Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die vrou in die vuur
Die vrou in die vuur
Die vrou in die vuur
Ebook393 pages7 hours

Die vrou in die vuur

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die heel beste kortverhale uit Riana Scheepers se oeuvre [die bundels Die ding in die vuur (1990), Dulle Griet (1991), ’n Huis met drie en ’n half stories (1994), Feeks (1999) en Katvoet (2009)] word hier saamgevat. Dit sluit onder meer verhale in wat die fokus plaas op liefde en sensualiteit in hul vele vorme, asook Afrika-mistiek. Die storie wat aan die bundel sy titel verskaf – ’n verwysing na Jeanne d’Arc – is ’n splinternuwe, boeiende toevoeging tot dié skrywer se oeuvre.
LanguageAfrikaans
Release dateDec 6, 2012
ISBN9780798158336
Die vrou in die vuur
Author

Riana Scheepers

Riana Scheepers is op 9 Desember 1957 op Vryheid in KwaZulu-Natal gebore. In 1990 debuteer sy met die kortverhaalbundel, Die ding in die vuur, wat met die ATKV- en FAK-prys bekroon word. In 1992 ontvang sy die Eugène Marais-prys vir haar tweede bundel, Dulle Griet. Sedertdien is haar boeke topverkopers, in Suid-Afrika en in die buiteland.

Read more from Riana Scheepers

Related to Die vrou in die vuur

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die vrou in die vuur

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die vrou in die vuur - Riana Scheepers

    cover.jpg

    Die vrou in die vuur

    ’n Keur uit die verhale van

    Riana Scheepers

    Saamgestel deur Adriaan Meyer

    HUMAN & ROUSSEAU

    Kortwoord

    As skrywer het Riana Scheepers al in bykans elke genre gepubliseer, maar die genre waarin sy gedebuteer het, die kortverhaal, bly haar forté. Met die verhale in hierdie versameling word haar liefde, artistieke beheer en intuïtiewe aanvoeling vir die kortverhaal op ’n unieke wyse ten toon gestel. Vir lesers wat die titels uit haar vorige bundels herken, lees die inhoudsopgawe soos ’n reeks vuishoue in die maag. Dit is nie net die verhale waarvoor sy bekendheid verwerf het wat in Die vrou in die vuur opgeneem is nie, maar veral die verhale wat haar ontwikkeling as skrywer markeer.

    Ruimtelike plasing en ’n intieme verbintenis met die landskap speel belangrike rolle in Scheepers se skryfwerk, daarom gaan die leser saam het haar op reis deur die landskap van haar verhale: van die geil, soel heuwels van KwaZulu-Natal waar Die ding in die vuur geskryf is, na die landskap van die stad Kaapstad in Dulle Griet, verder as Suid-Afrika na die Europese landskap (’n Huis met drie en ’n half stories en Feeks), tot die uitgestrekte verlatenheid van die Karoo en Namibië, soos dit in Katvoet beskryf word.

    Soos die temas van die verhale, is ook die taalgebruik uitdagend, want vir Scheepers is ’n kortverhaal nie net ’n storie nie, dit is ook ’n kunswerk in taal. In sommige verhale is die styl so poëties dat die leser daaraan herinner word dat die kortverhaal ook ’n liriese genre kan wees. Telkemale word die leser verras met die mate waarin sy die kortverhaal se grense stilisties verruim: van die bykans joernalistieke aanslag in haar debuutbundelverhaal Abantu oNgoye, tot die sjarme van ’n speelse verhaal soos Daardie nag met die katte toe ons so brandewyn gedrink en sjokolade geëet het, tot die broeiende intensiteit van haar erotiese verhale, soos die titelverhaal in Katvoet. Maar of sy gestroop skryf of poëties, deurgaans is daar ’n sensualiteit van styl en inhoud wat kenmerkend van haar oeuvre geword het.

