime agent wat die Valke in sy sluikhandel-bedrywighede ingeforseer het nie.

    En ek sal nie omgee as jy een van daardie wit uniformpies aanskaf nie, het Rex teruggespot. Hy is nie seker of Alicia of Niel die hardste geprotesteer het nie.

    Kom, oom Rex! skree Michiel terwyl hy op en af spring, met Alicia wat steeds sy hand vashou. Sy bly beskermend teenoor die bloedjie, veral omdat haar eksman hom so gereeld in die steek laat.

    Hy dwing sy gedagtes terug na die taak op hande, want Karavaanpark vereis ’n roeier se volle aandag. Anderkant die stroomversnelling sien hy die rompe van kano’s wat getiep het en nou al dobberend deur die stroom voortgesleur word. Die roeiers wat voete eerste langs hul kano’s stroomaf dryf en verbete probeer om dit wal toe te stuur. Hulle sal hopelik onthou dat hulle nie durf opstaan nie – ’n natuurlike reaksie, maar noodlottig as jou voet tussen die klippe op die bodem vashaak. Een van die roeiers van die Duzi-kanomarathon het weggekom met ’n been wat op drie plekke gebreek is.

    ’n Ander een was nie so gelukkig nie: hy het vasgeval en die sterk stroom het hom ondergedompel. Die lewensredders was te laat.

    Rex voel hoe die kano versnel. Hy hou aan roei – ritmiese hale. Dan sak die boeg voor hom weg en verdwyn onder die skuimende waters terwyl sy maag in sy borskas opdruk. Dit bruis om hom, in sy ore, weergalm in sy skedel. Die hele kano is nou buite sig, onder die kolkende oppervlak. Hy hou die spaan bo sy kop. Water spat in sy gesig. Verblind hom toe hy opwaarts deur die brander skiet asof die woedende massa hom uitspoeg.

    Dan voel hy hoe hy na links kantel. Klap met die rug van die spaan op die water. Roei verbete. Kantel na regs. Klap. Nie genoeg nie. Klap weer. Roei!

    Die water word kalmer om hom, maar hy hou nie op roei nie, want hy onthou die slag toe hy opgehou het omdat hy gedink het hy was deur ’n stroomversnelling. Hy was verkeerd en ’n verleë swem na die oewer was sy straf.

    Hy trap die regterkantste pedaal in om die kano wal toe te stuur, waar Alicia en Michiel hom luid toejuig. Hy glimlag in hul rigting toe hy tot stilstand kom en draai dan sy kop om terug te kyk na Karavaanpark se stroomversnelling, wat hy pas vir die eerste maal suksesvol geskiet het. Trots.

    Dan tiep hy om.

    * * *

    Rex draai ’n handdoek om sy onderlyf vas. Die nat flotteerbaadjie, waterskoene en helm lê op die gras waar die middagson dit kan droogbak. Hy skud sy kop – die hele Kliprivier af, net om verby die eindstreep om te tiep. Ten minste het hy Alicia en Michiel daarmee vermaak.

    Hy laai die kano op die roeiklub se treiler en het pas begin om dit vas te bind, toe sy selfoon lui: Niel Campher.

    Is jy nou spyt jy’t nie saamgekom nie? antwoord hy met die selfoon tussen sy skouer en oor vasgedruk terwyl hy die bande om die kano styftrek.

    Rex, fluister Niel. Ek’s in die moeilikheid! Jy moet help … Sy stem is angsbevange.

    Wat’s fout? vra Rex terwyl hy afstap rivier toe, buite hoorafstand van Alicia en Michiel.

    Shit! Hulle is naby!

    En dan word die verbinding verbreek.

    Rex probeer terugbel. Die foon lui een keer en skakel dan oor na Niel se stempos. Hy druk dood sonder om ’n boodskap te los, draai om en stap fronsend terug na die sleepwa.

    Die selfoon vibreer in sy hand en hy lees Niel se WhatsApp-boodskap: Kani nou praat ni. Kruip weg vi Fred se ouens. Hul hier vi my. Help! Ek by penthouse.

    Rex wonder of dit weer een van Campher se bogstories is. Die seun wat wolf geskree het, het uiteindelik sy rieme styfgeloop. Miskien moet hy hom die voordeel van die twyfel gee, maar die laaste keer toe hy Campher vertrou het, is hy met twee koeëlgate in sy bors by Ongevalle opgeneem.

