Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Onder 'n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika: 'n Memoir
Onder 'n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika: 'n Memoir
Onder 'n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika: 'n Memoir
Ebook600 pages11 hours

Onder 'n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika: 'n Memoir

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Die skrywer woon in Den Haag, maar kom terug Suid-Afrika toe vir die begrafnis van haar vriend, Ruben, wat saam met sy ma in ʼn plaasmoord vermoor is. Dié reis lei terug na ander reise: Van haar kinderjare in ʼn streng Nasionale huishouding na Umtata, waar sy gaan klasgee en verlief raak op ʼn swart kollega. Na Hillbrow, waar hulle onwettig saamwoon en aktief is in skrywersirkels. Tot geweld ook hul verhouding binnedring. Die laaste reis is 'n soektog na hoe sy die moordenaars kan vestaan.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateMay 17, 2023
ISBN9780624093602
Onder 'n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika: 'n Memoir
Author

Annemarié van Niekerk

Annemarié van Niekerk is boekresensent by Trouw, een van Nederland se drie topkoerante. Sy doen ook vryskutwerk vir Suid-Afrikaanse media en uitgewerye. Sy is die samesteller van drie bundels en hoogs-aanprese skrywer van Om het hart terug te brengen, die Nederlandse weergawe van haar memoir.

Related to Onder 'n bloedrooi hemel

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Onder 'n bloedrooi hemel

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Onder 'n bloedrooi hemel - Annemarié van Niekerk

    9780624089810_FC

    Skrywers werk lank en doen intense navorsing om ’n boek te skep wat uiteindelik gepubliseer word. Die e-boekweergawe van so ’n titel is, net soos die gedrukte uitgawe, nie gratis nie. Daarom mag jy nie die e-boek gratis versprei nie, maar moet jy dit by ’n gemagtigde e-boekhandelaar koop. Indien jy die e-boek gratis versprei, oortree jy die Wet op Outeursreg 98 van 1978 en stel jy jouself bloot aan vervolging.

    Annemarié van Niekerk

    Onder ’n

    Bloedrooi

    Hemel

    Liefde en geweld in Suid-Afrika

    ’N MEMOIR

    Tafelberg

    Hierdie publikasie is moontlik gemaak deur geldelike steun van die Nederlandse Stigting vir Letterkunde.

    Onder ’n bloedrooi hemel het tegelykertyd in Afrikaans en Nederlands tot stand gekom, en is in 2021 in Nederlands as Om het hart terug te brengen gepubliseer. Die Nederlandse weergawe is aangepas en verwerk vir die Suid-Afrikaanse leser. Die terugvertaling na Afrikaans is deur Daniel Hugo behartig in noue samewerking met Annemarié van Niekerk.

    Ter nagedagtenis aan Ruben Gouws

    (26 Junie 1950 – 15 Augustus 2015)

    en alle slagoffers van geweld in Suid-Afrika.

    I wanted to find the line that connected me to my own part in these stories.

    Teju Cole, Open City

    … if it were only the story of my life, I think I would not tell it; for what is one man that he should make much of his winters, even when they bend him like a heavy snow?

    Heháka Sápa (Black Elk, 1863-1950)

    Under a blood red sky

    A crowd has gathered in black and white

    Arms entwined, the chosen few

    The newspaper says, says

    Say it’s true, it’s true

    And we can break through

    Though torn in two

    We can be one

    I, I will begin again

    I, I will begin again

    New Year’s Day van die album War (1983) deur U2

    VERANTWOORDING

    Onder ’n bloedrooi hemel is gebaseer op historiese, biografiese en outobiografiese gegewens, gefilter deur die geheue en die verbeelding. Anything processed by memory is fiction, skryf David Shields in Reality Hunger: A Manifesto. Omdat die boek oorwegend geënt is op die verhalende prinsipes van die roman, hoort dit tuis by faction – ’n plooibare genre wat, danksy onder meer Truman Capote se klassieke boek In Cold Blood, wydverspreide erkenning gekry het.

    Sommige name van bestaande persone is vervang deur fiktiewe name, en sommige biografiese en ander persoonsgegewens aangepas ter beskerming van privaatheid. Alle gesprekke is óf fiktief óf gebaseer op herinneringe óf ontleen aan bestaande bronne.

    Ter wille van die verhaal is die chronologie van die gebeurtenisse hier en daar verander en is sekere aspekte van my lewe weggelaat.

    AANTEKENING

    Ek maak in hierdie boek geen onderskeid tussen swart mense en bruin mense nie, maar verwys na alle mense van kleur as swart mense. Uitsonderings op hierdie reël word slegs gemaak waar dit noodsaaklik is.

    Ek gebruik die woord bediende in plaas van huishulp wanneer ek van my kinderdae vertel omdat dit die woord is wat ons destyds gebruik het.

    Ek gebruik die woord blank in plaas van wit wanneer ek vertel van die tyd toe die woord nog algemeen in gebruik was.

    Ek gebruik die ou name van dorpe, stede en plekke wanneer dit gaan oor die tydperk voordat hulle deur nuwe name vervang is.

    STAMBOOM

    Die dag

    Ida

    15 Augustus 2015

    1

    Jy moet ’n gedetailleerde kaart hê om Ida te kan opspoor. En as jy dit kry, is dit net ’n stippeltjie in die noordelike deel van die Oos-Kaap tussen die dorpe Indwe en Elliot. Wanneer jy op die R56 ry, oorweldig deur die skoonheid van die landskap, is jy verby voordat jy dit weet.

    Die naambord met sy drie letters het beter tye geken. As jy dit nie wil mis nie, is dit miskien beter om die GPS te volg: 31°24’0S, 26°33’0O.

    Eers as jy by die bord na Ida toe afdraai, sien jy dat hier mense woon. Jy kan links óf regs afdraai. Kom jy op die R56 van Elliot se kant af en swenk jy by die bord linksaf op die grondpad, sien jy ná ’n entjie aan die linkerkant ’n verlate kapelletjie met ’n rooi dak en ’n kerkhoffie. Daar is ’n familiegraf waar ene Donald Edgar Thornton saam met vier familielede lê en langsaan hulle nog vier enkelgrafte, reg langs mekaar. Op winderige dae lyk dit of die sandsteenkerkie en die begraafplaas deur die wiegende grashalms getroos word vanweë die stilte en die eensaamheid. Hier is geen boom of skaduwee om ’n sterfling geselskap te hou nie. Ondanks die verlatenheid word die kapelletjie netjies onderhou – ’n bewys dat hier tog mense kom. Miskien nasate van die Thorntons. Afgesien van die asem van die wind deur die lang gras en af en toe die gekwetter van ’n vink, swyg die aarde meestal hier.

