Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey
Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey
Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey
Ebook629 pages7 hours

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Op ’n dag in die vroeë sewentigs merk ’n afgeleë Noord-Kaapse gemeenskap ’n gebou in hul midde waar voorheen net braak grond was. Drie weke later verdwyn die gebou . . . Lees ook oor die vreemde werklikheid van mense wat meer as een keer gelewe het, oor die jong man wat so skaam was dat hy nie op foto’s kon vertoon nie, en oor die intense liefdesverhouding van ’n paartjie wie se lewenspaaie net vir ’n paar sekondes gekruis het.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateOct 1, 2018
ISBN9780624084358
Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey
Author

Charl-Pierre Naudé

Charl-Pierre Naudé is op 27 Augustus 1958 in Kokstad gebore. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Grens in Oos-Londen. Charl-Pierre verwerf ’n honneursgraad in filosofie aan die Universiteit van Stellenbosch. Ná sy studies het hy as joernalis gewerk en onder meer resensies en artikels vir Vrye Weekblad gelewer. Sy eerste bundel, Die nomadiese oomblik, verskyn in 1995 by Tafelberg, en word in 1997 met die Ingrid Jonker-prys bekroon. Charl-Pierre se tweede bundel, In die geheim van die dag, ontvang in 2005 die M-Net-prys vir Afrikaanse poësie sowel as die Proteaprys vir poësie.

Related to Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey - Charl-Pierre Naudé

    Die

    Ongelooflike onskuld

    van

    DIRKIE VERWEY

    Charl-Pierre Naudé

    ’n roman

    Tafelberg

    Enige ooreenkoms in hierdie boek met historiese of lewende persone is toevallig.

    Opgedra aan

    in volgorde van verskyning

    Diederik Hendrik (Dirkie) Verwey: geb. 1952. Vermis 1984.

    Anna Bandjies: 1954 – 1985

    Hermanus Jakobus Frederik Verdomp: 1944 –

    Maria Hakskeen: 1951 – 1975

    Emmarentia Anna Melck: 1946 –

    VOORWOORD

    Ek moet uit die staanspoor bieg. My naam pryk op die voorplat, maar ek is nie die outeur van hierdie boek nie.

    Hermanus Verdomp, ’n amateurskrywer, het die storie meer as dertig jaar gelede geskryf maar dis nooit aan ’n uitgewer voorgelê nie. Deur ’n sameloop van omstandighede het dit by my uitgekom en die tema het my so beïndruk dat ek die manuskrip aan die uitgewer gewys het vir wie ek deeltyds werk. Daar was onmiddellik belangstelling.

    My probleem was dat die skrywer niks meer met sy teks te make wou hê nie. Hy woon al bykans twintig jaar in die buiteland en het sy geboorteland afgesweer. Toe ek hom per e-pos opspoor en baie versigtig navraag doen, was sy antwoord: Vat dit vir jou, dis alles waansin. Ek het nou ’n ander lewe.

    Verdere pogings om hom in die hande te kry het vir eers misluk. Die uitgewer meen dat die boek iets te sê het vir vandag se mens en ons het noodgedwonge besluit om onder my naam te publiseer.

    Wie is Verdomp? Op sy karige Facebook-blad, sonder ’n enkele foto, staan dat Hermanus Jakobus Frederik Verdomp op 1 Desember 1944 op Prieska gebore is. Daar het hy in die vyftiger- en vroeë sestigerjare skoolgegaan en in die feitevakke uitgeblink. Die kort Facebook-biografie, in Engels geskryf, sê hy het by die koerante gaan werk nadat hy sy skoolopleiding voltooi het. Hy beskryf homself as ’n expat wat in 1998 met sy eggenote na Australië geëmigreer het.

    Die teks is in die vorm van ’n dokumentêre roman, en dis in die middel jare tagtig op ’n plaas naby Petrusville laat lê.

    Ná dekades het die plaaseienaar die manuskrip weer in ’n laai gevind. Sy is ’n vriendin van my suster, en langs dié weg het dit my in die tweede helfte van 2015 bereik.

    Ná ons aanvanklik koelerige korrespondensie het ek twee maal daarin geslaag om met meneer Verdomp oor Skype te gesels. Ek moes sy toestemming vir die publikasie kry. Hy het steeds ’n knorrige indruk gemaak. Boonop was sy gesig op die Skype-beeld lank uitgerek, wat my aan ’n karperd laat dink het. Al wat hy bereid was om te bevestig is wat ek reeds geweet het, dat sy boek oor ’n rits uitsonderlike gebeure van amper vyftig jaar gelede handel, en dat hy as die redakteur van ’n plattelandse koerantjie in die Karoo die stories gedek het.

    Onder meer gaan dit daaroor dat identiese weergawes van sommige mense gelyktydig in dieselfde omgewing gesien is. In ander gevalle weer, is daar getuienis van persone wat hulself in meer as een lewe ervaar het op plekke wat duisende kilometers ver uit mekaar is. Die term doppelgängers bestaan in sprokies en legendes. Die boek praat van ewelewens.

    Die vraag is wat kon die alledaagse lewe so verwring het? Was dit dalk sinsbedrog, vererger deur ooglopende hoë vlakke van rassespanning? Wensdenkery? Die sterk godsdienstige sin en die afgesonderdheid van die gemeenskappe was waarskynlik ’n goeie teelaarde vir wêreldvreemde ervarings.

    Die volle waarheid slaan ’n mens se asem weg. Die vertelling suggereer ’n verbluffende natuurverskynsel en in my Nawoord verwys ek na strominge in die wetenskap wat verklarings kan bied.

    Ek het aanvanklik gedink plekname soos die Lyksovlakte en die Ampersand is versin want ek kon dit nêrens op enige land- of padkaarte, oud of nuut, kry nie. Toe ek die skrywer hieroor pols, het hy laat weet: Wel, dis presies daar waar die vreemdhede begin het, en ek het dit veels te laat agtergekom. Want daar by julle kom en gaan name mos soos mis. Ek kan maar net sê ek het dinge beskryf soos ek dit gesien gebeur het. En daardie was die name van die plekke.

    Die boek gee ’n intieme blik op ’n geslote kring gewone mense met wie ongewone dinge gebeur het. Die onwillige rol van Dirkie Verwey hierin was maar net die begin.

    My dank aan Rentia Melck wat gesorg het dat die teks onder my aandag kom. Nie die minste nie bedank ek die skrywer, meneer Verdomp. Sy beriggewing bevat uitsonderlike ondersoekende joernalistiek.

