Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

'n Oomblik in die wind
'n Oomblik in die wind
'n Oomblik in die wind
Ebook389 pages6 hours

'n Oomblik in die wind

Rating: 4 out of 5 stars

4/5

()

Read preview

About this ebook

So ’n lang ontdekkingsreis wat vir jou en my nog voorlê . . .Wanneer die jong Elisabeth Larsson hierdie woorde in haar man se Joernaal skryf, staan sy aan die begin van ’n persoonlike ontdekkingsreis wat haar sal voer tot die hoogtes van ’n intense, passievolle verhouding met ’n slaaf, en later sal laat tuimel in die dieptes van verraad . . .’n Oomblik in die wind is die aangrypende verhaal van liefde oor die kleurgrense heen in die agttiende eeu. Elisabeth vergesel haar Sweedse eggenoot, Erik Alexis Larsson, en ’n gids, ene Van Zyl, op ’n ontdekkingsreis na die onherbergsame Kaapse binneland. Maar dan begin Van Zyl se drinkery, sy bakleiery en muitery. Op ’n dag stap Erik Alexis die wildernis in, om nooit weer terug te keer nie.Adam Mantoor, ’n droster-slaaf, ontferm hom oor Elisabeth. Hy word haar beskermer in lewensgevaarlike omstandighede, en sy beloof om hom sy vryheid te help verkry.’n Onvergeetlike verhaal deur ’n meesterverteller
LanguageAfrikaans
Release dateMar 22, 2005
ISBN9780798158619
'n Oomblik in die wind

Read more from André P Brink

Related to 'n Oomblik in die wind

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for 'n Oomblik in die wind

Rating: 3.862068827586207 out of 5 stars
4/5

58 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    'n Oomblik in die wind - André P Brink

    title.jpg

    AAN BREYTEN

    So ’n lang reis wat vir ons nog voorlê

    And so it was I entered the broken world

    To trace the visionary company of love, its voice

    An instant in the wind (I know not whither hurled)

    But not for long to hold each desperate choice

    HART CRANE

    We live in a disoriented, deranged social structure, and we have transcended its barriers in our own ways and have stepped psychologically outside its madness and repressions. It is lonely out here. We recognize each other. And, having recognized each other, is it any wonder that our souls cling together even while our minds equivocate, hesitate, vacillate, and tremble?

    ELDRIDGE CLEAVER

    Wie was hulle? Die name is bekend – Adam Mantoor; Elisabeth Larsson – en iets van hul geskiedenis is opgeteken. Ons weet dat sy in 1749, die laaste jaar van die bewind van Goewerneur Swellengrebel, saam met haar man, die Sweedse reisiger Erik Alexis Larsson, die binneland van die Kaap die Goeie Hoop in is waar hy naderhand omgekom het; dat sy daar aangetref is deur die wegloper-slaaf Adam; en dat hulle laat in Februarie 1751 saam die Kaapse Vlek bereik het. ’n Interessante terloopsheid, ’n historiese voetnoot wat niks bygedra het tot kennis van die land of die verloop van die geskiedenis nie.

    Wie was hulle? Iets meer word aangevul as ’n mens, met heelwat moeite en ’n bietjie geluk, uit die lang lys van die dooies die twee genealogieë naspoor.

    ADAM MANTOOR: In 1719 het Willem Louwrens Rieckert, ’n boer duskant Constantia, die geboorte van ene ADAM in die slaweregister laat aanteken. Die moeder is aangegee as KRISSIE, ook bekend as KARIS, ’n Khoi-vrou; maar aangesien Khoin nie gewoonlik as slawe aangehou is nie, is verdere naslaanwerk nodig om aan die lig te bring dat sy in 1714 by Rieckert ingeboek is nadat sy as tien- of elfjarige kind saam met ’n klompie ander deur ’n ekspedisie van die Olifantsrivier af teruggebring is waar hulle wees aangetref is ná die pokke-epidemie van die vorige jaar. As vader van haar kind is aangegee ONTONG, ’n Kaapse slaaf ook in Rieckert se besit, maar kort daarna teen 800 riksdaalders verkoop aan Jeremia van Niekerk, ’n boer van Piketberg. Hierdie Ontong was na alle waarskynlikheid die kind uit ’n verbintenis, in 1698 of 1699, tussen ’n manlike slaaf AFRIKA, afkomstig van Madagaskar, en ’n slavin SELI wat in 1695 op pas hubare leeftyd uit Padang ingevoer is. Vermoedelik is dié Afrika dieselfde slaaf wat in 1702 ná blootstelling aan die ysters, voor die Kasteel geradbraak is, sonder toediening van die genadeslag, nadat hy skuldig bevind is aan sedisie en aan moord op sy baas, Jozua Carolus Henning, ’n koopman van die Kompanjie. In welke geval die laksman – indien die amptelike tariewe toe al van toepassing was – ’n ekstra 16 riksdaalders sou verdien het: 12 vir die breek op die wiel en 4 vir die knyp met die tange.

