Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

'n Baie lang brief aan my dogter
'n Baie lang brief aan my dogter
'n Baie lang brief aan my dogter
Ebook402 pages9 hours

'n Baie lang brief aan my dogter

Rating: 5 out of 5 stars

5/5

()

Read preview

About this ebook

’n Baie lang brief aan my dogter is Marita van der Vyver, een van Afrikaans se mees geliefde skrywers, se ontroerende jeugmemoires. Dit is 'n speurtog deur die skrywer se beginjare, maar dit is ook ’n liefdesbrief aan ’n dogter en ’n taal en ’n land. En bowenal is dit ’n ma se poging om sin te maak van hierdie onverskillige en wrede wêreld waarin sy haar nou begewe.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateMar 16, 2021
ISBN9780624090021
'n Baie lang brief aan my dogter
Author

Marita van der Vyver

Marita van der Vyver het drie romans vir jonger lesers geskryf voor haar eerste volwasse roman, Griet skryf ’n sprokie, die literêre landskap verander het. Sedertdien is sy ’n voltydse skrywer met vele topverkopers agter haar naam, soos ​Dis koue kos, skat​, ​Die dinge van ’n kind ​en ​Griet kom weer. Sy woon in Frankryk.

Read more from Marita Van Der Vyver

Related to 'n Baie lang brief aan my dogter

Related ebooks

Related articles

Reviews for 'n Baie lang brief aan my dogter

Rating: 5 out of 5 stars
5/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    'n Baie lang brief aan my dogter - Marita van der Vyver

    9780624089810_FC

    ’n Baie lang

    brief aan

    my dogter

    Marita van

    der Vyver

    TAFELBERG

    Ter nagedagtenis aan Harry Kalmer en Ryk Hattingh

    omdat hulle vroegtydige vertrek my herinner het

    dat daar nog dinge is wat ek moet sê voor dit te laat is

    What’s past is prologue.

    – William Shakespeare, The Tempest

    1

    MY LIEFSTE DOGTER

    Eintlik behoort ek hierdie brief in Frans te skryf, maar ’n tweede of derde taal sal altyd ’n taal van die verstand eerder as die hart wees. En wanneer ’n ma haar eie storie vir haar dogter wil vertel, moet sy dit in die taal van haar hart doen.

    Dis ’n dilemma, hierdie ding van tussen tale lewe, wat sekerlik gedeel word deur baie Afrikaanse ouers wat deesdae soos Van Wyk Louw se pluimsaad tot in verre lande gewaai is. (En die feit dat ons kinders nie eens meer weet wie N.P. van Wyk Louw was nie, is deel van die dilemma.) Soveel van ons het kinders wat in ander tale skryf en lees en droom. Selfs Afrikaanse ouers wat steeds in Suid-Afrika woon, het die afgelope dekades anderstalige kinders grootgemaak.

    Toe ek teen die einde van die jare sewentig jou ouderdom was, twintig en aan die vooraand van my volwasse lewe, het ek nooit kon droom dat ek veertig jaar later in Frankryk sou woon en ’n Franse dogter sou hê nie. Ek het weliswaar verspotte dagdrome gehad oor ’n dakkamer in Parys, selfs daaroor geskryf in een van my vroeë romans, Die dinge van ’n kind, met ’n tienderjarige hoofkarakter wat vertel waarom sy eendag in so ’n begeerlike dakkamer wil woon:

    Om baie boeke te lees, terwyl ek lang Franse brode eet en goedkoop Franse wyn drink en sterk Franse sigarette rook. En wanneer ek nie lees nie, sal ek romantiese Afrikaanse gedigte skryf wat ek met groot gevoel sal voordra aan dodelik aantreklike Franse mans met sulke swart oë en sulke hol wange, wat natuurlik nie ’n woord daarvan sal verstaan nie …

    Ek het toe nooit daardie dakkamer in Parys gekry nie, maar darem ’n kliphuis in Provence. Ook nie ’n Fransman met swart oë en hol wange nie, maar een met blou oë en ’n kuiltjie in die ken. Wat steeds nie ’n woord verstaan van enigiets wat ek in my ma se taal skryf nie. Hoewel ek lankal ophou droom het oor gedigte skryf, het ek die afgelope veertig jaar omtrent alles anders geskryf wat jy in Afrikaans kan skryf, van kinderboeke en kosboeke en koerantrubrieke en kortverhale tot radiodramas en romans.

    Wat ek wel reggekry het, was om baie Franse brood te eet en goedkoop wyn te drink en sterk sigarette te rook.

    Dis darem iets.

