Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Die verevrou
Die verevrou
Die verevrou
Ebook430 pages6 hours

Die verevrou

Rating: 5 out of 5 stars

5/5

()

Read preview

About this ebook

Liora word groot op 'n volstruisplaas in Algerië. Van kleins af bring sy tyd deur in haar tante se pluimery, 'n magiese omgewing waar volstruisvere omskep word in kostuums. Maar onrus bou op in Algerië, en eindelik word sy en haar familie gedwing om landuit te vlug. Ná jare in Parys kom Liora in die Klein-Karoo aan, op soek na haar oom Moshe. Haar lewe word opnuut omgedop, en weer, nes in haar jeug, lê daar 'n grens voor haar wat sy moet oor.
LanguageAfrikaans
Release dateFeb 15, 2019
ISBN9780798170512
Die verevrou
Author

Jan van Tonder

Jan van Tonder se kortverhaalbundel, Aandenking vir ’n vry man, en eerste roman, Is Sagie, is baie goed ontvang. Daarna is Die kind in 1989 bekroon met die ATKV-prys en was ook op die kortlys vir die M-Netprys in dieselfde jaar. Sy roman Roepman is wyd geloof deur resensente, was op verskeie kortlyste vir pryse en is ook in Nederlands vertaal. Roepman is nou ’n rolprent. Die skrywer woon in Gordonsbaai.

Read more from Jan Van Tonder

Related to Die verevrou

Related ebooks

Related articles

Reviews for Die verevrou

Rating: 5 out of 5 stars
5/5

1 rating0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Die verevrou - Jan van Tonder

    JAN VAN TONDER

    Die verevrou

    Human & Rousseau

    Vir Jenny

    1

    1948, Finisterre, Algerië

    Liora kyk stip na die lang, reguit gruispad wat deur die woestyn sny, haar hande styf om die toue van die skoppelmaai geklem. In die verte slaan stof op. ’n Warrelwind? Nee, dit kom te reguit nader, soos ’n ryding. Laat dit asseblief tog ’n lorrie wees, een van dié wat oom Moshe altyd naby die kasbah in Algiers gaan huur wanneer sy volstruisvere by die hawe afgelaai word. En laat hom asseblief tog dié keer ’n bietjie langer as gewoonlik bly, tot sy oor ’n paar dae sewe word.

    Sy vergeet om haarself te maak swaai, en elke swaaislag word kleiner totdat sy skaars nog beweeg en die gewarrel van die volstruispluime wat sy aan die skoppelmaai se toue vasgemaak het, tot bedaring kom. Nou is al wat saak maak die ryding. Finisterre se groot huis en die pluimery, die skuur en die ander buitegeboue met die watertenks op hul plat dakke, die drie windpompe, die volstruisbroeikampe, die handjievol kamele wat lê en herkou, die Jeep en die ou Citroën-lorrie, en die rye en rye dadelpalms waarvan die blare ruis as die wind waai – al hierdie dinge, alles wat gewoonlik vir haar belangrik is, vervaag.

    Sy wil haar tante gaan roep, maar sy bly kyk tot sy seker is dis hý, oom Moshe. Dan eers spring sy van haar skoppelmaai af en hardloop oor die skroeiende sand van die werf na die pluimery waarheen oom Moshe met ’n vrag volstruisvere op pad is.

    Toe sy weer buite kom, het sy haar tante op sleeptou. Dié skreef haar oë teen die lig. Is jy seker dit is hy?

    Liora trippel. Dit móét hy wees, tante Alessa.

    Nou ja, gaan roep jou ma, sê vir haar Moshe Habib is hier. Maar gaan haal eers jou hoed, anders kry jy weer moeilikheid.

    Die hoed is in Liora se pad as sy swaai, sy sit dit altyd eenkant neer. Maman gee nie régtig om nie, want die ou tamariskboom waaraan die swaai hang, maak goed skaduwee. Hoed op die kop sit sy af na die woonhuis, skaars twintig meter van die pluimery af. Hier skuil Maman dié tyd van die dag boek in die hand teen die ergste hitte, met die hele eetkamer vol van die musiek wat uit die groot kelk van haar grammofoon stroom. Dié is soos altyd op die tafel, na genoeg aan haar dat sy net die slinger kan draai wanneer die masjien afgewen raak.

    Tante Alessa sê Maman sal doodgaan sonder die grammofoon, want dit is nes ’n naelstring wat haar aan Europa verbind, aan die tale en klanke van lande noord van die Middellandse See, van Spanje tot by Griekeland. Liora weet wat ’n naelstring is, sy het tog op ’n plaas grootgeword. En boonop, so sê haar pa, moet sy van sulke dinge leer, want sy gaan eendag dokter word.

