Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Elders
Elders
Elders
Ebook376 pages6 hours

Elders

Rating: 4.5 out of 5 stars

4.5/5

()

Read preview

About this ebook

In Mei 2015 reis Weg-joernalis Erns Grundling na Europa om die Camino Francés, die bekende en gewilde pelgrimstog in Spanje, op sy eie te gaan stap. Hy is onvoorbereid, oorgewig, beseer en onfiks. Daarby is hy volledig ontnugter deur homself, die liefde en die lewe self. Hy klim ook op die vliegtuig met ’n dringende Weg-artikel wat eers móét klaar voor hy met sy swaar rugsak in die pad mag val. Elders vertel die verhaal van Erns se staptog van een duisend vyf en twintig kilometer oor veertig dae, wat hy sonder ’n selfoon, kamera of horlosie aangepak het. In ’n tyd wat ons almal toenemend onder beleg voel weens die onmiddellikheid van selfone en sosiale media, ontdek hy die ware betekenis en beloning van om in die oomblik te leef. Hy raak meer as een keer verlief, loop sy doppelgänger raak, beleef ’n reeks avonture en ontmoet kleurryke karakters, skud meer as tien kilogram af en kom tot waardevolle nuwe insigte langs hierdie eeue oue roete van innerlike transformasie. Hierdie is ’n ongewone boek – ’n reisverhaal en memoir wat behalwe vir ’n fisieke avontuur ook ’n deernisvolle blik bied op die ewe kosbare binnereis. Erns het juis gaan stap om weg te kom van skryf. Eers met sy terugkoms sou hy besef hy het ’n storie om te vertel.
LanguageAfrikaans
PublisherQueillerie
Release dateFeb 17, 2017
ISBN9780795801365
Elders
Author

Erns Grundling

Erns Grundling is ’n TV-aanbieder (Via Weg! Agterpaaie), radio-omroeper (Bush Radio The Unhappy Hour) en veelbekroonde reisjoernalis by die uiters gewilde Weg!-tydskrif. Hy het voorheen ook by LitNet, Insig en Huisgenoot gewerk. Hy is oorspronklik van Port Elizabeth en woon in Kaapstad, wanneer hy nie iewers op die lang grondpad ry vir Weg! nie.

Read more from Erns Grundling

Related to Elders

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Elders

Rating: 4.333333333333333 out of 5 stars
4.5/5

3 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Elders - Erns Grundling

    Queillerie

    Vir Catharien

    "Veral wou ek alleen gaan, omdat mens soveel

    meer afhanklik en dus soveel meer ontvanklik is

    as jy alleen gaan."

    – Elsa Joubert, uit Water en woestyn

    "… ek gaan vir ’n lang ruk wegbly sodat ek weer

    doodgewoon kan raak …"

    – Jeanne Goosen, uit ’n Uil vlieg weg

    VERTREK

    If you are ready to leave father and mother, and brother and sister, and wife and child and friends, and never see them again; if you have paid your debts, and made your will, and settled all your affairs, and are a free man; then you are ready for a walk.

    – Henry David Thoreau, Walking

    7:28 vm. op Sondag 3 Mei 2015

    Kaapstad Internasionale Lughawe

    WhatsApp aan Sophia

    Dankie vir die mooi boodskap. Troue was heerlik, maar nou ja, ek was toe moer toe moeg en klim met Slagtersnek op die vliegtuig. Ek gaan hom file van Doha na Parys, my laptop in ’n asdrom gooi en Camino toe gaan. I’ve had enough. En dis glad nie die werk of iemand daar se skuld nie. Ek was lanklaas in so ’n bad space, maar nou ja, dalk is dit goed vir als wat voorlê. Weer eens dankie vir jou support, jirlikheid, veral gister. Al waarvoor ek nou kan hoop is dat hierdie totale kakspul die Camino net soveel meer meaningful maak. Ag ek gaan nou ophou moan, soos Bun Booyens Sr. vir Dok Craven ná ’n verloorgame gesê het: Kners met die agterstes en smile met die voorstes. This too shall pass.

