Discover millions of ebooks, audiobooks, and so much more with a free trial

Only $11.99/month after trial. Cancel anytime.

Feniks
Feniks
Feniks
Ebook473 pages7 hours

Feniks

Rating: 3.5 out of 5 stars

3.5/5

()

Read preview

About this ebook

Kaptein Mat Joubert moet ’n sjarmante rower vastrek wat die een bank ná die ander teister, en terselfdertyd moet hy ook die bloedspoor vat van ’n laksman. Maar op 34 is Mat oorgewig en hy rook en drink te veel. Bart de Wit, Moord en Roof se nuwe politiek korrekte bevelvoerder, pas terug uit exile, plaas druk op hom. Daar is nog hierdie één kans om homself te bewys en weer voor te begin … Hierdie roman het in Engels verskyn as Dead before dying.
LanguageAfrikaans
Release dateMay 29, 2012
ISBN9780798157421
Feniks
Author

Deon Meyer

Internasionaal bekende skrywer Deon Meyer woon op Stellenbosch. Sy publikasies sluit in dertien misdaadromans (onder meer Spoor, 2010, 7 Dae, 2011, Kobra, 2013, Ikarus, 2015, Koors, 2016, Prooi, 2018, en Donkerdrif, 2020). Orion, Proteus en Infanta is met die ATKV-prosaprys bekroon en Prooi met die ATKV-prys vir Spanningsfiksie.

Read more from Deon Meyer

Related to Feniks

Related ebooks

Related articles

Reviews for Feniks

Rating: 3.6868131934065937 out of 5 stars
3.5/5

91 ratings5 reviews

What did you think?

Tap to rate

Review must be at least 10 words

  • Rating: 4 out of 5 stars
    4/5
    This book took awhile to get going but I'm glad that I stuck with it. It's more than just a mystery. The book central character's personal and professional life is the central focus, the mystery is secondary. The African setting is interesting. It gave me a glimpse into a culture that I know very little about. I look forward to reading Deon Meyer's next book.
  • Rating: 5 out of 5 stars
    5/5
    It was my first Meyer's but definitely not my last one. The story is taking place in Cape Town with all its problems as violence, difficulties of racism, politic etc.. M.A.T. Joubert working as a Captain at the Murder and Robbery department is the main character. He struggles with the murder of his wife as well with his smoking habit, his bad shape and his heaviness. With his team he has to solve a series of murders and in a side show to stop a series of bank hold-up. He has got some good colleagues which are helping him. I've got familiar very quickly with all the protagonists and liked their character as well. It's a fast-paced and gripping reading and kept me guessing until the very last page.
  • Rating: 5 out of 5 stars
    5/5
    Mat Joubert has a lot of troubles. The mid-30's Capetown police captain has been a widower for two years, following the on-duty murder of his undercover police wife - and he still has difficulties dealing with the void in his life. Mat has a new boss who makes it clear that he wants a fit team, and before he knows it Mat has visits scheduled with a physician, dietician and psychologist. His good friend Benny has problems with the bottle and Mat questions his own manhood since he has been out of practice ever since......Then there is the serial killer on the loose using a rather distinctive handgun more than 100 years old. Is this random, or is there a tie that unites all the victims. Oh, and there's the bank robber with all the odd disguises. As you might imagine the story is fast paced and continues to switch between Mat's job and his personal issues - but both are deliciously intertwined. This is Deon Meyer's first book, written in the late 1990's. It is a stand-alone of sorts since there isn't a Joubert #2 but other characters such as Benny reappear in future books. I'm a big fan of Meyer and I had the impression that his first books weren't quite as good as the current ones, but in my book (pun) if there are quality differences, they are small. I thought the ending of this one could have been a bit better and a tad less obvious but I still rated this 4.5 stars. My biggest disappointment is nothaving another Mat book.
  • Rating: 3 out of 5 stars
    3/5
    My recent introduction to South African Deon Meyer was his newest crime novel (Trackers), and second up was this, his debut novel 'Dead before Dying' (published in the 1990s). A police procedural, I thought it just ok for a debut novel; not as good as Trackers, the ending was too much of a coincidence and somewhat unbelievable, and I didn't see much point to the bank robbery story. The characters and interactions were a positive though. Based more on what I thought of Trackers, I will read another.
  • Rating: 4 out of 5 stars
    4/5
    captain marcus joubert, large Africaaner. very enjoyable read.

Book preview

Feniks - Deon Meyer

Deon Meyer

Feniks

Human & Rousseau

Aan kapt. Peter Lister en sers. Jeff Benzien van Moord en Roof in Kaapstad, baie dankie; ook aan maj. Otto, afgetrede SAP-wapendeskundige, en prof. Jan Olivier, voormalige hoogleraar in geregtelike geneeskunde aan die Universiteit van die Vrystaat.

