Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Ys
Ys
Ys
Ebook431 pages7 hours

Ys

Rating: 4.5 out of 5 stars

4.5/5

()

Read preview

About this ebook

Kassie Kasselman en Rooi Els bevind hulle in die Spesiale Spookeenheid – ’n elite groep van die SAPD. Maar as oud-stasiespeurders word hul vaardighede ernstig bevraagteken deur hul nuwe bevelvoerder. Wanneer ’n Amerikaanse wetenskaplike in ’n Waterfront-hotel vermoor word, is dit ’n gulde geleentheid om hul staal te wys, tussendeur ’n Washington-gekonkel, ’n oud-Pollsmoor-gevangene op vrye voet in Kaapstad en duisterhede in hul bevelvoerder se persoonlike lewe. En dan is daar die man met Die Drang . . . en sy kettingsaag. Ysingwekkende oomblikke wag op Kassie en Rooi.
LanguageAfrikaans
PublisherQueillerie
Release dateMar 27, 2018
ISBN9780795801518
Ys
Author

Rudie van Rensburg

Rudie van Rensburg woon in Kaapstad en het al vyf uiters gewilde spanningsverhale geskryf: Slagyster, Kopskoot, Judaskus, Pirana en Kamikaze. Hy was ook samesteller van die misdaadverhalebundel Op die spoor van en het ’n besige 2017 afgesluit met die baie suksesvolle komiese roman Hans steek die Rubicon oor.

Read more from Rudie Van Rensburg

Related to Ys

Related ebooks

Related articles

Related categories

Reviews for Ys

Rating: 4.25 out of 5 stars
4.5/5

4 ratings0 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

    Book preview

    Ys - Rudie van Rensburg

    RUDIE VAN RENSBURG

    YS

    Queillerie

    Proloog

    ’n Dowwe knal weerklink in sy ore, net-net hoorbaar bo die gesuis van die tierende wind.

    Hy gil van die steekpyn in sy blad, verloor sy greep op die slee se handvatsel, val sywaarts en ploeg ’n voor deur die dun sneeulaag op die klipharde ysveld.

    Daar is die metaalsmaak van bloed in sy mond toe hy op sy maag rol en sy kop lig. Die slee lê op sy sy, die honde maal angstig rond. Hy kreun van die pyn toe hy probeer om sy bolyf op te lig en sy arms weier om te reageer. Warm vog stoot in sy keel op. Dit voel of hy gaan verstik.

    Hy draai sy kop met moeite sywaarts toe hy stemme hoor. Duidelik afgeëts teen die verblindende Arktiese lug kom twee mans aangestap, jaggewere oor hul skouers.

    Hy wil vra hoekom hulle hom geskiet het, maar kry nie die woorde gevorm nie. Bloed borrel by sy mond en neus uit. Sonder ’n woord gryp elkeen ’n voet vas en begin hom sleep. Hulle stap met mening en hy kners op sy tande om nie van die pyn te skree nie.

    Op die kruin van die ysrif sien hy vir die laaste keer die slee en honde. Swart spikkeltjies in die sneeulandskap. Sy bloedspoor kronkel van daar af soos ’n rooi rivier wat na sy watergraf lei.

    1

    Van JFK af ry Willie Nel met die trein onderdeur die East River na die Groot Appel. Hy klim by ’n moltreinstasie af, maar besef eers hy was oorhaastig toe hy in 79th Street uitstap. Hy wink swetsend ’n taxi nader, nie bereid om sy swaar tas die hele ent te dra nie.

    Vandag bewonder hy nie soos gewoonlik die wolkekrabbers van Manhattan nie. Die kenmerkende energie van die voetgangers op die sypaadjies behou ook nie sy aandag nie.

    Die vlug van Alaska af was uitputtend. Hy was van Juneau na Chicago op pad, maar moes op die laaste nippertjie sy kaartjie kanselleer en ’n vlug na New York bespreek. Wat sou MacArthur in New York doen? En hoekom sy dringende behoefte om vandag te ontmoet? Die sending van twee weke gelede was tog suksesvol; niemand vermoed enige onraad nie.

