Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Met my rooi rok voor jou deur
Met my rooi rok voor jou deur
Met my rooi rok voor jou deur
Ebook500 pages7 hours

Met my rooi rok voor jou deur

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die onweerstaanbare Audrey Blignault het destyds die wêreld van die Afrikaanse vrou óópgeskryf en was haar tyd vooruit. Dié unieke keur bring haar beste werk byeen, van kort sketse uit die vroeë bundels tot langer essays en verhale uit latere publikasies. Hierdie baldadige, skalkse, “onwennige ouma” skryf dalk oor vervloë dae, maar op so ’n unieke, toeganklike manier dat dit vir vandág se leser kraakvars is, en jou ten diepste raak.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateOct 16, 2020
ISBN9780624091431
Met my rooi rok voor jou deur
Author

Audrey Blignault

Audrey Blignault is in Bredasdorp gebore. Sy word tweetalig groot, maar gaan skool in Engels. Sy besluit om in Afrikaans te skryf nadat sy deur haar studie van die Afrikaanse letterkunde op die Universiteit van Stellenbosch met “die opwindende en verrykende vernuwing” van die Afrikaanse poësie in aanraking gekom het. Sy was die redakteur van Die Huisvrou, doen radiowerk vanaf 1946 met veral twee programme Wat kan ek lees? en Boeke vir ons kinders, en was ’n rubriekskrywer vir Sarie Marais vanaf 1950. In 1967 is sy betrokke in ’n ernstige motorongeluk en is vir ’n geruime tyd in ’n koma. Sy verloor haar eerste eggenoot, Andries Blignault, in dieselfde ongeluk. In 1970 trou sy met A J (Attie) de Villiers. Die egpaar het in Tuine, Kaapstad gewoon. Sy verwerf die Eugène Maraisprys in 1961 vir haar eerste twee boeke, die W.A. Hofmeyr-prys in 1965 vir Met ligter tred en ander prosa, die Italiaanse Adelaide Ristori-prys in 1980 vir haar waardevolle bydraes tot kultuur, en die Staatspresidentstoekenning in 1982 vir uitmuntende diens. Sy is die eerste vrou om tot die bestuur van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns verkies te word, in 1973, en word ’n erelid daarvan in 1994. Sy ontvang ’n eredoktorsgraad van die Universiteit van Stellenbosch in 1991. Sy is op 1 Oktober 2008 in ’n kliniek in Kaapstad op 92-jarige ouderdom oorlede.

Related to Met my rooi rok voor jou deur

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Met my rooi rok voor jou deur

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Met my rooi rok voor jou deur - Audrey Blignault

    9780624089810_FC

    ’N KEUR UIT DIE WERK VAN

    Saamgestel deur Lana Barnett

    TAFELBERG

    INLEIDING

    By die herlees van die oeuvre van Audrey Blignault – die baldadige, skalkse, volkseie skrywer en onwennige ouma – was dit baie duidelik dat dié immergroen en geliefde skrywer se werk behoue moet bly vir ’n nuwe geslag Afrikaanse lesers. Audrey het die wêreld van die Afrikaanse vrou óópgeskryf en was beslis haar tyd vooruit.

    In verskeie publikasies is daar in die verlede klem gelê op haar reusebydrae tot die ontwikkeling van die vertelkuns in Afrikaans, wat begin het met essays deur ’n alledaagse vrou wat kommentaar gelewer het in ’n reeks rubrieke vir vroue, en verdiep het tot volwaardige kortverhale met ’n dieper blik op haar wêreld. Die onweerstaanbare Audrey se werk is in ’n aantal bundels byeengebring – Nogtans Sal Ek Jubel (1977; saamgestel deur Elise Botha), Oulap se Rooi (1988; ’n keur deur Berta Smit) en Mal Hansie en Ander Verhale (1996; onder redaksie van Elise Botha en Hennie Aucamp, ter herdenking van Audrey se tagtigste verjaardag). Haar dogter, Marié Heese, het in 2009 ’n omvattende bundel genaamd Audrey Blignault: Uit die Dagboek van ’n Vrou saamgestel, wat ’n chronologie van Audrey se lewe vorm.

    Sy het die unieke vermoë gehad om ’n rekord van ’n verbygegane era vas te lê in ’n tydsdokument wat vermaak en aangryp, met stories wat die leser spontaan laat sê: Ja, so was dit!

    Onder Audrey se minder algemeen bekende kortverhale en sketse is daar juwele wat nog nie sedert hulle verskyning in die vyftiger- en sestigerjare weer toeganklik geword het vir hedendaagse lesers nie. Dit is dus een van die vernaamste uitgangspunte van hierdie nuwe versameling. Ek wou die reuse kultuurhistoriese bydrae wat Audrey tot die Afrikaanse letterkunde gemaak het, ontsluit deur ’n wye verskeidenheid van haar werk in te sluit, van die korter sketse uit die vroegste bundels tot die langer essays en omvattender kortverhale in haar latere bundels.

    Haar intiem-persoonlike beskrywings van die Suid-Afrika van vervloë dae, en gebruike wat so eie aan die plattelandse lewe was, is ’n plesier om te ervaar. Sy skets die Bredasdorp en Waenhuiskrans van die verlede op ’n manier wat min kontreikunsskrywers haar kan nadoen. En altyd was dit só plesierig, só skerp, met soveel sjarmante nuuskierigheid, met ’n verskeidenheid van stemmings en só volledig mens, dat hierdie werk opregte volksbesit is.

    Uit die minutiae van die plattelandse lewe, veral die Wes-Kaap en Overberg, haar eie familie se geskiedenis, bied haar werk ’n uitsonderlike blik op ’n tyd wat verby is. Dit is soveel meer as net staaltjies, dit is onthou-jy-oomblikke, herinneringsverhale wat steeds bekoor en verlei.