    * * *

    My ma sê ons Grundlings daag dikwels iewers op met sulke plat ore, soos hase. Want dit is altyd ’n bleddie gejaag en gespartel. Vanoggend is ek die platoorste haas op die lughawe, moeg en verward en skuins bedonnerd en sukkelend met my swaar rooi K-Way 35 liter-rugsak. My boggel vir die volgende ses weke.

    Ek sweet van stres en gisteraand se wyn. Ek was strooijonker en terloopse videograaf by my vriend Le Roux se troue buite Stellenbosch op ’n plaas langs die Polkadraaipad. ’n Mooi en gesellige Bolandse bruilof, maar ek het daarna nie ’n oog toegemaak nie.

    Ek moes waaragtig ná die troue – letterlik op die vooraand van my Camino – sit en sukkel met ’n Weg-artikel wat nie klaar is nie. ’n Artikel oor die Slagtersnek-rebellie van 1815.

    Een van die trougaste het die selfsorghuisie met my gedeel. Hy was taamlik gekoring en het in die middernagtelike ure eers ’n wydlopende gesprek op sy selfoon gehad. I’m feeling very randy now, honey. ’n Ruk later het hy in die huis rondgestap en byna soos ’n mantra herhaal: It’s a fuckin’ breakdown in communication.

    Ek het teen halfvier die oggend besef wat ek al dae lank geweet het: Ek gaan nie betyds die Slagtersnek-artikel file en stuur voor my broer my om sewe-uur gaan kom optel en lughawe toe neem nie. Die trougas was nog wakker en ons het toe saam voor die TV gaan sit om die boksgeveg tussen Floyd Mayweather en Manny Pacquiao te kyk. Dit is vooraf besing as The Fight of the Century maar is, soos met baie dinge, ’n moerse antiklimaks.

    Die Bag Wrap-masjien draai my rugsak in dik plastiek toe, die twee stapstokke steek soos kort kieries aan weerskante uit. Die situasie is volledig absurd. My vriend Le Roux sê dikwels: The lonely places we take ourselves.

    * * *

    Op Slagtersnek staan ’n ereboog wat swarte skaduwees werp op die pad van Suid-Afrika.

    – C.J. Langenhoven

    * * *

    Qatar Airways vlug QR 1370 styg op. Ek sien Valsbaai vir oulaas deur die venster, voor die vliegtuig stadig draai, noorde toe. As alles volgens plan verloop, sien ek die Atlantiese Oseaan eers weer oor sowat vyf weke, iewers naby aan Finisterre in die weste van Spanje. Op my skoot lê ’n drasakkie met enkele items: my beursie, sonbril, notaboekie, ’n pen, selfoon, verskeie muurproppe en klein Samsung N150 Plus laptop (eintlik ’n netbook). En J.C. van der Walt se boek Rebels of Slagtersnek 1815. Die iPhone en laptop irriteer my die meeste – dit is nie veronderstel om saam met my op hierdie reis te wees nie. ’n Stem maak aankondigings in Arabies en Engels. Die veiligheidsgordelliggies skakel af. Al wat in my gedagtes maal, is ’n hartsbegeerte om my foon en laptop sonder seremonie in ’n vullisdrom op Charles de Gaulle te bliksem. En dan ongeërg weg te stap asof ek ’n lemoenskil of KitKat-papiertjie weggegooi het. Maar eers moet die werk klaarkom. Ek sit verstom oor hoe ou patrone my opnuut pootjie. Sal ou patrone ons ooit vergeet?

    * * *

    Die laaste keer toe ek betyds vir iets opgedaag het, was by my geboorte. Eintlik is ek heeltemal te vroeg gebore, op twee en dertig weke. My geboorte was moeilik. My ma het nierstuipe gehad en by die dood omgedraai. Toe sy vir die dokter sê sy wil ’n seuntjie hê, was sy antwoord: Jong, jy moet eerder net hoop jý kom lewendig hier uit. Die ginekoloog het ’n ander benadering gehad: Hierdie kind gaan óf staatspresident óf die grootste kroek word. Lyk my jy kan deesdae wegkom met albei.

    My ouma Charlotte Rens was ’n waardige en diepgelowige vrou. Sy het my in later jare vertel hoe sy tydens my geboorte in die parkeerterrein gesit het en oor en oor dieselfde teksvers uit Jakobus gelees het: Maar hy moet in die geloof bid, sonder om te twyfel, want hy wat twyfel, is soos ’n golf van die see wat deur die wind gedrywe en voortgesweep word.