Elke saak, elke dossier is soos om ’n krans uit te klim. Soms is die vashouplek, die trapplek maklik en jy vorder vinnig tot bo by die kruin, waar jy die lasbrief oorhandig, ’n netjiese pakkie van motief en bewysstukke, oorsaak en gevolg. Maar soms, soos dié een, is die krans glibberig en glad, sonder skeure waar jy voete en hande kan inwikkel. Jy klim en jy gly, klim en gly sonder vordering, sonder ’n pad na bo.

Tutta la vita è morte.

– GIUSEPPE VERDI

Een

In die middagstilte van 31 Desember dink Mat Joubert aan die dood.

Sy hande maak die dienspistool, die Z88, met meganiese bewegings skoon. Hy sit in sy sitkamer, vooroor in die leunstoel, die onderdele van die pistool op die koffietafel voor hom, tussen laprepe, borsels en ’n oliebuis. ’n Sigaret in die asbak skei ’n lang, dun pluim rook af. Bo hom, by die venster na buite, vlieg ’n heuningby met eentonige reëlmaat teen die glas vas, ’n irriterende poging om uit te gaan na die somermiddag waar die suidoos liggies waai.

Joubert hoor dit nie. Sy bewussyn sleep koersloos tussen herinneringe van die afgelope weke deur, tussen kronieke van die dood, sy brood en botter: Die wit vrou op die kombuisvloer, op haar rug, skepspaan in haar regterhand, omelet verbrand op die stoof, die bloed ’n bykomende spatsel kleur in die aangename vertrek. In die sitkamer, die seun, negentien, in trane. Dit was ’n ongeluk. Die Here hoor my. Die R3 240 in sy leerbaadjie se sak, die dik rol note, ’n klagstaat.

Die man tussen die blomme: ’n makliker herinnering. Die Dood Met Waardigheid. Hy sien weer die speurders en uniformmanne op die oop nywerheidserf, tussen die grou fabrieksgeboue. Hulle staan in ’n kring, kniediep tussen die veldblomme wat geel en wit en oranje na bo beur. In die middel van die geregtelike sirkel lê die lyk van ’n middeljarige bruin man, klein van gestalte. ’n Leë bottel brandspiritus in een hand vasgeklem, die gesig na onder, die wang teen die grond.

Maar sy oë is toe. En sy ander hand omvou ’n paar blomme, nou verwelk.

Dit is die hande wat Mat Joubert die beste kan onthou.

Op Macassar se strand. Drie mense. Die stank van verbrande rubber en verkoolde vlees wat steeds in die lug hang, die groep van die gereg en die media wat windop laer trek teen die grusaamheid van veelvuldige halssnoermoorde.

Die hande. Kloue. Uitgestrek na die hemel in ’n versteende pleidooi vir verlossing.

Mat Joubert is moeg gelewe. Maar hy weet hy wil nie só doodgaan nie.

Sy hande plaas vyftien kort, vet 9 mm-patrone een vir een met duim en middelvinger in die magasyn. Die laaste een blink ’n oomblik lank in die middagson. Hy hou die patroon ooghoogte, duim onder, wysvinger bo, en kyk na die roesbruin loodpunt.

Hoe sou dit wees? As jy die donker bek van die Z88 teen jou lippe druk, liggies, sonder om teen die tande te stamp, en jy druk die sneller versigtig, stadig, eerbiedig. Sal jy die loodkoeël voel? Pyn? Gaan gedagtes nog deur die onbeskadigde dele van die brein flits? Jou aankla van lafhartigheid net voor die nag om jou sluit? Of gaan dit so vinnig verby wees dat die klank van die skoot nie eens sal vorder van vuurwapen na oor na brein nie?

Hy wonder: Was dit met Lara só?

Haar lig net afgeskakel sonder dat sy geweet het van die hand by die skakelaar? Of het sy geweet en in die vlietende oomblik tussen lewe en dood alles gesien? Miskien berou gekry, of dalk ’n laaste spotlag laat opklink?

Hy wil nie daaraan dink nie.

Môre begin ’n nuwe jaar. Daar buite is mense met voornemens en drome en planne en geesdrif en hoop vir dié nuwe era. En hier sit hy.

Môre sal dit anders wees, by die werk. Die nuwe man, die politieke aanstelling. Die ander kon oor niks anders praat nie. Joubert gee nie regtig om nie. Hy wil nie meer weet nie. Van die dood en van die lewe nie. Dit is net nog iets om te probeer oorleef, nog iets om mee rekening te hou, nog iets om die fut uit die lewe te pers en die Groot Roofdier nader te lok.

Hy stamp die magasyn hard met die palm van sy linkerhand in die kolf in, asof hy sy gedagtes met geweld wil verplaas. Hy skuif die vuurwapen in die leerskede. Die olie en lappe gaan terug in die ou skoendoos. Hy suig aan die sigaret, blaas die rook in die rigting van die venster. Dan sien hy die by, hoor hy hoe die toonhoogte van die vlerke vanweë uitputting afneem.

