Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Kortetjies en 'n lange
Kortetjies en 'n lange
Kortetjies en 'n lange
Ebook332 pages4 hours

Kortetjies en 'n lange

Rating: 0 out of 5 stars

()

Read preview

About this ebook

Onder die storievertellers is PG du Plessis ’n gerekende en bekende. Nie net op die TV of van die verhoog af nie, maar ook in koerantrubrieke en in die bundels wat reeds in boekvorm verskyn het. Baie van die stories is oorgewerk vir die TV en het in ‘n ander medium gestalte gekry (soos die onsterflike reeks Koöperasie-stories). Het olifante elmboë en Neklis, twee van sy vroegste kort-kortverhaalbundels, gaan nou onder ’n nuwe titel gesamentlik (en met nuwe verhale bygeskryf) ’n heruitgawe beleef. Die titel van die samestelling kom uit die ou slinger-luie van plaas-oproepe: Kortetjies en ‘n lange. Maar nét ‘n heruitgawe is dit nie, want PG het, in sy eie woorde, “aan party stories gepeuter” – onder meer aan dié wat hy tydens sy verhoog-optredes (eers saam met Alexa Strachan en later met Ollie Viljoen, Valiant Swart en Pietman Geldenhuys) vertel het. Van hulle, so sê hy, het hy nou effens in die rêrige verteltrant van ’n verhoog af oorgeskryf, aangedik en verander – want die beperking van die koerante en tydskrifte was van sy nek af. Hulle lees dus anders, ligter en soms uitgesponne vir ’n eerste-aanhoor-verstaan. Dus trek die bepeuterdes allermins op “well-made”, gekristalliseerde kort-kortverhale. Dalk kan mens hulle, in die ware sin van die woord (weer uit PG se mond uit) rêrige bek-vertellings noem. Maar daar is ook die lange by: ’n rasegte kortverhaal wat met sy een voet in die Anglo-Boere-oorlog staan en met die ander een so tussen 1948 en vandag. “Ons mond”, heet hy en aan hom is daar nie ’n jota of tittel verander nie, omdat die verhaal – volgens PG – te waar van sy lewe en te heel in homself is.
LanguageAfrikaans
PublisherTafelberg
Release dateApr 1, 2011
ISBN9780624051350
Kortetjies en 'n lange
Author

PG du Plessis

Pieter George (PG) du Plessis is op 14 Julie 1934 op Boshof in die Vrystaat gebore. Hy matrikuleer aan die Hoër Volkskool op Heidelberg. In 1955 behaal hy ’n BA-graad in Afrikaans-Nederlands en Geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria. PG du Plessis behaal in 1966 sy doktorsgraad onder NP van Wyk Louw oor Die verwysing in die literatuur. Later is hy ’n direkteur by die RGN, eindredakteur van die tydskrif Standpunte, assistentredakteur van die dagblad Die Transvaler en ook redakteur van Hoofstad. PG se eerste drama Die nag van legio verskyn in 1969. Hy ontvang die Hertzogprys vir drama in 1972 vir Legio en Siener in die suburbs. Hy word ook bekend vir Koöperasiestories wat tot TV-reeks verwerk is. Hy was die draaiboekskrywer vir die TV-reeks Feast of the Uninvited wat later verwerk is tot sy roman Fees van die ongenooides wat in 2008 verskyn het. Hy is in 2017 oorlede.

Read more from Pg Du Plessis

Related to Kortetjies en 'n lange

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Kortetjies en 'n lange

Rating: 0 out of 5 stars
0 ratings

0 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Kortetjies en 'n lange - PG du Plessis

    Kortetjies en ’n lange

    PG du Plessies

    Tafelberg

    Onder die storievertellers is PG du Plessis ’n gerekende en bekende. Nie net op TV of die verhoog nie, maar ook in koerantrubrieke en die bundels wat verskyn het. Baie van die stories is aangepas vir televisie, waar dit ’n ander gestalte gekry het, soos die onvergeetlike Koöperasie-stories.

    Twee van PG se vroegste kort-kortverhaalbundels, Het olifante elmboë en Neklis, beleef nou saam, onder ’n nuwe titel én met nuwe verhale bygeskryf, ’n heruitgawe. Die titel van die versameling kom van die ou slinger-luie van plaas-oproepe: Kortetjies en ’n lange.