    Interessant genoeg sou sy voorvermelde kleinseun Adam presies veertig jaar later ook met die gereg kennis maak, in sy geval omdat hy bevele van sy baas, die genoemde boer Rieckert, veronagsaam het en hom met ’n stuk hout aangerand het. Daarvoor is hy, ná ’n regverdige verhoor, gevonnis tot geseling en brandmerk, en na Robbeneiland verban om in kettings lewenslange hardearbeid te verrig. In 1744 word daar, sonder meer, aangeteken dat hy ontsnap het. Daarna is hy sewe jaar lank nie weer in die Kolonie gesien nie. In Maart 1751 is hy gegesel (3 riksdaalders) en deur die laksman verwurg (6 riksdaalders).

    ELISABETH LARSSON: Om die een of ander rede is daar gewoonlik aangeneem dat sy saam met haar man uit Swede na die Kaap gekom het. Nou is die verlofbrief egter in die Argief opgespoor (verw. nr. C41 P 154) wat Goewerneur Swellengrebel in Mei 1749 uitgereik het om die binnelandse reis te magtig. Hierin word die lede van die ekspedisie aangegee as Hermanus Hendrickus van Zyl, vryburger van Stellenbosch; Erik Alexis Larsson van Göteborg, Swede, en sy huisvrou, Elisabeth Maria Larsson gebore Louw, van die Kaap.

    Die stamvader van hierdie linie was WILHELMUS JANSZOON LOUW wat in 1674 as Kompanjiesoldaat na die Kaap gekom het, vergesel van sy vrou en twee jong seuns. Een van die kinders is gedurende die oortog vanaf Texel oorlede; die ander, JOHANNES WILHELMSZOON (geb. 1668), is in 1694 getroud met ’n Hugenotemeisie, ELISABETH MARIE JEANNE NOURTIER (geb. Calais, 1676). Op daardie tydstip het stamvader Wilhelmus reeds sy ontslag uit die Kompanjie se diens aangevra en in die distrik Stellenbosch as vryburger begin boer. Sy seun en skoondogter het op dieselfde plaas kom woon, moontlik omdat die vader se gesondheid nie na wens was om die boerdery te behartig nie.

    Uit Johannes se huwelik met die Franse meisie is ses kinders gebore: Jean Louis (1696 – maar minder as ’n jaar later oorlede), Elisabeth Marie (1697), MARCUS WILHELM JOHANNES (1698), Aletta Maria (1701), Anna Gertruida (1703) en Jacomina Hendrina (1704). Dit kom voor asof Johannes ’n rol gespeel het in die koloniste se opstand teen Willem Adriaan van der Stel; maar pas voor die hoogtepunt van die stryd is hy oorlede (1705). Ná sy dood het sy weduwee hertrou met ene Hermanus Christoffel Valck, by wie sy nog drie kinders gehad het.

    Die enigste seun uit hierdie generasie, bogenoemde MARCUS WILHELM JOHANNES, het hom weer by die Kompanjie aangesluit en is spoedig bevorder van klerk tot boekhouer en uiteindelik tot dispensier. In 1721 is hy getroud met CATHARINA TERESA OLDENBURG (geb. 1703), dogter van ’n hoë Bataafse amptenaar wat in daardie jaar die Kaap besoek het. Twee seuns aan wie sy die lewe geskenk het – resp. in 1722 en 1724 – is albei kort ná geboorte dood; die enigste oorlewende kind uit die huwelik was dan ELISABETH MARIA (geb. 1727). Wel het die vader, Marcus, tussen 1740 en 1748, volgens wat vasgestel kan word, nog vyf kinders by drie verskillende slavinne in sy diens verwek. By sy dood in 1750 is al vyf hierdie kinders as bates in sy boedel vermeld.