    En nou, vyf en dertig jaar later, en twintig jaar ná my ouma se dood, vertrek ek – ’n volslae twyfelaar – op ’n pelgrimstog wat eindig by die katedraal in Santiago de Compostela waar die einste apostel glo begrawe is.

    * * *

    Douglas Adams het geskryf: I love deadlines. I love the whooshing noise they make as they go by.

    Daardie whoosh-geluid ken ek goed. Ek verpes ’n sperdatum, dit is iets wat nooit weggaan nie. En ek is lief daarvoor om sperdatums te toets en te tart. Daar moet ’n tipe arrogansie onderliggend hieraan wees, iets wat ’n mens nie graag hardop erken nie. Of ’n totale onbeholpenheid met tydsbestuur. Miskien ’n bietjie van albei. Ek is nie presies seker waar dit begin het nie. My laerskool, die Laerskool Handhaaf op Uitenhage, se leuse was nogal Doen dit nou. (Dit was jare voor Nike …)

    In my eerstejaar by die destydse Universiteit van Port Elizabeth het ek besef my probleem met uitstellery ruk hand uit. Ek het in die sielkunde-afdeling van die biblioteek gaan rondkrap en op die boek Overcoming Procrastination deur Albert Ellis afgekom. So ’n kompakte boekie met ’n pers omslag. Vir jou gaan ek lees, het ek gedink en die boek tuis op my boekrak gebêre.

    Elke oggend het ek verby die boek gestap, daarna gekyk en gedink: Vir jou gaan ek lees. Uiteindelik het ek die boek, ongelees en twee maande laat, met my stert ferm tussen my bene by die biblioteek gaan ingee. En ’n moerse boete betaal.

    * * *

    Laaste Facebook-inskrywing op 2 Mei voor my vertrek

    I’m going off the grid for a while. Into the mild. Ek vlieg oormôre Europa toe en gaan die Camino Francés stap, rofweg nege honderd kilometer oor veertig dae van Saint-Jean-Pied-de-Port in Frankryk tot by Santiago de Compostela en dan tot by die see by Finisterre in die noordweste van Spanje. Dis rofweg die plan. Ek los my selfoon agter in die Kaap, dis tyd vir ’n digitale detox en radikale kopskoonmaak. Of soos Toast Coetzer gesê het: One man against himself. Ek sal seker eers met my terugkeer later in Juniemaand weer op Facebook incheck. Tot dan, adios! #intothemild

    * * *

    One man against himself. Toast, ’n groot vriend en vertroueling en my buurman in die oopplankantoor by Weg, ken my goed.

    Vir ’n ongeneeslike ekstrovert met ’n tipe teddiebeer-persona, kan ek buitengewoon hard wees op myself, veral in my stiltes. Dra ons nie maar almal verskillende teenstrydighede in ons rond nie? Met maskers wat soms so moeiteloos oor ons gesigte glip? Tot op die punt waar jy self sukkel om te onderskei tussen masker en mens.

    Walt Whitman het geskryf: Do I contradict myself? Very well then I contradict myself. (I am large, I contain multitudes.)

    Ek spot dikwels dat ek niemand anders nodig het om my ’n harde tyd te gee nie, ek doen dit graag self. Gee my net ’n spieël en ek verklaar oorlog teen my grootste vyand.

    * * *

    Op die klein TV-skerms in die vliegtuig flikker die eerste Batman-fliek, episodes van The Big Bang Theory, onpeilbare Bollywood-treffers, ’n gholfspeletjie en die GPS-kaart van ons vlugroete, nou maar nog iewers bo die Groot-Karoo.

    Tyd vir ’n gin and tonic. Ek het my eerste G&T op altitude gedrink in Augustus 2001, toe ek die Big Brother eviction in Johannesburg vir Die Burger Oos-Kaap gaan dek het. Dit was die begindae van realiteitstelevisie – dit bly vir my ’n vreemde gedagte hoe die publiek én joernaliste op hol gegaan het oor Ferdi en Brad se intriges in die tuin. S.A. loer in die stort het een van die koerantplakkate op lamppale langs William Moffett-weg in Port Elizabeth geadverteer.