Joubert staan op, trek die kantgordyn weg en maak die venster oop. Die by voel die warm wind van buite, maar probeer steeds by die verkeerde paneel ’n pad uit vind. Joubert draai om, tel ’n olielap op en vee versigtig voor die venster verby. Die insek kom tot voor die opening en swiep dan uit na buite. Joubert maak die venster toe en trek die gordyn reg.

Hy kan ook ontsnap, dink hy. As hy wil.

Hy laat dié gewaarwording ook doelbewus wegsyfer. Maar dit is genoeg om hom impulsief te laat besluit. Hy sal vanaand oorstap na die buurtbraai. Net vir ’n rukkie. Vir die oujaar.

Twee

Die eerste stap in die herontwaking van Mat Joubert is fisiek van aard.

Hy stap teen sewe-uur oor die boomryke straat van middelklas Monte Vista na die Stoffbergs se huis. Jerry Stoffberg van Stoffberg en Mordt, begrafnisondernemers in Bellville. Ons is in dieselfde bedryf, Mat. Net verskillende takke, sê hy dikwels.

Die deur staan oop. Stoffberg sien Joubert inkom. Hulle groet, vra uit.

Met die besigheid gaan dit goed, Mat. Goeie tyd, nou. Dit is asof baie van hulle net vasbyt tot ná die feestyd, sê hy terwyl hy die bier wat Joubert gebring het in die yskas sit. Die ondernemer het ’n voorskoot aan waarop staan WORLD’S WORST CHEF.

Joubert knik net, want hy het dit al gehoor, en draai die prop van die aand se eerste Castle oop.

Die kombuis is warm en gesellig, ’n middelpunt van geesdrif en vermaak. Vrouestemme vul die vertrek. Verkeerspatrone van kinders en mans vorm natuurlikerwys te midde van die vroue se gesprekke en rituele voorbereidings. Mat Joubert navigeer verby na buite.

Sy bewussyn is na binne gekeer, sy waarneming ingetrek soos die voelers van ’n insek. Die warmte en huislikheid gaan by hom verby.

Buite beweeg kinders soos skimme deur poele lig en donker, in eskaders verdeel volgens ouderdom, hoewel verenig deur hul sorgelose uitbundigheid.

Op die donker stoep sit tieners in ’n ongemaklike, selfbewuste niemandsland tussen kindwees en volwassenheid. Joubert sien hulle vir ’n oomblik raak omdat hul lompe pogings om gemaklik voor te kom, hulle verraai. Hulle het oortree. Hy konsentreer tot hy besef waarvoor hulle skerm: die glase op die stoeptafel is gevul met verbode inhoud. Twee, drie jaar gelede sou hy daaroor geglimlag het, sy eie jare van storm en drang onthou het. Maar nou trek hy net weer die voelers in.

Hy gaan staan by die kring van mans om die vuur. Elkeen se paspoort tot die groep is ’n glas in die hand. Elkeen staar na die skaap wat kaal en sonder waardigheid oor Stoffberg se spit draai.

Jissis, Mat, maar jy is groot, sê Wessels, persfotograaf, toe Joubert langs hom kom staan.

Het jy nie geweet hy’s Moord en Roof se geheime wapen nie? vra Myburgh, Bellville se verkeershoof, van anderkant die vuur. Sy oordadige snor wip met elke woord.

Joubert se gesigspiere trek saam en ontbloot tande, ’n meganiese glimlag.

Ja, hy’s hulle mobiele padblokkade, meen Sturridge, die kleinsakeman. Hulle lag met respek.

Kwinkslae en opmerkings word heen en weer oor die sissende skaapvleis gegooi, alles intiem-versigtig vir Joubert se twee jaar oue verlies – broederlike, vrugtelose pogings om sy sluimerende gees te laat herleef.

Die gesprek neem ’n rustige wending, Stoffberg draai die spit en spuit die rooibruin vleis met ’n geheime sous in, soos ’n geneesheer ’n pasiënt. Sport, kwasiseksuele grappe, gemeenskaplike werksprobleme. Joubert skud ’n Winston uit die pakkie in sy hemp se bosak. Hy bied aan vir die mans om hom. ’n Aansteker flikker.

Lede van die vuurkring kom en gaan. Stoffberg draai die spit en ondersoek die vordering. Joubert ontvang nog ’n bier, gaan haal later self nog een. Die vroue se kombuisaktiwiteite het afgeneem. Hulle het oorgespoel na die aangrensende televisiekamer.

Buite konsentreer die gesprek op Stoffberg se skaap.

Help nie jy spuit hom in nie, Stoffies. Hy’s klaar dood.

Ek moet voor sonop eet, Stoffies. My winkel moet môre oop.

Vergeet dit. Dié skapie gaan eers in Februarie reg wees.

Teen daardie tyd is dit die swart skaap van die familie.

Joubert se oë volg die gesprek van gesig na gesig, maar neem nie deel nie. Hulle ken hom só, stil. Want selfs voor Lara se dood was hy nie ’n groot prater nie.