    Vermoedelik het Elisabeth Maria die Sweedse reisiger Larsson kort ná sy aankoms aan die Kaap in Februarie 1748 ontmoet; ’n jaar later is sy met hom getroud, en spoedig daarna is hulle die binneland in op hul ongelukkige reis. Een rede waarom die tog destyds min aandag getrek het, sou wees dat Larsson dit die hele tyd aan die Goewerneur en ander amptenare voorgestel het as ’n gewone jagtog (getuie sy lisensie vir die skiet van olifante, renosters, leeus, seekoeie en vreemdsoortige beesten) en nie as ontdekkingstog nie. Nie net was die Kompanjie op daardie tydstip – anders as twee dekades later, tydens die besoeke van Larsson se groot landgenote Sparrman en Thunberg – besonder negatief ingestel teenoor sulke reise deur buitelanders nie, maar Larsson self wou waarskynlik verhoed dat enigiemand anders hom voorspring met wat hy beoog het: die katalogiseer en versamel van plante, voëls en diere onbekend aan Europa; en uitvoerige geografiese waarneming gemik op akkurate kartering van die binneland.

    Ná haar terugkeer in die Kaap is Elisabeth Larsson gebore Louw weer getroud (die Huweliksregister gee net haar nooiensvan aan: vandaar waarskynlik die verwarring wat so lank i.v.m. haar identiteit bestaan het) en wel in Mei 1751, met ’n bejaarde buurman genaamd Stephanus Cornelis Jacobs (geb. 1689). In Augustus van dieselfde jaar het sy geboorte geskenk aan ’n seun. Kort daarna is haar eggenoot oorlede. Sy het nooit weer getrou nie.

    In die Kaapse Argief is daar, onder die naam Elisabeth Jacobs, ’n handgeskrewe Memorie – nie danig lank nie, net 85 octavovelle – waarin sy, ter wille van haar seun, ’n kort samevatting van haar lewe opgeteken het. Met ’n beheerstheid en nugterheid wat in haar omstandighede merkwaardig voorkom maar wat vir die hedendaagse vorser een groot frustrasie is, vertel sy ook in breë trekke van haar binnelandse reis.

    Vertrek uit die Kaap, Junie 1749, met twee seilkapwaens, oor die Hottentots-Hollandberge na die Waterbron. Ensovoorts. Hulle het die gebruiklike roete gevolg: tot anderkant Mosselbaai, oor die Outeniekwaberge, en daarvandaan taamlik hoog noordwaarts met ’n wye bog deur die Kamdeboo na die Agter-Winterberg en die Suurveld. Dit kom voor asof die jong getroude vrou dit aanvanklik interessant gevind het, maar naderhand vervelig (haar man had klaarblyklik net tyd en aandag vir sy byna besete wetenskaplike bedrywighede met die pers van blomme, die skiet en opstop van voëls, die voorberei van diervelle, die versamel van reptiele; en met die karteer van hul vordering), en uiteindelik ondraaglik.

    Die Memorie laat deurskemer dat daar van vroeg af onenigheid was met Van Zyl, wat sy dienste as gids aan Larsson verhuur het, maar gou heeltemal in die binneland verdwaal het; dit het op ’n klimaks uitgeloop toe hy eers gedreig het om Larsson te skiet, hom toe glo bedink het en die bos in gevlug het waar hy sy eie harsings met ’n pistool uitgeblaker het. Kort daarna het ’n troep San twintig van hul twee-en-dertig osse gesteel, met die gevolg dat een wa agtergelaat moes word. Nog later het al hul Khoi-helpers gedros en die laaste osse – behalwe net twee – met hulle saamgeneem. En toe het Erik Alexis Larsson doodgewoon die wildernis in geloop en verdwyn. Op daardie tydstip was hulle in ’n beboste streek, waarskynlik tussen die bolope van die Visrivier. En daar het die vlugteling-slaaf op haar afgekom.

    Oor die eerste gedeelte van die terugreis seewaarts rep Elisabeth nie veel in die Memorie nie; iets meer darem oor die tog daarvandaan, wat mens moontlik sou kon rekonstrueer deur die kant van die Tsitsikamma en oor die berge na die Langkloof en die Klein-Karoo; oor die Swartberg, en deur die Karoo terug na die Kaap.