    Ons jeugdrome word nooit werklik waar nie, altans nie wanneer en waar en hóé ons dit wil hê nie, en daarvoor moet ons seker dankbaar wees. Maar soms is ons gelukkig genoeg dat sulke stukkies droom op allerhande verdraaide maniere ons alledaagse werklikheid word. Dis wat met my gebeur het – hoewel ’n Franse dogter nooit deel van selfs my wildste drome was nie.

    O, ek wou graag ’n dogter hê, van so lank terug as wat ek kan onthou, maar dit het net nooit by my opgekom dat sy in ’n ander taal as ek sou lewe nie.

    Dis nie dat ek nie ’n seun óók wou hê nie. In my onbesonne jeug het ek gedog dit sou heerlik wees om sommer ’n halfdosyn kinders te hê, meisies én seuns. Dit was natuurlik toe ek gedog het ek sou hulle in Suid-Afrika grootmaak, met familie in die omtrek om hulle op te pas en ’n huishulp om die chaos op te ruim wat so ’n spul kinders sou veroorsaak, terwyl ek soos ’n welgestelde Victoriaanse lady op ’n chaise longue lê en krabbel aan my volgende boek.

    En toe beland ek in die tweede helfte van my lewe in Frankryk, met ’n aangelapte gesin van vier kinders, sonder enige Afrikaanse óf Franse familie wat na genoeg aan my woon om die kinders te help oppas. En huishulpe was eenvoudig onbekostigbaar in hierdie nuwe lewe. Dís toe ek dankbaar geword het dat die dagdrome van jou jeug nie altyd waar word nie. Vier kinders was reeds meer as wat ek soms kon hanteer terwyl ek in ’n rumoerige, slordige huis probeer skryf. Nóg twee sou my oor die afgrond na wanhoop gestoot het.

    Of dis wat ek gedog het. Toe jy klein was, het ek vir jou die Afrikaanse gesegde geleer van ou Dog wat ’n veer geplant het en toe dog hy daar gaan ’n hoender opkom. Dit was vir jou baie snaaks, en nog snaakser toe ek dit in Frans vertaal het, want die Franse het nie ’n soortgelyke gesegde nie. Dalk is jou Afrikaanse voorgeslagte maar net meer doggerige mense as die rasionele Franse wat die ander helfte van jou genetiese agtergrond vorm.

    Noudat al vier kinders uit die huis is en ek vir die eerste keer in dekades in algehele stilte en afsondering kan skryf (in ’n huis wat helaas nooit netjies gaan wees nie, dit weet ek nou, en ek kan nie eens meer die kinders blameer nie), verlang ek nogal na die wanorde van so ’n spul siele saam onder een dak. En as daar nóg twee was, sou ons op die een of ander manier vir hulle ook plek gemaak het. Dit weet ek ook nou.

    Maar ek is nogtans dankbaar dat dit nie nodig was nie.

    My lewenslange smagting na ’n dogter het vermoedelik iets te doen met ’n instinktiewe soort feminisme, want lank voordat ek daardie f-woord die eerste keer gehoor het, het ek geweet iets is verkeerd in ’n wêreld waar die helfte van die mensdom laer geag word as die ander helfte. Ek was van jongs af ontstig omdat soveel ouers oral op aarde eerder seuns as dogters wou hê, omdat koninginne in die geskiedenis letterlik hulle kop verloor het wanneer hulle nie ’n seun in die lewe kon bring nie, omdat dogtertjie-babas in my eie leeftyd vermoor of weggegee is in lande soos China waar ouers verbied is om meer as een kind te hê, omdat ek selfs in my klein Afrikaanse wêreldjie kon sien dat pa’s meestal trotser en blyer is wanneer ’n seun gebore word as wanneer dit net ’n meisie is.

    Dalk was dit net omdat ek van altyd af die buiteperd se kant gekies het. In enige sportwedstryd sou ek die span of die deelnemer aanmoedig wat die kleinste kans het om te wen. En in die wêreld waar ek grootgeword het, was dit vroeg reeds duidelik dat meisies die buiteperde is.

    Júis omdat soveel mense nie dogters wou hê nie, wou ek verskriklik graag ’n meisiekind hê. Asof één mens wat met haar hele hart ’n dogter begeer, kon vergoed vir miljoene mense se minagting of geringskatting.

    Simone de Beauvoir het gesê jy word nie as ’n vrou gebore nie, jy word ’n vrou. Dis vandag nog net so waar soos sewentig jaar gelede toe sy Le deuxième sexe geskryf het, of soos veertig jaar gelede toe ek die Engelse vertaling, The Second Sex, gelees het. Om aan die begin van die 21ste eeu ’n jong vrou te wees, is steeds nie dieselfde as om ’n jong man te wees nie. En in heeltemal te veel lande is die verskil tussen wat mans mag doen en wat vroue mag doen nog altyd ’n onoorbrugbare kloof.

