Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

In die blou kamp: Facebook-stories
In die blou kamp: Facebook-stories
In die blou kamp: Facebook-stories
Ebook316 pages3 hours

In die blou kamp: Facebook-stories

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Dana Snyman is volksbesit. Hy reis rond deur Suid-Afrika en skryf oor sy ontmoetinge met mense langs die pad, die trokdrywers, die meisie wat in matriek swanger geraak het, donkie-eienaars, die vrou wat haar seun in die grensoorlog verloor het, Cliffie van Epping, oom Pik Botha in Pretoria... Sy stories tref mens in die binnegoed. Soms is dit hartseer, maar soms skreeusnaaks, soos die storie oor sy ma wat sweer dat sy vanjaar "net iets ligs" vir die Kers-ete gaan bedien. Met hierdie boek het Dana sy mees ontroerende of eiesoortige ontmoetings geboekstaaf. Die meeste van die stories het hy aanvanklik op Facebook, waar hy duisende volgelinge het, gepos. Die wat die grootste reaksie gekry het is hierin verwerk. 'n Ware interaktiewe Suid-Afrikaanse boek.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateJun 22, 2015
ISBN9780624072263
In die blou kamp: Facebook-stories
Author

Dana Snyman

Dana Snyman is op Stellenbosch gebore. Ná 'n kort, onsuksesvolle universiteitsloopbaan, werk hy onder meer as veiligheidswag, skakelbordoperateur, en boekwinkelklerk. Met die genade van Bo beland hy in die joernalistiek, en vandaar word hy een van Suid-Afrika se mees geliefde skrywers. Hy het al talle gewilde en suksesvolle rubrieke, boeke en verhoogstukke neergepen. Wanneer hy nie op reis is nie, woon Dana op Jacobsbaai aan die Weskus.

Read more from Dana Snyman

Related to In die blou kamp

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for In die blou kamp

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    In die blou kamp - Dana Snyman

    Dana Snyman

    In die blou kamp

    Tafelberg

    What occurs each day and returns each day, the banal, the everyday, the obvious, the common, the ordinary, the infra-ordinary, the background noise, the habitual: how does one give an account of it, examine it, describe it?

    – Georges Perec

    Alle karakters in hierdie boek bestaan werklik,

    behalwe een.

    1.jpg

    ’n Soort voorwoord

    (Vir Paul Alberts, 1946 – †2010)

    Ek ry nou al hoe lank met jou boek Buite die hekke van Eden in die bakkie rond, Paul.

    Nou die aand sit ek in die Brandvlei Hotel se lounge en blaai daardeur. ’n Kêrel, een met so ’n voos rooi neus, kom staan later agter my. Wie’s die ou wat hierdie foto’s geneem het? vra hy ná ’n ruk. Hy moet hel depressed wees.

    Ek dink wat die ou eintlik wou sê, is jy draai jou lens knaend na dinge wat besig is om te verval, verwaarloos is en agteruitgaan. Die beskadigde grafte op Ceres en Zastron, Swartmodder en Modjadji. Die kerkgebou op Ladismith wat ’n stoorplek geword het. Die vernielde seun wat in Langstraat in die Kaap met sy kop op ’n hoop koerante lê. Barste in sypaadjies. Verf wat van mure afdop. Heinings wat slap hang.

    Bouvallige plaasopstalle. Paaie vol slaggate. Motorwrakke.

    Baie is al geskryf oor hoe fotograwe van skilders leer, en hoe skrywers ook van die visuele kunste leer. Soveel van jou foto’s maak woorde in my los, Paul – woorde wat stories wil word. Wat het John Berger nou weer gesê? Seeing comes before words. Daardie kerk op Ladismith waarin nou sakke mielies en ander goed gestoor word, is vir my nie net nog ’n kerk waarin nie meer eredienste gehou word nie. Dis vir my troues en begrafnisse en biddae vir reën. Dis ’n nagmaalbeker wat van hand tot hand aangegee word en ’n ouderling wat sy hoed tydens ’n kerkraadsvergadering vat en by die konsistorie uitstap. Dis vroue wat op ’n Saterdag pannekoek op ’n sypaadjie bak. Dis die Onse Vader se laaste note wat onder ’n geelhoutplafon talm en ’n vlermuis wat in die laatmiddaglig in kringe oor ’n verdroogde grasperk vlieg.