    Dis nie die soort swygsaamheid waarin vrae onbeantwoord bly nie, dis eerder die stilswyende gelatenheid en aanvaarding wat alle vrae ophef. Almal hier ken mekaar, is gewoond aan mekaar se roetines en gewoontes, weet wat wat is, wat verwag kan word en waarop daar nie meer gehoop hoef te word nie. Daar is nie veel om te vra nie. Wanneer daar so nou en dan tog ’n vraag opduik, gaan dit dikwels oor die polisievoertuie by die polisiekantoor. Want ’n entjie verder aan verdeel die grondpad in die twee arms van ’n Y. Volg jy die linkerarm, sien jy aan die regterkant die polisiestasie, waar op stil dae ’n paar polisievoertuie staan en wag vir iets om te gebeur. As hulle weg is, wonder die mense wat hier verbykom of daar dalk êrens iets gebeur het. Dan word daar gebel of via die burgerbandradio gevra of iemand miskien weet wat aangaan.

    Die polisiestasie bestaan uit vyf langwerpige geboue wat lyk soos blokkies wat sommerso tussen die berge neergesit is vir een of ander speletjie. Hulle is pienk geverf met potblou dakke wat op helder dae – en dis meestal helder hier – een word met die hemel daarbo, sodat dit lyk of die pienk mure nog dakke móét kry. Verder aan staan ’n klompie bloekombome, maar te ver weg om die vyf geboue in die somermaande ’n bietjie skaduwee te gee. Bo-op elke dak priem ’n weerligafleier die blou lug in.

    Watter arm van die Y jy ook al kies, jy ry verby plase en niks anders nie. Net soos die titel op die omslag van ’n boek, suggereer die rigtingwyser na elke plaas toe ’n eie verhaal. Maar as jy die besonderhede daarvan wil hoor, sal jy die bordjies moet volg en met die mense gaan praat. Elke huis ken sy stories, stories wat geslagte ver teruggaan.

    Wanneer jy by die afdraai na Ida in plaas van links liewer regs draai, kom jy eers by ’n plaashuis met buitegeboue, en ’n entjie verder by nog ’n kerk, moderner as die een by die polisiestasie. Voordat die pad na links draai, ry jy verby ’n dam en nog ’n paar geboue wat op ’n hopie bymekaar staan. Na gelang van die tyd van die dag, sien jy kort ná die draai die sonlig se weerkaatsing op ’n rytjie vensters van ’n skooltjie. En na gelang van die dag van die week en die tyd van die dag, sal jy miskien kinders op die skoolterrein sien sokker speel.

    As jy verder oor die Mbokotwarivier ry en verby ’n volgende plaas, kom jy weer by ’n vurk in die pad. Hou jy hier links, dan ry jy dit mis, maar gaan jy regs, sien jy dit: die winkel, die skuur en die twee woonhuise. Eers die verwaarloosde plaaswinkel aan die linkerkant van die grondpad, met sy enkele brandstofpomp, geroes deur tientalle jare van wind en weer. Die winkel aan die een kant en die twee huise aan die ander kant van die pad kyk mekaar al byna honderd jaar lank reg in die gesig. Hulle is al so lank op mekaar aangewese dat hulle amper blind geword het vir mekaar se eienaardighede, net soos ’n man en ’n vrou wat al ’n leeftyd lank by dieselfde kombuistafel, sonder veel afwisseling van die spyskaart, uit dieselfde borde en met dieselfde messe en vurke eet, en vergeet het wanneer die een se oë dof en die kepe om die ander een se mond dieper geword het. Pinevale. In samehorigheid verknog en verbind.

    Die opstal bestaan uit twee dele. Eintlik is dit twee aparte huise wat soos dag en nag van mekaar verskil. Die een aan die linkerkant is vaalwit, log en vierkantig, met ’n sinkdak wat beter dae geken het. Die een aan die regterkant, wat deur ’n klein oopte van die linkereen geskei is, was in die verlede ’n stal en is in die vroeë negentigerjare herbou tot ’n H-vormige woonhuis – ’n H met ’n langerige stuk tussen die twee vleuels. Oor die lengte van die voorkant loop ’n stoep met ’n sinkdak op vier houtpilare en wit Victoriaanse kantwerk van gietyster, wat vroeër, voor die verval ingetree het, elegant gelyk het. Daar is besluit om die huis ’n flambojante blou te verf, so blou soos die Middellandse See rondom die Griekse eilande. In die stad sou niemand dit as eksentriek beskou nie, maar dit is Ida, en niemand verbeel hom hier iets nie, nog minder die bewoners van Pinevale.

    Al het die 88-jarige tannie Hermien Gouws ’n ondeunde vonkeling in haar oë wat dit duidelik maak waarom haar kleinkinders haar ons stout ouma noem – die ouma wat altyd reg is met ’n grappie of ’n poets – is sy ’n stoere maar ook saggeaarde boervrou sonder enige aansittery. Haar 65-jarige seun Ruben, wat in die blou huis woon, is ’n beskeie, skugter man met net so ’n goeie hart soos sy ma. Nxeba – die genadige gewer – so word hy deur die Xhosas in die omgewing genoem.

    Aangesien die asuurblou kleur van die huis niks te doen het met pretensie nie, sou dit miskien die uiting kon wees van ’n onderdrukte verlange na iets ver weg wat op ’n onbewaakte oomblik ontsnap het. Die mense van Ida het stilswyend gefrons toe die verwers die groot blikke Plascon-verf oopmaak, hul lere teen die mure staanmaak en met hul verfrollers aan die werk spring. Praatjies het die rondte begin doen en sommige daarvan het by tannie Hermien en haar seun uitgekom. ’n Klap in die gesig van Ida, is gesê. Buitensporig. Ander het dit pronkerig en vergesog genoem. Skielik het die boere se woordeskat lewe gekry in ’n gemeenskap wat normaalweg nie baie welsprekend is nie. Nie net het hul woordeskat toegeneem nie, maar ook hul morele oordeel. Sommige uitsprake was op tannie Hermien gemik. Hoe kan sy dit toelaat? In ander gevalle was Ruben die teiken. Hy lees te veel boeke en gedigte. En: Dit kom nou daarvan as ’n man kuns versamel en foto’s neem in plaas van om ’n vrou te vat.