    Die foto’s en onderskrifte is deel van die roman, maar die voetnote is myne. In enkele gevalle is terme wat vandag nie meer aanvaarbaar is nie deur my verander, maar ek het ook daarvan behou. Daar moet in gedagte gehou word dat dit ’n wesenlike deel van die skrywer en sy tyd was.

    Ek sluit af met ’n SMS van Verdomp aan my: My storie kom aan uit die rigtings. Lesers moet terugsit. Klink dit of hy heimlik ingenome is met sy onverwagse skrywerskap? Ek hoop so.

    C-PN

    1

    1

    FOTO’S

    Vroeg Mei 1973

    Op ’n herfsnag in die vroeë jare sewentig het ’n klein gebeurtenis op ’n onbekende plek die fondamente van die wêreld geskud. Maar net ek het dit gevoel. Die aarde het liggies getril, soos ’n slapende reus oor wie duiwe geloop het.

    Vir my was dit selfs die begin van ’n nuwe lewensopvatting, een wat stelselmatig in episodes, soos in die radioverhale, aan my geopenbaar sou word.

    * * *

    Die onbekende plek was ons dorpie op die Lyksovlakte waar ek destyds my vaal, afgeleë lewe geslyt het.

    Dit was oom Kossie die koster wat die onraad bemerk het. Hy het oorkant die kerk in Kerkstraat gewoon. Dominee en sy vrou was op huisbesoek in die streek en in sulke tye was alle onraad in oom Kossie se hande.

    Dis wat hy gesien het: ’n flakkerende liggie, soos van ’n lantern of ’n kers, wat van binne deur die vensters van die kerk skyn. Hy het die straat oorgesteek.

    Die witgeverfde gebou had ’n kort dwarsbeuk aan die voorkant met ’n kloktoring in die middel en sykantteeltjies. Die vensters was ongekleurde, stemmige ysglas met loodinleggings wat soos visskubbe lyk, diep gesete in die naaldvormige nisse. Die historiese kerkvorm. Hier rond was nie wegbrekers nie.

    Oom Kossie het in die nagdonker die halfsirkelvormige trapstel bestyg en die donkerhoutkerkdeur met sy ovaal geronde bokant oopgestoot. Dit was ’n vroegweeksnag met geen kerkaktiwiteite beplan nie, en buitendien was God se deure snags gesluit. Wie op hierdie laat uur ’n lig binne aangesteek het was uit lewensnood daar, óf het ingebreek.

    Hy het ingestap en sy flitslig op en neer geswaai. Toe het hy die binnedeure oopgestoot wat die klein voorportaal van die gemeentelike ruimte skei en die ligte van die kerk teen die muur aangeskakel.

    Ek beskryf dit soos oom Kossie dit gesien het. Dis by hom wat ek die feite gekry het. Daar, voor in die kerk, het twee jong mense styf teen mekaar in een van die kerkbanke gesit. Dit het gelyk of hulle lywe ’n droomagtige lig uitstraal.

    Die jonge heer had die persoonlike styl van ’n laaistok. Die dametjie was meer buigsaam, soos vroue volgens oorlewering maar is. Hy kon hulle hoor praat, meestal die dametjie. Hy was stomgeslaan.

    Hy fluit van die agterbanke af dat sy draaisnor tril, en toe hy geen reaksie van die twee kry nie, besluit die gekromde ou man om nader te loop.

    Hy gaan staan toe aan die punt van die lang kerkbank waarin hulle sit, soos ’n diaken wat aandring op kollekte. Maar hulle sien hom steeds nie.Kan julle my hoor, vra hy. Wie is julle?

    En steeds: geen reaksie nie.

    Was hulle dalk van ’n inrigting vir dowes, op besoek aan die dorp? Toe sien hy wie dit is. Twee lidmaatskinders, trouens geruime jare self al lidmate van die gemeente: Dirkie Verwey, die half-dommeling, en Anna Bandjies. Sy was ’n mooi, volronde blondine. Haar ouers was gerespekteer in die distrik ondanks die feit dat hulle sukkelaars was.

    Ek het na asem gesnak toe ek hoor die meisie is Anna. Sy was my heimlike geliefde, die een wat ek dag en nag met onbaatsugtige vertedering in my gedagtes gekoester het. Ons het mekaar nog nie baie goed geken nie, ek en Anna, maar dit kon my begeertes min skeel. Ek was jare daarna nog, tot op die laaste, gek oor haar.

    Van die begin van my lewe op die dorp het ek die ideaal gekoester om haar eendag myne te maak, mý vrou, my lewensmaat, en ek sou hare wees. Sy was die vernaamste rede waarom ek wou asemhaal. Ek moes haar net so ver kry om my op ’n helder sonskyndag lank genoeg raak te sien.

    Oom Kossie het gou besef daar is fout, want die twee was nie met kerklike dinge besig nie. Hul nood was dalk lewensnood, ja, maar ’n ander soort as wat oom Kossie gewoond was om te sien. Hy was maar ’n oujongkêrel, die halfmaan-tipe soos ek, sonder wederhelf.

    Kan ek help met iets? het hy gevra. Hy het gou agtergekom sy hulp is van nul en gener waarde.

    Oom Kossie was nie die brildraende soort nie, hoewel dit allermins beteken hy was nie bysiende nie.

    En nou het hy lont geruik.

    Hy buk vorentoe, verder vorentoe, om beter te kan sien. Die meisie is wraggies halfkaal, met iets swewend aan haar maniere. Oom Kossie het nog gedink die lugreëling is per ongeluk aan, maar haar aansienlike weef hare, ’n pragtige skepping van God, het vanself só gesweef.

    Die man was ook kaalbolyf, en dit was glad nie somer nie. Sy hemp het hy oor die kerkbank voor hom gehang, en hulle het in mekaar se arms aangeleun, bene gevleg. Toe die koster dag maar genoeg nou hiervan, en hy half pieperig van die skok skree om hul aandag te eis, het hulle nouliks opgekyk en aangehou met mekaar.

    Die koster het die polisiehoof, sersant Kleinschmidt, gaan opklop. Hier was waaragtig moeilikheid. Dié het sy twee adjudante die konstabels saamgebring.

    Oom Kossie het intussen sy Kodakkie by die huis gaan haal.