    Op tematiese gebied het Riana Scheepers baanbrekerswerk verrig. Haar debuutbundel van 1990 het soos selde vantevore die leef- en kulturele wêreld van die swart vrou uitgebeeld. In die opvolgende bundels is die fassinerende psige van die vrou, maar dan veral die gemarginaliseerde vrou, verruimend voortgesit. Scheepers se vrouekarakters is geskeide vroue, volksvreemde vroue, prostitute, nonne, misdadigers, en selfs Bybelse vroue wat geloofwaardig en onthutsend gestalte kry.

    Scheepers is vanweë haar gedurfde uitbeelding van die vrou bekend as ’n feministiese skrywer, maar daar is ander temas wat telkens in al haar bundels terugkeer: die kind, katfigure in allerlei gedaantes, die natuur, en die magiese wisselwerking van siele wat oor eeue heen in kontak met mekaar is.

    ’n Uitsonderlike aspek van Scheepers se kortverhaalbundels, wat ongelukkig agterweë bly met ’n samestelling soos hierdie, is haar vermoë om deur terugkerende motiewe in afsonderlike verhale ’n bundel tot ’n eenheid te bind. Dit skep ’n binnerym wat aan elke bundel kortverhale ’n romanagtige kwaliteit verleen.

    Een van hierdie terugkerende motiewe, iets wat die ondersoekende leser op ’n opwindende speurtog neem, is die vermenging van feit en fiksie. Waar dit met haar debuut amper terloops voorkom, kenmerkend van die postmoderne skrywers van die negentigerjare, word dit later in haar oeuvre ’n meer doelbewuste, selfs slinkse, spel van onthulling en versluiering. Dit bereik ’n hoogtepunt in Katvoet se Nawoord wat die leser dwing om sekere gegewens uit die voorafgaande verhale opnuut te interpreteer. Wat Scheepers onderskei van ander postmoderne skrywers, is dat sy nie selfonthullende feite versluier in fiksie nie, maar eerder fiksie grond in selfonthullende feite.

    Sedert die publikasie van Die ding in die vuur het haar uitdagende verhale nog altyd konserwatiewe gemoedere laat ontvlam, nie net binne die omslae van haar bundel nie, maar ook daarbuite. Riana Scheepers was nog altyd omstrede. Vele briefwisselings in koerante het ek al met ’n grynslag gevolg. In die laat negentigerjare het ’n kwartaal lange polemiek in die koerante gewoed waarin selfs lede van die kerklike sinode die skrywer in die openbaar verdoem het na die hel se diepste poel van vuur. Haar beleid was nog altyd om dié aanslae te troef met nuwe kreatiewe ywer; vuur word met vuur beveg.

    Riana Scheepers ís die vrou in die vuur.

    Adriaan Meyer

    Augustus 2012

    Vir Johann

    wat al my stories en al my dae en al die ure van my dae is.

    Die ding in die vuur (1990)

    Die ding in die vuur (1990)

    Dit klink na ’n voor die hand liggende ding om te sê, maar ’n mens is werklik net een keer in jou lewe ’n debuutskrywer; een wat waansinnig en driftig skryf, aangevuur deur die adrenalien van woord en verhaal, totaal onkundig en onbewus van al die literêre slaggate waarin jy jou kan begewe. As jy ’n beginnerskrywer is, dink jy nie aan jou (toekomstige) plek in die letterkunde of aan kritici en literêre pryse nie, jy dink nie aan geld en roem of literêre poliemieke nie, jy is oorbluf en begeesterd deur dit waarmee jy besig is. Dit is altans hoe dit met my was. Vandag verlang ek soms na daardie algehele oorgawe aan die skryfproses van my beginjare as skrywer, die naïwiteit en onkunde waarmee ek geskryf het.

    Ek het begin skryf in ’n tyd lank voordat daar slypskole en opleiding in kreatiewe skryfkuns was. Ek het intuïtief geskryf, sonder enige hulp, asof my lewe daarvan afhang. En miskien hét my lewe daarvan afgehang, want deur my verhale het ek my bestaan gedefinieer. Ek het die manuskrip binne vier maande voltooi en aan Wilna Botha, my vriendin wat by HAUM-Literêr gewerk het, gegee. ’n Maand of wat later het ek gehoor dat dit vir publikasie aanvaar is.