    Dit het Ruben gekwets toe die praatjies hom bereik. Maar op sy kenmerkende ingehoue manier was hy koppig genoeg om vol te hou tot dit vanselfsprekend begin lyk het en die blou huis by Pinevale begin hoort het. Geleidelik het die inwoners van Ida daaraan gewoond geraak en het daar ander dinge gekom om oor te praat. Boonop het die kleur met die jare verbleik, saam met die aftakeling van die werf.

    Ná Pinevale kom jy min teë, behalwe die oop veld met veeheinings, die rigtingwysers na ander plase en in die verte die opstalle waar die een generasie ná die ander leef en sterf. ’n Entjie weg van elke plaashuis staan die arbeidershuisies, meestal op ’n hopie bymekaar, uitgelewer aan die elemente: in die somer die versengende hitte waaronder die landskap blaker tot die uur van die aandkoelte, wat eers aanbreek wanneer lyne en vorms in die skemerdonker inmekaar vervloei; en in die winter ’n ysige koue, wat mense, diere en die veld stil laat wag op die einde van die dooie seisoen. Aan die horison doem die Drakensberge op. Nader aan God se genade kan ’n mens nie kom nie, sê sommige mense. Maar ander beskou Ida as ’n godverlate plek.

    As jy tog wonder of hier iets van God se genade te bespeur is, is dit ’n goeie idee om met die bergpas op te ry. Aan die begin kom jy ’n bordjie teë waarop staan: OTTO DU PLESSISPAS. Maar wanneer jy in Ida rondvra oor Otto du Plessis, kan byna niemand jou vertel dat hy destyds ’n politikus was nie, onder meer minister van gesondheid – en dat ’n hospitaal in Bredasdorp, ’n skool in Port Elizabeth, ’n hoofweg in die voorstede van Kaapstad én die berugte pad wat in die Swartberg na Die Hel lei, almal na hom vernoem is. Miskien wil die mense liewer nie oor die verlede praat nie. Of miskien weet hulle dit doodgewoon nie.

    Al kronkelend neem die pas jou verby landerye, deur bosse, oor bergstroompies en met die een haarnaalddraai ná die ander deur sandsteenklowe tot hoog in die ruwe berge. As jy dapper genoeg is, kan jy uitklim om ondertoe te kyk. Of om boontoe te kyk. Of om vanaf die meer as 2 000 meter hoë bergtop oor die Tsomovallei ver verby alles te kyk. Heeltemal alleen is jy nie, want die kans is groot dat jy die oranjeborsberglyster sal hoor sing of ’n paar grondspegte of sysies sal teëkom wat teen die steil bergwande nesmaak.

    Die inwoners van Ida was nie verbaas toe ’n reistydskrif skryf dat die bergpas een van die skouspelagtigste in die land is nie. Maar sulke toeristiese praatjies kan hulle min skeel, want watter praktiese nut het die pas eintlik vandag nog? Dit is nie ’n hoofroete nie, en ook nie ’n kortpad nie. Dit is pure toeval dat Ida aan die suidelike punt lê en Clifford aan die noordekant. As jy tog daar beland – stadig, want die pad is sleg en smal – en daar kom ’n voertuig van voor af, dan trek jy jou oë op skrefies om die bestuurder se gesigsuitdrukking te peil, en as daar passasiers in die voertuig is, ook hulle s’n. Jy wonder wat hulle daar doen, of hulle probleme het en dalk hulp nodig het. Indien dit nie ’n viertrekvoertuig is nie, is jy waarskynlik reg en as dit reën, is jou vermoede heeltemal korrek. Niemand waag dit hier sonder ’n 4x4 as dit reën of pas gereën het nie.

    Vanaf hierdie hoogte kan ’n mens goed sien dat Ida deur plase omring is, meestal beesplase. Hier en daar word ook mielies verbou en met skape geboer. Maar die meeste boere het eintlik met skaapboerdery opgehou – te veel kleinvee verdwyn. Net soos in talle ander distrikte is veediefstal ook hier ’n groot probleem. Baie mense hier het bitter min geld en kos. Die meerderheid is swart, jonk, werkloos en brandarm. In die dorpe sien jy hulle lusteloos rondhang. Boonop word die gemeenskap verlam deur die tempo waarteen VIGS die sterftesyfer opjaag, veral onder die jongmense. In groot dele van die townships is daar ook ’n nypende tekort aan skoon water en sanitêre dienste, sodat ook cholera bydra tot die sterftes.

    Maar hier bo van die bergtoppe af sien jy die genade van God: die plase wat rondom Ida uitwaaier, met vreedsame name soos Paradys en Heimat, Fredenrich en Dochendores, Pinevale, The Falls en The Springs, name wat die geskiedenis vertel van pioniers uit Nederland, Duitsland en Engeland, en hul nakomelinge wat nog altyd hier woon. Sommige, soos Heimat, waar die Stötters met ’n enorme trop Sussexbeeste boer, is spogplase met welgestelde boere. Ander, soos Pinevale, waarvan die huis destyds deur ene Clem Bouwer opgerig is en later saam met die grond oorgegaan het na Jan Jacobus Gouws, is eenvoudiger.

    Al is die glorietyd van Pinevale verby, is die plaas steeds bekend in die omgewing. Dit het te doen met tannie Hermien se winkel. Sy is gebore op Skalpa, maar woon al 63 jaar op Pinevale, waar sy vier van haar ses kinders in die lewe gebring het. Chris, haar tweede seun, was 18 maande oud toe hulle in 1954 hierheen verhuis het. Sy is die oudste vrou in die omgewing, oftewel die oudste wit vrou. Statistieke gaan meestal oor wit mense. Swart mense tel nie eintlik nie, behalwe as dit oor misdaadsyfers gaan. Die einde van apartheid mag baie dinge in Suid-Afrika verander het, maar die demografie op hierdie afgeleë platteland is net so stabiel soos die geloof en die tradisies van die mense. Die meeste boere is nog altyd wit en die arbeiders swart. Uitsonderings daar gelaat, sorg die lewensomstandighede van die boere – gegoed of minder gegoed – dat hulle nie ’n deel uitmaak van die groep wat deur VIGS uitgewis word nie. Hul kinders vind meestal tog ’n uitweg om aan die stygende werkloosheid te ontsnap. Vir die swart werkers is dit anders.

