Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die melkweg en die miskruier
Die melkweg en die miskruier
Die melkweg en die miskruier
Ebook321 pages5 hours

Die melkweg en die miskruier

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

In 2020, tien jaar nadat Sabine uit die Laeveld weggesteier het, keer sy terug om nog net een maal weer hulle familieplaas Donkerhoek te sien en ’n neersitplek te soek vir die bondel wat sy al so lank saamdra. Sy het egter nie ’n telefoonnommer vir die nuwe eienaar nie en Google Maps weet nie van so ’n plek nie. In tien jaar het die aarde hierlangs geswig voor grondeise en armoede en die media berig van ’n onbekende virus wat reeds dood op die planeet begin saai het.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateOct 6, 2023
ISBN9780624094647
Die melkweg en die miskruier
Author

Jeanette Ferreira

Jeanette Ferreira het in die Laeveld grootgeword. Na ’n akademiese loopbaan as o.m. professor in letterkunde, was sy by verskeie uitgewerye werksaam. Sy het al verskeie versamelbundels saamgestel, 12 boeke gepubliseer en is veral bekend vir haar gewilde historiese romans Babette, Catharina en Charlotta.  

Read more from Jeanette Ferreira

Related to Die melkweg en die miskruier

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Die melkweg en die miskruier

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die melkweg en die miskruier - Jeanette Ferreira

    Skrywers werk lank en doen intense navorsing om ’n boek te skep wat uiteindelik gepubliseer word. Die e-boekweergawe van so ’n titel is, net soos die gedrukte uitgawe, nie gratis nie. Daarom mag jy nie die e-boek gratis versprei nie, maar moet jy dit by ’n gemagtigde e-boekhandelaar koop. Indien jy die e-boek gratis versprei, oortree jy die Wet op Outeursreg 98 van 1978 en stel jy jouself bloot aan vervolging.

    Jeanette Ferreira

    Tafelberg

    Vir Albert en Dalena

    Don’t you know you can’t go home again?

    – Ella Winter in gesprek met Thomas Wolfe in die herfs van 1937.

    Wat ons ook al doen of nie doen nie . . . laat ons so handel dat ons mekaar later in die oë kan kyk.

    – P.J. Viljoen, Ek kyk terug, (Suid-Afrikaanse Bybelvereniging, 1949)

    SABINE

    2020

    1

    Sondag 22 Maart

    Spookligte van voor. Karre uit die Laeveld wat deur Magoebaskloof se misvlae boontoe beur. Ysterhoute en rooistinkhoute, geelhoute en basteressenhoute, maklik tien lang mans hoog, sweef nader en verby om in die newel bokant die slingerpas hande te vat.

    In hierdie wegraakbos het Oupagrootjie, sy kommando en ’n klompie Swazi’s kort voor die Anglo-Boereoorlog jag gemaak op die Batlou se kgosi Makgoba. Magoeba, het dit vir die Boere geklink.

    ’n Entjie voor die uitkykpunt doem ’n man en vrou in reënbaadjies uit die sluiers en ruigtes langs die teerpad op, kop onderstebo en met opgeslane krae koers hulle in die rigting van Magoebaskloof Mountain Lodge se ingang. Die twee is bepaald op hulle wandeling deur die mis oorval.

    Hierdie wêreld maak só. Die eerste keer wat sy Salmon Donkerhoek toe gebring het, het hulle hier by die uitkykpunt stilgehou en uitgeklim. Ver onder het die Laeveld in sy son gelê.

    Tien, vyftien minute het hulle tussen die eeueoue stamme geloop en opkyk, gevat aan oumansbaard wat teen die stamme groei, bosvoëls hoor fluit, ape wat gier. Dit kon ’n halfuur ook gewees het, ’n uur, ’n stukkie tyd wat dekades gelede afgesplinter het en nou hier teen haar aanspoel.

    O, donner, my girla . . . Salmon, toe die wit stilte om hulle begin toevou.

    Terug by die uitkykpunt was die rooi van Salmon se studentekarretjie net-net nog sigbaar.