    Maar selfs dié gegewens bly karig, byna onbeduidend. En eers met die slotsin word mens met iets soos verbystering geslaan wanneer sy, ná soveel feitelikheid, skryf:

    Dit sal niemand van ons kan afneem nie, nie eens onsself nie.

    Nou het daar heeltemal toevallig in die loop van ’n gans ander stuk navorsing (die lewe van Van der Kemp), in Livingstone House, hoofkwartier van die Londense Sendinggenootskap, die erg gehawende maar tog nog ontsyferbare Joernaal van Larsson self aan die lig gekom. Hoe dié drie lywige foliogrootte boeke in hul swaar bruin bande daar beland het, is nog nie seker nie. Die enigste verklaring, op sigself skaars geloofbaar, mag wees dat swerwende Khoin dit in die verlate plaashuis opgetel het waar die laaste inskrywing in Elisabeth se handskrif gemaak is, en dit jare later aan een van die L.S.G. se sendelinge by Bethelsdorp daar naby besorg het. Die grootste gedeelte van die Joernaal is deur Larsson self gehou en bestaan uit byna klinies-uitvoerige aantekeninge van hul vordering, waarnemings, vondste, gevolgtrekkinge en verwagtinge.

    Met minutieuse akkuraatheid verskaf hy byvoorbeeld ’n lys van die toebehore waarmee hulle uit die Kaap weg is. Op die eerste wa was daar ses groot kiste (waarop die egpaar se matras snags oopgerol is) en twee kleintjies, bevattende:

    klere

    wit borssuiker

    koffie

    tee

    10 lb sjokolade

    ysterware (domkrag, spykers, stawe, ysterbrokkies)

    spelde, naalde, gare

    ruilware: glaskrale, kopertonteldose, messe, roltabak, Indiese syserpe, kamme

    500 lb buskruit in vate, toegedraai in vars skaapvelle vir waterdigtheid

    1 ton lood en tin, met ’n volledige stel gietvorms

    16 snaphane, 12 dubbellooppistole, 2 sabels, 1 dolk

    10 riem papier om plante te pers

    instrumente, o.m. ’n kompas, ’n higrometer, ’n dipnaald, en ’n drie voet lange barometer in ’n kissie, met ekstra kwik in ’n erdebotteltjie.

    Die tweede wa was belaai met vier vate brandewyn, twee vir die bewaar van eksemplare; die res om die Khoin aan die gang te hou of inboorlinge se guns te wen. Daarbenewens:

    2 groot kiste vir die bêre van versamelings

    2 tente

    1 tafel en 4 stoele

    1 rooster, 1 groot braaipan, 2 ketels, 4 kastrolle, 2 koffiekanne, 2 teepotte, 2 wasbalies, 3 skottels

    ’n versameling porseleinware (koppies, borde, bakke). Die trek was vergesel van 32 osse, 4 perde, 8 honde, 15 hoenders en 6 Hottentotte (sic!).

    Elke dag is die gevorderde afstand bereken en die weer aangeteken. Opvallend is die voortdurende verwysings na wind: Wind vandagWeer windErg winderigElisabeth klae oor die windRukkerige wind – en een keer selfs ’n uitvoeriger beskrywing, die naaste wat Erik Alexis Larsson in die Joernaal aan die poëtiese kom: Die hele binneland is soos ’n see van wind waardeur ons bestendig vaar.

    Daagliks is ’n katalogus verstrek van nuwe ontdekkinge en vondste. Iedere bok of roofdier wat geskiet is, word in besonderhede opgemeet en gedissekteer. Met net soveel onbewoë presisie word aangeteken:

    Aangeval deur gekweste leeu en net betyds gered deur Hottentot Booi, wat in die arm gebyt is voor ons die dier kon doodskiet. Geïnteresseerd om te sien dat Booi se vlees onder sy vel presies dieselfde kleur is as ’n blanke s’n.

    Dit blyk ook dat Larsson met heelwat vindingrykheid ’n feillose metode ontwerp het om voëls te skiet sonder om hulle te beskadig, sodat hulle opgestop kon word. Dié metode, jare later deur Vaillant herontdek, het daaruit bestaan dat daar eers ’n klein hoeveelheid buskruit, afhangende van die afstand, en die grootte van die voël, onder in die geweer gegooi en met ’n stukkie kerswas vasgestamp is, daarna is die loop met water gevul. Sodoende is die voël net duiselig geslaan, en die nat vere het verhoed dat hy dadelik kon wegvlieg.