    2

    Tannie Hermien staan al lank nie meer die hele dag op haar voete agter die houttoonbank van haar winkel nie. Sy is te oud daarvoor en loop nie meer so maklik nie. Dit is ook nie meer nodig nie. Die mense van die omgewing weet hoe dit werk en vreemdelinge kom byna nooit hier nie. As daar tog ’n keer verdwaalde reisigers verbykom, dalk gelok deur die mooi dinge wat die reisgids oor die bergpas sê, sal hulle waarskynlik nie eens merk dat die verwaarloosde skuur ’n winkel huisves nie. En as jy ná sluitingstyd deur die vensters aan weerskante van die deur probeer kyk, word jy nie veel wyser nie, want as tannie Hermien die winkeldeur agter haar sluit, skakel sy uit gewoonte, maar veral getrou aan haar spaarsamigheid – dié van ’n vrou wat haar ses kinders met ’n beperkte begroting moes voed en klee – die lig af en die skemerige winkel verdwyn in die duister.

    Die afgeskilferde verflae op die deur wat sy agter haar toetrek, vertel hul eie verhale. Soos die verfomfaaide bladsye van ’n familiekroniek bevat hulle die geskiedenis van die opeenvolgende geslagte wat by die skuur in- en uitgeloop het. Die onderste laag is deftig donkerblou, dan kom ’n dekade of later se bottelgroen, dan ’n periode van osbloedrooi en ’n optimistiese tydperk van kanariegeel, gevolg deur die huidige asuurblou – een van die Plascon-blikke was nog halfvol toe die huis klaar geverf is.

    Deesdae is die mense wat hier kom koop veral swart werkers van die naburige plase, hul kleingeld toegeknoop in beswete sakdoeke wat hulle styf vashou of uit hul broeksakke vroetel. Vroue wat met papiergeld betaal, diep dit van iewers tussen hul borste op. Wil iemand iets uit die winkel hê, roep hulle sommer vanaf die winkelstoep. As tannie Hermien dan van die huis af terugroep: Ek kom! bly hulle staan tot sy daar is. As sy roep: Wag ’n bietjie! gaan hulle op die sementtrap voor die winkel in die son sit. Dit is nou in die koue maande; in die somer sit hulle liewer in die skaduwee van die groot peperboom of leun onder die afdakkie teen die winkelmuur. Almal het genoeg tyd om ’n halfuurtjie te wag en ’n praatjie te maak. Wanneer tannie Hermien nie antwoord nie, klop die mense aan haar huis se agterdeur, want dis moontlik dat sy dut en haar gehoor is ook nie meer wat dit was nie.

    Vroeër jare, toe sy met die winkel begin het, was dit anders. Toe het sy nog rolle materiaal in voorraad gehad wat sy uit katalogusse bestel het of wat oom Cobus vir haar gekoop het as hy vir die veevendusie in Bloemfontein moes wees. Wanneer een van haar kennisse om een of ander rede Kaap toe moes gaan, het tannie Hermien gevra of hulle van die Parade ’n paar rolle gordynmateriaal en ander lap sou saambring. Plastiektafeldoeke was ook gewild. Op die materiaaltoonbank het mandjies gestaan met naaldwerkpatrone, brei- en hekelpenne, en wol en gare. As die storie geloop het dat nuwe materiaal of wol aangekom het, het die boervroue ’n draai en ’n geselsie kom maak. Daardie tyd het sy nog vaste ure in die winkel gewerk, lang ure wat eensaam kon wees. Om die tyd om te kry het sy agter haar tafel – waarop die ketel, koffie-, tee- en suikerblikke, bekers en teelepeltjies, en ’n stapel tydskrifte gestaan het – gaan sit en blokkiesraaisels ingevul met een oog op die horlosie teen die muur. In die agtergrond het die radio gespeel, selfs al was die ontvangs nie honderd persent nie.

    Met die verloop van jare het dinge verander. Op die plek wat sy naam aan ’n hele klomp dennebome te danke het, is nou geen den meer in sig nie. Hulle het in die slag gebly nadat ’n swerm heilige ibisse daar kom nesmaak het. Tot op daardie stadium het die jong Ruben die woord heilig nog net in die kerk gehoor, of in die Sondagskool, of wanneer Mammie vir hom en sy broertjie Chris uit die Bybel voorlees. Hy het goed na hulle gekyk en gesien hulle is anders as gewone ibisse. Van toe af het hy op ’n nuwe manier na voëls begin kyk, ’n fassinasie met hulle begin ontwikkel en in hul vere iets opgemerk wat hom op ’n raaiselagtige manier aangetrek het. In hulle geselskap het hy veilig en gerus gevoel. Asof aangetrek deur die kind se fassinasie het daar al hoe meer heilige ibisse op Pinevale aangekom, mettertyd so baie dat die denne op die werf nie genoeg was vir almal om nes te maak nie. En die neste wat wel daar was, was só vol dat die kleintjies soms uitgeval het.

    Eendag het Pappie van oom Botha se plaas af teruggekom met ’n treksaag. Hy het genoeg gehad van die ibisse, die neste, die dooie voëltjies onder die bome en al die voëlmis. Sigbaar tevrede het hy begin om die denne een vir een af te saag. Die seuns het ’n entjie weg gestaan en kyk sonder om ’n woord te sê. Dit het gevoel na heiligskennis. Die heilige ibisse wat, anders as hul soortgenote, die lawaaierige hadidas, stil van aard is, het paniekerig begin krys en met klappende vlerke opgefladder. Toe Cobus en sy werkers klaar was en die ibisse weggevlug het, het Pinevale soos ’n slagveld gelyk. Nog lank daarna sou die skril klanke van die wegvliegende voëls in Ruben se nagmerries terugkom. Of dit nou presies was wat werklik gebeur het en of die drome deur die jare helderder as die realiteit geword het, was hy later ook nie meer seker van nie.

    Maar dit was lank gelede. Tannie Hermien vul nou haar blokkiesraaisels in die huis se woonkamer in. Haar vriendin Louise Stötter van die buurplaas Heimat kom elke oggend om tienuur koffie drink en help met die blokkiesraaisel. Smiddags, wanneer Ruben terugkom van die plaasskooltjie waarvan hy die hoof is en met ’n koppie tee en stuk karringmelkbeskuit sit en uitrus, kom Mammie by hom sit, met haar voorskoot nog aan en ’n tydskrif en hekelwerkie in haar hand.

    Dit was weer ’n moeilike een vandag. Daar is ’n paar wat ek en Louise nie kon kry nie. Só begin die namiddaggesprek dikwels.

    Sê maar, Mammie, dan kyk ek of ek kan help.

