Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

107 Kaalkoppe
107 Kaalkoppe
107 Kaalkoppe
Ebook352 pages5 hours

107 Kaalkoppe

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Nataniël vier 20 jaar as Kaalkop-rubriekskrywer met hierdie nuwe versameling van sy gewilde SARIE-rubrieke: 107 Kaalkoppe geskryf vanaf 2012 tot 2021. Eerlik, persoonlik, nugter, inspirerend, melankolies, hartseer, opgewonde, driftig, simpatiek, verbaas, dwars, reguit en vasbeslote mik hy na elke moontlike emosie. Met die wêreld op sy kop was daar nog nooit ’n beter tyd vir ’n boek soos dié nie.
LanguageAfrikaans
Release dateSep 20, 2021
ISBN9780798182478
107 Kaalkoppe
Author

Nataniël

Nataniël is op Grahamstad gebore. Hy het skool gegaan aan die Laerskool Riebeeck-Kasteel en Hoërskool De Kuilen in Kuilsrivier. Na skool studeer hy musiek aan die Universiteit Stellenbosch. Hy het aanvanklik bekendheid verwerf as kabaretster en verhoogkunstenaar, maar sedert die 1990’s is hy veral gewild as skrywer en koskenner. Nataniël was born in Grahamstown in the Eastern Cape. He studied music at Stellenbosch University and first became popular as a cabaret and stage artist, but since the 1990’s has also built a reputation as a writer, columnist and celebrity chef. 150 Stories dominated the bestseller charts for weeks on end.

Read more from Nataniël

Related to 107 Kaalkoppe

Related ebooks

Related articles

Reviews for 107 Kaalkoppe

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    107 Kaalkoppe - Nataniël

    9780624089810_FC

    107 KAALKOPPE

    Nataniël

    Illustrasies deur Floris Louw

    Human & Rousseau

    ’N KAALKOP OOR KAALKOP

    In 2004 het die eerste bundel Kaalkoppe verskyn, ’n luukse hardebandboek met ’n mooie stofomslag en ’n ligblou lint. Heel voor in die boek het die lirieke van Saam verskyn, ’n lied wat ek vir klein George geskryf het met sy eerste verjaarsdag.

    George se pa was die regisseur van my eerste televisiereeks. Sy ma was die redigeerder. Tydens haar ganse swangerskap het sy elke dag vir ses tot ag ure aan die program gewerk, en tot en met sy geboorte moes hy elke dag na my stem luister. Hy het sy oë oopgemaak in hierdie wêreld en my geken, ek was onmiddellik versot op hom en het geweet dat hy ’n groot en ewige rol in my lewe sou speel. George was ’n totaal ongeïnhibeerde jong man. By die geringste ongelukkigheid het hy kliphard en hartstogtelik gehuil; wanneer hy gelag het, was dit ’n skater diep uit sy maag; en so vinnig as wat hy sy eerste woorde kon vind, het hy sy opinie gelug en sonder skroom vrae gevra.

    Ek het byna elke dag gaan kuier, hom opgepas wanneer sy ouers moes gaan werk, selfs eenkeer ’n konsertdatum verander (Jammer, ek moet babysit!). Hy was ’n paar maande oud toe hy die eerste keer alleen saam met my Kaap toe gevlieg het om by sy ouma te gaan kuier. Ek was deel van elke verjaarsdag, het vir dae aan die verjaarsdagkoeke gewerk en vertrekke met temas versier. George het sy eie Kersfeeste gehad, bome was vol kristalengele en geskenke is toegedraai in die mooiste papier denkbaar. George het ’n pa en ’n ma en ’n peetpa en ’n hele familie gehad, maar ek het my glad nie daaraan gesteur nie, ek het hom net gevat. Hy het saam met my op die verhoog verskyn, op die verpakking van ’n album, in meer as een kookboek, in artikels, selfs saam met sy sussie op die voorblad van ’n tydskrif.