    Daarby bied haar essays en portrette van weleer ’n blik op unieke karakters en persoonlikhede wat ’n rol in haar lewe gespeel het: veral haar ouers, broers en suster, die oupas en oumas, die onderwysers, die ooms, die tante by wie sy gaan brood koop het, die vioolmaker, die tuinier, haar Ierse tantes, haar twee eggenote, die vreugdes van kinders en kleinkinders. Maar daar is ook die randfigure wat met fyn nuanses en begrip uitgebeeld word. Met groot deernis skep sy karakters wat aangryp en boei, en met ’n denouement wat voortdurend onthuts en verras … en ’n mens dikwels so effens melankolies stem.

    Die deurlopende temas is haar gelukkige kinderjare, haar hartstogtelike liefde vir bome, blomme, tuine, die natuur in die breë, en bowenal haar liefde vir en kennis van wêreldletterkunde, aanhalings van beroemdes en uit die Bybel, haar waardering vir die mense om haar. Haar beskrywings van tuine en blomme was vir my so oorrompelend dat daar heelwat van hulle ingesluit is.

    Dit kan nooit wees dat daar Afrikaanse lesers is wat nie die blywende vreugde van Audrey Blignault, die vrou met die rooi rok, ervaar nie! Bly u te kenne, mevrou!

    Kaapstad

    September 2020

    BIOGRAFIESE NOTAS

    Audrey Blignault is as Audrey Bettie Swart op Bredasdorp gebore en getoë, en haar vreugdevolle jeugjare vorm die basis van haar vroegste essays. Ná ses jaar se studie aan die Universiteit van Stellenbosch, behaal sy ’n MA-graad in Afrikaans en Nederlands en dis hier waar sy haar eerste man, Andries Blignault, ontmoet. Sy trou met hom in 1941. ’n Dogter, Marié, is uit die huwelik gebore.

    In 1944 word sy redakteur van Die Huisvrou, ’n pos wat sy elf jaar lank beklee. Haar rubriek Uit die dagboek van ’n vrou word ’n huishoudelike naam in Afrikaans. So vestig sy haarself van vroegdag af as ’n uitmuntende essayis, en in die jare daarna kring haar gewildheid uit as ’n skrywer wat tot die hart van die vrou spreek, deur haar gereelde rubrieke in Sarie Marais, later Sarie, en ook as die gewilde aanbieder van die radioprogram Vrouerubriek.

    Haar eerste bundel essays, In Klein Maat, verskyn in 1955 en daarna volg nege verdere bundels oor ’n aantal baie vrugbare jare heen, en dit illustreer die verfyning van haar kortkuns tot en met die verskyning van Pas Op vir Jantatarat in 1979.

    In 1967 sterf haar man Andries in ’n motorongeluk waarin sy self ernstig beseer word. Die titel Om die Son te Aanskou verskyn in 1968, ’n ode aan die ongebreidelde hartseer, maar ook die herstel daarna, van die tragedie. Jare daarna trou Audrey met Attie de Villiers en hulle woon vir baie jare gelukkig saam in Kampsbaai.

    Audrey is op 1 Oktober 2008 in Kaapstad oorlede.

    ’n Voetnota: Om die spitsvondige en deernisvolle kommentaar en die verwysings na haar geliefde familie behoorlik te ervaar, is dit nodig dat die leser die skuilname wat sy soms vir die dramatis personae gebruik, sal verstaan. So word Andries, haar eerste man, Johan, haar suster Yvonne is Trix, broer Kennie is Leon, broer Christopher is Kleinboet, haar dogter Marié is gewoonlik Marietjie en haar huishulp Maria is Martha. Attie, haar tweede man, bly egter Attie!

    DIE INKLIMGORDEL

    Vandag voel ek nou sommer bedruk en bedremmeld soos een wie se gevoel van eiewaarde ’n kwaai knou gekry het, en nou is Johan ook nie hier sodat ek by hom kan afpak en uitkla nie. Ja, dit verbaas my ook glad nie dat ons vrouens baie meer geneig is tot neurose as die mans nie; die aard van die samelewing is nou eenmaal só dat ons baie meer blootgestel word aan vernedering as die mans. Om nou maar ’n paar voor die hand liggende voorbeelde te noem: dink aan die intiem-persoonlike aard van ’n vrou se verhouding tot haar haarkapster, haar modemaakster, haar kraamverpleegster. Daar is mos beslis iets meer fundamenteels op die spel as in dergelike verhoudings van man teenoor man – in watter hoedanigheid ook al. Dáárom is dit seker ook dat die vernederende afhanklikheid waaraan ons vroue so dikwels blootgestel word, so geheel en al buite die begrip van die mans lê.

    En een van die mees vernederende ondervindings waaraan die gemiddelde vrou haar van tyd tot tyd moet onderwerp, is om ’n inklimgordel te gaan koop. Dis wat ek vanoggend gedoen het, en dis die oorsaak van my gesteurde gemoedstoestand.

    As ek nou soos Pollyanna, die optimistiese heldin in die boeke van my jeug, iets m oes vind om oor bly te wees, dan moet ek miskien van dankbaarheid spreek dat ek nog in dié stadium verkeer waar ek ’n inklimgordel kan koop en nie noodgedwonge om ’n korset hoef te vra nie. As ek daaraan dink dat dit my ook nog voorlê, dan begewe my moed my geheel en al. En Johan het al klaar gesê sodra ek vir my ’n korset koop, skaf hy op die daad vir hom ’n lang onderbroek aan – een van daardie met die lang nousluitende pype wat my pa en sy pa altyd dra, selfs in die somer op die strand. Ná vanoggend se wedervarings kom dit my voor asof daardie dag ook nie meer baie ver is nie.

