Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Siembamba
Siembamba
Siembamba
Ebook323 pages5 hours

Siembamba

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Mindie Rochebrandt en haar tweelingsuster, Mandelien, is beide swanger met hul eersteling. Ná ’n onsmaaklike insident tydens Mindie se ooievaarstee besluit sy egter om haar advokaatman, Marius, te verlaat sodra sy geboorte geskenk het. Maar enkele dae later kom Mindie af op ’n gruwelike toneel in Mandelien se meenthuis. Wie verniel ’n swanger vrou en haar ongebore baba so wreedaardig? En hoekom?
Siembamba is ’n naelbyt-riller. Angswekkend, aksiebelaaid en propvol onvoorspelbare intriges.
LanguageAfrikaans
Release dateSep 29, 2023
ISBN9780798183772
Siembamba
Author

Madelein Rust

Madelein Rust se loopbaan as krimiskrywer skop af in 2014 met die publikasie van haar debuut, Die 13de kaart . Daarna volg daar elke jaar ’n nuwe roman waarvan drie titels vir ATKV-Woordveertjies benoem word. In 2017 word haar eerste niefiksietitel, Kanker Schmanker!, gepubliseer. Rust skryf voltyds en woon tans in Gauteng.    

Read more from Madelein Rust

Related to Siembamba

Related ebooks

Related articles

Reviews for Siembamba

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Siembamba - Madelein Rust

    Skrywers werk lank en doen intense navorsing om ’n boek te skep wat uiteindelik gepubliseer word. Die e-boekweergawe van so ’n titel is, net soos die gedrukte uitgawe, nie gratis nie. Daarom mag jy nie die e-boek gratis versprei nie, maar moet jy dit by ’n gemagtigde e-boekhandelaar koop. Indien jy die e-boek gratis versprei, oortree jy die Wet op Outeursreg 98 van 1978 en stel jy jouself bloot aan vervolging.

    SIEMBAMBA

    MADELEIN RUST

    Human & Rousseau

    VIR LIAM

    Want engele word geskenk aan die mensdom –

    nie gebore nie.

    HOOFSTUK 1

    Dinsdag 6 Desember 2022

    Mindie Rochebrandt née Kelly is wakker lank voor sy haar oë oopmaak. Haar man se arm hang swaar oor haar natgeswete lyf, soos ’n anker wat haar na die dieptes toe wil aftrek.

    Eienaardig. Dis asof elke atoom in haar liggaam wéét. Want hierdie selfde arm het haar drie jaar gelede nog beskermd laat voel. Van die weersin wat sy nou in elke sel van haar liggaam voel, was daar geen sprake nie.

    Sy byt op haar tande. Hard.

    Dit voel soos ’n leeftyd, hierdie drie jaar. Dae, weke, maande waarin meer en meer van Marius Rochebrandt IX se persoonlikheidsafwykings hulle opwagting gemaak het. Eers stadig en toe vinniger, asof hy nie meer omgegee het of sy weet wie hy in werklikheid is nie. Wát hy in werklikheid is nie. En toe, twee weke gelede, tydens haar ooievaarstee, die laaste strooi.

    As sy nie oppas nie, gaan die toneel nou weer voor haar geestesoog opdoem. Met haar oë styf toegeknyp, wend sy desperaat ’n poging aan om eerder aan die baba in haar buik te dink.

    Te laat.

    Marius Rochebrandt IX, 53 jaar oud, en Veronica Minnaar van langsaan, seker omtrent 22, is meteens weer voor haar. In die pynlikste detail. Veronica op die skottelgoedwasser, daardie lang, bruingebrande bene van haar wyd gesprei, haar minirokkie nog hoër opgetrek. Marius se lenige liggaam tussen haar bene aangeleun, sy hande krampagtig op die DD-borste wat hy van onder die blou materiaal opgediep het, en daardie adellike lippe van hom op die gawe mevrou Minnaar s’n.

    Dit was Veronica se harde, vinnige asemhaling wat Mindie haastig na die opwaskamer laat stap het. Sy was bang iemand het seergekry.

    Idioot.

    Dat so iets op ’n mens se ooievaarstee moet gebeur.

