Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Gebeente
Gebeente
Gebeente
Ebook477 pages16 hours

Gebeente

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Met ’n onverwagte trein kom Magistraat Imker Goedeman aan op Gebeente, ’n klein dorpie op die Vergete Grootpad noord van Sutherland. Die omgewing is geruk deur ’n opspraakwekkende plaasmoord, maar ’n nog komplekser saak moet ondersoek word: die diefstal van die melkweg. Ons is hier in die buurt van onwaarskynlikhede en eindelik word die ganse regstelsel uitgedaag. Historie, mite, allegorie en magiese realisme word sjarmant verweef in dié meeleurende roman.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateSep 8, 2023
ISBN9780624094685
Gebeente
Author

Etienne van Heerden

Etienne van Heerden is in 1954 in Johannesburg gebore. Hy ontvang die Eugène Marais-prys vir sy kortverhaalbundel My Kubaan. In 1986 verskyn Toorberg, wat wyd bekroon word. Hy is ook bekend vir romans soos Die swye van Mario Salviati (2000), 30 nagte in Amsterdam (2008) en Klimtol (2013). Hy is professor in o. m. kreatiewe skryfwerk aan die UK.

Read more from Etienne Van Heerden

Related to Gebeente

Related ebooks

Related articles

Reviews for Gebeente

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Gebeente - Etienne van Heerden

    9780624089810_FC

    Skrywers werk lank en doen intense navorsing om ’n boek te skep wat uiteindelik gepubliseer word. Die e-boekweergawe van so ’n titel is, net soos die gedrukte uitgawe, nie gratis nie. Daarom mag jy nie die e-boek gratis versprei nie, maar moet jy dit by ’n gemagtigde e-boekhandelaar koop. Indien jy die e-boek gratis versprei, oortree jy die Wet op Outeursreg 98 van 1978 en stel jy jouself bloot aan vervolging.

    Tafelberg

    Vir Kaia

    NOTA

    Die dorpie op die Vergete Grootpad in hierdie storie is nie Sutherland, Fraserburg, Loxton of Carnarvon of enige ander bekende Karoodorp nie. Gebeente is ’n verbeelde dorp. Hy dryf op lig en is nêrens. Die Magistraat in hierdie boek is nie Toorberg se Magistraat Abraham van der Ligt nie, alhoewel Gebeente se Magistraat Imker Goedeman ’n ruk saam met Toorberg se Magistraat Abraham van der Ligt in die Bellville-landdroshof gewerk het.

    Maar dit was lank gelede.

    1

    Die Tjank van die Oog

    Altydoopvygie woon onder die Tjank van die Oog, in ’n klein huisie teen die bult. Die Oog is die reuseteleskoop wat daar ver op die plat vlakte lê. Dit lyk nes die uitgeslagte oog van ’n dooie bees op ’n geroeste sinkplaat. Roomwit met ’n swart iris wat boontoe staar.

    Altydoopvygie se huisie se naam is Opkyk. Dis die huisie waaruit haar seuntjie in sy derde jaar gesteel sal word. Rondom die huisie lê, sover die oog kan kyk, die uitgestrekte vlaktes. Dis meestal grys en plat, maar hier en daar is bruin bulte. In hul voeë groei donker klossies populierbos, nes die skaamhaar van ’n vrou.

    Opkyk staan teen ’n bult, witgekalk, met een skewe hoenderhok ’n entjie van die huis af. Daar is agt donkergroen olyfbome, netjies in rye geplant nog voor olywe mode geword het. Die kleinhuisie is buite en leun soos ’n nagedagte teen die huis aan. Dis deur die Sterrewag aangelap op Altydoopvygie se aandrang. Jy kan lekker daar sit en tuur na die volgende bultjie, effe laer as die ene waarop Opkyk staan, dorp se kant toe.

    Skuinsweg sigbaar verby daardie koppie se hoogste punt, in die laagtes, is die dorpie Gebeente. Hiervandaan gesien bestaan dit uit liggrys lappe, donkergroen lappe, liggeel by plekke nes ryp koring op die land. Geboue lê tussenin, als aanmekaargestik deur watervore wat meestal droog staan en heinings met op plekke rankrose en ander plekke kweperbos. Met sy lanings en huisies lê die nedersetting uitgesprei. Dis iets tussen ’n boerdery en ’n dorp, met die verdigting daar by die biblioteek en stadsaaltjie, die dieselstasie en Sports Café waar die trokdrywers se lorries in rye soos ruspes lê. En natuurlik, die treinhuisies van OuGebeente, en die squatter shacks wat verder agtertoe uitplaat.

    Begrafnisbome groei langs sommige strate, en hier en daar staan rytjies bloekoms, so as jy mooi kyk, sien jy hulle daar digby die donkerrooi, afgedopte dak van die magistraatskantore staan. Daardie straat sou later jare Gilstraat heet, want daar sou ’n groot verdriet Altydoopvygie tref, naamlik die Ontkenning en die gepaardgaande Verjaag. Ons storie gaan dit nie systap nie.

    Ewenwel, daar anderkant, te midde van ’n paar hoewes met bewerkte ploeglande en boorde, staan die Krismiskoek van die NG kerk met sy toring en sy uitgewitte mure. In rou grond met gruis daaromheen gehark, is die grafte van oudleraars, kosters en diakens, asook die eenvoudige kruis van die tereggestelde rebel uit die tyd van die Rebellie, ’n voorvader van hierdie storie se StefaansOndermaans van die plaas Nietgenaamd.

