Al het ek op die platteland grootgeword, het jare van leefin-die-stad ’n dik laag sement oor gemaklike interaksie met my medemens gegooi. Daar gaan dae, soms weke, verby sonder aanspraak op sagter lewensvaardighede. As iemand my pad kruis, is ’n geoefende glimlag gewoonlik genoeg om te wys dat ek haar/hom/hulle raaksien en as medemens erken. Dan stap ons verder, elkeen in sy eie rigting.
Ek vertel myself geen mens wil in elk geval hoor wat ek te sê het nie – ás ek aan iets sou kon dink om te sê. Ek voel veilig binne hierdie gedragspatroon, want ’n skielike uitbarsting van gesprek oor die weer, verlangse familie se kwale of dal van doodskaduwee, politiek en die smartlike toestand van die ekonomie sal my sekerlik dryf tot berading of, nóg meer kragdadig, die een of ander vorm van chemiese terapie.