    Dit was nou wel haar tweede, die eerste een gereël deur Mandelien, haar identiese tweelingsussie, maar nogtans. Háár familie en vriende, heeltemal te veel volgens Marius, was by die geleentheid van vier weke tevore. Sy besef maar te goed dit gaan oor die verskil in sosiale stand tussen Marius Rochebrandt IX en die mense wat sy liefhet. Omtrent almal wat sy ken, was by daardie eerste ooievaarstee, ook die bure van haar kleintyd in Wilgehof, een van die buurte in Bloemfontein waar diegene woon wat minder het vanweë die lewe se stampe en stote, maar dalk meer ís.

    Marius se mede-advokate was by die tweede ooievaarstee, en natuurlik sy familie en vriende, sy ma se vriende en sommer net die wie’s wie in Bloemfontein, die provinsie en die land. Tagtig van Suid-Afrika se vernames. En die gawe mevrou Minnaar.

    Hierdie huwelik moes die begin gewees het van beter dinge vir die Kelly-clan. Dinge wat mense laat vergeet van die armoede deur geslagte, van die twee tantes wat toentertyd in ’n gestig beland het, van die paar tronkvoëls wat die clan opgelewer het. Meer onlangs, van Edward Kelly, geliefde ouer broer, wat die regering se gas was in die G4S-tronk buite Bloemfontein. Van al die dinge waarvoor Mindie gehoop het, was dié wens voorop: dat almal net sou vergeet van Eddie se indiskresie met iemand anders se pakkie dwelms.

    Al daardie wonderlikhede wat die Rochebrandt-naam moes bewerkstellig, is van die baan, ashoop toe saam met haar hart wat so genadeloos platgetrap is deur Marius Rochebrandt se nommerelf- Salvatore Ferragamo-skoene.

    Dat sy sal moet skei, is ’n uitgemaakte saak, nou nog meer as vantevore. Agt-en-twintig en geskei. Wie sou dit ooit van haar verwag het? Die eerste in die Kelly-clan om daardie doodsonde te begaan. Eona Kelly, ma van vele, sal seker haar oë rol en sê dis nou tipies van Mindie om haar eie nes so te bekak.

    Haar voorbereidings is in ’n gevorderde fase, want dis nog net een en ’n halwe maand voor klein Marius X gebore word. D-dag – die dag waarop alles sal verander. Die Victoriaanse huis op De Rust is selfs al gekoop. Die massiewe hoeveelheid geld wat Marius elke maand vir haar gee vir die huishouding, klere en grimering, word nou al vir twee en ’n half jaar in ’n aparte rekening gebêre ná sy winskopies gejag en net die nodigste gekoop het. Dis nou saam met die astronomiese bedrag wat sy as huweliksgeskenk gekry het, asook die geld vir verjaarsdae en Kersfees en – manipulasie gekamoefleer as optimisme – Moedersdae. Dit maak haar in eie reg ryker as wat enige Kelly sekerlik ooit veronderstel was om te wees. Wanneer sy die Mercedes verkoop, sal sy nog meer hê.

    Waar sy in die begin slegs by hom gebly het om vir haar ’n neseier op te bou, gaan dit nou ook daaroor om seker te maak haar kind kry die beste skoolonderrig. Twee redes om by hom te bly solank dit haar pas. Redes wat al hoe meer ongegrond voel.

    Mindie was nog altyd dom as dit by romanse kom, het heeltemal te min oefening daarin gehad. Met haar kreatiwiteit het daar egter nog nooit iets geskort nie. Sy het dit met oorgawe ingespan om seker te maak dat Marius haar nie sal vind ná die balju daardie dagvaarding op hom beteken nie.

    Wanneer sy Woodland Hills se stof van haar voete afskud, sal sy haar lang, blonde hare by een van die talle tuissalonne kort laat sny en donkerbruin laat kleur, en sy sal groen kontaklense begin dra om haar blou irisse te verberg. Swaar grimering sal help om haar ouer te laat lyk. ’n Vierkantige bril met gewone glaslense sal haar hartvormige gesigvorm verdoesel en haar boetiekdrag sal plek maak vir hippieklere en plat sandale.

