Seuns sonder pa's
5/5
()
About this ebook
Julian Jansen (Lux Verbi)
Julian Jansen is ’n oudonderwyser aan twee Helderbergse skole. Daar het hy ’n positiewe verandering in "stout" leerlinge se gesindheid bewerkstellig deur hulle liggaamlik en geestelik uit te daag. Die afgelope 10 jaar is hy ’n verslaggewer in Rapport se Kaapstadse kantoor, en was die skrywer van die topverkoper Die De Zalze-moorde.
Related to Seuns sonder pa's
Related ebooks
Donkermaan Rating: 4 out of 5 stars4/5Toe-Val-Lig: Die beste stories van toeval uit Tjailatyd Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsHiervandaan Rating: 5 out of 5 stars5/5Brouhaha Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsKoshuis Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsOnbeskryflike genade Rating: 4 out of 5 stars4/5'n Engel in die hoenderhok Rating: 3 out of 5 stars3/5In die tyd van die gif: ’n Jaar en ’n half in stories Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsIn die blou kamp: Facebook-stories Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsWitboy in Afrika Rating: 4 out of 5 stars4/5Marike se laaste dans Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsDie onsigbare pou Rating: 4 out of 5 stars4/5Onder 'n bloedrooi hemel: Liefde en geweld in Suid-Afrika: 'n Memoir Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsDie Reuk van koffie: Rubrieke, blogs en ander geskrifte Rating: 3 out of 5 stars3/5Laaste kans Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsDie ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsSwartskaap Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsGroen soos die hemel daarbo Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsKrake Rating: 0 out of 5 stars0 ratings'n Baie lang brief aan my dogter Rating: 5 out of 5 stars5/5Die binneland in: Nog stories en reise Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsHartstories van ons land se boere Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsEk stamel ek sterwe Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsKelder Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsLewensblik: Sketse oor die lewe Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsVermis op Allesverloren Rating: 0 out of 5 stars0 ratings'n Dorp soos Silwer Streams Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsDie kleinste ramp denkbaar Rating: 0 out of 5 stars0 ratingsPlesierengel Rating: 5 out of 5 stars5/5Wit Wolf: Die Worcester-bomplanter se storie van bevryding Rating: 0 out of 5 stars0 ratings
Reviews for Seuns sonder pa's
1 rating1 review
- Rating: 5 out of 5 stars5/5Een van die beste boeke wat ek in jare gelees het. Hooop dat skole hierdie boek sal gebruik! Awesome stuff Jules❤️
Book preview
Seuns sonder pa's - Julian Jansen (Lux Verbi)
Seuns sonder pa’s
Julian Jansen
Lux Verbi
Voorwoord
In die hart van elke seun is daar die oerbehoefte om soms om hulp te roep. Dikwels word dié kreet om een of ander rede gedemp of in die kleinste hoekie van die hart weggebêre.
Baie pa’s is soms doof vir hierdie hulpkreet, hulle wat juis moet help om die leeu in hul seuns wakker te maak sodat hy dapper kan lewe, berekende risiko’s kan neem.
As die pa afwesig is en die gemeenskap of familie nie ingryp nie, sal die seun spoedig ’n plaasvervanger vir hom soek.
Statistieke Suid-Afrika se jongste navorsing oor huishoudings (2016/2017) gee ’n hartseer prentjie – meer as 60% van kinders in Suid-Afrika ken nie ’n pa nie of het geen herinnering van een nie. In sowat 10% van dié huishoudings is die pa oorlede. Waar daar wel ’n pa is, speel hy in 50% van die gevalle geen rol in sy kinders se lewe nie.
In 2018 het 43,1% van kinders by ’n enkelma en 3,3% by ’n enkelpa gewoon. Die werklikheid van afwesige pa’s is ’n kommerwekkende aspek van die jaarlikse statistieke.
Dit verg ’n spesiale mens om ’n pa vir ’n kind te wees. Dit moet iemand wees wat die verantwoordelikhede verstaan van pa-wees, maar wat ook begrip het vir die verantwoordbaarheid wat só ’n geskenk van God meebring. Soms is die vaderfiguur nie eens bloedfamilie nie.