    Ek gaan vir julle ’n ander lift reël, sê hy saggies vir Alicia. Daar is iets aan die gang by Niel se penthouse. Ek wil gaan kyk of hy oukei is.

    Is hy in die moeilikheid? Wat gaan aan? Daardie blou oë wat haar angs verklap.

    Ek is nie seker nie. Hy het iets gesê van Freddie se ouens wat op sy spoor is. Ek sal meer weet wanneer ek daar aankom. Dalk wil hulle wraak neem. Freddie se bates is verlede week deur die Batebeslaglegging-eenheid opgeveil, so ek glo nie hy is meer ’n fan van Niel nie.

    Jy moet gou maak, Rex. Die angs is nou in haar stem ook. En wees asseblief versigtig.

    Altyd. Hy trek haar tot teen hom, soen haar terwyl sy hom styf vasdruk. Dan wink hy Michiel nader.

    Ek weet ons sou nou vir roomys gegaan het, maar ek moet gou na oom Niel toe ry om hom met iets dringends te help. Ek sal jou en Mamma vanaand vat vir pizza. Is dit oukei? Hy gee Michiel ’n stywe drukkie toe hy die haastige kopknik sien.

    Skaars twee minute later pluk hy ’n T-hemp aan terwyl hy na die Audi S5 hardloop, met ’n geleentheid huis toe vir Alicia en Michiel gereël en nadat hy een van die klublede gevra het om sy kano by die klub af te laai en te berg. Sy nat broek het hy sommer so in die staan onder die handdoek met ’n droë een vervang.

    Die S5 brul aan die lewe en Rex stuur dit na die roete tussen Meyerton en Sandton.

    Hy het egter pas op die R59 geklim toe sy selfoon lui. Weer Campher.

    Is jy oukei?

    Ja, ek is, hulle is weg. Hulle kon my nie kry nie. Ek het in die kas onder die sink in die opwaskamer weggekruip.

    Rex frons. Dit klink taamlik verregaande.

    Hoe weet jy dit was Freddie se manne?

    Dit kon net hulle gewees het. Die bliksems! In elk geval, Rex, moenie worry om na my penthouse toe te gaan nie. Ek het reeds gery en ek het met Wingnut gereël om vir ’n ruk te verdwyn … tot die stof gaan lê het. Ek is nou op pad na hom toe. Ek sal later kontak maak, maar sê vir Alicia sy moenie haar bekommer nie.

    Hy beëindig die oproep voor Rex iets kan sê.

    Rex wonder waarmee Campher besig is, want sy storie maak nie sin nie. Hy bel terug, maar die foon is reeds afgeskakel.

    Voor hom doem die Engen Blokhuis 1-Stop op, vernoem na die Witkop-blokhuis wat langs die vulstasie geleë is. Een van slegs vyftig wat oorgebly het – blokhuise wat tydens die Anglo-Boereoorlog in opdrag van lord Roberts gebou is om Britse sleutelpunte te beskerm.

    Rex bring die Audi in die parkeerterrein tot stilstand. Na daardie gestoei met die Assegai op die Kliprivier smag hy na ’n Wimpy-koffie.

    En hy het tyd nodig om dié jongste dinge van Campher te oordink.

    2

    28 Mei 1900, Pretoria

    Die dag se kleure vervaag in skakerings van grys soos wat die nag begin oorneem.

    Artillerie-offisier Gustav Preller jaag verwoed deur die strate van Pretoria. Soekend. Lord Roberts en sy Kakies is reeds by die Kliprivier en hy wat Gustav is, wil nie teleurstel nie. Hy móét slaag in sy missie; gehoor gee aan die opdrag wat so kort en kragtig aan hom oorgedra is: Kry ’n wa!

    Preller sug, deels weens die frustrasie wat geleidelik in hom opgebou het sedert hy die opdrag gekry het, deels weens die wanhoop wat begin het om dit te vervang. Op die oog af is sy taak eenvoudig, want waens vind ’n mens in Pretoria tog om elke hoek en draai – onder normale omstandighede. Maar vanaand s’n is uniek.

    Eerstens is die vyand baie naby, net anderkant Johannesburg volgens die jongste berigte, op die oewer van die Kliprivier. En tweedens het al wat mens is reeds die pad gevat, mét hul waens – vol gelaai met die waardevolste besittings wat hulle inderhaas bymekaar kon skraap.

    Pretoria is dus ’n spookdorp, so waar de hel moet hy ’n wa in die hande kry?