    Dís waarom ek jou wou hê, my liewe dogter, en dís waarom ek nou aan jou skryf.

    Jy het laat in my lewe opgedaag, toe ek eintlik al ophou droom het oor ’n dogter. En as mens lank moet wag vir ’n geskenk, waardeer jy dit natuurlik net nog meer.

    Vóór jou het ek twee seuns in die lewe gebring, en vir hulle koester ek albei ’n liefde sonder grense. Anderkant die grens van die dood, in die geval van jou oudste halfboetie, Ian, wat gesterf het toe hy tien maande oud was. En toe kom jou volgende halfboetie, Daniel, en red my uit die dal van doodskaduwee; gee my letterlik weer die moed om voort te gaan met die lewe nadat ek begin twyfel het of ek dit kan doen.

    Ian se pa was ’n Afrikaanse man met ’n Engelse van, David Bishop; Daniel se pa is ’n Engelse man met ’n Franse van, Sean Fourie; en jy het ’n Franse pa met ’n van wat oorspronklik Vlaams was, Alain Claisse. Wanneer ek myself beskryf as ’n vrou wat drie kinders by drie mans gehad het, klink ek vir my soos ’n sletterige sukkelaar uit ’n storieboek. Wanneer ek byvoeg dat elke man uit ’n ander kulturele agtergrond kom, almal met verskillende paspoorte, wonder ek of dit my wild en waaghalsig laat klink – ’n vreeslose, bevryde soort vrou soos Madame de Staël wat vyf kinders by vier mans gehad het sonder om ooit op te hou om boeke te skryf of bombastiese mans te irriteer.

    In my jong dae, lank voordat ek dié formidabele Frans-Switserse vrou se biografie gelees het, het ek ’n aanhaling gehoor wat glo uit haar mond gekom het: Om alles te verstaan, is om alles te vergewe. Dit het vir my soos ’n manjifieke lewensleuse geklink en ek wou dadelik meer weet van die vrou wat só ’n wysheid kon kwytraak.

    Later het ek vasgestel dat die woorde toegeskryf word aan Madame de Staël, maar dat dit nêrens presies so in haar vele geskrifte te vinde is nie. Wat sy wel in een van haar romans, Corinne, geskryf het, is:

    Om alles te verstaan, maak ’n mens baie verdraagsaam, en om diep gevoelig te wees, inspireer groot bedagsaamheid. (Tout comprendre rend très indulgent, et sentir profondément inspire une grande bontée.)

    Wat steeds ’n besielende lewensbeskouing is, dink jy nie ook so nie?

    Ondanks my bewondering vir Madame de Staël se politieke en persoonlike waagmoed, het ek myself egter nog altyd as ’n bietjie bang en beskroomd beskou.

    Ek het beslis nie in my jeugjare beplan om so ’n veeltalige en multikulturele liefdeslewe te hê nie.

    Die lewe het eenvoudig met my gebeur terwyl ek oor ander dinge gedroom het, om John Lennon se bekende frase ’n bietjie te verdraai. Maar ek hét gedroom, van jongs af, en dalk begin alle dapperheid en waagmoed juis by die onmoontlike dinge waaroor ons droom?

    Sommige van my jeugdrome was so vergesog dat ek dit nie eens met my beste maats of my familie kon deel nie. Ek het byvoorbeeld gedroom dat ek eendag boeke sou skryf wat literêre pryse wen en lesers op ander maniere na die wêreld laat kyk.

    Dis nie die soort ding wat ’n skaam kind uit ’n Afrikaanse middelklasfamilie – wat skaars ’n geslag vroeër nog werkersklas was – ooit hardop kon sê sonder om simpel te voel nie. Daar was geen skrywers of kunstenaars in ons familie, of selfs onder die familie se vriende nie. Daar was geen hoër onderwys nie. Ek was die oudste kind én kleinkind, die eerste een aan Ma én Pa se kant wat ooit reguit ná skool universiteit toe is.

    Pa wou graag gaan studeer, maar sy pa, wat ’n polisieman was, het besluit daar is nie geld vir universiteit nie, behalwe as hy ’n dominee wou word. In daardie geval sou die Here voorsien. Vir studie in enige ander rigting kon jy skynbaar nie op die Here staatmaak nie. My pa was ’n gebore verkoopsman, maar hy het homself nooit op ’n kansel voorgestel, besig om God se Woord aan ’n gemeente te verkwansel nie. Hy wou handel en ekonomie studeer, leer hoe om met geld te woeker, hoe om huise en karre en tasbare goeters eerder as abstrakte idees te verkoop.