Die kinders se stemme raak sagter en die mans s’n harder. Stoffberg stuur ’n gesant na binne om die teken te gee. Die tempo van die byeenkoms verander. Die vroue roep na die kinders en stap met borde, volgelaai met bykosse, na waar Stoffberg die skaap begin opkerf.

Joubert teug aan nog ’n Castle terwyl hy wag vir sy beurt. Die alkohol het ’n mistigheid oor sy sintuie geplaas. Hy is nie honger nie, maar eet uit gewoonte en uit hoflikheid, by ’n tuintafel saam met van die ander mans.

Musiek klink op van binne, die tieners se rock. Joubert bied weer sigarette aan. Vroue kom haal mans om te dans. Die musiek binne verouder stelselmatig, maar die desibels nie. Joubert staan op om nie alleen agter te bly buite nie, en kry nog ’n bier op pad na die sitkamer.

Stoffberg het die vertrek se gloeilampe deur gekleurdes vervang. Ritmiese lywe word gebaai in ’n skemerte van rooi en blou en geel. Joubert sit in die eetkamer, só dat hy ’n uitsig op die dansers het. Wessels se kort liggaam ruk spasmodies in nabootsing van Elvis. Die tieners se bewegings is meer subtiel. Die rok van Sturridge se mooi, slanke vrou skyn vir ’n oomblik deur toe sy voor ’n rooi lamp verbydans. Joubert kyk weg. Yvonne Stoffberg, dogter van die huis, se borste wip jeugdig in ’n stywe T-hemp. Joubert steek nog ’n sigaret aan.

Myburgh se gesette vrou vra Joubert vir ’n tradisionele wals. Hy stem in. Sy stuur hom met behendigheid tussen ander paartjies deur. Wanneer die musiek verander, glimlag sy simpatiek en laat hom gaan. Hy gaan haal nog ’n Castle. Die musiek se tempo vertraag. Dansers beweeg nader aan mekaar, lui die nuwe fase van die aand in.

Joubert stap na buite om sy blaas leeg te maak. Die ligte van die agtertuin is afgeskakel. Die vuur onder die skaap se oorblyfsels gloei nog rooi. Hy stap na ’n hoek van die tuin, gee uiting aan sy nood en stap dan terug. ’n Ster verskiet bo die donker dak van Stoffberg se huis. Joubert steek vas en kyk op na die hemel, maar sien net die donkerte.

Hallo, Mat.

Sy verskyn skielik hier langs hom, ’n nimfagtige skaduwee van die nag.

Ek kan mos maar Mat sê? Ek is mos klaar met skool. Sy staan afgeëts teen die lig van die agterdeur, haar vol, jong kurwes gegiet in ’n T-hemp en langbroek.

Ja," sê hy huiwerig, verbaas. Sy beweeg nader, in die beskermde ruimte van sy alleenheid in.

Jy het nie eens met my gedans nie, Mat.

Hy staan geanker aan die aarde, onseker, verdoof deur sewe Castles en baie maande van sieldodende introspeksie. Hy vou sy arms beskermend voor hom.

Sy sit haar hand op sy arm. Die punt van haar linkerbors raak liggies aan sy elmboog.

Jy was die enigste man hier vanaand, Mat.

Here, dit is my buurman se dogter, dink hy. Hy onthou die inhoud van die tieners se glase op die stoep.

"Yvonne "

Almal noem my Bonnie.

Hy kyk vir die eerste keer na haar gesig. Haar oë is op hom gevestig, blink en driftig en doelgerig. Haar mond is ’n vrug, ryp, effens oop. Sy is nie meer ’n kind nie. Mooi.

Joubert voel hoe die vrees vir vernedering in hom roer.

Dan roep sy liggaam saggies, ’n verroeste oomblik wat kom en gaan, wat vir ’n oomblik sy buik aan die bultende vreugdes van die verlede herinner. Maar sy vrees is te groot. Hy weet nie of daardie soort lewe al dood is in hom nie. Dit is al meer as twee jaar Hy wil keer. Hy ontknoop sy arms voor sy bors, wil haar wegstoot.

Sy interpreteer die beweging anders, beweeg tussen sy hande in, trek hom nader, druk haar warm, nat mond teen syne. Haar tong dwing sy lippe oop, fladder. Haar lyf is teen syne, haar borste brandpunte van lewenslustigheid.

In die kombuis roep iemand na ’n kind en die alarms breek deur Mat Joubert se ontwakende gees. Hy druk haar weg en begin dadelik aanstap agterdeur toe.

Ek is jammer, sê hy sag oor sy skouer vir haar sonder dat hy weet wat hy bedoel.

Ek is klaar met skool, Mat. Daar is geen verwyt in haar stem nie.

Hy stap soos ’n vlugteling na sy huis toe, met sy gedagtes gefokus op sy bestemming, nie op dít wat agter hom lê nie. Die gejuig van die nuwe jaar klink op. Klappers, selfs ’n trompet.

