Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die helder dae: Outobiografiese verhale, rubrieke en essays
Die helder dae: Outobiografiese verhale, rubrieke en essays
Die helder dae: Outobiografiese verhale, rubrieke en essays
Ebook383 pages8 hours

Die helder dae: Outobiografiese verhale, rubrieke en essays

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Vir alle mense word dit soms nag vir hulle siele, maar dan volg daar weer ’n dag wat helder is. Dink net watter vorme ’n helder dag kan aanneem, hoe wonderlik dit kan wees! Hoe jy dit later onthou asof dit gister gebeur het.
Danie Botha versamel hier sy kortverhale, rubrieke, artikels en gedigte waarin hy sulke dae in sy lewe so helder moontlik probeer oproep. Die helderheid ontstaan onder meer met die gebruik van erns, sensitiwiteit én humor. Hy illustreer hoe hy uit benoudheid na vreugde beweeg. Die drie afdelings (jeugjare; professionele lewe; godsdienstige rubrieke) vorm ’n outobiografie in die kleine van dié man van die uitgewerswese, radio en teater.
Eerlik, openhartig, spitsvondig. Enige leser wat belangstel in die Afrikaanse letterkunde en teater, op watter vlak ook al, sal Die helder dae insiggewend en besonder onderhoudend vind.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateAug 8, 2014
ISBN9780624070139
Die helder dae: Outobiografiese verhale, rubrieke en essays
Author

Danie Botha

Danie Botha is in 1947 naby De Doorns gebore. Van 1 Julie 1972 tot April 2000 is hy uitgewersredakteur by Tafelberg-Uitgewers. Tans vryskut hy. Van 2004 tot 2013 is hy mede-aanbieder van die kultuurprogram “Kaapse Dagboek” by Fine Music Radio. Hy was lank ’n lid van die beoordelaarspaneel vir die Fleur du Cap-toneelpryse. Van 1968 tot 2008 resenseer hy toneel vir Die Burger; tans vir die webruimte van die Masque-teater in Muizenberg en vir LitNet. Hy lewer ook boekbesprekings en huldigingsartikels vir Media24. In die laat neëntigerjare is hy rubriekskrywer vir (Die) Kerkbode. In November 2012 ontvang hy ’n ATKV-oorkonde vir sy bevordering van Afrikaans in die uitgewerswese en die teater.

Related to Die helder dae

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Die helder dae

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die helder dae - Danie Botha

    Danie Botha

    Die helder dae

    Outobiografiese verhale, rubrieke en essays

    Tafelberg

    HEIL DIE LESER!

    (Soos ons in die ou dae geskryf het)

    Ek versamel hier outobiografiese tekste wat ek oor jare heen in koerante, tydskrifte, bloemlesings en op LitNet gepubliseer het. (Waar daar nie ’n bron vermeld word nie, is dit in die geheel nuut.) Ek het ook hersien en/of aangevul. Ek rangskik die artikels, essays, verhale en enkele gedigte chronologies volgens die inhoud en nie volgens datum van eerste verskyning nie. Sodoende ontstaan hopelik ’n beeld van my lewe tot dusver.

    Gaandeweg kom ek agter hoe ’n invloed die NG Kerk nog al die jare op my gehad het. Reeds van my kinderjare af op die plaas met my ouers en ander volwassenes se lewensbeskouing. Daarna die jare van katkisasie gee (Sondagskool hou), saamwerk met die Gemeente Kaapstad (Groote Kerk) se Kerkjeugvereniging, later Kerkjeugaksie; periodes van diaken en ouderling wees in dieselfde gemeente.

    Binne die kerklike lewe het ek meer geleer van God. Hy wat ek altyd aanspreek as O Here God en Meester. In en om die NG Kerk ontdek ek hoe ek dag en nag afhanklik van God is vir sy leiding, beskerming en ontferming. My ontsag vir Hom, my hele Godsbegrip het deurgewerk in my jare toe ek nog voltyds uitgewersredakteur was, nou as vryskut ná aftrede; as vryskuttoneelresensent; destyds toe ek skurke in radiosepies vertolk het en konings in kinderopvoerings was. Ek het nog altyd sy hulp gevra: wanneer ek ’n kultuurprogram gaan aanbied het by Fine Music Radio (elf jaar lank); of wanneer ek ’n boek met ’n leeskring moet bespreek. Daar is nie ’n tyd in of aspek van my lewe wat my nie in verbinding met God bring nie.Van probleme met tegniese apparate deur donker nagte in die kloustrofobiese waakeenheid ná ’n drie-aar-hartomleiding tot onvervuldheid in my liefdeslewe. Uit benoudheid beweeg ek dikwels na vreugde. Dit is soms nag vir my, maar dan volg daar ook die helder dae. Dink net: hoe heerlik is sulke dae nie!