    Die taxi laai hom in West 88th Street af. Hy stap ’n draai om ’n stomende mangat voordat hy met die tas teen ’n paar trappe opsukkel na die sypaadjie.

    The Fast Food Mecca is ’n tipiese systraatrestaurantjie, eerder die uithangplek van die omgewing se kantoorwerkers as ’n toeristetrekpleister. Die plek is swak verlig en die reuk van ou kookolie en aartappelskyfies hang swaar in die lug. Daar is nog geen teken van MacArthur nie. Willie gaan sit teen die venster vir ’n uitsig op die straat.

    Minute later stop ’n swart limousine aan die oorkant van die straat. Die agterdeur word oopgemaak en senator Jack MacArthur klim uit. Met ’n swaaiende wysvinger gee hy instruksies aan die chauffeur voordat hy oor die straat waggel.

    In die restaurantjie sien hy Willie dadelik en wink hom met ’n breë glimlag nader. Kom ons gaan sit daar agter waar dit stiller is, sê hy met sy dralende Texas-aksent.

    Hy vee met ’n rooi sakdoek die sweet van sy voorkop af en bestel ’n worsbroodjie met skyfies en ekstra tamatie-en-uiesmoor. Willie bestel net koffie.

    Nie honger nie? vra MacArthur.

    Ek’t op die vliegtuig ontbyt geëet.

    MacArthur leun met sy arms op die lendelam tafeltjie wat onder sy gewig kreun. Ek’s bly jy kon dit maak. ’n Sweetlagie blink op sy bolip.

    Wat doen jy in New York? vra Willie.

    Vir vinnige sake hier. Ek’s môre weer op pad terug Washington toe.

    Wat’s so dringend dat ek hierheen moes kom?

    MacArthur sug. Sy assistent vermoed iets.

    Sy assistent?

    Ja, ek moes jou ingelig het oor die man, maar ek het nie besef die donner gaan so lastig wees nie. Jou manne moes hóm ook eintlik uitgehaal het.

    Waarop grond hy sy vermoedens? Nie eens die media ruik onraad nie.

    Op niks. Sê net sy baas sou nooit daar iets oorgekom het nie. Daarvoor was hy glo te versigtig en het hy die toestande te goed geken.

    Hoe het dit by jou ore uitgekom?

    Hy’t met die president se stafhoof gaan praat. Hulle was glo destyds klasmaats op Harvard. Die stafhoof het my gebel. Dis duidelik die assistent dink ek of een van my komiteelede ‘mag iets daarvan weet’, soos hy dit gestel het. Verbeel jou!

    Wat sê jy toe vir hom?

    MacArthur grynslag. Dat die groenes ’n fanatiese spul is wat niemand ernstig kan opneem nie. En dat ek en my komitee sy universiteitsvriendjie se gat hof toe sal sleep as hy voortgaan met sulke wilde en ongegronde aantygings.

    ’n Kelner met tamatiesousvlekke op sy wit baadjie bring hulle bestelling. MacArthur neem ’n groot hap van sy worsbroodjie. Sous loop in twee dun straaltjies uit sy mondhoeke aan weerskante van sy ken af. Hy vee dit met ’n papierservet af, maar ’n dun streep sous bly op ’n bolwang agter.

    Hy kyk na Willie. Ons sal van die assistent ontslae moet raak.

    Sal dit nie juis agterdog wek nie? Niemand neem hom tog seker ernstig op nie?

    MacArthur skud sy kop. Ek het nie ’n keuse nie. Die bliksem gaan nou in sy baas se plek die referaat by die konferensie lewer, wat beteken hy sal die aandag van die wêreldmedia geniet. Hy kan besluit om sy vermoede oor sy baas se verdwyning uit te basuin. Kan jy dink watse slegte publisiteit dít kan afgee? Al Amerika en Europa se voorste omgewingsjoernaliste gaan by die konferensie wees.

    Sal hy dit waag?

    Jou raaiskoot is so goed soos myne. Maar die referaat gaan op sigself groot golwe maak, wat ek nie nou kan bekostig nie. Dis waarom ons in die eerste plek van sy baas ontslae wou raak.

