Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Met Liefde wat saamgaan en ander stories
Met Liefde wat saamgaan en ander stories
Met Liefde wat saamgaan en ander stories
Ebook235 pages2 hours

Met Liefde wat saamgaan en ander stories

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Hoeveel kan ’n mens lief hê? Dié versameling essays van woord- en musiekmens Annalise Wiid wys weer dat Annalise kyk op ’n ander manier na alles rondom haar. Sy gebruik spesiaal uitgesoekte woorde wat bemoedig en inspireer, wat jou lewe verryk en wat jy weer en weer sal wil laat lees. Sy reflekteer die sweef en die strompelkant van ’n liefhê-lewe en belewenis.
LanguageAfrikaans
PublisherLux Verbi
Release dateNov 1, 2016
ISBN9780796320254
Met Liefde wat saamgaan en ander stories
Author

Annalise Wiid

Annalise Wiid is van woorde en wysies aanmekaargeweef. Sy skryf stories, liedjies en rubrieke wat vertel van God en van die lewe. Sy reis, sing-sing, die wêreld vol om dit met gehore te deel. Sy is ’n geleentheidspreker en bied ook kampe en seminare aan. Haar werk reflekteer die sweef- én die strompelkant van die Christelike lewe. Dit reflekteer ook God se onuitputbare genade en begrip vir ons. Annalise woon in Somerset-Wes.

Related to Met Liefde wat saamgaan en ander stories

Related ebooks

Related articles

Reviews for Met Liefde wat saamgaan en ander stories

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Met Liefde wat saamgaan en ander stories - Annalise Wiid

    Met Liefde wat saamgaan

    Annalise Wiid

    Lux Verbi

    Die uitleg van gedigte in hierdie digitale uitgawe van Met Liefde wat saamgaan mag verskil van dié van die gedrukte uitgawe, afhangende van die instellings op u leestoestel. Die uitleg vertoon optimaal indien die standaardinstelling op u leestoestel gebruik word. Lesers kan egter eksperimenteer met die instellings vir verskillende perspektiewe op die teks.

    Voorwoord

    Nakkie het ’n kwilt gemaak. Ek het nog ’n foto van haar hande wat daaraan werk. Oor haar skouer geneem. Naby fokus. Net die twee mooi hande wat, sorgsaam, woorde op ’n lappie borduur. Dit was ’n laatmiddag in Mei. Op die stoep van ’n ou sandsteenhuis in die Oos-Vrystaat. Die lig was sagte goud.

    Nakkie het ’n jaar lank aan die kwilt gewerk. Dit was haar eerste een. Elke steek is met die hand gemaak. Geen masjienhulp of kortpaaie nie. Tydsaam. Rustig. Sekuur. Nakkie vertel hoe die kwiltmakery haar stekie vir stekie deur ’n moeilike jaar van verlies en verlange gehelp het. Soos tree vir bang tree deur ’n donker bos, of teen ’n moegmaaksteilte uit. Elke steek was eintlik ’n gebed. Klein, gelowige skuifeltjies vorentoe.

    Sy kom sprei die pronkstuk voor my oop. Ek snak. Dit is so pragtig!

    Ek komplimenteer haar met haar deursettingsvermoë en kreatiwiteit, en haar moed om haar droefheid in iets so asemrowend te omskep. Terwyl ek nog so tekere gaan oor hoe wonderlik dit is, val sy my in die rede: Dit is vir jou, sê sy.

    Net dit.

    Wat? Ek verloor my woorde. My draad. My stem. My selfbeheersing. Oorstelp begin ek sommer huil. Gee sy haar harde werk, dié belangrike getuienis van haar geloofsreis, sommer net so vir my? Hoe kan sy dit laat gaan? Ons ken mekaar dan skaars? Sien mekaar hoogstens een naweek per jaar wanneer ons Oos-Vrystaat toe vlug vir ’n retreat.

    Ja, sê sy eenvoudig, ek wil jou toevou in liefde.

    Beeldskoon is dié wonderlike, onverdiende kwilt; die lewenslap.

    ’n Skuiling. ’n Heiligheid. Kombers-kerk. So warm. So genadig.

    Hierdie boek laslap twee van my groot liefdes aan-mekaar: rubrieke wat ek vir die tydskrif LiG skryf, en die verstommend praktiese verhoudingswaardes uit kosbare ou Bybelverhale wat ek tydens kampe en retreats met mense deel. In Met Liefde wat saamgaan skryf ek oor die verhale van Hanna, Samuel en Eli, en hoe God daarmee verweef. Die eerste keer dat ek dit met ’n gehoor gedeel het, was tydens ’n retreat wat ek vir die tydskrif Lééf in die Oos-Vrystaat aangebied het na aanleiding van Nakkie se asemrowende kwilt … Die liefde wat sy daarmee vir my aangegee het, was my inspirasie om die lappieskombers van verhoudings in die Samuel verhaal te ondersoek. En dit aan die raakpunte in ons eie lewe vas te werk.