    Die vlug was oorvol, dit was dieselfde naweek as Govan Mbeki se begrafnis. In ’n verrassende wending is ek opgegradeer na besigheidsklas. Soos dit ’n student betaam (ek het toe nog geswot én gevryskut by Die Burger) wat steeds met sy voet ferm in die slagyster van laat-adolessensie sit, het ek ingeklim in die gin and tonics, en my derde een bestel nog voor die vliegtuig by Cradock verby is.

    So raak ek toe aan die gesels met die passasier langs my, wat ’n TopSport-toksak by hom gedra het. Ek sien hom toe vir ’n TV-aanbieder aan en begin met groot stelligheid uitvaar oor hoe pateties die SAUK se nuusdekking is. Hy het meestal net geluister, ek het hom nie juis ’n spreekbeurt gegee nie.

    ’n Maand later sien ek hom weer by die Vodacom-toekennings in Port Elizabeth. Hy was toe al die tyd Phil Molefe, die hoofbeoordelaar, en die nuushoof van die SAUK …

    * * *

    Die vliegtuig is nie tjok-en-blok vol nie, ek sit teenaan die venster met twee oop sitplekke langs my. Daar lê twee dae se harde reis voor om die beginpunt van my Camino, die Franse dorpie Saint-Jean-Pied-de-Port aan die voet van die Pireneë, te bereik:

    •Eers moet ek die nege uur lange vlug na Doha in Katar agter die rug kry.

    •Dan wag daar ’n deurnagsessie op Katar se nuwe lughawe, voor ek ’n sewe uur lange vlug na Parys aflê.

    •In Parys gekom, volg ’n trein- en taxirit tot by die Gare d’Austerlitz.

    •Dan neem ek ’n oornagtrein in ’n klein kajuit met ses beddens na Bayonne, naby Biarritz in die suide van Frankryk.

    •In Bayonne wag ’n trein wat ’n uur later sal stop in Saint-Jean-Pied-de-Port.

    * * *

    ’n Toneel uit die fliek 500 Days of Summer vat een van die groot struikelblokke in my lewe goed vas. Die manlike hoofkarakter daag op by ’n partytjie van sy eks-meisie, oor wie hy steeds baie sterk voel. Die skerm deel dan in twee, en dieselfde toneel speel in albei af, een met die opskrif Expectations en die ander Reality. In die Expectations-skerm groet sy eks-meisie hom hartlik, hulle stap met die trappe op na die boonste dek en lag en gesels. Helaas, in die Reality-skerm is sy steeds vriendelik, maar sy hou hom op ’n afstand en hy hoor op die boonste dek sy is verloof aan iemand anders. Die twee tonele speel gelyk af, terwyl Regina Spektor se onthutsende ballade Hero speel. I’m the hero of the story / Don’t need to be saved.

    Hier op die vliegtuig word ek direk met daardie twee skerms gekonfronteer. In die Expectations-skerm sit ek nou rustig agteroor, bestel nog ’n G&T, en doen presies waarvoor ek lus is: Kyk ’n fliek, speel ’n lawwe speletjie, hou passasiers dop, haal ure se verlore slaap in of skryf ’n paar sober en helder gedagtes in my Moleskine-dagboek oor hierdie lewensreis wat voorlê. Jinne, mediteer selfs.

    Helaas, in die Reality-skerm is ek ’n volslae angshaas met ’n nag se slaap agter, besig om myself tot op die tiende desimaal te kasty oor ek nie die Weg-artikel oor Slagtersnek voor my vertrek ingehandig het, soos ek plegtig belowe het nie. En dit is nie die eerste keer dat so iets gebeur het nie.

    Sal ou patrone ons ooit vergeet?

    * * *

    Our lived lives might become a protracted mourning for, or an endless tantrum about, the lives we were unable to live. But the exemptions we suffer, whether forced or chosen, make us who we are.

    – Adam Phillips, psigoanalis

    * * *

    Diep in die Boeing se maag lê my rooi K-Way-rugsak, styf toegedraai in Bag Wrap-plastiek.

    Die destydse RSG-omroeper Fonnie du Plooy het my jare gelede gebel om ’n radio-onderhoud vas te maak. Toe ek vir Fonnie vra wat sal gebeur as hy sy dagboek sou verloor, het hy in sy superbeleefde, bedaarde stemtoon geantwoord: Dan, Erns, is ek in my moer.