    Wonderlik dat ek in God kan glo.

    Met die versamel van tekste wat in verskillende tye geskryf is, ontstaan herhalings. Sekere inhoude kom ter sprake in meer as een teks. Ek het dit tog probeer verminder.

    Omdat ek soms heen en weer in die tyd beweeg met vertellings, gee ek hier ’n samevatting van my lewensloop ter oriëntering:

    1947: Ek is gebore op 28 Februarie 1947 buite De Doorns. Bring my kinderjare deur op ’n plaas in die Brandtwachtvallei noord van Worcester. Gaan skool op dié dorp.

    1962-64: Werk in die dorpsbiblioteek op Saterdae en in vakansies. Matrikuleer aan die Hoër Seunskool.

    1965: Militêre diensplig op Oudtshoorn, Grahamstad en Beaufort-Wes.

    1966 tot einde 1970: Werk as biblioteekassistent by die Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens in Kaapstad. Vanaf 1967 neem ek jaarliks studieverlof en behaal ’n BA Honneurs in Afrikaans en Nederlands aan die Universiteit van Stellenbosch aan die einde van 1970. Was ’n inwoner van Helderberg-koshuis.

    1971 tot Augustus 1972 is ek boekekeurder en ook redaksielid van Die Kaapse Bibliotekaris by die Biblioteekdiens.

    Augustus 1972 tot April 2000: Boekeredakteur by Tafelberg-Uitgewers, hoofsaaklik in die afdeling fiksie vir volwassenes. Ná my uittrede in 2000 tot op hede: boekeredakteur as vryskut vir verskillende uitgewerye; meestal vir die groep NB-Uitgewers. Van 1970 was ek betrokke by amateurtoneel tot in die vroeë neëntigerjare; behaal ’n lisensiaat in voordrag en dramakuns aan die Akademie vir Dramakuns in Kaapstad in 1976. Vanaf die volgende jaar is ek betrokke by die radio as vryskut in dramaproduksies en medewerker in letterkundige en kunsprogramme. Vanaf 1986 skryf ek toneel- en boekresensies asook huldigings, hoofsaaklik vir Die Burger en die webruimte van die Masque-teater in Muizenberg.

    Ek bedank graag vir Engela Reinke wat baie van die tekste oorgetik het. Sy het só gunstig daarop gereageer dat ek die vrymoedigheid gehad het om dit voor te lê aan NB-Uitgewers. Dankie, Veronica Scholtz, vir jou aanmoediging. Ook Linda Rode, Engela van Rooyen en Johann de Lange. Daarna was ek verder bevoorreg om Etienne Bloemhof as uitgewer te kry, George Louw as redakteur, Susan Bloemhof as ontwerper, Theunis Engelbrecht as proefleser en Willem Louw om die teks elektronies te versorg. Karen Jorgensen van die biblioteek op Worcester en Madaleine du Plessis het inligting oor die biblioteekwese verskaf. Nola Doré van NALN, Francois Verster vanMedia24 se argief, Marsha Conning by NG Kerk in Suid-Afrika-argief en Sonja-Marié Brand van Kerkbode – julle het my gehelp om tekste en bronverwysings te bekom. Alzette Prins het ingestem dat ons haar humoristiese skets mag gebruik; dit het voorheen in rooi rose verskyn by een van die sketse waarmee verhaleredakteur Corlia Fourie skryfleiding gegee het. Ek is julle almal baie dankbaar.

    Daar is nog heelwat ander mense wat hierdie versameling moontlik gemaak het: bloemlesers, redakteurs van boeke, koerante en tydskrifte, uitgewerskollegas en skrywers. Naas hulle is daar nog die talle mense waaroor ek hier skryf. Dankie vir die herinneringe.