    Dankie, LiG. Dankie, Lééf. Dankie, Nakkie. Dankie aan elkeen wat wetend of onwetend bygedra het tot die woorde wat ek skryf. Julle wat my lewe kleur met julle menswees. En veral julle wat julle liefde soos ’n mantel om my vou. Baie dankie ook aan Lux Verbi, en by name Susan Jordaan, wat kies om nog ’n ent op die skryfpad met my saam te stap.

    Annalise Wiid

    Julie 2016, Somerset-Wes

    1. Lieflap-laslap

    Stel jou dié foto voor: ’n kerksaaltjie by die see. Op die blink houtvloer lê drie halfklaar laslapkomberse. Oopgesprei. Een oorwegend pienk, een hoofsaaklik blou, en een helder en bandeloos bont. ’n Uitspattige bymekaarkom van patrone en kleure in ’n oë-betowering. Elke blokkie is ’n klein landskap – beplant met stories, besproei met emosie, bevrug met ’n mens se léwe. Stel jou dit voor. En anderkant die drie komberse-in-wording staan ’n tiental tafels; op elkeen ’n naaimasjien, ’n skêr, ’n stapel lappies en ’n paar knap hande wat dit liefderyk bewerk.

    Stel jou dié foto voor: Op die stoep, teen die lang skadusy van die saalkerkie, sit die lappiesvroue elfuur die oggend elkeen met ’n beker tee. Die gesels zirrr net so onafgebroke soos hulle masjiene wat heeldag stik. Die vroue lag baie. Binne, langs die eenvoudige houtpreekstoel, staan ’n tweeliter-roomysbak halfvol fudge, ’n koekblik wat later eers oopgemaak gaan word en ’n Pyrex-tertbak waarin nog net ’n paar krummels lê.

    Stel jou dié foto voor: ’n laslap-drasak in wit en blou. Stewig. Duursaam. Prakties. Alles wat vir vroue onontbeerlik is, sal hierin ’n gawe lêplek kan kry. Selfoon hier. Beursie daar. Bril en pille. ID en lisensie in die wegsteek-binnesakkie. ’n Mens sal krisisse kan oorleef en noodhulp toepas, selfs vliegtuigkapings kan voorkom met só ’n sak by jou. Op die buitekant van die sak is hierdie woorde geborduur: Daar’s altyd tyd vir blomme pluk. Dié sak sal jou nie net deurdra nie; hy sal jou sinvol help lééf. Binne-in is ’n klein lap-briefie vasgewerk: Alta. My vriendin van amper 60 jaar. Met liefde gemaak. Daleen. ’n Sak vol eindelose dankbaarheid.

    Stel jou dié foto voor: ’n ouma besig om ’n lappiesboek vir haar kleinkinders te maak. Op een blad sit ’n rooi liewenheersbesie. Sy ronde ruggie kan ooprits. Daarbinne sal nuuskierige vingertjies hande vol viltblomme kry. Dié kan hulle op die volgende blad aan lang groen lapstingels vasknoop. Met die omblaai wag ’n parmantige onderbaadjie met vetergaatjies waardeur hulle ’n toutjie kan ryg … Dis ’n boek vol liefde en lekkerte en leersaamheid. ’n Boek vir volgende geslagte om te erf en mee te speel en te onthou. ’n Boek gemaak van oorskietlappies; oorblystukkies lewe uit ’n vorige geslag.

    Stel jou dié foto voor: Teen skemertyd, ná ’n heerlike paar dae van meet en pas, stryk en stik, praat en luister, uitruil en aangee, sit die vroue saam op die stoep van ’n strandhuis. Hulle kyk uit oor die gul baai; eet ’n eenvoudige maaltyd, gemarineer in tevredenheid. Stel jou hulle gemoedelikheid voor. Die verbondenheid. Onvervangbare kameraadskap. En hulle verskeidenheid. In ouderdom en ervaring. In status en styl. In vermoë en versugtinge. Uiteenlopend. Kontrasterend. Teenstrydig. Bypassend. Aanvullend. ’n Kwilt van mens-mooi!