    Dan soek hulle een vir een die korrekte woorde en vergeet Ruben ’n rukkie lank sy kommer oor die honger en verwaarloosde leerlinge en waar hy die geld vandaan moet kry om die skooltjie se fotostaatmasjien en al die ander goed wat stukkend is, te laat regmaak. Wanneer hy ná ’n halfuur of wat voel dat hy sy plig teenoor Mammie nagekom het, doen hy eers die rondte by sy voëlhokke om te sien of alles in orde is, en gaan sit dan by die eetkamertafel om sy lesse vir die volgende dag voor te berei. Sodra hy daarmee klaar is en Mammie, al pratend met haarself, met die voorbereidings vir die aandete begin, gaan hy sy pluimvee versorg.

    Noudat die boere en hul vroue ’n paar keer per week met hul bakkies en 4x4’s Elliot toe ry om by Spar of Shoprite inkopies te gaan doen, kom hulle nie sommer meer in tannie Hermien se winkel nie. Dis eintlik nog net vir die arbeiders uit die omgewing wat nie eie vervoer het nie, en om haar so ’n bietjie besig te hou, want behalwe blokkiesraaisels invul en vir die kinders en kleinkinders brei en hekel is daar nie veel meer om te doen nie.

    Die voorraad van die Pinevale-winkel is nie meer groot nie, maar dit is ook nie nodig nie, want tannie Hermien ken haar klante. Nie verniet nie staan sy al tientalle jare agter dieselfde toonbank, waar sy gesien het hoe die kinders wat skaars oor die rand kon loer, gegroei het tot volwasse mans en vroue, wie se kinders en kleinkinders op hul beurt weer grootoog opkyk na die glasbottels met kleurvolle lekkergoed.

    Só is die winkel ingerig: Die kleiner goed is agter haar in rye op die rakke uitgestal; groter produkte soos sakke mieliemeel, plastiekemmers, gasbottels, sinkbaddens en werfbesems word in die stoorkamer gehou. Tussen die winkel en die stoorkamer is ’n deur sodat sy nie buite-om hoef te loop om iets daar te gaan haal nie. Daar is ook nog ’n aparte stoorplek vir doodskiste in verskillende formate en van verskillende soorte hout, duur en minder duur.

    In die beginjare van die winkel het sy net kiste vir volwassenes aangehou, maar sy het gou agtergekom dat daar onder die werkers net so ’n groot aanvraag is vir kinderkiste. Met die uitsondering van die doodskiste, wat altyd op rekening gekoop mag word omdat dit ’n uitgawe is wat ’n mens onverwags oorval, moet jy by die toonbank sê wat jy wil hê en jou geld wys. Dan haal tannie Hermien dit wat jy gevra het van die rak af en sit dit voor jou neer. Om iets direk uit ’n wit hand aan te vat, mag ’n swart mens nie doen nie.

    Daarso, Sara.

    "Dankie, my mies."

    Nog iets, Sara?

    "Nee, dankie, dit is al vir vandag, my mies."

    As tannie Hermien jou geld tel en sien jy het nie genoeg nie, skryf sy jou skuld op in ’n swart boek met ’n pen wat aan ’n toutjie hang. Sy besluit self wie op skuld mag koop en wie nie. Slegte betalers kan eers weer iets kry nadat hulle afbetaal het.

    Totsiens, Sara. Groete by die huis.

    Dag, mies. Groete vir baas Ruben.

    Behalwe die werkers kom ook hulle kinders in die winkel met sente wat hulle op die dorp gebedel het en waarmee hulle Wilson-toffies of Jelly Tots of ’n botteltjie Cream Soda kom koop. Of pastelkleurige marshmallow-vissies of -muise met liekerisj-sterte. As hulle sien die winkeldeur is toe, is hulle ’n bietjie versigtig, want hulle weet tannie Hermien hou nie daarvan om die winkel oop te sluit vir net ’n paar sent se lekkers nie. Daarom sien jy soms kinders op die werf wag, partykeer ure lank, tot daar ’n grootmens kom wat ook iets wil koop, saam met wie hulle dan binnetoe glip.

    Mans kom vir ’n pakkie tabak, vuurhoutjies of ’n boksie Disprin. Die vroue vir OMO, ’n sakkie suiker, ’n paar rolle toiletpapier en so nou en dan ’n blik Koo Baked Beans of Sweetcorn Cream Style. Alkohol is nie beskikbaar nie, want daarvoor sou tannie Hermien ’n lisensie moes kry. Sy wil liewer alles eenvoudig hou en het ook nie lus vir moeilikheid so naby haar huis nie. Daar is genoeg sjebiens in die omgewing waar mans, oftewel swart mans, kan drink, veral oor naweke. Wit boere drink hoofsaaklik by die huis of by vriende, soms ook in die kroeg op die dorp.

    3

    Afgesien van tannie Hermien en haar winkel is Pinevale ook bekend vir haar seun Ruben. Voor sy terugkoms na Ida was hy onderwyser op Efata, ’n skool vir dowe en blinde kinders in die omgewing van Umtata.

    Toe sy pa, Cobus Gouws, in 1996 oorlede is, het Ruben voor ’n dilemma te staan gekom. Hy het gevoel hy moet teruggaan Pinevale toe, maar kon hy Efata en die kinders sommerso opgee? Hoewel hy gewoonlik op sy eie met sulke vrae worstel, het hy tog met vriende daaroor gepraat, asof hy homself moes oortuig. My drie broers en twee susters is almal getroud en het gesinne. Ek’s die enigste een wat vir my ma kan sorg. Sy’s ook nie meer vandag se kind nie. Sy kan nie meer so alleen bly nie, dis deesdae te gevaarlik.

    ’n Week of wat het sy voorneme swaar op hom gedruk. Hy sou Efata mis, die groen heuwels, die paar hegte vriendskappe wat hy ondanks sy skugterheid gesmee het, maar veral die skoolkinders, vir wie hy, self kinderloos, soos ’n vader was.

    Hy het lank gewik en geweeg. Tot hy op ’n Saterdagaand, ’n blikkie bier in die hand, buitentoe gaan en oor sy erf begin loop, sy twee chowchows al hygend en draaiend om hom, asof hulle aanvoel dat daar iets aan die kom is. Onder sy voete knars vroeë herfsblare. Die ligte knyp wat al saans in die lug is, is vanaand behoorlik geniepsig. By die koshuise, so 500 meter verder aan teen die helling, waar bedags die rinkink van spelende kinders opklink, is dit nou stil. Die enigste teken dat hy hom hier op ’n skoolterrein bevind, is die veraf skynsel van die koshuise se buiteligte. Dan, êrens in die verte, nog dieper die donker in, hoor hy ’n jakkals huil.