    Sy bly met ’n breë glimlag staan en wag dat Maman haar moet sien, en toe dié sê: Moenie vir my sê hy’s al hier nie, kind, wip sy uitbundig op en af. Hy ís, Maman, oom Moshe het gekom.

    Maar hy’t laat weet hy gaan eers laatmiddag … Maman haal ’n brief, klein opgevou, uit die uitswaailaaitjie waarin die grammofoon se ekstra naalde gehou word, maak dit oop en lees vlugtig. Nes ek gedink het, kyk, hier sê hy láátmiddag.

    Liora swaai in haar spore om.

    Nee, wag! Maman lig die naald van die plaat af, en in die skielike stilte hoor hulle nou die gedreun en geratel en gepiep van die lorrie bo die geblaf van Maxim en Frou-frou. Luister, Liora-lief, hou jy en tante Alessa oom Moshe besig, ek gaan gou bad.

    Liora hardloop uit na waar die lorrie op die werf stilhou, naby aan die groot deur waarop Les Plumes du Sahara geskryf staan, en spring op die treeplank. Sy druk haar gesig teen oom Moshe se skouer en voel die materiaal van sy baadjie teen haar wang en onthou sy reuk. Hy lyk soos altyd: sy snor en bruin oë, en daarbo die swart baret waarsonder mens hom amper nooit sien nie.

    Hy steek sy arm by die venster uit en skuif haar hoed af oor haar oë. Toe hy wegtrek om by die pluimery in te ry, sit hy sy hand op haar rug en druk haar teen die lorrie se deur aan. Binne staan tante Alessa en wag, haar hande op die koppe van haar twee jaaroue honde – opregte Azawakhs.

    Af is jy, sê oom Moshe en skakel die lorrie af. Hy klim uit, vat Liora se hand en kyk na die muur wat laas nie hier was nie. En dié dan nou, Alessandra?

    Ek het hom laat bou om die stof en stront wat jy elke keer met die een of ander wrak hier inry uit die res van my pluimery te hou. Wie weet waar die lorries oral was en watse vrag hulle gery het?

    Oom Moshe kyk om hom rond, asof hy wil sien wie almal hoor wat hy sê. Dis die veiligste om by die regte mense te huur, ’n mens weet nooit. Daar is al hoe meer opstandigheid in die land. Buitendien, jy hoef nie jou neus so op te trek nie, die lorrietjie is halaal.

    Juis, antwoord sy.

    Nou klink jy nes die mense oor wie jy altyd kla. Hy haal sy baret af, slaan die stof daaruit, sit dit terug op sy kop. Kry ek dan nie eens ’n drukkie vandag nie?

    Natuurlik, sê sy terwyl sy terugtree. Sodra jy gebad het en skoon aangetrek is.

    Die honde knor. Maxim wys tande. Kom, sê tante Alessa vir hulle en loop die pluimery binne, seker om hulle in haar kantoor te gaan toemaak.

    Toe die honde weg is, kom vier mans met kopdoeke nader. Hulle groet oom Moshe, en nadat hulle die seil losgemaak het, begin hulle die kratte van die lorrie aflaai.

    Liora kruip agter ’n krat weg en loer bo-oor na die gewoel.

    Haal die leës ook af, Amid, en vat dit binnetoe, sê oom Moshe. Hy praat Arabies met die werkers wanneer hy alleen by hulle is, andersins Frans, soos nou.

    Dit lyk nooit of Amid hoor wat vir hom gesê word nie, maar hy doen alles wat hy aangesê word om te doen.

    Tante Alessa kom sonder die Azawakhs terug. Moenie dat die vrouens inpak voor ek terug is by hulle nie, sê sy vir Amid.

    Dit wat gepak moet word, weet Liora, is duur verewaaiers en wyerandhoedens vir ’n Amerikaanse film, gemaak van die beste pluime uit die Klein-Karoo.

    Oom Moshe steek die gesplete punt van ’n klouyster onder een van die kratdeksels in. Hy trek versigtig aan die ander punt sodat die plank lig. Die spykers kerm met die uitkomslag.

    Maak gou, Moshe!

    Maar dit gaan steeds te stadig na Alessandra se sin en sy stoei die yster uit sy hande, breek ’n klompie planke los. Haar lang vlegsel swaai heen en weer.