    In die maande, dalk jare, wat die saak sloer en Marius weier om aan haar belaglike eise te voldoen, sal sy en die seuntjie vrede hê terwyl die prokureurs en gesinsadvokaat die saak per e-pos uitbaklei. Miskien, wanneer daar genoeg tyd verloop het en haar slim ou Joodse advokaat hom inlig dat Mindie al haar eise laat vaar, het hy al iemand anders ontmoet wat vir hom daardie seun kan gee wat hy so begeer.

    Al haar benodigdhede word geberg in ’n stoorplek langs die Abrahamskraalpad. Op D-dag sal sy as een mens daar inry en as ’n ander daar uitkom.

    Die probleem is dat Marius se sakke diep is en sy kontakte vele. Hy sal waarskynlik alles in sy vermoë doen om haar en hulle kind te vind en terug te bring huis toe, al is dit net om hom die vernedering van ’n wegloopvrou te spaar. Hy sal haar nie as vermis aanmeld nie. Dit sal te gou nuus word – die verkeerde soort nuus vir die Rochebrandts.

    Mindie is redelik seker haar vals onderdanigheid flous hom. En haar verdwyning en die dagvaarding is veronderstel om hom soos ’n weerligstraal te tref. Sy onderdruk ’n sug. Tot die dag wat sy Marius ontmoet het, het haar lewe so mooi volgens plan verloop. As daardie dag maar net nooit gekom het nie. As sy net op ’n ander plek parkeer het en nie in die man vasgeloop het nie.

    Vir Mandelien was dit anders. Sy en Sebastiaan was in graad tien in Hoërskool Jim Fouché al gekys en hulle het kort ná Mandelien se gradeplegtigheid getrou.

    Sy, die ryk een, lê selfbejammerend tussen haar beddegoed van Egiptiese katoen terwyl Mandelien waarskynlik dolgelukkig in haar arm man se arms in hulle meenthuis van sewentig vierkante meter lê.

    En die herinneringe loop met Mindie. Terug op die pad na daardie wintersdag buite Träumerei aan die ander kant van Grey Kollege. Die plek waar sy hom raakgeloop het. Letterlik. Sy, gewoonlik effens verstrooid as sy doodeerlik moet wees, was besig om in haar handsak te grawe vir haar karsleutels terwyl sy na Tank, haar 2001-Toyota Tazz, toe stap. Toe die trompop botsing teen sy lang lyf. Hy het sag gelag en haar aan haar boarms regop gehou. Ná ’n lang oomblik waarin hy glimlaggend in haar oë gekyk het, het hy gevra of sy saam met hom ’n melkskommel sal gaan drink. Vir die skok. Volgens hom het sy na die soort meisie gelyk wat vertroos sou word deur onskuldige dinge soos pienk melk.

    Dit was soos ’n oomblik uit een van Mindie se sorgvuldig weggesteekte romantiese verhale.

    Buitendien was hy so aantreklik, met sy donker oë en sy krullerige donker hare met die grys teen die slape, dat min meisies sy sjarmante uitnodiging sou kon weerstaan. Alles aan hom het groot geld geskree. Hy het haar flou verskoning oor haar verhandeling wat wag met ’n wuifbeweging van sy hand afgemaak en belowe om haar te laat gaan voor haar kar in ’n pampoen verander.

    Glad met die mond. Nog altyd.

    Hy sou daardie dag die bekendstelling van een of ander vername digter se bundel in Träumerei bywoon. Pleks daarvan om na die gesprek en voorlesing in die koffiewinkel te gaan luister, het hy vir hulle ’n tafel buite gekry en daar het hulle in die ysige Vrystaatse winterweer gesit en melkskommels drink. Ure lank. Die tydsberekening was uitstekend, het sy altyd gedink, asof die noodlot hulle op daardie dag saamgegooi het. Sy was toevallig in Mugg & Bean in Mimosa Mall oorkant die straat om met haar studieleier te gesels oor navorsing vir haar meestersgraad. Maar Mimosa Mall se parkering kos geld terwyl ’n mens gratis op Kollege Crossing se parkeerterrein oorkant die straat kan staan.

    Ná daardie dag het sy net nog ’n student geword wat honderdduisende rande se voor- en nagraadse studiegeld vermors het deur verlief te raak en te trou. Sy het, skuldig-skuldig, uitstel op uitstel gevra vir die indien van hoofstukke vir haar verhandeling sodat sy ongestoord verder kon eet aan die lewe se soetste vrugte. Marius het later al haar studieskuld betaal, haar oortuig dat dit laf is om skuldig daaroor te voel, sowel as oor die feit dat sy later opgeskop het.