Ek het diep in my eie lewe gaan grawe oor hoe dit was om onder die hoofleeu se gesag te leef – en uiteindelik ook daarsonder. My lewe is beïnvloed deur my pa, Donald Jansen, se eie ervaring as kind en sy lewe onder sý pa en sy tydgenote. Sy droom was om ’n onderwyser te word, om in sy pa en oupa se voetspore te volg, maar verskeie faktore het daartoe gelei dat hy ’n polisieman en uiteindelik ’n soldaat geword het. Vir my was dit apartheid en posttraumatiese stresversteuring (weens grensdiens) wat hom as ’n vaderfiguur gebreek het – maar ook swak persoonlike besluite. In ’n absoluut hartseer einde het die lewe hom uiteindelik as ’n hawelose uitgespoeg.
My pa se skaduwee was oral om en oor ons ses kinders, soms allerversmorend. Hy was destyds selfs meer prominent in ons lewe as Jesus Christus. Hy was sowel die held as die skurk in sy gesin. En toe ons hom die nodigste gehad het, het hy net verdwyn en nooit weer teruggekeer nie.
Vandag nog is daar steeds skadu’s in ons.
Ons vier seuns kon so maklik skollies geword het, maar op kritieke tye in ons lewe het ons mentors gehad – mense sonder kwitansieboeke wat ons deur positiewe ingrypings veerkragtig gemaak het.
Die spreekwoordelike leeu is in elkeen van ons losgemaak. Ons het verskuilde eienskappe in onsself ontdek en ontwikkel en is so van verkeerde afdraaipaaie gered. Dit kon so maklik anders gewees het.
Die lewe is ’n harde leerskool en krisisse kan jou maklik laat ontspoor – maar dit is ook geleenthede om van rigting te verander.
In die afwesigheid van ’n pa het jong seuns ’n vaderfiguur nodig wat as ’n mentor kan dien in daardie kritieke oorgangsfase van tiener na jong volwassene. Dan, soos die Afrikagesegde lui, moet ’n hele dorpie saamspan om ’n kind groot te maak. Hulle moet die vensters van ’n jong seun se siel helder en blink maak.
Vir miljoene seuns is dit egter nie beskore nie – en dít is die tragedie. Wanneer ouers en die gemeenskap daardie seuns faal, keer hulle terug en byt die gemeenskap aan die hakskeen. Hierdie verwarde, gedisoriënteerde en wanhopige seuns word ’n maklike werwingsbron vir bendes. Hulle vind mentors in bendeleiers wie se oënskynlike mag, geld en sukses ’n byna onweerstaanbare aantrekkingskrag is.
Dit is nié die regering se taak om seuns groot te maak nie. Dit is die ouers se verantwoordelikheid, bygestaan deur die kerk, skool, sport- en kultuurklubs. Almal moet bydra om van hulle meelewende, aktiewe lede van ’n gemeenskap te maak.
In hierdie boek deel verskeie individue wat ’n positiewe rol in my lewe gespeel het hul ondervinding van en kundigheid oor die impak van vaderlose huise. Elkeen het in ’n stadium ’n betekenisvolle rol in my lewe gespeel – ek noem hulle my eie gideonsbende.
Hulle deel onvoorwaardelik hul ervaring en kennis wat spruit uit die suksesse wat behaal is met strukture en prosesse waarby hulle aktief betrokke is. Almal het ’n gemene deler: hul kennis van die feilbaarheid van pa’s en die soeke na ’n herdefinisie van wat vaderskap kan beteken. Die boek sluit dan ook vernuwende denke in oor wat ’n vadersrol kan en moet behels.
Omwentelings in die samelewing en nuwe denke daag verskeie konsepte uit, onder meer dié van die vaderfiguur. Nuwe konsepte beur na vore wat die vraag laat ontstaan: Moet die vaderlike rol noodwendig net deur die biologiese man gespeel word?