    Dit is vrees wat my aan die skryf gesit het. Vrees en verwondering. In die laat tagtigerjare was daar baie dinge in my persoonlike lewe wat verskriklik was. Ek was ’n alleenmoeder wat saam met my twee klein seuntjies in ’n afgeleë kusdorpie in KwaZulu-Natal gewoon het. Ek het pas ’n pos aanvaar as lektor by die Universiteit van Zoeloeland. Ek en my seuns moes oorleef te midde van ’n gespanne tydperk wat gekenmerk is deur politieke geweld en onrus. Ek moes sin maak van my lewe te midde van persoonlike verlies en wantroue in myself. Ek was bevrees vir die veiligheid van my kinders te midde van die politieke kruitvat waarin ons geleef het en die geweld wat ons daagliks aanskou het. Maar meer as die verskrikking van die lewe, was ek verwonderd oor die lewe, die oorleweringsvermoë van mense, die wonderwerk van woorde, die krag van stories. Ek het magtige bondgenote gehad: woorde in al die tale wat ek kon praat en verstaan, Zoeloe en Afrikaans en Engels en Nederlands; die viriliteit van die landskap om my, die wil om ’n verhaal te vertel.

    Die een enkele vonk wat my laat besef het dat ek kan skryf, dat ek móét skryf, was die dag toe ek besef het dat ek ’n unieke literatuuropleiding gehad het. Ek het kort tevore my MA-graad behaal en was besig met ’n PhD-graad in Letterkunde, maar dit alles het eers vir my sin gemaak toe ek besef het dat my eintlike literatuuropleiding al jare gelede, toe ek ’n kind was, begin het. As kind het ek saam met die swart kinders van die plaas gewag dat dit donker word (om te keer dat ons nie horings kry as ons in die daglig na stories luister nie). Ons het om die vuur gesit en geluister na die verhale wat die Ugogo vir ons vertel het. Skrikwekkende verhale van bloed en geweld en monsters en mensvreters het sy vertel, wonderlike stories van vrees en en verbeelding . Ek het die oeroue ritueel van die orale vertelling beleef as die Ugogo haar verhale begin het met Kwesukasukela (Die begin van die begin). Saam met die kinders het ek Cosu! Cosu! gesê; ons hoor, ons luister. En as die storie klaar vertel is, het ek gesien hoe die Ugogo in die vuur spoeg, sodat die geeste van die stories wat sy vertel het, nie in die kinders se koppe intrek en hulle nagmerries gee nie. Saam met die spoeg het alle ongeregtighede in die vuur verbrand en ons is gelaat met slegs die verwondering van ’n verhaalwêreld wat tegelyk fantasties en werklik is.

    Ek het ’n Afrika- én Westerse literatuuropvoeding gehad. Ek, van alle mense, moet die verhale van vrees en verwondering skryf.

    Die verhale in Die ding in die vuur speel af in die ruimte van soel, tropiese Zoeloeland. Die karakters is die kinders, die vroue, die mense van Zoeloeland; die gebeure is die verskriklike en wonderlike dinge wat met die mense van Zoeloeland gebeur.

    Die titel van die bundel is vir my gegee deur André le Roux, wat die verhale in manuskripvorm gelees het.

    Die boek het die ATKV-prosaprys (1990) en die FAK-ontspanningsprys (1991) verower.

    Ruil

    Die winkelier hoor die stowwerige geskuifel van voete by die oop winkeldeur. Hy los die boekwerk waarmee hy besig is, en kom uit die klein kantoorvertrekkie agter in die winkel. Hy gaan agter die toonbank staan, en leun met sy elmboë op die verweerde houtblad wat oor die hele breedte van die winkel strek.