Sy huis. Hy stap tussen die bome en struike en beddings deur wat Lara gemaak het, sukkel met die sleutel, gaan dan in die gang af tot in die slaapkamer. Daar staan die bed waarop hy en Lara geslaap het. Daar is haar klerekas, nou leeg. Daar hang die skildery wat sy by die vlooimark in Groenpunt gekoop het. Die bewaarders van sy gevangenskap, die wagte voor sy sel.

Hy trek uit, trek die swart kortbroek aan, gooi die komberse af en gaan lê.

Hy wil nie daaraan dink nie.

Maar sy elmboog voel nog die onmeetlike sagtheid, haar tong kom weer sy mond binne.

Twee jaar en drie maande ná Lara se dood. Twee jaar en drie maande.

Hy het nou die dag, laatmiddag, vroegaand, in Voortrekkerweg gestaan en straatop gekyk. En die parkeermeters gesien wat ’n kilometer of meer strek, so ver as wat hy die reguit pylende pad kan sien. Die parkeerplekke wat hulle so met die kop sinloos trots en regop bewaak, was almal leeg na die werksdag. Toe weet hy Lara het van hom ’n parkeermeter gemaak.

Twee jaar en drie maande van parkeermeter wees – ’n irritasie in die dag, nutteloos in die nag.

Sy liggaam wil hom nie glo nie.

Soos ’n verwaarloosde masjien wat kraak en kug en stram sukkel om ratte te laat beweeg. Sy onderbewussyn onthou nog die olies wat in die brein lê en wag, chemiese boodskappe van die liefde wat bloed en vog na die front verskeep. Die masjien sug, ’n vonkprop vuur flou, ’n rat draai.

Hy maak sy oë oop, staar na die dak.

’n Virus is in sy bloed. Hy kan die eerste, vae simptome voel. Nog nie ’n orgaan wat gedy en teen materiaal beur met ’n lewe van sy eie nie. Eers net ’n stadige koors wat deur sy liggaam versprei, wat stadig, soos ’n gety, die alkohol uit sy bloedstroom verdring, die slaap verdryf.

Hy rol rond, staan op om ’n venster oop te maak. ’n Straatlig laat die sweet op sy bolyf dof blink. Hy gaan lê weer, op sy rug, soek na verdowing teen verlange en vernedering.

Die verlange in sy buik en in sy kop is ewe pynlik.

Sy gedagtes word aangewaai deur ’n warrelwind, spoel stuk-stuk oor die keerwalle.

Emosie en lus en herinneringe vermeng. Lara. Hy mis haar en hy haat haar. Oor die pyn. God, sy was so mooi. Lenig, ’n sweepslag, ’n orkaan van passie, ’n terggees. ’n Verraaier.

Die sagtheid van die bors teen sy elmboog. Sy buurman se dogter. Lara wat van hom ’n parkeermeter gemaak het. Lara wat dood is. Sodat die toestand onomkeerbaar is.

Lara is dood.

Sy verstand soek na ontvlugting voor die gedagte, rangeer sy denke na die mistroostige veiligheid van grys depressie, soos dit in die afgelope maande geleer het om te oorleef.

Maar vir die eerste keer in twee jaar en drie maande wil Mat Joubert dit nie as uitkoms hê nie. Die masjien het beweeg, die groot dryfas het tussen skurwe koeëllaers gedraai, die suiers het in hul silinders geskuif. Die masjien het ’n alliansie met Yvonne Stoffberg gesmee. Saam veg hulle teen die naderende grysheid.

Yvonne Stoffberg fladder weer in sy mond.

Lara is dood.

Só sak hy af na die slaap. ’n Tweestryd sonder wenner, ’n nuwe ervaring.

Iewers op die grens van slaap besef hy dat die lewe wil terugkom. Maar hy steek die grens oor voor die vrees hom kan oorval.

Drie

Speurder-sersant Bennie Griessel noem die Moord-en-Roof-gebou in Kasselsvleiweg, Bellville-Suid, Die Kremlin.

Bennie Griessel is die een met die ironiese humor, gesmee op die smidsvuur van nege jaar se misdaadoplossing. Bennie Griessel noem die gereelde oggendparade in Die Kremlin se paradekamer ’n sirkus.

Maar dit was ’n siniese opmerking in die tyd van die asketiese kolonel Willie Theal, die een van wie vet sersant Tony O’Grady gesê het: There, but for the grace of God, goes God. O’Grady het hard gelag en vir niemand gesê hy het die kwinkslag by Churchill gesteel nie. Nie een van die speurders het dit in elk geval geweet nie.

Vanoggend is anders. Theal, bevelvoerende offisier van Moord en Roof, het op 31 Desember met vervroegde pensioen afgetree en gaan nou groente kweek op ’n hoewe by Philippi.