    Hulle lyk soos spoke! was konstabel Lemmer se ter plaatse opmerking. Sy baas het hom dadelik aangesê om stil te bly oor sulke dinge. Dis toe dat hulle iets van die gesprek tussen die twee verliefdes kon hoor. Dirkie het hakkelend gepraat, dit was immers die vertraagde Verwey. Maar hy vertel haar die trein is amper hier en hy gaan nou weermag toe. En sy, die meisie, Anna, sê huilend sy dink nie hy gaan weer terugkom nie, sy weet hy gaan haar los vir ’n ander meisie. En sy soen hom oral op sy somerse bolyf, sy was skoon opdringerig. Alles so onvanpas.

    Kleinschmidt het gebulder: Vries! en toe draai Anna in die bank om en kyk reguit na die kamera. Dis waar die foto’s vandaan gekom het.

    Sy het haar kale self met oorkruisarms vasgeklou en gestaar met die blinderige uitdrukking van ’n mens wat op ’n ander plek is. Drie foto’s het oom Kossie van die byster paartjie geneem.

    Die polisiehoof het Anna beveel om dadelik haar rok, ’n ligte syagtige dingetjie by haar voete, aan te trek. Hy het in die ry afgestap en die twee hardhandig elk aan ’n oksel opgetrek. Of hulle nou gedink het hulle is op ’n stasie of in ’n ander soort droom gevang, feit is hulle was halfkaal in die huis van die Here.

    Die geregsdienaars en die koster het die twee in die konsistorie toegesluit en besluit om die ouerpare te gaan haal. Verwey was fors, maar daardie aand so lig soos ’n veer, swewend, soos die koster dit beskryf het. Kleinschmidt het hom met uiterste gemak gehanteer, iets wat normaalweg nie moontlik sou gewees het nie. Hy het hom met twee vingers konsistorie toe getrek asof hy ’n kartonbord is.

    Jy ken die res van die storie, het die koster vertel. Toe ons hulle wakker klop, vertel eers die een toe die ander ouerpaar hulle kinders slaap, daar moet ’n verwarring wees met twee ander jonges.

    Toe Anna se ouers hul dogter gaan wakker maak, het sy mor-mor van die slaap en in ’n stemmige kamerjas wat slordig aangetrek was, haar verskyning in die voorvertrek gemaak. Haar hare was in ’n dik koord agter haar rug gebind, vir die slaap natuurlik.

    Wat ’n allemintige bos hare. Dit was al skuins na middernag en sy het gelyk of sy al lank geslaap het, Verdomp.

    In die geval van die Verweys, het Ans op wankelende treë die slapende Dirkie in ’n annekskamer aan die besoekers gaan wys. Die mevrou was die tipe wat maklik trane stort en die besoekers is verseker dat Verwey deesdae nog skaars beweeg.

    Oom Kossie het oor sy woorde begin struikel. Hy lyk soos, wat is die woord, Verdomp, ’n gevallestudie, nee, ’n invalide, ’n gevallene, so iets. Die mevrou wou net aanmekaar huil en was baie verontskuldigend namens haar seun. Sy het die hele tyd onmoontlik, onmoontlik bly sê.

    Die ondersoekers is stomgeslaan terug kerk toe. Maar toe hulle die konsistorie oopsluit, is daar niemand binne nie! Die konsistorie het diefwering gehad, wegkomkans was min.

    Toe ek die storie vir die koerant opvolg, wou die stuurse Kleinschmidt glad nie praat nie.

    Die twee plase was myle buite die dorp, dis onmoontlik dat die twee vryers so vinnig kon beweeg het, selfs met ’n vervoermiddel. Hy was verleë.

    En hoe het hulle uit die konsistorie ontsnap?

    Daar was oom Kossie se foto’s. Hiermee was moeilik te stry. Duidelik wys al drie foto’s Anna Bandjies en Dirkie Verwey in die kerk. En, hoe het oom Kossie gesê? Daar is geen teken van ’n kamerjas hier nie, my vriend, kyk self.

    Die idee van Anna in ’n ander man se arms, selfs net die moontlikheid daarvan, was vir my swaar om te sluk.

    * * *

    Dit was die begin van die gesigte.

    En ek het geweet: Kleinschmidt sal nie hieroor gaan lê nie. Vir hom het iets onverklaarbaars net een verduideliking: iemand is skuldig aan iets. Ná soveel jare op die Lyksovlakte het ek die polisie geken.

    Hy het die dominee en die burgemeester oortuig om Dirkie en Anna voorlopig aanspreeklik te hou vir die kerkinsident …

    Voorlopig? Kan aanspreeklikheid voorlopig wees? Die man was buite weste.

    2

    DIE DROOM

    Middel Mei 1973

    Dit was so elfuur die oggend ’n paar Saterdae daarna, by my aan huis, van waar ek ook Die Weekpos se redaksiekantoor bedryf het, dat ek Anna se kant van die storie gehoor het.

    Sy het twee of drie keer per jaar by my kom tee drink, gewoonlik as sy dorp toe kom vir inkopies of iets dergeliks, besoekies wat vir my lewensbelangrik was sonder dat sy ’n benul daarvan kon gehad het. Ek vermoed die kuiertjies was net ’n manier om die tyd te verwyl terwyl sy wag vir haar geleentheid terug plaas toe. En vir my was die skamele uurtjie te kort om die mateloosheid van my liefde oor te dra.

    Die lig het in wye bundels deur die geboë erkers van die twee vertrekke aan weerskante van die stoepkamer na binne gestroom. Dit was hoë, slanke vensters, bruide van glas. Ek het die huis van die munisipaliteit gehuur.

    Die stoep was met gaas toegemaak en ek en Anna het in die poeletjie winterlig daar gaan sit. My huis was op ’n hoogtetjie en het lekker son gevang.

    Sy het vertel hoe die skinderstorie haar oorbluf laat, dat sy absoluut niks met so ’n insident te doen wil hê nie, en ja, ek moet haar asseblief, groot asseblief, gló. Sy was in ’n beige langbroek en ’n wit kraaghempie geklee, onhoudbaar stemmig vir haar. In die lig van dinge wou sy seker haar sindelike kant beklemtoon.

    Sy was baie ontsteld. Oor die onbehoorlike foto’s van haar in die polisieman se besit. En oor die feit dat sy en Dirkie weens die voorval nou mekaar se geselskap belet is ná ’n ontmoeting van die ouerpare en die polisiehoof. Sodat openbare sedelikheid bevorder kan word, glo. Maar veral oor nog iets.

