Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

In die tyd van die gif: ’n Jaar en ’n half in stories
In die tyd van die gif: ’n Jaar en ’n half in stories
In die tyd van die gif: ’n Jaar en ’n half in stories
Ebook284 pages6 hours

In die tyd van die gif: ’n Jaar en ’n half in stories

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Min sou Dana Snyman weet toe hy die Rugbywêreldbeker-eindstryd op Rondomskrik kyk dat die euforie van dié oomblik kortstondig sou wees; dat ons lewens binnekort handomkeer sou verander. Dana verwoord die sonderlinge ervaring van die afgelope agttien maande – van rugbytriomf tot treur en vertwyfeling. Dan kry hy self ook Covid.
Dana se kenmerkende fyn waarneming en deurleefde wysheid maak In die tyd van die gif ’n leesmoet. Daar is pyn en verlies, maar ook geloof en hoop – en ’n goeie blomjaar.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateNov 5, 2021
ISBN9780624090892
In die tyd van die gif: ’n Jaar en ’n half in stories
Author

Dana Snyman

Dana Snyman is op Stellenbosch gebore. Ná 'n kort, onsuksesvolle universiteitsloopbaan, werk hy onder meer as veiligheidswag, skakelbordoperateur, en boekwinkelklerk. Met die genade van Bo beland hy in die joernalistiek, en vandaar word hy een van Suid-Afrika se mees geliefde skrywers. Hy het al talle gewilde en suksesvolle rubrieke, boeke en verhoogstukke neergepen. Wanneer hy nie op reis is nie, woon Dana op Jacobsbaai aan die Weskus.

Read more from Dana Snyman

Related to In die tyd van die gif

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for In die tyd van die gif

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    In die tyd van die gif - Dana Snyman

    9780624089810_FC

    Dana Snyman

    In die tyd van die gif

    ’n Jaar en ’n half in stories

    Tafelberg

    Things are both more trivial than they ever were, and more important than they ever were, and the difference between the trivial and the important doesn’t seem to matter. But the nowness of everything is absolutely wondrous …

    – Dennis Potter

    To be alive is to travel ceaselessly between the real and the imaginary, and mongrel form is about as exact an emblem as I can conceive for the unsolvable mystery at the center of identity.

    – David Shields

    1. Trigger warning

    Jy dink jy weet wie ek is. Jy glo jy ken my.

    Ek het my familie in die Kaapse argief gaan navors. Die stamvader van die Snymans is Christoffel Snijman, sê die dokumente wat al sedert die 1600’s in die Kaap bewaar word.

    Hierdie Christoffel Snijman is die seun van Hans Christoffel Schnijder, ’n Duitse soldaat, en Catharina van Paliacatta, ’n slawevrou. Beide het in Jan van Riebeeck se kasteel gewerk: Schnijder as ’n wag en Catharina van Paliacatta, wat ook as Groot Catrijn bekend gestaan het, as ’n wasvrou.

    Wie sal weet presies hoe het dit gebeur? In die jaar 1668 van onse liewen Heer het Hans Schnijder, die Duitse soldaat, en Groot Catrijn mekaar Bybels beken. Nege maande later, só staan daar geskryf, het Groot Catrijn geboorte geskenk aan ’n seun.

    Die kind, gedoop op 9 Maart 1669 in die Kaap, het een van sy pa se name gekry, Christoffel. En omdat daar ’n Nederlandse administrasie aan die Kaap was, het die Schnijder in dokumente Snijman geword. Christoffel Snijman.

    Ja, die heel eerste Snyman was nie wit nie. Christoffel Snijman was ’n bruin man. Groot Catrijn was donker van gelaat, ’n vrou van Indiese afkoms.

    Op die ouderdom van 21 is Christoffel getroud met Margot de Savoye, wat saam met haar ouers uit die provinsie Gent in Vlaandere in die Kaap aangekom het. Christoffel koop ’n plaas naby die hedendaagse Franschhoek, en hy en Margot het nege kinders wat klink of hulle my niggies en nefies kon gewees het: Jacobus, Catharina, Maria, Christina, Elsje, Johanna, Philippus, Susanna, Elisabeth.

    Dit is byna soos daardie lang, vervelige gedeeltes in die Bybel: Philippus is getroud met Johanna Margaretha van Deventer, en sy het ’n seun gebaar en hulle het hom Jacobus genoem. So het die een geslag ná die ander gekom, deur oorgrootjie Coenraad Frederik Wilhelmus Snyman, wat op die Groot Trek was, deur oupa en deur oorlede Pa, tot by my.