    In 2001 het Michélle van Breda, nuwe redakteur van SARIE, my geskakel en gevra of ek dit sou oorweeg om ’n weeklikse rubriek te skryf. Ek het ingestem sonder ’n oomblik se huiwering. Die eerste Kaalkop het in Junie 2001 verskyn. Ek het vertel hoe ek op my eie planeet woon en net die aarde besoek om konsert te hou en met George te kuier. Ek het beskryf hoe die aarde agteruitgaan, hoe dit my ontstel om te weet George moet daar woon en grootword, hoe ek nie meer sal kan wegkyk nie, hoe ek sal skryf oor alles wat ontstellend is, ook alles wat goed is.

    Vandag is die aarde ’n veel groter gemors, maar George is mondig, hy het sy graad cum laude verwerf en is tans besig met nagraadse studies. Hy is slank, beeldskoon en só lank dat almal moet opkyk, hy is ’n gentleman, nederig, lief vir die natuur, woon my konserte by, kom kuier wanneer hy kan, hy is steeds my trots.

    In die lewe van ’n alleenlopende vryskutkunstenaar is daar geen waarborge. Tensy jy dertig jaar lank in ’n sepie verskyn, is daar – met die uitsondering van ’n paar ware vriendskappe – bitter min of geen langlopende projekte, ooreenkomste of verbintenisse. George was my eerste.

    Kaalkop was my tweede. Ek het op my planeet op my maag gelê en kyk. En dan geskryf oor wat ek sien. Ek was reeds ’n paar jaar lank besig voordat ek sekere waarhede, voordele, veranderinge en gestaltes kon raaksien of verwoord. Hierdie geleentheid was my enigste kans om – sonder om slim of snaaks te wees – so eerlik as moontlik my gedagtes te deel. Duisendes wat my voorheen as die duiwel se geverfde niggie beskou het, het gelees en gesien dat my waardes en geloof dieselfde is as dié van my ouma, die Bybel waarmee ek grootgeword het, die vriende wat my beskerm het en die kollegas wat my ondersteun het. Ek het bloot van ’n ander plek of uit ’n ander hoek gekyk en gepraat. My gehore het verander en groter geword, daar was aanvaarding, selfs aanhang. Die skryf van die rubriek was gereeld en genesend, die ritme en die manier van praat het self vorm gevind, die terugvoer was vreugdevol, selfs die fotografeer van ’n uitrusting vir elke Kaalkop was pret.

    Natuurlik was daar skokke. Met die verskyning van die eerste bundel het ’n prominente figuur dit met ’n groot kabaal afgemaak as soetsappige bog. Ek was verstom – ek het geglo die gif is net vir die nimmereindigende teaterresensies gebêre. Tot vandag toe het ek nog nooit weer ’n enkele woord wat oor my in Afrikaans geskryf is, gelees nie – nie ʼn komma of ’n punt nie.

    Nou skryf ek twintig jaar later hier in die vierde bundel. Saam met die teenwoordigheid van George en ’n asemrowende sewentien jaar lange residensie by Emperors Palace se Theatre of Marcellus, bly dit een van die grootste geleenthede van my lewe. My dank aan elke liewe wese wat hierdie langdurige tog meemaak, my sonder oordeel staande hou, my woorde verduur en saam met my bly skarrel vir genade op hierdie planeet.

    (Junie 2021)

    VEILIG IN MY NUWE JAAR

    Dis met hartseer dat ek afskeid neem van die winter, die kos, die serpe, die jasse, die kaggel en die opwindende koue, heerlike, snerpende briesies en lang glase rooiwyn. Maar daar is ook groot opwinding aan die einde van elke Augustus, die miljoene blaartjies wat verskyn in my oerwoud, die ongelooflike reuk van belofte en bloeisels en (vir my persoonlik) my verjaarsdag, die einde van nog 365 dae se oorlewing.

    1 September is Nuwejaar in my lewe, 1 Januarie is iets wat mense uitgedink het. September is dus die maand van verandering, nuwe planne en die verjaag van vieslike klein gewoontetjies, nuwe jakkalsies en afgryslike eetgewoontes. Dis ook die tyd van nuwe doelwitte en begeertes. (Is dit sonde? Drome, dan.)

    So sit ek op ’n vliegtuig en dink, wat wil ek hê? Wat wil ek beleef? En ’n baie ou kwessie, ’n ding wat al jare in my hart se heel agterste kamer op die verste rak lê, soos ’n beleë stuk kaas in ’n versteekte winkeltjie in die mees geheimsinnige straat iewers oorsee. Dis die ding oor veiligheid.