    Dus het hy ná matriek by ’n bank gaan werk en jare lank deeltyds gestudeer, saans klasse bygewoon en soms dwarsdeur die nag sit en leer, tot hy eindelik ’n handelsgraad aan die Universiteit van Stellenbosch verwerf het toe hy al ’n pa van drie kinders was. Ek was by die gradeplegtigheid in die Stellenbosse stadsaal, maar al wat ek daarvan onthou, is die bewerige bewegende beelde op die 8 mm-filmpie wat Pa en Ma in die straat voor die stadsaal geneem het.

    Ma in ’n marshmallow-pienk pakkie, met so ’n ronde hoedjie in presies dieselfde skakering pienk agter op haar kop geplak, bo-oor ’n hoë bolla. Blykbaar ’n styl wat in die jare sestig as baie sjiek beskou is, kyk maar na ou foto’s van prinses Grace van Monaco. Ek in ’n vlootblou rokkie met wit sokkies tot by my maer knieë en ’n wit hoed wat soos ’n enorme Paaseier op my kop balanseer. Oupa Willie, wat toe al ’n afgetrede poliesman was en hopelik tog trots op sy seun wat nie ’n dominee wou word nie, in sy kerkpak en ouma Hannah in ’n crimplene-kerkrok. Pa, spoggerig ingenome in sy gehuurde swart toga (die naaste wat hy ooit aan dominee-drag sou kom), hou sy kosbare graadsertifikaat opgerol in sy een hand vas en tik-tik aanhoudend daarmee teen die palm van sy ander hand. Dalk het hy bloot nie geweet wat om op so ’n groot oomblik met sy hande te doen nie, soos die meeste van ons destyds wanneer ons afgeneem is. Dit was voordat ons begin het om ons hele lewe voor kameralense en op selfoonskerms te lewe.

    Wat my vandag tref wanneer ek weer na die filmpie kyk, is dat die vroue almal hoede dra, en dat die glimlaggende mense op die agtergrond, al die nuut gegradueerdes en hulle families, almal wit is. En hoewel daar nie klank in Pa se outydse home movie is nie, net so ’n gesuis wat vir my klink soos dit wat ons bedoel wanneer ons praat van tyd wat vlieg, kan ek die mense se lippe sien beweeg. Ek is seker hulle praat almal Afrikaans. Dit was Stellenbosch in die middel van die jare sestig. So wit soos sonde, so Afrikaans soos kan kom.

    Hoe sal ek ooit daardie tyd en daardie plek vir jou, my Franse dogter, kan verduidelik?

    Jy lewe in die era van Black Lives Matter, en hoewel baie wit mense steeds wil terugkap met slagspreuke soos All Lives Matter, hoef jy net na die familiefoto’s en -films uit my jeug te kyk om te sién dat slegs wit lewens saak gemaak het. Dis ’n wêreldwye werklikheid wat deur eeue van slawerny en kolonialisme veroorsaak is, en in my eie leeftyd, in my eie land, boonop deur dekades van apartheid vererger is. Om nou te beweer dat die onregte van die verlede alles verby is en dat wit en swart lewens dus ewe belangrik geag word, is net so onwaar in Suid-Afrika as in Amerika.

    Of selfs in Frankryk, soos jy weet.

    Ek voel oor die Black Lives Matter-beweging soos oor Vrouedag. Ek wens, ek wens ek het in ’n wêreld gelewe waar dit nie nodig was om die mensdom se aandag te vestig op één groep wat geskiedkundig benadeel is nie. Maar indien enige mansvriend so aspris sou wees om te vra waarom vier ons ’n Vrouedag en nie ook ’n Mansdag nie, is die antwoord dat daar reeds meer as 360 mansdae in elke jaar is. Daarom bly dit noodsaaklik om minstens één Vrouedag te hê – of twee, as ons die internasionale Vrouedag op 8 Maart én die Suid-Afrikaanse Vrouedag op 9 Augustus kan vier.

    Hoewel vroue baie meer regte as voorheen het, is die historiese agterstand nog lank nie uitgewis nie. Dieselfde argument geld die BLM-beweging. Dit gaan nog baie lank nodig bly om wit mense bewus te maak van die probleem – sonder dat ons verontwaardig of verontskuldigend reageer.

    Intussen is my enigste troos dat dinge darem in my klein wêreldjie verander het. Jou oudste broer se lewensmaat is swart, niemand in ons gesin bevraagteken Black Lives Matter nie. Ek het lankal aanvaar dat ek nie die hele wye wêreld kan verander nie, maar ek kan my kinders anders grootmaak as wat ek grootgemaak is.

    Wat nie beteken dat ek alles versmaai wat my ouers my geleer het nie.

    Inteendeel.