    Twee vroue kom uit die skerp sonlig die winkel binne. Elkeen het ’n ukhamba op die kop en hulle buig met stywe ruggrate en nekke, van die heupe en die knieë af ondertoe, om nie hulle kleipotte teen die sinkemmers en die fietswiele wat van die dak af hang te stamp nie. Binne staan hulle stil teen die muur om gewoond te raak aan die skielike skemer van die winkel.

    Die winkelier wag.

    Die vroue staan soos donker beelde wat uit hout gekerf is. Hulle praat nie. Hulle staan stil om die reuke van die winkel te ruik. Bale hooi wat tot teen die dak gestapel is, rolle sis en uitgebraaide vet en die sweet van Afrika wat in die skemer hitte onder die winkel se sinkdak gebak word. Hulle sien die winkelier agter die toonbank. Hulle lig hul donker arms om te voel of die kleipotte nog reg sit, maar haal dit nie af nie.

    Die winkelier kyk.

    Albei vroue dra wye, bont rompe, hul bolywe kaal in die tradisie en hitte van hierdie land. Soos al die vroue het hulle kopdoeke om hul koppe gedrapeer. Die armbande om hul boarms en nekke is van gras gevleg, met helder kraletjies en rooi sade daarin geweef.

    Die winkelier leun nie meer op die toonbank nie. Hy staan by die kasregister met sy duime in sy lyfband gehaak. Die hitte damp die reuk van sy liggaam uit. Sy hemp is halfpad oopgeknoop en sy groot maag druk die los pante van die hemp weg. Sy blonde borshare is sweterig, sy vel blink.

    Die winkelier kyk na die twee vroue.

    Hy is ’n Skotse immigrant wat na die donker misterie van Afrika kom soek het nadat sy maer, sieklike vrou in Engeland dood is. Met sy rammelrige bakkie het hy die land se grondpaaie platgery, maar toe hy sien hoe sorgeloos naak en kopspelend met die borste die swart vroue hier loop, het hy besluit om in die swoel hitte van die Zoeloelandse heuwellandskap te kom winkel maak. Hy maak ’n bestaan uit tee en suiker wat hy afmeet en in 10c- en 20c-kardoesies skep. Hy weeg sy koffiebone in ’n skaal met ystergewiggies af. ’n Piramide van kleinerwordende gewiggies staan langs die skaal op die toonbank. As die skaalarms nie haaks hang nie, byt hy ’n koffieboon se helfte af.

    Die winkelier ruil ook sy ware vir wat die swart mense uit die opbrengste van die land na hom bring: vet en groenmielies en eiers, vir suiker en sislap en brokke gespikkelde blouseep.

    Ufunani! vra die winkelier. Hy praat fanagalo-Zoeloe met ’n swaar, wilde aksent, maar sy klante verstaan die rituele van winkelkoop.

    Sizothenga. Hulle wil koop.

    Die winkelier wink hulle nader aan die toonbank. Die vroue buig hul knieë en haal die potte versigtig van hul koppe af sonder om hul nekke te kantel. Saam met die arms se optel en die kleipotte se afhaal, lig hulle ronde borste op. Die winkelier kyk. Hy vat met sy flets oë aan die swaar volheid van die bruin borste met die groot tepels. Hy kyk na hul arms in die gevlegte bande met die helder krale. Hy streel die moddertekstuur van die vel waar die maag in die sye voue maak. Hy proe die sweet van hul oksels. Sy mond is effens oop.

    Die vroue sit die kleipotte voor hom op die toonbank neer. Hy buk vooroor, sy oë nog steeds op die wiegende borste en arms hier naby hom. Hy kyk af. Die donker holtes van die koel kleipotte is uitgevoer met droë gras. In die beskutting van die gras lê ’n klompie eiers, ovaal en bruingespikkeld, soos in ’n nes. Die winkelier tel ’n eier op en weeg dit in sy hand. Die eier is koel teen sy warm vel. Hy maak dit heeltemal toe in sy hand.