    Daardie paar ou randjies sal my nie armer maak nie. Buitendien, ek het van die begin af vir jou gesê dis bewonderenswaardig dat jy gaan leer het, al is dit iets so onwetenskaplik en nutteloos soos sielkunde – maar waarvoor? Geen Rochebrandt-vrou het nog ooit gewerk nie. Toemaar! Laat die boekgeleerdheid aan jou man oor. Jy was joolkoningin. Dis genoeg. Goedig het hy dit gesê, oënskynlik onbewus van hoe seer sy woorde maak. Vandag glo sy hy het geweet.

    En sy het stilgebly, want sy het toe al op die moeilike manier geleer dat dit nie help om met hom te redekawel nie.

    Ook maar goed Pa Finn leef al die afgelope drie en ’n half jaar nie meer nie. Wat sou hy gesê het oor Mindie se wonderlike nuwe lewe in haar paleis van ’n huis? Wat sou hy gedink het van die gesofistikeerde klere en die skouspelagtige juwele wat sommer net hare geword het, die geld wat soos water vloei en die sogenaamde vooraanstaandes van die land met wie sy onverdiend en bitter ongemaklik skouers skuur?

    Wat sou hy gesê het van hierdie buurvrou genaamd Veronica?

    Mindie het op die dag van die tweede ooievaarstee omgedraai en weggestap, blind en doof haar rol as gelukkige aanstaande moeder verder vertolk. Die gaste het kommentaar gelewer oor haar bloesende wange, het gemeen sy gloei van geluk. Sy het hulle nie reggehelp nie. Wat van nog ’n lekseltjie salm, mevrou so-en-so? Maar al waaraan sy kon dink, was die manier waarop Marius se goue trouring geglinster het op haar buurvrou se stywe, bruingebrande linkerbors.

    Nog nooit het sy minder begeerlik gevoel nie. Nog nooit so belaglik nie. Dis mos altyd die verneukte persoon wat laaste daarvan uitvind.

    Sy lig Marius se arm van haar maag af, versteen toe hy daardie kort, harde snorkgeluid maak wat aandui dat hy nou enige oomblik gaan wakker word.

    Want sy moet dink.

    Alleendinge dink.

    Toe hy weer rustig asemhaal, laat sak sy daardie gewigtige arm, klim suutjies onder die laken uit en kies koers kombuis toe, na waar die duur perkoleerder vir haar staan en kyk. Philips se Saeco Minuto. ’n Futuristiese ding van swart, silwer en plastiek. Geen verwantskap met ’n ketel nie. Mooi, volgens Marius en sy vriende. Dalk moet sy maar met die ding maats maak.

    Sy druk die knoppie en toe sy sekondes later vuurwarm swart koffie van varsgemaalde bone het, gaan sit sy op die kroegstoeltjie by die eiland, albei hande om die warm beker terwyl sy na buite staar. ’n Koue verlatenheid sit in haar gebeente. Dit is asof die soom van dié nuwe somersdag in Woodland Hills Wildlife Estate aan die rand van Bloemfontein mooier as die voriges is. Asof die natuur haar daaraan wil herinner dat die lewe voortgaan. Ja, ten spyte van haar man en ’n ander vrou wat, oorweldig deur wellus, so ’n demper geplaas het op die dag wat bedoel was om Marius Rochebrandt X se komende geboorte te vier.

    Die koffiebone se swaar, donker ondertoon laat haar sluk en weer sluk teen die naarheid wat in haar opstoot. Marius die tiende hou duidelik ook nie van die koffie nie, te oordeel na sy geskop hier binne haar. Sy laat rus haar hand liggies op haar bultende maag en maak troosgeluide vir die seuntjie wat die Rochebrandt-naam in Suid-Afrika sal laat voortbestaan. En sy weet dis nie hoofsaaklik die koffie wat haar naar gemaak het nie.