    Toe hy moeg geloop is, die bier lankal op, die lou blikkie geduik in sy hand, gaan hy op die groot klip by die wasgoeddraad sit en hak uiteindelik die knoop deur: Hy gaan terug Ida toe.

    Mammie was al besig om ’n bietjie in te dommel toe sy uit haar leunstoel opstaan, haar breiwerk neersit en na die gang loop om die telefoon te beantwoord. Sy het altyd geweet haar Ruben sal eendag terugkom, dat daar ’n rede is dat die Here nooit die regte vrou oor sy pad gebring het nie.

    In die daaropvolgende dae probeer Ruben om homself te troos: Daar is beslis ook dinge van sy toekomstige lewe op Pinevale waarna hy uitsien. Hy sal meer tyd hê vir sy liefhebberye: boeke, musiek, fotografie, die restourasie van ou meubels, en veral vir sy pluimvee, wat hy dan elke dag self sal kan voer en versorg. Hy sal die verwaarloosde hokke herstel en nuwes bou, hy sal meer gereeld aan duiweskoue kan deelneem – wie weet, dalk reeds die eerskomende een van die sierduifvereniging in Bloemfontein. In sy verbeelding sien hy hom al daar staan met sy pronkstukke – sy jakobyne, sy kartelrûe en sy lahores – te midde van die dampende reuk van vere, mis en voëlkos wat hom, soos altyd, tevrede en behaaglik sal laat voel. Hy sal meer aandag kan bestee aan die telery en kans kry om die beste duiwe vir die skou uit te kies en na sy hand groot te maak.

    Terwyl Ruben in Umtata was, het Pappie vir die pluimvee en hokke gesorg, wat amper die hele werf agter die huis in beslag neem. Hy het selfs begin verstaan waarom Ruben so aan sy voëls verknog is, aan hierdie plek waar niemand jou kwaad kan doen nie, ’n ruimte waar jy nie geweeg en te lig bevind word nie, ’n omgewing waar jy net jouself kan wees. Ruben weet dat die voëls vir Mammie te veel is noudat Pappie nie meer daar is nie, dat dit goed sal wees as hy dit by haar kan oorneem. En as sy nie meer fiks genoeg is om heen en weer winkel toe te loop nie, kan hy ook daarmee uithelp.

    Daar is net een probleem. En dis nie ’n geringe probleem nie. Hy sal ’n werk met ’n vaste inkomste moet kry, en dit terwyl daar in Ida min werksgeleenthede is. Om op Pinevale te boer, is nie meer ’n lewensvatbare opsie nie.

    Toe eendag, uit die bloute, so het sommige mense beweer, het die Here Ruben se gebed verhoor en ’n wonder laat geskied. Die skoolhoofpos van die versukkelde plaasskooltjie met net swart kinders raak vakant. Ruben doen aansoek en kry tot sy verbasing die pos – hy was oortuig daarvan dat dit eerder na ’n swart persoon sou gaan. Maar, neem hy hom voor, hy sal daarvoor sorg dat die kinders, net soos by Efata, sy allerbeste kry. Hy gaan ook probeer om die laerskool uit te brei tot ’n hoërskool sodat die kinders uit die omgewing ’n groter kans het om uit hul armoede te ontsnap, om aan ’n toekoms vir hulself te kan bou. Daarmee gaan hy hulle help so goed hy kan. Ook uit dankbaarheid vir hierdie geleentheid wat in sy skoot geval het, hierdie kans om Mammie te kan bystaan.

    Intussen het die jare aangestap en het die skool al heeltemal met hom vergroei. Hoewel hy soms moedeloos word oor die situasie waarin die meeste van sy leerlinge hulle bevind, is hy deurgaans opgewek wanneer hy sien hoe die skoliere onder sy oë en aandag floreer en hoe die plaaslike gemeenskap baat vind by die nuwe rol van die skool. Soos die saaltjie wat hy laat aanbou het, wat ook gebruik word vir gemeenskapsvergaderings, VIGS-bewusmakingsveldtogte en ander aktiwiteite.

    Hy dra uit sy eie sak by wanneer begaafde leerlinge gevaar loop om die skool te verlaat omdat hulle nie die uniform kan bekostig nie. Hy sorg vir iets te ete as sommige met ’n leë maag opdaag. Hy bring elke dag vars melk van Pinevale af saam. Omdat hy weet van die gebrekkige omstandighede by die werkershuisies laat hy die matriekleerlinge gedurende die eindeksamen in die skool eet en slaap; daar waar hy hulle ook met ekstra lesse kan help in hul voorbereiding.

    Die vooruitgang bly nie onopgemerk nie. Ná sy eerste tien jaar word Ruben aangewys as die mees toegewyde skoolhoof in die kategorie plattelandse skole. In dié tyd het die aantal leerlinge verdubbel. Die slaagpersentasie staan op 83, heelwat hoër as die provinsiale gemiddelde.

    So gaan die seisoene en jare op Ida verby. Eendag staan die populiere swart en kaal in die snerpende winterkoue en is die swaeltjies se kolonie kleineste verlate. Maar dan, voor jy dit weet, pronk die bome weer met hul lentegroen gewade en weerklink die gekwetter van die swaels onder die afdak agter die winkel. Baie gou is dit 2011, die jaar waarin Ruben aftree. En omdat daar, behalwe Mammie, steeds nie ’n vrou op die plaas woon nie, besluit hy om sy tyd te vul deur ekstra wiskundeklasse te gee. Wit kinders uit die omgewing wat daarvan hoor en vra of hulle dit ook kan bywoon en wat dit sal kos, hoor dan: Dis gratis, maar ek doen dit net vir swart kinders, want hulle het skaars geld by die huis vir kos.

    4

    2015. Middel Augustus. Op Pinevale is die nagte nog bitter koud. Maar waar hy op hierdie Saterdag, 15 Augustus, agter die huis in die son met sy duiwe besig is, voel Ruben tog die eerste tekens van die aankomende lente in die lug. Hy hoor die telefoon in die huis lui. Sonder om op sy horlosie te kyk, weet hy dit is vieruur. Sy broer Chris, wat op Ugie woon, ongeveer tagtig kilometer daarvandaan, bel Mammie elke middag om vieruur.

    Ná ’n paar minute hoor hy haar van die agterdeur af roep: Ruben!

    By die duiwehokke waai hy vir haar. Ek’s hier, Mammie!

    Die foon het doodgegaan terwyl ek nog met Chris aan die praat was. Die lyn is nogal sleg vandag.

