Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Oor Berge en Dale: Op Reis met 'n Monumentjagter
Oor Berge en Dale: Op Reis met 'n Monumentjagter
Oor Berge en Dale: Op Reis met 'n Monumentjagter
Ebook367 pages4 hours

Oor Berge en Dale: Op Reis met 'n Monumentjagter

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Daar is nie 'n plaasdraad te hoog, grondpad te sinkplaat of aanwysings te gebrekkig om die geskiedkundige Jackie Grobler te keer nie. Wanneer hy 'n monument in sy visier het, sal hy dit vind. In hierdie boek reis hy oor berge en dale deur die vlaktes van die binneland tot by die voetheuwels van die Drakensberge op soek na meer as 400 interessante gedenkplekke. Van die monumente is bekend en vertel van groot keerpunte in ons geskiedenis. Ander is weggesteek en onthul minder bekende aspekte van die verlede. Grobler reis onder meer op die spoor van die Voortrekker Louis Tregardt deur Limpopo en in KwaZulu-Natal besoek hy slagvelde van die Anglo-Zoeloeoorlog en struggle-gedenkplekke. In Gauteng vind hy monumente ter ere van twee van Suid-Afrika se grootste leiers: Nelson Mandela en Jan Smuts. Sy reise na die Oos-Kaap neem hom na gedenkplekke vir Steve Biko en in die Wes-Kaap gaan hy op die spoor van die Portugese ontdekkingsreisigers.
LanguageAfrikaans
PublisherJonathan Ball
Release dateMay 31, 2017
ISBN9781868427857
Oor Berge en Dale: Op Reis met 'n Monumentjagter
Author

Jackie Grobler

JACKIE GROBLER is die skrywer van die topverkoper The War Reporter, wat reeds agt keer herdruk is, asook die Afrikaanse vertaling, Oorlog-Beeld (2014). Voor sy aftrede in 2016 was Grobler vir bykans vier dekades ’n dosent in geskiedenis en in erfenis- en kultuurtoerisme aan die Universiteit van Pretoria. Dertien boeke oor uiteenlopende onderwerpe het al uit sy pen verskyn. Grobler is ’n aktiewe lid van verskeie organisasies, waaronder die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en ’n direksielid van die Voortrekkermonument-maatskappy.

Related to Oor Berge en Dale

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Oor Berge en Dale

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Oor Berge en Dale - Jackie Grobler

    Inhoud

    Voorwoord

    1 KWAZULU-NATAL

    ’n Vergete slagoffer van Bloukrans

    Soos David en Goliat . . . die Anglo-Zoeloeoorlog (1879)

    Majuba en die Eerste Vryheidsoorlog

    Struggle-helde van Inanda tot Groutville

    2 LIMPOPO

    Agter die voorste Voortrekkers aan

    Tekens van vroeë konflikte oor grond

    Die Bushveldt Carbineers (BVC)

    3 GAUTENG

    Danie Theron se groot aanhanger

    Presidente en gedenkplekke van die Boererepublieke

    Kloofbegraafplaas, Heidelberg

    Jan Smuts – leier met die wêreld aan sy voete

    ’n Reis deur die onlangse verlede in Mamelodi

    Van Thokoza na Sharpeville

    Soweto deurkruis

    Op die lang pad van Nelson Mandela

    4 VRYSTAAT

    Saam met die Voortrekkers deur die Vrystaat

    Die stryd tussen Boer en Brit in die koppies en op die vlaktes

    5 NOORD-KAAP

    Die genadeloosheid van oorlog

    Anglo-Boereoorlog-ontdekkings langs agterpaaie

    6 NOORD-WES

    Die Eerste Vryheidsoorlog in die ou Transvaal

    Op die spoor van Koos de la Rey

    7 MPUMALANGA

    Twee Afrikanermartelare: Gideon Scheepers en Jopie Fourie

    8 OOS-KAAP

    Die stryd vir vryheid en gelykheid

    Struggle-gedenkplekke in die eertydse Transkei

    Groot Trek-gedenkplekke in die Oos-Kaap

    Tereggesteldes in die stryd tussen Boer en Brit

    9 WES-KAAP

    Portugese seevaarders om die kus

    Die VOC aan die Kaap in die 17de eeu

    Vroeë konflikte aan die Kaap (1652-1830)