DEEL 1
Hoofstuk 1
Skollies breek my held se rug
Ek het as kind die eerste keer die term skollie
gehoor toe ons gesin in die laat 1960’s uit die Oos-Kaap na die Strand, sowat 50 km van Kaapstad, verhuis het. Die grootmense het die woord soms gebruik om ons kinders bang te maak. As ’n seun nie sy skoolwerk wil doen nie, gaan hy eendag ’n skollie, oftewel ’n gangster, word, het hulle gesê.
’n Skollie is beskou as ’n skarminkel, iemand met sinistere gewoontes wat ’n mens aangluur en gewoonlik ’n mes by hom het. Hulle is destyds ou roekes
genoem – oor hul gewoonte om op straathoeke rond te hang waar hulle entjies
of soms ’n daggazol staan en rook het.
In tipies Kaapse slengtaal is na hulle as hollangers
(leeglêers) verwys. Hulle het soms chalk stripe-broeke en -baadjies gedra en hul manier van loop is as ’n rol
beskryf.
En het hulle gerook! Met elke trek aan die daggapyp het die wange hol getrek en blou wolkies rook om hulle gehang. ’n Mens het hulle ook dikwels hoor swets.
In die Strand was daar name soos Pang en Killer en groepe wat die Karoo Rapers, Naughty Boys, SOS’e en die Lollipops genoem is. Baie het tatoes van tronkbendes op hul lyf gehad.
Skollies se negatiewe beeld en slegte aansien het veroorsaak dat die gemeenskap hulle tot elke prys wou vermy.
Dít is hoe ek die skollies, die gangsters, uit my kinderdae onthou.
In Julie 1979 toe Uncle Ivan, my ma se enigste broer, in ’n woonstel in Hanover Park op die Kaapse Vlakte doodgesteek is, het ek weer die woord skollie gehoor. Ivan Guineys se vriend het daardie Sondag met hom oor wyn gestry. Dit was by sy meisie se woonstel oorkant die Pinkster Protestante kerk, ’n dag ná die Durban July-perdewedren.
Die vriend wou ’n kan Oom Tas-wyn koop en het my oom vir ’n bydrae gevra. Dié het geweier omdat hy vas geglo het dat ’n mens nie op Sondae suip nie. Jy moet dan begin nugter word ná die vorige dag se dinge, het hy altyd gesê.
Sy vriend het hom glo bloedig vererg en Uncle Ivan met ’n flick knife gesteek. Sy meisie wou nog keer, maar die blink lem is blitsvinnig in en uit my oom se bolyf. Dit was ’n vinnige steek, ’n regte skolliesteek, is gesê. Die messteker wás ’n opperste skollie.
My ma het destyds gesê haar broer is gesteek omdat hy nie ’n vuurhoutjie gehad het nie. Ek dink sy wou nie hê ons kinders moet weet dat dit eintlik oor wyn was nie. Maar wyn het daardie dag, in daardie beknopte voorkamer, my oom se dood gekos. ’n Sterfplek baie ver van sy Oos-Kaapse herkoms.
Iemand het my ouma Grace Jefferies, wat in dieselfde woonstelblok gewoon het, gaan vertel dat haar seun gesteek is. Met haar voorskoot nog nat van wasgoed was en met die reuk van blouseep aan haar hande het sy soontoe gehardloop. Daar het sy op haar knieë geval, haar roggelende seun se kop op haar skoot gehou en na Allah geroep – sy het destyds met haar aankoms in die Kaap die Moslemgeloof aangeneem.
Eenkant het ’n paar mense die messteker, sy hemp nou afgeruk, in bedwang probeer hou. Sy bolyf was vol groen tjappies
(tatoes) en wilde vlamme het in sy oë gebrand, word vertel. Omstanders het my ouma probeer troos terwyl sy oor die roerlose liggaam van haar seun geween het. Uit haar skoot is hy gebore, op haar skoot het hy sy laaste asem uitgeblaas.
Buite het die wasgoed in die Kaapse winterlug aan die lyne tussen die woonstelle gewapper. In die courtyard het die lewe aangegaan, meestal onaangeraak deur die sterfte daar binne.