    Soos jy hier uit Opkyk se kleinhuisie sit en tuur, sien jy die riviertjie anderkant die kerk. Dis ook maar net ’n sleepsel sand met karige bosse omsoom. Daar’s ’n driffie waardeur mense stap wat hiervandaan – as jy jou oë op skrefies trek – sigbaar is. Nes miertjies, ’n tou fietse en mense en waentjies en nou en dan ’n kar of donkiekar of troppie bokke, aangejaag.

    Die buurt wat eens lokasie en later die township genoem is, lê anderkant die drif. Dis klein, karige huisies, drie-drie op droë stukke grond versprei, met hier en daar agter ’n huisie ’n aangeboude stuk sinkhuis of ’n wendyhuis-gedoente wat verbind is met ’n ander bousel. Dan weet jy sommer dis ’n sjebien of spazawinkel of die een of ander smokkelaar se kwartier.

    Die township se naam was Gebeente, maar mettertyd is die naam van die wit dorp, dus die amptelike Apartheidsdorp, laat vaar. Soos baie van die wittes uitgewyk het stad toe en die wette opgehef is en mense mekaar gewoond geraak het en die Adem-pes boonop oplaas een en ander verarm het, het van Gebeente se gesinne oorgetrek wit dorp toe, na huise wat in ieder geval hul voorgeslagte s’n was voor die gedwonge verskuiwings in Apartheid se jare vyftig. Toe is die Engelse naam wat die wit dorp se naam was, laat val want dit het onvanpas gevoel om ’n dorpie in hierdie geweste Milnershoop te noem, na ’n Britse Empaaierbouer, nogals. En nou heet die héle plek – insluitende sy squatter shacks, die truck stop, die kerkbegraafplaas met die rebel se graf, die pastorie, die landerytjies, die huise en die biblioteek, garage, die sjebiens en huisies wat jou weens hul armoedigheid hartseer maak, ensomeer, nou heet die hele kaboedel Gebeente. En wat eens die lokasie was, is OuGebeente.

    Daar is nog ’n ander naam wat soos ’n swart kraai hang, en dit is Kampong, maar dis ’n naam wat onsmaaklik is, en dis net OuGebeente se mense wat nou en dan na die groeiende sinkbuurt van noordelike en oostelike inkommers as Kampong verwys. Maar hulle doen dit net wanneer skote daar klap, en wanneer vreemde tale uitroep soos die Zimbabwiërs en die Kongolese stry kry.

    Agter Altydoopvygie se huisie Opkyk, in die teenoorgestelde rigting, daaikant toe, lê die Oog. Jy moet hier af, weg van die dorp af, en deur die leegte en weer op en as jy bo-op daai koppie staan, kan jy omtrent skrik vir dáárdie kontrepsie. Hy lê daar, spierwit en blink. ’n Reuse-oogbol. Op hierdie plat, vaal vlakte ’n merkwaardige en onverwagte ding.

    Hy was nie altyd daar nie, maar is daar kom neersit baie jare gelede, en vanuit hom word aandagtig opgekyk na die Melkweg, wat in hierdie storie van ons op ’n dag gesteel is toe haar seun Jisses al oor die dertig jaar oud was.

    Altydoopvygie se huisie, gebou op die Sterrewag se grond, was eens ’n skaapwagtershut, sommer eintlik net ’n hok van klip. Gepakte klip, nie eens dagha om te help nie. ’n Skuiling vir die skaapwagter teen die ergste wind en ryp, uit die dae lank voor jakkalsdraad die veld opgedeel het.

    Dit was die dae van die wit mense se eerste heugenis, maar lank nadat die Eerste Mense, die jagters wat hier gepronk het, deur die Boere uitgeskiet is soos kleinwild. Dit was die Tyd van die Hardvogtigheid, sê die mense. In ’n kerk in ’n groot stad ver anderkant hierdie vlaktes, ’n stad wat ook maar in die middel van ’n groot stuk veld staan, sy naam is Bloemfontein, daar lê glo ’n kerkregister en daarin is aangeteken dat ’n diaken van daardie gemeente gelukgewens word omdat hy die vorige naweek drie Boesmans doodgeskiet het. Dis dieselfde kerk se sinode wat in daardie jare ’n sinodebesluit geneem het dat die aarde voortaan nie meer om die son sal draai nie en dis daardie kerk wat soos ’n Krismiskoek hier kom bou is met klip uit hierdie aarde, hier in Gebeente. Daar staan hy nou nog as sieraad van ’n bitter en wanstaltige liefde.

    Mens moet nooit dink dat hierdie dinge uitgeboer is nie. Jy kan jouself verkwalik as jy vlak kyk; as jy vrede goedkoop wil maak, as liefde vir die medemens vir jou kleingeld is wat jy uit ’n twaksakkie losknoop, by die een of ander winkel gekoop, a nee a.

    So, Opkyk die hut kom uit die tyd toe troppe merino’s nog deurgejaag is, tydsaam en wei-wei, na die jongste reënveld, altyd aan die verskuif, oor ’n vlakte waar die einder voor jou bly wyk. Hier, van klip gebou en afgekalk, was die skaapwagter se lêplek. Dit ruik na braaivleis en skaapvet, en dis net ’n entjie van die sterre. Jy hoef skaars die hand uit te steek, dan brand jy jou vingers.