    Monumente vir Afrikaans 

    Om Afrikaanse digters en skrywers te onthou

    Indeks van herdenkingsplekke volgens dorpe/stede

    Bronnelys

    Voorwoord

    Oor Berge en Dale is in die eerste plek verhale oor die reise wat ek oor die jare onderneem het om gedenkplekke oor die lengte en breedte van Suid-Afrika op te spoor. Die gedenkplekke sluit nie net monumente in nie, maar ook standbeelde, woonhuise, historiese geboue en terreine, slagvelde, begraafplase en grafte.

    Die boek verstrek inligting oor waar hierdie herinneringsplekke gevind kan word, oor die stuk geskiedenis waaraan dit uitdrukking gee en oor die mense wat daarby betrokke was of met wie dit in verband staan. Die verhale is losweg volgens provinsie ingedeel, maar in talle stukke word daar oor provinsiale grense gereis.

    Ek deel ook hoe ek by sommige van die meer afgeleë gedenkplekke uitgekom het, hoe ek soms onverwags op gedenkplekke afgekom het waarvan ek nie tevore geweet het nie, belewenisse tydens my reise en indrukke van sommige van die gedenkplekke. Hier en daar spreek ek my ook uit oor die boodskappe wat sommige van die gedenkplekke in die konteks van die era waarin dit opgerig is, verkondig het of binne die huidige omstandighede in Suid-Afrika verkondig.

    Ek het my togte selde alleen aangepak. In die meeste gevalle was my medereisiger my vrou, Elize, wat gewoonlik as navigator opgetree en op plaaspaaie selfs die hekke oop- en toegemaak het. Ons het telkens op pad na of terug van vakansies by gedenkplekke stilgehou, wat beteken dat een of meer van ons vier kinders ook soms by was. Kollegas en vriende het op ander geleenthede saamgery en aan die lewendige besprekings oor gedenkplekke deelgeneem.

    Om dit makliker te maak vir diegene wat self ook van hierdie monumente wil gaan besoek, is daar ’n lys van monumente met GPS-koördinate aan die einde van die boek. Die lys is egter nie volledig nie, omdat ek nie tydens al my reise oor die nodige toerusting beskik het om koördinate te neem nie. Die koördinate van gedenkplekke op bekende terreine soos Adderleystraat in Kaapstad word ook nie verstrek nie.

    ’n Kort bronnelys bevat die vernaamste bronne wat ek gebruik het en wat as gids tot verdere gedenkplekke kan dien.

    Ek is groot dank verskuldig aan al die baie mense wat my oor die jare gehelp het om by gedenkplekke uit te kom. Die meeste van hulle word by naam genoem, maar soms het ek ongelukkig nie hul besonder­hede neergeskryf nie. Talle mense het my bloot toevallig oor die bestaan van ’n monument ingelig of per e-pos vir my inligting gestuur – sommige sonder dat ek hulle eens geken het. Sonder al hierdie medewerkers sou ek nooit by al die gedenkplekke kon uitkom nie.

    Laastens bedank ek graag die personeel van Jonathan Ball Uitgewers vir hulle bydrae tot die afronding van die teks en alles wat met die publikasie saamhang. Ek besef dit is bloot hulle werk, maar die entoesiasme waarmee hulle dit aangepak het, was vir my ’n sterk motivering om die projek deur te voer.

    Jackie Grobler

    1

    KWAZULU-NATAL

    Die Zoeloe-gedenkteken by Rorke’s Drift

    ’n Vergete slagoffer van Bloukrans

    Vroegmiddag op ’n Saterdag enkele jare gelede het ek en my vrou en getroue reisgenoot, Elize, van KwaDukuza (vroeër Stanger) aan die KwaZulu-Natalse noordkus al met die R74 die binneland in koers gekies. Bestemming – Greytown. Die pragtige, heuwelagtige omge­wing het my laat terugdink aan ’n volkleuradvertensie uit my jeug­jare wat daarop gemik was om mens na Natal te lok: Welkom in die land van ’n duisend heuwels.