    En almal van hulle het Afrikaans gepraat, of die bastertaal, die Nederlands en die Duits, die Frans, en Margot de Savoye se Vlaams en Groot Catrijn se Maleis en Portugees, die Khoi en seemanspraat en kombuispraat, wat op mense se tonge vermeng en Afrikaans begin word het. Die taal waarin Hendrik Biebouw een oggend aangeklam vir die landdros op Stellenbosch geskreeu het: Ik wil niet lopen. Ik ben een Afrikaander. In 1707.

    And now you want to tell me I’m a European and Afrikaans is not an indigenous language.

    Daar is nie slegs een Afrikaans nie, soos op ’n Slegs Blankes-bordjie op ’n hortjiesbank op Kerkplein in Pretoria in 1969. Afrikaans is geweerskote in Sharpeville in 1960 en in Soweto in 1976. Maar Afrikaans is ook Madiba wat Ingrid Jonker se Die Kind in die parlement voorlees en die Belydenis van Belhar en ’n Hertzogprys vir Adam Small, al was dit jare te laat.

    Afrikaans is Kaaps en Garieps, Vrystaats, Pretôriaans en die gebalk van ’n donkie laatmiddag in Prieska se dorpskamp. ’n Taal is nie net vir praat en skryf nie. Afrikaans is gesmee en gelouter tot ’n omvormingstaal, soos Breyten sê.

    Everything I am is connected to Afrikaans and to Africa. Even the donkeys and the stones speak Afrikaans to me.

    Ik wil niet lopen. Ek is hiervandaan.

    2. In Rondomskrik

    "These guys want it because they want to grow the

    game of rugby. We want to do it because we want to

    save our fucking country."

    – Rassie Erasmus

    Kort voor die afskop piep my selfoon. Dis ’n WhatsApp-boodskap van ’n vriend wat beweer Siener van Rensburg het glo in 1902 ’n visioen gehad dat die Springbokke die Engelse gaan klop en die eindstryd van die Wêreldbekertoernooi gaan wen. Vandag, 2 November 2019.

    En in die ooste sal jy op grasgroen weivelde seëvierend ’n oorwinningslied sing, het die oubaas glo gesê, en ons sal lewende water drink uit ’n Goue Graal.

    Eers wil ek lag. Dis beslis fopnuus, geskryf deur iemand met ’n goeie humorsin, maar iets in my wil dit graag glo. Oom Niklaas, die ou Siener, het immers teen die Kakies in die Anglo-Boereoorlog geveg.

    Soos vir soveel ander gaan dit vir my vandag oor meer as rugby. Dis Boer teen Brit. Dit gaan oor ou pyn en hoop vir hierdie stukkende land van ons.

    Ek staan in The Green Prince Gin Bar op Prins Albert in die Karoo en die kroegman het pas vir my gevra: Pienk tonic, Meneer? Of gewone tonic? Ek is op die dorp vir die jaarlikse Leesfees, maar genadiglik is die letterkunde nie bestand teen die geleefde werklikheid nie. Nou gaan ons eers rugby kyk.

    Hier in The Green Prince gaan dit soos dit gaan in ’n kroeg waar jy ’n pienk tonic in jou gin kan kry en waar Johnnie Walker Blue op die rak is. Stemmig. Maar oral sien jy die Bok-ondersteunerstruie.

    In die vertrek langsaan is ’n grootskerm-TV. Gelukkig is daar nog vir my en Erna elkeen ’n stoel. Die spelers stap op die veld. Die Ajinomoto-stadion in Tokio is vol mense en lawaai. Hier in The Green Prince is dit asof niemand te hard wil praat nie, byna soos voor ’n kerkdiens begin.

    To post-religious people whose lives are submerged in chronos, who feel themselves dying while they are living, it provides the experience of time given meaning – which one might call a low-level experience of transcendence – often enough to make Saturday afternoon more significant than Sunday morning, skryf J.M. Coetzee in ’n essay oor rugby wat ek vroeër in die week gelees het. Yskoue Coetzee.

    Die Engelse sing hul volkslied, God Save the Queen, wat ons ouers in die jare veertig gedwing is om in filmteaters en ander openbare plekke te sing. En toe … Dit gebeur net: Jou bene staan met jou lyf op en jy begin sing: Nkosi Sikelel’ … Al mompel jy hier aan die begin steeds oor party van die Xhosa-woorde en voel dit vreemd om ’n gedeelte van Die Stem in Engels te sing.