    Marius se ma het net vir hom in die wêreld gebring en sy oorlede pa het geen manlike sibbe gehad nie. Dis boonop asof die Rochebrandts se vrugbaarheid deur die jare getaan het. Marius X sal die eerste seun in ’n baie lang ruk wees. Miskien was dit waarom Marius so aan haar gekarring het om met ’n gesin te begin. ’n Seuntjie, ’n seuntjie, ’n seuntjie . . . Kort-kort het hy met ’n nuwe baba-offensief gekom, tot sy geswig het. Sy glimlag onwillekeurig toe die baba skop en sy die klein bult aan die kant van haar onderlyf met haar vingers voel.

    Mindie los die beker op die eiland en stap tot by die venster wat op die bome en bosse van Visarendvallei uitkyk, haar arms om haar lyf gevou en haar tande opmekaar geklem. In die ruit kan sy ’n refleksie van haarself sien, vaag en onvoltooid asof dit die werk is van ’n kunstenaar wat moeg geword het vir sy taak. Haar blonde vlegsel hang lank en dik oor haar skouer en die fynbesnede gesig frons vir haar.

    Wanneer het Marius dan besluit om groener weivelde te gaan soek?

    Is dit haar swanger liggaam wat vir hom so afstootlik geword het dat hy elders afleiding soek? Haar liggaam is styf soos ’n somervrug wat op die randjie van oorryp huiwer. Die meeste mans vind dit sekerlik onaansienlik, want dit verander Vrou op baie sigbare wyse in Ma. En wie wil nou saam met sy ma slaap? Veral ’n ma soos Marius s’n. Aleid Rochebrandt. Haar naam beteken glo van die edele soort. Ha!

    Dié het van meet af aan vir Mindie laat verstaan dat sy uiters gelukkig was om vir Marius los te slaan. Soos ’n bedelaar wat vyftig sent by die casino in ’n masjien gooi en met die boerpot wegstap. Kyk na daardie man, het Aleid eendag langs die swembad gesê tydens Mindie en Marius se eerste vakansie daar, ’n maand ná hulle ontmoeting. Hulle het op die terras van die Rochebrandts se herehuis in Oranjezicht met sy uitsig op Tafelbaai gesit. Aleid se oë was gerig op haar seun wat op die swembad se rand staan. Nee, kýk, Mindie Kelly. Sy liggaam is dié van ’n fiks twintigjarige en hy sal daardie bos swart hare nooit verloor nie. Goeie gene. Om van sy geld, inbors en intellek nie te praat nie. Ek wonder wat bring jy na die tafel toe, mejuffrou joolkoningin uit die Vrystaat?

    Liefde, mevrou Rochebrandt, omgee, het Mindie gesê, ontstig deur die insinuasie dat sy nie goed genoeg is vir Marius Rochebrandt nie. ’n Mens wonder hoeveel hy al daarvan gekry het ten spyte van sy wonderlikhede. Sy het na Aleid Rochebrandt se vernoude oë en dungetrekte lippe gekyk en besef sy het pas vir haarself ’n nuwe vyand losgepraat. ’n Magtige vyand. Immer te vertelle hoe die eerste Rochebrandt in 1652 op die Reijger in Kaapstad aan wal gekom het as ’n BBP van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie. Die familie is huisvriende met die belangrikstes in die land. Op voornaamterme met ministers en vakbondleiers en oligarge; mense van wie die gewone man op straat nog nooit gehoor het nie, maar wat blykbaar die land vanuit raadskamers regeer. Die Rochebrandts se aandeleblokke sowel as wyn- en kersieplase vir die uitvoermark en hulle fabrieke wat plastiekware en doodskiste vervaardig het hulle ryker as sommige van die rykstes in Suid-Afrika gemaak.

    Aleid Rochebrandt is iemand om mee rekening te hou en dis ’n jammerte dat Mindie se trots ’n vyand van die vrou gemaak het. Die genoegdoening wat sy op daardie oomblik ervaar het, vergoed egter daarvoor, as sy eerlik moet wees.

    Dit was gedurende daardie vakansie dat Aleid uitgevra het oor haar familie. Hoeveel kinders baar die Kelly- en Doyle-vroue? Hoeveel seuns word gebore? Is daar enige genetiese defekte? Hoe lank leef die kinders?