    Kort anderkant Kranskop sien ons skielik een van daardie ken­merkende groot bruin borde langs die pad wat diep in die veld in wys. Die simbool op die bord dui grafte aan: Sarie Maré en Aia Jana. Wie die Aia Jana was, het ons nie geweet nie. Danksy die volksliedjie is die naam Sarie Marias natuurlik baie bekend, maar ek was nie bewus daarvan dat daar werklik so iemand bestaan het nie. En het sy nie (volgens die liedjie) in Transvaal gewoon nie?

    ’n Kollega, die geskiedkundige Fransjohan Pretorius, reken Sarie Marais is bes moontlik ’n vertaling van die Amerikaanse liedjie Ellie Rhee. Hy het op ’n keer by ’n geskiedeniskonferensie selfs die Engelse weergawe vir ons gesing.

    Ek het nie geweet sy is in Natal begrawe nie, sê Elize.

    Ek ook nie. Net daar gooi ek ankers uit en draai af op ’n plaaspad in die rigting wat die bord beduie.

    Wanneer ons ’n afdraaipad na iets soos ’n graf of monument vat waarvan ons niks weet nie, is ons beleid nog altyd om – indien ons geen verdere aanduidings kry of iemand opspoor wat kan help nie – hoogstens 5 km ver te ry voordat ons omdraai. In hierdie geval het die pad skielik na 4 km verdeel, maar gelukkig was daar langs die een paadjie ’n klein bordjie wat sê Grafte. Ons druk toe maar deur.

    Na ’n paar honderd meter kom ons uit by ’n omheinde huis. Op die hek is ’n bordjie met ’n selfoonnommer op. Elize bel, maar daar is geen antwoord nie. Ons volg toe maar die tweespoorpaadjie wat links by die eensame huis verbyloop. Dit lei ons ’n plantasie in.

    Kort daarna kry ons weer ’n graftebordjie en weer verdeel die pad, wat teen daardie tyd basies net twee spore is. Ons volg die linker­kantse spore in die verwaarloosde, bosbegroeide plantasie tot ons skielik ’n oop vallei binnery. Van bordjies of grafte was daar egter geen teken nie.

    Ons draai om en volg die regterkantse paadjie en so wrintiewaar, skielik doem ’n beskeie begraafplaas tussen die bome op. Daar is net sowat ses grafte, waaronder dié van die geliefde huis vrouw Sara Johanna Adriana Nel (née Maré), wat in Desember 1877 oorlede is. Dit lyk asof dit moontlik ’n Maré-familiebegraafplaas was.

    Twee grafte aan vind ons ’n nederige grafsteen wat behoort aan Aia Jana. Wie was sy? wonder ons steeds. Ek neem die grafte af en Elize skryf die koördinate neer voordat ons terugdraai Greytown toe, want daar was nog heelwat historiese plekke wat ons daardie dag moes besoek.

    Die geheimenis van Aia Jana is net die volgende dag vir ons op­geklaar toe ons die Voortrekkermuseum (deesdae die Msunduzi-museum) in Pietermaritzburg besoek het. Voor die ou Geloftekerkie op die terrein kom ons af op ’n granietgedenksteen wat teen ’n boom­stam opgerig is.

    Die inskripsie lees: Aia Jana *1831 †24.5.1924. Hierdie Matabele vrou het sedert 1836 die trek meegemaak saam met Wynand Maré en gesin en was ’n oorlewende van Bloukrans met ses assegaaisteekwonde. Sy het as genooide gas met die opening van die Voortrekkermuseum op 16 Desember 1912 ook ’n boom op die terrein geplant. Sy is begrawe op die plaas Umvotipoort, distrik Greytown.

    Aia Jana se graf is heel links waar my vrou, Elize, staan.

    Aia Jana was as ongeveer sewejarige dogtertjie gelukkig om die bloedbad by Bloukrans in die nag van 16 en 17 Februarie 1838 te oorleef. Daardie nag het ongeveer 300 Voortrekkermans, -vroue en -kinders, asook 250 van hul werkers en huishulpe, omgekom toe hulle deur Zoeloekrygers aangeval is. Dit word steeds as een van die grootste slagtings in die land beskou.