    Die hut is uitgebou baie lank ná die Hollandse span vanuit verre Utrecht, Nederland – daardie Eerste Ekspedisie na die Sterre – hier kom nesskop het. Op soek na ’n teken, het hulle hul teleskoop van die muilkar se rug gelaai en hom in ’n opkykposisie staangemaak, op pilare wat hulle met diep fondamente moes vasbou. Die slim manne van die Utrechtse Observatorium het die plek Opkyk genoem. Want dis wat jy hier doen: Jy lê snags hier op jou rug en kyk op. Tot die dag toe die teleskoop gebars en hulle die pakmuile moes gaan soek so ver as StefaansOndermaans se plaas, hulle’t so geskrik. Die sterrekundiges ook, want die bars van die teleskoop het net een ding beteken: Hierdie plek, hierdie klipperige vlakte, is onverskillig oor die wette van matematiese presisie.

    En nou is Opkyk Altydoopvygie Losper se blyplek. Die pilare en opslaanhut van die Hollanders bestaan nie meer nie; wind en weer en wegdraers het dit so besôre. ’n Ekstra kamer het later bygekom, ’n buiteoond vir brood, ’n herd, ’n kooi en ’n tafel met twee stoele.

    Bokant die huisie skitter die Melkweg en agter gee garing- en kokerbome skuilte teen die wind en pisplek vir haar honde, die vyf wat sy aanhou as beskerming teen die jakkalse van die grootpad. Dis die drosters wat hier verbykom om by die Wiggelaars of in die dorp by die skut of die dieselgarage of die taaierplek werk te gaan soek. Of dis boormanne wie se boor in klip vasslaan en hulle’t nou hoop nodig. Ook spanne skaapskeerders wat op hulle baaisiekels met die pap taaiers vir die poeierstof deurry na ’n volgende plaas.

    Sy’t nie lus vir deurbringers wat mes dra en geen skaduwee gooi nie. Maar daar was een uitsondering, in die tyd toe sy nog by haar ouers gebly het. Dit was die tyd toe die kleinkomeet op die miershoop geval en die nes uitgevonk het. Die man wat gesê het hy’t geen besit nie, net die bondeltjie goed, die kierie, die boksie Lion Matches en die maer kolliehond-baster-Canis africanis wat op sy hakke draf. Ek is ’n kind van die Melkweg. Dis my kaart en my transport.

    Hy’s egter gou vort, hierdie man, vir húlle die kakprater, vir háár die verskietende ster, hierdie onverwagsheid wat hulle Dirk Ligter die Soveelste genoem het. Ander het hom Verbygaande geroep, en nog ander Dirk Ligtersoon. Die man wat haar geroer het daardie slag toe sy reën op haar voel val en die son haar so inskyn dat sy ’n loot begin uitstoot.

    Dis ten minste wat bespiegel is, want later, hier na die einde van hierdie storie van ons, sal ánder klokke beier en dan sal jy uitvind watter vader váder was. Luister maar mooi, knoop dit in die oor en wees, nes hierdie vlaktes, aandagtig.

    Maar hierdie een, hy was Verbygaande, sy herkoms het hom na skaapwol laat ruik, na droë bloed en vaagweg die geur van ’n oopgebreekte miershoop. Na zol en bietou. Dit was ’n dronkerige konkoksie, dié reuke wat die deurbringer aangehang het, hy met die ver kyk in die oë en die tand van ’n luiperd wat aan ’n riempie van sy nek hang.

    Hy was Altydoopvygie se éintlike liefde, ja. ’n Rolbos, kan jy maar sê. Hy was vol stories en kwinkslae; jy kon skote hoor klap en vroue hoor sug en jy’t geleer van treinspring en tarentaalstrikke en hoe jy ’n pendoring uit die voet suig of skaap by volmaan slag want dan’s die murgbeen vol.

    Die son was oor sy blaaie en die Oog het meer as ooit getjank.

    Wanneer daardie groot teleskoop op die bult so ’n ent weg van haar huisie draai om die grille van die heelal te volg, huil sy ratte. Ratte met ’n huilgeluid meer angswekkend as die roep van ’n pou; ’n teleskoop met ’n lens soos die gelaat van ’n plaasdam.

    Daar het Altydoopvygie kort ná Jisses se geboorte jare gelede werk gekry as skoonmaker. Dit was lank ná die draai van die maan, daardie één keer dat hy sy agterste gesig glo aan die Professor van Utrecht gewys het, en hom ’n insig só tot barstens toe vol gegee het dat sy projek uitmekaargebars het, soos net die heel oudste inwoners van OuGebeente by hul voormense gehoor het. Maar later dáároor. Sy kry die werk, want sy kan versigtig werk, sien. Sy’s aandagtig vir die instrumentpanele en die lense, vir die rekords en die tabelle, en deesdae vir die laptops en die Apple-fone en die oorfoontjies. Sy kan ’n volstruisveer liggies trek oor glas en geheimenisse sonder om te steur. Sag van voet en fyn van siel; almal in die Wiggelary se liefling.

    Binne-in die groot koepel, waar sy versigtig met die verestoffer en die ligte, dun lappies van skaapwol uit die distrik werk, of saggiesies vee met die moerbeiboom-sywurms se gesponne sy, heers ’n groot stilte. Hierdie is ’n katedraal, is op haar eerste werksdag aan haar verduidelik. Hier luister jy na die uitspansel. Mense dink ons kyk net. Maar ons luister ook. Ons praat min, want ons, aardse wesens, is stomgeslaan. Dis jou werksomstandighede. Jou vakbond is die heelal. Hier is jou taak: Vat die verestoffer en veeg so liggies oor als wat jy sien, heeldag en aldag. Gebruik die moerbeiboomlappies vir als wat glas is. En bring koffie om elf en drie vir Professor Emeritus.

    Hier’s baie stof. Maanskilfers sif af. Versigtig en suutjies. Jy’s net ’n asempie. Só’t sy haar werk verstaan, hier waar die mense sterre tel en name vir hulle sit en uitdink.