    Seker omdat dit naweek is, Mammie, almal is nou op die lyn. ’n Swerm kraanvoëls vlieg laag oor die werf en gaan stryk ’n entjie verder neer. Hulle hoort by hierdie streek. Een van die dorpe in die omgewing, Indwe, se naam kom van die Xhosa-woord vir kraanvoël. Vroeër, toe Ruben klein was, was hulle nog in groter getalle hier. Hy onthou dat hy en Pappie op ’n keer 250 getel het toe daar een middag ’n swerm soos ’n grysblou reënwolk op Pinevale kom neerstryk het.

    Ag, kind, as jy klaar is, sal jy nie gou met jou selfoon bel en Chris laat weet dat alles in orde is nie, anders is hy dalk onnodig bekommerd. Jy ken jou broer. Sedert Chris en sy vrou, Linie, ’n paar jaar gelede in hul huis aangeval en Linie aan haar beserings beswyk het, is die alleenwonende Chris nog nie weer heeltemal sy ou self nie.

    By Chris in die woonkamer wys die horlosie halfvyf toe die telefoon lui.

    Dis Ruben. Ek bel net gou om te sê dat alles oukei is by ons. Daar is storings op die landlyn en Mammie is bang jy’s bekommerd omdat sy nie terugbel nie.

    Ek het gedink dat dit seker die lyn was. Maar ’n mens is natuurlik nooit seker nie, dankie vir die terugbel.

    Alles reg, broer.

    Wat doen jy vanmiddag?

    Ek’s so ’n bietjie buite besig. Mens kan voel dit word lente.

    Ja, hier op Ugie is dit ook ’n stralende dag.

    Ek wil nog ’n paar dinge doen voor dit donker word, so ek gaan nou eers groet. Ons praat môre weer.

    Toe Ruben oor die werf loop, is hy skielik bewus van die heerlike suurderige reuk van duiwemis wat oor die werf hang. Vir die eerste keer in ’n lang tyd voel hy ’n bietjie optimisties. Asof iets moois gaan gebeur. Hy dink aan die reënboog wat verlede week oor die plaas gehang het, maar hoe die skoonheid daarvan hom op ’n onverklaarbare manier benoud gemaak het. Toe hy die foto neem, het hy gedink: Dit is ondraaglik mooi. Elke keer die afgelope dae wanneer hy na die foto gekyk het, het hy weer daardie beklemming gevoel, asof ’n vuis in sy bors saambal. Daardie gevoel is nou weg. Hy voel lig.

    Nou lê die Saterdagaand voor hom. Nadat hy gestort het, sal hy en Mammie die res van die skaap-en-tamatiebredie van vanmiddag eet. Daar is ook nog boontjies en rys oor. Daarna sal hulle in die sitkamer in die groot leunstoele gaan sit om TV te kyk en net opstaan om miskien ’n glasie Old Brown Sherry in te skink of die paraffienverwarmer aan te steek as die kniekomberse nie warm genoeg is nie. Sodra Mammie se kop begin knik, haar breiwerk stil lê op haar skoot en haar ken op haar bors sak, sal hy haar saggies wakker maak.

    Kom, ek neem Mammie bed toe.

    Terwyl sy haar klere op die stoel in die hoek van die kamer neersit, haar nagrok aantrek en met die Bybel op haar skoot in die bed gaan sit, sal hy in die kombuis die warmwatersakke regkry. Die een met die pienk gehekelde oortreksel is hare; die bloue is sedert Pappie se dood syne. Nadat sy die sak onder die komberse tot by haar voete geskuif het, sal hy die bedlampie aanskakel en haar, soos elke aand, ’n soen op die voorkop gee.

    Nag, Mammie, lekker slaap. Roep as daar iets is.

    Wanneer hy by die slaapkamer uitloop, sal hy die plafonlig afskakel en die deur halfpad agter hom toetrek sodat die lig in die gang, wat sedert Pappie se dood snags aanbly, haar nie hinder nie.

    Nou is dit sý tyd. Hy kan nog TV kyk, dalk is daar ’n goeie film. Hy kan ook die TV en die lig in die woonkamer afskakel en by die agterdeur uit oor die binnehoffie na sy eie huis gaan. Dis altyd aangenaam om saans by sy eie koel kombuis in te loop. Dit ruik nie daar na kerrielewer, boerewors of uitgebraaide kaiings soos in Mammie se kombuis, waar sy altyd vir hulle kosmaak nie. In sy kombuis is daar die reuk van Woodoc-meubelolie en Brasso, hondekos en Sunlight-seep, tee en perskes wat in die koperbak op die tafel staan.

    Nadat hy water gekook het, sal hy met sy koppie Earl Grey voorkamer toe gaan, die skemerlamp aanskakel en doen wat hy Saterdagaande die graagste doen: ’n CD opsit en met een van sy geliefde kunsboeke in die leunstoel gaan sit. Sy keuse val dikwels op Constable en Turner of ander Engelse skilders van die romantiek. Constable is sy gunsteling en dan veral The Vale of Dedham en Wivenhoe Park – dit voel of hierdie skilderye met hul melancholiese uitbeelding van die eenvoudige plattelandse lewe spesiaal vir hom gemaak is. Dit is veral die ingetoënheid van Constable wat vir hom so vertroostend is. Hy kan natuurlik ook ’n bundel gedigte of kortverhale uit die boekrak haal of verder lees aan Galgut se In a Strange Room. Dit is sý tyd. Sý uur.

    Maar dis nog nie aand nie, sy gedagtes is hom ’n paar uur vooruit. Eers moet hy nog buite die een en ander doen. Hy is bly dat die swaarmoedigheid van die afgelope dae verby is. Toe hy klaar is met die voer van die duiwe in die laaste hok en met die plastiekbakke en gieter gebukkend deur die hekkie loop, hoor hy uit die rigting van The Springs ’n motorfiets aankom. Dit moet buurman Theuns wees wat hom kom groet voor hy en sy vrou, Linda, môre vroeg terugry Port Elizabeth toe. Hier ken hulle mekaar se gewoontes. Theuns sal nooit weggaan sonder om te kom groet nie.