    Ons was aangenaam verras dat die grondleggers van die Voor­trekker-museum (wat die Geloftekerkie gered het nadat dit teen 1912 bykans heeltemal verval het) in daardie jare van rasseskeiding aan ’n swart vrou hulde gebring het op ’n terrein wat bykans as heilige grond vir die Afrikaner beskou is. In hierdie dae is dit ’n kosbare simbool van ’n eertydse afwesigheid van godsdienstige eksklusiwiteit onder Afrikaners.

    Van Pietermaritzburg op pad terug huis toe het ons ’n entjie suid van Colenso van die R74 afgedraai om na die Bloukrans-monument te gaan kyk. Die marmerobelisk van 7 m hoog staan eensaam in die veld op ’n voetstuk van klip. Vir hedendaagse besoekers is dit natuurlik onmoontlik om hulle in te dink hoe daardie omgewing in Februarie 1838 gelyk het toe daar nog geen paaie van enige aard was nie, daar weinig bome op die oop grasvlaktes gestaan het en die gebied feitlik onbewoon was.

    Die Bloukrans-monument is besonders, veral omdat dit een van die min gedenktekens in die land is wat in die 19de eeu opgerig is en die inskripsie is dus nog in Hollands. Dit is gebou bo-op die massagraf van ’n aantal slagoffers van die slagting. Aan die een kant van die monument is ’n marmerreliëf wat die Zoeloekrygers se aanvalle op die Voortrekkerlaers uitbeeld – dit was die handewerk van ene professor Nicilo van Carrara in Italië. Die marmerpaneel is ongelukkig gevandaliseer, ’n lot wat verskeie gedenktekens in die land al beval het.

    Aia Jana was nie die enigste dogter of jong meisie wat tydens die Blou­krans-slagting ernstig gewond is, maar oorleef het nie. Die twee bekendste oorlewendes was ongetwyfeld Johanna Catharina van der Merwe en Margaretha Catharina Prinsloo. Johanna het 26 assegaai­steke in haar liggaam gehad en Margaretha 22.

    Dit was veral Johanna wat in die ontstaansgeskiedenis van die Afrikaner die groot martelaar van Bloukrans geword het. In Rouxville in die Vrystaat staan ’n monument ter ere van haar op die terrein van die NG kerk. Tydens die Voortrekker-eeufeesgedenktrek van 1938 is een van die 15 waens wat Suid-Afrika deurkruis het ook na haar vernoem. Dit is jammer dat Johanna se naam vir jare aan elke Afrikaanse skoolkind bekend was, maar Aia Jana in die vergetelheid verval het.

    Ons het bly wonder oor Aia Jana. Hoe het dit gebeur dat ’n sewe­jarige Matabele-dogtertjie haar op 17 Februarie 1838 in ’n Voortrekker-laer in die Bloukrans-omgewing bevind het? Was haar ouers ook in die laer – miskien as werknemers van die Maré-gesin? Of was sy ’n weeskind wat deur die Maré’s ingeneem is? Soos tienduisende ander swart vroue wat in daardie era lewenslank by wit gesinne in diens was, was Aia Jana na alle waarskynlikheid ’n eiendomlose wese wat min of geen vryheid van beweging gehad nie, maar moontlik as ’n besitting van die Maré’s moes gaan waar hulle gaan.

    Die Johanna van der Merwe-monument in Rouxville

    Watter Matabele-naam het haar ouers haar gegee? (Die aia voor haar noemnaam is vandag nie meer ’n aanvaarbare term om na swart vroue te verwys nie, maar dit is deur vroeë geslagte Afrikaanssprekende wit mense as aanspreekvorm vir ’n ouer swart vrou gebruik.)

    Een afleiding wat ’n mens wel met vertroue kan maak, is dat sy ’n mate van aansien moes geniet het of minstens ’n belangrike rol in haar werkgewers se lewe gespeel het. Hoe anders verklaar ’n mens dat sy in dieselfde familiebegraafplaas as die Maré’s ter ruste gelê is? Uiteindelik het sy gesterf waar hulle gesterf het en is sy saam met hulle begrawe.