    Hy tik met sy voorvinger op die tafeltjie. Die referaat is geskeduleer vir twee weke van nou af. ’n Dag of twee daarna stem die Huis van Verteenwoordigers oor my komitee se voorgestelde wysigings aan die energiewet, en ’n paar dae later dien dit voor die Senaat. Ek moet nog ’n klomp Kongreslede voor daardie tyd swaai, en die referaat kan my hele appelkar omgooi.

    Willie reageer nie. Die besonderhede van die Amerikaanse politiek interesseer hom nie.

    Tot nou toe lyk dit of ons op die meeste Republikeine in albei huise se steun kan reken, gaan MacArthur voort, "maar dis nog nie ’n gegewe nie. Prominente mediaberigte oor die referaat kan fataal wees – groen kwessies is mos deesdae die Washington Post en hoofstroom-TV-stasies se bleddie stapelvoedsel. Dit kan ’n paar van die Republikeine en veral die klomp draadsitters van die Demokrate oortuig om teen die wysigings te stem."

    Hy grinnik, vat nog ’n hap van sy worsbroodjie. Gelukkig is ons president ten gunste daarvan. Hy meen aardverwarming is ’n bullshit-konsep wat die Chinese geskep het om Amerikaanse vervaardiging nie-mededingend te maak. Maar soos jy weet, is selfs sý hande afgekap as die Kongres dit nie goedkeur nie.

    Jack, ek wil nie jou oordeel bevraagteken nie. Ek was nog altyd bereid om die vuilwerk te reël, want jy betaal goed. Maar tree jy nie nou oorhaastig op om die assistent te wil uithaal nie?

    MacArthur lag. Komende van jou is dit nogal ’n verrassing! Jy sien gewoonlik vir enigiets kans.

    Hy leun vorentoe. Hierdie voorsitterskap van die komitee is vir my belangrik, Willie. Alle oë is op my om te sien of ek die wysigings kan deurdruk. Dit sal ook as maatstaf dien om te wys of ek met toekomstige presidentsverkiesings ’n geskikte kandidaat kan wees.

    Hy neem ’n skyfie, doop dit in die sous en hap behaaglik. Oor ’n honderd jaar van nou af wil ek nie net ’n terloopse voetnota in die geskiedenisboeke wees nie. Daar moet hoofstukke aan my gewy word. In Washington noem hulle dit aspirasie.

    Willie knik net. Is dit bloot politieke retoriek of dink MacArthur regtig hy staan ’n kans? wonder hy. Of betaal die oliebase MacArthur onder die tafel deur om te sorg dat hy die wysigings aanvaar kry?

    Willie vermoed dis laasgenoemde. Die Republikeine sal nooit iemand met so ’n duistere verlede as presidentskandidaat steun nie. MacArthur het net te veel geraamtes in die kas – en hy behoort dit te weet. Maar dis nie Willie se plek om met die senator daaroor te redekawel nie.

    Reg, ek maak soos jy sê, stem hy in. Waar bevind die assistent hom nou? Jy wil hom seker geëlimineer hê voor hy na die konferensie vertrek?

    Juis nie. Dan soek ons vir moeilikheid. Jy sal hom by die konferensie moet gaan uithaal.

    In Suid-Afrika?

    MacArthur glimlag. Ek het gedink jy sal bly wees om jou geboorteland weer te besoek. Blykbaar is ’n lewe daar deesdae nie veel werd nie. Laat dit soos ’n inbraak lyk wat skeefgeloop het. Jy moet seker nog betroubare vriende hê wat jou daar kan help? En die gunstige wisselkoers behoort hulle dienste baie bekostigbaar te maak.

    Ek was twaalf jaar laas in Suid-Afrika.

    Maar jy’t nog vriende daar?

    Willie knik.

    Dan kan julle oormôre lekker reünie hou. Jy klim laat vanmiddag op ’n direkte vlug Kaapstad toe. Ek het reeds gereël dat ’n kaartjie vir jou bespreek word. Dit help dat jy nog jou Suid-Afrikaanse paspoort het.

    * * *

    Frankie Kriel skud hand met die paroolraad se toesigbeampte. Dié stel hom voor as Ludick, ’n lang man met ’n buitengewoon rooi neus en ’n borselkop.