    Versigtig tel hy die eiers uit hul neste en sit dit in ’n mandjie. Daar is altesaam agtien. Die vroue wil suiker hê vir die waarde van die eiers. En tee. En seep, as daar nog ruil in die eiers oor is. Die winkelier pak die afgeweegde kardoesies op die toonbank voor die vroue uit. En ’n klein stukkie spikkelseep. Die vroue kibbel nie. Hulle pak hulle ware sorgvuldig in die kleipotte, druk die seep tussen die kardoesies en die sagte gras in.

    Die winkelier weet dat die vroue se mans almal weg is. Hy weet dat die mans op die steenkoolmyne, die goudmyne, die uraanmyne werk en dat die geld wat maandeliks aangestuur word, nie ’n volle maand se behoeftes kan dra nie. Die winkelier weet ook dat die mans se werkgeld opgebruik is as die vroue kom ruil. Hy wonder hoekom die vroue altyd met eiers kom ruilmaak, hoekom hulle dit nie self eet nie. Die winkelier weet nie dat die vroue dit nie mág eet nie. Solank ’n vrou sonder haar man slaap, alleen op die icansi in die hut lê, mag sy nie die krag van eiers vir haar eie liggaam hou nie. Sy sal dit weer eet wanneer hy terugkom. Met sy donkerbril en sy skoene met die wit punte en baie geld. Paasnaweek. En Kersfees.

    Die vroue het gekry wat nodig is, maar hulle staan nog. Die winkelier sien hoe die swart oë aan die ware op die rakke vat. Hulle kyk by hom verby, na die rolle materiaal en die flessies en die vreemde goed wat hulle nooit van naderby kan sien nie. Hulle het nie genoeg geld nie. Hy weet dit; hulle ook. Hy kyk hoe hul opgehefde oë tussen die rakke soek. Hy streel oor die vroue se kele, hulle skouers, af na die borste. Hy vat hul borste in sy hande. Hy rol die tepels tussen sy vingerpunte. Sy hande vee oor die ronding van die mae, verdwyn onder die swaar materiaal van hul rompe. Hy voel die dik dye; die vogtige voue van hul lieste. Hy draai om.

    Die winkelier haal ’n glasflessie van die rak af en sit dit op die toonbank tussen hom en die twee vroue neer. Vaseline.

    Die vroue giggel en praat vinniger in hul klinkende taal. Hy verstaan nie die betekenis van die klapklanke as hulle so vinnig praat nie. Hul hande reik uit na die flessie, hulle wil kyk, hulle wil ruik, hulle wil dit op die vel toets, maar hy vat dit weer en hou dit in sy hand. Hy kyk hulle stip aan.

    Die vroue kyk na mekaar en praat onderlangs in ’n tongval wat hy nie kan uitmaak nie. Een van die vroue lig haar ukhamba van die toonbank op en plaas dit in posisie op haar kop. Sy draai om en loop uit die winkel in die son in. Die winkelier sien haar swaaiende uitstap. Met die flessie Vaseline in sy hand loop hy na die punt van die toonbank. Hy lig die geskarnierde valdeur in die toonbank op. Die vrou wat agtergebly het, volg hom woordeloos, haar ukhamba in haar hande, deur die poort wat hy vir haar oophou en sorgvuldig agter haar toeskuif. Die winkelier maak seker dat sy rinkelende kasregister gesluit is, en gaan by sy kantoor in. Hy los die winkel met die oop deur agter hom sonder om om te kyk. Hy ken elke geluid van sy winkel; elke skuifelende binnekoms sal hy wel hoor.

    Die winkelier se kantoor is ’n warboel van ou boeke met slap hoeke, winkelvoorraad wat nog in kartondose staan en stof wat melerig oor alles lê. Die sonlig skyn deur die vuil ruite na binne en val in ’n plas op die deurmekaar lessenaar. Daar is nie ’n gordyn voor die venster nie, maar ’n stapel ou bestelboeke lê op die vensterbank. Stukke linoleum van verskillende groottes en kleure bedek die vloer sonder om inmekaar te pas. Die winkelier vat ’n ou oorpak wat oor die stoel se rugleuning lê en hang dit aan ’n spyker bokant die venster op. Die vuil lig word donkerder. Hy draai om. Die vrou is agter hom. Hy neem die kleipot uit haar hand en sit dit op die lessenaar tussen die ander goed neer. Die vrou staan stil, haar oë neergeslaan.