    Ek weet nou nie hoe ander vrouens oor hierdie netelige saak voel nie, maar wat my betref, ek stel altyd die kopery uit totdat dit ’n saak van dringende nood word. Ek het ook altyd net één van hierdie kledingstukke, met die gevolg dat ’n noodsituasie makliker kan ontstaan as wat ’n mens dink. Nou ja, deur die nood gedryf, gaan ek vanoggend stad toe om ’n inklimgordel te koop.

    Winkelassistentes is gewoonlik selfversekerde mense, maar die ongenaakbaarstes in hul onbuigsame meerderwaardigheid is die korsetdeskundiges. Die blote feit dat jy van hul dienste moet gebruik maak, stel jou al klaar aan die kortste end, want jy kom as ’t ware met ’n onuitgesproke erkenning van afhanklikheid. Sodra jy dan gesê het: E … e … juffrou, ek wil graag ’n inklimgordel koop … iets goeds … wat … het die juffrou jou al klaar met ’n vernietigende kennersblik van kop tot tone gemonster en weet sy presies waar jou swak plekke is – om dit nou maar so uit te druk.

    Watter grootte?

    Jou weerstand brokkel voor die verdoemende vraag.

    E … e … ek is nie so heeltemal seker nie. Miskien sewe-en-twintig duim … om die middel.

    Met die hovaardigheid van iemand wat weet wat sy doen, verontagsaam die juffrou jou inligting, gryp ’n maatlyn van die toonbank af en woerts dit om jou middel.

    Met ’n Mona Lisa-glimlag kyk sy jou aan: Dame, – die manier waarop ’n korsetdeskundige dame sê, laat ’n mens mos altyd kriewel – Dame, die tabberd wat u aanhet, is glad te wyd om die middel, maar ek soek vir u die grootte uit wat u behoort te pas.

    Ek is soos ’n vlieg wat die eerste spinnedraad om hom begin gewaar.

    Ja, dankie … sou ek … e … e … ’n paar kon aanpas?

    O ja … trek net asseblief u skoene uit … Hierheen, dame …

    Ai, hoekom is die kleedkamertjies waar ’n mens kledingstukke van hierdie aard moet aanpas, altyd ’n hele ent kleiner as ander? Jy staan sommer op die spieël – en kort agter jou is daar nog ’n spieël, net so benouend breed en hoog!

    As die juffrou tog net wil uitgaan! Hierdie stryd moet ’n mens alleen stry. En buitendien beswyk ek op die plek as daardie monsterende oë op die jammerlike voorkoms van my oue moet rus. As sy my net ’n kans gee om die oue gou-gou af te trek en onder die stoel in te stoot.

    E … gee u om as ek maar hierdie paar probeer aanpas en kyk …

    Die gordyn val toe en ek staan alleen voor die spieël met die hopie salmkleurige kledingstukke kraaknuut en ongerimpel op die stoel langs my.

    Ek byt op my tande en trek die eerste een oor my knieë. So met die bukslag sien ek my eie weerkaatsing in die agterste spieël. Met ’n sug skop ek die ou gordeltjie af. Nee, so nooit as te nimmer nie! Hoe lyk daardie ander een met die waterlelie van rooskleurige satynstof op die voorkant? Dit lyk mos asof hierdie dubbele rek lekker kan skietgee. Ek tel hom op en met die omdraai val my oog op die beskeie pryskaartjie: vier pond sewentien. My hart gee ’n ruk en ek los die waterlelie soos ’n warm patat. Nee, dan liewer hierdie een – hoeveel kos hy? Eers kyk … Dis hoeveel … twee pond vyf … Maar dit lyk my die ding wil nie rek nie, seker een van dié wat net een kant toe rek … maar nee, dan kan hy nie soveel kos nie … weer probeer … eena, tweena … ups! Og, welk een drukking! Maar dit voel maar so aan die begin … mens moet dit net gewoond raak. Waar is die kousophouers? As dit tog net nie weer van daardie soort is wat g’n hond kan weet hoe om vas te maak nie … Maar wat … dié goeters kom mos nooit digteby ’n mens se kouse nie! O vadertjie, netnou skiet een morsaf, dan is dit ’n penarie om in te wees! Liewer maar gou uittrek. Ag, mensdom, dis ’n warm dag! Wat het my besiel om in die somer so ’n ding te kom koop! Daar hoor ek nou ook die juffrou aankom. Vader, gee krag …

    Nee, dit spyt my, maar dit lyk nie asof … miskien daardie een, hy lyk ietwat langer, hierdie ander is ’n bietjie kort … u weet.

    Meedoënloos staan sy daar in die gordynopening. Ja, dame, vir u postuur is hierdie die beste maaksel wat ons het. Dis op die mees verslankende lyne gesny … dis wel ’n bietjie duur miskien … maar goeie kleding begin tog met ’n goeie fondament, nie waar nie?

    Vir die eerste keer is dit asof daar iets in die staaloë flikker. Die gordyn val weer vertrouelik toe. Ek gryp die waterlelie en knyp my oë toe om by die pryskaartjie verby te kyk.

    Ag ja, wat … dis tog beter só! So kan ’n mens darem asemhaal.

    Ek reken uit of ek nog genoeg geld oor het vir my treinkaartjie huis toe. Die kouse wat ek nog wou koop, moet nou maar bly – en Marietjie se skoolbroekies. Ek sal nou maar hierdie verbrande waterlelie koop. Net om tog maar by my volle positiewe uit hierdie martelvertrek uit te kom! My oë lyk verwilderd in die groot spieël; my hare staan orent en my neus blink soos ’n deurknop. Aag … dis ook niks! Ek gaan in elk geval nou dadelik huis toe.