    Maar nét ’n gewone heruitgawe is dit nie, want PG het, in sy eie woorde, aan party van die stories gepeuter – onder meer aan dié wat hy vertel het tydens sy verhoogoptredes (eers saam met Alexa Strachan en later saam met Ollie Viljoen, Valiant Swart en Pietman Geldenhuys). Van die stories het hy nou, so sê hy, in die rêrige verteltrant van ’n verhoog af oorgeskryf, effens aangedik en verander – want ’n bundel bied meer plek as ’n koerant of tydskrif. Van die stories lees dus anders, ligter. Dalk kan ’n mens hulle, in die ware sin van die woord, egte bek-vertellings noem.

    En dan is daar die lange: ’n rasegte kortverhaal wat met sy een voet in die Anglo-Boereoorlog staan en met die ander een so tussen 1948 en vandag. Ons mond, heet hy, en aan hom is daar geen jota of tittel verander nie, omdat dié verhaal – volgens PG – te waar van sy lewe en te heel in homself is.

    Het olifante elmboë?

    Sy kyk vir my met bruin oë; sy sê:

    Het hy elmboë?

    Sy’s so agt jaar oud. Sy’s ernstig en sy’s vuil. Ek neem aan sy praat van die olifant anderkant die draad.

    Hoe moet ek nou weet? vra ek terug, want ek weet regtig nie.

    Hulle maak sy voet vas.

    Dis duidelik ’n ontdekking oor die beheer van groot diere wat nou in haar spook. Sy sê dit nie net vir my nie, maar vir die versamelde bondeltjie mense teen die draad.

    Die sirkus kom staan by tye in Pretoria-Wes. Langs die skouterrein. Die olifante paradeer dan aan die ander kant van die draad en ek stap soms daar verby. By uitgrawings en olifante staan ek stil om eers te kyk. Sy blykbaar ook.

    Dit lyk nie of sy te veel was, of gewas word, nie. Daar’s ’n skurwe plek agter haar oor en tussen haar wysvinger en duim lê daar ’n winterskurfte. Haar kaal voete het al in die ryp geloop en haar enkelkneukels is donkerbruin.

    Kry jy koud?

    Nee, sê sy, ek het ’n jas.

    Sy het hom nie aan nie, en dis bloot die onnodigheid van my bekommernis wat sy konstateer. Sy vleg haar handjies deur twee diamante van die draad.

    Anderkant, by die betaalhek, begin ’n tou mense inval.

    Gaan jy kyk? vra ek.

    Ek weet nie. Ek dink ek gaan inslip.

    Jy mag nie. Ek sal vir jou betaal.

    Ek mag nie geld vat nie.

    Daarmee is ek afgehandel en verby. Afgehaal. Ek dag ek wil goed doen aan die kind. Ek het seker so gelyk, want haar oë bly half bejammerend op my. Nou kry sy my jammer! Dêmmit, wat gaan aan?

    As jy gaan kyk, sal ek jou binne kry. Sy sê dit met sekerheid. Asof ek sal gaan, en asof sy daar sal wees. Want sy hol al dáár om die draai en haar voetjies lig hoog agter. Sy hardloop goed. Ek sien in haar hardloop en in haar eiesinnigheid die lesse van agterstrate.

    ’n Middag by die sirkus sal my een laat artikel en twee leuens vir en deur my sekretaresse kos oor afsprake wat verpas is. Daarom koop ek ’n kaartjie en gaan sit. In die middag. In die sirkus. Omdat ek deur ’n vuil agtjarige verwerp en gedaag is.

    Wanneer laas het ek die onrus van wag gevoel? Wanneer jy onseker is of ’n meisie vir ’n tentatiewe afspraak sal opdaag. Wanneer jy die vooruitsig besweer met die skynbedrog dat sy tog nie sal kom nie; wanneer jy die hoop nie kan onderdruk nie en die naderkom van die afspraaktyd vrees omdat dit dalk ’n teleurstellende waarheid sal word.

    Maar nie dene nie. Sy daag tussen my bene op van onder die stellasie waarop ek sit.

    Sy kruip deur en kom sit op my skoot.

    Is jy nie bang hulle gooi jou uit nie?

    Jy’t dan ’n suit aan, sê sy en sy gee haar oor aan die gebeure.

    Ek moet die sirkuswondere aanskou deur links en regs van haar oliehare verby te kyk Dit sal eendag mooi hare wees as sy skoongewas by die Hamburger Hut opdaag.

    Ek versit haar skerp boudjies van been tot been en sien haar lyfie jubel met elke ding wat gebeur.

    Die dwergies en die nar kom vermaak die mense. Hulle val. Die mense lag en die kinders skree van plesier.