    Soos David en Goliat . . . die Anglo-Zoeloeoorlog (1879)

    Ek was nog op skool toe my oupa een Kersfees die boek Zulu Battle Piece: Isandlwana vir my present gegee het. Daarin het ek vir die eerste keer van die Anglo-Zoeloeoorlog van 1879 gelees en hoe die Zoeloekrygers in Januarie daardie jaar by Isandlwana ’n oorweldigende oorwinning oor die Britse invalsmag behaal het.

    In die nasionalistiese atmosfeer waarin my geslag Afrikaners groot­geword het, was enige vyand van die Britte ons vriende en enige weermag wat die Britte laat les opsê het, ons helde. Nadat ek die boek gelees het, het die geledere van vriende en helde die Zoeloes ingesluit. Tog het daar meer as 40 jaar verloop voordat ek die eerste keer na die slagveld gery het – soos feitlik altyd vergesel deur my vrou, Elize.

    Ons het ’n entjie suid van Nqutu van die R68 afgedraai en op ’n grondpad in ’n suidwestelike rigting gery. Ons kon van ver af reeds die sfinksagtige Isandlwana-koppie raaksien, wat so dikwels op Britse olieverfskilderye uitgebeeld word.

    Spoedig was daar ook talle hopies witgekalkte klippe sigbaar. Ons het later verneem hierdie hopies dui aan waar daar massagrafte is van die gevalle Britse soldate, wat destyds nog in rooi baadjies geveg het.

    By die ingang na die slagveldterrein het die hekwag ons meegedeel dat ons eers toegangskaartjies by die inligtingsentrum moes gaan betaal. Die sentrum was in ’n nabygeleë stowwerige dorpie. Weens die oormaat klippe en slote in die pad het ons stadige vordering daarheen gemaak. Ons moes in die dorp ook ’n ompad vind om ’n kerkgebou waar ’n begrafnisdiens aan die gang was, omdat die begrafnisgangers se voertuie een hele straat vol geparkeer was.

    Die Ulundi-slagveldmonument

    Toegangskaartjies gekoop en bewapen met ’n eenvoudige terrein­kaart, was ons uiteindelik weer terug by die hek.

    Die eerste struktuur waarop ’n mens op die slagveldterrein afkom, is die monument ter ere van Zoeloekrygers wat daar gesneuwel het. Verder is daar talle monumente vir die gevalle Britse soldate. Die standaardopskrif op hierdie monumente lui as volg: Erected to the Glory of God and in memory of those who fell fighting for Queen and Country.

    Al was die Zoeloe-koninkryk die slagoffer van ongebreidelde impe­ria­lisme, word daar interessant genoeg geen melding van gemaak dat die Britse magte ’n aggressiewe aanval geloods het op ’n nasie wat hulle geensins kwaad aangedoen of hulle wêreldmag bedreig het nie.

    Van Isandlwana af het ons met die grondpad deur die onherberg­same vallei van die Buffelsrivier weswaarts na Rorke’s Drift koers gekies. Die pad was naastenby parallel aan die roete waarlangs ’n groep vlugtende Rooibaadjies na die destydse sendingstasie by Rorke’s Drift teruggeval het.

    Met ons aankoms daar het ons onder ’n bloekomboom parkeer en die somber terrein betree. Daar was weinig ander toeriste. Ons het woorde­loos gestaar na die uitstallings in die ou sendinggeboutjie waar luitenant John Chard en sy 150 man die nag na die nederlaag by Isandlwana so manhaftig teen ’n doelgerigte Zoeloe-aanval weerstand gebied het.

    Elf soldate wat Rorke’s Drift suksesvol help verdedig het, is uit­einde­lik met die Victoria-kruis vir dapperheid vereer.

    Al is die Zoeloekrygers se aanval op Rorke’s Drift afgeslaan en het hulle heelwat ongevalle gely, word hulle eweneens by Rorke’s Drift vereer. Agter die sendinggeboutjie is ’n beeldhouwerk in brons van ’n trotse luiperdmannetjie wat bo-op ’n hoop Zoeloeskilde lê. Die boodskap is duidelik: Rorke’s Drift was allesbehalwe die einde van Zoeloeverset teen die Britse inval.

