Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

’n Vienna het twee punte, anders is hy net te lank
’n Vienna het twee punte, anders is hy net te lank
’n Vienna het twee punte, anders is hy net te lank
Ebook133 pages4 hours

’n Vienna het twee punte, anders is hy net te lank

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Nog ’n bundel stories deur meestervertellers Nico Nel en Uys van der Hoven. Dis stories oor jou pêl se skoonma se neef se vrou, stories wat van ver kom maar net sowel dié van jou buurman of die ou in die kroeg kon wees. Stories wat om die tafel of om die vuur die geselskap sal laat huil soos hulle lag. So is daar byvoorbeeld die storie oor Wessie van der Westhuyzen van Victoria-Wes en sy pelle wat met sy sesplekvliegtuig die N1 gevolg het om op Nuweland rugby te gaan kyk. Ander stories sluit in dié van die plattelandse dokter wat ’n noodbreinoperasie moes uitvoer en die jongman wat die mooiste meisie op kampus wou beïndruk met sy stapvermoë.
LanguageAfrikaans
Release dateOct 10, 2013
ISBN9780798155656
’n Vienna het twee punte, anders is hy net te lank
Author

Nico Nel & Uys van der Hoven

Nico Nel is bekend as storieverteller van formaat uit sy dae as medeaanbieder van die gewilde televisieprogram “Maak ’n las”. Meer onlangs was hy aanbieder van kykNet se “Nico Nel kook en vertel”.

Related authors

Related to ’n Vienna het twee punte, anders is hy net te lank

Related ebooks

Related articles

Reviews for ’n Vienna het twee punte, anders is hy net te lank

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    ’n Vienna het twee punte, anders is hy net te lank - Nico Nel & Uys van der Hoven

    ’n Vienna het twee punte, anders is hy te lank

    Uys van der Hoven en Nico Nel

    Human & Rousseau

    Voorwoord

    Ons het nooit kon dink dat ons ooit ’n boek sou skryf nie; inteendeel, ons het so nooit aste nim­mer kon dink dat iemand ooit iets sou lees wat ons geskryf het nie. (Onderwysers moes betaal word om dit te doen en hulle het dit gehaat.)

    Die laaste mense wat iets gelees het, voor ons vorige boek Die kinders eet viennas, maar ’n man kan nie relax nie, was juis onderwysers, lektore en professore wat daarna lafenis moes vind weens woede, magteloosheid, ongeloof, verbasing en algemene ineenstorting, hetsy by hulle kollegas, vrouens of die bottel. Hulle het na ons antwoordstelle gekyk soos ’n polisieman maak op ’n grusame ongelukstoneel – wegkyk-wegkyk, nie omdat hy na die ding wil kyk nie, maar omdat hy moet. Hulle onsmaaklike en goor gesigsuitdrukkings was die volgende dag in hulle gelaatstrekke ingeëts wat eers ná aftrede begin het om stadig te verdwyn. Tydens monde­linge eksamens het daardie einste beswaarde gesigte ons aangegluur, soveel so dat ons in so ’n mondelinge eksamen afgekyk het na hulle hande toe. Ons het dan raakgesien dat hulle sproete op hulle hande het of dat hulle kneukels uitermate dik is, of dat hulle ’n ring aan die verkeerde vinger dra, of die plooie op die hande is dieper as kontoere, of die are bult blou asof dit wil bars, of die haartjies op die bokant is blond. Daar moet ’n reël wees dat iemand wat ’n mondelinge eksamen afneem sy hande moet wegsteek, sodat dit nie die student se aandag aftrek nie. As ons professore mooier hande gehad het, sou ons baie beter in ons mondelinge eksamens gevaar het. Ons ouers wou dit eenvoudig nie verstaan nie.