    Pa het my geleer om hard te werk (en hard te speel) en om altyd weer op te staan, maak nie saak hoeveel keer die noodlot jou voete onder jou uitruk nie. Hy was diep onder die indruk van Norman Vincent Peale se selfhelpgids The Power of Positive Thinking, wat in die jare vyftig ’n wêreldwye blitsverkoper was. Reeds as kind het ek my oë gerol wanneer Pa begin preek uit hierdie kapitalistiese bybel, geskryf deur ’n Protestantse pastoor, en vandag is ek so skepties oor Peale as oor Billy Graham en ander evangeliese predikers wat met godsdiens smous om ryk te word. Tog weet ek Pa se geloof in ’n positiewe denkwyse het hom aangespoor om lewenslank vooruit te strewe, harder te werk, verder te leer.

    Uiteindelik het hy ’n meestersgraad in bedryfsielkunde behaal, deur bedags te werk en snags te leer, toe ek lankal uit die skool was en reeds aan my eie meestersgraad gewerk het. Ma het intussen ook verder studeer – if you can’t beat them, het sy seker besluit – en ’n graad in verpleegkunde gekry.

    So op die ou end het ons toe nogal ’n geleerde gesin geword. Maar Pa se ouers se onverbiddelike voorwaarde vir verdere studie – óf jy word ’n predikant, óf jy kan self sien kom klaar – het my op ’n jong ouderdom agterdogtig gemaak oor wat grootmense wil hê jy moet word of nie word nie.

    Ek was so tien jaar oud toe ek by ’n juffrou gebieg het dat ek daaraan dink om ’n dokter te word. Eintlik net omdat my ma ’n verpleegster was en ek ’n onmoontlik romantiese beeld van dokters en hospitale gekoester het. Die juffrou het nie gedink dis ’n goeie toekomsplan nie.

    Ag nee wat, het sy gesê, jy sal vreeslik lank moet leer om ’n dokter te word en dan gaan dit moeilik wees om ’n man te kry. Jy gaan al oud wees, onthou, en mans hou nou eenmaal nie van vroue wat meer geleerd as hulle is nie.

    O, het ek gesê, afgehaal. Want ek sou darem graag eendag ’n man ook wou hê.

    Vandag moet ek seker erken dat dié juffrou my ’n guns bewys het – al steek haar drogredenasie my steeds dwars in die krop – want ek sou waarskynlik nie ’n goeie dokter geword het nie. Ek het nooit van wiskunde, fisika of biologie gehou nie. Nog minder van bloed. Vandag is ek bly dat ek nie medies gaan studeer het nie, nes ek bly is dat my pa nie teologie studeer het nie.

    Stel jou voor, my liewe dogter, as jou oupa ’n predikant was en jou ma ’n dokter, dan was jy nie jy nie, nè.

    Wat jy is, wat jy geword het met ’n ma wat in Europa sit en skryf om aan die lewe te bly in ’n taal wat in Afrika skynbaar as sterwend beskou word, en met ’n oupa wat ’n sakeman geword en met ’n verpleegster getrou het omdat hy nie ’n predikant wou word nie, is ’n fassinerende nuwe soort wêreldburger. Jou lewe is geheel en al anders as wat myne op jou ouderdom was, en tog herken ek myself aanhoudend in wat jy doen en hoe jy dink en in dit waaroor jy droom.

    Toe ek twintig was, soos jy pas geword het, het ek geen ander land as Suid-Afrika geken nie. Benewens die lande in die boeke wat ek van kleins af gelees het. En natuurlik dié in die drome wat ek gedroom het.

    Die eerste keer dat ek ooit in ’n vliegtuig was, was op die ouderdom van agttien, vir ’n vlug tussen Kaapstad en Johannesburg, om huis toe te gaan vir ’n universiteitsvakansie. Hoe Pa daardie vlug bekostig het, sal ek nooit weet nie. Dit was nadat hy bankrot verklaar is en die meubels uit die huis gedra is en hy en Ma moes skei om te keer dat hulle alles verloor. Aangesien hulle binne gemeenskap van goedere getroud was, het al hulle bates aan albei behoort. Ná die egskeiding, waarvan ons kinders eers later gehoor het en waarvan min ander mense ooit geweet het, want dit was net ’n noodmaatreël, het hulle ’n hele paar jaar in sonde saamgelewe. Voordat Ma daarop aangedring het om weer te trou, want hierdie sondige saamwonery, noodmaatreël ofte not, was nie ’n goeie voorbeeld vir die kinders nie.

    Of dalk wou sy net seker maak dat Pa nie met ’n ander vrou wegloop en dan kan sy hom nie eens hof toe sleep nie.