    Wanneer daardie lens huil, weet sy dis omdat hy die skaamteloosheid van God inkyk.

    God se spandabelrigheid. Dis mos vir almal om te sien. Kyk maar daai sterre.

    *

    Dis wat sy nou dink terwyl sy haar regmaak om die kind by Frau Kwaai uit te kry vir die Eerste Oorkyk. Dis vir haar ’n ongemaklikheid, die lang uitstel, die kind kruip al en hy was nog by geen kliniek nie.

    En dis oor die vreemde ding wat die vorige dag gebeur het, toe die seuntjie weer net aan ’t kruip gegaan het dat sy besluit hy moet nou na Frau Kwaai. Dit kom al ’n ruk aan. Hy sal nog so in die huisie om haar voete wees op ’n naweeksdag en dan skielik, deur die bedrywigheid van huissake, kom sy agter, die asempie is weg.

    Jisses!

    Selfs die honde, nou al óm haar, is deurmekaar. G’n reuk los die kind agter hom as hy so wegkruip nie. Die honde kry sy spoor nie gevat nie. Neuse teen die werf hol hulle draaie.

    Jisses! Sy weet al dis verniet, dié geroepery. Maar dit help haar ontslae raak van die opgeboude frustrasie van kind alleen grootmaak, dan nog so ’n liewe maar onverstaanbare kind.

    Jisses!

    Sulke tye is daar egter geen ander raad as om maar te gaan soek nie. En sy kry hom wel altyd, hoogs tevrede, besig met die torretjies of ’n klein skilpadjie wat hy raakgekruip het. Of ’n ander skepseltjie by wie hy sy wang teen die grond druk en begin pruil vir die gediertetjie met die voelhorinkies of vlerkies of donkerrooi, krom angel. Wang teen die aarde suutjies daar by die oorkruipertjie, die honderdpootjie of die miskruier; die seuntjie het so ’n oog vir die onderste diertjies, het hy nie.

    Ja-nee, ontvange en gebore juis in die tyd toe Statistiek SA almal kom tel het tydens die Groot Sensus. Nou kruip hy – omstrede vaderskap en al – op die werf rond met ’n ou varksening in die kies. Die dummies daar by die Chinese winkel is vir Altydoopvygie te duur. Jisses piepie tjiertjies in die stof soos hy kruip, want doeke is te moeilik sonder kraan. Hier in die Sterreveld is geen water nie. Dit moet hiernatoe karwei word.

    Toe, toe kom die dag toe hy anderste was, behóórlik anderste. Toe hy met ’n doel kruip. Sommer dwarsdeur en met ’n gekraak en ’n gestoei, jy kan dit nie glo nie, daai seuntjie beur deur die doringbos, ’n halfdroë halfmanshoë klos pendorings en blare, so dig nie eens die mossies wil daar klossienes maak nie, daardeur beur hy asof hy verlang na straf en pyn.

    En toe hy bebloed anderkant uitkom, toe vat sy hare vlam.

    Dis die pyn wat hom so warm gemaak het, het sy gedag. Sy’t haar gehaas en water gaan skep en oor sy kop gegooi. Die honde was skoon oorstuurs en het tjankend wye draaie gehol al om die huis asof rowers toegeslaan het. Altydoopvygie was aan ’t skrou, maar natuurlik, sy bly buite hoorafstand en buite sig van die ander mense en sy’t dit verkies om so wég te lewe, maar nou hierdie kind wat pal aan die brand slaan. God se bestiering, wie kan haar tog help, hoe word mens nie getoets nie, nè?

    Sy’t klein Jisses gegryp en onthou wat sy die vorige aand nog gedink het: Dis lankal tyd vir die Eerste Oorkyk van die kind. Dis al óór die tyd. En nou met die vlamkop dag sy – nou het my nalate my ingehaal.

    Nou was daar net een raad: Frau Kwaai. Die een wat Altydoopvygie altyd vermy, want sy vra so ín. Altydoopvygie het Jisses se voorkop gevoel maar die smeul was weg. Sy’t hom op die heup gegooi en aangestryk dorp toe, na die bopunt van die kweperboomlaning, daar waar die griepwind se lem blink.

    *

    As jy hier loop, loop jy vlugtig. Vinnig deur die dorp, seuntjie op die heup. Jy skop stof in die skinderbekke se oë. Dis die leeglêers wat so rondstaan of in die skaduwees onder die bome soos ou honde hul babelas lê en uitrus. Of dis die mense wat iewers ’n werkie het en na buite deur ’n venster kyk of by ’n oop winkeldeur staan of dalk nou en dan ’n bakkie wat verbyry met mans wat agterop sit en na jou kyk asof jy ryp koring op die land is. Deesdae het die manne ’n nuwe ding: Hulle fluit so in die verbyry na jou. Jy kom nie ongedeerd by jou bestemming aan nie; jy dra die gril nes ’n rok om jou lyf. Vir ’n vrou is die lewe slagyster.

    Altydoopvygie sny deur die stilste strate, daar waar jy lang ente kan vorder sonder dat ’n oog op jou val. Dan swenk sy regs op met die effense bultjie waar die boerbokke in die kampie anderkant die draad staan en kyk na haar en die seuntjie wat op haar heup wieg.

    Dan die ry wilgerbome langs die voor en die grond word donkerder en jy voel ’n koelte uit die aarde opslaan en dis asof dié deel van die dorp, hierdie skuinste, die winter vashou nog tot diep die somer in. Gebeente bêre sy koelte en sy griep hier, dink sy.