    Die winkelier skroef die flessie oop. Hy draai met sy twee voorvingers ’n stuk van die vetterige, dik salf los. Hy staan nader aan die vrou, begin om die salf stadig oor haar een bors te smeer. Die bors begin amberagtig, soos gepoleerde hout, gloei. Die vrou staan nog steeds stil. Terwyl sy een hand die dik velvoue onder die vrou se bors bly streel, vashou, trek die winkelier sy bakstaande gulp met die ander hand oop. Die geslag beur groot en sproeterig tussen sy bene uit. Die winkelier gryp met albei hande.

    Hy druk haar agteroor op die vloer neer.

    Met sy knieë woel hy haar romp uit sy pad.

    Die winkelier staan tru.

    Hy sien hoe die vrou eers op haar knieë van die vloer af opkom, en dan, met haar een hand teen die vloer gedruk, opstaan. Haar wye romp val oor haar heupe, oor haar bene en terug in hulle swaaiende voue. Hy sien hoe sy die ronde, grasgevlegde inkatha waarop die kleipot gebalanseer word, uit die pot tussen die pakkies haal en op haar kop vasdruk. Sy tel die ukhamba van die lessenaar af op, maar sit dit weer neer. Sy buk en tel die flessie Vaseline van die vloer af op. Die winkelier hoor hoe die deksel in die glaspotjie se groewe skuur as sy dit styf toedraai. Dan druk sy dit stewig tussen die pakkies tee en die kardoesie suiker in die ukhamba vas. Sy tel weer die kleipot op en lig dit stadig, soos soveel kere tevore, op haar kop. Haar nek en haar skouers wikkel die pot in balans.

    Sy draai om en loop uit sonder om na die man agter haar te kyk. In die winkel steek sy blitssnel haar hand uit en gryp ’n helder oranje appelkooslekker uit een van die wyebekbottels op die toonbank. Sy steek dit heel in haar mond.

    Die winkelier hoor haar voete se uitstap oor die stowwerige vloer. Hy hoor hoe sy liggies met die kleipot stamp teen die sinkbaddens wat aan die dakbalke naby die deur hang. Hy loop agterna en gaan staan in die deur, sy arms wyd in sy sye. Die vrou loop steeds met die kronkelende voetpad teen die skuinste uit na haar stat wat bo teen die heuwels lê. Haar nek en haar skouers het die trots en rysigheid van ’n vrou wat weet dat haar inkope goed afgehandel is.

    Tweede kind

    Here God, skrik die sendeling se vrou.

    Die sendeling se vrou gee geboorte aan ’n seun in die warm hospitaalgeboutjie van die sendingstasie op Nongoma. Umngoma. Toordokter. Eertydse blyplek van die Umngoma en Isangoma.

    Dit is haar tweede kind wat hier in die sendinghospitaal gebore word. Sy het binne drie uur gekraam nadat haar man haar met die stamperige Ford oor die tweespoorpad daar aangebring het, en in die sorg van die swart verpleegster en die Here gelaat het.

    Reeds by die huis het sy haarself sorgvuldig gewas, geskeer en met tussenposes, die kraampyne al hoe skerper, haar hare in vlegsels weggebind. Haar man het haar gehelp. Sy het gewonder of sy hierdie keer meer melk sou hê as met die eerste kind.

    Die verpleegster het haar in die bed gesit en gewag. Die Hollandse sendingdokter het betyds vir die geboorte uit die eNdunu-heuwels gekom, waar hy die smetterige ekseem-oë van pasiënte behandel het. Die sendeling het te perd agter hom laat aanstuur.