    Dit duur ’n rukkie voor ek agterkom die lyfie op my knie het stil geword.

    Ek gaan nou loop, sê sy.

    Sy glip onder my hande uit tussen die sitstellasie se planke deur. Daar is trane in haar oë, sien ek, en ek haas my na buite.

    Sy’t van agter die tent af gekom, dit vermoed ek, en ek sien haar langs die agterheining wegloop.

    Ek haal haar in waar die draad ’n verkeerd-om hoek maak.

    En nou? vra ek.

    Sy staan voor my en ek kan nie uitmaak of sy kwaad is nie.

    Naderhand, eers naderhand, sê sy: Ek wil nie ’n olifant wees nie.

    Nog later: Hoekom lag die mense vir dwergies?

    Hemel, kind, dag ek, moet dit nie sê nie, en moenie trane in jou blink jong oë daarvan kry nie.

    Sy draai om en kruip deur ’n gat in die draad.

    Dis my gat, sê sy met die deurkruip.

    Toe hol sy weer. Ek weet ek kan haar nie meer volg nie. Dis haar gat en ek moet vir ’n sekretaresse gaan verskoning aanbied dat ek weg was.

    By die kantoor lyk die mure na diamantdraad. Ek wonder of ek moet ophou geld vat, dalk soms inslip en ’n gat van my eie in die draad bewerk.

    Ek sal, omdat ek nie meer anders kan nie, dan maar ophou om vir dwergies te lag.

    Dis te laat om nie meer ’n olifant te wees nie.

    Potyster sweis nie

    Tussen die hope yster in die skrootwerf grawe ek die dag ’n weggooistofie uit. Oud, mooi, geroes, stukkend. Ek koop hom per gewig, laai hom op die bakkie en ry die plat Wes-Transvaalse pad plaas toe vir die derde keer dié week.

    Met die bakkie se radio is ek verneuk, want hy sis net as hy wil-wil vermoed ek draai hom by ’n stasie verby.

    Ek laai dus maar die skoolseun op wat met sy kleurbaadjie staan en duimgooi.

    Hy groet met ’n seunstem waarin die grootword begin kraak. Ek sien die kleurbaadjie word vinnig uitgegroei en hy trek sy te lang arms so ’n bietjie terug om die moue nie te kort te laat lyk nie.

    Hy sê waar hy skoolgaan, dat hy op pad huis toe is vir die naweek – van die koshuis af. Hy vra ook of ek ou yster bymekaarmaak vir verkoop. In ou yster is baie geld, sê hy oor my stofie, voor ek hom kan vertel dat ek eintlik met woorde probeer boer.

    Die stofie interesseer hom, en ek sit en vertel hoe ek die ding weer in gebruik wil kry. Regmaak, sweis, staanmaak en gebruik.

    Potyster, verseker hy my, weld nie sommer nie. Ek gee toe dat ek daaraan nou nie eintlik gedink het nie, en dat ek maar sukkel met die sweisery.

    Dis duidelik dat hy die toekoms van my en die stofie nie met vertroue tegemoet sien nie.

    Net iemand wat yster ken, sal die ding weer kan regkry. Soos sy pa, byvoorbeeld. Sy pa kan omtrent enigiets regmaak.

    Nee, sy pa is nie ’n sweiser nie. Sy pa is in besigheid.

    Maar sy pa is die soort mens wat enigiets kan regmaak … en ja, hy sal van die toebroodjies wat die oom aanbied, kry, want in die koshuis is die kos nie altyd te waffers nie.

    So tussen die kou deur, vertel hy van Maandag se wors en aartappels, Dinsdag se vis en aartappels, Woensdag se mystery balls en aartappels en so aan tot by die poeding. Dié kry hy by die koshuis net een keer per week, en by die huis elke dag. Sy pa wou hom al uit die koshuis vat, omdat die kos nie goed is nie, maar sy pa is baie besig met sy sake en hy wil nie sy pa met ’n ryery pla nie. Dié dat sy pa hom nie die dag kom haal het nie, is oor hy self vir sy pa gesê het hy sal self by die huis kom. Anders kom haal sy pa hom altyd met die kar, of met een van die bakkies. Sy pa het twee soos myne.

    Maar hy moet Saterdag by die huis wees, want dan speel almal saam tennis by die huis, en van sy vriende kom oor om te kom swem, en sy ma gee sommer vir hulle op die grasperk kos. Sy pa is dan ook by die huis. Sy pa braai altyd Saterdagaande.