    Ja, dankie, juffrou … hierdie een.

    Ek probeer nonchalant wees toe ek die vyfpondnoot op die toonbank neersit, maar my hand bewe en dis nes of my keel wil toetrek.

    U sal nie ’n fout maak nie, dame. Met behendige vingers knoop sy die toutjie om die verraderlike pakkie. Sy kyk my meteens meewarig aan. Net ’n oomblik – toe glimlag sy seëvierend.

    Goeiemôre, dame.

    En nou sit ek hier met die waterlelie op my maag en ’n wrok in my hart.

    Ek wonder of Johan die verslankende lyn sal opmerk.

    Foei tog, dit was mos gister dat tant Lennie vir hom gesê het: Ag hete tog, Johan, jy lyk maar nog steeds soos ’n bokkom, nè?

    Dis darem snaaks – die teenstrydighede wat hierdie lewe bied: ek moet altyd hoor hoe goed ek lyk, in watter uitstekende kondisie ek is, wat ek moet dra om slanker te vertoon, ensovoorts. Johan, weer, lok maar steeds besorgde navrae na sy algemene gesondheid uit, waarom hy dan so hard werk, hoe dit dan is dat ek hom nie genoeg kos gee nie – en die meer uitgesproke familielede skroom nie om vergelykings met bokkoms en afgestroopte spaansriete, ensovoorts, te tref nie.

    Ek gaan nou ’n gedig maak – nie ’n liriese vers of ’n sonnet of ’n treursang nie, nee, dit moet ’n hekeldig in die styl van Pope wees, en die opskrif skryf ek nou hier neer: Die bokkom en die balie!

    DIE GHIENIE-LAGIE

    Vanaand voel ek nou dat my vere hang. Ek weet presies hoe die Prediker gevoel het toe hy uitgeroep het: Vergeefs, vergeefs, alles is vergeefs. Alles is ook gedoriewaar vergeefs! Alles, ten minste, wat ’n mens ooit in jou lewe probeer aanrig om jou voorkoms te verbeter, soos die artikels in die tydskrifte en die boeke deur deskundiges ’n mens gedurig aanmaan om te doen. Dis alles net daarop gerig om ’n mens se onderdrukte minderwaardigheidsbesef uit te buit: al die ou modes wat elke seisoen ’n ander slagspreuk uitbasuin, al die ou fieterjasies van hoede en handskoene, serpe en sierspelde en stofjasse, gordels van slangskubbe en brille met blinkers. En die hele ou lawaai oor skoonheid ook. Dis niks anders as ’n grootskaalse woekerhandel nie. En die arme vrou wat haar wysmaak dat sy met behulp van ’n skoonheidsmiddel ’n verskilletjie aan haar voorkoms gaan bewerkstellig, het omtrent net soveel hoop op sukses soos ’n dogtertjie wat glo dat sy haar vratjies kan afblaas as die maan vol is.

    Nee, terwyl ek vanaand hier voor my venster sit en kyk hoe die stadsliggies vir my so twee-twee-twee-twee soos katoë deur die donker loer, weet ek twee dinge: eerstens, die aanleg om aan te trek, swierig en smaakvol soos Marlene Dietrich of die hertogin van Windsor of selfs soos Alta – dit het ek nie, en sal ek ook nooit hê nie; tweedens, niks wat ’n mens aan jou gesig smeer, of dit nou die wit van ’n eier uit die yskas is of ’n ghienie-lagie uit een van Lilian Lee se perlemoenpotjies – hoegenaamd niks laat jou anders lyk as wat jy lyk nie.

    Maar so is dit nou – die doppie om ’n mens se ou ego’tjie is so onverwags vol kwesplekke.

    As ek nou wil eerlik wees, moet ek mos beken dat die onstuimigheid in my gemoed begin insypel het vanmiddag om kwart oor twee, daar in die kousewinkel toe Alta kouse gekoop het. Ons het nog oor iets heel anders staan en gesels toe die kousejuffrou van ’n vorige klant af na ons toe draai.

    Juffrou, sê Alta sonder ’n oomblik se aarseling, ek wil graag twee paar kouse hê, Elegance, nommer nege-en-’n-half, shadow brown, middelslag-beengrootte.

    En op die oomblik is ek so geïmponeer deur Alta se selfversekerde kooptegniek en kousekennis dat ek skoon van my taal af is.

    Hoe op aarde weet sy so gladweg wat sy wil hê en hoe om daarvoor te vra? Waar het sy nou van Elegance shadow brown gehoor? En wat de joos is ’n middelslag-beengrootte? Ek het nooit geweet daar bestaan so iets nie. Al kousewysheid wat ek deur bittere ondervinding geleer het, is dat dit ’n mens uit bloot geldelike oogpunt beter betaal om nylon-maaskouse te koop, want hulle is ál kouse wat nie ná drie dae leer nie. Hulle kry wel gate, maar as die gate nie op opvallende plekke is nie, kan ’n mens hulle weke, selfs maande lank met gate en al dra, wat jy beslis nie met geleerde kouse kan doen nie, want kouslere, soos die ou grensboere, het mos maar die neiging om steeds verder te trek. Dis nou al seker twee jaar lank dat ek glad nie meer ander kouse as die nie-lerende gaatjieskouse dra nie. Maar nou hier in die aangesig van die Elegance shadow brown met die middelslag-beengrootte begin ek skielik onrustig voel oor die maaskouse.

    Alta, roer ek huiwerig die saak aan, het jy enige kennis van die maaskouse?