    Jy’s oor ’n week ’n vry man, Kriel, sê Ludick toe hulle regoor mekaar in ’n administratiewe kantoor van die Pollsmoor-gevangenis gaan sit.

    Daar is niks hartliks aan die manier waarop hy dit sê nie. Hy plooi sy breë voorkop en staar koud na Frankie. Dit kan die begin van ’n nuwe lewe vir jou wees.

    Dit gáán, meneer, sê Frankie vasberade.

    Ludick tik met sy vinger op die pak dokumente voor hom. Saam met jou vryheid kom groot verantwoordelikheid. Net één misstap en jy’s terug in jou sel.

    Ek weet, meneer. Die paroolraad het so gesê.

    Daar verskyn ’n fyn glimlag om Ludick se mond, maar sy oë lag nie saam nie. Vergeet eers van die paroolraad. Van die oomblik dat jou pote civviestraat strike, is jou lot in mý hande.

    Ek sal meneer nie teleurstel nie. Vyftien jaar hier was lank genoeg.

    Ludick skud sy vierkantige kop stadig. Gmf, dit het ek al te veel kere gehoor. Famous last words van baie van jou buddies hier binne.

    Lyk nie of dié nors bliksem met enige van sy antwoorde tevrede gaan wees nie, dink Frankie. Beter om net sy bek te hou.

    Ludick slaan ’n lêer oop. Ek sien jy’t ’n vaste adres opgegee?

    Frankie knik.

    Wie’s dié Sue Kriel wat die huiseienaar is? Jou vrou?

    Hy knik weer.

    Ludick kyk hom sinies aan. En sy’t jou nooit in dié tyd ingetrade vir ’n ander man nie? Of jou verneuk met iemand anders nie?

    Die bliksem probeer hom uitlok, besef Frankie. Nee, meneer.

    Hoe’s julle verhouding?

    Baie goed, meneer.

    Besoek sy jou gereeld hier?

    Elke week, meneer.

    Watse werk doen sy?

    Sy’s ’n ontvangsdame by ’n dokter.

    Ludick klap die lêer toe. Reg, luister nou mooi. Jou paroolvoorwaardes bepaal die volgende: Jy mag nie saans ná tien jou huis verlaat nie. Jy mag nie ’n kroeg of nagklub besoek of in enige openbare plek alkohol gebruik nie. Word jy ooit met ’n vuurwapen in jou besit betrap, kom jy reguit terug tronk toe. Jy mag nie die Wes-Kaap sonder my toestemming verlaat nie.

    Hy kyk stip na Frankie. En dan die belangrikste … elke Vrydag meld jy presies om eenuur hier aan sodat ek kan hoor of jy vordering maak om ’n werk te kry.

    Weer die siniese trek om sy mond. Ek sien jy’t darem deur Unisa ’n diploma in biblioteekkunde gekry en gevorder tot hoof van die tronkbiblioteek. Wat het jou besiel om jou tyd só te mors?

    Ek’s lief vir boeke en ek het gedink …

    Biblioteke gaan nie in ’n tronkvoël belangstel nie, veral nie ’n tronkvoël wat sy eie broer vrekgeskiet het nie. Jy moet jou visier maar laer instel. Dalk kan jy iewers in ’n biblioteek die vloere skrop of boeke afstof as jy dan nou kwansuis so lief is daarvoor.

    Sue … my vrou het geld gespaar. Ons het gedink ek kan dalk ’n winkeltjie met tweedehandse boeke begin.

    Ludick se wenkbroue lig. Behoede my! Nou wil jy jou lyf entrepreneur hou. Wat de fok weet jy daarvan om ’n business te run?

    Niks, meneer, maar …

    Presies, jy weet niks! So los jou bullshit-idees en soek ’n regte werk, man. Jy gaan jou vrou se spaargeld nodig hê om te oorleef. Want ek kan jou nóú sê jy gaan nie oornag geholpe raak nie.

    Maar ek …

    Ludick hou sy hand omhoog. Ons het klaar gepraat, Kriel!

    2

    Van: Jack MacArthur

    Aan: Myles J. Turner

    Om jou vraag van nou die dag beter te beantwoord: Die jongste Amerikaanse geologiese studie wys dat die Arktiese sirkel 13% van die wêreld se olie en 30% van alle natuurlike gasreserwes huisves – en dis ’n konserwatiewe skatting. Trouens, die moontlikheid bestaan dat die Noordpool die grootste onontginde oliebronne op aarde huisves.