    Hy hoor sy perd se snorkgeluide soos hy op volle vaart deur die verlate strate galop, hoor hoe die hoewe se klakgeluide weergalm. Sy soekende oë vind ware wat in die vroeëre chaos versaak is – mooi goed; bruikbare goed. Goedere wat enige eienaar sou wou saamneem, was dit nie vir die omstandighede en gebrek aan plek op hul waens nie. Op sulke tye gryp jy net die noodsaaklikste: kos en klere.

    Hy hoop president Kruger het veilig uit Pretoria gekom. Die Afrikanersaak is in die weegskaal en Paul Kruger se leierskap is onontbeerlik vir sukses. Vanaand moet hy wat Gustav is sy eie groot bydrae tot die saak lewer, ’n saak wat hy reeds besef het sy lewenstaak sal word. Die voortbestaan van die Afrikanervolk.

    En hoewel sy taak vanaand direk met die oorlogvoering verband hou, voel hy dat hy in die toekoms op literêre vlak ’n groter en meer beduidende bydrae tot die Afrikaner se opheffing kan lewer, want na hierdie oorlog gaan hy die wapen neerlê en van die pen leef. Die Afrikaner se taal moet verhef word tot akademiese standaard, hoewel baie vir hom lag en sê hy is mal. Volgens hulle is die taal vir ewig verdoem tot sy natuurlike vlak – Kitchen Dutch – want daarvoor sal die Ingelse sorg.

    Hy trek sy perd in en tuur in ’n systraat op. Nog steeds geen wa in sig nie. Hy hoop hy oorleef hierdie oorlog om sy literêre aspirasies voort te sit, want hoe langer dit neem om ’n wa in die hande te kry, hoe skraler word sy kans op oorlewing. Lord Roberts is na bewering ’n formidabele kryger en hy het geen begeerte om persoonlik met die man se vernuf te make te kry nie. Hy skop sy hakke in die perd se ribbes en kies koers in Sunnyside se rigting.

    In Esselenstraat trek hy weer sy perd in en spits sy ore. Het hy reg gehoor? Ja, daar’s dit weer. ’n Gevoel van genoegdoening spoel deur sy lyf. Hy sál sy opdrag nakom. In die skaduwee van ’n denneboom neem hy skuiling in. Hy gáán in sy doel slaag. Hy hoor hoe die geluide harder word namate die afstand tussen hulle krimp. Die klakgeluide van hoewe – en die gerammel van ’n wa! ’n Melodie in sy ore.

    Hy herken die drywer in die skemerlig. Pompie, soos die Zoeloe met die vriendelike gesig bekendstaan. Preller het al ’n paar keer met hom te doene gehad. Sy saggeaardheid het hom moeilik in die geharde mynomgewing laat inpas en Pompie het as huisbediende vir een van Pretoria se mees gesiene families begin werk. Hy is vir sy hardwerkendheid en getrouheid beloon, maar dit is sekerlik ook die rede waarom Pompie dié tyd van die aand nog met sy baas as passasier moet rondskarrel.

    Preller merk die onmiskenbare silhoeët van die eienaar se keil agter in die wa. Hy het nog nooit van die man gehou nie. Te geldgierig, en hy vermoed al lank die man het bande met die Britte. Dalk is dit hoekom hy Pretoria nog nie verlaat het nie; het seker reeds oor sy volgende sakestrategie met die Britte onderhandel.

    Hy wag op die regte oomblik, storm dan vanuit die skaduwees voor die wa in. Pompie paai die verskrikte muile terwyl hy hulle intrek.

    Wat is fout met jou? skreeu die eienaar van agter die wa af.

    In die naam van die ZA Republiek kommandeer ek hierdie trolliewa! sê Preller in sy mees amptelike stemtoon. Hy gaan nie tyd mors met mooipraatjies nie.

    Watse blerrie regering? Dit bestaan nie meer nie! Gee pad so- … Hy sluk die res van sy sin toe Preller die Webley uit sy holster pluk en op hom rig. Dan spring die man van die wa af, struikel en ploeg in die stof neer. Hy strompel weer orent. Onder ander omstandighede sou Preller die toneel vermaaklik gevind het.

    Ek gaan ’n klag lê by die Zarps, Preller! Hulle sal jou toesluit! skree die man toe hy homself reggeruk het en Pompie weer die muile aan die beweeg kry.