    O, ja, sê Alta, hulle dra goed, maar hulle verbleik so vreeslik en dan kry ’n mens se bene so ’n maanskynglans. Daarom dra ek hulle maar liewer nie.

    Net daar op die hoek van die straat by die kousewinkel voel ek hoe die doppie om my ego’tjie wegkalwer.

    Dis waar, die kouse verbleik! Net vanoggend toe ek by die trap afkom en die lig val so van die voordeur af op my bene, toe dink ek mos my kouse lyk so snaaks witterig. ’n Maanskynglans! Natuurlik! En as ek sulke bleek bene by ander mense sien, dink ek altyd hoe pateties middeljarig dit lyk! Die balk in jou eie oog. En hier loop ek helder oordag met net sulke maanskynbene!

    Toe ek van Alta afskeid geneem het, draai ek in Adderleystraat af met ’n onrustige gemoed. Nee, kyk, dis darem nou tyd dat ek myself ’n bietjie onder hande neem. Ek behoort immers tog op my ouderdom ’n bietjie kieskeuriger te wees wat die fyner afronding van my voorkoms betref. Hier loop ek hoeka sonder hoed en my enigste paar handskoene het ek vanoggend weer in die trein laat lê. As hulle my in die sosiale rubriek van ’n koerant moet beskryf, gaan ek bepaald die stempel Windswept kry. Net vanmiddag gaan ek ook vir my Elegance shadow brown, nommer nege-en-’n-half, middelslag-been, koop! Ek sal vir my ’n afspraak by Maison Louie maak en my hare met ’n Champagne-sjampoe laat was. Dit moet net môre geskied. En nou, terwyl ek in die stad is, gaan ek sommer vir my skoonheidsmiddels ook koop. Duur skoonheidsmiddels. Ek gee nie ’n flenter om wat dit kos nie. Ek koop dit op die rekening. Wat makeer my dan? Ek kan mos ook aan my lyf vat as ek wil. Of hoe?

    By die groot winkel op die hoek is daar een hele venster vol perlemoenpotjies, fyn rooskleurige botteltjies met wolkerige chiffon-drapering tussen die flessies en dosies en goedjies. Lilian Lee – Lilian Lee – Lilian Lee. Dis mos die duurste skoonheidspreparate wat daar is. Mammie het eenkeer van ’n vriendin van haar so ’n dosie poeier present gekry, en toe ek vir die eerste keer universiteit toe gegaan het, het Ma vir my ’n bietjie daarvan gegee. Ek onthou nog hoe die meisies my beny het oor daardie poeiertjies. Ja, dit was mos die naam – einste Haze of Dawn – Naturelle.

    Ek stap die winkel binne en loop reguit na die glansende skoonheidstoonbank.

    Juffrou, sê ek sonder enige teken van opwinding, ek wil graag ’n dosie Lilian Lee-poeier hê – Haze of Dawn – Naturelle, asseblief.

    Seker, mevrou! Sy duik onder die toonbank in en bring die rooskleurige dosie met die toegeknoopte dekseltjie te voorskyn.

    En wat nog, mevrou? Ons het nou weer die Rose de France-onderlaag.

    Ja, asseblief, sê ek roekeloos. Ek sal bly wees om dit te kry. En … enne … is daar nie ’n goeie rouge-pommade, iets natuurliks … om … omme met die poeier te harmonieer nie …

    O ja, seker, mevrou. Laat ek sien. Saffron Glory, Lush Lavender, Dim Dusk … hier is hy … Dewy Rose. Dit is presies wat u wil hê.

    Ek tel die spierwit plastiekdosie op. Ek slaan die dekseltjie oop en ruik aan die roserige pommadetjie – rond soos ’n sikspens en niks groter nie. Toe ek dit onderstebo neersit, val my oog op die prys – elf sjielings.

    Dit is nou al, dankie, juffrou. Sal u dit asseblief vir my opskryf?

    Toe ek die koopbewysie teken, knyp ek my oë toe vir die bedrag wat daar staan. My wange voel warm en ek weet dat ek nou baie gou hier moet uitkom of ek kry weer rooi kolle in my nek, soos altyd gebeur as ek in ’n groot verleentheid verkeer.

    Met die groen papiersakkie in my hand, haas ek my huis toe. Vanaand sal ek Johan wys. Vanaand sal ons sien wat ’n ghienie-lagie aan ’n mens kan maak. Wag net! Ek het nou wel nog nie die regte kouse nie, maar dit sal ook kom. Môre skei ek uit met die verbleikte ou maaskouse. Ek kan mos darem ook na iets lyk as ek wil! Watwo!

    Gelukkig is Johan nog nie by die huis toe ek daar aankom nie. Ek gaan dadelik badkamer toe, was my gesig van die kant af, spoel met yswater af, droë baie versigtig met ’n sagte handdoekie uit die linnekas af, druk die knolletjie watte in die Rose de France en sprei ’n pragtige eweredige lagie oor my gesig. Nou die Haze of Dawn bo-oor, so ’n fyn titseltjie van die elf-en-ses se Dewy Rose … H’m. Ja, dit gee ’n mens sowaar ’n bloserige glansie.

    Net jammer ek kon nie maar genoeg moed bymekaar geskraap het om nog die Lilian Lee-lipstiffie ook te koop nie. Maar ek smeer maar van my oue aan. Ek borsel my hare met so ’n drif dat ek lam word in my arms – en ja, daar hoor ek Johan by die voordeur. Ek hardloop by die trap af en omhels hom versigtig.