    Intussen steek die Russe en Kanadese ondersese kleims af teen ’n verblindende spoed. Dis iets wat die VSA nie kan doen nie omdat ons, anders as die res van die Arktiese nasies, die enigste land is wat nie die Verenigde Nasies se Arktiese verdrag onderteken het nie. Jy sal onthou dat ons eie Republikeine by ’n vorige sitting ’n stokkie daarvoor gesteek het omdat hulle sogenaamd nie die VSA se soewereiniteit wou verwater ter wille van ’n VN-verdrag nie.

    Ons skiet onsself in die voet met dié houding. Indien ons ’n ja-stem vir ons wysigings aan die energiewet kry, sal ons die verdrag kan ondersteun. Dit sal die VSA onmiddellik in staat stel om kleims in die see aangrensend aan Alaska af te steek, in ’n olieryke gebied wat twee keer die grootte van Kalifornië is.

    * * *

    Shaheena Fortuin sit in magtelose swye terwyl hy haar aan die kombuisstoel vasbind. Haar arms is agter haar rug en hy slaan die tou om haar middellyf voor hy dit aan die rugleuning vasknoop. Sy deins terug vir sy bedompige drankasem waar hy gebukkend oor haar staan en werk.

    Dit help nie sy sit haar teë nie. Sy weet uit ondervinding dit sal die situasie net vererger. ’n Paar weke gelede het hy haar aan die bed vasgemaak. Sy het weerstand gebied – met die gevolg dat sy deur haar eie man verkrag is.

    Hy staan tevrede terug, neem nog ’n sluk uit die half-jack.

    Sy hou haar trane met moeite terug. Hoekom doen jy dit, Elton? vra sy sag om hom nie te ontstel nie.

    Omdat ek nie meer eye to eye met jou kan praat nie, Shaheena! skree hy.

    Hy sluk weer van die brandewyn. Vandat Shaheena Fortuin mos so important is, kom sy eers ounag huis toe. En ás jy die slag hier is, sit jy in die study om kamstig werk in te haal. Altyd excuses waarom jy nooit na my kan luister nie.

    Hy slaan met sy vuis op die tafelblad. In hierdie fokken huis is jy nié in charge soos by jou werk nie. Hier luister jy na my as ek praat, al moet ek jou ook vasmaak.

    Nou … kom ons gesels, Elton. Sy hou haar stem gedemp. Onderdruk die drang om vir hom te sê hy is in elk geval saans selde tuis.

    Hy gaan sit op die stoel oorkant haar. Sy oë is rooi en die pofferigheid van sy gesig is vanaand meer opvallend onder die skerp daklig. ’n Netwerk aartjies loop kruis en dwars oor sy wange.

    Ek wil meer geld hê. Dis ’n bleddie joke wat jy elke maand vir my inbetaal!

    Sy moes dit geweet het.

    Ons het mos al hieroor gepraat, sê sy sussend. Ek dra die verantwoordelikheid om die huis en die twee karre af te betaal, die krag en water en kruideniersware … en om jou ’n toelae te gee. Ek kan nie meer …

    Bullshit, Shaheena! Hy druk met sy handpalms op die tafelblad en leun vorentoe. Jy kry nou ’n moerse groot salary. Ek het jou pay slip in die study gesien.

    Ek moet geld wegsit vir onvoorsiene gebeure ook.

    Onvoorsiene fokken gebeure! Hy spring op. Moenie kak in my kop probeer praat nie! Ek’s nie een van jou onderdane by die werk nie. Vandat jy daai job gekry het, verbeel jy jou hopeloos te veel.

    Daai job hou ons aan die lewe.

    Gmf, jy’s fokol meer as ’n kwotaspeler. Jy sou nie daai job gekry het as jy ’n wit vel gehad het nie. Hulle gaan binnekort agterkom jy’s nie so bright as wat hulle scheme nie. En dan?