    Terwyl jy sing, besef jy jy is nou deel van iets groters: Op hoeveel ander plekke in die land, in kroeë en in huise en by ’n rugbyklub, op Springbok en Pongola, Soekmekaar en in PE, is nou mense met presies dieselfde wense as jy. Baie van hulle net so bang soos jy dat Faf de Klerk weer knaend daardie hoë skoppe van hom skop.

    Gou kry ons ’n strafskop. Pollard skop mis en ek begin wonder of dit die regte ding was om vir pienk tonic by my gin te vra. Maar nie lank daarna nie, met die Bokke knaend op die aanval, skop Pollard ’n strafskop oor, en ek dink: As hierdie die Boereoorlog was, is dit nou soos die Beleg van Ladysmith. Ons 3, hulle 0.

    Halftyd, met die telling 12 vir ons en 6 vir hulle, wonder ons hoe dit aan die ander kant van die dorp gaan. Ons klim in die bakkie en ry in die N1 se rigting na die dorp se township toe.

    Al het ’95 se Wêreldbeker reeds bewys dit is nié so nie, wil die twyfelaar in my steeds nie glo rugby laat swart en bruin mense ook saam hoop vir iets beters in die land nie.

    North End, beduie die bordjie. Die straat skommel tussen lae huisies in. Min mense op die sypaadjies. In die vroeë 1960’s is die grootdorp se bruin inwoners hier na Noordeinde verskuif toe die stadsraad die Groepsgebiedewet afgedwing het.

    Ons hou by ’n vrou stil en vra of sy weet waar die mense rugby kyk.

    Hulle’s by Piet Klak se tavern, Meneer. Sy beduie in die rigting van nog sulke lae huisies teen die heuwel. Daar in Rondomskrik.

    Rondomskrik? Is dít die plek se naam?

    Dis wat ons hom noem.

    Rondomskrik? Dit kan maklik ’n ander naam vir ons land wees.

    Ons kry die taverne taamlik maklik: ’n Sementsteengeboutjie met ’n dak vol geroeste sinkplate: Clarke’s Inn.

    Hulle sit die plek vol, in die vensterbanke en op leë bierkiste en stoele rondom die pooltafel. Oral sien jy die Bok-ondersteunerstruie – die goedkoper China shop-weergawe. In die hoek is ’n kleinskerm-TV op ’n houtrakkie. Daar is probleme met die TV se klank. Dit klink of Joel Stransky en die ander ou wat uitsaai, begin hakkel het. Dit blaas en suis.

    Die plek behoort eintlik aan Isadore Clarke, Piet Clarke se seun. Hier kan jy net tussen twee drankies kies: ’n Black Label-quart of ’n Brutal Fruit-quart. Louwarm.

    Wag net, wag. Isadore draf na sy huis langsaan en kom terug met twee van sy kombuisstoele vir ons. Ons gaan sit. Die spel is weer aan die gang. Steeds wil dit nie ’n rugbywedstryd wees nie. Dit is iets emosioneels, ’n ervaring tussen mense, mense anders as jy, wat dieselfde drome het as jy: werk, ’n goeie regering, rolmodelle. Intussen raak die TV se klank al swakker en Faf de Klerk skop weer knaend hoog, met wisselende sukses.

    Klank! roep iemand. Klank!

    Isadore gaan peuter aan die TV, dan is die klank heeltemal weg.

    Die laaste twintig-plus minute kyk ons sonder klank, maar dit is asof dit presies só moet wees. Stemme wat ons deur die wedstryd dra, die stemme rondom ons: Hou, Bokke, hou! Hou, Bokke, hou! Later ook my eie en Erna se stemme wat bykom: Hou, Bokke, hou!

    Ons kry ’n strafskop teen ons.

    Jou ma se p …! gil ’n maer outjie van ’n bierkrat af in die skeidsregter se rigting.

    Nee, Jerome, man, skreeu iemand hom dood. Hier’s mense, kan jy nie sien nie?!

    Maar hierdie ref moenie met sy kroekery begin nie.

    Hierdie het nou weinig met ’n stryd tussen Boer en Brit te doen. Dit gaan nou oor ons, Suid-Afrikaners, ons met ons elf amptelike tale en hoeveel verskillende bevolkingsgroepe. Ons dra almal op verskillende maniere swaar aan ou pyn. Ons hier in Clarke’s Inn en in The Green Prince Gin Bar en oral waar nou rugby gekyk word, of nie rugby gekyk word nie.