    In Oupagrootjie se tyd was hier nie eens ’n pad nie. Vir al wat die Boere op kgosi Magoeba se spoor wis, het die vlugteling en sy volgelinge roerloos agter ’n ysterhout staan en kyk hoe die kommando al swetsend op hulle pêre deur die ruigte strompel. Die Batlou sou met geheime van die oerbos so vertroud gewees het soos die kgosi met die staf in sy hand, en staan en wag het vir die lastige muggies om die wyk te neem, vas oortuig dis nie meer lank voor Paul Kruger se manne hulle roers vat en hom gaan sê hulle kon Magoeba toe nie kry nie.

    Meer as ’n eeu gelede.

    Oupagrootjie het seker ná die kommando se sege op sy perd bly sit en besluit in daardie geilte onder die berg wil ek loop boer as my dae in die Staatsartillerie verby is. Gouer as wat hy kon vermoed. Vier jaar later breek die Anglo-Boereoorlog uit. Brittanje bly wydsbeen oor die twee republiekies staan en druk die trotse Staatsartillerie se strot vir hom in. Toe moes Oupagrootjie al ’n ruk terug werk gemaak het van sy voorneme om te gaan boer want hy en Oumagrootjie het volgens Ouma en Pa op Donkerhoek begin boer net ná die Vrede van Vereeniging in 1902 gesluit is.

    Wat om vir Donkerhoek se nuwe plaaseienaar te sê? Meneer, die plaas was vier geslagte lank in my familie en ek wou nog net een keer weer kom kyk hoe dit hier lyk.

    Dis ’n goeie rede. Mense doen sulke goed, swerf ná baie jare terug na waar hulle en hul voormense vandaan gekom het. Die man hoef nie te weet wat haar teruggejaag het hierheen nie.

    Son op die voetheuwels onder die pas. In die kantspieël warrel die miswolk nog om Magoebaskloof ver agter haar. Kleintyd het Pa gesê daar het ons nou onder die droom uitgery, sien.

    Hier is dit droog maar voorkant toe dryf lae wolke. Laeveld-reën in Maart is nie onmoontlik nie, net laat.

    Nee, hy gaat kom reent. Pa, duime deur die kruisbande gehaak op Donkerhoek se stoep, waar hy die lug soos ’n wildsbok staan en snuif het.

    Ouma het haar hoendertjies ingebring hok toe. Kyk hoe hardloop die weerligte daar oor die nek. Hy kom. Dan het die ou mens die gordyne gaan toetrek, die spieëls toegegooi. Uit respekte.

    Salmon het altyd langs Pa op die stoep bly staan tot die eerste druppels val, soms ’n rukkie langer. Al was Salmon ’n Eskom-ingenieur, wou hy alles weet van die piesangboerdery; sy pa was ’n voorste sitrusboer in die diep Laeveld. Pa en sy skoonseun was van die begin af makkers. Battery en torch, girla, ek jou sê.

    Oor die Grensoorlog wat tot stilstand gehakkel het, was Salmon nie spyt nie, wel oor die laaste veldslag wat hom oor ’n brug gespoeg het tot in 1 Mil, waar hy met een been ’n bietjie korter as die ander uitgestap het. Maar stap het hy gestap, met ’n hink. Kwaai sexy, Sabine, die girls like dit, jong.

    Fietse, karre en houtlorries dobber voor die kruising verby voor sy regs kan draai.

    By die afdraai links staan ’n muur met Merensky Hoërskool se wapen daarop, sou sy wou gaan kyk waar sy in ’n helderblou uniform uitpasseer het, dekades gelede. Dis nie waarvoor sy teruggekom het nie. Later. Dalk. As daar tyd is. Dié skool het in die vorige eeu opgeskiet uit Westfalia, die eerste plek wat hierlangs ’n plaas genoem kon word, ene wat iets opgelewer het. Komplimente aan die kranige jong Heinrich Altenroxel uit Duitsland, ongeërg oor die Batlou se kgosi wat hom juis in Westfalia se tyd vir die Boere opgeruk het.

    In die reël het die vroegste grondeienaars onder die berg hier in die Laeveld kom uitvind dit vra meer as ’n grondbrief om ’n sakkie tamaties of ’n vraggie mielies gunter by ’n mark te kry. Werk. Sonder ekstra hande. Koningin Modjadji se Balobedu het nie tougestaan vir dié doel nie, behalwe dalk eerwaarde Reuter se bekeerlinge, en vir dié eerwaarde het die Reënkoningin haar spiese meer as een keer laat slyp.