    Hy’s dié keer byna bang om huis toe te gaan, want kyk hoe lyk sy skoene. Dis sy eie skuld, want hulle het met die goed in die veld gaan rondfoeter, en hy moes eintlik sy stapskoene aangetrek het.

    Ons ry deur ’n lap plotte met êrens in die middel ’n Portugese groentewinkel-kafee-garage. Die oom kan hom sommer by die winkeltjie aflaai, want hy sal sy ma van daar af bel om hom te kom haal met haar motortjie.

    Dit pas my, want ek moet brood koop, en dié sal die Portugees wel aanhou.

    Met die afklim, vra ek hom of hy lus is vir koeldrank. Ja, sê hy, ’seblief, want sy sakgeld loop die week bietjie laag.

    Ek koop brood en twee koeldranke, betaal, soek my reisgenoot. Hy staan buite, sê dankie vir die koeldrank en stap saam bakkie toe.

    Die Portugees ontdek dat ek van my kleingeld misgevat het en kom agterna.

    Hy sê vir die seun as sy ma môre weer nie opdaag nie, moet sy nie weer probeer kom nie. Die tjips kom nie vanself gaar nie en hy’s nou moeg.

    Van die siekspelery, sê hy.

    Die seun kyk my ’n oomblik aan en begin wegstap.

    Die Portugees praat hom agterna: Hy kan nie aanhou om uit jammerte vir mense te sorg net omdat die pa weggeloop het nie.

    Dit was stomp van my om die seun agterna te ry – waar hy langs die pad loop met ’n stywe seunsrug wat weier om iets te wys.

    Ek het vir hom gesê ek wil hom iets gee vir die geselskap, maar hy het die tienrandnoot een keer aangekyk, sy kop vorentoe gedraai en nie weer na my gekyk nie.

    Dit was onmoontlik om vir hom te sê hy’t my iets geleer van tennisbane, stapskoene, poedings, pa’s en potyster.

    Anderkant Grand-Pa

    Koos klap homself drie keer met die plat hand agter die kop en hy sê: My kopseer begin net hier, net hier.

    Dis vir my jammer dat Koos so tussenin kom met die kopseer-ding, want ek is diep in my eie storie in. Ek sit hom en vertel van die ooitjies wat ek by die buurman oorkant die rivier gekoop het vir slag, en hoe ek toe nie die hart gehad het nie. Toe moes ek een van Johan Botha se grênd ramme loop leen vir drie ooitjies, en dis ’n verleentheid.

    ’n Mens moet aan die ram se gevoelens ook dink, was ek besig om te beweer, en ek het op filosofiese trant voortgegaan met verwysings na die tyd toe die profeet Koning Dawid so bygekom het oor die ooilammetjie-ding, en die toepassing deurgetrek na die algemeen-menslike en daarop gesinspeel dat elke man een keer in sy lewe sy Batseba sien bad en daarna nooit weer dieselfde is nie.

    Diep en ernstig, dag ek. En boeiend.

    Toe sê hy sommer hier uit die wans uit sy kopseer begin net hier, en hy klap homself agter die kop waar die ding se wortel dan nou sit.

    Ek los my diepte en ek sê: Grand-Pa.

    Nee, sê hy.

    Toe dag ek: dit word al weer Oktober. Want ons sit op die stoep en ons kyk hoe September die bome aan ’t verwe is vir Oktober. Ek het ’n ding oor Oktober, veral die eerste. Ek is vatbaar vir die ding, want dan word al die ou bome jonk, die piet-my-vrou roep jou dat die verlang na vergane Oktobers in jou keel kom bondel tot jy wurg van die Oktobersmart.

    Ek sien die ding het Koos ook, want hy kyk na die gans, Genis, wat sy wyfie water toe vat. In sy oë sit ’n weemoed wat anderkant die formidabele vermoëns van selfs Grand-Pa lê.

    En hartseer, sê Koos, terwyl hy met die plat hand drie keer op die partisie tussen bors en pens slaan, … hy begin hier!

    Ek vra hom of hy las het van ’n maagseer ook, maar hy kyk na my of die vraag onsinnig is.

    Jy sal my vra hoe die kopseer van my nou inkom by die Botha-ram en sy nederdaling na jou ou ooitjies toe?

    Ek erken die ding is nie duidelik nie. In die dammetjie spat die water tussen Genis en sy wyfie.

    Dit was by die see, en dis ’n kwessie van stand.