    Om veilig te voel, net vir ’n oomblik. Veilig, soos wat die mense daaroor dig of skryf of sing. Soos hulle daaroor debatteer, dit verkondig, verduidelik en aanmoedig. Ek het geen benul wat dit beteken nie, ek het nog nooit in my lewe vir ’n oomblik veilig gevoel nie. Dis nie ’n belydenis of ’n ineenstorting nie, ek wil net graag weet waaroor hulle praat of spog of huil.

    Ek dink terug so ver soos wat ek kan. Veilig op skool? Nie vir ’n oomblik. Ek het gelewe in vrees vir gimnastiek, atletiek, kadette, onbeskofte onderwysers, aggressiewe kinders, lae punte, wiskundeklas, musiekeksamen en speeltyd.

    Veilig op universiteit? Nooit nie, dit was ’n stoeiery vir oorlewing, dreigbriewe oor agterstallige huur, gaar motortjies wat langs die hoofweg gaan staan, oproepinstruksies na die weermag, beursgeld wat per ongeluk in ’n boetiek spandeer is – die spanning was eindeloos.

    Veilig in ’n verhouding? Hoe op aarde? Hulle verneuk jou terwyl jy omdraai vir nog ’n glas wyn. Hoekom bel jy nie? Waar is jy? Ek word mal.

    Veilig in my loopbaan? Hoe is dít moontlik? Ek is afhanklik van mense se smaak, ek verskaf nie iets wat noodsaaklik is nie. En deesdae kan jy net ’n woord sê of ’n noot sing en jy word beskinder of aangespreek op die internet of deur enige ander elektroniese spreekbuis. Jy het nie ’n kat se kans nie.

    Veilig in my lyf? My pa, die sterkste man wat ek ken, het nou net ’n verpletterende beroerte oorleef. Hy moet gehelp word, hy moet herinner word, jy bid hy onthou jou as jy bel. Hoe moet ek veilig voel, ék, die ongesonde een wat te min slaap, verkeerd eet, drink soos ’n kameel en heeldag stres? Gaan ’n dieet en harder oefen rêrig help?

    Veilig op die pad? In hierdie land? Waar beskerming bestaan uit padblokkades wat jou tyd mors terwyl die ware gevaar, die jong hingste wat besete met goedkoop voertuie rondjaag, net voortgaan? Terwyl daar mense agter stuurwiele sit wat nie ’n benul het van logika nie?

    Veilig in my geloof? Dis moeilik, moeilik, moeilik. My geloof is nie blind of rotsvas nie. Elke keer as ek stilhou voor nog ’n huis met verwaarloosde kinders, nog ’n oproep of noodkreet ontvang, begin ek twyfel. Hoekom? Is dit nodig? Wat doen ’n kind verkeerd om só sy lewe te moet begin? Dis moeilik.

    Dit klink of ek die swaarste las met my saamsleep. Dit is nie so nie, ek vra net, ek bly wonder hoe voel ’n mens werklik veilig nadat jy jou eerste treë gegee het op hierdie ronde planeet. Is daar ’n geheim? Raad? ’n Struktuur?

    Of maak ’n gevoel van veiligheid jou dalk lui? Is dit my onsekerheid wat my dryf en energie gee? Is dit dalk ’n bedekte seëning?

    Dis my nuwe jaar en ek moet uitvind.

    (September 2012)

    GELAWE

    En weer is ons in die mooiste maand en weer is ek doodmoeg. Twee derdes deur ’n dolle jaar en ek moet van iewers af krag kry vir die res. Nog drie verhoogproduksies lê voor en alles moet met energie en opgewondenheid gebeur, dis ál hoe dit kan werk.

    ’n Paar dae gelede ontvang ek ’n geskenk van my vriendin Diane – ’n mooie, mooie boek met die titel ENCYCLOPEDIA OF THE EXQUISITE. Die boek bevat talle kort artikels oor die ontstaan of geskiedenis van alle bekoorlikhede wat al die wêreld verander het, van die eerste lugballon tot Antonin Carême se spierwit poeding (blancmange), tot die Kussingboek (die Japannese keiserin se sagte dagboek waarop sy elke aand haar kop neergelê het). Ek lees net twee bladsye per keer, ek wil nooit klaarmaak met hierdie boek nie. Ek sit elke nag kiertsregop in my bed en kan nie glo hoeveel wonderlike goed daar op aarde is nie – al wat ek deesdae raaksien, is vuil strate, lelike huise en ongeduldige mense.