    Sy neerhalende verwysing na haar bekwaamheid laat haar kop verloor. Sy verhef haar stem. Fok jou, Elton! Jou vel is ook bruin, dan kan jy mos maklik ook weer ’n goeie job kry. Eerder as om my hardverdiende geld weg te dobbel en uit te suip!

    Hy skop sy stoel onderstebo, draai na die skottelgoedkas en pluk die boonste laai oop. Sy kneukels span wit om die kombuismes; die lang lem blink in die lig. Hy tik-tik met die mespunt op die tafelblad.

    Haar hart klop in haar keel. Wat nou, Elton? Gaan jy my doodmaak? Waar gaan jy dán geld kry?

    Hy slinger die mes teen die yskas vas. Dit val kletterend op die teëlvloer. Sy regterhand bal in ’n vuis. Dan storm hy vorentoe.

    Die hou tref haar teen die wangbeen. Die geweld daarvan laat die stoel omkantel en sy slaan op haar sy op die vloer neer. Sy probeer hard om nie emosie te wys nie, maar iets in haar knak. Haar rou snikke weerklink deur die vertrek.

    Ná ’n rukkie buk hy oor haar en begin haar losmaak.

    Sorry, sorry, Shaheena, prewel hy, sy drankasem warm in haar gesig. Ek’t nie bedoel om jou só hard te slaan nie.

    * * *

    Willie loop heen en weer in sy hotelkamer in die Kaapse middestad. Pootuit van die reis van amper twintig uur is hy gisteraand reguit bed toe, maar vanoggend het hy darem al vordering gemaak. Hy weet nou waar die man vir die omgewingskonferensie sal tuisgaan en dat hy oor nege dae inboek.

    Nie die bleddie wêreld se tyd nie, dink Willie.

    Hy trek die gordyne oop en staar na die bedrywighede onder in die straat. Groentemarkplein het nie veel verander van toe hy nog in die stad gebly het nie. Dalk nou net meer Afrikastalletjies as twaalf jaar gelede. Dis maskers, beelde, veelkleurige kunswerke en krale oral waar jy kyk.

    Dit voel soos ’n leeftyd gelede dat hy as kolonel Willie Nel van die destydse Skerpioene die Kaap sy huis genoem het. Hy glimlag wrang. Die nuwe Suid-Afrika het sy loopbaan laat ontspoor, en hom indirek as gevolg daarvan weer hier kom uitspoeg. Dié keer vir ’n operasie aan die verkeerde kant van die gereg.

    Hy wonder dikwels hoe sy lewe sou verloop het as hy en Viking nie destyds gekrap het waar hulle nie moes nie. Toe was dit maar net te maklik om ontslae te raak van ’n wit offisier wat in ’n interne verhoor skuldig bevind is op aanklag dat hy alle amptelike prosedures gruwelik verontagsaam het. Daar was groot druk op die Skerpioene om die kleursamestelling van hul topstruktuur verteenwoordigend te maak van die land se bevolking, en Willie se misstap was ’n welkome bonus vir hul herstruktureringsplanne.

    Hy het Viking destyds beskerm en aangevoer dat hy bloot opdragte uitgevoer het en nie aanspreeklik was nie. Dit was nie nodig dat albei van hulle onder die valbyl beland nie, het Willie geredeneer. Viking was hom ewig dankbaar vir dié daad van lojaliteit, maar sy loopbaan is in elk geval twee jaar later kortgeknip toe die Skerpioene deur die Valke vervang is. Viking is gedwing om ’n pakket te vat – op agt-en-dertig ’n doodsvonnis vir die arbeidsvooruitsigte van ’n wit man.

    Hy het sy pakketgeld in ’n hoekkafeetjie in Parow belê, maar dit het kennelik misluk. ’n Maand gelede het Willie ’n e-pos van hom gekry met die nuus dat hy sy sukkelende onderneming teen ’n helse verlies verkoop het. Hy wou weet of Willie nie vir hom ’n job in Amerika het nie.