    Watse blerrie Zarps? Hulle bestaan mos nie meer nie! lag Preller voor hy die perd draai en agter die wa inval.

    Hy sien oor sy skouer hoe die eienaar briesend sy vuis in die lug swaai en dan die skemerte in storm, waarskynlik om hulp te ontbied. Hy skud sy kop, want nugter alleen weet waar die man vanaand enige hulp gaan kry.

    Hy druk die Webley terug in sy holster en merk hoe Pompie se oë senuagtig na die rewolwer flits. Hy meen die Zoeloe sal sy samewerking veel meer geredelik as die wa se eienaar gee.

    Kerkplein toe, Pompie, gebied Preller. Ons moet klaarmaak voor lord Roberts Pretoria binneval. Hy trek al by die Kliprivier.

    Dit is donker teen die tyd dat hulle hul bestemming bereik en die maanlig werp onheilspellende skaduwees oor die plein. Die lug is ysig op Preller se wange. Die winter is hier, en dit gaan die oorlog net moeiliker maak.

    ’n Stem groet hulle vanuit die donkerte toe Pompie die wa voor die Paleis van Justisie tot stilstand bring.

    Goeie werk, manne! Die rydinge blyk maar skaars te wees vanaand, sê Jan Smuts toe hy vanuit die donkerte tree en in die maanlig sigbaar word.

    Naand, meneer die staatsprokureur, groet Preller beleefd terug. Ja, die eienaar was nie baie gretig om sy trollie af te staan nie. Ek dink hy verwag betaling.

    Se voet! Ons sal mos die wa mét sy drywer voor dagbreek aan hom terugbesorg. Volg my!

    Hulle stap by ’n sydeur die Paleis van Justisie binne. Die sementreuk van die pas geboude vertrekke hang nog skerp in die lug. Smuts lei hulle deur die eerste kluis en draai dan regs in by die tweede.

    Preller steek vas, swets onderlangs. Skok laat sy woorde opdroog. Agter hom prewel Pompie iets in sy eie taal.

    Voor hulle, hoog gestapel, glinster meer goudstawe as wat Preller ooit kon droom bestaan. Die goud wat die toekoms van die Boeremag moet verseker, glinster op die steeds nat sementvloer in die Paleis van Justisie se kelder.

    * * *

    Rex slurp aan sy koffie en lees met ’n halwe oog die berig in een van die ou tydskrifte wat hy uit ’n mandjie langs die toonbank opgediep het. Dit handel oor ’n internasionale toekenning wat die staatsaanklaers van die Boeremag-saak as erkenning vir hul goeie werk ontvang het, en hoe hulle tien jaar lank vanuit ’n stofbedekte stoorkamer onder in die Paleis van Justisie moes arbei. Hulle moes noodgedwonge hul intrek in die kelder neem omdat die advokatekamers nie genoeg ruimte gehad het om die staat se vervolgingspan te huisves nie.

    Ten einde laas is 19 beskuldigdes tot altesaam 240 jaar gevangenisstraf gevonnis.

    Hy skuif die tydskrif opsy en sluk die laaste bietjie koffie. Campher se storie hinder hom steeds. Die een oomblik klink die ou so angstig soos iemand in die dodesel, die volgende lag hy die saak af en verwag dat niemand bekommerd moet wees nie.

    Waarom is sy selfoon nou afgeskakel? Dis nie asof Freddie of sy trawante Niel gaan bel en vra waar hy wegkruip nie.

    Rex kom agter dat hy besig is om uit frustrasie sy regterbeen op en af te pomp. Hy haat dit dat Campher sy lewe so binnedring.

    Hy het sy prokureurspraktyk die rug gekeer en ’n lewe as ’n geheime agent aanvaar … om in afsondering Leigh se skielike dood te probeer verwerk. Weg van al die En hoe gaan dit vandag, Rex?-vrae, in stemtone wat medelye moes oordra. Die vervulling wat die prokureurspraktyk hom eenmaal gebied het, was net so afwesig soos sy.

    Elke dag op kantoor was leër as die vorige, totdat dit vir hom gevoel het die kantoor is sy eie witgeverfde graf.

    Nadat hy Alicia ontmoet het, kon hy insien dat hy eintlik heeltyd besig was om weg te hardloop, eerder as om vrede te maak met sy vrou se afsterwe. En só het die wil om weer voluit te lewe algaande sterker geword – maar Niel Campher was die fynskrif in

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1