    Maar is dít al wat vir ons oorgebly het, Paul? Om die dinge, die ou dinge, wat rondom ons verander en aan die verweer en verdwyn is te dokumenteer?

    Oral in die land word mense en stede en dorpe en plase anders. Ons is nou, meer as ooit in my leeftyd, in daardie tussentyd waarvan Gramsci praat: The old is dying and the new cannot be born; in this interregnum there arises a great diversity of morbid symptoms.

    Die ou algemene handelaar in die hoofstraat is nou ’n Shoprite of ’n Spar of ’n OK Foods. By Avbob se kantoor het ’n Chinees en sy vrou ingetrek en verkoop nou egte nagemaakte Gucci-handsakke, flitsbatterye en selfone. Langsaan is ’n kruiedokter van Ghana wat belowe hy kan jou verlore vrou, jou verlore bakkie en jou verlore ereksie terugbring. Die kerk is omring deur hoë traliewerk. Teen ’n asblik nooi ’n plakkaatjie: Safe and cheap abortions. Op die plein voor die stadsaal, naby die monumentjie wat tydens 1938 se Simboliese Ossewatrek ingewy is, slaan ’n kêrel in langpuntskoene elke oggend ’n gazebo op en sny vir die res van die dag ander kêrels se hare terwyl musiek vol vreemde ritmes uit ’n CD-speler pomp.

    Ook op ’n ander manier is die land en die wêreld aan die verander. Omtrent almal van ons, jonk en oud, ryk en arm, het nou ’n selfoon, ’n iPad of ’n toestel wat ons met die internet verbind. Die internet is die nuwe beloofde land waarin ons glo ons kan word wat ons behoort te wees.

    Ons neem foto’s – ook foto’s van onsself, geneem deur onsself – en stuur dit oor en weer vir mekaar op Instagram en allerhande ander digitale maniere. Ons stry en dreig en beledig mekaar op Twitter of bemoedig mekaar met vrolike prentjies en pienk woordjies. Ons spog met onsself, ons kinders en ons troeteldiere op Facebook en gee ons menings oor enigiets van God en die president tot die prys van skeermeslemmetjies en die tragiese dag toe mense opgehou het om hulle gunstelingmusiek op kassette op te neem.

    Eers het ek dit probeer vermy. Ek het geglo ’n skrywer sit by sy skryftafel, kalm van gees, en stoei een woord ná die ander uit sy binneste los, noukeurig, weldeurdag, totdat sy boek klaar is. Maar iewers in 2011 het ek vir my ’n Facebook-profiel op die internet geskep. Net om te kyk wat daar aangaan, het ek vir myself gesê. ’n Mens moet darem weet wat gebeur aan die ander kant van die heining tussen jou en jou vooroordele.

    Nou, vier jaar later, het ek hierdie boek saamgestel met ’n klomp van my Facebook-inskrywings, elk met ’n foto by. Die meeste het ek self geneem. Nes miljoene ander mense leef ek nou ook ’n gedeelte van my lewe op die internet.

    When a human being becomes a set of data on a website like Facebook, he or she is reduced, skryf Zadie Smith iewers. Everything shrinks. Individual character. Friendships. Language. Sensibility.

    ’n Mens kan kwalik met Smith verskil, daarom is daar vir my ’n soort voorlopigheid aan baie van die dinge wat ek op Facebook skryf. Soms is dit ’n reaksie op iets wat ek gesien, gehoor of gelees het. ’n Ander keer is dit ’n optekening van ’n byna terloopse ervaring, selfs ’n aanhaling uit ’n dagboek, of ’n langer beskrywing van iets oor hoe ons hier en nou lewe. Of in die verlede geleef het.

    Miskien begin Facebook en blogs op die internet, sê Zadie Smith ook, die dagboek in mense, ook party skrywers, se lewe vervang.