In sy plek kom kolonel Bart de Wit. Aangestel deur die Minister van Wet en Orde. Die nuwe swart Minister van Wet en Orde. Moord en Roof is nou, vanaf 1 Januarie, ook amptelik deel van die nuwe Suid-Afrika. Want Bart de Wit is ’n voormalige lid van die ANC. Wat sy partylidmaatskap neergelê het voor hy dié bevel aanvaar het. Want ’n poliesman moet onpartydig staan.

Toe Joubert om sewe minute ná sewe op die tweede Januarie by die paradekamer instap, sit veertig speurders al op die blougrys staatsdiensstoele wat teen die vier mure in ’n groot reghoek gepak is. Die gedempte gegons bespiegel oor die nuwe man, dié Bart de Wit.

Bennie Griessel groet Mat Joubert. Kaptein Gerbrand Vos groet Mat Joubert. Die res gaan voort met hul bespiegelinge. Joubert gaan sit in die hoek.

Om presies kwart oor sewe kom die brigadier in volle uniform die paradekamer binne. Agter hom stap kolonel Bart de Wit.

Een en veertig pare oë volg hom. Die brigadier gaan staan voor, langs die televisiestel. De Wit gaan sit op een van die twee leë stoele. Die brigadier groet en wens almal ’n voorspoedige nuwe jaar toe. Dan begin hy met ’n toespraak, maar die speurders luister nie met aandag nie. Hul mensekennis, hul vernuf om ander op te som, is op die bevelvoerder toegespits. Want in hom is hul professionele toekoms opgesluit.

Bart de Wit is kort en skraal. Sy swart hare is yl voor en agter, op die kroon. Sy neus is ’n snawel, met ’n vet moesie op die grens tussen orgaan en wang. Hy is nie ’n indrukwekkende figuur nie.

Die brigadier se toespraak oor ’n veranderende omgewing en ’n veranderende polisiemag staan einde se kant toe. Hy stel De Wit bekend. Die bevelvoerder staan op, maak keel skoon en vryf met ’n wysvinger oor die moesie.

Kollegas, dit is vir my ’n groot voorreg, sê hy en sy stem is nasaal en hoog soos ’n elektriese bandsaag. Sy hande is agter hom gevou, sy kort gestalte uitgestrek en regop, die skouers agtertoe getrek.

Die brigadier is ’n besige man en het gevra dat ons hom asseblief moet verskoon. Hy glimlag vir die brigadier, wat groetend na die deur stap.

Dan is hulle alleen, die nuwe bevelvoerder en sy troepe. Hulle kyk na mekaar, takserend.

"Goed, kollegas, dit is tyd dat ons kennis maak. Ek ken u al, want ek het die voorreg gehad om u dienslêers onder oë te neem, maar u ken my nie. En ek weet hoe maklik gerugte oor ’n bevelvoerder kan ontstaan. Daarom neem ek graag die vrymoedigheid om aan u ’n kort lewenskets voor te hou. Dit is waar dat ek geen plaaslike ervaring in polisiëring opgedoen het nie. Maar daarvoor moet u die apartheidsregime bedank. Ek was besig met polisiekunde deur Unisa toe my politieke oortuigings dit vir my onmoontlik gemaak het om in my moederland te bly "

De Wit het ’n tengerige glimlag op sy lippe. Sy tande is effens geel, maar eweredig. Sy woorde is elkeen afgerond, perfek.

In die vreemde, tussen ’n Gideonsbende van patriotte, het ek die voorreg gehad om my studie voort te sit. En sedert 1992 was ek deel van die ANC se kontingent wat die Britse aanbod van opleiding aanvaar het. Ek was meer as ’n jaar lank by Scotland Yard, menere.

De Wit kyk oor die paradekamer heen, asof hy verwag dat iemand gaan hande klap. Die vinger vryf weer oor die moesie.

"En ek het verlede jaar by Scotland Yard navorsing vir my doktorale verhandeling gedoen. Ek is dus op die hoogte van die modernste misdaadbekampingsmetodes wat nou in die wêreld aan die ontwikkel is. En u "

Die moesie-vinger maak ’n vierkant in die lug om al een en veertig in te sluit.

"gaan die voordeel van daardie ervaring kan benut."

Weer ’n geleentheid vir applous. Die stilte in die vertrek is dawerend. Gerbrand Vos kyk na Joubert. Vos se mond vorm geluidloos die woord patriotte en slaan sy oë op na die hemel. Joubert kyk af grond toe.

"Goed, dit dan wat my geloofwaardigheid betref. Kollegas, ons is almal bang vir verandering. U weet, Toffler sê jy kan nooit die impak van verandering op die mens se psige onderskat nie. Maar aan die einde van die dag moet ons verandering bestuur. Die eerste manifestasie daarvan is vir my om vir u te sê wat ek van u verwag. As ek u voorberei op die verandering, kan u dit makliker fasiliteer "

Bennie Griessel stamp met die palm van sy hand teen sy kop, net bokant die slaap, asof hy die ratte binne weer aan die tik wil kry. De Wit mis die gebaar.