    En meteens onthou ek van die nuwe kostuum in my kas, ’n asemrowende skepping deur Floris Louw, ’n reuse-, byna outydse jas wat gemaak is van duisende swart blomme en wat van die borskas af uitklok na onder soos ’n omgekeerde tulp. Op die grond sleep tossels met swart kristalle. Ek trek dit kort-kort aan en poseer voor die spieël. Ek het vergeet, ek ís opgewonde oor die nuwe show, ek het al familie gebel om te sê dat ek eendag in hierdie ding begrawe moet word, dis die mooiste gewaad wat ek nog ooit aangehad het!

    Binne dae is my moegheid weg, ek onthou skielik alle skoonheid wat hierdie jaar my asem weggeslaan het. Ek het lanklaas ’n Kaalkoplysie die wêreld ingestuur (en hy mag spoedig verouder), maar hier is hy:

    •Die Kaapse groep 3rd World Spectator het hul debuut gemaak met die album The Theory of Everything. Of jy nou van tromme en elektriese kitare hou of nie, die hoofsanger, Peter Crafford, se stem het ’n omvang wat net deur engele in sy keel gebêre kon word. Ek ken hom al vandat hy ’n kleuter was en het nooit geweet dat hy kon of wou sing nie. (Peter het intussen na New York verhuis, waar hy floreer in die advertensiewêreld van Manhattan. Ons wag nou vir sy eerste internasionale note!)

    •Ek lag baie, maar selde hardop. Onlangs het ek na Marion Holm se nuutste solo-vertoning gaan kyk en só gelag dat ek nog steeds rugpyn het, maar dis ’n gesonde pyn. Elke mens lag vir iets anders, haar grappe, haar nabootsings of haar lyftaal, maar ek kan glad nie haar ongelooflike stem en die gepaardgaande volume hanteer nie – sy kan net staan en brul, ek lag soos ’n gekieliede baba. Gaan heel jouself, gaan woon ’n vertoning by wanneer Marion in jou omgewing is, dis plesier sonder genade.

    •Net so gesond soos lag is huil of bewe. Ek het onlangs die rolprent Lost City op DVD raakgeloop. Andy García moes ’n groot deel van sy lewe en loopbaan spandeer om hierdie droom te laat gebeur. Hy speel die hoofrol, is die regisseur en maak die musiek. Die openingstoneel is só mooi, ek gaan nou nóg ’n huis koop en dit verander in ’n Kubaanse paleis. (Jare later sou Antonio Banderas se Pain and Glory dieselfde effek op my hê.)

    •En dan, Corlea! Ek het geweet van haar: sy sing, het baklei met ’n outjie, haar haarstyl verander en gewig verloor. Maar ek het haar nog nooit hoor sing nie. Tydens ’n repetisie vir ’n SARIE-funksie staan sy op die verhoog en sing Patti Austin se moeilikste liedjie sonder inspanning. My bek hang oop. Ek het haar dadelik gaan vra om volgende jaar saam met my te sing. Nou wag ek. In my Floris Louw-skepping. (Corlea het toe ingestem en ons het reeds verskeie produksies en opnames saam gedoen.)

    Hoendervel, rugpyn, lag, trane en dagdroom, dis alles simptome van bekoring. En bekoring is hier, tussen ons.

    (Oktober 2012)

    REÜNIE

    So ’n paar weke gelede is ek in my motor op pad huis toe ná ’n vertoning. Dis laataand en dit stortreën. Ek skakel die radio aan en begin soek na klassieke musiek – dit laat my altyd voel asof ek oorsee of in ’n rolprent is. Daar is geen mooi musiek, almal babbel of speel gemorswysies. Oor en oor druk ek die knop en beland uiteindelik in die geselskap van ’n program wat soek na verlorenes. Luisteraars kan inbel en vertel na wie hulle soek, hoeveel jaar hulle laas met die persoon kontak gehad het, en foonnommers uitdeel.