    Ek kan dus spog dat ek by my ma en pa se troue was, wat nie veel mense van my generasie en met my kulturele bagasie kan sê nie – nie in my geboorteland nie.

    En dis darem nog iets wat ek en my dogter deel, ondanks al die verskille in ons grootwordjare, die feit dat ons albei op ons ouers se troue was.

    Jy kan dit nie onthou nie, want jy was net nege maande oud, maar daar is ’n paar foto’s van jou wat soos ’n blonde engeltjie in ’n wit rokkie in die arms van die bruid en bruidegom glimlag. Ons eie klein Kupido, sou jy kon sê. So ’n foto is natuurlik niks buitengewoons in jóú geboorteland nie. Baie van jou maats se ouers het ook eers getrou ná hulle kinders gekry het. Sommiges het dit nooit nodig geag om te trou nie. Terwyl jy op skool was, het die president van die land en sy metgesel hulle vier kinders saam grootgemaak sonder dat hulle ooit ’n ring aan mekaar se vingers gesteek het.

    Sedert die 1960’s het die hele konsep van in sonde lewe in Frankryk verdwyn. Toe my ma in die jare tagtig nog hieroor gewroeg het, en Afrikaanse jongmense steeds in hordes kansel toe gejaag is voordat die bruid begin wys het, was daar lankal nie meer iets soos móét trou in wat my aangenome land sou word nie.

    Maar toe ek twintig was, het dit alles nog baie ver in die toekoms gelê.

    Die enigste keer dat ek ooit in ’n ander land was, was een of twee naweke in Mosambiek tydens my laaste twee skooljare in Nelspruit. Lourenço Marques, soos die hoofstad in daardie dae genoem is, was die naaste wat ek in my jeug aan ’n Europese atmosfeer kon kom. Hillbrow was glo ook in die sewentigs kosmopolities genoeg om soos Europa te voel, maar ek kan nie onthou dat ek as skoolkind ooit in Hillbrow was nie.

    Lourenço Marques was eksoties anderstalig en dekadent koloniaal. Almal het Portugees gepraat en Portugese kos geëet. Dis waar ek die eerste keer garnale geproe het – LM prawns – en ek was onmiddellik versot daarop. Dis waar ek die eerste keer plakkate vir bulgevegte teen lamppale gesien het. Ek wou nie noodwendig ’n bulgeveg bywoon nie – ek het geweet ek sou die bulle te jammer kry, met my neiging om altyd die verloorder se kant te kies – maar ek het gretig en glimlaggend teen so ’n plakkaat geposeer vir ’n Kodak-kiekie wat sou lyk asof dit in Portugal of Spanje geneem is. Altans, dis wat ek gehoop het, aangesien ek nog nooit in Portugal of Spanje was nie.

    Daar staan ek teen die paal (darem nie óp die paal nie, het een van my stout koshuismaats gespot) in ’n kort rooi halternekrok en met sulke platformklompe wat nogal aan die lelike Crocs van ’n paar jaar gelede herinner, maar baie swaarder aan mens se voete gevoel het. ’n Afrikaanse tiener in ’n wilde wêreldstad. Shame.

    Natuurlik was LM ’n wilde wêreldstad, want dis waar jy flieks kon sien en musiek kon luister wat oorkant die grens verbode was. Dis van waar LM Radio uitgesaai het – en vir menige Suid-Afrikaanse tiener in die jare sewentig was LM Radio so onontbeerlik soos wat radioberigte uit Engeland in die Tweede Wêreldoorlog vir die weerstandbeweging in Frankryk was. ’n Lewenslyn na hoop, ’n bewys dat daar elders nog mense is wat soos jy voel, ’n bevestiging dat jy nie alleen is nie.

    In ’n ander toneel uit Die dinge van ’n kind luister twee tienermeisies na die heel laaste uitsending van LM Radio se weeklikse treffersparade; aan die einde van 1975, op ’n plaas in die Laeveld naby die Mosambiekse grens, toe die Portugese koloniale droom in Afrika in ’n nagmerrie verander het.

    Dink net, ons sal eendag vir ons kleinkinders kan vertel dat ons na die laaste uitsending van LM Radio geluister het!

    Hulle sal nie weet wat LM Radio was nie, sê my praktiese kamermaat. Hulle sal nie eens weet wat LM was nie. Die plek kry mos nou ’n nuwe naam.

    Net toe ek terneergedruk wil raak oor haar woorde, word nommer vyftien op die trefferlys aangekondig: Love will keep us together van Captain and Tenille. Dalena troos my met ’n breë glimlag en swaai haar kop terwyl sy saam met die radio neurie.

    Love will keep us together. Dis wat ek in 1975 geglo het, toe ek sewentien was, dat liefde genoeg sou wees om almal in die land en die wêreld saam te bind.