    Sou my rugsak wegraak tussen hier en Parys, sal ek ook onteenseglik in my moer wees, Fonnie.

    * * *

    Ek dra reeds my stapklere op die vliegtuig: ’n K-Way-fleece, ’n langmou K-Way-hemp, ’n K-Way-langbroek (my enigste stapbroek, jy kan die broekspype afzip, sou jy wou), ’n paar swart sokkies en blinknuwe Salomon trail running-skoene. Ek het hulle in ’n Britse grootte 10 gekoop. Gewoonlik dra ek ’n nommer 9, maar ’n mens se voete swel glo tydens so ’n lang staptog.

    Die inhoud van my rooi K-Way-rugsak:

    •Twee onpaar K-Way-stapstokke. Die grys een het ek in September 2006 op Kilimandjaro gebruik en die oranje een in Julie 2013 in die Visriviercanyon.

    •’n K-Way Chamonix 850 Eco-slaapsak, wat slegs 850 gram weeg. Die Recommended Sleep Zone is tussen 3 °C en 15 °C. Dit is lente in Europa, ek behoort glad nie koud te kry nie.

    •’n Tipe laken, klein opgevou en in ’n Ziploc-sakkie. Nie so warm soos die slaapsak nie, maar jy kan daarin klim. Ek leen dit by my vriendin Sarie wat al tevore die Camino gestap het.

    •’n Reëndigte K-Way-langbroek, laas in 2006 gekoop – en waarskynlik toe laas gedra – voor ek Kilimandjaro gaan klim het.

    •’n Ligte reëndigte jas, met Solo-parfuum se handelsmerk op. Geen idee waar ek dit gekry het nie.

    •Thermal Underwear – langmouhemp en -broek (Dalk oorbodig want dis nie winter nie, maar die weer kan glo vinnig draai.)

    •Een grys K-Way-kortbroek (om saans te dra)

    •Een gym-/drafbroek

    •Een ekstra K-Way-langbroek

    •Een grys T-hemp met die Ons Klyntji-logo op (om saans te dra)

    •’n Kompakte K-Way-handdoek wat vinnig droog raak.

    •’n Laphoed

    •Twee ekstra paar sokkies

    •Hopelik ’n troefkaart: drie enkelhoë sykoussokkies, om as eerste laag te dra wanneer ek stap

    •Twee ekstra onderbroeke

    •Twee sakdoeke

    •Twee Lycra tights – een van hulle is my woonstelmaat, Magriet, se ou fietsry-tights …

    •Een paar Reef-plakkies, wat al taamlik deurgetrap is.

    •’n Swart sak, nog so ’n weggooibare plastieksak wat jy as ’n interim-reënjas kan gebruik, en sewe leë Ziploc-sakkies van verskillende groottes.

    •Binne-in ’n groot Ziploc-sak, agter my klere: twee Moleskine-joernale vir dagboek hou, twee penne (een gewone Bic, die ander ’n meer deftige model met Cricket SA se logo op, by my oom gekry – nugter weet waarom ek met so ’n smart pen wil reis), ’n kompakte geel boekie, Globetrotter se Spanish in Your Pocket (Phrase Book and Two-Way Dictionary), John Brierley se A Pilgrim’s Guide to the Camino de Santiago (basies die Bybel vir derduisende stappers elke jaar) en dieselfde Brierley se A Pilgrim’s Guide to the Camino Finisterre.

    •’n Waterdigte toiletsak met die volgende items: ’n nuwe Oral-B-tandeborsel in ’n houertjie, klein Colgate-tandepasta, my sonbril in ’n brilhuisie, twee klein botteltjies volgemaak met Radox Shower Gel, vyftig milliliter Nivea Roll-on-deodorant, twee honderd milliliter Nivea Sun-sonbrandolie (faktor vyftig), vyftig milliliter Vaseline, honderd en twintig milliliter Proglyde Anti Chafe Cream, ’n strook Elastoplast-pleisters, Bactroban-salf, ’n strokie met vyf Imodium-tablette teen diarree, ’n strokie met vyf Valoids teen naarheid, een bottel Nexomist-neussproei teen allergieë. En twee en twintig Provent-pleisters om my hopelik te help om slaap-apnee hok te slaan.