    Ek het min of meer net een maatstaf: Met alles wat ek op Facebook skryf, probeer ek iets van myself en hierdie land en ons verlede aan myself verduidelik en dokumenteer en terselfdertyd met mense daaroor in gesprek tree – gesprekke waarvoor ongelukkig nie in dié boek plek is nie.

    Baie van die stukke is geskryf in gastehuiskamers en koffiewinkels en kroeë, soms op ’n selfoon se klein skermpie terwyl ek as joernalis deur die land gereis het om artikels vir tydskrifte en koerante te skryf.

    Ek wou jou boek al uit my bakkie haal, Paul. Dit lê en verniel agter die sitplek tussen die domkrag en die wheel spanner, maar van tyd tot tyd blaai ek maar weer daardeur om myself te herinner aan die teksture van hierdie land wat jy so goed geken het, aan die verganklikheid en die broosheid van dinge, en die onbestendigheid van alles in hierdie tussentyd waarin ons lewe – die lewe buite die hekke van Eden.

    Die lewe wat ek ook op Facebook probeer verken, al is dit hoe voorlopig.

    2.jpg

    uMlungu

    Johannes Bogosi stap by my werkkamer in met ’n swaar frons tussen die oë.

    Hy kom sit op die punt van die ou bal-en-klou-stoel langs my skryftafel. Hy het al die jare by my pa op Ventersdorp gewerk, maar ná Pa se dood het hy en sy vrou, Lettie, en hul seun, Koos, by my op Jacobsbaai kom woon, in die woonstel agterin my erf.

    Vra maar, Johannes, sê ek, want ek weet al hy wil iets vra wanneer hy so kom sit met sy hande vasgeknyp tussen sy kniekoppe. Wat’s dit?

    Kan ons Ouboet se bakkie môre vroeg vat? Ons wil vir ons brille by die trein gaan kry.

    Die hele week al staan daar ’n wit trein, ’n reisende oogkliniek, op ons buurdorp Saldanha se stasie – ’n projek van die departement van gesondheid om mense te help wat dit nie kan bekostig om na ’n oogarts te gaan nie.

    Die volgende oggend donkervroeg skrik ek wakker en hoor daar ry my bakkie. Elf minute oor vier, sê die horlosie op my selfoon. Johannes-hulle het die lig in die voorhuis aan gelos.

    Ek sukkel om weer aan die slaap te raak. Ek sien mense in sinkhutte en HOP-huise wakker word en aantrek en na die trein stap en ry in ou karre. Ek sien mense in ’n ry in die donker wag.

    Iewers tussen nege en tien piep my foon. Dis ’n please-call-me van Johannes af. Ek bel hom. Hulle was gelukkig, hulle was derde in die ry, sê hy. Hulle is op pad terug. Moet hulle vir my die koerant saambring?

    Ek verkies maar steeds die papier van ’n koerant onder my vingers.

    Ek stort, trek aan en gaan sit by die tafel in die voorhuis en lees verder aan die John Berger-boek waarmee ek besig is.

    ’n Ruk later kom my bakkie aangedreun. Ek gaan loer deur ’n skreef in die gordyn. Johannes hou voor die motorhuis stil. Lettie klim eerste uit in daardie rooi, groen en oranje trui met die frilletjiesrige hals wat sy altyd aantrek wanneer hulle dorp toe gaan.

    Hulle het elkeen ’n roomkleurige brilhuisie in die hand. By die agterhekkie haal Johannes sy bril uit en sit dit op. Lettie en Koos doen dit ook.

    Toe hulle by die deur inkom, nuut bebril, sit ek weer by die tafel.

    Oe, Ouboet, sê Lettie. Ons sien nou so lekker.

    Baie lekker, beaam Johannes en lag.

    Koos skakel die lig by die skakelaar langs die deur af en stap deur die vertrek en begin die gordyne voor die vensters een vir een ooptrek. Lig sypel tot in die vertrek se donkerste hoeke. Buite is die see ’n groen kombers op ’n onopgemaakte bed. Johannes tel die leë Coke-blik en halwe pakkie grondboontjies langs die rusbank op waar ek dit gisteraand gelos het.