    En tog was die land besig om voor ons oë uitmekaar te val. Baie van die seuns in my matriekklas sou binnekort ook vir die eerste keer in ’n ander land wees, maar vir hulle sou daar nie ’n vrolike geposeerdery voor bulgevegplakkate wees nie. Hulle moes as dienspligtiges die grens tussen die ou Suidwes-Afrika en Angola oorsteek, as gedwonge soldate eerder as vrywillige toeriste, om dinge te doen waaroor hulle nooit met hulle geliefdes sou kon praat nie.

    Dit was my jeug, afgesonder van die res van die mensdom, soos om in ’n borrel van salige onkunde te lewe. Daar was nie eens TV terwyl ek grootgeword het nie, iets wat ek nou nog sukkel om vir jou en jou broers te verduidelik, elke keer as jou pa verwys na ’n TV-program uit sy Franse jeug en ek bloot my kop onbegrypend kan skud. Ons is tydgenote, ek en jou pa, ons is in dieselfde jaar gebore. Maar ons het in verskillende wêrelde grootgeword.

    Terwyl jy skaars twee maande oud was toe jy die eerste keer tussen Europa en Afrika gevlieg het – en van daar af het jy nooit ophou reis nie. Jy was al in Miami en New York, Tokio en Kyoto, Amsterdam en Brussel en Londen en Venesië en verskeie ander Europese stede. Parys ook, natuurlik, maar Parys – wat vir my in my jeugjare ’n amper onmoontlike droom was – is vir jou net nog ’n Franse stad, soos Lille of Lyon, Marseille of Montpellier. ’n Plek waar almal jou taal praat en waar die kos bekend proe en die winkels bekend lyk. Nie naastenby so opwindend soos vreemde stede in verre lande nie. Jy droom van kleins af oor Kaapstad soos ek oor Parys gedroom het – o, die ironie van die noodlot – met die baie belangrike verskil dat jy wéét waaroor jy droom, want jy was al verskeie kere in Kaapstad. Terwyl ek blindelings moes droom, vasgevang in my borrel.

    Benewens fisieke reise, is daar ook die kopreise wat jy van jongs af kon aandurf, danksy die internet en sosiale media en die beskikbaarheid van kultuur oral om jou. Jy was skaars op skool toe jy Robert Aldrich se What Ever Happened to Baby Jane? gekyk het, saam met twee van jou boeties, al drie van julle klaend oor ek en jou pa julle dwing om na die oorspronklike Amerikaanse klankbaan eerder as die oorgeklankte Franse weergawe te luister. Die ou swart-en-wit fliek met Bette Davis en Joan Crawford het nogtans ’n blywende indruk op julle al drie gemaak.

    En deesdae hoor ek hoe julle vir julle Franse vriende verduidelik dat dit belangrik is om enige rolprent met sy oorspronklike klankbaan te kyk, of dit nou Engels of Arabies of Japannees is. Nes ek en jou pa altyd vir julle gesê het.

    Vergewe my as dit klink of ek spog met hierdie klein oorwinning. Enige vorm van triomf is skaars as jy kinders grootmaak.

    Amper sê ek soos jy ook eendag sal agterkom. Maar ek keer myself om sulke verwagtinge van jou te koester. Wie sê jy wil eendag kinders grootmaak?

    Ek wil hê my dogter moet keuses hê, en om kinders te kry behoort ook ’n keuse te wees. My oumagrootjies, van wie ek jou in hierdie brief gaan vertel, het nie daardie keuse gehad nie. Hulle het soos diere kleintjies gebaar, jaar ná jaar, en soos goeie Christenvroue gebid dat ’n paar van die werpsel darem sou grootword.

    En hulle het in ’n kulturele wildernis gelewe, sonder die lafenis van groot kuns of musiek of letterkunde. Niks behalwe die Bybel om hulle te troos nie.

    Terwyl jy in ’n woud van boeke grootgeword het. Jy is van geboorte af omring deur baie meer boeke as wat daar ooit in my kinderjare by die huis was. Ek het darem nie in ’n boeklose huis gelewe nie, dis nie nodig om my jammer te kry nie, maar daar was beslis nie ’n boekewoud nie. Die boekrak in my ouerhuis was eerder ’n oulike voorstedelike tuintjie. Niks wilds of onverwags sou jy daar aantref nie.