    Stel jou nou dié foto voor: Een van die vroue (haar ongeveer 60 somers ’n laslap-landskap van hul eie) vertel, met sigbare ontroering, van haar dogter. Sy, wat delikate verhoudings suksesvol oor die skerp klippe van kleur-, kultuur- en meningsverskille bestuur, kom onlangs huis toe om te kom sê: Mamma, ek het jou van kleins af dopgehou as ek op jou naaldwerkkamer se vloer gespeel het. Die manier – die liefde en die sorgsaamheid, die rustige uitsoek en pas, omruil en weer probeer, rafelrandjies afwerk, sykantjies vaswerk en afvalstukkies sinvol saamvoeg – die doodgewone deeglikheid en toewyding waarmee jy al die jare met jou lappies gewerk het, was, is my inspirasie en my hulp.

    Stel jou net dié foto voor!

    2. As die kwilt te klein is

    Om tweede te wees. Hanna. Liefde wat laat gaan

    Hoe lief kan jy hê?

    Ek vermoed sy het baie daaroor nagedink. Gewonder: Waar lê haar limiete? Hoe hoog sal sy kan reik? Hoe ver sal sy kan gaan? Hoe lank sal sy kan uithou? Hoe diep sal sy dalk nog in haar hart-myn moet delf? As dit miskien eendag van haar gevra word, hoeveel sal sy bereid wees om op te offer?

    Hoe lief kan ’n mens hê? Vir ’n lang tyd het sy nie besef dat dít wat sy nog altyd as die hoogste en die beste beskou het, maar bloot die begin was nie. Net die eerste skynsel silwer lig voordat die volmaan groot, verruklik en oorweldigend agter die berg uitkom. Daar het baie meer in haar geskuil as wat sy kon vermoed.

    Daar was ’n man. So begin haar storie. Daar was ’n man, en daar was twéé vroue. Enige storie wat só begin, is byna gewaarborg om te eindig met en daar was ’n groot gemors. Veral as daar nog kinders ook in die prentjie is. Daar was, ja. Kinders. En daar was ’n groot gemors. Maar daar was ook groot liefde. Van die vrou met die groot gees. Haar naam was Hanna.

    Daar was ’n man uit Ramatajim … So begin die eeue-oue verhaal van 1 Samuel in die Bybel. As dit nou gesê het daar was ’n man uit Pretoria-Oos of Putsonderwater of Genadendal, sou dit ons dalk kon help om die man ’n bietjie te plaas. Ons sou ons iets van sy omgewing of waarskynlike omstandighede of dalk iets van sy familieverband kon voorstel. ’n Pleknaam soos Ramatajim help ons niks; nie soos dit die oorspronklike lesers sou help nie. Ons moet dus maar staatmaak op die bietjie wat ons uit die Bybelteks van dié man kan agterkom.

    Die man se naam was Elkana en hy was oënskynlik ’n goeie man. Hy was lief vir Hanna; dit weet ons. En hoewel dit nie ewe duidelik uitgespel word nie, was sy sekerlik vir hom ook lief. Hy was goed vir haar. Hy was ook gelowig en het getrou die rituele uitgevoer wat sy geloof van hom gevra het. Hy het elke jaar uit sy stad uit na Silo toe gegaan om te aanbid en aan die Here die Almagtige offers te bring (1 Sam 1:3). Standvastige man, dus. Tradisievas en betroubaar; daarom dalk ook ’n bietjie voorspelbaar. Hy was die soort soort man van wie ’n mens meestal weet wat om te verwag. Dit verbaas ’n mens ook nie dat hy effens onbeholpe was met die taai toffies van huismoles nie.

    Want sien: Daar was ’n man, en daar was twéé vroue. En met dié twee vroue was daar baie drama. Albei was sý vroue. Nie die een ná die ander nie.

    Gelyktydig. Onthou poligamie was in hulle tyd die heersende kultuur. Dit was heeltemal aanvaarbaar. Niks ongewoon nie.

    Tog het die probleem nie soseer by die gelyk gelê nie. Dit was eintlik by die ongelyk waar die groot moeilikheid gekom het: Hanna word eerste genoem, sy was dus die eerste vrou. Daarom, volgens hulle kultuur was sy geregtig op meer status en voorregte. Peninna was die tweede vrou, ondergeskik aan Hanna in die rangorde van die huishouding. Maar Peninna het kinders gehad, by die dosyne. Hanna het geen kinders gehad nie. So, al was Hanna die eerste vrou in die huwelikshiëargie, het haar onvrugbaarheid haar sleg tweede laat kom in statuur en waarde. Heeltyd. Vir baie lank.