    Oom Moshe skud sy kop. Elke keer dieselfde storie: ek kom heelhuids hier aan, probeer my kratte sagkens oopmaak sodat hulle ook heel moet bly, maar dan word ek en my kosbare vrag aangeval.

    Alessandra gee die yster prys, lig ’n bondel vere uit. Haar bewegings is nou stadiger, en sy vou die ligte, dun papier versigtig oop. Blinkswart pluime gaan soos ’n groot blom oop. Die krullerige George White-vere roer in haar hand. Vir Liora lyk dit altyd of tante Alessa ’n geskenk gekry het wanneer sy die eerste pakkie oopmaak.

    Oom Moshe staan ook na haar en kyk. Net die mooiste vere vir die beste meesterpluimbereider in Afrika, sê hy.

    Sy draai die vere toe. Op die oomblik seker die énigste in Afrika, of is daar al iemand in jou geliefde Oudtshoorn wat dit doen?

    G’n kompetisie daar nie, dis hoekom ek steeds die beste vere vir jou kan uitsoek – solank jy maar weet die prys gaan nie áf nie. En ek hoop jou skaal is ordentlik geyk.

    Tante Alessa trek haar mondhoeke af. Ek sou nie sê hierdie spulletjie kan juis as uitsoekvere beskryf word nie. Beslis swakker as die voriges wat jy gebring het.

    Hy vat haar hand en soen dit voor sy kan wegruk. Skaam jy jou nie om so blatant te staan en lieg nie, Alessandra, net om ’n paar frank te spaar, en dit voor ’n ontvanklike kind? Hy kyk om hom rond. Van haar gepraat, waar sou sy wees?

    Liora sak agter ’n krat weg, steek dan twee pluime in die lug en swaai hulle.

    Aha, sê oom Moshe, is dit engelvlerke wat ek sien?

    Sy vlieg op en hardloop deur die binnedeur in die pluimery in. Oor haar skouer sien sy dat oom Moshe haar agternasit.

    Bring terug daardie vere, Liora, jy kan nie sulke vere sommer net vát nie! roep tante Alessa. En jy, Moshe Habib, uit daar met jou stofgat!

    Liora hardloop koes-koes tussen vroue deur wat besig is om te sorteer, verby ander met stokke waarmee hulle vere onder die kleursel indruk en roer, en ’n aantal wat nat vere teen hul handpalms slaan om die water daaruit en die lewe daarin terug te kry.

    Toe sy haar in ’n doodloopgang bevind, lig ’n jong vrou by ’n kleurselbad haar voorskoot en laat dit oor haar sak.

    Sjoekran, Jaseena, sê Liora. Dis een van die min Arabiese woorde wat sy ken: dankie.

    Sy hoor oom Moshe aankom en iets in Arabies sê – al wat sy daarvan kan uitmaak, is haar naam. Sy giggel, want sy weet dat sy veilig is – oom Moshe sal nooit aan ’n Moslemvrou raak nie.

    Sy vlieg onder Jaseena se voorskoot uit en oom Moshe gryp haar vas. Sy gil en probeer wegkom, maar hy skiet haar in die lug op, hou haar met albei hande om haar middel bo sy kop en draf met haar tussen die vrouens deur. Sy strek haar lyf en flap die pluime soos vlerke.

    Eendag sal jy bo ons klomp gewone mense sweef, my engel, sê oom Moshe en sit haar neer. Gaan speel nou, ek en jou tante moet besigheid praat.

    Sy onthou dat Maman gaan bad het en hardloop terug huis toe. Dis vir haar lekker om te kyk as Maman aantrek, veral op spesiale dae, soos wanneer haar pa lank weg was en op pad terug is, of as oom Moshe vir tante Alessa vere bring.

    Sy sit haar hoed op die bedtafeltjie neer, trek haar skoene uit en maak seker dat haar voete skoon lyk voor sy op die groot bed gaan lê. Die son skyn deur die skrefies tussen die vensterhortjies. Fyn stof dwarrel traag in die strepe lig. Sy swaai ’n kussing voor haar en kyk hoe die stofdeeltjies wild in die sleurstroom daarvan kolk. Van êrens af word die rafel van ’n volstruisveer ook opgewaai. Dit maak ’n klompie oordadige draaie, tot hoog bo die vier style van die bed, en kom uiteindelik tot rus op die swart onderklere wat Maman uitgesit het.

    En nou, as jy nie by oom Moshe is nie?

    Hy en tante Alessa praat besigheid.