    En nou bly net oor dat ek u nooi om die boek te lees. Daarvoor haal ek Harry Kalmer aan wat in ’n resensie omskryf het hoe leesgenot werk: ’n Groot deel van leesgenot lê in wat lesers self na ’n boek bring: die herken van dinge in hul eie lewe; die formulering van insigte wat hulle altyd in hul agterkop gehad het; die bevestiging van vrese, vermoedens en verwagtings. (Resensie van Riette Rust:’n Lyf onthou, Die Burger, 14 Mei 2012.) Ek hoop dit is wat u gaan ervaar.

    Danie Botha

    I

    Om jonkheids blye môre

    (Jan F.E. Celliers)

    Om dae lank verby

    (Jan F.E. Celliers)

    Wanneer skuiframe rittel aan toue

    in Ouma se voorhuis

    dreun met die noordwester

    vergange grappe en klagtes

    argumente en leuens

    maar nie iets van liefde nie.

    Ook deur geelbruin ysterhouttoppe

    met hul klokkiesade sewejaartjie-bros,

    vroegoggend by die drif gepluk,

    skeef in ’n konfytfles gesteek,

    bly die wind nog storm

    na die veraf

    van jare en berge.

    Boekeblad, Die Burger, 1 Maart 2010.

    Doen alles wat sy vir jou sê

    Daardie Januarie-oggend is die Voorbereidende Skool op Worcester baie besig. Dis die inskryfoggend van 1953 se sub A’s. Dinge is anders en nuut vir ’n man. Jy’s nog vyf jaar oud, maar word al ses op 28 Februarie.

    Doen alles wat sy vir jou sê. Mamma wys na ’n tante in die middel van die groot kamer. Sy lyk half na Ouma Botha. Sy het grys hare en ’n geel rok met swart koringare daarop.

    En die volgende oomblik is Pappa en Mamma weg. Jako1 sien ’n klomp ander kinders wat bymekaar op hulle hurke of kruisbeen sit. Hy kniel by hulle. Hy hou sy koffertjie styf vas. Binne-in is ’n pakkie toebroodjies. Mamma het dit in die gladde papier-vir-die-botter toegedraai. Die papier het ’n prentjie van ’n koei op.

    Om hulle is baie grootmense met kinders aan die hand. Dis warm en die pratery dreun en dreun, met skerp huilklanke tussendeur.

    Nou sien Jako die kas langs die muur. Dit het deure met glasvensters. Hy skuifel nader, sleep die koffertjie saam. Daar’s skilpadjies in! Nie lewendes nie. Groen en geel en oranje. Hy weet nie waarvan hulle gemaak is nie. En daar’s poppies. Húlle is van blare en skulpe. Hy kyk en kyk maar daarna.

    Toe dinge begin bedaar, maak van die ander hul koffers oop en haal goeters uit. Jako ook: die toebroodjies. Die snytjies met die perskekonfyt wil uitskuif by die botterpapier.

    Net toe buk die tante met die are by hom.

    Sy is besig om vir elkeen ’n stuk papier te gee, sê hulle moet dit huis toe neem. Mamma het dit later ’n vorm genoem. Sy gee ook een vir Jako en wys terselfdertyd na sy brood en sê: Draai toe. Jako sukkel om die taaisagte brood met die stywe vorm toe te draai.

    Sy glimlag, draai die brood weer toe met die koeipapier en sit ’n ander vorm in Jako se koffer.

    Vir 1953 se span het die tante juffrou Theron geword.

    Middae is sy êrens in haar donker kantoor besig. Hulle plaaskinders speel in die sandput terwyl die kinders in die laer- en hoërskool nog klas het. Of ry op die ysterrondomtalie wat jou naar op die maag kan maak. Hulle moet agter die hek op die skoolterrein bly totdat oom Gawie de Kock se geelwit skoolbus langs die tingerige plataanboom stilhou. Dan eers mag hulle al met die wit strepe langs oor Tulbaghstraat loop. Die polisie-oom met die wit handskoene het al lankal die dorpkinders tot op die oorkantste sypaadjie gehelp; hy is nou huis toe.

    Aan die begin van die jaar het juffrou Theron self vir hom en Pieter-hulle gewys hoe om te maak. Kyk eers links, dan regs, dan weer links en as daar niks motors aankom nie, stap jy flink oor. Al met die wit blokke langs; nie sommer kruis en dwars en af van die blokke nie. Nog later het die twee Rosies wat middae die klaskamers aan die kant maak, ook soos juffrou Theron vir Jako-hulle aan die hand gevat en saam oorgestap.