    Lettie kom staan by my. Wanneer gaan Ouboet weer mall toe? vra sy. Ouboet lyk sleg. Kyk net hoe stukkend is Ouboet se hemp. Kyk net hoe lyk Ouboet se skoene.

    3.jpg

    Avokado: Dag 1

    Kom, Johannes, sê ek. Kom. Jy moet my help. Ek wil hierdie avokado se pit laat groei.

    Ek wys vir hom die avokado – die grootste een wat ek by Checkers op Vredenburg kon kry – wat op die kombuiskas lê.

    Gaan ons hom by die grond plant? vra Johannes.

    Nee, nee, sê ek. Ek sal jou wys. Ons gaan sy pit in ’n botteltjie water laat ontkiem.

    Ek haal ’n skerp mes uit die laai en gee dit vir Johannes. Jy is beter met sulke goed as ek, Johannes, sê ek. Sny hom oop, maar moenie die pit raaksny nie. Ek soek die pit.

    Johannes vat na die avokado, maar hy begin nie sny nie – nog nie. Hoekom wil Ouboet dit doen? vra hy.

    My oorle ma het altyd avokadopitte in ’n botteltjie water aan die groei gekry. Later het sy dit in die grond uitgeplant, dan het dit ’n boom geword. Ek sê mos, Johannes, sê ek. Ek wil hom laat groei.

    Hy vat die avokado in sy een hand vas en laat die messie se lem deur die groen vlees gly, stadig, versigtig, in die rondte.

    Ek het ook ’n bottel agurkies en ’n dosie vuurhoutjies by Checkers gekoop. Ek haal ’n Tupperware-bakkie uit die kas en gooi die agurkies daarin uit. Ek wil net die botteltjie hê. Ma het geglo jy laat ontkiem ’n avokadopit in ’n agurkiebottel.

    Die avokado is nou middeldeur. Johannes trek die twee helftes van mekaar af. In die middel van die een helfte lê die pit.

    Dis ’n mooi, groot pit, hoor ek Ma sê. My ma, wat ek nou in my middeljare, meer as tien jaar ná haar dood, eers deur myself leer verstaan. My ma wat knaend Valiums gedrink het en ook party dae net in die slaapkamer wou bly lê agter toegetrekte gordyne. Op elke dorp waar ons gewoon het, het sy ’n avokadoboom in die tuin agtergelaat.

    Wat nou? vra Johannes.

    Haal nou die pit uit, sê ek. Moet hom net nie seermaak nie.

    Johannes wikkel die pit versigtig uit die holte en hou dit tussen sy duim en wysvinger vas.

    Nou moet ons drie vuurhoutjies in die pit druk, sê ek en trek die dosie vuurhoutjies oop.

    Ons druk die vuurhoutjies in die pit, een vir een, ek en Johannes. Toe gaan hou ek die botteltjie onder die kraan by die wasbak en tap water in totdat die pit se onderkant in die water hang, nes Ma altyd gemaak het.

    Johannes stap saam met my na my skryfkamer toe, op met die trappe. Ek sit die botteltjie op die vensterbank neer waar die middagson val as dit sonskyn is. Buite reën dit saggies.

    Stil staan ons vir ’n paar oomblikke en kyk na die pit wat gekruisig in die water hang.

    Nou hy sal groei, sê Johannes.

    Hy moet, Johannes, sê ek, anders weet ek nie.

    4.jpg

    Tug

    Die skoolhoof hardloop op die foto. Hy dra ’n pak klere en ’n gestreepte hemp, hy trek sy skouers terug en hou sy kop vooroor, asof hy koes vir iets. En hy hardloop.

    Ek het die foto uit die koerant geknip, nou lê dit hier tussen die goed op my skryftafel. Dit was by ’n berig oor kinders wat by die Hoërskool Chris Hani in Khayelitsha naby Kaapstad in opstand gekom het nadat ’n matrikulant glo deur veiligheidswagte geslaan is omdat hy ’n selfoon by hom gehad het.