    Hy groet my hartlik, soos altyd, en verneem na my welstand. Hy vra hoe die middag in die stad was. Hy sê daar het ’n brief gekom van Pappa-hulle. En hy het darem daarin geslaag om ’n pond botter in die hande te kry.

    Ek kyk hom forsend aan.

    Wat makeer? vra hy.

    Merk jy nie dalk iets aan my nie?

    Hy snuif ’n paar keer. Nee, man, my neus is toe.

    Aag, man, ek bedoel, sien jy nie iets aan my nie?

    Hy bekyk my stadig van kop tot tone.

    Nee, sê hy, ek sien nie iets nie.

    Maar jy moet tog iets anders aan my merk!

    Hy bekyk my weer met toegespitste aandag.

    O, ja, sê hy, jy het mos ’n nuwe lipstiffie aan!

    Toe wil ek ween van wanhoop.

    Die lipstiffie is al wat oud is! Dis die ander goed wat nuut is, nuut en duur! Dis poeier van ’n pond wat ek hier aan my het! En jy sien dit nie eens raak nie!

    Johan begin lag.

    Ja, sê hy, dit is nou eenmaal so: skoonheidsmiddels is nes geld; dis nie alles in die lewe nie, maar dis darem tog so goed vir die senuwees!"

    ’N RANKIE VAN GELUK

    Vandag op hierdie sonnige kappertjie-dag vier jy jou elfde verjaardag. Soos ’n droom het die jare verbygegaan en vandag, as jy langs my staan, reik jou koppie tot by my skouer. Gisteraand het ek die rokkie met die Tiroolse borduurwerk wat ek van my studentedae af bewaar het, bo uit die linnekas gehaal sodat jy dit kon aanpas. Vreemd is dit om te dink dat ek daardie rokkie al in my tweede jaar op Stellenbosch gekry het. Die vrolike rooi geborduurde blommetjies op die roomkleurige materiaal was vir my so mooi dat ek nog altyd die rokkie gebêre het. Van die eerste dag af dat ek dit gedra het, het ek gehoop dat ek eendag ’n dogtertjie sou hê wat net so graag soos ek die rooi blommetjiesrok sou wou besit. Vandag het jy daardie rok aan, net met ’n ingeslane soom onderom en ’n paar pylnaatjies langs die rug af. Saam met die rokkie het jy my bruin toerygskoene aan wat skielik van gister af vir jou begin pas het.

    Hier waar ek voor die groot vensters in ons kamer sit, kyk ek af op jou daar tussen die kappertjies in die tuin waar jy die kleurige blomranke pluk vir jou verjaardagtafel. Die son glans op jou blonde koppie. Die Tiroolse ruikertjies op jou rok is rooi soos die salie-blommetjies wat op die rand van die kappertjiebeddinkie groei. En ek dink aan die lentedag toe ek in daardie selfde rok oor Paarlberg gestap het met ’n studentemaat. Die goeie vriend wat daardie dag vir my die lenteblomme langs die pad gepluk het, leef nie meer nie, maar ek onthou hoe opgetoë hy daardie lentemiddag was oor ’n geel tjienkerientjee.

    Dit was agtien jaar gelede – vir jou langer as ’n leeftyd, vir my maar sommer net die anderdag. Vreemd is dit om te besef dat ’n mens in jare ouer word en tog nooit anders voel nie. Die dag sal kom dat jy dit ook met ’n effense verwondering sal besef, maar vandag lê daardie dag nog ver in die toekoms. Vandag staan jy in die lentesonskyn kniediep in die kappertjies, vrolik soos die Tiroolse ruikertjies op jou rok en trots daarop dat Ma se skoene nou vir jou pas.

    Ek sit hier en luister na die liedjie wat jy in ’n hoë stemmetjie sing terwyl jy jou verjaardagblomme pluk, die liedjie wat Pappa vir jou geleer het:

    O vra my nie my liefde nie,

    Ek het dit weggegee,

    Aan ’n klein blou koringblommetjie,

    En aan die diepblou see …

    Skielik word die liedjie onderbreek en jy roep na Martha wat die kombuisdoeke oor die waslyn kom hang: Martha, kan jy al my koek ruik? Loer tog asseblief in die oond of dit al goed is. Ek kom nou-nou die versiersel aanmaak.

    Soos jy hulle neersit, maak die geel en rooi kappertjies aan elke blarerank ’n kleurebogie oor die groen grasperk. Net so ’n bogie maak die rankie van jou lewe om ons. Dit weet ek so helder soos ek vandag op jou verjaardag by die venster sit en dink aan jou. Ek dink aan die jare van jou lewe, van daardie reëngrys Sondag in die lente toe ons jou die eerste keer gesien het, tot vandag, en daar kom ’n groot dankbaarheid in my op vir die rykdom wat jy in my lewe gebring het.

    Ek dink aan die elf jare wat vandag vir jou verby is en ek dink ook aan die jare wat nog voorlê. So graag sou ek vir jou ’n rankie van geluk om elke dag wou bind, so graag ’n rooi ruikertjie van vrolikheid op die kleed van jou ure wou uitborduur. Ek dink aan die ryke gawes wat ek graag vandag vir jou sou wou gee om saam met jou te neem deur die jare wat wag.

    Heel eerste sou ek vir jou wou gee die gawe om elke dag vreugde te vind in die skoonheid om jou heen, om vreugde te vind in die skone gang van wind en wolke, in die verruklike kleur van ’n blom, in die buiging van ’n boom onder die sagte aanraking van die reën; om ’n onverklaarbare, geheimenisvolle opwinding oor jou te voel kom as jy êrens op ’n skemerpaadjie die geur van kanferfoelie kry of ná die reën weer ’n winkbrou-maantjie agter donker dennetoppe sien staan.