    Van Rorke’s Drift het ons verder oos gery, die hart van die landelike Zoeloeland binne. Ons volgende bestemming was die gedenkteken op die plek waar die sogenaamde Prince Imperial gesneuwel het. Prins Napoléon Eugène Louis Jean Joseph Bonaparte was die avontuurlustige – en enigste – kind van wyle keiser Napoleon III van Frankryk en sy vrou, Eugénie (in die geskiedenisboeke word hul seun ook Napoleon IV genoem). Hy het op eie versoek tydens die Anglo-Zoeloeoorlog in die Britse weermag gedien.

    Napoleon IV was op 1 Junie 1879 deel van ’n Britse verkennings­patrollie wat deur Zoeloekrygers oorrompel is en hy is 16 keer met assegaaie gesteek. Terwyl ek en Elize die monumentjie op sy sterfplek bewonder, stap ’n Zoeloevrou, vergesel deur ’n klompie uitbundige kinders, met ’n besoekersboek in haar hand en ’n sekel in haar kapsel nader. Toe ek haar wil afneem, trek sy die sekel uit haar hare. Op my versoek sit sy dit gelukkig terug vir die foto.

    Napoleon IV se oorskot rus in ’n kerk in Engeland, maar sy ma het later wel sy sterfplek in Suid-Afrika kom besoek. Ons het skalks ge­wonder of sy ook deur ’n vrou met ’n sekel in haar hare verwelkom is.

    Ons het vroeër in Utrecht, ook in Kwazulu-Natal, ’n foto gaan neem van die huis van Swart Dirk Uys, waar Napoleon IV skynbaar by een van Uys se dogters gekuier het. Sou die nooi Uys werklik haar hart op die jonge Napoleon – hy was destyds 23 – verloor het? Sekerlik was daar nie ’n toekoms vir hulle verhouding nie, selfs al het hy die oorlog oorleef.

    In Utrecht staan daar oorkant die straat van die Nederduitse Gereformeerde kerkgebou ’n monument vir Petrus Lafras Uys (1827-1879), ’n seun van die Voortrekkerleier met dieselfde naam en ’n kleinboet van die bekende Dirkie Uys. Hy was heel moontlik ook ’n familielid van Swart Dirk Uys.

    Petrus Lafras Uys het 32 Boere aangevoer wat die Britse magte tydens die oorlog gehelp het. Hy het aan die einde van Maart 1879 in die geveg by Hlobane gesneuwel. Die Britse opperbevel het toe die monument ter ere van hom opgerig. Die wyse waarop hy dood is, herinner aan dié van sy ouboet Dirkie net meer as vier dekades tevore (Dirkie het volgens oorlewering as 15-jarige Voortrekkerkind tydens ’n geveg met die Zoeloes omgedraai om sy gewonde pa te help, maar hulle is al twee dood). Daar word vertel dat Petrus Lafras Uys ’n goeie kans op ontsnapping gehad het toe hulle onverwags deur die Zoeloes aangeval is, maar dat hy oorval is toe hy omgedraai het om sy oudste seun by te staan.

    Ek en my vrou het Hlobane nooit besoek nie, maar wel die Kambula-slagveld noordwes van die latere dorp Vryheid. Dit was ’n storm­agtige oggend toe ons daar was en ons het nie lank vertoef voordat ons op die spoor van die Anglo-Zoeloeoorlog na Ulundi gery het om na die slagveldmonument daar te gaan kyk het.

    Hierdie indrukwekkende klipstruktuur gedenk die finale Britse oorwinning oor die Zoeloekoning Cetshwayo op 4 Julie 1879. Dit is ’n unieke gedenkteken in dié opsig dat die een vleuel die ongeveer 500 gevalle Zoeloekrygers vereer en die ander die 13 man wat aan Britse kant gesneuwel het.

    Van Cetshwayo se hoofvesting is vandag niks te siene nie, omdat die Britse magte dit direk na hulle oorwinning afgebrand het. In Ulundi is daar wel ’n Zoeloemuseum wat spog met ’n standbeeld van Cetshwayo en die Tatham-kunsgalery in Pietermaritzburg huisves ook ’n groot skildery van hom in sy volle mondering. Van Ulundi is ons na Eshowe om ander Cetshwayo-gedenktekens af te neem. Daarna het ons met die R66 koers gekies kus toe, maar drie keer langs die pad gestop om monumente en slagvelde van die Anglo-Zoeloeoorlog, onder meer by Gingindlovu, Inyezane en Fort Chelmsford, af te neem.