    Die kinders het, volgens die berig, ook stoele en tafels by klaskamers se vensters uitgegooi en dit aan die brand gesteek.

    Dis van hierdie kinders af wat meneer Madoda Mahlutshana, die skoolhoof, weghardloop in sy pak en sy langpuntskoene. Hy vlug, want party van die kinders gooi hom met klippe.

    Sê nou so iets het gebeur toe ek op skool was?

    Sê maar Beetge, of een van die ander krims in my klas, het weer nonsens aangejaag en daar was veiligheidswagte by ons skool en hulle het vir Beetge geslaan terwyl Kopbeen – meneer Van der Schyff, ons hoof – staan en kyk. Dan, opeens, is ons almal kwaad vir Kopbeen. Ons begin op Kopbeen skreeu en vloek, dan tel een ’n klip op en gooi dit na Kopbeen. Dan hardloop die waardige Kopbeen onwaardig vir ons weg in sy swart pak met die Rapportryerswapentjie wat op die lapel blink terwyl ons klippe na hom gooi. Hy hardloop na sy Mercedes-Benz wat voor die skoolsaal onder die bome staan, maar hy sien dis te laat, want van ons is klaar by die Benz. Ons skop duike in die wieldoppe en gooi die ruite stukkend. Ou Kopbeen hardloop buk-buk onder ons klippe by die skool se hek uit, in die straat af terwyl ons lag en fluit en skreeu, en terughardloop na die skoolgebou.

    Dit is die eerste periode op Maandagoggend en ons gaan nie algebra by tannie Tienie Swanepoel hê nie. Tannie Tienie het haar reeds uit vrees vir ons in die stoortjie agterin haar klaskamer toegesluit.

    Ons hardloop die klaskamer in, tel tannie Tienie se lessenaar op, dra dit by die deur uit en gooi dit oor die stoep se muurtjie. Ons lag en stoot ons arms in die lug terwyl die lessenaar twee verdiepings ondertoe tuimel en langs die vlagpaal in die vierkant val en breek. Ons bring ons stoele en tafels en gooi dit ook ondertoe. Ons ruk tannie Tienie se plakkate vol wiskundige formules van die mure af en steek dit aan die brand. Een trek sy gulp oop en pis in tannie Tienie se boeksak. Ons breek die klaskamer se ruite.

    Ons hardloop met die stoep af, gryp die brandblussers van die mure af en gooi dit ondertoe.

    Ons jaag vir Spyker, die houtwerkonderwyser, by sy klas uit. Een van sy Grasshopper-skoene val af. Ons lag en begin ou Spyker se Grasshopper vir mekaar skop.

    Ek het die foto al deur ’n vergrootglas bekyk en probeer tel hoeveel kinders daarop is. Ek kom tot by honderd ses en dertig, maar daar kan meer wees, want die foto is effens uit fokus. Baie van die kinders lag. Dit lyk of sommige skree.

    Meneer Madoda Mahlutshana se pak is nog nuut, want aan die bokant van die baadjie se linkermou is ’n etiket wat jy eintlik veronderstel is om af te haal wanneer jy die baadjie begin dra.

    Meneer Mahlutshana hardloop in sy nuwe pak met sy bril op die punt van sy neus en skoene waarvan die lang punte in die grond wil vassteek. Hy hardloop oor die ordelike skoolterreine in my geheue, seuns eenkant, meisies anderkant, uit by die hek en deur die grense van my verstaan, met sy baadjiepante flappend agterna.

    5.jpg

    ’n Held van weleer

    Oom Frik du Preez vertel, man, hier op my oudag bel ’n man van ’n garage my. Meneer Du Preez, sê die man. Ons wil u graag borg met ’n bakkie.

    Ek dink: A, nie sleg nie. In my speeldae was daar mos niks van sulke dinge nie. Jirder, ons moes selfs ons kouse en toks self koop.

    Gaan dit my iets kos? vra ek.

    Nee, Meneer, sê hy. Ons wil net ons naam by Meneer se naam op die bakkie hê.

    Nee, nee, sê ek vir hom. Ek soek nie

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1