    Op die TV se skerm, kort voor die eindfluitjie blaas, is Rassie Erasmus, ons afrigter, op die pawiljoen.

    Check daar, Rassie lyk soos ’n pilot! sê iemand.

    Rassie Erasmus, ons afrigter, lyk nogal soos ’n vlieënier met daardie kopstuk met die oorfone en mikrofoon waarmee hy met sy helpers langs die veld kommunikeer.

    En dan, ai tog, skop Faf die bal weer hoog die lug in, maar hierdie keer wen ons die bal terug en kort daarna gaan druk Makazole Mapimpi ’n drie. Ons is ’n nasie van Lotto-spelers en miskien is dit wat Faf se skoppe weerspieël. Daardie skop was soos al ses nommers korrek op ’n Lotto-kaartjie.

    Daarna gaan druk Cheslin Kolbe ook. Ons gaan wen, ons weet nou ons gaan wen, maar ons weet ook hoe dit is as ’n droom sterf, daarom hou ons aan met dreunsing tot Clarke’s Inn se sinkdak vibreer: Hou, Bokke, hou! Hou, Bokke, hou!

    J.M. Coetzee – hy het Australië toe geëmigreer – het as kind vir ’n ruk saam met sy ma en broer hier op Prins Albert gewoon. Hy was glo taamlik onlangs op die dorp toe hy die land besoek het. Hy sal weet hoe die mense in ’62 verskuif en hul huise in die grootdorp platgestoot is – die oupas en oumas van party van dié wat nou hier staan en roep: Hou, Bokke, hou! Hou, Bokke, hou!

    As J.M. Coetzee nou hier in Clarke’s Inn kon wees, sou hy steeds gedink het wat vandag gebeur, sal teen Maandag verby wees?

    Natuurlik sal al die gewelddadiges, die korruptes, die gieriges môre steeds met ons wees, die bekrompenes en die banges vir iets oper en genadiger tussen ons. Maar miskien het almal in die land wat dit nié wil wees nie, vandag weer besef hoeveel ons gemeen het.

    Dan blaas die eindfluitjie. Suid-Afrika 32, Engeland 12. Stemme rondom ons en lywe wat my vasdruk, Erna en die outjie wat die skeidsregter gevloek het en nog ander; en Rassie op die skerm, ons vlieënier op pad met ons na ’n bestemming waar ons wil wees, weg van hierdie republiek van Rondomskrik.

    3. Somer

    Dit was die somer toe ons president steeds nie alles kon doen wat ons wou hê hy moet doen nie: Laat smyt die korruptes en staatskapers in die tronk. Dank die lakses en luies af.

    Die somer toe die moordenaars steeds gemoor en die verkragters steeds verkrag het, toe daar weer beurtkrag en droë krane was en byna nie een trein meer betyds geloop het nie. Die somer toe baie steeds gesê het: Bring die doodstraf terug. Dit sal die klomp moordenaars en verkragters afskrik.

    Die somer toe ons vir die eerste keer verneem het van die virus, ’n dodelike koronavirus, wat in China ontstaan het en moontlik na ander lande kon versprei – ook glo hiernatoe.

    Die somer ná die winter toe Piet Botha dood is en Karel Schoeman steeds dood was.

    Die somer toe nóg mense Nieu-Seeland toe geëmigreer het, nóg Kanada toe, nóg na Steyn City in Gauteng. Toe daar steeds sprake was dat pres. Paul Kruger se standbeeld van Kerkplein in Pretoria af verskuif gaan word en die gemors in die land vir party steeds alles Jan van Riebeeck se skuld was.

    Die somer toe sommige van ons weer in dr. Verwoerd se wit droom wou woon, kompleet met Die Stem wat gesing word laataand by ’n Steve Hofmeyr-konsert. Toe party steeds gesê het ons moet die verlede vergeet en steeds soms gewroeg het oor F.W. de Klerk se 1992-referendum: Het jy ja of nee gestem? Die jaar toe dit onwettig geword het om die ou Suid-Afrikaanse vlag ten toon te stel en toe party ouens hul DStv-dekodeerders laat afskakel het nadat iets vreesliks by die Ghoemapryse gebeur het, maar ons ’n week later skoon vergeet het waaroor dit gegaan het.

    Die somer toe derduisende mense by die ImStaying-Facebook-groep aangesluit en vir mekaar begin vertel het van die goeie dinge wat ander vir hulle doen en hoekom hulle in Suid-Afrika wil bly woon.