    Verkieslik moes ’n aspirantboer – wat die meerderheid van hulle was – iets van gesaaides en ander gewasse geweet het. Beeste het uitgevrek as hulle onder die tsetsevlieg was of hartwater gekry het. Dunkop het onder die pêre gemaai. Saam met die somer het malaria gekom en as jy dit uit ’n Balobedu kon kry hoe hulle dit dan so lank oorleef het, moes jy hoor koningin Modjadji se moetie om reën te maak werk ook daarvoor. Hier in die laagtes het ’n wildernis met broeiende pestilensies gewag wat selfs ’n regte boer twee keer sou laat dink.

    Die verkeerslig is rooi. ’n Wal hitte tuimel binnetoe die oomblik wat sy die ruit afrol. Jare in die Kaap het haar laat vergeet hoe Laeveld-son hoogdag kan byt, selfs in die maand voor die Laeveld herfs word.

    Twee seuns storm voor haar kar verby. Die voorste een se kop ruk toe sy agtervolger hom met ’n avokado in die rug tref. Dit ontplof en beblerts sy flenterhemp.

    Die getroffene het dit in hom om om te draai en Njamau! te skree voor hy agter ’n kar inkoes.

    Sy teenstander bly bedroë staan. Jóú ma s’n, man!

    Môre eerste ding ry sy van Mathomo Game Farm af Donkerhoek toe. Ek sou gebel het, sal sy vir die man sê aan wie die prokureur Donkerhoek vir haar verkoop het. Natuurlik sou sy, het sy nie so gou die geld in haar rekening was, die koopdokumente opgeskeur en só die nuwe man se besonderhede verloor nie. Ene Du Preez, dit het sy wel onthou.

    Vandag weet Google Maps van ’n paar Donkerhoeke oor die land heen versprei. Nie een is ’n plaas in Limpopo nie. Daar was iets op die internet, ja, ’n kaart meer as ’n eeu oud, waarop Donkerhoek aangeteken is. White Pages aanlyn was ook onskuldig oor die kombinasie van Donkerhoek en Du Preez, wat sin maak. Min mense gebruik nog landlyne.

    Daardie jaar is sy hier weg sonder om iemand in die omte te groet. Pleks het sy later jare net soms na ou bure toe gebel, kontak gehou met almal wat wou, daar was so baie. Iemand sou haar kon help aan ’n telefoonnommer vir Du Preez van Donkerhoek.

    Lodges, ’n sekuriteitslandgoed en woonstelblokke net waar jy kyk aan Tzaneen se buitewyke. In die jaar wat sy uit die Laeveld weggesteier het, het hierdie grond weerskant die pad nog onder groentelanderye en padstalletjies gelê.

    Ná vyf kilometer, draai links.

    Op die GPS se skerm draai die speelgoedkarretjie saam. Mathomo Game Farm lê ses en twintig kilometer vorentoe.

    Van dié wildplaas af moet Donkerhoek dan omtrent nog vyftien, twintig minute se ry suidoos lê. Só het sy geskat toe sy maande gelede op Google Maps na die jare agter haar begin soek het. Nader aan Donkerhoek het die beeld blokkies en uiteindelik ’n waas met Balobedu-plekname geword, ’n onaardse blik uit die lug, soos sy haar dit nooit kon verbeel nie, byna so onwerklik soos die regte aarde vandag hier uitsien.

    Alkant waar sy vir ’n nog bekende plaasnaam soek, staan fabrieke en lang sementstrukture.

    Droogte het dowwe happe deur die bloekomplantasies gebrand.

    Maar dis nie ’n droë weer wat op die horison lê nie. Vandag gaan die droogte hier gebreek word. Mens kan maar sê die verlore dogter het reent saam met haar teruggebring. RSG se weervoorspelling bevestig dit dalk.

    As sy net die toepaslike knop of verskuilde paneeltjie vir die radio in hierdie huurkar kan kry, voel-voel met die linkerhand sonder om haar oë van die pad af te neem. Kort-kort slenter mense oor die pad. Of ’n koei en haar kalf verkies om die gevaar van voor af te sien aankom en wag tot die kar teen hulle is voor hul oorkant toe mik.