    By die peperboomlaning sit sy hom neer; hy moet nou ’n entjie regkom op daardie sukkelbeentjies van hom, sy natgeswete handjie wat hang aan hare. Sy moet eers bedaar. Haar hart klop vinnig van die stap, maar ook van die skaam daar onder deur die dorp en die skaam dat sy die kind nou eers bring en ook die vies dat sy hierdie besoek aan die Duitse heler moet bring. Maar dit is haar plig en sy moet daardeur, want die kind het hierdie nuk in hom.

    Om te verdwyn. Om ver te kyk. Om vlam te vat.

    Of, soms in die nag wanneer sy wakker word, dan sit hy daar in die hoek kiertsorent op sy bed, duim in die mond, en staar na haar. In sy oë ’n innigheid en ’n woede. Saam-saam. Sy’t nie ’n woord vir daai aanblik van hom nie. Al is dit donkermaan, al is die nag pik, sien sy sy kyk.

    *

    Hy’t nie witpyp ingeasem daar by die smokkelhuis nie?

    Altydoopvygie skud haar kop woes.

    Waar’s die pa? Wat’s sy naam?

    Altydoopvygie vat die maklikste opsie: Verbygaande.

    Vir wat?

    Gaande.

    Gemaak en laat staan?

    Altydoopvygie knik haar kop. ’n Skaamte tog, hierdie pa-lose kind. Ja, antwoord sy. Hy’t gemaak en toe net so gelaat staan en hy’s vort.

    Jy was gaande oor hom?

    Altydoopvygie knik. Maar dis nou verby.

    Ja, tog, nè. Das weh. Frau Kwaai moet eers die dorings uit sy vel trek. Verbygaande, sê sy. Kyk, selfs hier in sy kopvel. Die dorings het meestal afgebreek, maar hul punte sit diep en suig hulself vas in die vleis in soos pendorings mos maak. Die kind sit ’n kabaal op en brul van die pyn, sodat Frau Kwaai hom eers met ’n suikerwatertjie en ’n ietsie daarby uitklits. Toe raak die lyfie lam en hy lê salig daar terwyl sy die dorings uitgrawe en hy ingesalwe word.

    Is jy seker die vlamkop waarvan jy praat, is nie net ’n swerm vuurvlieë wat op sy kop kom sit nie?

    Sy kop vlam dan helder oordag ook.

    Jy smeer nie iets aan sy hare nie, dalk heuning of enigiets wat soet ruik en insekte lok?

    Nee. Ruik self. Die ene swawel.

    Frau Kwaai swyg. Wel, hopelik leer hy nou ’n les, sê sy.

    Jy ken nog nie my kind nie, dink Altydoopvygie. Gewone kindersiektes slaat hom nie. Ook nie stuipe nie. Kroep draf hy kaf. Masels kom verby en tref al die kinders ongenaakbaar, maar kyk: Die masels val van hom af. Pampoentjies vreet hy vir konfyt. Hy’s ánders, haar seuntjie. Geen kalbassies vir hóm nie.

    Wat’s fout met hom? fluister Altydoopvygie oplaas, asof sy bang is iemand luister hulle af.

    Die heler skud haar kop. Entschuldigung. Sy gaan blaai in ’n boek. Versigtig nou, wys haar tydsame bewegings. Miskien ’n soort outisme, sê sy oplaas. Wanneer Frau Kwaai sien dat Altydoopvygie onbegrypend na haar staar, sê sy haastig: Toemaar, dis net ’n ingewikkelde woord vir inkennigheid. Sy dink verder, kyk op: Dalk is dit iets ergers. Maar dis te vroeg om te sê. Wat seker staan, is: Hy leer te vroeg dagdroom.

    En dis Frau Kwaai se eerste diagnose. Dagdromery. Dis waarmee Altydoopvygie die seuntjie, wakkerder, nou-nou op die heup gaan gooi en uitstap.

    Dagdromery.

    Van waar, Gehasi?

    Maar eers: Hier is geen teken van brandwonde aan dié kop wat jy sê vol vlamme was nie, bestraf Frau Kwaai haar.

    Maar … Verder kom Altydoopvygie nie. Sy begin haar naels kou. Sy’s skaars agtien. Hoe moet sy van dié dinge weet? ’n Kind wie se kop in vlamme uitbars?

    Moment bitte. Frau Kwaai werk voort met ’n soort afgemete stilte, en oplaas sê sy: ’n Slim man, so’t ek iewers gelees en ek kan nie meer onthou wie nie maar dit skiet my nou te binne, hy’t gesê dis makliker om oor algebra te praat as oor vuur. Sy sit haar hand op Altydoopvygie se arm. Kyk na jouself alleen daar op die vlakte, mevrou Losper. Opkyk is darem baie alleenstaande.

    Toe hulle klaar is, kom Frau Kwaai saam op die stoep uit. Hulle waad tussen die wagtendes deur en Frau Kwaai stap saam met Altydoopvygie tot daar waar die veldtuin ophou en die propperse oop veld begin, daar by die voetpaadjie se punt. Frau Kwaai het nog ’n laaste woord. Dis geen gewone kind nie, sê sy. Aufpassen. Sy kyk na Altydoopvygie wat met die kind op die elmboog wegstap. Oppas vir hom! roep sy nog agterna, en dis ’n lem in Altydoopvygie se hart.

    Bang vir jou eie kind?

    Maar Oppas vir hom! is ’n lem wat draai in haar hart, heelpad terug huis toe, met die voetpaadjie al langs die droë rivierloop af en dan die eerste bult en die vlaktetjie daarna en agterna (Oppas vir hom!) die tweede bult en dan die oop stuk en dan, teen die volgende bult, die wit huisie anderkant die kaalte. Haar huisie, op hierdie stuk grond genaamd Sterreveld, wat aan die Wiggelary behoort.