    Die geboorte van die sendelingvrou se seun is sonder komplikasies en makliker as die vorige keer, toe die groot eerstelingkind uit haar gebeur en geruk het.

    Die ondervoede meisie se borste was skaars gevorm.

    Soos groen mispels het dit nog gelyk, harde knoppies wat nie groter geword het nie, maar net skeef geswel was van die kind in haar. Haar lyf was dun, haar skouerknoppe skerp en maer soos die brakhonde by die stat. Haar bekkenbene onder die gebreide velskort was nog te stokkerig, te nou, te dertienjaar om al ’n kind uit te stoot.

    Die sendeling se vrou het gehoor toe die meisie die hospitaal ingebring word. Die verskriklike skreeue. En die opgewonde stemme. Die dokter het die verpleegster uitgestuur om te gaan kyk. Soos ’n kind se angsgille was die geskreeu. Die hospitaalgeboutjie is klein, sy kon dit duidelik hoor. Sy het nog gewonder watter bakleiery dit nou weer was. Watter oopgekapte kop of gesteekte lyf kan dit wees dat die skepsel so skree? Maar sy was self in kraam, en die skreeue het later opgehou.

    Jy sal moet opmaak hiervoor, Here, sê die sendeling se vrou.

    Die swart verpleegster en twee hospitaalwerkers moes die skreeuende meisie, haar oë wild en draaiend in haar kop, op die hoë hospitaalbed vasdruk. Toe die dokter inkom en die kind se uitgeteerde lyf met die meskerwe op die hoogswanger maag sien, het hy geweet êrens gaan fout kom. Hy het haar ingespuit en sy teater gaan regkry.

    Die stat waarin sy grootgeword het, lê hoog op in die heuwels teen die skuinste, aan die sonkant vasgeplak. Vroegoggend en laatmiddag stap die vroue met die kronkelpaadjie af na die spruit om water te skep vir die hutte, hulle heupe wiegend, hulle borste soos armsvol ryp papajas. Die stat is klein, net ’n paar hutte.

    Die landjie mielies agter die hutte is reeds afgemaak. Die plante staan skeefgetrek in die son. Daar is twee bokke wat tussen die aalwyne en klippe rondloop en ’n klomp flenterhoenders op die harde werf. En die maer brakke wat hulle eie kos in die veld moet vang. Die bontbees met die krom horings wat hulle gehad het, het een dag by die afgrond afgestort omdat die umfana wat hom moes oppas, verdwaal het in die digte mis wat skielik opgesteek het. Die Isangoma het gekom en die plek gemerk waar die bees te pletter af is. Hy het die umfana ook gemerk.

    Die stat se mense kon uit die hoogte van die heuwels die kruis van die kerk op die dorpie sien as dit ’n oop dag is. Maar hulle kom nie by die kerk nie.

    Hulle gaan net soms na die winkel waar die wit man in die donkerte agter die toonbank uitkom om te kyk na die hoendereiers in hulle grasmandjies wat hulle ruil vir suiker en tee en lap. Hulle weet ook van die dokter wat naby die kerk bly. Maar hulle sal nie na hom toe gaan nie.

    Nie eers die keer toe hy hier by die stat aangekom het met sy perd en sy swart sak, het hulle met hom iets te doen gehad nie. Hulle het hom van ver sien aankom met die voetpad en toe het hulle doodstil in die donker hutte ingegaan en inasem gewag. Selfs die brakke was veld in stil. Hulle het gewag totdat hy opgehou het met roep en ver weg was voordat hulle deur ’n skrefie na buite geloer het. Hulle sal nie naby hom kom nie. Hom nie eens aankyk nie. Nooit.

    Ook nie die umfundisi van die kruiskerk nie, al kan hulle soms die welluidende gesing hoor wat opstyg uit die kerkgebou in die vallei.

    Die hutte en die heuwels om hulle sien en hoor en weet van die asem van die Isangoma. Die Isangoma sien en hoor en weet van elke asemteug van die stat. Ook van die geil gespeel van die kinders tussen die klippe.