    En sy kon daar niks aan doen nie. Die hemel weet, sy kon op hierdie Godsaarde net mooi niks daaraan doen nie. Maak nie saak hoeveel hulle probeer het nie; hoe sy gewens, gesmag en gehuil het nie; hoeveel goedbedoelde raad van hoeveel jammerhartige vriendinne sy gevolg het nie. Niks het gehelp nie. Sy kon eenvoudig nie swanger raak nie, en sy het geweet die dorheid was in haar lyf. Dit was nie Elkana nie. Hy kon dan by Peninna die een kind ná die ander verwek. Net háár buik was bot. Hopeloos ontoereikend. Traag. Onwillig. Toe. Sy kon nie aan die hoogste standaard en verwagting van vrouwees in haar kultuur voldoen nie. Dit moes haar by tye rasend gehad het.

    Dan was Peninna ook nog so ’n geniepsige vrou. ’n Mens sou haar ook Pynnina kon noem. Of selfs Pynnetta, want sy het net pyn veroorsaak en vererger so ver sy gaan! Peninna het letterlik Hanna se hartseer uitgebuit. Sy het haar baie gespot en verneder, word ons vertel. Om te spot, is reeds onaanvaarbaar. Maar om met iemand wat minder as jy het se grootste verdriet te spot, is verregaande. Peninna was oneindig gemeen en vermoedelik ook jaloers.

    Die Bybelverhaal maak dit duidelik dat Elkana lief was vir Hanna. Hoe hy oor Peninna gevoel het, weet ons nie; daar word niks van gesê nie. Miskien is dit insiggewend dat sy liefde vir Hanna juis so duidelik genoem word. Elke jaar wanneer hy gaan offer het, het hy dele van die offermaaltyd aan sy vrou Peninna en al haar seuns en dogters gegee. Alhoewel hy vir Hanna liefgehad het, so word uitdruklik vertel, kon hy vir haar elke keer net een deel gee, want die Here het haar kinderloos laat bly. Asof Elkana graag vir Hanna meer sou wou gee, maar nie kon nie.

    Ons weet ten minste hy het nie vir Peninna afgeskeep nie. Sy en die kinders het hulle volle deel gekry, elke keer. Maar miskien het Peninna gevoel sy kom tweede wat Elkana se liefde betref. Miskien het sy net soos Hanna, maar om heel ander redes, gevoel sy is ontoereikend en magteloos om haar situasie te verander. Miskien was al haar seuns en dogters ál wat sy gehad het om haar eiewaarde te onderskryf.

    Al Peninna se seuns en dogters – hoe moes hierdie woorde nie Hanna se hart uitmekaargeskeur het nie. Hoe swaar moes dit nie vir haar gewees het nie: die oorvloed vreugde, woeligheid en kinderpret – oral om haar, maar nooit haar eie nie. Keer op keer leef sy saam met Peninna deur nog ’n swangerskap, nog ’n geboorte, nog ’n rondte oe’s en aa’s van almal wat die nuwe babatjie kom bewonder. Dag ná dag sien sy hoe Peninna die kinders vergiftig met haar wrede geaardheid, en Hanna kan niks anders doen as om dit net te verduur nie. Want die Here het haar kinderloos laat bly.

    Want die Here … Hoe moes hiérdie woorde nie deur haar siel gesny het nie! Want die Here … Haar Verlosser, haar Voorsiener. Die Een wat met ’n enkele woord haar situasie kan omkeer en ’n laggende babatjie in haar skoot kan lê. Die Here, die Gewer van elke goeie gawe, het gekies om haar kinderloos te hou. Hoe magteloos, hoe uitgelewer dink jy het hierdie woorde haar laat voel? Dit was so sonder moontlike teenspraak; so finaal. In daardie oertyd, sonder die wonderlike kennis en hulp van die moderne mediese wetenskap, was dit gelowige mense se enigste verklaring vir kinderloosheid. Daar was nie ’n dokter wat Hanna kon ondersoek om die fisieke redes vas te stel of te behandel nie. Dit was net die Here. Die Almagtige. Hy was die enigste verklaring. En Hy was klaarblyklik so onwillig soos haar baarmoeder. Hoe sou Hanna daaroor gedink het? Hoeveel vrae en pyn was daar dalk in haar gemoed oor hierdie God wat doelbewus kies om te weerhou waarna sy so smag?

    Intussen het Peninna, die oorvloedige wat so baie gekry het – baie kinders, baie offervleis, baie aansien – blykbaar ook algaande ’n groter kop gekry, en ongelukkig nie ’n groter of ’n sagter hart nie. Dit is moeilik om haar te verstaan en nog moeiliker om van haar te hou. Sy was net te aaklig, met dié siek behae om Hanna te spot en te verneder: Want die Here, want die Here, wêla-ke-pêla, Hanna, die Here hou jou leeg. Natuurlik het dit seergemaak. Verskriklik seer! By die huis ook,

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1