    Die waterverband is vir my duidelik, maar ek weier om ’n standverskil tussen my ooitjies en Johan se vreeslike ram te erken.

    Ek het dié kopseer gehad, sien, want dit was toe net so ’n maand of drie ná Trynie my gelos het vir daardie blinkjaskliertjie wat agent was op die dorp.

    Ek verseker hom ek onthou elke besonderheid van die egskeiding, want ek het hom elke nag hier aangehoor, episode vir episode. Hy het nog nie al my sakdoeke wat hy styfgehuil het teruggegee nie, maar ek weet hy’t wasgoed-probleme, so hy kan maar aangaan.

    Ek is toe by die see, en my nek was nie lekker nie, want ek is toe drie maande sonder vrou, en op ’n strand is ek ’n inkennige man. Ek dra my donker bril en ek draai my nek nie te veel nie, behalwe as my oë se krink nou nie meer wil verder nie. Jy weet dis maar alleen so op die plaas en ’n mens skrik bietjie as jy weer ’n slag by die see kom …

    Nee, dié kan jy weer sê.

    Maar so met die ongemaklik-lê om goed te kan sien, en die gekrinkery van my oë en die inhou van my nek, toe raak iets van my nek se masjinerie – seker een van die aste – uit sy bus uit los, en dis vir my half of die bearing skeef draai. Jy weet soos die planter hier onder by die …

    Ek sê ek verstaan sy nek het half vasgeslaan. Die meganika sal mens, soos by ’n verstuite bees, eers sien as jy slag.

    Hy’s toe so met sy kop op veertig grade en sy gesig se sporing so sewe en dertig grade uit, naderhand hotel toe.

    Die meisie agter die toonbank vra toe wat verkeerd is, want die oggend is ek haaks daar uit toe ek die sleutel by haar ingegee het. Vertel ek haar … maar nou nie van die oog-krinkery nie. Dis toe dat sy sê sy sal die ding maar vir my probeer uitvryf, want dis toe net haar ou lostydjie – ek bedoel van die werk …

    Ek sal dit nie van die meisie dink nie, verseker ek.

    "Sy’t die ding toe bo in my kamer loop uitvryf tot hy weer vierkantig sit, en so … Kopseer weg, ná drie maande. En toe het ons my beursie loop haal en gaan eet en dans en ek het haar vertel van my plase en goed. Maar die nag toe sê sy ’n ding van stand: sy vra my hoe gaan dit met die hoofpyn. Toe weet ek dis Trynie wat daar vir my lê en kyk, want sy het ook altyd gehoofpyn oor kopseer. Stand.

    Toe’s ek maar die volgende dag vroeg weg, voor sy opgestaan het. ’n Man kan so onverantwoordelik raak as jou kopseer ’n slag oor is.

    Nou vir wat kla jy?

    Sy werk glo deesdae hier by die steakhouse in die dorp, en ek hoor sy verneem waar ek bly …

    Hoe lyk sy?

    Nie mooi nie, maar handig …

    Ek kyk hom so en ek weet hoe my ooitjies moes gevoel het toe die groot ram hier afgelaai is.

    Dis ’n kwessie van stand, waar stand, soos Grand-Pa, nie meer werk nie.

    Genis het nie las van sy kop nie. Ek wis waar Koos die aand sou eet – anderkant stand en Grand-Pa.

    Ten hemele, ter helle, en hierso

    … en dan sê jy sommer vir Jacob, as jy hom raakloop, dit gaan goed met Sielie en die kinders, en Ounooi is nou by Jan-hulle en dit lyk nie of dit baie goed gaan daar nie, want ek hoor nou die dag van Ennie van Peet-hulle hulle gebruik die ou mens meer vir ’n huishulp as wat hulle haar oppas, want die arme ou mens moet glo nou bed opmaak en skottelgoed was … en met Koos se span gaan dit glo redelik, behalwe dat dit lyk of daardie jongste een ook wil beginne steel, want daar’s by die winkel ingebreek … of los dit liewer, want ’n mens wil nie die siele ontstel nie, maar sê tog vir oorle Pa, hy moet weet wat Anna doen, want wat sy maak, is nie reg nie …

    Ek kom eers agter wat aangaan toe oorle Pa se boodskap gestuur word.

    Want ek sit en dommel op die voorstoep, en dis drie-uur die middag. Dis Oktober, dit het gereën en die boere het bakkies omgegooi van baldadigheid en oor hulle natpad nie meer ken nie. Nou’s die reën verby en die son stoom die aarde al van vroeg vanoggend af – of hy sy vog wil terugvat en klaarkry.