    Viking het egter nie die regte profiel vir een van sy bystandspanne nie. Willie kies sy manne met die hand uit om onder die radarskerm van die gereg hul wandade te pleeg – vaal, weerlose Amerikaners wat afgepers en gemanipuleer kan word. Danksy MacArthur en van sy ander kollegas in Washington word hulle mildelik vergoed vir die spesiale opdragte wat hulle via Willie ontvang. Gewoonlik moet hy die regte mense werf om skandes uit te snuffel van MacArthur en sy meelopers se politieke teenstanders. Dis maar eers in die laaste drie jaar dat moord ook op die agenda gekom het. Dit het nuwe uitdagings gestel, en Willie moes begin soek na gewetenlose misdadigers wat teen ’n stewige fooi iemand anders se lewe sal neem.

    Viking pas nie in een van die twee groepe nie, en nie omdat hy sou terugdeins vir enige taak nie. Trouens, destyds by die Skerpioene was Viking meestal ’n ongeleide missiel. Willie het sy hande vol gehad om te keer dat hy nie voor die voet martel en doodmaak nie.

    Maar Viking se sterk persoonlikheid pas nie by die korps swakkelinge wat soos aasvoëls op die volgende aalmoes wag nie. En anders as hulle wou hy Viking nie blootstel aan die risiko van terminasie in die geval van ’n misstap nie. MacArthur glo nie daaraan om spore agter te laat nie.

    Nou het Willie geen keuse nie – hy sal Viking móét betrek. Dis al siel in Suid-Afrika wat hy kan vertrou.

    Die geluid van ’n boodskap wat deurkom op sy skootrekenaar lei sy gedagtes af. Hy stap haastig na die sitkamer en kyk op die skerm. MacArthur het die geld vir die job inbetaal. Dis baie in Suid-Afrikaanse terme, maar kleingeld vir ’n dollar-multimiljoenêr.

    Willie raap die selfoon op wat hy gister op die lughawe gekoop het en bel Viking se nommer. Terwyl die foon lui, bestudeer hy homself in die groot muurspieël. Sy gesig is ingesonke, die donker kringe onder sy oë staan uit teen sy bleek vel. Sy nek lyk soos ’n ou man s’n, gekreukel en vol rimpels.

    Dís die prys wat hy betaal vir al sy slapelose nagte en gewroeg oor moorde op onskuldige mense, dink hy wrang. Mense wie se enigste oortreding was dat hulle ’n ligte struikelblok op MacArthur se pad na politieke sukses was.

    3

    Van: Jack MacArthur

    Aan: Dick Woods

    Soos ek vlugtig in die teekamer genoem het: Daar heers ’n nuwe geo-politieke Koue Oorlog aan die Noordpool – een wat die VSA verloor. ’n Kommandant van die kuswag het onlangs aan my gesê ons is nie eens in dieselfde liga as Rusland nie. Die enigste manier om in alle dele van die Arktiese sirkel op die oppervlak van die see te beweeg, is met ysbrekers, onder meer om navorsing na behore te doen en ons vloot- en kommersiële skepe toegang tot die gebied te gee. Die VSA het net twee ysbrekers, want ons het nie ’n begroting wat toegewys is vir daardie doel nie (neem ook in ag dat dit jare duur om ’n ysbreker te bou). Rusland, daarenteen, het 27 ysbrekers! En China, wat nie eens ’n Arktiese nasie is nie, het twee. ’n Ja-stem vir die wysigings aan die energiewet sal beteken ons kan ’n afsonderlike ysbreker-begroting kry, wat hierdie agterstand sal laat krimp.

    * * *

    Kaptein Kassie Kasselman tuur by sy kantoorvenster uit oor Buitenkantstraat in die Kaapse middestad. Die grou lug en sagte winterreën lig nie sy gemoedstemming nie. Hy is gefrustreerd. Twee maande hier sonder dat hy ’n enkele saak hanteer het!

    Snags lê hy wakker oor sy besluit om by die SAPD aan te bly. Ses maande gelede, toe hy sy bedanking by die Nuweland-polisiestasie ingedien het, was hy doodseker hy’s klaar met die Diens. Net te veel dinge het gepla. Maar ’n dag later kry hy ’n oproep van ’n kolonel wat personeel werf vir die SAPD se nuwe elite-speureenheid.