    Daar is min verwysing na persoonlike aangeleenthede. Soms net: Rusie met ElisabethElisabeth het, jammer genoeg, geen sintuig vir die wetenskap nieElisabeth veeleisend gisteraand, weer vanmôre; nie bevorderlik vir konsentrasie nie.

    Op sy laaste inskrywing (3.1.50) volg ’n paar oop bladsye voordat daar, datumloos, in Elisabeth se handskrif voortgegaan word. Haar inskrywings is heelwat langer; en anders as in die Memorie van jare later, is haar toon hier persoonlik en soms selfs dringend. Veel besonderhede verskaf sy nie; sommige ervaringe wat vir haar, volgens die toon, die veelseggendste moet gewees het, bly nogal kripties. Maar daar is opmerkings, lós van geografie en tyd, waarin mens skielik déúr die geskiedenis kyk:

    So ’n lang ontdekkingsreis wat vir jou en my nog voorlê. O God, o God.

    Wie is hulle? Die Memorie en die Joernaal word tans voorberei vir publikasie in geannoteerde uitgawes: die L.S.G. moet nog formeel toestem. Dan sal die geskiedenis hulle vir hom opeis. Maar dit gaan nie om geskiedenis nie. Dit gaan om daardie handjie vol reëls wat by die feite verbypraat. Dié woorde: Dit sal niemand van ons kan afneem nie. Of dié: So ’n lang ontdekkingsreis, o God.

    Dáárom moet mens die windsels afstroop. Nie maar om dit oor te vertel of te herskep nie; maar om dit oop te maak en van nuuts af te laat gebeur. Om deur die land te reis soos dit sou kon gewees het: terug: terug na die hoë berg bokant die klein dorp van duisend huisies teen die see, in die wind. Terug deur die woeste en leë land – wie is ek? wie is jy? – sonder om te weet wat jy gaan kry, as al die instrumente verwoes is deur die wind, as al die joernale vergaan het in die wind: terug. Dis nie ’n kwessie van verbeelding nie, maar van geloof.

    Hy kry haar ineengedoke op die voorkis van die wa tussen die wildevyebome, laat die middag toe die voëls al begin slaapplek soek in die bome; omring van die oorblyfsels van haar trek, die relikwieë wat hier in die wildernis die prestasies van haar beskawing verteenwoordig: ongelaaide gewere (gisteraand en vanoggend al afgevuur) en sakkies kruit en lood, gedroogde blomme tussen velle gevlekte wit papier, opgestopte voëls en skelette met delikate gebeente, tekeninge van diere en bome en uitspanplekke by heuwels en riviere, klein reptiele bewaar in alkohol, die lang buis van die barometer nog omgekeer in sy bakkie kwik, ketel en kastrolle by die dooie vuur, handgeborduurde lakens oopgegooi oor bosse en die stomp van ’n aalwyn, kledingstukke nog verkreukel en klam van die geweld van laas nag se storm, ’n rooster gevlek met nuwe roes, porseleinware; en die kaart op een van die kiste agter haar, die buitelyne aangegee deur vroeë Portugese en gepresiseer deur ’n eeu se kusvaart; van die linkerkant af ’n smal strook intens beskryf en gevul met kontoere van heuwels en riviere, berge, gelyktes, breedte- en lengtegrade, hoogte bo seespieël, klimaatstreke, windsterktes – omgewe deur ’n leegte met tentatiewe strepe en stippels, oop en wit vir enigiets, terra incognita, na alkante toe wyd.

    Hy bly lank in die opening van die ontoereikende takskerm staan, met die dooie haas in sy hand, vasgehou aan die agterpote; fyn bloeddruppeltjies vlek uit die neusgate op die platgetrapte gras. Sy kyk nie op nie.

    Hy kan nog omdraai: sy sal nie eens weet dat hy daar was nie. Die honde is saam met die Khoin weg.

    Wat is dit wat mens uit jou vertroude wildernis aandryf na so ’n trek se laaste staanplek toe? Wat is dit wat jou dwing om weke in die geweste van ’n wa te hou soos ’n hond of ’n roofding op sy spoor? Wat is dit wat jy nie van jou kan afwerp nie, wat jou laat maal om ’n staning, wat jou soos ’n jakkals na die maan wil laat huil in die nag?