    Ek is ’n klein bietjie verstom – wie het tyd om na ’n verdwene kennis te soek? Maar ek onthou dat ek ook al dikwels gewonder het oor ’n paar mense wat ek op skool of universiteit laas gesien het. Wat sou hulle deesdae doen? Is hulle suksesvol? Gesond? Ek moes al met skok uitvind dat ’n paar skoolmaats en universiteitsvriende intussen oorlede is, ander het die pad byster geraak en ander het stil-stil presteer in ’n rigting waarvan jy nooit sou kon droom nie.

    Ek het nog nooit ’n reünie van enige aard bygewoon nie. My matriekklas het al ’n paar agter die blad, maar dit het nog altyd plaasgevind tydens een of ander kunstefees of gedoente wat my verhoed het om dit by te woon. Die gedagte aan so ’n byeenkoms vervul my met beide vrees en opgewondenheid. Sal iemand met my praat? Het hulle op skool met my gepraat? Is hulle al oumas en oupas? Is dit nie net ’n hartseer storie om te sien hoe oud ons is nie?

    Maar ek bly nuuskierig. Daar was ’n paar wesens in my klas wat só mooi was dat ek tot vandag toe onrustig slaap. Dit sou wonderlik wees om te sien een van hulle het intussen verander in ’n dik oom met ’n hangpens. Daar is ook ’n paar wat ek regtig mis, mense saam met wie ek ’n paar eerstes in my lewe ondervind het (beide goed en kwaad). En dan natuurlik ’n geheime eerste liefde.

    Daar is ander reünies ook – besighede, families, sportspanne, kerke, almal beleef saamtrekke met verlorenes en verdwaaldes. Alles het my nog gespaar gebly. Geen reünie vir my nie, net reguit vorentoe.

    Of só het ek gedink. Ek is al ’n paar jaar deel van ’n groep sjefs, kokke en bendes wat kosdemonstrasies doen by ’n paar kosfeeste. Elkeen bly in ’n ander stad en ons sien mekaar nooit andersins nie, ons het ook selde kontak. Maar een keer per jaar, tydens die Walvisfees in Hermanus, woon ons almal saam in ’n beeldskone gastehuis. Bedags word daar gewerk tot ons knieë knak, maar saans … ! Ons kuier soos beste vriende, ure en ure! Ons drink, eet en lag dat die trane loop, raak selfs emosioneel. Ons gesels oor die ou dae, hoe ons mekaar ontmoet het, elke dag se suksesse en ongelukke, hoe die gehoor reageer het en wat die nuutste kosneigings is. Ons spot met mekaar en skinder tot ons tande pyn. Ons deel geheime en beloof ewige vriendskap.

    Is dit dan nie ’n reünie nie? Ek weet nie wat die geleerdes dink nie, maar vir my beteken die woord reünie die hervorming of herstel van ’n groep. En dis mos wat ons doen!

    Dieselfde gebeur elke jaar met my verjaarsdag – ’n groep mense vanuit elke moontlike uithoek kom bymekaar. Vir sommiges is dit die enigste keer dat hulle mekaar sien, maar hegte verbintenisse is al hier gevorm. En elkeen is ’n unieke, komplekse wese wat al jare deel is van my lewe, wat ondersteuning en inspirasie bied nie net aan my nie, maar ook aan mekaar.

    Ek verklaar dus hier dat ek wel gereeld deel is van ’n reünie – nie ’n gewone terugblik of soeke na ’n vorige bekendheid of veiligheid nie, maar ’n lewende organisme wat my lewe versterk en my liefdes bevestig.

    (November 2012)

    LANCE

    Hierdie Kersfees is ’n groot storie, my familie het baie om te vier en my broer en sy gesin kom kuier uit Ierland, die eerste keer in twee jaar. ’n Hele hoop geskenke is reeds toegedraai en staan in torings in die stoorkamer, splinternuwe versierings skuil in die gangkas en lang tafels in uitgesoekte restaurante is reeds bespreek. Sjefs is reeds gesmeek of omgekoop om spyskaarte aan te pas vir die vele (en moeilike) smake wat bevredig moet word.