    Sy verstaan nie, het sy gesê. Alles wat in die kerk tussen haar en Dirkie gebeur het, presies soos wat die koster en die polisiemanne dit gesien het, het sy in haar bed gedroom. Die droom moes min of meer op dieselfde tyd gebeur het. Dit besef sy nou, nadat Kleinschmidt die kerkinsident smalend aan haar in sy kantoor geskets het. Die tros het haar mos privaat ingeroep terwyl haar ouers in die aanklagkantoor gewag het.

    Kleinschmidt het ook sy storie ’n onnodige kleurtjie gegee. Waarmee sy bedoel het, dink ek, dat hy na haar blosende naaktheid op die foto’s verwys het.

    Ek kon my ore nie glo nie. In my droom was ek en Dirkie op ’n treinstasie, toe weer in die kerk, en sommer in die veld ook. Ag, jy weet mos hoe dit werk in drome, meneer Verdomp, ’n mens skuif maar bietjie rond. Maar die hele tyd was ons in mekaar se arms. Ek is mal oor Dirkie! Ek droom aanmekaar oor hom en ek weet hy droom oor my.

    Jy moet jou nie dinge oorverbeel nie.

    O ja, ek kan. En in my drome is Dirkie glad nie vertraag nie, hoor. Hy is wonderlik!

    Maar hoekom het jy jou klere uitgetrek? Ek kon hoor hoe seergemaak ek klink.

    Ek weet nie, dit was maar nét ’n droom. Anna was ’n vrou met ’n sterk gemoed, maar ek kon sien haar oë kry nou water. Ek weet nie! het sy heftig herhaal. Ek het maar net gedroom!

    Maar net …! En boonop oor die kerk.

    Die kerk was Dirkie se idee. Dit het koud geword, toe loop ons by die kerk in.

    Dirkie se idee?

    Sy idee in die droom, meneer Verdomp.

    Ek moes wonder of Anna weet van my eie drome oor haar. Dis toe dat sy haar hand in haar langbroeksak steek en een van die foto’s wat oom Kossie geneem het vir my wys.

    Sy het die foto’tjie tussen ons op die tafeltjie gesit. Van Kleinschmidt se lessenaar gesteel toe hy toilet toe is, vertel sy my. In die voorgrond van die foto is Anna besig om met groot oë na die kamera te kyk, en op die agtergrond, ook in die kerkbank, ’n bietjie vaer, is die gestalte van Dirkie Verwey. Hy kyk strak voor hom soos sy manier maar was. Haar arms is om sy nek geslaan en sy kyk oor haar skouer na die kamera. Haar kaal borste is gedeeltelik sigbaar van die kant af. Daar was wat gelyk het na ’n stralekrans om die koppe, soos mens soms kry op foto’s wat effens uit fokus is.

    Ek het na Anna daar langs my gekyk, en weer na die foto, en weer na Anna. Die vreemdste gewaarwording van my lewe was besig om in te sak, soos landsreën in sagte grond.

    Anna, het ek gesê. Dis nié jy hierdie nie. Sy lyk soos jy. Maar dis wraggies nié jy nie. Kyk!

    Toe bars Anna in trane uit. Presies! Dis Kleinschmidt se dinge, die vark! Hulle het ’n foto van my gemaak waarop ek nie is nie. Die trane het gevloei.

    Dis ook nie Dirkie nie, sê ek vir haar. Die hare lyk sagter en dit golf dan! Dirkie is borselkop. En hy is te skaam om op te wys op foto’s. Ek het hom al self reg van voor afgeneem en dan is daar later niks in die raampie nie.

    Anna het geknik en haar oë toegeknyp van die trane. Jy’s reg, meneer Verdomp … het sy amper onhoorbaar gesê.

    My hart was oorhoeks bly dat dit nie sy op die foto is nie. Maar die enigste ander moontlikheid het my winduit geslaan. Ek onthou nog die gevoel van uiterste verbasing, ná al die jare. My woorde was nog: Ek dink die waarheid is komplekser as Kleinschmidt se dinge, Annatjie.

    Dis vreeslik kompleks, meneer Verdomp! het sy sputterend tussen die trane deur beaam en my mismoedig om die hals geval. Met haar arms so om my nek het ek gehoop sy is nie te bewus van die boggel in my skouers nie.

    Hermanus, het sy gesê. Daar is nog iets waarvan ek jou moet vertel.

    Die kerkvensters waarin die droomagtige lig geskyn het. (Foto: Die Weekpos)

    2

    3

    DIE KOERANTBERIG

    Die vraag is: kon ek werklik al weet waaroor dit gaan? Want soos ek later sou agterkom, was die dinge groter as my vermoedens.

    Die foto-episode was deel van ’n groter raaisel, wat toentertyd veel meer kommer by my sou gewek het as ek maar net ’n benul gehad het. As ek nou terugdink, besef ek dit het in verband gestaan met die vyandige aanslag teen die land, met die vrees van mense om van hul kolletjie op die aardbol gevee te word.

    Daar was die besoek in 1971 van luitenant Nieman van die Veiligheidspolisie aan die drukpers waar my koerantjie destyds gedruk is. Die Veiligheidspolisie was en is mos belas met landsveiligheid. As ek reg onthou, was Nieman, met sy onskuldige groot bruin oë soos dié van ’n sint bernardhond, se woorde met die intrapslag: Jy weet waaroor dit gaan, Verdomp.

    Dit was moeilik om sy oë met sy aggressiewe houding in verband te bring. Ek het outomaties agter my proefleeslessenaar in die voorvertrek orent gekom.

    U bedoel … wou ek nog sê, sommer wys ek steek niks weg nie. Toe gebied hy my: Sjuut. Ons neem dáárdie. Hy het bedoel die koerante.

    Dit moet aanvanklik sommige berigte oor geweld van boere teenoor plaasarbeiders gewees het wat my koerantjie in die kollig geplaas het.

    Luitenant Nieman, wat ek nog nooit in my lewe gesien het nie, se blik het stadig oor die skamele interieur gerol, rustig, asof hy die plek nou net gekoop het. Hy het lank op die geraamde swart-en-wit foto teen die muur gefokus. Die vergrote portret was die enigste versiering aan die ongeverfde pleisterwerk. Dit was van Anna wat hokkie speel.

    Ek het dit ’n paar jaar tevore van buite die skoolheining met ’n zoemlens geneem. Kom ons sê maar die paparazzi-vlooi het my in plaaslike konteks gebyt.