    Maman het ’n badkeps en ’n japon en pantoffels aan. Sy trek die keps van haar hare af en skud haar kop. Blonde krulle swaai los en sak oor haar skouers neer terwyl sy die strik van haar lyfband lostrek en die japon voor laat oopval. Liora kyk na haar gladde vel, na haar tieties wat kleiner is as tante Alessa s’n, en na die driehoek ligte hare ’n entjie onder haar naeltjie.

    Maman trap die pantoffels van haar voete af en toe sy die japon van haar skouers laat afgly, kyk sy na Liora. Liora kyk nie weg nie. Maman skep met haar voorvingers room uit ’n potjie en smeer dit oor haar hele lyf, trek haar broekie en kousgordel aan en gaan sit by die spieëltafel. Sy woel ’n sykous oor haar duime, steek die tone van haar een voet in die holtetjie en trek die kous versigtig oor haar hak en dan opper, tot by haar bobeen. Toe sy die ander kous ook aanhet, staan sy op, kyk oor haar skouer in die lang hangkasspieël en trek die nate reguit voor sy die kousbandjies aan die dikker donker bokante van die kouse vasknip. Dit lyk vir Liora of sy van haar vergeet het.

    Jy is mooi, Maman, sê sy.

    Dankie, liefie. Maman draai in die rondte, bekyk haarself in die spieël.

    Liora giggel agter haar hand. Ek wonder wat oom Moshe sal maak as hy Maman so sien.

    Maman glimlag terwyl sy ’n onderrok oor haar kop trek. Hy sal hom wat verbeel, sê sy en buk oor Liora om haar te kielie.

    Hulle rol ’n rukkie op die bed rond, en toe Maman orent kom, haar onderrok glad stryk en seker maak dat haar kousnate nog reg lê, is Liora spyt dat die pret so gou oor is.

    Hoekom gaan speel jy nie ’n bietjie buite nie, Liora, of in die pluimery? Kyk of jy van daardie mooi gekleurde lyfveertjies in die hande kan kry vir jou skoppelmaai. Ek sal solank vir ons tee maak en koekies regsit, dan roep ek jou en tante Alessa en oom Moshe sodra ek klaar is.

    Liora klim van die bed af.

    Jou skoene, sê Maman, en voeg die gewone waarskuwing by: Jy sal nog so kaalvoet loop, dan steek ’n skerpioen jou.

    Die swartes met die dik stert en die geles met strepies op die rug, dis húlle wat Maman bedoel. ’n Paar keer al het sy gesien hoe oom Moshe hulle aan die stert vang en in ’n boksie sit om later êrens in die woestyn vry te laat. Hy sê hy waag nie ’n kans met so ’n gevaarlike ding op die werf waar sy engeltjie speel nie. Sy gril by die gedagte aan die diertjie met sy krom, skerp stert, en voor sy haar skoene aantrek, stamp sy die agterkante teen die vloer, ingeval een daar ingekruip het.

    Wat van jou hoed?

    Maman sorg dat ’n mens niks vergeet nie.

    In die verestoor sien sy tante Alessa is steeds besig by die lang sorteertafel, van die vere wat oom Moshe gebring het daarop uitgelê, en haar honde nie ver van haar af nie.

    Liora raai dat oom Moshe in die pluimery aan die gesels is met die klompie mans wat daar werk. Tante Alessa hou nie daarvan as hy dit doen nie. Dis Arabiere, Moshe – Móslems – jy moet hulle nie staan en mak maak nie.

    Wanneer sy so iets oor die werkers sê, swaai oom Moshe sy vinger. Hulle is ménse ook, nie waar nie? In elk geval, hulle weet waar hulle met my staan.

    Liora sluip die stoor binne om haar pluime weer uit hul wegsteekplek te gaan haal: prime whites. Sy weet haar tante vertrou net haarself en haar beste pluimbereiders met dié soort vere – van húlle word spesiale klere en waaiers en tooisels gemaak. Maar sy is versigtig wanneer sy daarmee speel.

    Sy gaan na die skoppelmaai toe, en stáán haarself en maak – knieë gebuig, reguit, gebuig – elke swaaislag hoër, met haar rokspante wat haar bene streel, dán voor, dán agter. Maman sê meisietjies en vrouens lyk mooier in rokke, en nie sy of Maman hét eens ’n langbroek nie; héél anders as tante Alessa, wat niks anders as langbroeke dra nie, met hemde daarby, en ’n vilthoed op die kop wanneer sy buitentoe gaan.

    Met drie vingers van elke hand hou sy die skoppelmaaitoue vas, die veerskagte tussen haar duime en voorvingers geknyp. Toe tante Alessa by die skuur uitkom, roep sy: Kyk, tante!