    Vanmiddag is Pieter-hulle al weg toe Jako by die skoolhek uitdraf. Aan die oorkant van die straat, aan die einde van die blokke staan oom Gawie se bus. Iemand se motor staan op sy plek by die plataanboompie. Nou het oom Gawie stilgehou met die sitplekgedeelte reg oor die laaste blok.

    Julle mag nie van die blokke af gaan nie, het juffrou Theron gesê.

    Stadig begin Jako oorstap. Hy steek vas voor die sitplekgedeelte. Hy sak af en waar die wit blok onder die bus ingaan, kruip hy in. Sleep die koffertjie agter hom aan. Bo en om hom is geel stukke modder. Hoe dieper hy inskuif, hoe donkerder word dit onder pype en ysters. Dis of die bus op hom afsak. Dit druk hom vas. Hy kan nie vorentoe nie. Hy gaan nie hier deurkom nie.

    Hy móét omdraai. So vinnig as wat hy kan, skuif hy agteruit. Terug in die sonlig hardloop hy om die neus van die bus, by die deurtrappie in en gaan sit op die nou bankie.

    Sê nou juffrou Theron het hom gesien? Hy het van die blokke afgehardloop! Sy gaan die polisieman uitstuur plaas toe om hom te kom vang.

    Die hele middag wil Jako nie sy voete by die voordeur uitsit nie. Netnou kom die polisieman oor die stormwatersloot met sy motorfiets gery, sien vir hom en kan hy nie wegkom nie.

    Teen skemer sit Jako voor die kamervenster en kyk en kyk al met die dorpspad langs.

    Die volgende dag laat roep juffrou Theron hom ook nie. Toe het Jako ’n geheim.

    ’n Donderdagmiddag in April kom juffrou Theron skielik by die klaskamer ingestap. Sy kyk vir Jako-hulle met haar ouma-oë deur en vra: Wie kom almal van die plaas af? Steek asseblief hande op.

    Het sy dan al vergeet?

    Kyk, julle plaasmense, ons het ’n bietjie mis nodig vir ons roosbome. As julle elkeen ’n kardoessak vol bring, sal ons al ver kom. Onthou nou, bring dit môre vir juffrou Snyders.

    Vieruur, kort voor melktyd, gaan Jako af beeskraal toe. Juffrou sal seker droë koeke verkies. Hy gaan regtig vir haar help. Daarom maak hy twee kardoese vol.

    In die kamer pas hy dit versigtig in sy koffer in. Die sakke lê kant en wal. Bo-op sit hy sy leesboek.

    Die volgende oggend moet hy die worshond-kosblik maar in die hand bus toe dra.

    Die hele dag wag Jako met die mis in die koffer. Nie juffrou Snyders, nie juffrou Theron vra wie’t mis gebring nie. Nie een van die ander wat hande opgesteek het, haal kardoese uit nie.

    Jako neem die mis in sy koffer maar terug huis toe.

    1 rooi rose, Januarie 2009.

    Ek onthou vir Ouma Möller

    Dit was die winter van 1954 toe Ouma Möller dood is, en sy in De Doorns se kerkhof begrawe is en Mamma glo sneeu-op-die-berg op haar graf geplant het. Jare later het Oupa, Ma se ousus, tant Hendrina, en haar man, oom Andries, sover gekom om haar graf te laat opmaak – net ’n vierkant gruis en ’n stukkie marmergladheid met Hendrina Christina Möller daarop. Was dit uit armoede dat daar so min van my ouma gemaak is?

    Dit was al sterk donker toe Pa aan die bokant van die bloekombos by die dam driftig aangeloop kom. Oom Pietie-hulle, ons bure, het hom laat kom. Iemand het gebel. Ons het nie ’n telefoon in die huis gehad nie. Het hulle altyd net die boodskap oorgedra? Of het oom Pietie of tannie Lily teruggebel namens Pa of Ma? Nee, Ma het darem seker geweet hoe ’n telefoon werk; uit haar dae by die Skool vir Blindes se Nasorg op die dorp. Eenkeer het ons op Wolwekop naby Touwsrivier gekuier; toe is Pa bang die telefoon lui terwyl die huismense weg is. Ons het die hele middag ver van die huis in ’n droë sloot langs ’n doringboom gesit.