    Die somer toe dit meer aanvaarbaar geword het om te vloek nadat ’n meisie van Windhoek met ’n fiets in ’n rugbypaal vasgery het terwyl haar ma dit met haar selfoonkamera afneem en sê: My fok, Marelize – en die video daarvan deur naby ’n miljoen mense gekyk is.

    Die somer toe – o, skakel weer daardie dekodeerder aan – die Springbokke die Wêreldbekertoernooi in Japan gewen het en party van ons ’n bietjie minder soos setlaars in die land laat voel het, en dit was asof sterwende woorde weer nuwe asem kry: Saamstaan. Samesyn. Welwillendheid.

    4. Hou die kruit droog

    Johannes Bakkes wys na die hoë stoeltjie langs hom in die Klapmuts Hotel se kroeg. Sit, Boeta, sê hy. Wat drink jy? Whiskey? Brandewyn? Bier?

    Die koperarmbande om sy pols rinkel toe hy die kroegman nader roep. Bring vir hierdie man ’n Black Label, oom Japie. Ek drink deesdae ook maar bier. Ons word oud.

    Ons lig ons botteltjies: ’n Black Label op die lewe.

    Voor hom op die toonbank lê ’n kromsteelpyp, ’n tabaksak en ’n groen Bic-aansteker. So, waarheen is jy op pad? vra hy.

    Pretoria toe. Excelsior toe. Eintlik orals toe. Behalwe Witbank.

    Nee, man, Witbank is nie so shit nie. Ek’t lank terug ’n tatoe op Witbank gekry. Ons het daar ge-oudit, toe kry ek vir my ’n tatoe daar. Hy knoop sy hemp los en laat sak die hemp se kraag oor sy regterskouer. En daar is dit: Op sy skouer wapper ’n klein Vierkleur, vlag van die ou Transvaalse Republiek in die tyd van pres. Paul Kruger.

    Hy knoop die hemp weer toe. Ek wil ook weer wegkom, Boeta. Hierie keer, dink ek, wil ek na die vuilste plek op aarde gaan soek. Dis glo in Bangladesj. Dis blykbaar verskriklik fokken vuil daar. Maar dalk is Marble Hall of Sannieshof of Volksrust net so vuil.

    Hy tel die kromsteelpyp voor hom op, druk dit kop eerste in die tabaksak en begin dit met sy duim volstop. Die armbande rinkel weer. Die eerste een het hy jare gelede in die Transkei by ’n vrou vir ’n blikkie boeliebief en ander goed geruil.

    Ek het al gedink: Miskien moet ek ook maar emigreer. Hy vat na die Bic-aansteker. My eie persoonlike suster sit in Kanada. Ek het familie in Australië.

    Het jy al van Hendrik Biebouw gehoor? vra ek.

    Nee, wie’s dit?

    So ’n ander dronkgat. Jy laat my aan hom dink.

    Hy druk die pyp in sy mond, glip sy duim oor die Bic se wieletjie, en dan is daar ’n vlammetjie. Hy hou dit bokant die pyp, en dan is die geur van tabak die kroeg vol.

    Ruik jy dit? Hy waai die rook voor sy gesig weg. Boxer.

    Hy is die laaste wit man in die Paarl wat nog na die Duitse sanger Heino se musiek luister. Hy is ’n professor in ouditkunde aan die Universiteit van Wes-Kaapland en het al agt boeke oor sy reise en avonture geskryf. In sy jong dae het hy ’n vertoning van die kaaldanseres Glenda Kemp bygewoon. Hy was ’n diaken in die Hervormde Kerk en ’n kaptein in die weermag. Soms neem hy vir Pop saam op sy reise – ’n winkelpop wat hy by Edgars op Zeerust gekoop het een oggend toe hy op pad was Botswana toe.

    Hy het nee in F.W. de Klerk se 1992-referendum gestem, maar leef asof hy ja gestem het. Hy praat met die liefde van ’n pa oor sy studente: Hulle sit voor my. Nie almal het ma’s of pa’s nie. Min het geld of kos. Party bly in ’n koshuis genaamd Cassinga, maar hulle stel nie belang waar die naam vandaan kom nie. Hulle wil studeer. Hoe lekker dit vir hom is wanneer die studente graad vang, die Xhosa- en Zoeloe-ma’s jillend by die gradeplegtigheid.

    Hierdie is my stamkafee. Hy kyk deur die kroeg of hy wil seker maak alles is nog hier: oom Japie, die kroegman, die koponderstebo-bottels aan die rak, die verbleikte foto van ’n meisie in ’n bikini teen die muur.

    "Ek verlang na Piet

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1