    Die sendeling se boodskapper agter die dokter aan het met sy terugkom deur die voetheuwels die meisie in die veld gekry. Hy het die gekerm gehoor en nuuskierig agter die aalwyne gaan kyk.

    Sy was alleen en het hurkend gesit, met haar maag tussen haar hande vasgeklou. Haar oë was groot en verwilderd en haar mond oop en droog. Hy het haar groot maag gesien. Hy het die Isangoma se kerfmerke op haar lyf gesien en geskrik. ’n Oomblik lank het hy sy oë met sy hande toegedruk. Hy wou nie na haar kyk nie, hy wou vergeet wat hy gesien het. Hy wou op sy perd klim en weggaan van hierdie plek waar die Isangoma nog vreeslik lewe, maar die gesig van die meisie en haar gekerm het hom laat terugdraai.

    Hy het probeer om haar op te trek van die grond af, maar sy het gillend van hom weggeval en met haar dun arms om haar maag bly vasklou. Haar bene en velskorte was nat, die lou reuk van vrugwater en urine en uitwerpsel skerp in sy neus. Hy sou haar nooit op die perd kon kry nie, hy wou haar nie saamvat nie, hy wou nie aan haar raak nie, hy vrees die Isangoma, hy kan haar nie hier los nie, het hy radeloos tussen die perd en die meisie gestaan. Na die stat waar sy vandaan kom, sou hy nie gaan om te sê nie. Nie daardie stat nie. Hy het sy perd gelos en pad toe gehardloop.

    Die groepie vroue wat met hul kleipotte op die kop op pad winkel toe was, het saam met hom kom kyk. Hulle het klikkend en wiegend gekyk en ontsteld gepraat, maar wou nie aan haar raak nie. Die boodskapper het sy perd gevat en by die sendingstasie gaan sê.

    Die sendeling het die Ford uit die koelteboom se skaduwee getrek en die boodskapper laat saamry. Die Here God is sterker as die duiwelsmag van die Umthakathi en die Isangoma, het hy op pad vir sy gedoopte, huilende lidmaat gesê.

    Die Hollandse sendingdokter maak die keisersnit breed oor die meisie se stywe maagvel en dwars oor die littekens van die toordokter se mes. Die lewe daaronder is kloppend sigbaar.

    Onder die narkose gaan die meisie dood. Die hospitaal is nie vir sulke operasies ingerig nie. Die grootste nood hier is die swart mense se oogsiektes en hulle tering. Die vroue gee gewoonlik geboorte aan hulle kinders so maklik en natuurlik soos wat hulle in die veld hurk. Selfs al sou sy geleef het, sou sy nie vir die kind melk gehad het nie, dink die dokter. Dit is in elk geval ’n wonder dat die baba leef.

    Later die dag kom sê die verpleegster vir die dokter dat die weeskind nie die afgefloude beesmelk in die bottel kan inhou nie.

    Ek gee om vir hierdie skepsels, Here, sê die sendeling se vrou. Ek jaag hulle nie weg nie en ek gee kos en plant pampoene en verkondig saam met my man die geloof aan hierdie heidene. Here, hier staan ons kerk. Here, hier staan jou kerk op die plek waar Zoeloeland se toordokters eers almal in hulle grashutte saamgehurk was. Hier staan jou kerk op die slagveld waar Dinizulu en Zibephu mekaar met die assegaaie uitgemoor het.

    Ek gee nie om dat my seuns saam met die abantwana van die dorp witboud-swartboud in die modderige riviere swem nie. Ek gee nie om dat my seuns en die abafana saam teen die koeikraal se muur piepie nie. Ek gee nie om as hulle by die strooise speel en na stroois ruik nie. Dat hulle saam uit die swart vuurpot klontjies pap met die vingers vasdruk en eet nie. Here, ek is ’n meisie uit die Hugenote-vallei, maar ek sal hier werk saam met my man. Ek hou van die mis wat in die heuwels se voue intrek en die rokerigheid van die vure. Maar Here

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1