    Dié aand in Julie het Pa die boodskap gaan kry. Seker tant Hendrina, wat van Oupa-hulle af op Orchard gebel het.

    Pa loop verby die klein sementdam langs Ouma Botha se hoenderhok en ons skoppelmaaie aan die bloemkombome.

    Deur my en Koos se slaapkamervenster hoor ek hoe praat hy langsaan met Oupa-hulle oor die Groothuis se agterdeur. Eers vloek hy, sê dan baie hard: Ma Möller is dood!

    Hierna ’n gemaal in die skemer in ons huis. Ma kom by ons kamer in waar die groot klerekas staan met die koperappelbome bo die deure. Stompie kers in die hand kom haal sy klere uit.

    Mamma het net ’n onderrok aan. Dis die eerste keer dat sy so voor ons verskyn. Nooit, nooit vantevore nie. En Mamma kerm en Mamma huil terwyl sy in die kas krap.

    Sy swaer Kosie Malan leen sy bakkie vir Pa sodat hulle dieselfde nag nog kan deurry. Ons kinders bly by Oupa en Ouma Botha.

    Tant Hendrina en nefie Andri het vir die naweek by Ouma-hulle gaan kuier.

    Waar was Oupa dan? Hoekom was hy nie by die huis nie?

    Nee. Ek moenie te veel daarin lees nie. Hy was seker nog by sy werk by die Diceys se pakskuur. Dit was Vrydagmiddag. Moes seker betaalwerk doen. Tant Hendrina en Andri het bes moontlik halfvyf met oom Lawrence se taxi van Worcester af voor die lang huis stilgehou.

    Ouma het in die kombuis gestaan. Die kombuis met die sementvloer. Jy het met twee treetjies afgetrap van die eetkamer … Nee, dis oom Piet le Roux se kombuis op Hartbeesrivier waar Pa Vrydagaande almal laat lag het met sy stories.

    Nee, Ouma Möller se kombuis het tog plankvloer gehad. Grysbruin plankvloer.

    Dis op hierdie grysheid dat sy neergeval het voor tant Hendrina.

    Hier in die kombuis het sy eenkeer ’n mannetjie uit ’n pampoenskil gesny. Net vir my. Sy het gaatjies met ’n vurk gedruk en korente vir sy oë, neusgate en mond daar ingepak. Nee, nonsies. Sy’t net gaatjies gemaak.

    Ek onthou so min.

    In my voorskoolse tyd moes my bene saans gespalk word omdat my knieë te veel na binne gestaan het. Die skroefies, leer en plankies het my seergemaak. Ek het gehuil en teen die kamermuur geskop sodat die gate so sit. Teen die tyd dat ek vir die eerste keer skool toe moes gaan, het die dokters … die spesialiste … spesiale skoene gegee wat ek net saans mag uittrek. Die dag toe die skoene sou kom, het ek in die bloekomboom aan die onderste end van die bos geklim. Die een langs die graansnyer wat jou aan ’n sprinkaan laat dink as die wit kapsparre nie aan is nie. Ek het lank die pad dorp toe dopgehou. En toe die bruines later gelate aangetrek. En dit het nie eens baie snaaks en anders gelyk nie!

    Ouma het eendag oor my bene met my gepraat in haar kombuis.

    Ouma het aandag aan my gegee.

    Sy het met ’n glimlag begin praat. Onder haar voorskoot het sy haar rok met die wit-en-swart blokkies aangehad. Sy het dit dalk gedra die laatmiddag toe sy dood is.

    Ek was so groot soos jy nou is, vertel sy.

    Ek dink nie sy het my naam bygesit nie.

    Toe val ek op die klippe in die rivier en ek breek my heup. Dit wou nie regkom nie. Hulle gee vir my ’n kruk om mee te loop. Sy lag effentjies.

    "Ek wou nie met hom loop nie. Ek gooi hom in die rivier.

    "‘Lê daar, jou lelike ding!’

    "‘Waar’s die kruk?’ vra almal.

    ‘Hy’t gebreek!’ jok ek. En later, toe loop ek nie reg nie, toe val ek. Ek maak weer my heup seer. Toe kry ek weer ’n kruk en toe loop ek maar daarmee. Maar al die jare sukkel ek met die heup. So, Ouma se kind moenie maak soos Ouma gemaak het nie. Maak soos jou mamma-hulle vir jou sê. Luister vir die dokters. Dra die skoene, dan maak die Here jou bene reg.