    Nieman het homself en sy adjudant, ene Anderson, voorgestel. Al twee van die tak in Kimberley. Hulle soort kom in twees. Ek het vir Mina beduie maak tee, maar los, het Nieman terugbeduie. Toe loop hulle na die agtervertrek waar die koerantargiewe gehou is. Ek het gevolg soos ’n stertjie.

    Slegs dié? het ek gevra.

    Slegs. Ten minste wou hulle mý nie saamneem nie.

    Watter wet?

    Vra jou prokkie, het die adjudant geblaf. Hy sit toe ’n stewige hand oor my boarm. Ek dag ampers hy gee my ’n drukkie, van alle dinge. Toe ons so terugstap voordeur toe het my voete al hoe swaarder gevoel, en dis toe dat Nieman in die kosyn terugdraai om met my praat.

    Verdomp, jy ís ’n pennelekker. Maar moenie dit soos die waarheid laat klink nie, oukei? Die ander vent was reeds straataf met die oorskiet-eksemplare onder sy arm.

    Die staat sal besluit wat gebeur of nie gebeur het nie, Verdomp. Sit die stront in ’n liefdesverhaal of iets, man.

    Sy laaste was: Ek hou van jou. As jy na raad luister, sal jy veilig wees. Ek is ’n man van my woord. Hy het homself diep geglo. Ek wou-wou deur skaamte oorval word.

    Die eerste wat ek gedoen het, was om afdrukke van die belangrikste mikrofiche’e te maak. Die veiligheidsmanne het nog nie van die fiche’e uitgevind nie. In die bedryf het ons dit soos in die Engels vir visse uitgespreek.

    Ek het asemsnakkend uitgestap vir vars lug. Op die sypaadjie het ek die veiligheidspolisieman se laakbare opmerkings oordink. Waaroor sou hy dit gehad het?

    Ek kan onthou dat ek omgedraai het om die gebou te betrag. Miskien ’n voorgevoel? ’n Valerige eenverdiepinggebou op ’n hoek met die hoofstraat. Nooit sou ek kon gedink het dat hierdie gebou later nie meer daar sou wees nie. Poeiergroen sinknokdak. Ek het my voorvenster swart geverf gehad en dit het ’n paar duim bo die breë sypaadjievlak begin en amper die hele buitevlak beslaan. ’n Skuins oorhang van sink het die volle lengte van die sypaadjie tot aan die einde van die straatblok bedek.

    Die drukpers se smal deur was langs die vertoonvenster van die eenheid langs myne, Seejay’s, die algemene handelaar-koem-meubelwinkel van die Indiër. Hy wat later ’n Portugees geword het onder die wet. Dié se ingang was op die afgeskuinste hoek onder die dekoratiewe geweltjie. Aan die ander kant van my drukpers was die dubbeldeur van ’n kleinerige Ackermans.

    Ons dorpie was bekend as ’n groot dorp, op die rand van die Ampersand. Dit was voor die bou van die nuwe pad voortydig gestaak is en alles leeggeloop het. Waar die dorp eers verskeie strate met kerk en koöperasie gehad het, is soos ek hier skryf, veertien jaar ná daardie eerste besoek in 1971, niks van oor nie.

    Daardie besoek was twee jaar voor die episode met die halfkaalfoto’s van die jonge Anna. Sedertdien het Intelligensie my en my koerant op verskeie maniere geteister.

    ’n Jaar of twee voordat P.W. die noodtoestand afgekondig het, was hulle vir die laaste keer op die dorp (nou lelik agteruit). Dié slag by Die Weekpos se redaksiekantoor aan my huis in Steynstraat. Dit was 1983, soos die geskiedenis dit wou hê.

    Einste Nieman, hom dadelik herken. Moord in sy waterige oë. Die fiche’e. Fish! het hy gebulder, asof hy ’n militêre kodewoord kwytraak, en hy slaan met die safte rand van sy vuis op my lessenaar. Sy stem het plek-plek gebreek, hy was nie goed met bulder nie.

    Hy het inderdaad bedoel die mikrofilmargiefie waarop al die uitgawes van die koerant gestoor was! Ek het dit in ’n staalkissie in die groentelaai van my koelkas bewaar. Die fiche-skywe was my trots, dit was Bloemstadse tegnologie daai, en een maal ’n kwartaal het ek met my boel koerantjies soontoe gery om die piepklein skyfies te laat maak.

    Nieman het met ’n winkgebaar van die vingers bly herhaal: Die fiche’e, Verdomp, verdomp gee dit, man!

    Hy is met die fiche-biblioteek onder ’n arm daar vort, my tuisakwarium vol glimmerings, my lewe-in-bewaring! Sy laaste woorde was, hy het dit so half aan my uitgespel: Onthou: f-i-k-s-i-e. Al gehoor van? Daai’s jou kos. Los die waarheid vir grootmense.

    Dit was toe ek buite kom op daardie geleentheid dat ek kon sien die drukpers, doer in Persstraat, brand. Niks van oorgebly nie. ’n Grys kar met Kimberley-nommerplate het met tollende bande onder ’n kalkerige stofwolk weggetrek.

    Daar is dié dag twee ander wolke by my ingeprent, die groot swarte en die kleiner witte, wat uit die wordende puin getrek het. Verskillende stelle dokumente wat gebrand het, natuurlik. En net dáár het ek my herverbind tot die waarheid.

    Nou kyk, Veiligheid se valkoë was nog altyd oral, veral destyds. Later van tyd het ek agtergekom hulle werk boonop saam met die afdeling Okkulte Bedrywighede van die Suid-Afrikaanse Polisie teen my, oor ’n storie wat my koerantjie gedra het en waarvan Okkulte nie gehou het nie.

    Iets wat ek nie kon ontken nie, is dat onverklaarbare dinge, miskien nog altyd, op die Lyksovlakte gebeur het. Ek het gedink aan ’n gerug wat die ronde gedoen het, dat die Amerikaners kernafval in die Karoo stort. Miskien het die radioaktiwiteit hiervan buitenissighede veroorsaak.

    Só het my voorbladberig op Vrydag die 13de Desember 1974 gelui. Dit het die nonsens tussen my en die Veiligheidsmanne ’n gevaarlike hupstoot gegee:

    TONGE KLAP OOR RAAISELVERSKYNSEL

    ’n BOER van die omgewing glo ’n motel het oornag op sy plaas verskyn. Hy is absoluut dronkgeslaan hieroor.