    Heelpad loop Altydoopvygie en dink aan die woorde van Frau Kwaai.

    Algebra, weet sy, het te doen met somme. Maar vuur?

    Dit is voorsien, besluit Altydoopvygie oplaas voordat sy die deur oopstoot en skrik vir die reuk van muskeljaatkat. Sy staan in haar spore. Het die man met die bergluiperd se slagtand om sy nek dan verbygekom? Hoe weet hy sy bly hier? Sy haas haar na binne, na die slaapkamer, waar die netjies opgemaakte katel staan, onaangeraak.

    Dit was ’n wens; ’n verbeelding.

    *

    Ja, álmal hier in Gebeente duisel van die verbeelding; hulle sien nóú al met hul gesamentlike oog die begin en die einde van Jisses Losper: Skuldig! slaat – só sien hulle – die Magistraat se plat hand op hout.

    Die blare val van die kriedoring. Die lam kruip by sy ma se lies in. Die kleinkomeet vonk die miershoop uit. Kyk hoe smeul ons storie!

    Daardie handpalmslag is ’n verlange. Dit eggo oor die jubelende skare se koppe, uit by die oop hofdeur die stofstraat in. Dit galm oor die vlaktes en kaats van klip tot klip.

    Skuldig aan die Aanwysing van die Verkeerde Here!

    Skuldig aan Dubbelmoord!

    ’n Oomblik se aarseling. En wéér val die hand.

    En skuldig aan Diefstal van die Melkweg!

    Maar helaas – dit weet ons nou, agterna – só maklik sou dit nie gaan nie. Jy kan ’n storie vertel, maar jy kan hom nie wéns nie, kan jy?

    *

    Kom ons begin by die begin, want voor skuldigbevinding kom aanklag. Dis dertig jaar en baie verskietende sterre ná die Eerste Oorkyk aan die bopunt van die peperboomlaning. Hoeveel komete intussen geval het sedert Frau Kwaai se eerste diagnose van Jisses Losper, sal jy nie kan tel nie.

    Van ver kom die Aanklaer, van Kaapstad, van hoofkantoor. Hy kom met die En Een op na die droë hoogland, die Karoo. Jy kan aan sy kar se enjin hoor dat die pad – al is daar entjies afdraand ook – stadig, stelselmatig, opklim plato toe. Jy ry nou wit son binne, dink hy. Wit gaan dit jou brand. Skóónbrand, hoop hy.

    Hy’t iets van ’n arend aan hom; ’n soort stiptheid of dalk honger. In die tonnel deur die berg gryp ’n onverwagse benoudheid hom; ja, hy’t als wat hy moes saambring, onthou: die selfoonlaaier en die verlengkoord vir die luidsprekers, sy drafskoene en die verkyker. Langs hom lê die dossier, in ’n bruinvaal omslag: National Prosecuting Authority – The State vs Jisses Ligtersoon Losper. Hy’t dit op hoofkantoor reeds deurgewerk. Dis vir hom ’n dooie, lustelose dossier. Die papierwerk weerspieël nie die vooraf nie, en is meer begaan oor die huidige: plaasmoorde en brandsteek. Vetplantsmokkelary en ietermagogsmouse. Korrupsie in die Partytak. ’n Nuwe dwelm genaamd Maan. Boendoehof en verjagery. Goeie aarde! Die kwale gaan aan en aan, in verklaring op verklaring. Onder als, soos ’n rif blinkswart steenkool, die smagting na ’n sondebok. En die twee aanklagte wat in byna elke dokument voorkom: Diefstal van die Melkweg en Aanwysing van die Verkeerde Here.

    Die dossier is so bedompig, dink hy, soos die uitlaatgasse in hierdie donker tonnel. Toe is hy gelukkig anderkant uit. Hy bars die lig in en wieg deur die teerpaddraaie soos hulle deur oopgedinamiete klowe slinger. Hy trek die vars asem diep in sy longe in. ’n Laaste ravyn, wreed oopgeskiet met skurwe binnewange. Wanneer hy deur die skeur is, plaat die wingerde van die Hexrivier voor hom.

    Hy kyk nie links en later weer regs na die plate sinkhuisies van seisoenswerkers nie maar druk deur, ongeduldig met die spoedbeperking hier waar minibusse asof op ’n ingewing skielik op die geel sperstreep stilhou en kinders oor die pad hol en druiwediewe hul skottels gesteelde trosse omhoog hou, gevaarlik naby die bewegende voertuie.

    Dan’s hy deur. Die landskap begin behoorlik asemhaal. Die stadige inbring van Justisie die Karoo in; dit sien jy nou. Daar gaat hy, waar die pad ’n reguit lint word en die vlakte weerskant oopvou.

    Hy ry verby Matjiesfontein, kruie deur Laingsburg en hou anderkant die dorp sy oë oop vir die klein bordjie wat lui: Gebeente. Hy skiet byna verby; die naam is so dof op die bordjie geverf. Maar hy kry betyds gerem en swaai links af. Dis asof sy kar sug soos dit die stofpad tref en gruis begin teen die ondermaag trommel.

    Die Aanklaer ry ’n vaal Citroën. Jy sien die kar skaars soos hy nou deur die bruin vlakte skuif, ’n wurm stof agter hom. Die Klipvolk sou later praat: Daai skilpad kom aangekruie en hy’t ’n neus vir water. Want dis wat hulle in hierdie wêreld sê: Volg die skilpad. Geduldig, en jy kom by die water uit.