Ek verwag net een ding van u, kollegas. Sukses. Die minister het my hier aangestel omdat hy sekere verwagtinge koester. En ek wil die soort insette lewer wat aan daardie verwagtinge sal voldoen.

Hy steek sy wysvinger in die lug. "Ek sal probeer om ’n klimaat te skep waarbinne u sukses kan behaal – deur gesonder, moderne bestuursbeginsels en opleiding in die jongste misdaad­bekampingstegnieke. Maar wat verwag ek van u? Wat is u deel van die kontrak? Drie sake "

Die wysvinger kry twee vriende wat dramaties voor De Wit gehou word.

Die eerste is lojaliteit. Teenoor die Mag en sy doelstellings, teenoor die eenheid en u kollegas en teenoor my. Die tweede is toewyding. Ek verwag werk van gehalte. Nie negentig persent nie, maar honderd persent. Ja, kollegas, ons moet ook streef na zero defek.

Die speurders begin ontspan. Die nuwe man praat ’n nuwe taal, maar die betekenis bly dieselfde. Hy verwag niks anders van hulle as enige van sy voorgangers nie. Meer werk teen dieselfde, onvoldoende salaris. Resultate, sodat sy agterhoede gedek is hoër op. En sy kanse op bevordering verseker is. Hulle is gewoond daaraan. Hulle kan daarmee saamleef. Al was hy lid van die ANC.

Joubert haal die rooi pakkie Winstons uit sy sak en steek een aan. ’n Paar ander volg sy voorbeeld.

Die derde is fisieke en geestelike welstand. Kollegas, ek glo onwrikbaar daarin dat ’n gesonde liggaam ’n gesonde gees huisves. Ek weet dat ek my ongewild by u gaan maak op die kort termyn, maar ek is bereid om dié kans te waag.

De Wit se vingers knoop agter sy rug en hy trek sy skouers weer agtertoe, asof hy ’n aanslag verwag. "Elkeen van u sal voortaan twee keer per jaar ’n mediese ondersoek moet ondergaan. Die uitslae daarvan bly vertroulik, tussen u en my. Maar as die geneesheer sekere tekortkominge in u fisieke mondering vind, verwag ek van u om dit reg te stel."

Die hande kom los agter die rug. Die palms draai na vore, asof hy ’n aankomende aanvaller wil afweer.

"Ek weet, ek weet. By die Yard was dit dieselfde. Ek weet hoe moeilik dit is om voortdurend fiks te wees. Ek ken u stresvlakke, u lang ure. Maar, kollegas, hoe fikser u is, hoe makliker sal u die struikelblokke kan oorkom. Ek wil nie persoonlik raak nie, maar daar is van u wat oorgewig is. Daar is van u wat rook en drink "

Joubert staar na die sigaret in sy hand.

Maar ons gaan dit saam aanpak. Saam u lewenstyl verander, saam u help om ontslae te raak van u swak gewoontes. Onthou, kollegas, u is die room van die Mag, u dra die beeld na binne en na buite uit, u is ambassadeurs, skakelbeamptes. Maar die heel belangrikste: u het ’n verantwoordelikheid teenoor uself om u liggaam en gees in stand te hou.

Weer die huiwering, om geleentheid vir applous in te ruim. Joubert druk die sigaret dood. Hy sien hoe Vos sy kop na sy hande laat sak. Vossie rook nie, maar hy het ’n bierpens.

Goed, sê kolonel Bart de Wit, kom ons hanteer die sake van die dag. Hy haal ’n notaboek uit sy baadjie se sak en maak dit oop. "Kaptein Marcus Joubert Waar is kaptein Joubert?"

Joubert steek sy hand halfmas op.

"Aaaa, ons sal netnou formeel kennis maak, kaptein. Is dit Marcus? Noem hulle jou "

Mat, sê Joubert.

Hoe?

Ozite, sê iemand aan die oorkant van die vertrek en ’n paar speurders lag gedemp.

Mense noem my Mat, sê Joubert harder. De Wit hoor verkeerd. Dankie, kaptein. Goed, kaptein Max Joubert is dan leier van die bystandspan vir die week wat kom. Saam met hom is luitenant Leon Petersen, adjudante Louw en Griessel. Sersant O’Grady, konstabels Turner, Maponya en Snyman. Ek sal u nog almal leer ken, kollegas. Dan het kaptein Gerbrand Vos die bystandspan oor die feestyd gelei. Kaptein Vos, is daar sake wat u wil bespreek?

Die professionele lewe van ’n Moord-en-Roof-speurder laat nie veel ruimte vir langdurige simpatie wanneer ’n kollega die kluts kwytraak nie. Daar is begrip, want dit kan met enigiemand gebeur. Daar is dankbaarheid dat dit nie met jou gebeur het nie. En daar is simpatie wat ’n maand, dalk twee, hou – tot die gevalle kollega ’n meulsteen word in die uitvoering van jou plig.