    Want as ’n mens hierdie vreugde het, het jy ’n liggie wat selfs op die donkerste dag nie heeltemal doodgaan nie. Skielik in ’n uur van droefheid sal ’n wingerdtak met die vuur van die herfs in sy blare weer vir jou ’n vonkie warmte bring, ’n Vaal dag sal weer ’n silwer skynsel kry deur die rimpeling van die wind oor ’n populierboom. En in ’n nag van beklemming sal die pit van jou angs soms kan wegkwyn in die lig van ’n enkele ster. Ná die wind wat so sterk om jou gewaai het, sal die blou van die lug weer sag op jou rus en die sonskyn weer soos ’n seën oor jou kom.

    Ek sou vir jou wou gee die gawe om mense te verstaan en met begrypende insig die goeie in hulle te vind sodat jy steeds die voorreg mag hê om in die lewe van ander te mag deel. So graag sou ek vir jou die gawe van opregte vriendskap wou gee, van daardie vriendskap wat uit ware toegeneentheid groei en op wedersydse waardering berus. Dit is die vriendskap wat deur die jare bestendig bly, wat soos ’n stil stroom deur jou lewe vloei sodat jy altyd dáár verfrissing en lafenis kan vind. Dit is die vriendskap wat van jou ’n verstandiger maar ook ’n ootmoediger mens maak.

    Maar groter nog as die verryking van vriendskap is die gawe van die liefde. G’n groter geluk kan vir jou beskore wees as om deel te mag hê aan die waaragtige liefde nie – om die wonder van die liefde tussen man en vrou te mag ervaar. As jy dit gevind het, is jy geseënd onder die vroue. En as ek dit vir jou kon gee, sou jy nie veel meer nodig hê nie, want dan sou daar ’n onaantasbare kern in jou lewe wees, ’n stille hawe van geluk waar jy beskutting sal vind teen die sterk wind en die hoë see. Ek bid dat jy daardie gawe mag vind, en as jy dit vind, dat jy dit waardig mag wees.

    As ek oor my eie lewe nadink en ek soek dié dinge wat my die grootste en blywendste vreugde gegee het, dan besef ek opnuut die waarde van die ryke gemeensaamheid met boeke. In my boeke vind ek steeds die vertolking van my menslike ervaring en belewing. Deur my boeke reik ek oor die grense van tyd en plek en vind ek steeds die wesentlike geneentheid wat mens aan mens verbind. My boeke bied my troos en besieling; hulle sterk my geloof en skerp my gees; hulle toon my die mens in sy grootsheid maar ook in sy gebondenheid. Hulle lei my op die weg van die waarheid. En dit is ’n vreugde wat ek graag met jou sou wou deel.

    En naas hierdie dinge, sou ek graag wou sien dat jy die waarheid deelagtig word – dat dit die laaste evangelie van hierdie wêreld is om te weet waar jou taak lê en om dit te doen. Want daar is per slot van rekening niks op aarde meer behoudend as toewyding aan ’n taak wat vir jou groter en hoër is as jyself nie, ’n taak wat jou gees en verstand verruim en verryk in die uitvoering en bestendiging daarvan. Laat dit jou strewe wees om altyd ’n roepingsgevoel in die lewe te hê. Laat dit jou ywer wees om steeds te groei en te gedy in die werk van jou gees en die werk van jou hande. Laat skeppingsvreugde jou prestasie en jou beloning wees. En laat jou aanvaarding die wete wees dat die arbeid waarin ons ’n lus het, die pyn van ons menswees heel.

    STRANDBASAAR

    Amanda, hou jou oë oop vir kleintertjies en hoenderpasteitjies, hoor!

    Ja, Ma, maar wat ek eintlik wil hê, is suurvytjiekonfyt. En as daar één plek op die aardbol is waar ’n mens na suurvytjiekonfyt kan soek, is dit tog seker ’n strandbasaar.

    Maar onthou nou, waarsku Pappie, dis nie die strand se gemeenskap wat basaar hou nie, dis die boere van Die Hoop se wyk. Vroeër jare het hulle hierdie wyk se basaar op Skipskop gehou, maar nou is dit geriefliker om dit hier in die kerksaal te hou.

    Maar Pa, as daar een wyk is wat suurvytjies moet oplewer, is dit tog seker Die Hoop se wyk: Prinskraal, Rondheuwel, Elandsvlei, Meulvlei. Meulvlei, ja, dis mos waar Kassiesbaai se mense die suurvytjies gaan pluk.

    Ja, maar seker nie nóú meer nie, demp Pa my oplaaiende geesdrif. Die vroevye pluk hulle hier in November, Desember. Vir die laatvye is dit nou seker al te laat.

    En hier rondom ons is dit net die een plaat wildevye op die ander. Net die geel blom van die wildevyrank – nooit die pers blom van die suurvytjie nie. Nee wat, Pa, ek gaan daar onder die Murtze en die Europas van Kassiesbaai iemand soek wat vir my suurvye moet pluk.

    Droës sal jy kry, ja, maar jy wil mos die pap vytjies hê as jy konfyt maak.

    Hulle moet net so begin ryp word, so gouerig geel soos die eerste herfsblare, en die blink duinesap moet nog borreltjies maak oor hulle as ’n mens hulle op ’n skinkbord oopgooi om winddroog te word.

    Foei tog, my arme kind! Ons sal regtig ’n plan moet maak met jou suurvytjie-honger.

    Nou maar, Ma, as daar dan nie suurvytjies op die basaar is nie, sal daar darem seker handtertjies en vleispasteitjies wees. Ek neem hierdie mandjie saam. Hoe laat begin Pa met die opveiling?