    Hy kan nog terug, maar hy staan haar en aankyk, soos baie maal tevore maar nou van nader, en openlik. Haar lang donker hare los oor haar gesig en skouers – skraal geboë skouers asof sy oornag jonger geword het as wat sy was, nie vrou nie maar skaars meisie. Die blou rok met die wit borduursels lankal sonder die styfsels en stopsels en hoepels van die Kaap en nou slordig verkreukel: sy’t laas nag daarin geslaap en vir die eerste keer op reis vandag nie verklee of gewas of haar hare gekam nie.

    Hier is ek. Vyf jaar was genoeg; te veel.

    Iets laat haar opkyk: nie geluid nie, maar stilte. Die wind wat deur die dae gestoot het, wat laas nag oor die kamp gejaag en die takke van die skerm losgepluk en die seil van die wakap uit die bak se vlegwerk geruk en verskeur en uitgerafel het, het stilweg en bedees gaan lê.

    Wie is jy? Dit is die eerste wat sy vra toe sy hom sien en haar – ná die skok oor sy klere – saamtrek op die wa.

    My naam is Adam Mantoor. Hy bly nog staan, vervat net die haas se pote.

    Wie is jy?

    Daar is iets byna komies in die situasie. Hy kom nader om haar gerus te stel, maar sy moet die beweging verkeerd vertolk het, want sy gryp een van die pangewere en spring op.

    Moenie nader kom nie!

    Hy aarsel effens en gee nog ’n tree in haar rigting.

    Toe sy die sneller trek, gebeur niks. Sy laat sak die geweer, kyk radeloos rond en gryp dan blindelings een van die lang pistole en slinger dit na hom. Hy moet koes, anders tref dit hom. Nou is hy seker. Hy kom tot by die wa en sit die haas daarop neer. Sy begin onder die kap in retireer, haar hare klewerig oor haar wange. Sy is so jonk. Toe hy die geweer probeer afneem, bly sy net ’n oomblik daaraan vasklou voor sy laat los.

    Uit een van die oop sakkies langs die wakis neem Adam kruit, weeg dit in sy palm af en giet dit in die loop af; stamp dan tydsaam ’n pluisie vas en gooi die hael agterna. Daarna haal hy die haan oor dat die vuurklippie orent staan soos ’n slang wat wil pik, en hou die geweer na haar toe uit, met die versierde kolf in haar rigting.

    Wat soek jy hier?

    Hy haal sy skouers op. Die baadjie is te groot vir hom.

    Wag! beveel sy gejaag. Ek sal … Sy duik weg onder die tentflap in en kom weer te voorskyn, met ’n koperbekertjie in die hand. Brandewyn. Met ’n gebaar na haar mond: Drink. En weer, nadruklik, toe hy bewegingloos bly staan: Drink.

    Adam skud sy kop en sit die bekertjie voor op die wa langs die haas neer.

    Jy moet nou loop, sê sy skielik weer aggressief, die gelaaide geweer in haar hande. My man gaan nou-nou terugkom.

    Hy’t verdwaal.

    Hy sal jou op die plek doodskiet as hy jou hier kry.

    Met sy geweer vol water? Ek is nie ’n voël wat hy kan opstop nie.

    Hoe weet jy dan …? vra sy verslae. Met nuwe verset: Jy’t hom dopgehou! Hoe lank hou jy ons al dop?

    Hy maak ’n gebaar; die breë kantmansjet aan sy mou flap om sy gewrig. Dis of die beweging haar skielik weer van sy voorkoms bewus maak: ’n nar in die wildernis.

    Dis sý klere! Jy het hom doodgemaak en sy klere gesteel!

    Ek het die klere al lank.

    Nee, dis nie die klere waarmee Erik Alexis vroeg gisteroggend agter die kuifkopvoël aan is nie. Maar tien dae gelede, twee weke: dis opgeteken in die Joernaal. Hulle het gedink dis die Hottentotte.

    Dan was dit al die tyd jy.

    Weer die skouerophaling.

    Dit behoort aan my man.

    Maak dit saak?

    Met wie praat jy so?