    By die N2 het ons suid gedraai na die omgewing waar die Tugela­rivier in die oseaan uitmond om na die Ultimatumboom te gaan soek. Die Britse owerhede het hier hul ultimatum, wat tot die uitbreek van die oorlog gelei het, aan Cetshwayo se indoenas oorhandig. Ons het heen en weer deur suikerrietlande en oor die rivier gery, maar kon dit nie vind nie.

    Tydens latere besoeke aan KwaZulu-Natal om ander monumente op te soek, het ons by verskeie geleenthede gedenktekens en uitstallings oor die Anglo-Zoeloeoorlog raakgeloop. Dit sluit uitstallings by onder meer die Talana-museum in Dundee en die Msunduzi-Voortrekker-museum in Pietermaritzburg in. Die omvang daarvan het ons verbaas.

    Toe ons by geleentheid op ’n reënerige Saterdagmiddag op ’n glibberige grondpad van Luneberg na Paulpietersburg op pad was, sien ons skielik in ’n opening tussen die digte bome langs die pad iets wat onmiskenbaar soos ’n monument lyk. Dit blyk toe ’n gedenkteken te wees vir ’n Duitser en ’n Deen wat tydens die oorlog gesneuwel het. Heelparty gestorwe soldate is ook in die begraafplaas langs die Duitse kerk op Luneberg begrawe en in Newcastle se begraafplaas is ’n gedenkplaat wat die name bevat van al die soldate uit daardie dorp wat in die oorlog dood is.

    As kind het ek in Zulu Battle Piece: Isandlwana gelees dat die inwoners van Natal deur paniek beetgepak is toe hulle gehoor het die Britse magte is by Isandlwana verslaan. Hul vrees vir die Zoeloemag was nie ongegrond nie. Dit was dus geen verrassing toe ons in Howick op ’n ou klipmuur afgekom het met die volgende inskripsie op ’n inligtingsbord nie: Laager Wall. Built by Sir George Sutton and the Villagers of Howick after the Battle of Isandlwana 1879.

    Majuba en die Eerste Vryheidsoorlog

    Vir die meeste mense word die Eerste Vryheidsoorlog (1880-1881) onlosmaaklik verbind met Majuba, die berg van die duiwe. Dit was op die kruin van hierdie berg waar die Transvaalse Boere op 27 Februarie 1881 een van die roemrykste oorwinnings ooit oor ’n Britse militêre mag behaal het. Die hele berg verdien gevolglik die eer om as gedenkteken gereken te word.

    Majuba is ’n prominente landmerk wat net suid lê van die punt waar die huidige provinsies van KwaZulu-Natal, die Vrystaat en Mpumalanga bymekaarkom, naby die dorp Volksrust.

    Ek en Elize het Majuba al verskeie kere besoek en sy het by twee geleenthede kans gesien om saam met my die noordelike helling tot bo uit te klouter. Dit is naastenby die rigting van waaruit die Transvaalse burgers na die kruin gekruip het om kommandant-generaal Piet Joubert se opdrag uit te voer om die Rooibaadjies van die berg te gaan afhaal.

    Volgens oorlewering was dit Joubert se vrou, Hendrina (wat hom telkens op veldtogte vergesel het), wat die Britte vroeg die oggend eerste op die bergkruin raakgesien het. Die verhaal het later gestalte gekry in ’n standbeeld wat op die Burgerplein in die destydse Pietersburg, vandag Polokwane, opgerig is. Pietersburg is na Joubert vernoem nadat dit in 1886 gestig is, al het hy nooit in daardie omgewing gewoon nie. Die beeld, deur Danie de Jager, is van Joubert op sy perd en ’n lenige Hendrina te voet langs hom wat met haar hand beduie na waar die vyand op Majuba is.

    Die kruin van Majuba waar Colley gesneuwel het

    O’Neill se kothuis

    Die Slag van Majuba was nie die eerste botsing tussen die Boere en die Britte in die Eerste Vryheidsoorlog in

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1