    Sy Citroën sit laag op sy asse, asof altyd in rus. Op die grootpad noorde toe, voordat hy links moes afswaai, kon hy sien: Daar is geen verband tussen die byderwetsste, jongste modelle wat hom verbysteek of singend van voor verbykom en sy ou kruiwa nie. Dis byna of sy motor en daardie voertuie van verskillende spesies is.

    Dit gee hom ’n gevoel van satisfaksie; van vry wees van die bewyslas van nuwe chroom en hoë toere en wringkrag. Van die bewyslas van prestasie het hy hom lank terug reeds gekwyt. Hy is bevry van die dolle gejaag na niks. Al wat vir hom oorbly, is die pasoppens vir die opslagkoeël.

    Hy’t ’n verweerde swart pak aan, met ’n wit hemp en swart das. ’n Hoed sit skuins op sy kop. ’n Ou Stetson; dit gee hom ’n soort afgeleefde swier, saam gesien met die verslete pak en die blinkgepoleerde, deurgetrapte stewels. Hy’s ’n ou rocker, uit die tyd toe slordig leef nog ’n opdrag aan rockers en kunstenaars was, en daardie dae is die skilfers wat oor sy swart skouers uitsak.

    Hy’s skeel, en dis een van sy beste wapens tydens kruisondervraging. Die beskuldigdes, het hy al gehoor, staan gehipnotiseerd na die onpaar oë en kyk met ’n onsekerheid oor in watter oog hulle moet kyk.

    Dit gee die blik van geregtigheid ’n soort waansin. Die woedende onpaar aanstaar van vervolging. Dit ontsenu selfs die mees onskuldige van beskuldigdes. Al is jou hande hoe skoon, as daardie mal oë jou aankyk, word jou hande voor jou eie oë, soos jy die beskuldigdebank staan en vashou, vuil.

    Maar dié soort ding sê hy net aan vertrouelinge, en dié is deesdae skaars.

    Hy’s ’n Spaghetti Western-aanklaer, dink hy graag. Met ’n smeulende pistoolloop. Maar hy dink net in hierdie trant wanneer hy op sy derde whisky is. Dan hoor hy: For a few dollars more. Die twang en galmende siddering van ’n elektriese kitaar in ’n groot vlakte.

    Die res van die tyd bedryf hy sy vak op ’n nugter maag, praat min, sien wyd, hoor goed, jog die meeste dae ’n goeie ent, en sit sy Stetson op wanneer hy buite in die son kom.

    Hy heul nie. Hy hou ’n versigtige afstand met dese en gene.

    Die middeldistansie, sê hy graag.

    The last white man standing.

    Hy werk vir Justisie. Vir die onvas, sukkelende Staat. Die groot masjinerie van hoorsê en knoei en rugstekery en talm en voete-opsit en afskep en – veral – lag.

    Want dis wat die kaders doen in die aangesig van die ineenstorting om hulle.

    Lag, met ’n verrassend uitbundige humor oor onbeholpenheid en insidente van verlies en verdwyning, wanbestuur en wedywering om eerste by die trog te kom.

    Selfs hier, dink hy terwyl hy bestuur met die Eagles in die kassetspeler, voel dit of die kadergelag dawer oor hierdie eindelose vlaktes. Dis die onderdrukte histerie van mense wat kompulsief giggel as enigste verweer teen hul eie onbeholpenheid en honger. Lag as ontlading van hulpeloosheid en skaamte. Lag as woede vir die self.

    Humor, dink hy, is die republiek se grootste vyand.

    Ons gaan nog sterf van die lag.

    Dikgevreet gaan ons honger vergaan.

    *

    Twee polisiebakkies begelei hom. Die twee vangwaentjies het hom ingewag ná die Gebeentepad se eerste draai, heel onnodig. Hy was verras toe hy die twee bakkies, dwars oor die pad parkeer, sien. Hy’t stilgehou, hy moes nogal vinnig briek trap, en hy’t in sy kar bly sit totdat sy stof hom ingehaal, oor hom gewaai en hulle ook hul hande voor hul oë laat hou het.

    Wil hulle my laat skrik? het hy gewonder, en uitgeklim. Sy Stetson stywer op sy kop gedruk.

    Goeiedag. Hulle staan onbetrokke na hom en kyk. Menere, waarom die padblokkade?

    Hulle haal hul skouers op. ’n Lange en ’n korte. In die tweede vangwa bly ’n bestuurder sit.

    Ons kom jou inbring, sê die Lange.

    Maar dis heeltemal onnodig.

    Die stasiebevelvoerder, sê die Korte.

    Nou goed.

    Hulle ry. ’n Soort arrestasie, dink hy, terwyl hy na die stofdwarrel ’n ent voor hom kyk, en die tweede vangwaentjie ’n ent agter hom in die truspieël dophou, by tye sigbaar deur die stof.

    Maak hulle seker dat hy sy werk reg kom doen? Wie het die stasiebevelvoerder die opdrag gegee dat hy só gehaal moet word? Om hom, die Beheeraanklaer, te gaan inwag by die eerste draai ná die afdraaipad, om hom dalk met ’n soort verrassingsgebaar op sy hoede te stel – hy met sy spesiale opdrag in dié tyd van nuwe misdade en splinternuwe oortredings, van vrot geskrewe wette; van onsekerheid en skater?

    Hy weet dis dalk sy laaste opdrag. Binne daardie kantoor is hy die oorblyfsel in die kamer aan die einde van die gang. By die brandtrap, regs. Daar sit hy, tussen opgestapelde bruinvaal lêers.