    Dis raak. RSG. ’n Boer het die kar voor haar gehuur. Die nuus berig oor ’n polisieman wat vir gewapende roof aangekeer is, ’n plaasaanval, die SAL se vryval, en kommer wat heers oor die Covid-19-virus.

    Hoewel geen sterftes nog in Suid-Afrika aangemeld is nie, het twee honderd vier en sewentig gevalle wel positief getoets, agt en tagtig daarvan in die Wes-Kaap en een in Limpopo.

    Einde van die nuus.

    Die kans dat daardie een positiewe geval in Limpopo op Polokwane se lughawe of Mathomo Game Farm ’n draai gemaak het, is gelukkig so skraal dat sy nie môre gesaniteer en gemasker haar verskyning op Donkerhoek hoef te maak soos dié wat beter weet sê mens moet nie. ’n Vreemde vrou wat onaangekondig op mens se drumpel kom vra of sy dalk net deur die opstal en oor die werf kan loop, behoort reeds enige plaaseienaar huiwerig te stem. Gelukkig sal Du Preez mos onthou hy het die plaas van mevrou Sabine Weyers gekoop.

    Agter die vaal koppie flikker dit en willepêre dreun deur die wolke. Ja-nee, hy gaat kom reent, Pa.

    Vir hierdie Du Preez kan sy ook sê sy doen ’n bietjie navorsing oor die plaas se geskiedenis. Dis ten minste die heilige waarheid dat niemand ooit gedink het om te gaan neerskryf hoekom ’n ontnugterde Staatsartilleris tussen 1902 en die verste buiteposte van die verowerde Zuid-Afrikaansche Republiek loop landerye aanlê het nie. Nou slaap Donkerhoek se mense lank reeds onder die koorsbome agter die opstal waar die loeries altyd so uit die reën geroep en die groenvlekduifie dwarsdeur die jaar getreur het: O, my ma is dood, my pa is dood, ek alleen het oorgebly.

    Dit is nog ’n rede wat sy kan voorhou. As Du Preez nie omgee nie, sal sy graag na die familiekerkhof toe ook wil loop, ’n paar foto’s daar neem. Niemand het desjare daaraan gedink om op te skryf wie waar begrawe lê nie. Donkerhoek sou mos daar bly lê, soos altyd.

    Hierlangs het kilometer lange houtplantasies, avokado’s en lemoene, piesang- en lietsjieboorde in tien jaar geswig voor grondeise en armoede, aangehelp deur die maer jaar wat toevallig die een is waarin sy terugkeer. In hierdie laagtes waar boorde nie kon posvat nie, het altyd plate soetdorings gebloei en die lug was swaar van geur. Op die vlakte het die geharde mopanies al begin afgaan.

    Verdroogde blare en stamme lê krom voor die wind wat aangejaag kom. Hier en daar wapper flenters van plastiekgordyne deur openinge sonder ruite onder geroeste dakke. Sinkskerms, plastiekskuilings, houtsparre wat op die genade van modderpleister nog klou. ’n Vrou druk die skottel op haar kop vas en sleep die kleuter aan haar hand voort, haar kopdoek aan ’t fladder om haar gesig.

    Wat eet hierdie mense?

    Tabitha het gesê dit gaan altyd goed in die land van die groot Modjadji. Miskien het sy gemeen dit is mos maar hoe dit gaan met ’n mens wat nie ’n makgowa is nie. Die Reënkoningin se mense woon in kring op kring hutte, hulle eet suurpap en merogo. Aan die rand van die kgoro’s skrop vet hoenders en die mense het baie vleis; die mopanies staan somers groen in die blaar en reëntyd loop die masonjas dik – wurmkommando’s wat ook in Pa se wildkamp die mopaniebome ingevaar en aan die vreet gegaan het dat jy die gegirts ’n meter of wat van die slagofferboom af kon hoor. Tabitha wat skottels vol van die bome afpluk met ’n ywer wat haar shweshweromp met die lae aanmekaargestikte valletjies laat sidder. Die binnegoed het sy uitgedruk en die vet, bont lyfies in haar swartpot laat sis. Aowa, Sabina – vir ’n Balobedu is daardie lang i voor die n onbegaanbaar sonder ’n a aan die einde – jy gril hom nie vir die kos nie. Modimo het die masonja gestuur mos. Die res van die spul wurms het Tabitha gedroog vir wintermaande en vir ’n jaar so skraal soos dié.