    Nie so hoog nie, Liora!

    Net voor die hoogtepunt van die deurswaai laat Liora die toue los. Sy word weggeskiet en trek deur die lug.

    Voor sy met ’n slag op haar maag land en winduit bly lê, hoor sy haar tante gil. Nou weet sy nie meer of dit haar ore is wat so sing van die val, of die sonbesies in die takke van die tamarisk bo haar nie.

    Sy lig haar lyf sodat sy hande-viervoet staan. Maxim en Frou-frou is by haar, snuif aan haar gesig.

    Het jy seergekry? Tante Alessa kom uitasem van die skrik aan.

    Liora skud haar kop, maar sy voel trane oor haar wange loop, en sy sukkel om haar wind terug te kry.

    Tante Alessa help haar op en stap hand aan hand met haar terug na die pluimery, maar oom Moshe is nie daar nie. Die vrouens maak troosgeluide.

    Op pad huis toe moet Liora draf om by te hou, by die voordeur in en gangaf na oom Moshe se kamer. Die deur staan halfoop.

    Sonder om te klop stap tante Alessa in. Oom Moshe sit by ’n lessenaar by die venster en Maman bene gekruis op die bed. Hulle kyk verskrik na Liora. Sy snuif en vee haar neus met die agterkant van haar hand af.

    My kind! sê Maman en kom hurk by haar, vee haar gesig skoon.

    Die skagte van die pluime wat sy vashou, is albei gebreek.

    Ontspan, Charlotte, die kind makeer niks, sê tante Alessa. Sy stoot Liora effens vorentoe sodat sy voor oom Moshe staan. Het jý vir haar gesê sy kan vlieg?

    Jong, dit hang seker af hoe ’n mens daarna kyk. Hy lyk skuldig. Tegnies sou ’n mens kon sê nee, maar as ek eerlik moet wees, vir alle praktiese doeleindes: ja, ek het.

    Besef jy nie wat jý sê, is vir haar wet nie!

    Het jy baie seergekry, my engeltjie?

    Jy kan jou sterre dank sy het nie, antwoord tante Alessa. Maar jy skuld my ’n paar prime whites, daardie twee was seker die bestes wat ek gehad het.

    Oom Moshe neem die vere by Liora en bestudeer hulle. Die kind ken ’n prima pluim as sy hom sien. Sy aard na haar tante.

    Maman tel Liora op haar heup. Aard of nie aard nie, my kind sal haar eie pad loop.

    Eie pad se voet, sê tante Alessa. Jy en jou man wil hê sy moet maak soos júlle sê.

    Liora woel om neergesit te word. Sy hol buitentoe en gaan sit op haar skoppelmaai oor die woestyn en uitkyk.

    Sy hoop oom Moshe sal haar volg, en sy brand om oor haar skouer te loer, maar sy doen dit nie.

    Ná ’n ruk kom sy voetstappe tóg nader, byna onhoorbaar op die sand, en sy voel hoe hy die skoppelmaai se sitplek ver agtertoe trek en dit laat los.

    Elke keer wanneer sy tot by hom terugswaai en hy haar hoër stoot, fluister hy iets by haar oor.

    "Jy kan dokter word …

    "… of sakevrou …

    "… of pluimbereider …

    … nét wat jy wil.

    Regtig, oom Moshe – énigiets? vra sy met die wegswaai, arms gestrek en kop agteroor sodat haar hare vlugtig oor die sand sleep en sy hom onderstebo sien staan.

    Sit regop, Liora! Sy arm vou om haar middel en hy bring haar tot stilstand.

    En as ek jou kind wil wees?

    Waarvan praat jy nou?

    Jy het gesê énigiets. Het jy vir my gejok, oom Moshe?

    Nee, my engelkind, vir myself. Hy stoot haar liggies van hom af weg.

    Elke keer as sy terugswaai na hom toe, weer en weer, voel sy sy hande op haar vlerkies.

    2

    Daardie aand sit hulle by die groot etenstafel, Liora en Maman en oom Moshe en tante Alessa. Daar hang ’n kandelaber met flou elektriese ligte bo die tafel en daar is ’n klompie kerse in blakers op die blad. Liora speel met die sagte was van die kers naaste aan haar. Maman kyk kwaai na haar en trek die blaker weg.

    Los die kind tog, sê tante Alessa.

    Liora wag dat oom Moshe ook iets moet sê, maar hy hou hom met sy kos besig.

