DIE ruim woonstel met sy uitsig oor Tafelberg wat uit die see verrys, was hul spesiale wegbreekplek. Hier kon Candice-Ann Isaacs en haar lewensmaat, die akteur Bradley Olivier (36), kom asemskep wanneer die lewe in Johannesburg te dol geraak het.
Hulle was Maart nog hier, mymer Candice-Ann. Toe het sy nie kon dink dat hy nooit weer die uitsig saam met haar sou geniet nie.
Nog minder dat sy vandag hier die eerste keer haar hart sou uitstort oor sy skielike dood verlede maand.
Bradley, wat die paramedikus Danny Jantjies in die hospitaaldrama Binne gespeel het, is op 20 Julie dood nadat hy dae tevore by hul huis in Johannesburg weens ’n breinaneurisme ineengestort het.