    Ouma se mielies was altyd lekker. Soet, romerig. Was seker uit ’n blikkie.

    Wanneer die swaarweer oor die baie hoë, ruwe swart Hexrivierberge kom, maak Ouma al die vensters toe, trek al die gordyne dig. Dan gaan sit sy op die dubbelbed in haar en Oupa se kamer. Inmekaar gebuig sit sy, met oë toe. Natuurlik, sy het sekerlik gebid uit eerbied vir die Here se almagtigheid.

    Maar sy het ons kinders nooit kamer toe geroep nie. Ek het in die skemer voorhuis rondgedwaal, dan self gaan sit en luister na die donder.

    In daardie voorhuis was daar twee portrette. Die een was ’n grys-swart foto van ’n klomp mense in outydse klere om ’n rondegesig oom met lang sybaarde, onderbaadjie met knopperighede, horlosieketting oor die groot maag, boek in die hand. Dalk die Bybel. Lyk asof hy vir die tannies met die kappies op en die ooms in die verkreukelde broeke preek. Hy lyk opgesweep, of hy vanuit die portret op my wil skreeu. Ek was skrikkerig vir die hele portret, veral as jy dit skielik raaksien. Vol dreiging soos donderweer.

    Dit was vermoedelik ’n toneel uit De Voortrekkers van 1916: die aflegging van die Gelofte. Dan moet dit die buikige oom Sarel Cilliers wees. Maar daardie geborduurde onderbaadjie … Op ’n advertensie vir die film dra Dick Cruikshanks dit en hy was Piet Retief.

    Die portret het iets vir Ouma beteken.

    Heeltemal anders was die stewig geraamde grys tekening van ’n vroeë môre langs ’n rivier. Die kalm water heel voor. Maar die wal is oorgroei met braambosse, riete. En ver agtertoe ’n kerk met sy toring teen die vlieswolke en die sonlig wat deurbreek. In die middel bome wat dig op mekaar staan asof hulle nooit lig sal deurlaat nie. En tog wil mens musiek hoor. Engelse musiek.

    En in Ouma se voorhuis het ’n swaar, donkerbruin buffet gestaan. ’n Side-board waarop ’n rangskikking papierblomme was. Ouma het ’n skamele blomtuin in die sandgrond gehad en sou tog sekerlik by geleentheid vars blomme daar gerangskik het. By wie sou Ma haar liefde vir blomme gekry het? Maar die kere dat ons daar was? Altyd die skemerte, selfs donkerte. Behalwe as die voordeur oopgestaan het. Sodat ons saam met Andri op die lang stoep kon speel, en in en uit kon gaan. Hy’t baie speelgoed gehad, want hy’t ’n tyd by Ouma-hulle gebly solank tant Hendrina in die sanatorium met tering was, en dan het oom Andries naweke vir hom presentjies gebring.

    So ver ek weet het Ouma nie ’n werk gehad voor sy met Oupa Koos getroud is nie. Al die jare huisvrou, versorger van man, twee seuns en twee dogters. Ek het haar nooit haar stem hoor verhef nie.

    Ek het later jare ’n geskrif van Oupa ontdek, het dit nog destyds tevergeefs uitgesaai probeer kry in ’n herinneringsprogram oor die radio. Hy vertel hoe hy op sy fiets in die sandpad aangery kom huis. Halfses op ’n somersdag. Soos hy nader kom, sien hy twee dames staan by ’n tuinhekkie. Hy verkyk hom aan hulle. So mooi aangetrek, so versorg. Die een lank, die ander korterig. En hulle glimlag met hom. Toe kom hy agter hy moet stilhou by die ou langhuis. Hy wóón hier. Dis mos sy dogter Hendrina. En sy eie vrou. Sy eie ou Hen.

    Ek het nooit van Ouma Hen gepraat nie.

    In die ou langhuis is daar gereeld saans huisgodsdiens gehou in die eetkamer nadat die tafel opgeruim is. Deur ’n smal venster kon jy deur die populiere stukkies van die rivier sien. Op ’n maanligaand was daar duidelike stukke duisternis en ook silwerheid. Ek het daarna gekyk en dan Oupa se vrae oor die gelese Bybelgedeelte beantwoord.