    Dié dat ek met swaar oë sit en kyk na die middag, na die vlieë wat te dik en te loom is om te vlieg en dus maar rondstap, na die rooi politoer op die stoepie, na die barste in die stoepmuurtjie, na die rens in die melk op my halfgedrinkte, vierde koppie koffie.

    In die weste vorm daar ’n donderwolk wat elders gaan loop reën, nadat hy hier by ons geblo het.

    Ek sit op die stoep, want binne-in wil die oom nie klaarkry met sterwe nie. Die dokter moes al ry om iemand anders die lewe te gaan inhelp, en hy kon nie bly tot die uithelp hier klaar is nie.

    Dis nie goed om drie-uur op ’n warm dag te moet sterwe nie.

    Dis ook nie goed om te moet sit en wakker bly, terwyl dit aan die gang is nie.

    Ek verwyt myself dat ek ’n geleentheid geword het. Toe die tannie en haar dogter die oggend, klaar aangetrek, deur die rivier kom om te vra of ek hulle nie ’n geleentheid wil gee na die sterfbed van die onbekende nie, het ek ’n swak oomblik beleef. Ek het hulle mare uitgehoor oor die langdurigheid van die familielid se sterwe. Ek het hulle woord aanvaar dat die einde nou uiteindelik daar is. Hulle belofte dat ek nie lank sal hoef te vertoewe nie, het eg geklink. Ek het gesê ek sal hulle vervoer, omdat ek verleë geword het van die pleiting in die ou vrou se stem, en half uit verleentheid oor die twee deegrolle wat by die dogter se hals uitgepeul het. Die rokkie is in skraler, jonger dae aangeskaf.

    Ek het net die bakkie op die plaas, en ons sit drie voor: Ek bestuur, die tannie vat ’n tweevoet-breedte aan die ander kant en Anna sit die middelstuk met haar gawes vol.

    Anna sit, uit noodsaak, neem ek aan, met haar bene weerskante van die rathefboom. In die dae van die rokkie se ontwerp het die some en halslyne na mekaar toe geneig. Haar sigbare hompe vermeerder dus tot vier. Ratverander word problematies ten opsigte van logistiek en fatsoenlikheid.

    Ons ry. Die sinkplaatpad se na-trillings bewe in Anna se vlees, en ek storm die hoogtes om ratverander te vermy. Haar ma praat oor die dood.

    Sy kom uit ’n geslag wat pynlik en langdurig doodgaan en oor wie lang sterwensverhale vertel kan word – mense wat, alle lyding ten spyt, die ewigheid vroom en stil ingaan, met ’n gesangvers op die lippe.

    So ry ons dan – onder die geklank van doodsgedagtes, met die bibberende vlees tussen ons, en in vierde rat.

    By die plotjie waarheen hulle my beduie, word meer oor begrafnisreëlings gepraat as oor die sterwende se lot. Mettertyd belowe die tannie en Anna hulle sal na die oom omsien, terwyl die huisvrou die nodige vir ’n eventuele begrafnis gaan inkoop. Hulle belowe om hom om te keer en uit te skud as hy dalk stik.

    En nou sit ek op die stoep en ek luister na die boodskappe wat die oom oorkant toe moet saamneem: vir Jacob en vir oorle Pa, oor die welstand van Ounooi en ander agtergeblewenes.

    Dis nie aldag dat jy boodskap-geleentheid kry oorkant toe nie.

    … en sê vir Kallie van Anna se dinge … sê vir hom hy was nog nie behoorlik koud nie, toe’s Niklaas daar, en hy …

    Waar Anna op die gegewe oomblik in die huis was, weet ek nie, maar haar stem sny deur alle mure, deur my middag en my loomheid:

    Ma los vir Niklaas uit! Vir wat wil Ma nou vir Kallie loop en jaloers maak?

    Dit was die aanvangsvraag. Dit het dadelik oorgeslaan in stellinge oor haar ma se gedrag sedert die dood van oorle Pa. Opwindende maar onherhaalbare luisterstof.

    Tot hulle tot ’n ooreenkoms gekom het: Hulle sal elders loop praat, want wat die sterwende toe al gehoor het oor die dinge van ma en dogter, sou oorle Pa en Kallie ten hemele of ter helle laat skree het.

    Die sessie word dus buite onder die vyeboom langs die windpomp voortgesit. Van daar hoor ek alle argumente oor wat die dode behoort te weet van die agtergeblewenes.

    Ek

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1