    Wat die familie nog nie weet nie, is dat daar heel moontlik ’n ekstra gas aan tafel sal wees, of dat ek self moontlik afwesig sal wees indien die gas voel ons moet alleen kuier. Nee, dis nie ’n lelike storie nie, daar is net baie, baie om oor te praat. Verder is hy op die oomblik baie moeg, seergemaak en ’n bietjie skaam. Ander mense sal verskil, want hulle sien hom gereeld op televisie en hy beskryf manhaftig sy opinies en onskuld op die internet.

    Hy beantwoord op die oomblik nie my oproepe nie en reageer nie op my boodskappe nie. Maar ek verstaan, sy naam is Lance Armstrong en sy lewe het in ’n baie kort tydjie heeltemal verander. Wel, eintlik verdwyn, sy lewe het verdwyn. En niemand wil hom sien nie, hulle jaag hom weg, hulle ignoreer hom, hulle veroordeel hom, hulle dank hom af, hulle soek sy geld, hulle beledig hom. Nee, hy is nie ’n plaaslike sanger nie, hy ry fiets, orals op die aarde. Hy het die Tour de France sewe keer gewen, kanker oorwin, met ’n beroemde sangeres uitgegaan en in talle advertensies verskyn. Hy het miljoene rande ingesamel vir liefdadigheid en was die held van miljoene mense, jonk en oud. Hy het talle jong mense inspireer om sport te beoefen, hy het siekes gewys hoe om te veg vir hulle gesondheid en hoe om ander te ondersteun, miljoene mense dra sy bekende geel armband om hulle ondersteuning aan liefdadigheid te wys.

    Toe skryf iemand ’n verslag en vertel hoe hy verbode middele en sondige brousels gebruik het, mediese toetse gefnuik het en sy spanmaats tot stilte geboelie het. Toe stroop hulle hom van sy medaljes en die borge vra hulle geld terug. Die sportbase sê ons moet van hom vergeet, hy’s ’n skande en nou is alles verby.

    Ek kan aan niks anders dink nie. Hoe kan ’n loopbaan en ’n lewe uitgewis word binne dae? Hoe sal ons ooit weet of hy rêrig gekonkel het? Alles is hoorsê, daar is geen bewyse. Hoekom sal almal teen jou draai die oomblik dat een begin klik? Misdaad moet gestraf word, daar is geen twyfel, maar is daar geen genade? Geen tweede kans? Geen vergifnis? Geen ligpunt? Het die stomme man niks reg of goed gedoen nie? Iets bly my pla, alles is nie pluis nie.

    Is dit net die grotes wat so vinnig so ver kan val? Is dit hoekom soveel mense hulle verlustig het in die aanvanklike mislukking van Oprah Winfrey se nuwe netwerk? Is dit hoekom bekendes se terugslae of skandes sulke wonderlike nuus is?

    My loopbaan is popspeel, my lewetjie is klein, maar dit was ’n goeie jaar. Hierdie Kersfees is een van dankbaarheid. My pa het wonderbaarlik herstel van ’n geweldige terugslag, my ma is vrolik en het nog steeds meer energie as ’n veldhaas in lang gras, my suster het uiteindelik geluk gevind, my oorsese broers en hulle gesinne is gesond en suksesvol, my televisiereeks was ’n sukses, my shows was vol, my winkel is mooier as ooit, my vriende is rondom my, ek is dankbaar, dankbaar.

    Ek wil aan die Kerstafel sit, regoor of langs Lance, ek wil hom uitvra vir ure, hoor wat verkeerd gegaan het, wat nou oor is, waarvoor hy nog dankbaar is. Ek wil aan hom genade betoon, ook welwillendheid. Ek wil hê hy moet goed slaap en dan weer begin. Hy moet nou net bel.

    (Kersfees 2012)

    KLEREKUNS

    Dis ’n pragtige someroggend. Ek moes al tien minute terug my hotelkamer ontruim het. My tas is reeds gepak, maar ek bly karring met my kostuumsak. Die lang baadjie met die duisende klein kristalle lê op die bed, en in my hand het ek ’n hemp wat bestaan uit ontelbare klein koperblaartjies. Die hele

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1