    Verby die waterslang teen die muur; hier waar die reuk van Nando’s en Kentucky Fried Chicken nie kom nie. Veraf laggery kom en gaan en die onophoudelike geklets is in golwe hoorbaar.

    Net om nou te oorleef en aan sy werk vas te hou is ’n prestasie.

    Hy’s op geleende tyd, en sy uitvoering van hierdie opdrag is kardinaal.

    In die vangwaentjie voor hom, agter tralies, soos ’n dier in ’n hok, sit ’n onbekende bandiet wat, wanneer die Aanklaer vetgee en naderry, hom stip in die oë kyk. Die man is in ou swart klere aangetrek. Hy lyk verwaarloos. Hy steek sy arms na weerskante uit, sy vingers teen die wande van sy hok, om homself te stabiliseer. Ringe blink aan die vingers.

    Wolraad Woltemade, sou die Aanklaer later ontdek. Jisses Losper se tjommie. Miskien ’n jaar of vier, vyf ouer as die drie-en-dertigjarige Jisses. Wolraad Woltemade is die man wat ’n ligte mistykie op Beaufort-Wes gaan maak het maar toe ná skuldigbevinding van Sentraal-Karoo na Pollsmoor in die Kaap verskuif is. Daar het hy onder die nommer gekom en elke stoutigheid wat jy jou maar kan indink, geleer. In daardie college of knowledge.

    ’n Man wat in ’n weeshuis grootgeword het, glo, en altyd maar kwajong en jukskeibreker was.

    Toe, slim geleerd, kom hy na hierdie geweste, hier waar hy, Wolraad, en die Aanklaer in sy skilpad nou deur twee vangwaentjies ingebring word, en Wolraad kom maak die gort gaar.

    Die Aanklaer hou, wanneer die grondpad ’n blink rif tref en sy stof gaan lê, die twee lede in die agterste vangwaentjie in die truspieël dop. Deur flitse son op die voorruit sien hy die twee konstabels lustig eet. Boksies met deksels. ’n Wegneemete wat hulle iewers, daar waar geriewe is, bestel het.

    Ek moet my hart hard maak, dink hy terwyl die veld verbyskuif en die ooptes ál kariger raak. Hy praat met homself. Soos jy ouer raak, raak jy saf in jou kop. Buitendien eet hulle, Justisie, jou soos ’n takeaway-pizza.

    Olie jou rewolwer, staan soggens voor die spieël en oefen jou skeelkyk.

    En moet haar hand nooit los nie, want onder gaap die ravyn.

    *

    Hy weet wat hy heel eerste gaan doen, dink hy, en trek sy hoedpunt voor sy oë laer wanneer hulle die dorpie nader. Hy sal hulle onder die indruk bring; heel eerste. Want dis ’n dorpie nes soveel ander wat hy al opgejaag het met sy skeel blik en beslistheid in die hof.

    Die voorste vangwaentjie ry nie soos wat mens sou verwag stadiger soos hulle die dorp nader en ingaan nie, maar gee vet, en die agterste bakkie druk die Citroën van agter. Byna op sy agterbuffer. Albei vangwaentjies se blou ligte flits. Die konvooi dreun die dorp binne; boerbokke wat op die padskouer gewei het, deins weg. Daar draai iemand om, staan stil en kyk. By ’n winkel hou die ou man wat die voorstoep staan en vee het, op met sy taak. Hy leun op sy besem, en kyk hulle stip agterna.

    Dis ’n binnekoms, besef Div, en hy is teen wil en dank deel daarvan. Nou-nou weet hierdie hele gemeenskap hy’s hier. Goed so. Laatmiddag sal hulle nie net weet nie, maar hóór.

    Hulle lei hom na die gastehuis, waar hulle saam stilhou maar nie uitklim nie en wag dat hy onder ’n boom parkeer, sy aktetas en kitaar van die agtersitplek neem, die dossier in die tas insit, en deur die tuinhekkie loop. Toe hoor hy hulle wegry.

    By Huis Suiderkruis se ontvangstoonbank staan die ontvangsdame kiertsregop – hoe kan dit anders, met die geloei van enjins en die wye draai op die gruis teen die sypaadjie soos hulle stilhou? Sy’t ’n fyn, ronde brilletjie en knik senuweeagtig.

    Hy haal sy Stetson af en sit dit op die toonbank neer, stryk oor sy hare. Ek is van die Nasionale Vervolgingsgesag. Van Justisie. Sy kyk grootoog na hom. Hy buk vorentoe. Ek is die Aanklaer.

    Aanklaer … hakkel sy en stoot die register voor hom in. Hy teken en sorg – soos altyd – dat die D van Div en die V van Villiers swierig en opvallend is.

    *

    Die kaste arriveer ’n kwartier ná die Aanklaer per koeriertrokkie en word by die losieshuis afgelewer. Die geregsdienaars in die vangwaentjies wat die Aanklaer begelei het, was te besig met hul etery om die trokkie van Seepglad Afleweraars op te let wat ’n ent agter hulle aangekom het.

    Later blyk dit dat die trokkie se vrag twee groot luidsprekers en ’n amp is. Die Aanklaer s’n, ingery van die Kaap. Hy’t skaars by die losieshuis ingeboek, of hy laat wat hy noem sy speakerkaste – swaar soos wat hulle is – opdra teen die koppie agter die losieshuis uit. Dis ’n affêre om hulle op klipplate, ’n ent uitmekaar, te posisioneer. Hulle kyk nou oor die dorpie uit. ’n Groot tol word te voorskyn gebring en die draad word uitgekatrol van die losieshuis se buitekombuis deur die agtertuin en teen die steilte uit tot so driekwart van die koppie se

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1