    Sy dop die was af wat aan haar vingers klou en leun vorentoe om dit in die blaker te gooi. Hoekom het oom Moshe nooit getrou nie? vra sy.

    Dit sal ek self graag wil weet, my liewe Liora, sê tante Alessa.

    Oom Moshe leun na Liora oor. Vra my enigiets anders, my engel, en ek sal jou die reine waarheid vertel.

    Het oom Moshe ’n meisie?

    Jy’s die enigste.

    Rêrig?

    Op my erewoord.

    Daar het jy hom klaar aan die lieg, kind.

    En kinders, oom Moshe?

    Ôooo, sê hy en tuit sy lippe soos ’n kameel.

    Liora lag.

    Nou vra jy my ’n ding, my engel. Hy tel op sy vingers af. Daar is die enetjie in Kaapstad, twee in Parys en drie bloedjies in Rome.

    Los nou die lawwigheid, sê Maman.

    Oom Moshe hou ’n wysvinger voor Liora se lippe. Ja, kindlief, hou op, jy is besig om ’n gentleman se reputasie tot niet te maak. Hy roep na Amid en sê iets in Arabies voor hy hom weer tot Liora wend. Jy het seker gedink ek het dié keer niks vir jou gebring nie, nè? Erken dit maar, ek sien dit in jou ogies.

    Maman het gesê as ek vra, sit sy my volgende jaar in Algiers in die skool.

    Oom Moshe en tante Alessa kyk albei kwaai na Maman, en sy sê: Julle sal die kind nog in die afgrond in bederf.

    Amid kom aangestap met ’n silwerskinkbord bedek met ’n blink koepeldeksel. Hy sit dit met ’n uitdrukkinglose gesig voor Liora neer en gaan terug kombuis toe.

    My engeltjie het seker ook gedink ek het vergeet dit is volgende week haar sewende verjaarsdag? sê oom Moshe en lig die deksel. Op die skinkbord, netjies op een punt gestut in ’n silwerraampie, staan ’n volstruiseier.

    Tante Alessa leun vorentoe. Dit is prágtig, Moshe, sê sy.

    Liora kyk na die eier. Dis nie wat sy vir haar verjaarsdag wou gehad het nie.

    Toe nou, Liora, wat sê jy? vra Maman.

    Dankie, oom Moshe, maar ek eet nie volstruiseier nie, en ons het mos ons eie ook.

    Hy glimlag vir haar. Jou present is nie vir die tafel bedoel nie, my engel, hy is bevrug en moet nes toe, dis hoekom ek hom nou al vir jou gee. As jy hom laat uitbroei, kan jy maar sê een van jou oupagrootjie Auguste Hardy se volstruise het ná al die jare huis toe gekom, presies soos dié wat hy destyds hier op Finisterre probeer teel het.

    Sy weet nie wat om te sê nie.

    Die dag voor ek uit Oudtshoorn weg is, het ek die eier – hoe sal ek nou sê … ? – bekóm, net ná hy uit die nes gehaal en ontsmet is. Oom Moshe leun na haar toe oor en sê agter sy hand: Ek het hom spesiaal vir jou op ’n plaas tussen Oudtshoorn en De Rust gesteel, en uit Suid-Afrika gesmokkel. As hulle my gevang het, was ek nou nog in die tronk.

    Liora slaan haar hande saam. Gesteel én gesmokkel?

    Sjuut, sê oom Moshe, nie ’n woord verder nie.

    Maman skud haar kop. Ook maar goed die kind sien jou net enkele kere in die jaar, Moshe.

    Watwou! Wat sy nodig het, is juis dat ek veel meer hier kom. My engelkind, môreoggend soek ons ’n nes met eiers, dan sit ons hierdie een daarin.

    Het jy al gedink wat sal gebeur as die ding nie uitbroei nie, Moshe – hoe teleurgesteld party mense sal wees? vra Maman.

    Dan bring ek weer een, en weer en weer, as dit moet. Maar ek het ’n goeie gevoel oor dié een. Ek het hom in ’n kissie houtskaafsels in my handbagasie gehou en hom elke dag twee keer gedraai. Nee wat, my liewe Charlotte, jy kan ontspan; vir dié geleentheid het ek tot in Kaïro gevlieg om seker te maak Liora se eier kom vinnig en ongeskonde hier aan. Hy kyk na Liora. Dink jy solank aan ’n naam vir die kuiken – môre gaan hierdie eier uit die Klein-Karoo nes toe.