Twee medelede van Moord en Roof het hul simpatie teenoor Mat Joubert twee jaar lank behou – elkeen om sy eie rede.

Vir Gerbrand Vos is dit nostalgie. Hy en Joubert het saam begin as speurder-sersante by Moord en Roof. Die twee blink nuwe sterre. Willie Theal het hulle laat meeding, laat wedywer om hoër en hoër louere, maar hulle is saam bevorder tot adjudant, tot luitenant. In die Mag was hulle ’n nasionale legende. Die Burger het ’n lekkerleesartikel op die middelblad oor hulle gedra met hul bevordering tot kaptein. Saam-saam. Die verslaggeefster was duidelik beïndruk deur elkeen. Kaptein Vos is die ekstrovert, die groot man met die engelgesig, die kuiltjies in die wange en die babablou oë. Kaptein Joubert is die stil een, nog groter, met skouers wat ’n deur kan vol staan en die gesig van ’n valk – bruin oë wat deur jou kan kyk, het sy melodramaties geskryf.

En toe kom Lara se dood en Vos aanvaar dat sy kollega nie meer kan wedywer nie. En hy wag dat Joubert die proses van rou moet afhandel. Gerbrand Vos wag nog steeds.

Joubert is besig met die eerste saakdossier van die oggend. Nog sewentien staan in drie hopies op sy lessenaar, geelgrys SAP3-lêers wat sy lewe reguleer. Hy hoor Vos se doelgerigte tred op die kaal grys vloerteëls, hoor dat dit nie by die kantoor langsaan ophou nie. Dan is Vos in die deur, sy stem gedemp, asof De Wit in die omtrek is.

Hier kom groot kak, sê hy, want Gerbrand Vos gebruik die taal soos ’n stomp voorwerp.

Joubert knik. Vos gaan sit op een van die blougrys staatsdiensstoele. Patriotte. Patriotte. Jissis, dit laat my bloed kook. En Scotland Yard. Wat weet Scotland Yard van Afrika, Mat? En die kak van mediese ondersoeke. En die ‘u’ – waar het jy al gehoor van ’n BO wat sy mense ‘u’?

Hy is nuut, Vossie. Dit sal seker oorwaai.

"Hy wil ons sien. Hy het my nou by tee voorgekeer en gesê hy wil ons elkeen alleen sien. Ek moet nou Vos kyk na sy horlosie. daar wees. En jy is volgende. Ons moet saamstaan, Mat. Ons is die twee senior offisiere. Ons moet dié fokker van meet af aan uitsorteer. Het jy gehoor wat sê hy van fiksheid? Ek sien al hoe doen ons elke oggend PT op die parkeerterrein."

Joubert glimlag effens. Vos staan op. Ek sal jou kom roep as ek klaar is. Onthou net: dis saamstaan, Boere. Al is ons nie fokken patriotte nie.

Toe maar, dis net stroop, Mat, sê Vos vyf en dertig minute later toe hy weer instap. Hy wag vir jou. Heel vriendelik en vol komplimente.

Joubert sug, staan op, trek sy baadjie aan en stap in die gang af.

Kolonel Bart de Wit het Willie Theal se kantoor oorgeneem en sy eie gemaak, sien Joubert wanneer hy aanklop en ingenooi word.

Die spanfoto’s teen die muur is weg. Die vuil groen mat op die vloer is weg, die sieklike potplant in die hoek het verdwyn. Drie graadsertifikate hang nou teen die nuutgeverfde wit muur. Die vloer is met ’n polisieblou mat bedek en in die hoek is ’n koffietafel waarop ’n staandertjie aangebring is. Dit lui: EK VERKIES OM NIE TE ROOK NIE. Op die lessenaar is ’n houer met vier foto’s daarin – ’n vrou met ’n dikraambril glimlag, ’n tienerseun met sy pa se neus, ’n tienerdogter met ’n dikraambril. Die ander foto is van De Wit en die Minister van Wet en Orde.

Sit, sit, kaptein, sê De Wit en wys na die grysblou stoel. Hy gaan sit self. Die sweem van ’n glimlag is dadelik daar.

Dan skuif hy ’n dik bruin personeellêer voor hom reg en slaan dit oop. Hoe het jy gesê? Hulle noem jou Max?

Mat.

Mat?

Dit is my voorletters, kolonel. Ek is Marcus Andreas Tobias. M. A. T.­­ My pa het my só genoem. Joubert se stem is sag, geduldig.

Aaaa. Jou pa. Ek sien hy was ook ’n Lid.

Ja, kolonel.

Nooit ’n offisier nie?

Nee, kolonel.

Aaaa.

’n Oomblik van ongemaklike stilte. Dan tel De Wit die personeellêer op. "Ek draai nie doekies om nie, kaptein. Nie destyds oor my politiek nie, en nie nou oor my werk nie. Daarom gaan ek reguit en eerlik wees. Dit gaan nie goed

Enjoying the preview?
Page 1 of 1