    Ons vorige boek, hierbo na verwys, is reeds in die derde druk en as julle dit nog nie gelees het nie, moet julle asseblief nou iets daaraan doen, ons verbandpaaiemente is agter en ons kinders smag na witbrood en koeldrank met gas in. Dankie vir sommige van julle se ondersteuning om dit te gekoop het, dit is werklik rieme onder ons bankbestuurders se beklemde hartjies. Namens hulle, ons twee bankbestuurders, met die haartjies op die tande, baie dankie nogmaals.

    Iemand het in die jare sestig, toe ons op skool was, iets teen lag gehad. Blykbaar was lag nie deel van die kurrikulum of die samelewing in daardie jare nie, ook nie in die skole of die lewens van kinders in Soweto en Gugulethu nie, om maar net ’n paar te noem. Ons wonder en weet eintlik dat daar miljoene mense in Suid-Afrika was wat toe nie wou lag nie. Ons kan nou opmaak daarvoor.

    Ons het ons eerste boek geskryf en gedink dis mos maklik om te skryf, dit is like clubbing baby seals. Etien­ne van Heerden het op die aand van NB-Uitgewers se afskeid van meneer Koos Human met ons op die stoep van Leinster Hall staan en gesels, so asof ons gereken is as skrywers, maar dit was maar net omdat hy een van ons vaagweg onthou van ons studentedae af. Dit was die naaste wat ons in ons lewens aan ware skryftalent gekom het, hy was so een meter van ons af. Nadat ons sy boeke gelees het, het ons besef dat die werklike vernuf en die gawe om literatuur van formaat te skep elders gesoek moet word as by ons. Ons wil julle net vermaak.

    Ná ons vorige boek het mense ons op die skouers geklop en gesê: Ons het nie geweet julle het letterkunde in julle nie, wat ons self verbaas het, want nie een van ons het sierskrif as vak op skool of daarna op tersiêre vlak geneem nie – synde die kundigheid om ’n letter mooi te skryf of te maak. Iemand het ons reggehelp en verduidelik dat letterkunde iets anders beteken.

    Ons gee dus nie voor dat hierdie werk letterkundige waarde het nie, of dat dit meeding met ander meesterstukke in ons pragtige taal nie; al wat ons wil regkry, is om mense te laat lees en dit te geniet. Gesinne moet saam om ’n boek kan kuier en lag. Hoe meer gesinne saamlag, hoe gesonder is die bande van daardie gesin. Die gesin is die hoeksteen van ons samelewing en daarom is hierdie boek weer eens geskik vir die hele gesin. (Hier en daar word ’n kras woord gebruik, maar ná vele, glo ons, vele oorweging en onderlinge debatvoering het ons besluit om dit in te hou weens die funksionaliteit en relevansie daarvan.) Ons sukkel ook nog steeds om die humor te sien in die spesiale ouditiewe en soms visuele effekte van die menslike peristalsis, of bejaarde mense wat val.

    Aan ons twee pragtige en wonderlike vrouens, Marianne en Phoebe, dankie vir julle verdraagsaamheid, onderskraging en begrip. Sonder julle sou hierdie boek nie tot stand gekom het nie. (Ons weet hierdie cliché klink eentonig en afgesaag, maar dit is bedoel vir die ander mense daar buite; ons sal ons ware gedagtes verwoord en weer in julle ore fluister op Vleesbaai se strand, Sutherland se vlaktes, die Sederberge se skadu’s, Skroef se warmbron, Prins Alfred Hamlet se boorde en sommer ook in die middel van ’n raserige en besige stad. As julle wil, sal ons net stilbly en julle toepak met ons self voorbereide geregte, en wyn as blyk van ons waardering.)

    Hierdie boek dra ons op aan ons kinders. Nico se Phoebe (jnr.), Nicola, Wilmien en André. Uys se Helene met haar man, Matt, en hulle twee kinders Liam en Jana. Ons lewe vir julle en julle IS ons lewens. Dankie dat julle sulke wonderlike kinders is waarop ons baie trots is.