    Die trant van haar uitvraery het Mindie laat wonder of die vrou onbewus is daarvan dat die man die geslag van die kind bepaal. Sy het niks gesê nie, was nie lus om die gesprek verder uit te rek deur te stry oor ’n wetenskaplik bewese feit nie. Dit was wel duidelik dat Aleid verskriklik bly sou wees as Mindie so gou moontlik ná die troue vir haar ’n kleinseun in die wêreld bring. Die fiksasie wat Aleid met haar seun se slaapkamersake het, was vir Mindie ’n teer punt. Sy was toe nog nie eens seker dat sy kinders wou hê nie.

    HOOFSTUK 2

    In die stil ure van die nanag wat pas verby is, het sy weer gedink aan die voorhuwelikse kontrak wat sy ’n bietjie meer as drie jaar gelede so geredelik onderteken het. Vasbeslote om aan sy vername familie te bewys dat sy nie net agter sy geld aan is nie.

    Haar ma het haar gewaarsku: Moenie daai ding teken nie. Hoor jy my? Wil jy eendag kaalgat daar uitstap?

    Buite gemeenskap van goed met uitsluiting van die aanwasbedeling.

    Haar ma weet nie sy het dit geteken nie.

    As sy nie so sorgvuldig geld bymekaargemaak het nie sou sy by die voordeur uitgestap het met net die verslonsde klere wat sy as sielkundestudent gedra het. En drie kratte boepensvol boeke oor haar vakgebied. Plus, natuurlik, ’n paar romantiese historiese boeke wat sy heel onder in een van die kratte weggesteek het. Sy was nog altyd ’n romantikus eerder as ’n pragmatis.

    Tóé was die paragrawe en subparagrawe in die voorhuwelikse ooreenkoms bloot akademies.

    Tóé het sy nog gedink hulle liefde is rotsvas. Maar dit was voor hulle getroud is en Marius opgehou het om voor te gee.

    Ses maande.

    Dis hoe lank dit haar geneem het om te besef sy het ’n fout gemaak deur met hom te trou. ’n Paar weke later was sy van voor af verlief, net om hom ’n maand later te haat en te vrees. En so het die wipwarit saam met hom aangehou, op en af. Tydens een van die hoogtepunte is Marius X verwek. Daarna het dit vir ongeveer twee maande goed gegaan, voor die ware Marius weer sy verskyning gemaak het. Dit is toe dat sy haar voorgeneem het om by hom te bly tot net ná Marius X se geboorte.

    Soos sekerlik elke ander vrou het sy die tydskrifartikels verslind wat oor verneukers handel. Artikels oor die Tekens. Ja, met ’n hoofletter, want as jy die Tekens reg vertolk, sal jou lewe nooit weer dieselfde wees nie. Daar was geen Tekens in dié geval nie. Marius was maar net Marius. Soms koud, soms warm, nooit verkeerd nie, altyd ten beste geklee en altyd besig om te oefen en om sy vervlakste gesigroom aan te wend.

    Miskien het hy en mevrou Minnaar op ’n ingewing besluit om mekaar in die Bybelse sin te leer ken.

    En sy hoor weer die wellustige asemhaling van hulle jonger buurvrou, sien hoe haar eie hande vuiste maak en voel die baba se onrustige roering in haar. Wie weet almal? As Veronica se jagse asemhaling haar na die opwaskamer laat gaan het, hoeveel van die tagtig vername gaste is ook daarheen gelok? Wie het almal die volgende oggend met ’n koppie koffie oor haar vernedering gesit en giggel?

    Marius Rochebrandt, die ouer advokaat met sy trofeevrou uit een van die armsaligste strate van Wilgehof. Hoeveel ander verhoudings het hy al gehad terwyl sy ’n inskiklike vertoonstuk en gewillige seksmaat was? En nou ’n broeimasjien.

    Sy kyk af, na haar yslike boep met sy uitpeulnaeltjie. Teerheid oorweldig haar deesdae met ’n warm gloed wanneer sy na haar maag kyk. En die kleintjie se bestaan is ’n rots waaraan sy kan vasklou sedert die dag van haar tweede ooievaarstee. Sy sal nooit, ooit alleen wees nie. Marius Rochebrandt X sal daar wees; iemand op wie sy haar liefde kan uitstort.

    Koffie! skree nommer IX uit die kamer.