    Maman wys vir Liora vinger. Jy bly uit die volstruiskampe, gehoor, al sê oom Moshe wát.

    Oom Moshe soen Liora en gee vir haar die eier aan. Gaan slaap nou maar, jy moet uitgerus wees as ons daardie nes gaan uitsoek. Net die beste broeipaar sal goed genoeg wees. Sit hom op jou bedkassie. Nee, liewer in ’n laai tussen sagte klere.

    Wat van mý kamer, Lioratjie? sê tante Alessa. Jy kan ’n slag daar slaap, dan maak ek jou môreoggend vroeg wakker.

    Liora trippel na haar tante se kamer en begrawe die eier in ’n laai tussen klere. Die vertrek lyk en ruik heel anders as Maman s’n. Sy klim op die bed en kruip tussen die lakens in. Sy hou baie daarvan as sy kans kry om by Maman of tante Alessa te slaap, al weet sy net vir ’n kort rukkie daarvan voor sy wegdommel. Maar tog, soms raak sy in die nag wakker, dan woel sy haar net stywer aan teen die warm lyf langs haar en hoef sy nie vir die donker bang te wees nie.

    Sy word vóór tante Alessa wakker, staan op en gaan piepie voor sy terugkom om haar eier versigtig uit die laai te haal.

    Toe sy by Maman in die kamer kom om vir haar môre te sê, lig dié haar laken en sê: Kom lê ’n bietjie by my.

    Sy kruip in, hou die eier bakarm teen haar lyf vas. Maman ruik anders, sê sy.

    Anders as tante Alessa?

    Nee, as gewoonlik.

    Jy verbeel jou, Lioratjie. Toe-toe, gaan jy en oom Moshe nie ’n nes soek vir jou eier nie?

    Oom Moshe se kamerdeur staan halfoop. Liora gaan in. Hy staan in sy japon by die venster en uitkyk, sy rug na haar gedraai. Op die klein lessenaar langs hom lê ’n boekie en ’n pen en ’n opgefrommelde blaadjie.

    Oom Moshe …

    Engeltjie! Hy trek die lyfband van sy japon stywer vas en draai om.

    Het oom Moshe vergeet?

    Natuurlik nie, ek wag juis dat jy wakker word, sê hy en tel die bolletjie papier op. Hy druk dit nog kleiner en gooi dit in die snippermandjie langs die tafel. Kom, ons het werk om te doen. Nee wag, kyk hoe lyk ek! Ek gaan gou stort. Hy maak sy tas oop en haal ’n modetydskrif daaruit. Vars uit Parys. Hy wys na die datum. Sien jy, Julie 1948 – en dit net twee weke gelede s’n, sê hy en gee dit vir Liora.

    "Le Petit Écho de la Mode," lees sy hardop.

    Ek glo dit nie. Hy staar haar met gróót oë aan.

    Wat, oom Moshe?

    Dat jy al so goed kan lees, liewe deug! Laat ek liewer loop voor jy my dom laat voel. Hy haal klere uit die hangkas, haak sy handdoek agter die deur af en stap badkamer toe.

    Liora blaai deur die tydskrif tot sy die stort hoor loop. Toe haal sy die papierbolletjie uit die snippermandjie en gaan bêre dit in haar kamer.

    Oom Moshe ruik lekker toe hy terugkom.

    Sy gee die tydskrif vir hom terug.

    Nee, sê hy, dis joune. Kyk, ek het vir jou ma ook iets gebring om te lees. Hy haal ’n boek uit sy tas en hou dit so dat sy die omslag kan sien. Nie meer lank nie, dan sal ek vir jou ook dié man se boeke kan begin aandra.

    "La Peste, Albert Camus," lees sy.

    Albert Camus inderdaad, ’n baie belangrike man, ’n Algeryn in murg en been. Moenie sy naam ooit vergeet nie, dit is maklik as jy onthou dat Camus ‘ou platneus’ beteken. Hy sit sy vinger op die punt van haar neus en duik dit in. Sy lag en hy vryf haar hare deurmekaar.

    My volstruisie het ook al ’n naam, sê sy.

    Oom Moshe vou sy arms en sê: Ek gaan nêrens heen voor jy my vertel wat dit is nie.

    Struzzo, antwoord sy.

    Struzzo? Waar kom jy daaraan?

    Tante Alessa sê mense wat iets van volstruise af weet, sal dit self kan uitwerk.

    Hulle stap van kamp tot kamp. Die son is pas op.

    Dáár, wys Liora ’n nes met eiers uit.