    Mnr. Boer Verwey van die plaas Apiesdraai sê hy het nog nooit voor Woensdagoggend die gebouekompleks op sy grond gesien nie. Hy gebruik minstens twee kere ’n week die pad en die plaaswerkers loop elke dag daarlangs en het dit ook nog nooit gesien nie. Die motel, ’n tipe verblyf wat slaapplek vir motoriste bied met ’n afdak vir elke motor (foto hiernaas), staan sowat 200 meter van die ou hoofpad langs die inrypad wat na die plaas toe gaan.

    Die Weekpos kan getuig van ’n naambord waarop staan: Hide Out Motel. Built on historical ground – 100% refrigerated bar.

    By navraag het boukontrakteurs in die groter dorpe gesê hulle het geen wete van so ’n projek nie. Die mening is dat dit op ’n roete geleë is wat nie genoeg verkeer trek om ’n hotel ekonomies te maak nie.

    Sers. Kleinschmidt, bevelvoerder van die polisiekantoor hier op , het nuuskieriges gemaan om dit nie te naby te waag nie. Hy beskryf die verskynsel as ’n sweemgedoente. Die sersant het gesê boukundiges van die hoofstad sal geraadpleeg word.

    Van die pad se kant is nog ’n kleiner naambord te sien waarop staan: Inspection invited. Beide borde het woorde wat nie normaalweg op ons platteland voorkom nie.

    Om alles te kroon het ’n siener, wat naamloos wil bly, Die Weekpos gebel en die bousel beskryf as ’n kenmerkende Texas-boustyl. Sy meen dit dui op olie wat binnekort in die omgewing ontdek sal word.

    Die Weekpos sal sy lesers ingelig hou met verdere beriggewing.

    Eie nuus.

    Dit was die opspraakwekkendste gebeurtenis ooit op die Lykso. En nie slegs die bronstige Kleinschmidt, Lemmer en die koster van die kerk het dit gesien nie.

    En toe verdwyn die gebou weer. Dit was soos ’n vlieënde piering wat geland en weer vertrek het.

    Vir enigeen wat die vroeëre tekens gevolg het, soos die raaiselagtige foto’s van Anna in die kerk, sou die motel minder van ’n verrassing gewees het. Dis eers nou dat ek self die prentjie kan sien.

    VOETNOOT

    Verdomp haal die naam van sy dorp wat in die oorspronklike berig verskyn het deur en vermy enige gebruik van die pleknaam in sy boek. Ek vermoed hy het die risiko van vervolging probeer verminder, hoewel omringende plekname en plekverwysings wel voorkom.

    4

    VAN BEETHOVEN TOT AUSCHWITZ

    Julie 1964

    Een laatmiddag, tien jaar voor die verskyning van die motel, het ’n besoeker sy statige pers Plymouth by die leidammetjie, op die gruis langs die diepgroen grasperk, voor Boer se plaashuis geparkeer.

    My informant in die Verwey-gesin, wat my ook van hierdie besoek vertel het, was hý, die ouer seun, Alwyn. In my navrae het ek agtergekom dat die ouers en die jonger seun gereeld private inligting met Alwyn gedeel het, sodat hy meer van hulle geweet het as hulle van mekaar.

    Laatmiddag was die tyd wat Boer se spreiers aangaan. Dis asof ek daardie middag voor my oë kan sien afspeel asof dit nou is: ’n verdwene agtermiddag wat voortbestaan in ewigtyd.

    Aan die Plymouth se lugdraad pryk ’n stokstywe vlaggie met die woorde op: Welkom by ons, 1964! Twee mans loop by die stoeptrappies op en gaan die huis binne, die korter een se arm laag om die rysige besoeker se skouers.

    Altus en my pa was beste vriende, nie dat ‘vriende’ en my pa juis beste maats was nie, het Alwyn gegrap.

    Altus Bodenstein, beskermheer van die kunste, het vir Staatsveiligheid gewerk. Hy was ’n lang, maer man met ’n potloodstreepsnorretjie wat bo sy dun, aristokratiese lippe gepryk het.

    ’n Goeie verteller, Alwyn, sonder om te probeer. Ek kon my die situasie en die snorretjie goed voorstel.

    Verder had Altus ’n fynbesnede valkneus op ordelike gelaatstrekke. Sy donkerbruin hare was middelpaadjie en plat gebrylcreem. Hy sou skoene effens na buite gedraai staan, dunpuntskoene soos vlakwaterhaaie, en ken opgelig bo ’n uitsig uit tuur asof hy wil sien wat ágter is. Pal hande in die sakke behalwe as hy gaan sit, wat dikwels was. Dan het sy baadjie se agterflappe deur ’n stoelraam gesteek soos die stertvlerke van ’n Boeing, een van die kleineres, van binnelandse vlugte.

    Altus was altyd in ’n pak gesteek met bypassende das, dún das, skreefdun soos sy lippe. Sy hele uitrusting was effekleurig en vaag omlyn, soos mis bo die veld. Hy het die konnotasie gehad dat hy aantreklik is maar dalk onsigbaar in die skemer.

    Dinge sou lelik verkeerd loop dié kuierslag, het Alwyn my op ’n stofverwaaide Woensdagmiddag in Die Weekpos se kantoor meegedeel, terwyl die lig van die laat sewentigerjare deur die vensterrame spoel, ’n gelerige, siekerige soort lig.

    Die insident, het hy vertel, wys iets oor waarom my broer ’n stommeling geword het.

    Dit was ook die dag toe Dirkie, hy was twaalf en Alwyn veertien, die eerste keer van oom Altus se volkstalent gehoor het. Ek het Alwyn gevra om te verduidelik, want van so ’n soort talent het ek nog nooit verneem nie. Maar Alwyn het beduie moenie dinge vooruit loop nie.

    Altus Bodenstein was lief vir Beethoven. Af en toe Mozart, die 40ste. Selde gepraat. Miskien by die intrapslag, aan Boer Verwey, sy ou kollegevriend: Sit vir ons bietjie Beethoven op, Boer.

    Dan vly hy wat Bodenstein is hom in een van die gestoffeerde leunstoele neer, sy té lang arms soos lammervangervlerke oor die armleunings, slaphangende gewrigte, en baadjiemoue wat optrek tot onder die elmboë. En hy sê met aangedane oë: Beethoven was ’n genie, nè, Boer? Sy soort bestaan nie meer nie.