    Theuns kom so dikwels as wat hy kan Ida toe. Ruben verwelkom dit, want sy buurman is ’n lekker geselsmaat. Theuns is ’n belese man. Met ’n sin vir humor. En hartlik. Hy beliggaam die uitsonderlike kombinasie van boer en intellektueel, iemand wat goed kan skryf en boonop ’n bekroonde fotograaf is. Wat hom ook anders maak as die meeste boere in die omgewing is sy vriendskap met Gwede Mantashe, een van die min swart boere hier en ’n vooraanstaande ANC-man. Ja, Theuns is ’n besonderse mens. Daar is nie baie soos hy in Ida nie. Boonop het hulle as buurseuns saam grootgeword. As volwassenes het hulle vanselfsprekend verskillende rigtings ingeslaan. Hy het in Umtata beland en Theuns in Port Elizabeth, waar hy werk as die Oos-Kaapse redakteur van Landbouweekblad. Van toe af was daar minder kontak tussen hulle. Maar kort voor lank was hulle albei afgetree en sien hulle mekaar weer meer.

    Theuns lyk lank reeds nie meer soos ’n boerseun nie. Sy pet lyk meer soos iets wat ’n Fransman sal dra. Sy serp is fyner van stof as wat die mense hier rond dra en sy klere getuig van ’n sin vir detail. Ruben skaam hom altyd ’n bietjie vir sy eie voorkoms as Theuns kom inloer. Sedert sy aftrede het hy slordiger geword, selfs onversorg, besef hy. Ook te swaar van lyf. Maar dié dinge maak minder saak as jy afgeleë woon, as daar niemand spesiaals in jou lewe is nie en jy boonop daagliks by duiwehokke in- en uitkruip.

    Theuns is nog besig om sy motorfiets staan te maak toe Ruben van agter die huis aangeloop kom, sy hand aan sy broek afvee en dit na sy vriend uitsteek.

    Middag, buurman. Hoe staan sake? Soos altyd glimlag Ruben effens verleë. Maar Theuns sien dat die somber blik van verlede week opgeklaar het.

    Ons mag nie kla nie, sê Theuns terwyl hy teen sy motorfiets leun. En hier? Is daar weer ’n weduwee wat op jou spoor is? Theuns knipoog en klop Ruben goedig op die skouer. Ná ons gesprek verlede week oor die toestand van die onderwys was ek nogal bekommerd oor jou. Jy moenie so wroeg nie, man.

    Jy’s reg. Ruben vou sy arms voor sy bors. ’n Mens doen maar wat jy kan, en die res moet jy aan die genade oorlaat.

    Presies.

    En ek besef maar alte goed dat ek nie soos julle die ekstra bekommernis het oor eie kinders of kleinkinders nie. Dis net Mammie, en sy is verbasend gesond vir haar ouderdom. Maar daar is natuurlik die skoolkinders by wie ek nog betrokke is.

    Toe Ruben in die namiddagsonnetjie op die winkeltrappie gaan sit, is daar bo hulle ’n beweging in die lug. Hulle kyk albei op. ’n Groot grys roofvoël met ’n enorme vlerkspan sirkel oor die werf.

    Wat is dít nou?

    Dit lyk na ’n Kaapse aasvoël. ’n Bedreigde spesie.

    Ek dink jy’s reg, ek sien hulle soms nog hier rond. Dit laat my dink . . . ek moet een van die duiwehokke nog regmaak. Dit sluit nie behoorlik nie. Ek sal dit môre heel eerste doen.

    Terwyl hulle die roofvoël dophou, vra Theuns: En hoe gaan dit nou met daai dragoontjie? Jy was verlede week nogal bekommerd oor hom.

    "Ek het nou net weer gekyk, dit lyk of die infeksie in die neusvrat uiteindelik weg is. Met die vratduiwe moet ’n mens oppas, hul vratte en oogringe moet skoon bly, anders kry hulle maklik ’n ontsteking. Ek het hulle vanmiddag weer goed onder hande geneem. Ek weet nie of ek my nog meer probleme op die hals haal nie, maar ek is tog lus om my vratduiwe aan te vul met ’n paar carriers vir die skou."

    Jy moet eers goed dink, Ruben. Hulle is mooi, daarmee stem ek saam, maar hulle het baie ruimte nodig. En dan het jy nog meer vratte en hokke om skoon te hou. Theuns lag plaerig.

    Ag, buurman, dis ’n sonde dat ek dit sê, maar my pluimvee gee my soveel plesier. Soos ’n ander ou ná werk met ’n brandewyn-en-Coke op die stoep gaan sit, sit ek daar agter in die hokke tussen die dons en vere. Mammie kla ek gee te min aandag aan haar.

    Jou ma het niks om oor te kla nie. Sy kan die hemel op haar knieë dank dat jy by haar kom woon het. En wat die voëls betref, almal het nou eenmaal ’n swak plek. Jy doen niemand skade met hulle nie. Behalwe nou vir die berge mis op jou werf. Theuns is in ’n tergbui. "Ja, ja, ek hét al gedink as ’n vreemdeling per ongeluk hier op jou werf kom, sal hy dink dat hy in Hitchcock se The Birds beland het. Jy ken mos daai film?"

    Ruben lag verleë. Ja, ek ken dit. Toe ek die fliek die eerste keer gesien het, het ek nogal geskrik, seker omdat ek so ’n voëlliefhebber is. As hulle my aanval, sal ek dit nie wil oorleef nie.

    Liewer nie, Ruben, want dan is ek beslis die een wat, net soos daai vrou in die film, die volgende dag my buurman dood sal aantref met uitgepikte oë. Theuns staan op. Laat ek ophou met die onsinpraatjies. Jy wil seker nog stort voor ete en ek moet gaan. Kyk, die son trek al water. Ek het net gou kom dagsê. Groete ook vir jou ma en sê ek’s jammer dat ek nie vanmiddag inkom nie. Dis al laat en Linda wonder seker al waar ek bly.

    Ek sal vir Mammie sê. Dankie dat jy ’n draai kom maak het, buurman, dit was ’n mooi afsluiting van die dag. Ry veilig. Ruben staan ’n bietjie stram op.

    Hulle gee mekaar ’n klop op die skouer. Toe Theuns op sy motorfiets klim, kyk hy nog ’n keer om. Aan hierdie beeld sal hy dikwels terugdink: Ruben wat met sy arms voor sy bors gevou staan, asof hy die laaste warmte in sy trui wil vashou.

    Sien jou volgende naweek. Groete vir Linda!

    Dit is altyd plesierig as Theuns kom dagsê, dink Ruben terwyl die motorfiets se gedreun in die namiddag wegraak. Met hom kan ek ten minste praat.

    5

    Hy gaan kyk of die kraan van die tuinslang agter die huis toe is, ook die krane van die twee watertenks agter die skuur. Hy voel aan die slot van die skuurdeur en

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1