    Die polisiehoof wil ’n proefneming doen met dié eenheid deur dit vry te stel van alle red tape, het die kolonel verduidelik. Dit sal net hoëprofielsake ondersoek en voorkeurbehandeling by ons forensiese dienste kry. Al die ander frustrerende en tydrowende adminprosesse sal nie vir die Spookeenheid geld nie. Die lede sal soms sy aan sy met die Valke werk om die druk op hulle te verlig. Die idee is om ’n eenheid in die SAPD te skep wat vinnig en hard op ernstige misdadigers kan toeslaan. Vaartbelyndheid word gewaarborg – net mooi niks moet in die eenheid se pad staan om sy werk te verrig nie.

    Kassie het geswig voor dié geelwortel van ’n doeltreffende eenheid. As hy eerlik moet wees, wou hy dalk ook nie uit sy SAPD-gemaksone beweeg nie. ’n Skuif na die privaat sektor om vir die Afrika-buro van Sekerheidsdienste te gaan werk, sou te veel aanpassings verg, het hy oplaas besluit.

    Hy het egter een voorwaarde gestel: Sy jare lange kollega by die Nuweland-polisiestasie, sersant Rooi Els, moet saam met hom oorgeplaas word sodat hulle as ’n span kan werk. Hy’t nie kans gesien vir ’n nuwe partner nie. Die kolonel het dit teensinnig aanvaar. Rooi was in die wolke oor sy loopbaanhupstoot.

    Die oorplasing het nie in ’n oogwink gebeur nie omdat die Spookeenheid nog nie bestaan het nie. Kassie en Rooi moes nog vier maande by Nuweland vasbyt. In dié tyd het die stasiebevelvoerder, kolonel Daniels, uit sy pad gegaan om die lewe vir hulle onaangenaam te maak. Hulle is toegegooi met elke denkbare klein sakie wat gewoonlik vir groentjiespeurders gereserveer word. Dit was Daniels se manier om wraak te neem op hulle verraad deur die stasie te verlaat, soos hy dit gestel het.

    Eers twee maande gelede het Kassie en Rooi hier op die derde verdieping van die gebou in Buitenkantstraat ingetrek. Dis vir Kassie ’n vreemde kantooromgewing, sonder ’n uniform in sig. Net ’n bevelvoerder, sekretaresse en ses speurders (drie spanne van twee elk) sal aanvanklik aan die proefneming deelneem, saam met ’n soortgelyke eenheid in Johannesburg.

    Hulle staan bekend as die Spesiale Spookeenheid – spesiale is op die laaste nippertjie bygevoeg om hulle te onderskei van die Kaapstadse munisipaliteit se Spookeenheid teen verkeersoortreders. Die Afrikaanse afkorting van die eenheid, SS, mag onder geen omstandighede gebruik word nie weens die negatiewe konnotasies, het hulle nuwe bevelvoerder beveel; daar moet te alle tye gehou word by SGU (Special Ghost Unit).

    Die poephol wat die naam uitgedink het, het natuurlik geen idee van Afrikaans nie, het Rooi nog gespot. Seker gedink die vertaling van ghost is gees.

    Nog ’n wending was dat die hele span speurders eers vir ’n maand na die polisielaboratorium in Plattekloof gestuur is om heropgelei te word om moordtonele na behore te benader. Ek wil seker maak hierdie eenheid ploeter nie rond soos van julle kollegas die afgelope paar jaar in soveel hoëprofielmoordsake nie, het die brigadier gesê.

    Terug op kantoor is daar die afgelope maand nog net twee moordsake aan die SGU toegewys. Die ander twee speurspanne is daarmee belas, en Kassie en Rooi moes hulle maar intussen besig hou met die deurlees van pakke en pakke opleidingsmateriaal. Dis sodat julle kan verstaan watter hoë verwagtinge ek aan my speurders stel, het die brigadier gesê.

    Kassie kyk op toe Rooi instap met ’n botteltjie Creme Soda en ’n vleispastei in die hand. Hy plak die koeldrank op Kassie se lessenaar neer.

    Bliksis! kla hy. Ek gaan nie eens tyd kry om my paai te eet nie. Toe ek van die kêffie af inkom, sê daai suurpruim-sekretaresse ons moet kom insit by die terugvoersessie van Colyn-hulle se moordsaak.

    Enjoying the preview?
    Page 1 of 1