    Maar oom Moshe loop verby die nes. Struzzo, sê hy weer. "A, ek weet: Struthio camelus. Baie skerp."

    Én dis Italiaans vir volstruis.

    Kom ons gaan terug na daardie eerste nes toe. ’n Meisie wat so ’n slim naam kan uitdink, weet genoeg van volstruise om ’n goeie broeipaar te kan uitkies.

    Sy kyk op na hom. Tante Alessa het my darem ’n bietjie gehelp, sê sy.

    Maak nie saak nie, jy bly ’n slimkop. Kyk net hierdie nes van jou, klaar hóéveel eiers daarin – die voëls gaan een van die dae begin broei. En dit is na genoeg aan die hek ook; as ons ons roer, bly ons onder die mannetjie se pote uit. Hy kyk om, huis se kant toe. Jou ma sal dwarsdeur die skuur moet kan kyk om ons te sien. Hy haal ’n handvol mieliepitte uit sy sak. Hier, sê hy, ek het dié gister al uit die skuur gegaps.

    Sy hou haar hande bak.

    Gaan gooi dit aan die ander kant oor die draad – ek sal jou eier oppas.

    Toe sy by oom Moshe terugkom, pik die broeipaar reeds die mieliepitte op, en hy maak die hek oop. Hulle stap na die nes toe, waar hy vir haar die eier gee. Sit hom mooi in die middel neer.

    Sy soen die harde wit dop. Sien jou anderdag, Struzzo. Sy wikkel die eier tussen die ander in.

    Ons moet aanstaltes maak, my engel, anders sal ons vinnig moet leer harp speel.

    Hy tel haar in sy arms op en hardloop vinniger as wat nodig is met haar hek toe, sodat sy skreeu van opwinding. Toe die volstruismannetjie by die hek aankom, is hulle al veilig buite die kamp. Die voël stap uitdagend en dreigend heen en weer langs die draad met swiepende swart-en-wit vlerke.

    Sodra daardie voëls op die nes gaan sit, my engel, kan jy die dae begin aftel.

    Twee-en-veertig, nè, oom Moshe?

    Lyk my daar is niks wat jy nié weet nie. Jou ma vaar beter met jou leerdery as ’n skool vol onderwysers.

    Sy wens hy kon altyd op Finisterre bly. Vertel my van die Klein-Karoo, oom Moshe, sê sy.

    Ek hét mos al.

    Vertel nóg.

    Anderdag. Maar belowe my dat jy eendag soontoe sal gaan, dan kan jy self sien waar Les Plumes du Sahara se pluime vandaan kom, en die eier waarin jou Struzzo is. Én om …

    En wát, oom Moshe?

    Om te gaan kyk hoe die wêreld lyk waar ék gebore is en grootgeword het en eendag wil doodgaan en begrawe word. Sal jy so maak?

    Sy sit haar arm om sy nek en druk haar kop teen syne. Ek sal, sê sy, as jy belowe om nie dood te gaan nie.

    Hy sit haar neer en sê: Ek sal jou inwag daar.

    Hulle stap hand aan hand terug huis se kant toe. Tante Alessa kom van voor af aan en vat haar ander hand, en sy en oom Moshe swaai haar tussen hulle. Jy kan bly wees Charlotte het dié spulletjie nie aanskou nie, Moshe Habib, sê sy.

    Ek is.

    Hoekom bly jy nie nog ’n paar dae nie?

    Jy weet ek is op pad?

    Hoe dan anders, ek het flussies by Charlotte ingeloer – sy lê daar en staar na die uitspansel van haar hemelbed. Dink jy ek ken my suster nie?

    Iets het ongesê gebly, Alessandra. Ek het dit agterna vir haar in ’n brief probeer uitlê, maar ek kon nie woorde vind nie.

    Nou probeer jy wat dit ook al is in jou tas pak – is dit wys?

    Liora druk haar hakke in die grond. Nee! sê sy. Jy gaan altyd te gou weg, en dié keer verjaar ek, onthou?

    Ai, my engeltjie.

    Ek is nié jou engeltjie nie.

    Hy tel haar op en druk haar styf teen hom aan, maar sy ruk haar los en gaan sit dikmond op die skoppelmaai. Sy hoop hy sal onthou dat hy besig was om iets te skryf, en dit eers klaarmaak. Dan word dit dalk te laat om Algiers toe te ry. Maman sal vir hom sê die donker gaan hom in die bergpas vang, en as hy nie oor ’n afgrond ry nie, sal struikrowers hom voorlê. Dis wat sy elke keer vir Papa sê wanneer hy die

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1