    Ja, hy’s maerder as Erik Alexis. Min of meer ewe lank, maar baie maerder. Eintlik lyk hy verspot in die deftige blou baadjie en die kniebroek, sonder die hoed wat daarby pas, en met die ruwe bokvelskoene. Ek weet nie wat jy hier soek nie. Ek vertrou jou nie, jy moet loop. Ek het iemand nodig om my te help. Hy het nooit gister teruggekom nie. Hy het tevore al agter voëls aan verdwaal, maar nog nooit het hy ’n nag uitgebly nie. En só ’n nag.

    Toe het sy geslaap. Van skone uitputting en angs waarskynlik, skaars bewus van die storm. Die honde wat minder word: twee dood in die worsteling met die leeu; een weggedra deur ’n hiëna; van die ander weggelok deur die San en met pyle geskiet; die laastes troueloos met die Khoin vort. Van Zyl wat al opstandiger raak en drank steel en wil maak en breek, baklei met Larsson, al koorsagtiger in háár rigting gluur, of rondsluip in die kamp as sy verklee of bad; en toe die bosse in, en die pistoolskoot. Ek en die Hottentotte sal hom begrawe, bly jy maar liewer hier, dis nie mooi om te sien nie. So bedagsaam. Maar snags of in die vroeë môre? Sy agterkop, skrywende in die Joernaal onder die geel lantern in die watent; láát. Of werksaam met die kaart: net so erg soos oubaas Roloff. As ’n kaart kon kook, het jy met een getrou. Die res sou jy tog nie ontbeer nie. En ek moet maar lê en brand. Is dít waarvoor ek weg is van alles, die wildernis in saam met jou, één vlees? Een kaart, een joernaal – die vlees is vir jou presiese wetenskaplikheid te onseker en onberekenbaar, onfatsoenlik. Al waarop jy jou verlaat, is die lengte van jou barometer en die kwik wat styg en daal. God, hoe’t jy die Hottentot laat looi wat die ekstra botteltjie kwik laat breek het! Julle het hom vasgemaak tussen die wawiele, jy het gestaan en kyk terwyl hulle hom slaan, jou bleek Sweedse hande het gebewe. En dieselfde nag het hulle almal gedros. Verbaas dit jou nog dat ek laas nag geslaap het? Dat my vrees ook bevryding was, dat ek niks anders wou as om te slaap nie? In die hart van die storm was ek veilig en beskut, meer as ooit by jou: niks kon my in die geweld bykom nie. Maar nou is die tweede dag verby en vannag sal ek nie kan slaap nie. Êrens moet jy wees, maar waarom het jy nie teruggekom ná al my geweerskote nie, tot g’neen meer gelaai was nie en hý dit vir my moes kom laai? Het jy darem jou mooi gepluimde voël gekry?

    Waar kom jy vandaan? vra sy.

    Hy draai half om en maak ’n vae gebaar wat die meeste van die skemerige wêreld agter hom insluit: trae, hoë hellings wat onverwags afbuig na diep ravyne met kreupelhout en struikgewas: bome wat sy nie ken nie, bosse wat sy nie ken nie: naam gegee deur Erik Alexis Larsson, Latynse name, niksseggend vir haar ore.

    Hoe gepas dat jy net beduie en niks sê nie: want hierdie land hét nie naam nie, veral nie Latyns nie; dit bestaan eintlik nog nie. En dis joune, goed, dis joune. Maar wat maak ek hier? Ek het iets gesoek, ánderkant die Kaap en oorkant sy verste bekende berge, maar nie dit nie: net nog berge, nog vlaktes, nog skeure en riviere; wind en reën; droogte; stilte. Nie dit nie, dis niks van my nie.

    Adam beweeg; sy verstrak. Maar hy tel net weer die haas op, aan die ore dié keer, en loop eenkant toe waar die doodgereënde vuurtjie gryserig en swart tussen die klippe lê. Sy hou hom dop. Hy hurk, sy rug na haar – nou sou ek hom kon skiet met die geweer wat hy self gelaai het; maar om die een of ander rede minag of vertrou hy my – en begin met ’n mes, wat hy êrens onder sy klere uitgehaal het, die haas af te slag. Vinnige skoon hale wat haar boei, rondom die nek, van die pootjies af in na die oksels, en oor die borsbeen en die maag. Dieselfde kleur vleis. Sy gaan weer op die wakis sit en hou die geweer oor haar knieë; maar hy kyk nie een keer op nie. Uit die waterbalie agter die wa kom hy water skep, asof hy vertroud is met alles. Onder die hoop loshout onder die buik van die wa kry hy droërige houtjies. Met sy rug na haar maak hy vuur. Uit niks? Dit rook en rook, ’n skerp kruiegeur wat haar sonder rede weeïg maak. So ruik die land. Hy brand die rooster skoon en vlek die haas daarop uit.