    Nee, dis eers later. Ek weet ook nie of daar veel sal wees om op te veil nie, maar ek het vir Dominee beloof om te help as daar wel iets is. Kom hier, kinders – hier’s vir elkeen penningske om lekkers en poeding te koop op die basaar.

    As daar kraaldoilies is, koop ek vir Ouma ’n doilie, sê Marietjie.

    Dis ’n winderige oggend, maar die son skyn tog warm oor die duine toe ek en Pappie en die twee kinders in die wit pad opstap na die kerksaaltjie. Dis ’n mooi, stemmige geboutjie met geel mure en ’n grasdak en ’n heining van sparretjies rondom. Bokant die ingang staan daar in groot wit letters MUNUS en op die marmerbladjie links van die deur lui die opskrif: Du Toit Saal. Steen gelê door Schenker mev. Jan du Toit 21 Junie 1933.

    Binne-in die saal heers daar vanmôre groot drukte en bedrywigheid. Rondom teen die mure staan die basaartafels met die wit tafelklede en alles wat te koop aangebied word; daaragter die boervroue wat vandag die ouderlingsvrou en die diakensvrou van die wyk bystaan. Dadelik as ’n mens by die deur inkom, word jy in die warm, gesellige basaardrukte opgeneem. Die dominee het nog nie die openingswoord gedoen nie, maar die verkopery by die tafels is blykbaar al geruime tyd fluks aan die gang. Almal loop met volgelaaide mandjies; die kinders met sakkies lekkers of versierde kleinkoekies. Al die mans dra knoopsgatruikers van roosknoppe en varings. Daar word oor en weer gegroet en na reën verneem. Gisteraand was daar mos ’n donderstorm oor hierdie wyk, maar die reën het nie oral geval nie. Plek-plek is die water al skraps. Maar die weer lyk nog mooi. Dit kan haas nog wéér begin reën.

    Nee, maar dis nou tienuur. Waar bly Dominee dan? Daar kom ’n stiltetjie oor die drukkende skare en die geroesemoes van stemme. Die dominee staan op die verhoog onder die hanglamp met die vrolike rooi lampglas. Dit is ’n jong dominee wat ek nie ken nie. In my tyd was elke basaar dominee Viljoen se basaar. Die knoopsgatruikertjies het ons op die pastoriestoep gemaak en die varings het ons in mevrou Viljoen se varinghuisie gepluk. En voor dominee Viljoen die straat opgestap het na die kerksaal, het hy al klaar twee ruikers vasgesteek, een aan elke lapel van sy swart baadjie. Daar word gesing – Prys die Heer, deels op sy Afrikaans, deels op sy Hollands. Pappie sing die Hollandse woorde. Ek ook. Marietjie ken net die Afrikaanse woorde. Judy het in haar lewe nog nooit die lied gehoor nie. Dan bid die dominee. En onder die gebed kruip ’n vetsak van ’n kleintjie tussen sy pa se bene deur en gryp met ’n gretige handjie na ’n plaat rooskleurige koekies op een van die tafels. Die dominee spreek die basaargangers toe. Ons het veel om voor dankbaar te wees, sê hy. Ons is ryklik geseën op tydelike en stoflike gebied. Laat ons ons dankbaarheid betoon. Op twee na is die dankfeeste vir die jaar nou verby. Vandag word die laaste twee gehou – op Protem en hier op Waenhuiskrans. Mag hierdie twee vandag net so voorspoedig verloop soos die ander. Die stemmegezoem styg weer op. Die verkopery oor die tafels word met drif hervat. Die gerinkel van koffiekoppies word gehoor daar in die hoek langs die ingang waar die boere toustaan vir ’n vertroostinkie. Een volgelaaide mandjie ná die ander verdwyn deur die oop deur by die treetjies af, by die sparretjieshek uit. Pa sien die handtertjies op een tafel. Ek ruik die hoenderpasteitjies uit op ’n ander, heerlik lig en brosgeel. Ons platboom-mandjie begin ook lyf kry. Marietjie het ’n doilie met deurskynende groen trompetkrale vir Ouma. Judy staan in vervoering voor ’n perlemoenskulp met ’n helderkleurige toneeltjie binne-in geskilder.

    Ek geniet die basaarstemming, die gesellige, gemoedelike saamwees in die kerksaal met die geel plafon en die hoë vensters, hier waar die pad van die dorp af indraai na die strandhuise en die see. Tussen die basaargangers sien ek gesigte wat ek uit my kinderjare onthou. Dit was mos maar altyd so: op ’n basaar sien ’n mens al die Swarts bymekaar: oom Martiens Rondheuwel met sy breërandhoed, oom Pieter Prinskraal, breedgeskouer, rosig soos ’n seuntjie – hy lyk presies nog net soos hy gelyk het toe ek mevrou Viljoen se varingruikertjies aan hom verkoop het – oom Kotie Swart en oom Matie Swart van Soutkloof, en Pa, al groetend en geselsend tussen hulle deur.

    Dis mos van oom Martiens Swart Rondheuwel se vader, ou oom Martiens, dat Mammie so ’n mooi staaltjie vertel. Net soos sy seun vandag, was hy ook maar in die wandel bekend as oom Martiens Rondheuwel. Toe kom daar op ’n dag ’n nuwe skoolinspekteur na die dorp, inspekteur Theron was dit, en in ’n oomblik van verwarring spreek hy oom Martiens aan as oom Martiens Rondekop.

    Oom Martiens kyk die inspekteur met ’n vonkeling in sy oog aan: En, as ek mag vra, sê hy, hoe – hoe – hoe’s jóú kop dan?

    As ek oom Pieter Prinskraal groet, dink ek daaraan dat sy pa mos my oupagrootjie was

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1