    Mindie besluit om hom te ignoreer, aangevuur deur die gedagtes wat sy pas gehad het. Daar is ’n eerste keer vir alles.

    Die huistelefoon se gelui laat haar ruk. Dis asof alles buite hierdie manjifieke huis in Woodland Hills vanoggend ineengekrimp het, tot net sy, Marius IX en Veronica met die mooi bene en oorgroot borste oorgebly het.

    Hallo, Mindie. Dis Eona Kelly. Ma. Ma van ses, soos sy almal altyd herinner. Dan kyk sy gewoonlik af na haar steeds wulpse figuur en glimlag triomfantelik.

    Vandat Mindie ryk getrou het, is sy weer vir Eona belangrik. Ná die euforie van die joolkoningin-sege en voor die verhouding met Marius, was daar beswaarlik kontak tussen ma en dogter. Wanneer Mindie haar ma gebel het, was die gesprekke kort en onbevredigend.

    Mindie onderdruk ’n sug. Dis lelik om so aan Eona te dink. Eer jou vader en jou moeder.

    Hallo, Ma.

    Jou sussie antwoord nie haar foon nie. Die klank van haar ma wat sigaretrook uitblaas, is hard oor die lyn. Dis asof Mindie die verstikkende walms kan ruik. Ek probeer haar al van vroeg af in die hande kry, maar pure verniet. Ure en ure en ure bel ek nou al. Jy weet?

    Eona was nog nooit iemand wat die waarheid belangriker geag het as ’n goeie storie nie. Mindie twyfel sterk of haar ma Mandelien meer as een keer probeer bel het. Sy is nie iemand wat van moeite hou nie, kry gewoonlik iemand om dit namens haar te doen.

    Toemaar, ek sal probeer, sterk Mindie haar in haar kwaad. Is daar ’n boodskap?

    Ja. Seblief. Eona se stem is diep en hees, ’n gevolg van haar kettingrokery. Sê vir haar sy moet ’n swatch van die gordynmateriaal saambring wanneer ons vanoggend winkels toe gaan. Ouma het gesê sy sal beddegoed vir die cot maak.

    Goed. Ek maak so. Mindie sien in haar geestesoog Mandelien se babakamer, ’n beknopte vertrekkie wat in die winter yskoud gaan wees. En sy sug toe sy dink aan die beddegoed wat onder Ouma Doyle se artritisvingers en halfblinde oë gestalte gaan kry.

    Sy en Mandelien het so te sê terselfdertyd swanger geword, nes hulle van hulle kinderjare af beplan het – hoewel dit per ongeluk was. Mandelien weet nog nie wat hulle baba se geslag is nie; sy en Sebastiaan meen enige geslag is die ideale geslag. Mindie moes op Marius senior se aandrang uitvind, want hy wou ’n seun hê. En hy wou voor die tyd weet. Die spanning sou hom andersins vang, het hy gesê. Hy het dadelik sy ma gebel toe hy hoor. ’n Seuntjie, Ma. Uiteindelik ’n seun. Nee, net een . . . Ek weet twee sou beter gewees het, maar . . .

    Al is Mandelien salig onbewus van haar baba se geslag, is dit asof Mindie instinktief weet dat sy en haar tweelingsus saam seuns sou grootmaak as dit nie vir haar nodig was om te vlug nie. Dié dat die stapel seuntjieklere wat sy vir haar susterskind koop al hoe hoër word. As Mandelien net nie so trots was nie, kon Mindie haar gehelp het om haar babakamer op te knap en mooi te maak. Iets om haar later aan Mindie te herinner. Maar nee. Sy en Sebastiaan wil dit graag self doen, met die geld wat hulle van hulle piepklein begroting afknyp. Werktuigkundiges is nie ryk nie en onderwyseresse nog minder, het Mandelien nog altyd gemaan. Maar sy het elke keer geglimlag wanneer sy dit sê. Sebastiaan se liefde is blykbaar oorgenoeg vir haar.

    Wat’s fout, Mindie? Ek kan hoor iets is fout. Het jy en jou man baklei? Eona het, anders as Ouma Doyle, die ore en oë van ’n arend en die instink van ’n haai. Mindie hoor oor die lyn hoe haar ma weer rook diep intrek en uitblaas. "Jy moet nou net nie jou eie nes

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1