    Stalletjies regs van die pad, bevolk met die Groot Vyf uit hout gekerf, potte en lepels, krale en mandjies, eenderse ware op eenderse ware, eenders ook die handelaars se hoopvolle gesigte. Een van die kunstenaars staan haar in die pad voor, maak wilde handgebare in die rigting van sy produkte. Dit moes tot hom deurgedring het die wit kar wat aankom, ry al hoe stadiger.

    Sy waai vir hom en wys wolke toe.

    Die venter val met misnoegde lyftaal terug tot langs die padpredikant wat die weg linkerkant toe aanwys: Mathomo Game Farm. 10 km. Vier sterre en die logo: ’n heraldiese son met versteende strale. Die afdraai boonop geskraap, wel sekerlik te danke aan die spoggerige wildplaas wat hier verrys het.

    Van die GPS kan sy nie meer iets verwag nie; die stem sê sy ken nie hierdie pad nie.

    Dit maak twee van hulle.

    Of ken sy dit? Die afdraai was nog vreemd maar hier begin ’n ou kaart in haar kop oopvou. Weerskant was bloekomplantasies, reuse wat die pad donker gemaak het. Nou staan dit vol jong boompies. Die pad is steeds donker, maar van die lae wolke wat oor die aarde ingetrek het.

    Ja, hier is die lang draai om die hoogte waar die rotsvye vastrapplek gekry het. Waar Moosa se winkel teen die hoogte gelê het, staar ’n swartverbrande skedel pad toe, die twee vensters hol, die ingang ’n gat. Langsaan staan oorblyfsels van die saagmeule, ’n murasie en verroeste masjinerie. ’n Vrou met ’n kopdoek staan tussen kindertjies in ’n ingang sonder deur.

    Dis die kortpad Duiwelskloof toe dié. Jare ná dit Modjadjiskloof geword het, het Pa nog van Duiwelskloof gepraat, Ouma trouens van Duivelskloof. Toe het hier net ’n dun streep rooigrond onder die bome deurgekronkel, die spore bleek uitgery.

    Koos Hugo se Goedverdiend het ook mos op hierdie pad gelê. Ouma Henrietta se enigste maar gekoesterde vyand, nog altyd, voor die dag wat die vernielde man wat ’n piece job op Goedverdiend gekry het om vore uit te haal, by die grootvrou van Donkerhoek kom salf vra het.

    Merensky se matrieks het toe reeds eindeksamen geskryf. Sy was op Donkerhoek. Was sy liewer nie. Op een ander toneel na het wat sy gesien het haar bly agtervolg.

    Ouma kry dit uit die man dat dit sambokhale op sy rug is. Sy dokter die wonde met een van haar sterkste salwe en verbind dit. By haar ma geleer; grootouma Charlotta was een van die eerste opgeleide verpleegsters in die Zuid-Afrikaansche Republiek en het oor die draai van die eeu die Boeremagte se veldambulanse vergesel.

    Ná ouma Henrietta die verrinneweerde man se pyn met ’n dous brandewyn gelawe het, gaan haal sy een van Pa se hemde vir sy gebreekte lyf. Hy moet oor ’n dag of wat terugkom dat sy skoon verbande kan opsit.

    Die grootvrou draai op haar hak om en, wel wetend die bure luister in op die plaaslyn, vra sy Goedverdiend se nommer vir die sentrale. Sy mors nie tyd met ’n groetery nie maar val met die deur in die huis: Ja, dis ek, Henrietta van Donkerhoek. Oorle tant Hanna was ’n goeie mens, maar jy, Jakoos Hugo, moet net weet, God slaap nie, jou dag sal kom.

    Van die bure sê net toe hulle toevallig die foon optel om te hoor of dit beset is, het hulle Ouma se stem herken. Ou Koos Hugo is nou wel ’n haastige man maar hoe kan sy so partydig wees vir Gam se geslag?