    •Nog ’n klein sakkie: ’n rooi Victorinox-knipmes met die woorde INTO THE MILD daarop gegraveer (’n geskenk van vriende), ’n garetolletjie met ses skoon naalde (as dit sulke tyd met blase raak), ’n kopliggie, twee karabynhake om goed aan te hang, vier ekstra AAA-batterye, naelknipper en ’n blou spork (vurk/mes/lepel-kombinasie).

    •Laaste Ziploc-sakkie: ’n botteltjie met vloeibare wasmiddel, ’n boksie Omo-waspoeier, ’n prop (om wasgoed te was), agt wasgoedpennetjies.

    •’n Koffiebeker

    •’n Honderdgram-pakkie rou amandels, honderd en vyftig gram biltong, twee pakkies energiejellies

    •’n Eenliter-Laken-waterbottel

    •Vyftig Weg-besigheidskaartjies

    •My Credencial del Peregrino, of Pilgrim Record, wat ek vooraf bestel het by The Confraternity of Saint James South Africa.

    Die rugsak het elf komma vier kilogram geweeg op Kaapstad se lughawe. Dit mag dalk nie te swaar klink nie, maar met sowat twee liter water by, kan dit by veertien kilogram gaan draai.

    ’n Vreemde vooruitsig om oor veertig dae en meer as agt honderd kilometer die ekwivalent van ’n kleuter op my rug saam te dra.

    * * *

    Ek het reeds in 2004 die eerste keer van die Camino gehoor. Ek het een Sondagmiddag taamlik angstig gesit (angstig omdat ek besig was om ’n magdom werk uit te stel) by die aanlynjoernaal, LitNet, se kantoor bokant die Spur op Stellenbosch en op die Brasiliaanse skrywer Paulo Coelho se webwerf rondgeblaai.

    Ek vind toe kontakbesonderhede vir sy uitgewer en tik ’n voortvarende e-pos om te hoor of ek dalk vir Paulo ’n paar vrae per e-pos kan stuur. Sy roman Eleven Minutes het pas verskyn en ’n Afrikaanse vertaling van sy wêreldwye topverkoper The Alchemist was ook op die rakke.

    Gewoonlik stuur ’n mens so ’n e-pos en hoor niks nie. Net nog ’n versoek om ’n onderhoud uit ’n obskure hoek van die wêreld. Die volgende oggend was daar egter ’n antwoord van sy uitgewer: Paulo Coelho is op die oomblik op vakansie langs die Franse Riviera en sal verkies om eerder ’n telefoononderhoud toe te staan. Hy is Dinsdagmiddag van 14:00 tot 14:20 beskikbaar. Hier is sy nommer …

    Ek het byna begin hiperventileer toe ek die e-pos lees. Die Maandagnag nie ’n oog toegemaak nie en gesit en vrae uitwerk. Ek kon ’n speaker phone by ’n vriendin se ouers leen om die onderhoud op te neem. Paulo was op sy gemak, vriendelik en uiters vrygewig met sy tyd – ons het op die ou end langer as ’n halfuur gesels.

    Op my laaste vraag aan hom oor hoe hy graag eendag onthou sal wil word, het hy geantwoord: As someone who died while he was alive. I’m going to be cremated and my ashes will be spread on the Santiago pilgrim’s road. But if I had an epitaph or something written on a tombstone it would be: ‘He died while he was alive.’ Because I see so many people who die before death arrives. They consider doing everything, they breathe, they eat, they make love … but they’ve lost their enthusiasm towards life. So I would like to be remembered as someone who died while he was alive.

    * * *

    The Santiago pilgrim’s road … Paulo Coelho se laaste antwoord het my destyds gelei na die ontdekking van die Camino, die pelgrimstog wat al sedert die negende eeu na die katedraal in die dorpie Santiago de Compostela lei, waar die dissipel Jakobus glo begrawe lê.

    Jakobus, in die Bybel ’n broer van Jesus genoem (hulle was wel nie bloedfamilie nie), het glo ’n paar jaar ná Jesus se kruisiging (én hemelvaart, afhangende van hoe ’n mens glo) in Galicië, Spanje, kom sendingwerk doen.