    Nico, nie geïnspireer deur enige by- of wanmotiewe nie, in sommer net ’n oomblik van gewone, normale liefde vir Phoe­be (sê hy), het een aand in Sutherland se straat gestap en, seker omdat hy naby N.P. van Wyk Louw se huis verby gestap het, ’n baie heerlike inspirasie gekry, en aan Phoebe gesê:

    ’n Bietjie van jy

    Is so lekker vir my

    Want jy was nog altyd net jy

    En ek, ek het dit so lief gekry.

    Dit is ons boodskap. Die gesin is die belangrikste, pret is die beste, humor is alles.

    Lag in die huis, die gang, die slaapkamer. Lag weer in die kantoor, die raadsaal en omring julle met mense wat die snaaks in die lewe kan raaksien.

    Ons hoor heelwat stories en soms hoor ons slegs stukkies van stories, maar dit is presies waarmee ons werk. Ons gebruik dit as inspirasie om ’n nuwe storie daaromheen te bou en stukkies van ander stories daarby in te werk. Die res wat ons bylas, dink ons sommer uit. Soms is die nuanses van die stories ietwat dieper as wat julle sal verwag en as julle dit raaksien, klop julleself op die skouer, julle is begaafder as wat julle dink.

    As julle lus het om ons met ’n storie of ’n stukkie storie te kick-start, kan julle dit asseblief aan ons per pos stuur na: Val de Vie 332, Kliprug Minor Road, Paarl, 7646, of na uys@vdspuy.co.za. Stuur asseblief julle name en kontakbesonderhede daarmee saam vir ons.

    Geniet die boek.

    UYS en NICO

    Die dokter se meesterstuk

    Dokter Spamer is ’n Joodse dokter wat sy mediese graad aan die Universiteit van Kaapstad cum laude verwerf het. Hy is uiters begaafd, maar het ook ’n ernstige filantropiese klap van iewers gekry. Dit is juis hierdie gevoel om goed te doen vir ander mense wat hom gedryf het om nie te spesialiseer nie en om in die diep, verlate en eensame platteland te gaan werk, weg van die stede met die baie geld en rykdom. Hy wil iets vir sy medemens beteken.

    Dokter Spamer is baie geliefd op die dorp. Toe ’n klompie van die meer kunssinnige vrouens van die dorp op ’n keer ’n uitstappie Kaap toe gereël het om Doctor Zhivago te gaan kyk, het van die ander meer praktiese tuisteskeppers op die dorp gewonder waarom dit nou nodig is, want die dorp het dan vir dokter Spamer wat sekerlik netso goed is.

    Dokter Spamer is ’n uitgesproke hater van alle regsgeleerdes. Hy kan prokureurs, advokate en veral regters nie verdra nie; hy verafsku hulle. As iemand oor die regsberoep praat, kan jy die wrewel en die wrok wat hy jeens hulle koester sommer op sy gesig sien en as hy begin praat, hoor jy die vyandigheid.

    Dit is ’n Saterdagaand so ongeveer halftwaalf die nag, bykans vyftig jaar gelede, en almal in die klein, geïsoleer­de, afgesloofde Karoodorpie slaap, insluitend dokter Spamer­ en sy gesin. Nagte op hierdie dorpie is altyd rustig, omdat baie min eintlik hier gebeur. ’n Handelsreisiger het eenkeer, ná aandete en heelwat wyn in die hotel se eet­kamer, die kroegman gevra of die kroegman asseblief kan reël dat hy wat die traveller is die dorpie se naglewe te siene kan kry. Die kroegman het baie ernstig gesê hy dink nie dit sal moontlik wees nie, want soos hy verneem het, is sy die naweek Kaap toe.

    Dit is dus vir die polisiekonstabel aan diens die grootste skok van sy lewe toe hy daardie Saterdagnag uitgeroep word na ’n huis waar glo die hele dag en aand partytjie gehou en baie gedrink is. ’n Bekgeveg het uitgebreek oor ’n rede wat niemand later kon onthou nie, wat toe ontaard het in ’n vuisgeveg en later ontwikkel het in ’n mesgeveg. Een mens, genaamd Pieter Vercuyl, is doodgesteek en die moordenaar het

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1