    Ouma kyk hulle met haar agaatoë aan voor sy met Bybel en gesangeboek onder die arm voor haar seun en kleindogter uit tot by die tweede bank voor die preekstoel loop en haar oë sluit om die Almagtige te dank dat sy vandag na die huis van die Here kon opkom.

    Ander Kristenliede in Donkerhoek se kontrei ry nie die pad Goedverdiend toe sinkplaat nie. Pa sê ou Koos nog dag – net as dit nie anders kan nie – tot die Sondagmôre wat hy Pa voor kerk byloop oor die los gedagtes wat Pa met die swartspan staan en wissel om ’n beskeie wildkamp op Donkerhoek aan te lê, net die klompie morge wat buitendien braak lê. As daardie spul bokke daar uitkom en in Goedverdiend se landerye skade aanrig, sal Koos Hugo vir Pa subiet laat aanskryf en prosedeer en dies meer.

    Pa, wat altyd met die wildomheinde lap aarde so graag ’n stukkie van sy jong dae wou laat herleef, toe die Laeveld nog ver en woes en geleë was, jy weet, Sabine, my kind.

    Ou Koos se dag het inderdaad gekom, gou ook. Hartaanval. Ouma: Watter hart, sal mens nou nie weet nie. Loop sit sy op die stoep om te hekel en te neurie oor poorte wat wyd ope staan en die Heer wat ons trane sal afvee op maat van langbeen, slag om die pen, kortbeen, langbeen. Daar is ander dinge in Koos Hugo se sondige lewe ook waarvan julle nie sal weet nie. En ook nie hoef nie. Net dat hy ’n skandvlek was.

    Wat dié ander dinge was, is saam met Ouma graf toe. Maar hy was oor die algemeen maar ’n ou vark. Altyd reg om iemand voor stok te kry oor welke van sy regte ook al aangetas sou wees.

    Koos Hugo se hekpale en sy opstal se gewel teen die bult sal al wees wat sy herken, as Goedverdiend bly staan het tussen hierdie armoede. ’n Blouwit kraak in die hemel hang ’n sekonde lank geluidloos oor die apokalips.

    ’n Hond met uithangtong en ribbes onder brandsiekkolle sny voor haar in en swenk net betyds weg. Nog twee volg, stadiger as hulle tropleier. Opgeskote seuns met knopkieries volg op hulle hakke. Wat is daar in hierdie maer veld langs die staninkies om op jag te maak? Skilpaaie? Miskien, net miskien, nog ’n tarentaal? Hoe leef hierdie hongeres, die uitgeteerde man op die donkiekar wat sy trekdiere met ’n sweep voor die kar uitdryf, die seun wat sy kruiwa vol brandhout teen die wind in vorentoe druk, die kinders wat ’n verbleikte bal tussen twee stokke vir doelpale rondskop? Afval wat teen die halfhartige draad ophoop.

    Mens sien dit oral aan Suid-Afrikaanse dorpe se buitewyke, dit skreeu kilometers ver tussen liriese wynplase op die pad tussen Kaapstad en Stellenbosch, waarheen mense stroom om die kunste te dien. Dit was net in haar kop wat die Laeveld dit vrygespring het.

    Met die ruit ’n entjie afgerol, kan mens darem nog die ou Laeveld ruik, die reën op hande, die wind met mosterdbos op sy asem wat haarslierte voor haar oë in jaag.

    Wat nou? Die knop wat die ruit moet laat oprol, verseg.

    En die kar het ophou dreun asof iemand die sleutel in die ry uitgepluk het. Op brandstof lig soos ’n vlinder maar hierdie vlinder is pas met ’n vlieëplak bygekom want die ding stotter. Van skrik ruk haar hart in eerste rat. Die kar spoeg.

    Instink. Links draai, uit aankomende verkeer agter se pad.

    Iemand hou die stuurwiel teë, so voel dit. Dit draai, ja, maar baie stram. Ook die rempedaal is meteens onwillig, tot die kar half op die geskraapte pad, half in die droë graspolle op die skouer tot stilstand ruk.

    Sy draai die sleutel. Klik. Weer. Klik.