Uncle Ivan is in die Maitland-begraafplaas begrawe. Sy dood was net nóg ’n naam in die polisie se misdaadregister, nóg ’n syfer in die statistieke van die bendegeteisterde Kaapse Vlakte.
Ons weet nie wat van sy moordenaar geword het nadat hy sy tronkstraf uitgedien het nie. Soms wonder ek of hy nog lewe en of hy enigsins spyt is. Ook of hy ná sy vrylating uit die tronk iets positiefs met sy lewe gedoen het.
Soms wonder ek ook wat my ma en haar familie se reaksie sou wees as die moordenaar met hulle sou wou praat.
Skollies het 23 jaar ná hierdie hartseer voorval weer ons gesin se pad gekruis. Dié keer was die hartseer nóg groter. Ons gesin was in daardie stadium opgebreek. My pa het twee jaar tevore uit my ma – hy het haar Koekie
genoem – en ons ses kinders se lewe verdwyn.
Skollies het hom in ’n woonstelkompleks êrens in Woodstock, Kaapstad, wreed aangerand en toe van die gebou se tweede verdieping afgegooi.
Donald Jansen was ’n oudsoldaat wie se lewe lelik ontspoor het. Die redes daarvoor is vandag nog vir ons kinders steeds net flenters inligting. Ons lenige pa het as ’n ontnugterde en werklose mens uit ons huis in Noltestraat in South End, Strand, verdwyn. Maande lank het ons geen taal of tyding van hom gehad nie. My ma het in dié tyd van hom geskei, weens verskeie redes. My jonger broer het hom op ’n keer in Kuilsrivier en later weer in Soutrivier, Kaapstad, in die verbyry vlugtig langs die besige pad sien loop, maar dit was al.
Op ’n dag in 2002 hoor ’n fisioterapeut in die spinale eenheid van die Conradie-hospitaal in Pinelands, Kaapstad, ’n pasiënt sing. Die hospitaal is knap langs ’n gholfbaan by ’n spoorlyn en ’n begraafplaas. Een van haar pasiënte, ’n lang, skraal man, is maande tevore met ’n gebreekte rug daarheen gebring. Toe word hy ’n parapleeg in ’n rolstoel. Tydens een van haar skofte hoor sy hoe ’n bekende stem haar gunsteling- geestelike liedjie sing: When the roll is called yonder
. Sy het na die naamplaat bokant sy bed gekyk: Donny Jansen
.
Wat ’n skok! Die man in die rolstoel was haar verlore oom – my pa! My niggie moes weens die skok ’n week verlof neem.
Ons het die boodskap dat my pa opgespoor is, van sy suster, Poppie, gekry. Ons het Boetie Donny gekry. Hy is in Conradie,
het sy laat weet.
Ons het my pa gaan besoek en my ma saamgeneem.
Dit was traumaties om die skraal man met sy donker, ingesonke oë en spierwit hare daar teen die hospitaalkussings te sien lê – en ’n groot skok om te hoor dat hy ’n parapleeg is. Daar was letsels aan weerskante van sy kop waar ’n staalkontrepsie aangebring was om hom maande lank bewegingloos te hou.
Die eens forse weermagoffisier, die held van sy kinders, was net ’n bondeltjie mens. Sy vel was bruin soos leer, die wange ingeval. Onder sy nagjurk het sy bors met ’n monotone gehyg op en af beweeg. Op sy duime was eelte van die rondbeweeg in die rolstoel. Sy bene was plankdun, die spiere verswak.
Rondom sy bed het ons almal net gehuil.
My een broer, wat oorsee gewoon het en vir ’n ruk in die Kaap was – dieselfde een wat ons pa langs die straat sien loop het – het volstrek geweier om hom te besoek. Dalk was dit sy woede teenoor sy pa wat dit vir hom bitter moeilik gemaak het. Ons het hom nie daarvoor kwalik geneem nie.
My pa se wel en wee in die tyd wat hy weg was, het in stukkies en brokkies na vore gekom. Ons het gehoor hoe hy jare lank in nagskuilings in die Kaapse Skiereiland gebly het, op koue wintersaande daar geskuil het en by