    Die son is onder, die hemel gloei. Vannag sal sy niks slaap nie. Dit is verskriklik stil. Daar is groter berge agter die nader bulte: anders as die porseleinblou van Hottentots-Holland, logger, geweldiger, soos diere wat lê en slaap.

    Terwyl die vleis braai en die groot ketel kook, bring hy die twee osse nader en begin die takke van die verwaaide skerm regtrek. Hy weet dat sy hom dophou. Hy hoef net op te kyk om haar te sien. Maar wat is daar om te sê as hy sou kyk? Ek ken jou? Ek ken jou nie? Wie is jý? Wat soek jy hier? Jy hoort nie hier nie. Hier weet ons nie van die Kaap nie.

    Dis nie waar nie. Vyf jaar praat ek al in die wildernis met myself; vyf jaar sien ek die Berg voor my, en die baai. Die heel mooiste blik het mens van Robbeneiland af. Hulle begraaf jou tot by jou nek in die sand en pis dan in jou mond. Tussen sy wydsbeen bene deur sien jy die Berg. Jou ma sing in die wingerd: Oorkant die water, blinkend en bly. En jou ouma met die hekelkombers mompel oor Padang, rooi en groen van hibiskus en trilblaarbossies.

    Sy sit op die wa en weet; hy by die vuur.

    Bring vir my water om te was, gebied sy daarna. Onder die wakap agter haar brand ’n lantern wat aan ’n kort ketting hang.

    Hy bly sit.

    Het jy gehoor wat ek sê?

    Jy kan self water vat.

    Selfs in die vuurlig kan hy sien dat sy bleek geword het. Ek laat nie ’n slaaf so met my praat nie!

    Ek is nie ’n slaaf nie.

    Wat soek jy hier?

    Ek dag jy het hulp nodig.

    Vir wie sê jy jy-en-jou?

    Hy staan stil op. Vir jou.

    Ek wil jou nie hier hê nie, sê sy skielik heftig. Nie vannag nie en nooit nie. Daar is ’n skerfie histerie in haar stem. Ek sal self regkom.

    Hy bly doodstil staan en kyk hoe sy, bleek en met haar tande vasgebyt, van die wa afklim en vlak by hom die ketel warm water van die vuur kom haal. Eers toe sy terugkom by die wa, draai sy om en sê venynig: Jy ken nie jou plek nie.

    Hy antwoord nie.

    As my man terugkom …

    Hy sal nie. Tydsaam draai hy om en begin nog hout op die vuur pak, sy rug weer na die wa. Maar later versit hy onder die rook uit en sien die skaduwee deur die tentkap roer. Sy is ná aan die lamp, die wa is beknop; daarom is die beweging grotesk en ongedefinieer, tog kan hy nie wegkyk nie. Tevore was hy nooit so naby nie. Sy is besig om te ontklee. Gebukkend oor die balie staan sy en was. Gestroop uit die rok beweeg haar romp en arms; in profiel sien hy die vlugtige vorm van haar borste – nie meer net ’n vae swelsel beskut deur kantborduursel nie, maar presies en rond.

    Wit; met jou swart skaduwee. Vyf jaar praat ek al met myself of met stammetjies Khoin, mense-van-mense, in die vryheid van die wildernis wat ek gekies het. Die nag toe ek oor die water teruggekom het, halfverdrink, en uitgestrompel het op die donker strand onder die bietjie maan, met die wind wat die water droog maak teen my bibberende lyf: dié nag het ek al geweet: soontoe lê die vryheid. Al soontoeër. Maar presies waar begin dit dan, anderkant watter berg, oorkant watter rivier? Waar hou die suide op met trek aan ’n mens, soos ’n gety, ingesuig soos deur die wind: diékant toe, mense toe, kindwees toe? En daar gooi jy nou jou skaduwee teen die tent – jy weet dit nie eens nie: of minag jy my soveel dat jy nie eens omgee nie? – en kam jou hare; jou skouers en jou arms beweeg; jy draai en ek sien die puntjies wat jou tepels maak, koud van die

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1