    Waddehel?

    Die vervloekte karretjie het in die ry gevrek en niks dui daarop dat hy planne het om weer te begin werk nie. Die GPS-vrou swyg want sy het in die duister verdwyn, die affêre se skerm is swart.

    Uitklim sal nie help nie want sy het nie ’n benul waar om te kyk wat fout kan wees nie. Hier sal sy moet sit en wag op wie ook al tot haar redding gaan kom. Of haar keel gaan afsny. Tensy een van die saagmeulens se lorries met ’n spoed van agter af aankom en haar vermorsel. Naby ’n klipkop, om haar lot te verseël. Blou klip trek weerlig. Of dit net ’n oumensstorie was of nie, hier sit sy uitgelewer aan wie of wat ook al eerste sal kom om haar af te maai.

    Mathomo kan nie so ver wees nie. Redelik fiks soos sy is van lang ente stap met haar basset in haar kalm Kaapse woonbuurt, sal sy te voet nie hier ver kom nie. Vlak links woon mense wat honger en kwaad is. Om nie te praat van dié wat sy onderweg kan teëkom nie.

    Dat die pistool se loop wat sy onder die sitplek raakvat nou so vertroostend kan wees.

    Dis nie so erg nie. Op die driebladsyevorm wat sy op die lughawe vir die huuragentskap moes invul, was ’n nommer vir padbystand. Op haar sel ingesleutel. Dit vra ’n bietjie wring om haar rugsak agter die bestuurdersitplek uit te kry; dit was die idee. Mens ry vandag nie meer met jou sak langs jou op die sitplek nie.

    Die sel het ook vir haar nuus: Out of range. Onweer.

    Daai hande waarmee sy die rugsak voor die passasiersitplek neersmyt, bewe nogal. Nee, die sak moet terug. Dis 2020. In Suid-Afrika.

    Oor alles heen brul die wolke. Agter die klipkop is die lug ’n Indiese inkvlek. Helder oordag het die aarde donker geword. Hier gaan vandag ’n ou reent kom loop, dis nie hoe nie.

    ’n Weerligstraal flits geluidloos oor die windskerm. In die stilte wat volg, weet sy wat kom; dis in haar ingebrand sedert haar kinderdae. Sy krimp inmekaar tot die donderslag breek.

    Dit bulder oor die veld en gehuggies weg: Ek het gepraat en ek kom weer.

    Oor die veld en deur die laagtes kom dit aangesuis, ’n goiinggordyn vanaf die klipkop wat haar deur die ruitskreef vol in die gesig tref, oor stuurwiel en paneelbord spat en op die dak begin peper.

    ’n Gevrekte kar se vensters kan nie oprol nie. Oorskuif passasiersitplek toe.

    Met al twee hande om die pistool bly sy sit.

    Iewers in ’n koerant of iets het dit geskrywe gestaan dit is nie die rubberbande wat jou teen die weerlig beskerm nie, dis die motor se metaalraam. Is dit?

    Hierdie pad dra nie verkeer nie en sy sit in die moeder van Laeveld-storms, soos haar vinger tussen derduisende mense wat by hulle rampsalige skuilinkies in vlug voor die stortreën wat op die motordak dawer en teen die voorruit afstroom. Tussen haar en die gehuggies swik net die doringdraadheining.

    Storm sy die naaste sinkkaia in, word sy waarskynlik met oop arms verwelkom; gewoonlik moet mens na buit gaan soek, dit kom nie kletsnat in ’n denim en tekkies na jou toe aan nie, kompleet met ’n goue troupand en ’n diamant aan die linkerhand. Vir ’n bonus is daar haar skootrekenaar in die bagasiebak, ’n rugsak waarin ’n beurs wag met seker so vier duisend rand kontant, ook ’n ID en kredietkaarte, waardevoller as kontant in hierdie dae. In haar hand is ’n pistool. Dit maak haar die aggressor.

    Diep asemhaal en uitblaas wanneer die angs op jou toesak, dit laat die sentrale vagussenuwee inskop. Of dit werk op ’n verlate pad as ’n maaifoediese kar met jou gaan staan, sal sy nou uitvind.

    Harder en sagter buie pletter deur die

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1