    Met dié woorde sou sy dun lippe nog dunner trek, oë op skrefies, asof daar nog afgereken gaan word met die verlies aan genieë.

    Boer Verwey was baie trots op sy vriend wat so een maal elke ses maande tussen stede kom draai maak het. Hy het nie omgegee oor Altus se geneigdheid tot swye nie. Hy het Altus verstaan. Altus was ook ’n genie.

    Oudergewoonte het Boer effens geaffekteerd ’n whisky vir sy vriend aangedra. Hy was in sy nugter grysblou safaripak geklee. Langbroek, vir die aand. Hy was breed van gewrig en goed gebou op ’n bonkige manier, met donker oë en ’n blas vel wat dik vertoon. Heelwat korter as Altus. Die sportpak was effens rekbaar en het in fletserige vlekke om sy boude en by die skouerknoppe gespan as hy beweeg.

    "Ludwig von Beethoven … mymer Altus hardop, terwyl ’n sonate op die draaitafel vyfuur se veldklanke buite verdring. Hy neem die glas by Boer. Dis hoe hy homself aan die koninklikes voorgestel het. Sy van was eintlik van. Hy was van die middestand. Hulle vanne was almal van." Altus Bodenstein self was van Carletonville.

    Ja-nee, sê Boer. Von was die aristokratiese vorm.

    Boer het vertonerig soos ’n konsertdirigent op die maat van die musiek begin dirigeer. Om sy vriend Altus, die majoor van Staatsveiligheid, die man van die Buro, te beïndruk. Boer wou nie baie mense beïndruk nie, maar Altus was ’n uitsondering.

    Hy het reeds die verbindingsdeure na die res van die huis toegemaak. Vroulief of die twee seuns moenie inkom as Altus kuier nie. Dan is dit man tot man en dit gaan oor die kunste. Die meeste van die praatwerk was Boer s’n. Auschwitz, een van die windhonde, het voor die toe deure met die mosterdkleurige ysglaspanele gelê en die wag gehou.

    Die kuierritueel was altyd dieselfde en natuurlik het ons twee broers hulle later van tyd probeer afkyk. Deur die venster of kamstig koffie aandra of so.

    Die musiek het Altus nou na aan trane, proestend van die weemoed. Om te dink, Boer, hy was … b-blínd, het Altus gesê. Hy verstik aan ’n sluk whisky. Verskoon my, maar dis tragies, Boer. Trek die gordyne asseblief toe. Kom ons luister … in die donker.

    As die whisky in die binnenshuise skemerdonker begin trek terwyl die son buite nog skyn, lánkuit rek soos ’n hond se tjank, soos ’n terroris se gô, slaan die twee vriende oor na brandewyn.

    Daarna sit Boer die lig aan en maak sy wakis oop. ’n Ou houtkis vol plate, opmekaar gestapel, country & western meestal – Virginia Lee, Caroline du Preez (geniale stem, blind), Lance James, Jody Wayne, Gene Rockwell (briljante man, in ’n rystoel), Leonore Veenemans, Mario Lanza, Gert Potgieter, Die Sangvoëls, Sing saam met Rocco, en meer. Dan tril die Karooveld buite, die klein blaartjies almal, geluidloos, in concert (uitgespreek konsert), wat volgens Altus die gehoorde eweknie van in camera is.

    Só het die jonge Dirkie en sy ouer broer hom leer ken: oom Altus. Altus was buitengewoon, afstandelik, hy was ’n luistervink. Dis iemand wat baie goed en ver kon hoor.

    Sy gawe was uitsonderlik en volmaak vir spioenasie. Die Buro van Staatsveiligheid het spesiaal vir hom ’n pos geskep. Die hoës van Militêre Inligting sou na Altus kom en hom vra om op ’n punt, sê vyf-en-twintig kilometer ver in ’n rigting dertig grade suid-suidwes, te konsentreer. Dan luister hy daardie punt af, presies, geen probleem nie. Of ’n ander hoë sou met ’n passer op ’n landkaart druk.

    Dit sou Altus sowat twintig minute neem om sy fokus in te stel met sy koppie sterk kitskoffie op die niervormige pastelkleurige koffietafeltjie van splinterbord langs hom, oë toe, gewrigte op die armleunings weerskante van hom geplaas, handpalms na bo.

    Die Sondagkoerant het jare ná hierdie kuier iets oor Altus in gehad om die vyand bietjie skrik te maak.

    Die duur van die operasie sou afhang van hoe ver die verdagte punt is. Langs sy koffie op die tafeltjie was ’n notaboekie waarin hy in vlugskrif sou krabbel. Dan maak hy sy oë weer toe, sit die pen neer, luister. Teen dié tyd sit hy kruisbene, hande tussen die lieste. Sy skouers is opgetrek, ’n onwillekeurig vroulike gebaar waaroor kollegas agter sy rug gespot het. Gelukkig was hy manlik in sy oortuigings.

    Altus se spesiale afluistervertrek was in Pretoria. Maar hy had ook satellietkantoortjies naby die buurstate. Hy was altyd in civvie-drag, soos dit ’n polisiegenie betaam.

    Dit was reeds etlike ure ná donker. Beethoven was vergete. Selfs Rudi Neitz het gekom en gegaan.

    By die sitkamervenster aan die buitekant het twee bruin oë deur die toegetrekte gordyne geloer. Binne het die twee mans hande op die heupe met mekaar gestaan en liggies heen en weer gewieg. Cry to Me op die draaitafel.

    Die oë was Dirkie s’n. Sit sy pa sy kop op die oom se skouer? Dit lyk of hulle wil huil.

    Net toe bemerk Boer sy seun. Vir ’n talmende oomblik het die pare oë mekaar aangestaar, harte versteen. Altus was nog van niks bewus nie. In dié stadium was hy waarskynlik op die gebruis in sy vriend se are ingestel, wat vir hom soos die Augrabies moes geklink het.

    Toe trek Boer los. Hy stamp sy vriend uit die pad, gee twee atletiese spronge tot by die venster en ruk die gordyne oop, ruk aan die handvatsel van die stoepdeur. Dirkie laat spaander, ’n windhond agterna. Nog twee windhonde skiet vorentoe vanuit die donker. Altus gryp na sy ore oor die geraas.

    Vang hom! en Die bliksem! het Alwyn tot in sy kamer gehoor.

    Boer trek die seun aan sy nek op die gras plat, daarna trek hy hom met een hand aan sy skof by die sitkamer in, ander hand oor die kind se mond. Die kind laat stroom geluidloos trane terwyl sy voete ampertjies sweef. Die windhonde besnuif sy enkels asof hy slaggoed is. Die deur word toegemaak, honde buite.