    John Brierley vertel in sy gidsboek daar is geen historiese bewyse om hierdie bewerings te staaf nie. ’n Mens kan hoogstens op anekdotiese vertellings staatmaak.

    Gestel Jakobus was inderdaad in Spanje, sou hy een van die eerste dissipels wees wat werklik aan Jesus se opdrag, soos vervat in Matteus 28:19, gehoor gegee het: Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies, en doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees; en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.

    Die noordweste van Spanje was in daardie jare (ongeveer veertig na Christus) ’n hartland van die paganiste – met Finisterre by die see ’n tipe hoofkwartier met klipaltare, rituele en inisiasies. Die tipe plek waar Getafix the Druid van die Asterix-boeke sou tuishoort.

    Finisterre (in Latyn beteken Finis Terra end of the Earth) was waarskynlik een van die plekke waar Jakobus met mening probeer het om die pagans tot die Man van Nasaret se boodskap te bekeer. Volgens oorlewering – en hier kry jy te doen met ’n byna soomlose kombinasie van feit, verdigsel en Katolieke mistisisme – het Jakobus sy rieme styf geloop met die paganiste in Finisterre en het hy uitgewyk na die klein vissersdorpie Muxía, sowat dertig kilometer oos. By Muxía het hy op ’n rots gaan sit en sy wonde gelek, toe die Maagd Maria eensklaps op ’n klein seilbootjie aan hom verskyn. Sy het hom getroos en aangemoedig om inderhaas terug te keer na Jerusalem. Direk na haar verskyning het die bootjie se seil versteen in ’n rots, wat vandag nog daar staan.

    Jakobus het Maria se raad gevolg en is reguit Jerusalem toe, waar hy terstond in vier en veertig na Christus deur koning Herodus onthoof is. So het Jakobus die eerste martelaar in Christus geword. Het Herodus ooit iets anders gedoen as babas doodmaak en mense onthoof?

    Omdat Jakobus, ondanks sy mislukte pogings om die paganiste tot ander insigte te bring, baie lief was vir Spanje, het ’n paar volgelinge sy oorskot op ’n boot teruggebring om by Finisterre te begrawe. Die paganiste was nie te vinde hiervoor nie en die volgelinge moes na die binneland vlug, waar hulle Jakobus iewers begrawe het.

    Byna agt eeue later, in die jaar 813 of 814, het ’n herder genaamd Pelayo of Pelagius ’n visioen van ’n helder ster gekry wat hom gelei het na die plek waar Jakobus glo begrawe is. Dit is hier waar die katedraal later gebou is en waaraan die dorpie Santiago de Compostela sy ontstaan te danke het. Die dorp se naam vertel die storie: Santo Iago (Heilige Jakobus), Compos (veld), Stella (sterre). Jakobus is ook die beskermheilige van Spanje.

    Die eerste opgetekende rekord van ’n pelgrim wat die Camino gestap het, dateer uit die jaar 940. In die daaropvolgende eeue het tienduisende mense elke jaar van verskeie uithoeke in Europa gestap om hulde te gaan betoon by Jakobus se graf, en in die proses vergifnis te kry vir hul sondes. Die Camino begin by jou voordeur, die oomblik wat jy een voet oor die drempel sit.

    Daar was glo ook geforseerde pelgrimstogte: In plaas van tronkstraf moes sommige veroordeeldes die Camino gaan stap. Jy kon selfs jou Camino delegeer en iemand anders stuur om te gaan stap en namens jou vergifnis by Santiago de Compostela te ontvang.

    Die Camino het só gegroei dat dit die ander twee bekende en antieke Christelike pelgrimstogte – dié na Jerusalem en Rome – in gewildheid begin oorskadu het.

    Brierley vertel dat die aanvanklike groei gesien moet word teen die agtergrond van die Katolieke Kerk se poging om hulle in die vroeë Middeleeue in Spanje te vestig, veral nadat die More tydens die Kruistogte verdryf is.

    Ook hier het die apostel Jakobus ’n mitiese – en omstrede – rol gespeel: Hy staan in Spanje bekend as Santiago Matamoros (Saint James the Moor-slayer). Volgens die legende het die apostel op ’n wit perd

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1