    Daar was ’n klomp ensiklopedieë, en Reader’s Digest se verkorte weergawes van gewilde romans, en die strokiesprentweergawes van klassieke boeke soos Robinson Crusoe of Robin Hood wat Ma voor elke lang motorrit vir ons drie kinders gekoop het. Dit was die enigste comics wat sy goedgekeur het. Al die ander, oor Amerikaanse superhelde wat kan vlieg, of die selfs meer verleidelike plaaslike fotoboekies soos Mark Condor en Ruiter in Swart, moes ons skelm in die kafee of in die huishulp se kamer gaan lees. Pa se slapbandboekies oor die Wilde Weste, geskryf deur Louis L’Amour, is darem in die huis toegelaat, al het Ma waarskynlik haar neus opgetrek vir cowboystories. En tog het hierdie Amerikaanse skrywer met ’n Franse van wat veel beter by soetsappige liefdesverhale sou pas, vir Pa die soort lewenslesse geleer wat hy ’n paar keer in sy lewe bitter nodig sou kry.

    There will come a time when you believe everything is finished. Yet that will be the beginning.

    Dis die einste cowboyskrywer se wyse woorde.

    Ma was ’n hartstogtelike leser en haar geliefde leesstof was historiese romans, verkieslik Britse historiese romans deur gewilde skrywers soos Georgette Heyer, wat sy in sulke hope by die biblioteek uitgeneem het. En sy het ons kinders van kleins af saamgeneem biblioteek toe. Ek vermoed die hartstogtelikste lesers word gebore eerder as gemaak, en ek was soos my ma ’n gebore leser. My boetie en sussie het egter in hulle grootmensjare ook geesdriftige lesers geword, danksy ’n lesende ma wat ons gereeld biblioteek toe geneem het om ons eie boeke te gaan kies.

    Jy het as baba al saam met ons biblioteek toe begin gaan. En aangesien jy die laatlam in die gesin is, was daar reeds rakke vol verleidelike kinderboeke in die huis. Jou smaak het dus baie vinniger as myne ontwikkel. Jy was skaars sewe toe jy vol selfvertroue verklaar dat Alice in Wonderland die beste boek in die wêreld is. Ek het dit ook as kind gelees, maar het eers jare later besef watter wonderwerk van ’n boek Lewis Carroll in werklikheid geskep het.

    Op die ouderdom van sestien het jy op ons buurdorp se jaarlikse vlooimark deur ’n stapel tweedehandse boeke gekrap, ’n verweerde slapband-eksemplaar van Camus se L’Étranger (The Outsider) opgetel en vir my gevra waaroor dit gaan.

    Wel, dis nogal moeilik om te beskryf, het ek geskerm. Camus is ’n filosoof, jy weet.

    Ek weet, het jy gesê. Ek hou mos van filosofie. Dink jy ek sal daarvan hou?

    Ek het onthou dat jy as dertienjarige Jostein Gaarder se Sophie’s World verslind het. En dat jou oudste broer besig was om ’n tesis vir sy doktorsgraad in die filosofie te skryf. Filosofie het jou nie bang gemaak nie, dit het jou gefassineer. Ek het nogtans gedink Camus se eksistensialisme van die absurde is dalk bietjie gevorderd vir ’n sestienjarige wat tot in daardie stadium meestal Harry Potter en John Green se moderne jeugromans gelees het.

    Maar ek wou nie vir jou sê jy’s te jonk nie. Dis ’n frase wat ek self té veel moes hoor toe ek as nuuskierige kind wyer as kinderboeke wou lees.

    Hoekom probeer jy dit nie lees nie, dan besluit jy self? het ek voorgestel.

    Jy het by daardie boek ingeduik soos wat jy op ’n warm somerdag in ’n koel bergpoel sal duik. Sommer in die kar op pad huis toe al begin lees, asof dit ’n spannende speurverhaal is, en nie opgehou tot jy die laaste bladsy bereik het nie. Daarna het jy dit nog ’n paar keer gelees.

    Ek verstaan nie alles nie, het jy gesê, maar ek is mal daaroor.

    Dit was vir my ’n volmaakte voorbeeld van die soort betowering wat jy kan verwag wanneer die regte leser en die regte boek op die regte oomblik by mekaar uitkom. Dis nie rasioneel nie, dit kan nie voorspel of verduidelik word nie, dis net, wel, ’n soort toorkuns.

    Jou geesdrif het my begeester om self ook weer L’Étranger te lees. Ek het vergeet – hoe kon ek? – van daardie twee openingsinne, steeds van die treffendste eerste sinne in enige boek. Jy het dit in Frans gelees, soos Camus dit oorspronklik geskryf het. Ek het dit in my studentejare in Engels gelees. En nou wil ek dit vir jou in Afrikaans vertaal, sodat jy kan hoor hoe dit in jou ma se taal klink:

    Vandag is Ma dood. Of gister, dalk, ek weet nie.

    Ek kan steeds nie vir jou sê waaroor gaan dit nie, want soos enige goeie verhaal gaan dit oor baie dinge, maar dit

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1