    Met jou gaan ons praat, sê Boer.

    Jissus, sê Altus. Hy vryf krampagtig oor die gladde skulp van sy geoliede hare en sak in ’n stoel neer.

    Iets verkeerd? kom Ans Verwey se hoë, benoude stem van anderkant die binnedeure. My liewe ma, sê Alwyn.

    Niks! was sy pa se antwoord. Hy het dit teruggeskree. Die musiek word afgehaal.

    Jy mag nóóit énigiemand vertel nie, hóór? Oom Altus sal dit weet. Sy bynaam is Ore. Verstaan? Boer het dringend en hard by Dirkie se oor gefluister.

    Oom Altus sal jou vang en doodskiet soos die vyand. Kyk hom in sy oë! Sy een hand het Dirkie se gesig hardhandig in Altus se rigting gedraai.

    Altus het strakker as die galg gelyk. Kom hier, seun. Het jy ’n meisie? Hy het met sy sysagte stem gepraat.

    Stilte.

    Jy sal uitvind. Wat jy doen moet die regte ding wees. Met die regte … soort mens.

    Altus het plegtig geklink. Ek gaan jou vir die res van jou lewe afluister, seker maak jy vertel niemand nie. Hoor?

    Dirkie se oë het geblink van verslaentheid en die twee mans se blikke vermy. Toe hy begin huil, ontslaan Altus hom gemaak vriendelik met ’n piets op die boude.

    Boer het Beethoven op die draaitafel teruggesit. Vir gesag. Ter wille van die kunste. Aan Dirkie het hy gesê: Moenie spioeneer nie, en hom uitgestuur.

    Later, net voordat Altus na die gastekamer verkas het vir die nag het Alwyn koffie ingedra en die volgende gehoor: Boer, is iets verkeerd met hom? Hy is so geslote soos ’n tor.

    Hy is nie myne nie, Altus.

    Mmm … Daar is al hoe meer vreemdes in ons midde. Soos Liddell se meidjie laas jaar, wat so deur die Bose bevlieg was. Wat sal doktor Verwoerd van alles dink?

    * * *

    Eenkant op sy tafelblad was Alwyn se bord met oorskiet. Wanneer Altus kuier, het die gesin in hul kamers geëet.

    Hy was agter sy lessenaar met skoolwerk besig toe Dirkie by sy kamer ingestrompel het vir troos. Die kind was verpletter oor wat gebeur het.

    Dit was nadat ek vroeër die petalje met my oor teen die ysglasdeure afgeluister het, het Alwyn my vertel.

    5

    WAT ALWYN MY NOG VERTEL HET

    Hy was lateraan net nie by sy volle positiewe nie. Dit het gelyk of hy wegkruip vir die wêreld, jy weet, binne-in homself. En, nou ja, ons weet waar dit vir hom geëindig het. My pa wou hê die weermag moet hom oproep dat hy uitgestryk kon word.

    Ons het in die voorvertrek van die drukpers langs die Heidelberg op regopstoele gesit en gesels, ek en Alwyn. Hy het op my aandrang oor sy broer gepraat. In die oorkantste hoek was my drukpers se marmersteen, wat iemand teen dié tyd seker as ’n grafsteen iewers gebruik.

    Nadat ek hom vertel het ek wil ’n boek skryf, het Alwyn ingestem tot ’n reeks onderhoude. Dit was toe al die vroeë jare tagtig en ons het af en toe bymekaargekom wanneer hy van Bloemstad oorgery het om vergeefs na die plaas, wat teen hierdie tyd in sy hande was, om te sien. Hy het homself reguit gemaak teen die stoel se rug en ’n veraf blik in sy oë gekry.

    "Ek weet nie hoeveel jy weet nie, Hermanus, so ek begin maar voor. Dirkie was so twintig. Ons praat 1972. Sonder matriek uit die skool. Hy het steeds in die aangeboude woonstelletjie by my ma-hulle gewoon. In sy eie private wêreldjie.

    "Dié jaar, soos die vorige jare, het hy maar gewag om in die weermag op te gaan. Hulle sou nog nie geweet het van sy probleme nie.

    Terloops, wanneer gaan dit eindig, Verdomp, hierdie skynvrede? Diensplig gaan seker een van die dae drie jaar word? Ek stel dit self maar so lank moontlik uit.

    Ja-nee, bly dis nie my deel nie. Een van die oues van dae, mos, skerts ek.

    In elk geval, sê Alwyn, jaar ná jaar is Dirkie se oproep oorgeslaan. ’n Jammerte, want hy was nie universiteitsmateriaal nie. En daar was die probleem dat hy nie getel kan word nie.

    Dit is tot vandag toe een van die vreemdste stories wat ek in my lewe gehoor het.

    Wat gaan van jou word as hulle jou nie kan tel nie! was my ma se kommer. Sy sou aanhoudend dié soort uitroepe kwytraak en huilerig raak. Jy kan die situasie verstaan, Hermanus. Dit het gelyk of Dirkie die vermoë kortkom om amptelik te bestaan.

    Wat ’n hartseer storie, en ek maak toe maar ’n soort grappie om die lug dunner te kry. Amper soos die swartes …

    Alwyn het gelag, maar sonder oortuiging. "Amper só. Elk geval, die kadette-onderwyser, ou Smittie, wat so gesluk het aan sy woorde dat my ma gesê het hy sluk lugaartappels, het gedink Dirkie is ’n weermagrisiko. Sy gevoel was moenie hoop nie. Maar pa was onkeerbaar. Hy’t self Tempe toe gery en gevra dat my broer opgeroep word.

    Verdomp, het Alwyn Verwey gesê en in vertroue na my oorgeleun waar ek agter my proefleeslessenaar sit. Sy verdomde vorms kon óók nie getel word nie! Ons skater. Maar ek besef die saak was ernstig.

    In elk geval, die intussenlewe vat mos maar sy loop. Toe ek een naweek van Bloem af by my ouers kuier, vertel Dirkie my van sy besoekies aan Anna. So twee of drie. Hy was volslae verlief op dié Anna-meisie. Waar in die wêreld is sy nou? In elk geval, aanduidings was sy was erg oor hom ook. Dit was miskien een van die laaste kere dat hy op ’n logiese manier met my gepraat het.

    6

    LAASTE

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1