    Ná Ouma se dood het Oupa Worcester toe getrek en by tannie Hendrina-hulle gaan woon. Hy en sy worshond Pennie. As jy met die gang afstap na sy kamer en die deur staan oop, kyk jy dadelik vas in ’n groot geraamde portret van Ouma. Vir my was daar iets treurigs aan haar oë. Ek het vergeefs ’n gedig probeer skryf oor Ouma se in memoriam-oë.

    In daardie jare duik ’n stukkie skaduagtigheid op. Oom Andries en tant Hendrina het deur ’n laagtepunt in hulle huwelik gegaan. Hy had ’n minnares. En toe Oupa hulle die aand by die kombuistafel daaroor aanspreek, herinner hulle hom aan Miss Griffiths. Ma het dikwels vertel hoe swaar sy dit op skool had. Miss Griffiths het in Engels vir hulle skoolgehou in die eenmanplaasskooltjie. En Koos Möller met die netjiese kruisbande het soms deur die populiere langs die rivier ’n koers ingeslaan. Na háár toe.

    Ek, Ouma en Oupa staan opgeteken in J. de V. Lötter se Die Overbergse Lötters en hul familie (2008). Dit gaan om haar as ’n nooi Lötter: "Hendrina Christina (Hennie) (12/9/1886 – 16/7/1954), sy was mank; x Jacobus (Koos) Möller (van Orchard). Haar kleinseun Danie Botha het by Tafelberg-Uitgewers gewerk en ook ’n boek gepubliseer." Broer Koos, met sy genealogiese kennis, verduidelik dat net die Lötter-lyn in die stamboom gevolg word; daarom word nie al die ander van Ouma se nageslag genoem nie.

    Ek het weeïg gevoel om te lees wat van Ouma opgeteken is.

    Broer Koos

    Beste Natasja en Heinrich

    Dis nou ook al ’n mooi klompie jare gelede dat julle pa in die wêreld gekom het.

    Ek wil ’n paar stories vir julle oor sy kinderdae vertel, goed wat hy nie sal onthou nie, of wat hy dalk nog nooit vir julle vertel het nie.

    Daar bestaan ’n foto waarop ek nog my lewe lank baie trots is. Dis afgeneem op Brandwacht voor ons ou armoedige huisie langsaan Oupa en Ouma se Groothuis. Op die agtergrond die berge, maar dis 1952, en oom Kallie Acker se boorde op die buurplaas bestaan nog nie. Ons staan by ’n wattelboompie wat later woes groot sou word. Ons is almal mooi aangetrek. Dis seker ’n Sondagmiddag en ons het ons spesiale klere aan. Dié dat ek so van die foto hou – ons lyk so gelukkig en mooi saam. Pa het vir Dria op sy arm. Sy flanelbroek se pype staan wyd. Dan staan Ma, die hare mooi gegolf, en dan ek teen haar.

    Ek het eenkeer vir Ma gesê hoe ek van dié kiekie hou. Toe kom dit uit sy voel ’n bietjie ongemaklik daarmee. Want sy kan daarin sien hoe ver swanger sy met ons little brother is, soos hy homself jare later in ’n brief aan my in die armie sou noem.

    Skielik moes ek en Dria op die nag van 18 Maart 1952 langsaan by Ouma en Oupa in die Groothuis se vrykamer gaan slaap, want Mamma is na The Pines op Worcester om geboorte te gee aan ons boetie op 19 Maart 1952.

    ’n Paar dae later was hy by ons in die huis. Ek het glo vol verwondering, byna met aanbidding gesê: ’n Babatjie! ’n Babatjie!

    ’n Mens se geheue bring die verlede in flitse terug. Dis aand. Badtyd vir Kosie in die donker kombuis by lanternlig. Onthou, ons het nie ’n badkamer gehad nie. Saans moes ons by die lig van kers, lantern of olielamp leef. Die hele gesin is om hom geskaar terwyl Ma hom versigtig hanteer. En meteens gee hy ’n vertoning om te sê hy’s hier. Hy piepie ’n boogstraaltjie, en ons almal lag en oe en aa.

    Nou gaan ek net aanteken soos die gebeurtenisse by my opkom.

    Aan die suidekant van die twee huise wat vas aan mekaar was – eens op ’n tyd was óns huis perdestalle – loop ’n watersloot vanaf die dam agter die bloekombos aan die westekant tot in die kleiner dam met donkerswart modder aan die oostekant waarvandaan die boord

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1